
Vandag se koerant (Beeld, 2010.02.02) is vol van oudpres. FW de Klerk se beroemde (en berugte?) toespraak van 2 Februarie 1990, wat “20 jaar gelede … die bal aan die rol gesit het vir onherroeplike veranderinge,” en wat deur die historikus, prof. Hermann Gilomee, in die hoofberig beskryf word as ‘n “Helder kol in die geskiedenis” van die Afrikaner.
Onder verskeie opskrifte word de Klerk se optrede goed gepraat en die koerant is vol van sy lofsangers: die redakteur van die Beeld, Desmond Tutu, Gilomee, ens, nie een wat natuurlik bekend staan vir hul Afrikanerpatriotisme en nog minder hul gereformeerd-christelike waardes nie.
Die konklusie van al die lofsangers, en die hoofsanger homself, word saamgevat in die ‘mantra’ wat heeltyd oor en oor herhaal moet word (vir die afgelope 20 jaar) sodat elke nuwe SA burger dit sal glo, ongeag of dit die waarheid is of nie: “Daar was geen ander alternatief nie” , “Daar was geen alternatief nie”, “Daar was …”, ens. ens.
As iemand iets heeltyd oor en oor moet herhaal, sê dit heel moontlik dat daar dalk wel ‘n ander alternatief was, wat nie oorweeg of gevolg is nie.
Die redakteur van die Beeld gaan so ver om die nuwe SA te beskryf as die gevolg van de Klerk se keuse vir ‘vrede’, en, as die toespraak nie gehou is nie, alles in ‘n ‘grootskaalse bloedbad’ sou verander het.
Nou vra ‘n mens: as die nuwe SA ‘vrede’ is, wil ons nie weet hoe oorlog gaan lyk nie!
En dan wil liberalistiese-demokrate ons nog beskuldig van dat ons nie tred hou met die ‘konkrete werklikheid’ van die dag nie ?
Die redakteur gaan egter nog verder, hy meen, ja, hy blyk ernstig te wees as hy skryf: “De Klerk het die mag vrywillig oorgegee. So het hy ons kinders die moontlikheid van ‘n beter toekoms gebied, bo die sekerheid van die vernietiging wat ‘n burgeroorlog beslis in die toekoms sal bring.”
In plaas van dat ons ons koppe in skaamte laat hang vir ‘n ‘Afrikaner’ wat ‘vrywillig oorgegee’ het (en dit terwyl hy in ‘n magsposisie was), is die redakteur in verwondering daaroor, en breek sy lofsange uit.
Verder wonder ‘n mens: in watter nuwe SA die redakteur woon, want die een waarin ‘ons kinders’ woon en nog moet woon (dit is nou die kinders wat nog oor is en nie al reeds in die buiteland gevestig is nie) is ‘n onchristelike, misdaadgeteisterde, losbandige, onordelike, wettelose, ekonomiese vervalle land. Die plaasmoorde, die aborsie-wetgewing (al reeds 900 000 slagoffers), die omgekeerde diskriminasie, ‘n grondwet wat God se Naam nie heilig nie en in opstand teen al sy gebooie is, wat homoseksualisme goedpraat, ens., getuig nie van ‘n land wat in ‘vrede’ woon nie, maar in oorlog is teen die Here en sy Woord, en teen al die burgers van sy land.
‘Geen vrede, sê die Here, vir die goddelose nie!” (Jes.48:22)
Geen vrede vir die valse profete wat ‘vrede, vrede’ roep terwyl Christus en sy Woord verwerp word nie (Jer.6:14-19)
Ja, die wat die wet verlaat, hulle prys die goddelose (Spr.28:4), maar as ‘n leier, ‘n volk, ‘n land, ‘n kerk, wie ook al, sy oor wegdraai om nie na God se Wet te luister nie, dan is “selfs sy gebed ‘n gruwel” (Spr.28:9; sien ook: Jer.2:8,13).
Was daar werklik geen alternatief vir al die volke en mense in ons mooie Suid-Afrika nie, en ook nie vir die Afrikaner se onafhanklike toekoms nie, dit terwyl die redakteur erken dat de Klerk met die “magtigste weermag in Afrika” gesit het ?
En uit ‘n geloof en beginsel oogpunt: is oorlewing en politieke en ekonomiese pragmatisme die belangrikste sake wat bepaal hoe ons moet optree ?

Was Paul Kruger en MT Steyn dan onverantwoordelik en verkeerd om oorlog te verklaar teen die grootste en magtigste wêreldmag van hul tyd met die Tweede Vryheidsoorlog ?
Was Agas (koning van Juda) dan reg om polities oor te gee aan die wêreldmag van sy tyd, die Arameërs (Jesaja 7), en Jesaja verkeerd om slegs op die Here te vertrou en nie hulp by Egipte te soek nie (Jes.30,31) nie ?
Nee, FW en al die lofsangers, die probleem was met die leierskap (polities én geestelik), nie primêr met die volk nie. Julle broeke het begin bewe, julle het mens en wêreld meer begin vrees as vir God en Sy Woord (Spr.29:25). Vrede met die wêreld was vir julle belangriker as vrede met God (Jak.4:4).
Jesaja 7:2b beskryf wat hartseer-tragies met die FW-geslag gebeur het, toe hul hoor dat die wêreld teen die ou christelike SA is, toe hul hoor dat hul nie meer ekonomies so verryk gaan word nie, toe hul hoor hul sport gaan dalk van hul weggevat word:
“Toe hulle aan die huis van Dawid berig stuur met die woorde: Die Arameërs het op Efraim toegesak! — het sy hart en die hart van sy volk gebewe soos die bome van die bos bewe voor die wind.”
Gilomee se woorde in sy lofsang-artikel spreek verdoemend uit wat die hoofoorsaak was van die politieke oorgawe van 2 Febr.1990 en daarna, as hy skryf:
“Waar De Klerk en die wit mense wou ophou veg en ’n kontrak wat geldig bly met die ANC wou beding, wou die ANC aanhou veg, sy swart mededingers uitskakel en wit mense opsaal met ’n vernietigende skuldbesef. In plaas van ’n kontrak het die leiers meer aan ’n nimmereindigende proses van transformasie gedink.”
Ja, die ANC was bereid om te veg vir wat hul glo (of ons nou saamstem daarmee of nie, ten minste het hul geglo in hul beginsels), maar die FW de Klerk geslag nie, hulle het moeg geword om vir hul volk te veg, hulle het die baba (Christelike waardes in die grondwet, Afrikaner-vryheid) saam met die vuil badwater (rassisme, onregverdige behandeling) ook uitgegooi. Ja, die Afrikanermanne en gesinne wat se lewens vir niks opge-offer is in die bos- en grensoorlë, in die land se onluste en misdaad, was tevergeefs, want die leiers van die volk het ruggraatloos geword en opgegee, oorgegee:
Psalm 78:9-11 9 Die kinders van Efraim, gewapende boogskutters, het omgespring op die dag van oorlog. 10 Hulle het die verbond van God nie gehou nie en geweier om te wandel in sy wet. 11 En hulle het sy dade vergeet en sy wonders wat Hy hulle laat sien het.
Daarom is die gebeure van 2 Febr.1990 en daarna, nie ‘n helder kol in die Afrikaner se geskiedenis nie. Ja, daar moes veranderinge en verdere reformasie kom, die bedoeling van die apartheidsargitekte was nog altyd dat elke volk sy eie land en regering sou hê,[1] maar, om ‘n volk en sy land en sy grond, sy geskiedenis, sy kultuuraansprake (bv. Pretoria word Tswane?), heeltemal weg te gee, oor te gee, weg te smyt, is geen ‘noodsaaklikheid of reg’ of ‘n heldedaad nie, maar ‘n dowwe tragiese bloedige kol in ons geskiedenis, waarvan ons die gevolge reeds sien, en nog vir lank gaan sien.
Mag die Here ons genadig wees, vir al die Christene onder elke volk wat ly as gevolg van 2 Februarie 1990, maar dan ook vir ons eie volk, wat nie net a.g.v. sy eie sondes getugtig word nie, maar ook ly a.g.v. hierdie dag.
Die amerikaanse konstitusie se inleidibg erken dat elke individue sekere onaantasbare regte het – so ook kn volk – reg tot assosiasie, reg tot eiendom ens. FW (die vark) het dit vergeet of sy filisofie het dit nie meer herken nie. Hierdie reg op selfbeskikking kan nie verlore gaan nie en kan ook nie afgeteken word nie. Dit is ‘n drek redenasie dat die staat van die dag aan sy onderdane sekere regte toeken. Ons is gebore met hierdie regte en vergun slegs aan die staat om ons en ons regte te beskerm. As die staat volgens ons dit nie meer doen nie – kan daardie vergunning teruggeneem word. Dus in kort – FW was nie bymagte om ons regte te abdikeer nie en tweedens die ANC is nie by magte om ons regte van ons weg te hou nie. Dus hoef daar nie ‘n beroep gedoen te word nie op een of ander klousule van die grondwet wat dalk in die toekoms ons regte weer aan ons sal kan teruggee nie. Ons het regte wat nie vervreem kan word nie mits ons onself los sien van die staat – as vryburgers. Hier is egter die probleem want kan dit dalk wees dat ons calvinistiese agtergrond ons so laat glo in ‘sonde ontvang en gebore’ dat ons glo dat die staat nodig is om ons sondige drange in toom te hou? Het ‘n skeef getrekte calvinisme dalk aanleiding gegee tot FW (die vark) se besluite en ons almal se aanvaarding van die huidige bestel as kn vorm van regering wat deur God gegee is – hoe stry ons dan daarteen?
Vir al die wit Afrikaners van Suid Afrika. Kom ons begin met ‘n PLAN. Ons KAN!!!!
Arnie, kom ons luister, wat is jou plan ?
Nicolaas, ons glo wel volgens NGB art.36 dat die Here die staat daar gestel het om wet en orde te handhaaf, dus ons sondes uiterlik in toom te hou, ook ter wille van Sy kerk.
Maar die staat is nie die bron van reg nie, kan nie ‘regte’ skep nie, en dus uitdeel nie. Kan dit wel handhaaf en bewaar, maar nie ‘skep’ nie, soos jy tereg vermeld.
Jy raak ook ‘n ander vraag aan: is die huidige regering God se wil. Die antwoord is sekerlik ja en nee. Ja, omdat God regerings daar stel en weer wegneem, ongeag of hul christelik en regverdig is of nie. In sy raadswil bepaal Hy dit.
Nee, want hul regeer nie volgens Ps.2:10-12 en Rom.13:1-7 nie.
Die vraag is nou eerder, hoe kan en moet regerings legitiem verander word ?
As iemand deur ‘n staatsgreep aan bewind kom, dan is dit verkeerd. Maar sodra die staatsgreep verby is, dan is die revolusioneres mos nou die nuwe legitieme regering “deur God aangestel”, wat almal gehoorsaam moet wees ?
Ons sal nog baie meer hieroor moet besin.
As dit verkeerd is om revolusioner en verkeerd is om deur ‘n staatsgreep die mag oor te neem, hoekom is dit nie ook verkeerd om deur demokrasie (50 plus 1) ‘n ander se land en regte oor te neem nie ?
Wat vir my opvallend is van sekere van bostaande skrywers se response, word die wit Afrikaner as die uitverkorenes voorgehou. Die enigste mense wat “christene” is en wat enige “regte” het.
Wat is “christelik” daaraan om ‘n ander persoon as gevolg van sy velkleur of ras te onderdruk?
Wat is “christelik” daaraan om ‘n ander persoon uit te skel as ‘n vark?
Ek is ‘n calvinis. As ‘n christen weet ek dat alle mense in die land van ons die VOORREG het om in die pragtige land van ons te woon, sonder om onderdruk te word. Slegs God het regte, die mens, voorregte wat hy van Bo ontvang.
Ongelukkig is dit tans so dat die wit Afrikaner onderdruk word deur onregverdige wetgewing van “regstellende aksie” en dies meer. Daar is ‘n grondwet wat aan almal van ons regte verleen. Regte wat nie toegepas word nie.
Ook kan ek nie die huidige onchristelike, atteistiese regering ondersteun nie. Onsedelikheid, wetteloosheid en korrupsie vier hoogty in ons regering. (Kyk maar na ons President).
Dit is egter nie net die regering wat skuldig is aan bogenoemde nie. Die deursnee landsburger (ongeag ras of kleur of taal) leef volkome vir homself, sonder om enige ag te slaan op wat die Here in sy Woord beveel. Ons land boet vir sy goddeloosheid en is dit nie net een persoon (FW) se skuld dat ons tans in die gemors is waarin ons, ons bevind nie, maar is dit die hele nasie se bandeloosheid wat gestraf word.
Kom ons fokus eerder op die opbou van ons land op ‘n Christelike manier. Kom ons hou op modder gooi na ander (FW en die huidige regering). Kom ons vee voor ons eie deure en gaan weer as ‘n nasie (wit en swart) op ons kniee en vra om vergifnis. Dit is die enigste weg tot ‘n beter en nuwe Suid-Afrika.
Dag Annemarie, dankie vir jou bydrae.
Jy noem ‘n paar belangrike dinge waarmee ek dink ons almal sal saamstem, veral dat ons optrede christelik en regverdig moet wees, teenoor alle mense en volke.
Daarom juis die kritiek teenoor die FW geslag wat ander volke liefgehad het en wou regverdig behandel, behalwe hul eie s’n. Soos die ouderling wat so hard werk in sy wyk, maar sy eie vrou en gesin verwaarloos !
Ons moet onderskei tussen ‘oorsaak’ en ‘skuld’. Ja, ons almal is skuldig voor God en word getugtig vir ons oortredings, beide as individue maar ook as volke. Die Afrikaner het inderdaad afgedwaal en nou dra ons die gevolge.
Maar, dit verskoon nie die oorsaak (en skuld) van verkeerde besluite nie. Die kernvraag waarop ek wou fokus, is eenvoudig:
Was FW en sy mede-leiers se besluit om die land te oorhandig aan die onchristelik-kommunisties-georienteerde ANC ‘n goeie of slegte besluit ?
In die Beeld gister en vandag meen baie ‘Ja’, wel, juis uit ‘n Christelike oogpunt en ook uit ‘n volkere oogpunt, meen ek dit was ‘n slegte besluit, ‘n baie slegte besluit, en meen FW en kie kon ‘n baie beter Christelike bedeling asook toekoms vir die Afrikaner as volk (nie net as individue nie) beding het, veral omdat hyself erken (in vanoggend se Beeld) dat ons nog baie lank kon regereer het en die mag gehad het.
Dit gaan nie vir my oor swart of wit nie, maar oor watter ideologie FW ons oorgelewer het.
Daarom sou dit ten minste groter vrede en blydskap verskaf het as FW die land oorgegee het aan Christelike swart leiers wat God se wet wou handhaaf vir al die mense, maar hy het BAIE duidelik geweet (en is telkemale gewaarsku) hy gee die land oor aan ‘n klomp onchristelike, wettelose, kommunistiese korrupte klomp leiers wat van God’s vrees en Sy Wet niks wil weet nie … en nou sit ons met die gevolge daarvan, al die mense in ons land ly daar onder, swart en wit.
So, ek stem met jou volkome saam dat ons almal skuld dra aan ons land se omstandighede, en saam met jou is ek teleurgesteld en hartseer oor die kerklike en morele verval onder ons eie mense, maar dit vat nie alles weg die historiese feit (vanuit die geloof beoordeel), dat FW en sy regime ons oorgelewer het aan die wolwe nie.
Hy en sy span het van beter geweet, sy broek het gebewe, en soos hy ontrou was teenoor sy vrou, (haar ook vir die wolwe gegooi het, en verruil het vir ‘n Griekse godin), netso het hy sy volk en sy geskiedenis verlaat, en dit nogal vir die Nobelprys vir ‘Vrede’. Moes dit eerder genoem het die Nobelprys vir Oorgawe !
So terloops, as ‘n man sy vrou weggooi vir ‘n ander poppie, dan dink ek dit maak hom ‘n ‘vark’, dink jy nie ook so nie ? Jesus het ook die egbreker van sy tyd, nog ‘n slegte leier, Herodes, ‘n ‘jakkals’ genoem (Luk.13:32; 3:19).
Ek sien ook nie raak waar iemand geskryf het dat die Afrikaner ‘alleen regte’ het of ‘alleen christelik’ is of ‘alleen uitverkorenes’ is nie ?
Miskien noem jy daardie dinge omdat jy dalk al so gebreinspoel is deur die nuwe SA denke, om anti-Afrikaner te wees in jou denke, sonder dat jy dit besef ?
Soos ek genoem het hierbo, om ook Afrikaner te wees is nie net om lief te wees vir die Afrikaanse taal, kultuur, musiek, geskiedenis nie, maar ook om jou eie grond en eie regering te hê.
Christen Afrikaners is daarom ongelukkig met FW se besluite omdat hy met ‘n vinnige toesprakie ons voorreg om oor onsself te regeer in ons eie land van ons weggeneem het. Soos ek in my skrywe genoem het, meen ek daar kon baie harder beding en gewerk geword het vir dit waarheen ek dink iemand soos Hendrik Verwoerd na heen oppad was:
verskillende volke wat oor hulself regeer, elkeen in sy eie land, in goeie buurverhoudinge met mekaar.
Menslik gesproke, het die FW geslag die vryheidsin van die Afrikaner 100 jaar teruggesit, met een toespraak.
So, om saam te vat: of dit gaan oor sy liefde tot sy naaste (veral sy oorlede vrou), en liefde tot sy volk, bly FW ongelukkig die “vark in die verhaal”.
Baie dankie Annemarie vir jou antwoord…
Kan ons nie die arme man nog meer swart smeer nie (dalk sal hy dan weer president kan word).
Ek is seker hy het al baie geworstel met die besluite wat hy geneem het en dit voor die Here gelê. Ons is almal mense wat swig onder die duiwel se werk… HY vergewe ons as ons vra al moet ons dan nog met die gevolge saam leef.
Ek stem saam dat dit wat in die koerante staan nie reg of nodig is nie. In elke dag se koerante staan daar weer hoeveel misdaad daar in ons land is. Dit maak mens kwaad en soek iemand om die skuld te gee.
Aangesien ons daarvan hou om dinge te herhaal en te herhaal en te her… haal ek Annemarie aan:
“Ongelukkig is dit tans so dat die wit Afrikaner onderdruk word deur onregverdige wetgewing van “regstellende aksie” en dies meer. Daar is ‘n grondwet wat aan almal van ons regte verleen. Regte wat nie toegepas word nie.
Ook kan ek nie die huidige onchristelike, atteistiese regering ondersteun nie. Onsedelikheid, wetteloosheid en korrupsie vier hoogty in ons regering. (Kyk maar na ons President).
Dit is egter nie net die regering wat skuldig is aan bogenoemde nie. Die deursnee landsburger (ongeag ras of kleur of taal) leef volkome vir homself, sonder om enige ag te slaan op wat die Here in sy Woord beveel. Ons land boet vir sy goddeloosheid en is dit nie net een persoon (FW) se skuld dat ons tans in die gemors is waarin ons, ons bevind nie, maar is dit die hele nasie se bandeloosheid wat gestraf word.
Kom ons fokus eerder op die opbou van ons land op ‘n Christelike manier. Kom ons hou op modder gooi na ander (FW en die huidige regering). Kom ons vee voor ons eie deure en gaan weer as ‘n nasie (wit en swart) op ons kniee en vra om vergifnis. Dit is die enigste weg tot ‘n beter en nuwe Suid-Afrika.”
En wat het sy vrou met sy toespaak te doen (het sy dit dalk gemaak en julle is dalk vir haar kwaad?). Of is die klippe van die een kant nie genoeg om FW dood te maak nie. Moet ons hom om ander redes ook aanval (wat van al die kere wat hy gevloek het deur sy hele lewe).
Al is ons land (afrikaner) “100 jaar teruggesit” kan ek nie as christen ander mense uitskel vir varke as ek net so sondig is nie. Laat ons nederig bly en hierdie land waarin ons geplaas is Bewerk, Bewoon en Bewaar tot eer van God en tot opbou van ons naaste.
Sien hier die verskillende reaksies, positief en negatief oor 2 Februarie 1990:
http://www.beeld.com/Content/MyBeeld/Briewe
Ons moet pasop vir verdere twee gevare in die beoordeling van historiese gebeure:
1. selektiewe moraliteit, en
2. perfektionisme
1. selektiewe moraliteit
Ons is (tereg) ontstoke oor die huidige president se morele lewe, oftewel gebrek daaraan, en die mense val oor hul voete om dit gou uit te wys … maar, as dit by vorige presidente kom, ‘ons mense’ (veral FW nou), moet ons bloot vergewe en vergeet, en dit nogal in die lig van die feit dat hy nog nooit die egbreek teenoor sy eerste vrou en die daaropvolgende egskeiding en hertrou as sonde bely het nie.
Daarom, om te beweer dat sy egbreek niks te doen het met die gebeure om 2 Febr. 1990 nie, is bloot onkunde. Dit blyk dat terwyl die onderhandelinge aan die gang was, en veral daarna, het FW reeds sy vrou verkul, en dat daardie keuse teen sy vrou, ook deurgewerk het na sy volkereverhoudinge, of gebrek daaraan. Die verband is baie duidelik.
Om sogenaamd ‘n skeiding te maak tussen ‘n leier se publieke lewe (2 Febr. 1990) en sy persoonlike lewe (huwelik) is onbybels. Selfs die wêreld erken dit, as die redakteur in gister se Beeld skryf (2010.02.03):
“Die ANC en ander apologete vir Zuma probeer aanvoer dis alles Zuma se private lewe en niemand het iets daarmee uit te waai nie. Maar dit is nie. As jy president word, versmelt jou private en openbare lewe. Dan kyk landsburgers na die wyse waarop die staatshoof sy private lewe inrig as ’n aanduider van sy karakter en van hoe hy in sy openbare amp sal optree.”
FW se private lewe van ontrou het sy openbare lewe van ontrou tot openbaring gekom.
Sien ook veral die volgende brief:
http://www.beeld.com/Content/MyBeeld/Briewe/1976/f3d85304ad504b118f179e326864ecd3/02-02-2010-07-30/Kon_hulle_nie_sien_wat_in_Afrika_gebeur_nie
Dit bring ons by die tweede punt:
2. Perfektionisme
Natuurlik moet ons vergewe, natuurlik is ons almal sondaars wat ons eie swakheid en broosheid ken. Maar dit gaan nie daaroor of ons ook val nie, maar wat maak ons daarmee. Bely ons dit en gaan voort, of weier ons om dit te bely en probeer verkeerde besluite regverdig onder die mantra van “daar was geen ander alternatief vir my egbreek teen my vrou en land nie”?
Ons sondigheid en geneigdheid tot alle kwaad hef nie op dat ons opgeroep word om regverdig oor sake te oordeel nie, nie ‘veroordeel’ nie, maar oordeel in nederigheid. Christus leer ons om nie te veroordeel of onregverdig te oordeel nie (Matt.7:1,2), maar leer ons wel ons moet regverdig oordeel, d.w.s. onderskei oor ‘n saak in die lig van God se Woord (Joh.7:24).
Indien ons nie mag oordeel nie, omdat ons ‘almal sondaars is’, is nie ‘n gereformeerde siening nie, maar ‘n anabaptistiese dwaling wat aangehelp is deur die skuldmanipulering van die liberale en onchristelike media, en ongelukkig ook baie valse kerklike propaganda. As ons nie mag oordeel nie, dan beteken dit dat ons nie ouers, predikante, ouderlinge, regters, ens. mag hê wat ‘oordeel’ en tug toepas nie.
Nee, ons moet nederig wel oor sake kan oordeel, regverdig, o.g.v. getuenis in die lig van die Woord.
En al die getuienis is daar dat die besluit om die land aan ‘n onchristelike onbekwame regime oor te gee, ‘n slegte besluit was, maar die FW geslag weier hardnekkig om dit te erken en te bely.
Al die getuienis is daar dat FW egbreek gepleeg het, verkeerdelik van sy eerste vrou geskei het, en haar verlaat het, maar nêrens bely hy en erken dit nie.
Ek het al baie Afrikaners ontmoet wat erken en bely dat ons afgedwaal het van God en sy gebod, en sy strawwe verdien. Wat roep om sy genade vir ons oortredings teenoor Hom en ons naaste, ook ander volke.
Ons wag nog vir een van die FW geslag wat erken hy en hulle het gesondig deur sy 2 Febr. besluit en veral oor sy egbreek en egskeiding.
Ons wag nog vir ‘n belydenis (soos met die WVK, of kerklike belydenisse) van hulle wat die huidige bedeling, die nuwe SA as sondig bely omdat dit op sand gebou is, die sand van humanistiese menseregte wat afgode soos FW en Mandela vereer, maar intussen God se heilige Naam vertrap in die land.
Inteendeel, wat ons hoor is net lofsange en verdedigings vir sy optrede. En nog meer tragies, is dat self kerklidmate, gereformeerdes, deur hierdie lofsange op tousleep geneem word.
Ek vermoed die rede daarvoor is skuldgevoelens en manipulasie oor die verlede (gaan kyk elkeen maar vir watter vlae en simbole en gedenkdae hy hom skaam of nie, om te weet waar jy staan), en nie ware verootmoediging en sonde-belydenis nie.
Mag die Here ons genadig wees en weer ‘n geslag gee wat God vrees en eer, onder alle volke, sodat ons mekaar saam in Christus sal vind en respekteer, en volgens sy Wet in dankbaarheid sal lewe.
Afrika is nie net vir die Afrikane nie, maar ook vir die Afrikaners, en bo alles, vir Christus.