Posted by: proregno | February 17, 2014

Die bloed roep uit ! Misdaadseminaar artikels

Ons is almal baie deeglik bewus van die bloedbad om ons, ´n land waarin moord, verkragting, aborsie-moord, en misdade van alle soorte ‘n algemene verskynsel geword het.  Dit word nie behoorlik gestraf deur die owerhede van die dag nie (Rom.13:1-7; NGB art.36), en word baiemaal gedoen onder beskerming van die wet.

Wat kan die regverdige doen ?

Ek plaas hier die laaste uitgawe van die Esra Verslag wat verskyn het, Julie 2007, oor die tema ‘Misdaad’

Hier is die inhoudsopgawe:

Redaksiekolom

Lesings van die Misdaadseminaar

- Teorieë oor die oorsake en oplossings vir misdaad, dr. Michiel Durand

Repliek deur mnr. Hannes van Heerden

- Behoort Bybelse strafwetgewing vandag nog van toepassing te wees ?, ds. Gustav Opperman

Repliek deur ds. Slabbert Le Cornu

- Die betekenis van die bloedwreker vir vandag, ds. Cobus Rossouw

Repliek deur mnr. Bouwe van der Eems

- Die ontwapening van die SA bevolking en wat gemeenskappe kan doen om hulself te beskerm teen misdaad, mnr. CD van Reenen

Vorige uitgawes van die Esra Verslag

Hier is die volledige uitgawe in PDF formaat: Misdaadseminaar

Ek plaas ook hier onder die redaksiekolom-inleiding, asook ‘n deel van ds. Cobus Rossouw se insiggewende en troosryke lesing, ‘Die betekenis van die bloedwreker vir vandag’.  Die artikel is baie nodig, veral in sy toepassing vir die gelowige en die kerk vandag.

Ek het met die nodige erkenning ryklik van hierdie artikel gebruik gemaak in ‘n onlangse preek uit Num.35.

 Redaksiekolom

Hierdie uitgawe van die Esra Verslag bevat die lesings van die Misdaadseminaar, soos gehou op Saterdag 21 Julie 2007, by die Gereformeerde Kerk, Brits-Wes.

Dr. Durand wys op die wêreldse teorieë van die oorsake en oplossings vir misdaad.

Ds. Opperman beantwoord die belangrike vraag of die Bybelse strafwetgewing vandag nog van toepassing is, terwyl teologiese student (tans predikant) Cobus Rossouw ‘n diepgaande openbaringshistoriese studie doen oor die betekenis van die bloedwreker vir vandag.

Elkeen van hierdie drie lesings word opgevolg deur ‘n repliek, wat daarop gemik is om verdere besinning, bespreking en studie te bevorder oor hierdie aktuele en belangrike kwessie.

Die laaste lesing deur mnr. CD van Reenen is gerig op die praktyk van die ontwapening in SA en wat gemeenskappe kan doen om hulself te beveilig.

Mag hierdie uitgawe van die Esra Verslag, deur die genadige wil van God, ook ‘n bydrae lewer in die reformasie in Suid-Afrika, ook in ons stryd teen misdaad.

Die redaksie

Julie AD 2007

Die betekenis van die bloedwreker vir vandag 

deur ds. Cobus Rosssouw (GK Daspoort)

(sien die volledige artikel in die Esra Verslag, nr.56, bl.57-83)

Lees: Numeri 35

Samevatting van dit wat sover geleer is.

Ons het tot dusver nou geleer wat (a) die doel en vir wie die vrystede bedoel was; (b) wat die taak van die ‘bloedwreker’ en die ‘vergadering’ was; en (c) wat die teologiese begronding van die wette in Num 35:9-34 was.

Kom ons vat nou saam wat onder al drie hierdie punte geleer is:

Ten opsigte van die doel van die vrystede en vir wie die vrystede bedoel was:

  • In die eerste plek: Met die wet oor vrystede deurbreek die HERE die kultuur instelling dat iemand wat bloed vergiet het, gedood moet word – selfs al was dit sonder opset.
  • Tweedens: Met die vrystede is Israel as heilige priesterdom besig om die HERE se heiligheid, regverdigheid en genade aan die volke rondom hulle te openbaar.
  • In die derde plek: Die wette was van toepassing op Israel as verbondsgemeenskap, en op die vreemdeling en die bywoner wat in die verbondgemeenskap gewoon het.

Ten opsigte van die taak van die ‘bloedwreker’ en die ‘vergadering’:

  • Die taak van die ‘bloedwreker’ was om die mens wat opsetlik bloed vergiet het, dood te maak. Terwyl dit die taak van die ‘vergadering’ was om die onopsetlike bloedvergieter te red uit die hand van die ‘bloedwreker.’
  • Duidelike wetgewing het bepaal wie ‘n opsetlike bloedvergieter was en wie nie.
  • Die ‘bloedwreker’ of die ‘verlosser van die bloed’ het die verbondsbelofte van ‘n nageslag weer waarheid kom maak, as iemand in ‘n gesin vermoor is. Omdat die ‘bloedwreker’ nie die verlies aan lewe kon herstel nie, moes die moordenaar egter gedood word. Op hierdie manier, het die HERE dan bepaal, sou die gesin of familie verlos wees van die skade van lewens verlies deur moord.
  • Hier in Num 35 verwys ‘vergadering’ na ‘n groep mense wat bymekaar is met die doel om reg te spreek (Renn, 2005: 75). Aan hierdie regsprekende vergadering se uitspraak was die ‘bloedwreker’ onderhewig. Hy kon dus nie onafhanklik optree nie.

Ten opsigte van die teologiese begronding van die wette in Num 35:9-34:

  • Die wette in vers 9-32 vloei voort uit die beginsel dat die land nie verontreinig mag word nie (35:33 en 34). Die rede waarom die land nie verontreinig mag word nie word in vers 34 gegee: want die HERE woon in die land.
  • Spesifiek hier in Numeri 35 leer ons dat die land deur bloedvergieting – met opset of onopsetlik – ontheilig en verontreinig word (35:33 sien ook 27 en 28). As die land egter nou wel ontheilig word deur bloedvergieting, kan hierdie ontheiliging slegs reg gestel word, deurdat daar versoening gedoen word vir die land (35:33).
  • Die manier hoe die versoening gedoen moet word is deur die moordenaar se bloed te vergiet (35:33) of, wat die onopsetlike bloedvergieter betref, deur die dood van die hoëpriester (35:28).

5. Dit bring ons egter nou by die belangrike vraag na wat al hierdie dinge vir ons vandag beteken.

Om vanuit Numeri, in die Ou Verbond, na ons situasie vandag in die Nuwe Verbond te kom, moet ons mooi gaan kyk na veral die teologiese begronding van die wette in vers 33-34. Die volgende sake val dan op:

  • Ten eerste: Dit gaan hier om die rein hou van die land, omdat die HERE in die land woon.
  • Tweedens: Die land word verontreinig deur bloedvergieting. Die land kan, na verontreiniging, slegs weer rein word deur versoening.
  • Ten derde moet ons let op die rol wat die ‘bloedwreker’ vervul het.

5.1 Kom ons let nou in die eerste plek op hoe die verstaan van die ‘land’ ons kan help, om die wette van Num 35:9-34 op ons van toepassing te maak.

Die woord ‘land’, hier in vers 33-34, het die betekenis van die land Kanaän wat die HERE aan Abraham en sy nageslag beloof het. Die gedagte dat God se volk ‘n land besit, ontstaan egter nie eers by Abraham in Gen 12 nie. Nee, God se volk is van die Skepping af gekoppel aan ‘n land. Hy het immers spesiaal die tuin in Eden aangelê en die mens daar in geplaas (Gen 2). Die sondeval veroorsaak egter dat God se volk uit hulle land, uit Eden verjaag word (Gen 3) (Robertson, 2000: 7).

Deel van God se heilsplan met Sy volk hou egter in dat Hy weer aan hulle ‘n bly plek sal gee – ‘n land om in te woon. Daarom dan dat God in die voortgang van Sy heilsplan, tydens die oprigting van die Abraham verbond, weer ‘n land aan Abraham en sy nageslag beloof (Robertson, 2000: 4; Leithart, 2000: 62).

Wat nou egter belangrik is van al die verskillende verbondsbedelinge van die Ou Verbond, waarvan die Abraham verbond deel is, is dat dit ‘n skadu sy gehad het. Of ons sou ook kon sê dat die verskillende verbondsbedelinge in die Ou Verbond profeties was van die werklikheid, wat in die Nuwe Verbond sou kom. [Vergelyk in hierdie verband Hebreërs hoofstuk 9 (sien ook Robertson, 2000: 6).]

Die vraag is egter nou of die beloofde land Kanaän ook deel van hierdie skadu’s was; en dan verder: as dit deel van die skadu’s was hoe lyk die Nuwe verbond werklikheid nou? Dat die land Kanaän deel was van die skadu’s van die Ou Verbond word duidelik in die volgende:

  • Die land Kanaän word beskryf as ‘n land wat oorloop van melk en heuning (Ex 3:8, 17; 13:5; 33:3; Lev 20:24; Num 13:27). Hierdie beskrywing van die land reflekteer iets van die oorvloed en totale genoegsaamheid van die tuin van Eden voor die sondeval. Tog, die harde werklikheid van Kanaän was nog nie die melk en heuning wat die HERE beloof het nie (Robertson, 2000: 12).
  • In die dae van Dawid en Salomo bereik die verenigde koninkryk van Israel ‘n hoogtepunt. In 1Kon 4:24 en 25 lees ‘n mens die volgende oor Salomo se regeringstyd: “24 ….. hy het geheers oor alles wes van die Eufraat, van Tifsag af tot by Gasa, oor al die konings wes van die Eufraat, en (hy het) vrede gehad aan alle kante rondom; 25  sodat Juda en Israel veilig gewoon het, elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, van Dan tot Berséba, al die dae van Salomo.” Hier  kom ‘n mens seker die naaste aan die land wat oorloop van melk en heuning. Na die regerings van Dawid en Salomo verander die prentjie egter heel wat. ‘n Deurlees van die koningsgeskiedenis toon aan ons dat die finale herstel van die mens in sy land nog nie gekom het nie (Robertson, 2000: 13).
  •  Dat die land deel was van die Ou Verbond skadu’s kom seker vir ons die beste na vore in Heb 11:9-10 en 13-16 –  “9 Deur die geloof het hy (Abraham) as vreemdeling gaan woon in die land van belofte soos in ‘n vreemde land en in tente gewoon met Isak en Jakob, die mede-erfgename van dieselfde belofte. 10  Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is……. 13 in die geloof het hulle almal gesterwe sonder om die beloftes te verkry, maar hulle het dit uit die verte gesien en geglo en begroet, en het bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was. 14  Want die wat sulke dinge sê, verklaar dat hulle ‘n vaderland soek. 15  En as hulle bly dink het aan dié vaderland waaruit hulle weggetrek het, sou hulle geleentheid gehad het om terug te keer. 16  Maar nou verlang hulle na ‘n beter een, dit is ‘n hemelse. Daarom skaam God Hom nie vir hulle om hulle God genoem te word nie, want Hy het vir hulle ‘n stad berei.”

Dus, net soos wat die tabernakel heen gewys het na die hestelde verbondsverhouding in Christus, wat kon maak dat God waarlik onder Sy volk kan kom woon; en die offers heen gewys het na die finale offer wat die gebreekte verbondsverhouding kom heel het, so het die land Kanaän heen gewys na die herstelde wêreld, waarop die herstelde mens eendag weer sou kon leef (Robertson, 2000: 13).

Ons het nou gesien dat die land Kanaän deel was van die Ou verbond skadu’s. Maar hoe lyk die Nuwe Verbond werklikheid dan nou? Om die Nuwe Verbond werklikheid in terme van die land van God se volk te verstaan, is daar veral twee tekste wat vir ons insiggewend is (sien ook Robertson, 2000: 26-29):

  • Eerstens Rom 4:13 – “die belofte dat hy erfgenaam van die wêreld (κόσμος) sou wees, het Abraham of sy nageslag nie deur die wet verkry nie, maar deur die geregtigheid van die geloof.” Hier het ‘n mens ‘n duidelike ontwikkeling vanaf die Ou Verbond na die Nuwe Verbond. Abraham is nie maar net ‘n erfgenaam van ‘n deel van die kosmos – Kanaän – nie. Nee, hy is die erfgenaam van die totale kosmos. Hierdie ontwikkeling vanaf land na wêreld is iets wat alreeds in die OT profete na vore kom – Jesaja 19:19-25 (Robertson, 2000: 20-21, 26 en Moo, 1996: 274).
  • Tweedens Efes 6:1-3 – “1 Kinders, julle moet jul ouers gehoorsaam wees in die Here, want dit is reg. 2  Eer jou vader en jou moeder—dit is die eerste gebod met ‘n belofte— 3  sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank mag lewe op die aarde (γῆς).” Hier pas Paulus die vyfde gebod op alle Christen kinders toe. Daar waar hulle is, is die land wat die HERE aan hulle gegee het. En daar, wanneer hulle gehoorsaam is aan hulle ouers, sal hulle lank lewe (Robertson, 2000: 28-29).

Dus die land van die nuwe verbond beslaan die hele wêreld. En hier is die HERE waarlik teenwoordig. Nie net meer in die skaduagtige heenwysings van die ark, die tabernakel en die tempel nie. Nee, die HERE is nou waaragtig onder Sy volk in hulle land teenwoordig.

Ons lees van hierdie teenwoordigheid in Joh 1:14 – “En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid.” In Mat 28:20 hoor ons vir Jesus wat sê – “En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.” In Hand 2 lees ons van die uitstorting van die Heilige Gees. En in 1Kor 3:16-17 en 6:19-20 hoor ons dat ons tempels van die Heilige Gees is.

Hierdie teenwoordigheid van die HERE by Sy volk in hulle land bereik sy finale hoogtepunt met die wederkoms van Jesus Christus. Ja, dan sal ons staan en kyk en ons sal ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde sien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie. En ons sal die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ‘n bruid wat vir haar man versier is. En ons sal ‘n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God. (Openb 21:1-3).

Belangrik van die HERE se teenwoordigheid by Sy volk in hulle land op daardie dag, is dat dit alles totaal heilig sal wees. Ons lees in Openbaring 21:27 daarvan – “En daarin sal nie inkom iets wat verontreinig en gruwelikheid en leuens doen nie; maar net die wat geskrywe is in die boek van die lewe van die Lam.”

Maar hoe het die nuwe hemel en aarde so heilig geword?

5.2 Met hierdie vraag kom ons, in die tweede plek, by die waarheid van Num 35:33 dat die land, na verontreiniging, slegs weer rein word deur versoening. Versoening wat net kan plaas vind as die bloedvergieter se bloed vergiet word.

Die basiese betekenis van die woord ‘versoening-doen’ (כּפר) is om ‘n sondedaad teen God ongedaan te maak (Harris, 1981: 453 vol 1; Vos, 2000: 166-167). Vos wys egter daarop dat ons vanuit die hele Skrif leer dat dit slegs God is wat die sondedaad teen Hom, ongedaan kan maak (2000: 168). Dit is dus slegs God wat werklik versoening kan doen vir die land, wat ontreinig is deur bloedvergieting; wat die land weer heilig kan maak.

Hierdie versoening kom doen God deur die vlees geworde Woord, Jesus Christus, wat self God is (Joh 1:1). Dit is Hy wat die nuwe hemel en nuwe aarde met ‘n vernude verbondsvolk wat daarop leef ‘n werklikheid kom maak. Dit is Hy wat die skepping herskep en heilig kom maak. Dit is Hy wat een aand laat die eerste nagmaalsbeker opgetel het en vir Sy nuwe verbondsvolk gesê het: “Drink almal daaruit. Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe verbond, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes” (Mat 26:27-28). Ja, want sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie (Heb 9:22; Lev 17:11). En sonder sondevergifnis, sonder versoening, kan daar geen herstelde verbond wees nie (Aalders, 1939: 65), en nog minder ‘n geheiligde nuwe hemel en aarde.

Hy is die werklike Hoëpriester, volgens die orde van Melgisedek, wie se bloed gevloei het vir elke uitverkore bloedvergieter wat onopsetlik iemand se bloedvergiet het, en so die land verontreinig het (Heb 7-10; sien ook Wenham, 1981: 239 en Davis, 2006: 150). Maar Hy is ook, en ek is oortuig daarvan op grond van dit wat die Skrif leer oor die regverdigmaking, die Een wie se bloed werklik versoening gedoen het vir die land in die plek van elke uitverkorene wat opsetlik bloed vergiet het. Sodat ook hulle deel kan wees van die Nuwe hemel en aarde waarin nie sal inkom iets wat verontreinig en gruwelikheid en leuens doen nie; maar net die wat geskrywe is in die boek van die lewe van die Lam (Openb 21:27).

Daarom sou ons nie meer vandag die wetgewing, in Num 35:9-34, wat gaan om die ‘bloedwreker’, wat deur sy optrede versoening vir die land te weeg bring, kon uitvoer nie. Christus, die Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek, het immers gekom en finaal versoening kom doen – ook vir die land, want die nuwe hemel en aarde sal heilig wees. Hebreërs 10:18 stel dit duidelik aan ons: “Waar daar nou vergifnis van hierdie dinge is, is daar geen offer meer vir die sonde nie.”

Ons het gesê dat die land van die Nuwe Verbond, die nuwe hemel en aarde, heilige is en ons woon as geheiligdes daar en die HERE in ons midde. Die werklikheid van hierdie land, die Nuwe hemel en aarde, die werklikheid van ‘n vernude verbondvolk wat op die nuwe aarde onder ‘n nuwe hemel kan woon met die HERE in hulle midde, het Christus met Sy versoeningswerk ‘n werklikheid kom maak. ‘n Werklikheid wat sy volkomenheid by Sy wederkoms sal hê.

Maar wat van die tussentyd? Die tyd waarin ons nou is; die tyd waar die werklikheid van Christus se versoeningswerk vasstaan, maar ons nog wag op die volkomenheid daarvan. ‘n Tyd waarin daar nog bloed vergiet word; ‘n tyd waarin ons deur misdaad geteister word.

5.3 Met hierdie vraag kom ons by die derde belangrike sleutel om van Num 35 in die Ou Verbond na ons in die tyd van die Nuwe verbond te kom. Hierdie derde belangrike sleutel vind ons in die rol van die ‘bloedwreker’.

Soos ons reeds gesien het was die ‘bloedwreker’ of die ‘verlosser van die bloed’ die instrument waardeur die HERE Sy verbondsbeloftes en seëninge ‘n werklikheid kon laat wees, te midde van omstandighede waar dit gelyk het asof dit nie die geval was nie. Wat ons ook gesien het was dat die HERE die eintlike go-el of verlosser van Sy volk was.

Wanneer die HERE nou hier in Numeri 35 deur middel van ‘n menslike instrument die go-el ha dam is, is Hy nie net besig om versoening vir die land te doen nie. Hy is terselfdertyd ook besig met werklike bloedwreking, waardeur Hy Sy verbondsbeloftes vir die benadeelde party ‘n werklikheid maak. Hierdie stelling begrond ek in die betekenis van die woord go-el (sien 4.2), en in verder ook in Deuteronomium 32:43.

In Deuteronomium 32:43 staan die volgende geskryf: “Jubel, o nasies, oor sy volk, want Hy sal die bloed van sy knegte wreek, en Hy sal wraak oefen op sy teëstanders en versoening doen vir sy land en sy volk.”

Die Hebreeuse woord wat hier met ‘wraak’ en ‘wreek’ vertaal is נקם (nqm). Terwyl die woord die betekenis het van ‘straf’ en ‘wraak’ moet altyd ingedagte gehou word dat die ‘straf’ en ‘wraak’ plaas vind in lyn met God se wet binne die konteks van die verbond. Daarom gaan die woord ook baie maal gepaard met die verlossing van God se volk. Die HERE oefen dus wraak om Sy volk te verlos (Peels, 1996: 154-155 vol 3).

Wat nou verder belangrik is met die HERE se wraak oefening in Deut 32:43, is dat Hy dit doen om Sy land en volk te versoen (כּפר).[1] Deur die HERE se wraak-oefening teen die wat Sy teenstanders is, teen die wat Sy verbondsinsettinge verag en teen die wat Sy volk hulle verbondsvooregte ontneem (Keil & Delitzsch, 1988: 492), kom daar dus verlossing vir sy volk – hulle word die volheid van die verbondseën deelagtig – en die daar word versoening gedoen vir die land.

Daar is dus ‘n verband tussen die werk van die ‘verlosser van die bloed’ (go-el ha dam) of die ‘bloedwreker’ van Numeri 35, en die HERE se wraak oefening in Deuteronomium 32. In albei gevalle maak die HERE Sy volk die volle verbondseën deelagtig en doen Hy versoening vir die land – Hy is hulle eintlike go-el (sien ook Van Oeveren, 1968: 162).

Ons het reeds gesien dat daar nou in die bedeling waarin ons nou leef, in die tyd van die Nuwe Verbond, nie meer versoening nodig is vir die land nie. Christus het immers gekom en finaal versoening kom doen – ook vir die land, want die nuwe hemel en aarde sal heilig wees. Dit vat egter nie die feit weg dat die HERE steeds die Een bly wat Sy wraak uitoefen teen die wat Sy teenstanders is, teen die wat Sy verbondsinsettinge verag en teen die wat Sy volk hulle verbondsvooregte ontneem nie. Die vraag is egter hoe die HERE dit nou in hierdie bedeling na Christus se eerste koms en voor Sy wederkoms doen.

Ek meen dat ons die antwoord op hierdie vraag in Rom 13:4 vind. Daar hoor ons die volgende: “(die owerheid) is ‘n dienaar van God, jou ten goede. Maar as jy kwaad doen, vrees dan; want hy dra die swaard nie verniet nie, want hy is ‘n dienaar (διάκονος)[2] van God, ‘n wreker (ἔκδικος)[3] om die een wat kwaad doen, te straf.”

Hier in Rom. 13:4 sien ons dus dat die owerheid ‘n instrument in die hand van die HERE is om Sy wraak oor die wat kwaad doen uit te oefen.[4] In hierdie handeling van die owerheid is hy egter ook besig om ‘n sinvolle lewe vir die kinders van God in die bedeling van die Nuwe Verbond te verseker (sien ook art 36 NGB) – reeds voor die volheid van dit wat Christus vir ons bewerk het aanbreek by Sy wederkoms.

Maar dadelik, by die aanhoor van Rom. 13:4 en wat dit vir ons beteken, kom daar by ons in die jaar 2007 nC in die Nuwe Suid Afrika ‘n ongemaklikheid. ‘n Ongemak want ons sien nie dat die owerheid, wat die HERE oor ons aangestel het, Sy wraak na behore oor die kwaaddoeners uitoefen, soos wat ons lees in Rom. 13 nie.

Wanneer ons met hierdie ongemak opgeskeep sit, kan ons egter weet dat ons nie die eerste mense in die geskiedenis is wat hierdie ongemak moes ervaar nie. Dit is nie nou die eerste keer in die geskiedenis dat God se kinders in die Skrif lees hoe ‘n saak behoort te wees, maar dan sien dat die ‘werklikheid’ totaal anders is, as wat dit daar in die Skrif geskryf staan nie.

Om maar ‘n voorbeeld te noem: Wanneer ek die geskiedenis van die HERE se volk in die Ou testament lees, lyk dit nie vir my asof die owerhede van die dag hulle te veel gesteur het aan die HERE se wetgewing ten opsigte van die ‘bloedwreker’ in Numeri 35 nie. Nee, bloed is iets wat vrylik vergiet is in Israel. Een van die redes vir die HERE se straf oor Israel en Juda, en later ook hulle ballingskap is onskuldige bloedvergieting (2Kon 24:4, Jes 1:15,  Hos 4:2-3).

Teen die agtergrond van hierdie ongemak, wat ons, so dink ek, in die tyd waarin ons nou leef baie erg ervaar, is dit dan baie belangrik om daarop te let dat die Nuwe Testament die term go-el op Jesus Christus betrek in Rom 11:26 (Hubbard, 1996: 794 vol 1; Hill & Walton, 2000: 207). Ten diepste is Christus die Een wat sorg dat die volk van die HERE die volle verbondseën deelagtig word. Dit is Hy wat ons eintlike go-el is. Ten diepste is dit dan ook Hy wat die go-el ha dam is. Dit is Hy wat Sy broers se bloed sal wreek.[5]

Ons lees van hierdie wreking van ons bloed deur Christus in Openbaring, wanneer die HERE vir ons in hoofstuk 6 ‘n oorsig oor die verloop van die wêreld geskiedenis gee, tot en met Christus se wederkoms (Greijdanus, 1908: 225). Hierdie oorsig oor die wêreld se geskiedenis vind plaas deurdat daar ses seëls oopgemaak word. Met die oopmaak van elke seël vind daar ‘n toneel voor ons plaas wat vir ons iets sê oor die verloop van die wêreld-geskiedenis.

Wanneer die vyfde seël oop gemaak word hoor ons die volgende uit die mond van Johannes: “En toe Hy die vyfde seël oopgemaak het, sien ek onder die altaar die siele van die wat gedood is ter wille van die woord van God en die getuienis wat hulle gehad het. En hulle het met ‘n groot stem uitgeroep en gesê: Hoe lank, o heilige en waaragtige Heerser, oordeel en wreek[6] U nie ons bloed op die bewoners van die aarde nie?” (Openb 6:9-10).

En dan hoor ons, wanneer die sesde seël oop gemaak word van die finale[7] verhoring van hierdie gebed van die ‘diensknegte van die HERE’ – “en die konings van die aarde en die grotes en die rykes en die owerstes oor duisend en die magtiges en al die slawe en al die vrymense het hulle weggesteek in die spelonke en in die rotse van die berge, en vir die berge en die rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Openb 6:15-17).

In Openbaring 19 lees ons van die loflied van die volk van God omdat hulle bloed uiteindelik gewreek is: “En ná hierdie dinge het ek iets soos ‘n groot stem van ‘n groot menigte in die hemel gehoor wat sê: Halleluja, die heil en die heerlikheid en die eer en die krag aan die Here onse God! Want sy oordele is waaragtig en regverdig; want Hy het die groot hoer geoordeel wat die aarde met haar hoerery verderf het, en Hy het die bloed van sy diensknegte op haar gewreek (ἐκδικέω). En vir die tweede maal het hulle gesê: Halleluja! En haar rook gaan op tot in alle ewigheid.” (vers 1-3).

5.4 Samevatting.

Ja, in die tyd waarin ons nou leef het dit weer tyd geword, om te besef dat menslike go-el’s nie die ware verlosser kan wees nie. In die Ou Testament was hulle ‘n menslike instrument in die hand van die HERE, ‘n heenwysing na die ware Go-el wat sou kom. En net soos die konings, wat heenwysings moes wees na die ware Koning wat sou kom, baie onvolmaak was, so was dit ook die geval met die menslike go-el.

In die Nuwe Testament het die ware Go-el gekom; Hy wat die HERE se verbondseën Sy uitverkorenes se deel kom maak; Hy wat die land wat ons eendag in volkomenheid sal beërf kom versoen het. En tot Hy weer kom het Hy owerhede verorden. Aan hulle het Hy die swaard gegee om kwaaddoeners te wreek en ‘n sinvolle bestaan vir Sy volk te verseker. Maar ook hulle is onvolmaak. Ja, die moderne staat kan nooit waarlik ‘n verlosser wees nie. Deur die loop van die geskiedenis, soos nou weer, moes mense keer op keer weer hierdie waarheid deeglik besef.

Die HERE se volk is in hierdie omstandighede egter nie uitsigloos nie. Ons het immers ‘n Go-el – die Leeu wat uit die stam van Juda is, die wortel van Dawid; Die Lam wat geslag is (Openb 5:5-6). En Sy dag van toorn kom. Die dag waarop Hy die bloed van Sy dienaars sal wreek op die bewoners van die aarde. Die dag wanneer ons met ons nageslag, volgens die belofte aan Abraham gemaak (Gal 3:29), die nuwe aarde onder ‘n nuwe hemel in besit sal neem (Openb 21:1-3). En daar sal niemand wees wat verontreinig en gruwelik en leuens doen nie. Nee, net die wat opgeskryf is in die boek van die lewe van die Lam (Openb 21:27).

In die lig van dit wat ons geleer het oor die ‘bloedwreker’ – sy betekenis in die Ou Testament en Sy rol vandag in die Nuwe Testament – is dit my oortuiging dat die relevansie van die ‘bloedwreker’ vir ons vandag – ‘n tyd waarin ‘n mens se bloed maklik vergiet kan word – in die volgende vraag geleë is:

Aan watter kant van Christus se swaard gaan jy staan wanneer Hy, as Go-el ha dam, kom om Sy knegte se bloed te wreek?

Of anders gestel: Is jy ‘n kneg van Jesus Christus?

Of dalk nog anders gestel?

Het jy ‘n Bloedwreker?


[1] In die Hebreeus lees die vers soos volg: “הרנינו גוים עמו כי דם־עבדיו יקום ונקם ישׁיב לצריו וכפר אדמתו עמו” Die ו by וכפר  kan ook doel aanwysend wees (Van der Merwe, Naude, Kroeze, 1997: 245). Keil en Delitzcsh sê die volgende hieroor: “By this the land was defiled, covered with blood-guiltiness, so that the Lord was obliged to interpose as a judge, to put an end to the ways of the wicked, and to expiate His land, His people, i.e., to wipe out the guilt which rested upon the land and people, by the punishment of the wicked, and the extermination of idolatry and ungodliness, and to sanctify and glorify the land and nation (vid., Isa_1:27; Isa_4:4-5).” (Keil & Delitzsch, 1988: 492).

[2] Moo skryf die volgende oor die gebruik van die woord διάκονος by Paulus: “Paul usually use this word to refer to a Christian in his capacity as willing ‘servant’, or ‘minister’ of the Lord and of other Christians. But people can also serve God, his purposes, and his people unconsciously. So it is with secular rulers, who appointed by God (v 1b), administer justice in keeping with divine standards of right and wrong” (1996: 801).

[3] ἔκδικος is verwant aan ἐκδικέω (Falkenroth, 1992: 93 vol 3) wat die Griekse vertaling van נקם is in Deut 32:43.

[4] Calvyn skryf hieroor as volg: “And then he says, An avenger, to execute wrath … This is the same as if it had been said, that he is an executioner of God’s wrath; and this he shows himself to be by having the sword, which the Lord has delivered into his hand. This is a remarkable passage for the purpose of proving the right of the sword, for if the Lord, by arming the magistrate, has also committed to him  the use of the sword, whenever he visits the guilty with death, by executing God’s vengeance, he obeys his commands. Contend then do they with God who think it unlawful to shed the blood of wicked men” (2003: 481).

[5] Dat ons Christus se broers is word geleer in Heb 2:11. Hy is dus ons Familielid wat sorg dat ons die HERE se verbondseën deelagtig word.

[6] Die Griekse woord wat hier met ‘wreek’ vertaal is, is ἐκδικέω. ἐκδικέω is op sy beurt die Griekse vertaling van die Hebreeuse woord נקם in Deut 32:43 in die LXX.

[7] Van die aanvanklike verhoring van die gebed hoor ‘n mens in Openb 6:11 – “En aan elkeen van hulle is wit klere gegee; en aan hulle is gesê dat hulle nog ‘n klein tydjie moes rus totdat ook hulle medediensknegte en hulle broeders wat nog gedood sou word soos hulle, voltallig sou wees.”


Responses

  1. Baie dankie – ek het so lank al gewonder oor die “bloed wat roep” in Genesis 4:10: ” Maar die Here sê: “Wat het jy gedoen? Die bloed van jou broer roep van die aarde af na My.” – Mens weet dit is metafories, maar dat daar tog ‘n dieper betekenis daaragter sit – dat God WEET van bloed wat vergiet word wanneer iemand doodgemaak word.


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

Categories

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 426 other followers

%d bloggers like this: