Posted by: proregno | March 25, 2014

Opmerkings oor “Die NT en Psalms: ‘n Direkte Vertaling” (deel 2:Die brontekste)

Product Details

Deel 1: Die Messiaanse Psalms

“Die NT en Psalms: ‘n Direkte vertaling” (afkorting: BDV = Die Bybel: Direkte Vertaling) is beskikbaar by Amazon om afgelaai te word.Dit is ‘n proefvertaling en nog nie die finale vertaling nie.

Hierdie proefvertaling bestaan uit:

1. Die Voorwoord

2. Nuwe Testament

3. Die Psalms

4. Woordelys

Hier is my paar opmerkings oor die brontekste wat die BDV volg:

In die voorwoord van die BDV word die volgende gestel aangaande die ‘bronteks’ wat gevolg word (beklemtoning bygevoeg),

“Die brontekste wat gebruik word, is die produk van jare se toegewyde navorsing deur kundiges op die terrein van teksoorlewering. Daarom word dit wêreldwyd as die betroubaarste Bybelteks beskou en word dit sonder enige uitsondering deur alle lede van die Wêreldbond van Bybelgenootskappe gebruik. Die bronteks vir die Ou Testament is die vierde uitgawe van Biblia Hebraica Stuttgartensia (BHS4), uitgegee deur die Deutsche Bibelgesellschaft, Stuttgart, 1990. Vir die Nuwe Testament is die bronteks die vierde uitgawe van die Wêreldbond van Bybelgenootskappe se Greek New Testament (UBS4 rev), uitgegee deur die United Bible Societies en die Deutsche Bibelgesellschaft, Stuttgart, 1994. “

Die BDV volg dus die 1983-vertaling in die gebruik van die Greek NT UBS 4de uitgawe wat hoofsaaklik deel van die Alexandrynse teks-familie is.  Daarteenoor is die bronteks vir die OAV (1933/53), asook die KJV (1611) en die Statevertaling (1618/19) die verskillende uitgawes van die Bisantynse manuskripte familie.Die BDV beweer dat die Bisantynse teks minder betroubaar is, want ‘kundiges’ het dit so bepaal (sien ook die artikel oor ‘experts’ hier).  Op grond van getalle (“sonder enige uitsondering deur alle lede van die Wêreldbond van Bybelgenootskappe gebruik”), moet die kerk van Christus vandag aanvaar dat hul ouer Bybels was nie betroubaar nie, maar sedert die einde van die 19de eeu met die ontdekking van nuwe manuskripte, is die kundiges nou besig om vir ons ‘n betroubare Bybel te skep.So die Bybel is nie betroubaar nie, dit ‘word’ betroubaar ?

Prof. Gert Kruger en oudl. Neels Malan, in hul belangrike artikel waarin ook die sogenaamde ‘objektiewe wetenskaplikheid’ van die Alexandrynse tekste aangespreek word (Debat oor die mees betroubare Griekse NT teksfamilies: Alexandrynse versus die Bisantynse teksfamilie), verduidelik die problematiek aangaande die brontekste van die Nuwe Testament soos volg:

In die lig van die NGB glo ons egter dat die NT Bybel wat God deur sy genadige beskikking en voorsienigheid vir ons bewaar het (in die Bisantynse geskrifte), ongetwyfeld die Woord van God is.  Gereformeerdes oor die eeue aanvaar en erken dat daar met die oorskryf van die Bybel klein foute ingesluip het, maar is dit eens dat dit hoegenaamd nie die essensie of die gesag van die Skrif aantas nie (NGB arts 3 – 7) .

Die stuk toon aan (ook uit die kraal van Westcott en Hort) dat beide kampe aanvaar dat die Bisantynse familie sedert ongeveer 400 nC deur die algemene Christelike kerk meer en meer as die kanon (Woord van God) aanvaar en geglo is.  In die tyd van die Reformasie is die Alexandriese familie geskrifte totaal deur die Bisantynse familie verdring.  Ons verskil met Kenaga dat hierdie besluit nie deur die kerk genotuleer is nie.  Dit is in die lig van bogenoemde feite uitdruklik en duidelik in die NGB genotuleer.  Die kanon wat deur die NGB aanvaar en bedoel is, verwys onteenseglik na die Bisantynse familie van manuskripte wat in die tyd algemeen en eksklusief in gebruik was.

Die Skrifuitspraak in Openbaring 22:19, waarop NGB 7 hom beroep vir sy Meerderheidsgeloof, diskwalifiseer enige aansprake (ook van prof Jorrie Jordaan)[22] dat die verkorte Alexandrynse rekonstruksie deur Guido de Bres in 1561 met die opstel van die NGB (arts 2 – 7) hoegenaamd in oorweging sou gewees het.

Ons leef sedert WH in 1881 in die ongelukkige situasie waar die algemene Christelike kerk weens gebrekkige kennis van die ‘gif’ van die Alexandrynse reduksies vir die suiwere Skrifgeloof, nog nie weer die Alexandrynse tekste uit en uit verwerp het nie, soos die vroeë kerk dit onder leiding van die Heilige Gees gedurende die 200’s tot 600’s nC gedoen het nie.

Die vraag is hoe ons die Alexandriese manuskripte moet beoordeel en hoe moet ons dit hanteer?

Die vertalingspoging mag ons insiens onder geen omstandighede vermeng word met die Bisantynse Bybel nie (soos die NAV-2016 volgens getuienis van die Bybelgenootskap [23] en Prof Jorrie Jordaan van plan is om te doen).[24]  Dit sou daarop neerkom dat hulle besluit watter woorde uit God se Woord weggelaat mag word (tov Woord gebaseer op die Bisantynse geskrifte) en watter woorde teruggesit moet word in die verkorte Alexandriese geskrifte.  Nog die Bybelgenootskap en nog die moderne Pous (‘n groep onbekende Tekskritici wat heel waarskynlik twyfelagtige motiewe het) [25] mag die mandaat kaap om te besluit wat die Woord van God is en wat nie (vgl Openbaring 22:19).

Ons insiens gee die feit dat die Bisantynse familie van manuskripte oor ‘n tydperk van meer as duisend jaar gevind is (400 nC – 1600 nC) en waarvan dit duidelik is dat die akkuraatheid en gehalte van die teks grootliks bewaar is, aan ons die versekering volgens ons geloof in God wat deur sy genadige beskikking en voorsienigheid,[26] die suiwerste vorm van sy Woord vir ons bewaar het.  Dit is nie iets wat ons (afgesien van die feite in hierdie artikel genoem) kan bewys nie, maar wat ons glo.  Daar is logies gesien, geen rede waarom enige iemand kan beweer dat die tradisie van ‘n hoë standaard van reproduksie van die Bybel (400 – 1600 nC), nie ook in die vorige 300 jaar ( 100 – 400 nC) sou gegeld het nie.  Belangrik om weer eens uit te wys, dat selfs Westcott en Hort saamstem dat die Bisantynse manuskripte baie min van mekaar verskil, dws dat die noukeurige bewaring hiervan oor ‘n lang tydperk wetenskaplik aanvaar en erken word.

Daarteenoor is dit ook duidelik dat die gehalte van oorskryf onder die Alexandrynse geskrifte oor ‘n baie korter tydperk (200 – 500 nC vir die belangrikste manuskripte) van ‘n baie swakker standaard is, in vergelyking met die Bisantynse familie.  Ons stem heelhartig saam met Kenaga dat die variasies tussen die Alexandriese geskrifte so groot is dat statistiese geloofwaardigheid van ‘n tekstipe klassifikasie in die geval van die Alexandriese geskrifte nie wetenskaplik gemotiveer kan word nie.

Ons insiens is dit nodig dat die gelowiges hulle self opskerp met betrekking tot die situasie waar Bybelgenootskappe dmv ‘n stille revolusie (en boonop met die befondsing van die goed gelowige gelowiges) die monopolie verkry het tov wat die kanon is en aan wie behoort die Skrif (kopiereg). Ons insiens is dit nodig dat die gelowiges weer hulle regmatige plek inneem met betrekking tot die navorsing oor die beste rekonstruksie (vgl Robinson en Pierpont se “Greek NT”)[27] en die betroubare, gesagvolle vertaling van die NT.  Ook dat dit sonder beperkings (gratis ook in elektroniese formaat) aan die wereld soos ‘n Lig op ‘n hoë staander beskikbaar gestel sal word.

In die lig van die korrupte posisie (tov Skrifbeginsels) van die sogenaamde professore amp in die gereformeerde kerke wereldwyd,[28] is dit menslik gesproke onmoontlik dat eenvoudige gelowiges enige reformasie vanaf hierdie groep prinse (Psalm 146) moet verwag.  Hulle is verlei deur die wêreldse kalklig om deel te wees van die hoofstroom teologiese akademici wat lustig agter WH aanstap.[25]  Hierdie keuse bevorder hulle professionele loopbane veel beter; die ongewilde vasstaan by die Belydenis en die Gereformeerde dogma veroorsaak isolasie van sodanige teoloë/Bybelkundiges en verwerping deur hulle populistiese neo-liberale kollegas wêreldwyd.

Gelukkig weet ons dat God steeds regeer, en dat Hy soos in die verlede met die Bisantynse geskrifte, ook in die toekoms sal sorg dat sy Woord suiwer bewaar sal word.

In die BDV, kan as voorbeeld na die volgende versgedeeltes gekyk word, en vergelyk word met die OAV/KJV/Statevertaling om te sien waar dit heelwat verskil (ek haal die voetnotas van die BDV aan by hierdie versgedeeltes):

Matteus 6:13, “Ander manuskripte en ouer vertalings lui ook nog hierna “Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. •Amen.” Dit word aanvaar dat dit nie deel van die bronteks is nie.”

Markus 16:9-20, “Ander manuskripte en ouer vertalings bevat ook ná vs 8 nog vs 9-20. Dit word aanvaar dat dit nie deel van die bronteks is nie.”

Joh.7:53-8:11, “Volgens teksgetuienis was hierdie gedeelte nie aanvanklik deel van die bronteks nie. Dit bevat egter so ‘n outentieke getuienis oor Jesus dat dit mettertyd in baie manuskripte opgeneem is en sodoende deel van Die Evangelie volgens Johannes geword het.”

Hier is ‘n paar artikels wat ek reeds oor hierdie en ander verse en vertaalkwessies geskryf het, of dit behou of weggelaat moet word:

Probleme met die 1983 en komende 2016 vertaling

Sien ook spesifiek die artikel: God se voorsienigheid, die kanon en die grondteks.

Samevatting

1. ons glo dat God in sy voorsienigheid vir ons 66 boeke gegee het, wat die kerk deur sy Gees ontvang het in die geskiedenis.

Implikasie: daar sal nie deur die geskiedenis ’n 67ste boek wees om by die kanon te voeg nie.

2. ons glo dat God in sy Voorsienigheid reeds deur die eeue betroubare manuskripte gegee het van die oorspronklike. Ons soek nie nog ‘beter’ of die ‘beste manuskripte’ nie, ons het dit reeds deur die eeue ontvang.

Implikasie: daar sal nie deur die geskiedenis vir ons manuskripte gegee word wat die voriges verbeter in die sin dat dit sekere dele weglaat of byvoeg nie.

3. Tekskritiek en vertalingsimplikasie:  die ouer manuskripte wat die kerke deur die eeue gehad het is die grondteks wat gebruik behoort te word vir vertalings (ook die nuwer vertaling wat nou aan gewerk word deur die Bybelgenootskap), terwyl daar wel in voetnotas bloot vermeld kan word dat manuskripte wat later ontdek is, wel hierdie of daardie vers in het of nie in het nie, sonder om ‘n waarde-oordeel of uitspraak oor die vaste kanon/manuskripte te maak, in navolging van wat ons bely in NGB artikel 2-7.

Die gras verdor, die blom verwelk; maar die woord van onse God hou stand in ewigheid. – Jesaja 40:8

Sien ook: Oorspronklike manuskripte, die Meerderheidsteks en vertalings


Responses

  1. […] Deel 2: Brontekste […]

  2. […] Deel 2: Brontekste […]


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

Categories

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 425 other followers

%d bloggers like this: