Boekbespreking: Opgestaan – deel 4 (Verdagte teoloë)

Vanoggend in die Beeld (2011-08-01) het daar ‘n berig verskyn wat relevant is vir die boekbespreking waarmee ek tans besig is.

Onder die titel van ‘Verdagte’ teoloë bely opnuut geloof, word daar soos volg berig (beklemtonings in alle aanhalings bygevoeg):

“Die Hervormde Kerk se dosente aan Tukkies se fakulteit teologie het opnuut hul verbintenis tot dié kerk se belydenisskrifte onderskryf om ’n vlaag van verdagmakery teen hulle te stuit.

Proff. Johan Buitendag, Ernest van Eck, Yolanda Dreyer, Theuns Dreyer, Piet Venter en Andries van Aarde, asook drr. Jaco Beyers en Wim Dreyer en ds. Tanya van Wyk, het dit in ’n verklaring gedoen wat op die kerk se webwerf geplaas is. Hulle sê ’n bepaalde groep in die kerk stel hulle geruime tyd reeds verdag voor. Dit het sedert verlede jaar se algemene kerkvergadering erger geword. Daar word volgens die dosente gepoog om die kerk te oortuig dat hulle nie meer die kerk se belydenis onderskryf nie.

“Die integriteit van enige bedienaar van die Woord word deur hierdie lasterlike aantygings wesenlik aangetas,” sê die dosente. Enersyds is dit deel van ’n groter teologiese verdagmakery waaronder ook dosente van die NG Kerk die laaste paar jaar deurloop.

Andersyds het vyf dosente – Buitendag, Van Aarde, Yolanda Dreyer, Van Eck en prof. Jimmy Loader – hulself die gramskap van die konserwatiewe vleuel van die kerk op die hals gehaal met ’n verklaring ’n paar jaar gelede waarin hulle apartheid op teologiese gronde verwerp.

Dié verklaring het aanleiding gegee tot ’n besluit deur die algemene kerkvergadering waarmee ook die kerk apartheid verwerp. Dié besluit het tot groot tweespalt in die kerk gelei en sedertdien is die dosente ook dikwels ’n teiken. Van Eck, voorsitter van die Hervormde dosentevergadering, sê dit gebeur meer en meer dat “die dosente” in die algemeen verdag gemaak word.

Dié verklaring is die eerste stap van hul kant om die verdagmakery hok te slaan. Die tweede stap sal wees om met individue te praat wat deel is van die verdagmakery. Op ’n vraag of dit kan lei tot kerklike tugstappe sê Van Eck hy vertrou die saak kan deur gesprekke opgelos word. Op die Hervormde Kerk se Facebook-blad word mense genooi om aan te dui of hulle meen die verklaring kan vir die dosente vernederend wees en is dit ’n onnodige stap.”

Hier word twee sake vermeld, die een gaan oor die professore se nuwe verklaring van hul hernude onderskrywing van die ‘belydenisskrifte’, en die ander saak oor hul vorige verklaring waarin hul apartheid verwerp. 

In hierdie bespreking gaan ek aan eersgenoemde saak aandag gee, en in ‘n volgende bespreking aan die laasgenoemde saak, soos dit in verband staan met Opgestaan.

Nou, ongeag die interne debat wat aangaan in die Hervormde Kerk oor sake wat ons nie altyd veel van weet nie, wil ek vra vir die doeleindes van my boekbespreking, of enige van die bogenoemde professore se teologie ‘verdag’ is, en of Hervormde lidmate rede het om besorg te wees, baie besorg te wees.

As ek die opskrif van die Beeld artikel as vertrekpunt vat, dan moet ons vra wat bely ons in die belydenisskrifte (wat hierdie professore weer onderskryf het), aangaande wat geloof behels, volgens die Heidelbergse Kategismus in navolging van die Skrif:

Vraag 21: Wat is ‘n ware geloof?

Antwoord: ‘n Ware geloof is nie alleen ‘n vasstaande kennis waardeur ek alles wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het vir waar aanvaar nie, maar ook ‘n vaste vertroue wat die Heilige Gees deur die evangelie in my hart werk, naamlik dat God nie net aan ander nie, maar ook aan my uit loutere genade, slegs op grond van die verdienste van Christus, vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid geskenk het.

So, met ander woorde, is hierdie deel van die kategismus se bewoording van die ‘ware geloof’ wat iemand soos prof. Andries van Aarde van harte glo en onderskryf met sy teologie beoefening ?

Ek wil fokus op van Aarde, aangesien sy naam gereeld opduik in Opgestaan.  Onderskryf hy werklik die gereformeerde belydenisskrifte van die Hervormde Kerk, soos hul dit bely op hul tuisblad, of is sy teologie en belydenis ‘verdag’ ?

Ferdie Mulder, in sy boek Opgestaan, in hoofstuk 2 (“Teologiese studies – vreugde en trane”) wys op ‘n paar sleutelgebeure wat hy in sy boek skets, “maar die eerste drie is waarskynlik dié sleutels tot baie van die ander verhale wat gaan volg.” [8]

Die eerste gebeurtenis was, en ek haal vir Ferdie aan:

Die eerste gebeurtenis het by die Fakulteit Teologie in Pretoria plaasgevind. In die jaar 2000 het die Hervormde Kerk (Afdeling A) en die NG Kerk (Afdeling B) se teologiese fakulteite saamgesmelt om ’n “nuwe verenigende fakulteit” by Tukkies te vorm waarvan professor Cas Vos die nuwe en eerste dekaan sou wees (Beeld, 20 Augustus 1999). Alhoewel daar goeie redes vir hierdie eenwording was wat tereg positiewe voordele sou inhou, was daar tog ook ’n aantal gerugte wat die rondte gedoen het oor waarom die eenwording klaarblyklik gedwonge moes plaasvind. Eerstens natuurlik dat daar druk vanaf die regering was; tweedens om monetêre oorwegings en derdens dat, indien die eenwording nie sou voortgaan nie, die Fakulteit Teologie sou moes verklein en deel van ’n departement of skool moes word binne die Fakulteit Geesteswetenskappe.  

Hoe dit ookal sy, die fakulteite het in 2000 saamgesmelt. Ingeligtes sal verder weet (en soos ek later gaan probeer aantoon) dat die Hervormde teologiese tradisie baie kompleks is, maar dat daar inderdaad ’n beduidende stroom van “skerp kritiese denke”, veral in die Bybelwetenskappe, by hulle gevestig is (sien http://www.teo.co.za Wim Dreyer September 2007). Soos wat die gebeure verder vertel gaan word, sal die impak van hierdie teologiese stroom verder belig word, veral wanneer oor spesifieke Hervormde teoloë soos professore Andries van Aarde en die verskyning van sy kontroversiële boek Fatherless in Galilee (Harrisburg, Trinity Press International, 2001, voortaan Fatherless) en ook Yolanda Dreyer berig sal word.” [8,9]

(Die ander 2 gebeure is: die verskyning van dr. Ben du Toit se boek, God? Geloof in ‘n postmoderne tyd, en uitsprake van prof. Julian Müller in die openbaar.)

Nou wat bely van Aarde met die hand, d.w.s. met sy pen in sy boek Fatherless, oor ons Here Jesus Christus, die Seun van die lewende God (Matt.16:16) ?

Ferdie antwoord die vraag vir ons, en ek gee dit vir u weer deur ‘n hele paar aanhalings uit sy boek:

In hierdie boek … het hy navorsing gedoen oor die “historiese Jesus” en ’n beeld van Jesus geskets wat radikaal  verskil het van die tradisionele interpretasies van die vier Evangelies.  So byvoorbeeld het hy in sy navorsing beweer dat Jesus ’n buite-egtelike kind was wat nooit maagdelik verwek is nie. As buite-egtelike kind het hy “gefantaseer” oor ’n vaderfiguur waarna God sy “Vader” geword het. Josef (tradisioneel Maria se man) was klaarblyklik ’n latere ortodokse byvoeging om die verleentheid van Jesus se buite-egtelikheid te probeer toesmeer. Verder het Jesus ook nie letterlik uit die dood opgestaan nie, maar voortgeleef in die “vertellinge” oor hom. Wat belangrik was vir professor Van Aarde se konstruksie van Jesus, was dat hy (Jesus) geïdentifiseer het met die randfigure in die samelewing en omgegee het vir die armes, weeskinders en so meer. Wat laasgenoemde betref sou min Christene van hom kan verskil, maar dit was oor sy beweringe rondom wie Jesus was, wat Hy gedoen het, en wat Hy bewerkstellig het (veral oor sy geboorte, kruisiging, opstanding) dat daar groot polemiek was. [8,9]

… die bekende en vooraanstaande professor Lina Spies van Stellenbosch, wat onder meer etlike omdigtings vir die nuwe Liedboek gedoen het, ’n soortgelyke ervaring gehad het, ook nadat sy Fatherless gelees het. Sy skryf dat sy uit die NG Kerk bedank het nadat sy ’n lidmaat vir bykans vyftig jaar was en selfs as ouderling gedien het, omdat sy nou glo dat Jesus slegs ’n doodgewone mens was (Insig, Desember 2003). [16]

…. Die bekommernis was eerder daarin geleë dat sommige van professor Van Aarde se insigte in sy boek Fatherless (en ook in artikels en lesings) so radikaal verskil het van wat sommige van ons verstaan het as die NG Kerk se heel basiese verstaan van die Skrif dat dit uiters verwarrend en selfs geloofsbedreigend kon wees. En die belangrikste van alles was die feit dat professor Van Aarde ’n kerklike professor was wat ’n legitimasie-verklaring onderteken het (al was dit ook in die Hervormde Kerk). Dít het, so glo ek, ’n onhoudbare en verwarrende uitwerking op sommige studente gehad.”

… Professor Van Aarde se Fatherless (maar sekerlik ook die eenwording van die fakulteit in 2000 asook die gebeure rondom professor Julian Müller en dr. Ben du Toit) het waarskynlik die weg gebaan vir ander teoloë om nou ook met meer vrymoedigheid hulle kritiese standpunte in die openbaar te begin verkondig. Professore Sakkie Spangenberg, Pieter Craffert, Pieter Botha en Hansie Wolmarans in besonder, kan beskou word as persone wat die geleentheid nogal dramaties aangegryp het. Hulle standpunte het uiteindelik radikaal begin verskil van die tradisionele interpretasies van byvoorbeeld Jesus se maagdelike verwekking, wonders, opstanding, en so meer. Hulle Bybelwetenskaplike navorsing, alhoewel vanuit verskillende invalshoeke, het die letterlikheid van hierdie gebeure vir vandag begin bevraagteken. Uiteindelik het hulle ’n beweging met die naam “Die Nuwe Hervorming” gestig, met die gedagte dat hulle insigte ’n nuwe beweging, soortgelyk aan die 16de eeuse Protestantse Reformasie sou bewerkstellig. Hulle metodes en resultate het verder ook nogal ooreengestem met die navorsing van die Jesus Seminar in die VSA. In Oktober 2002 bars die bom met die verskyning van die boek Die Nuwe Hervorming (Pretoria, Protea Boekhuis, 2002) waarin hulle, saam met ’n paar ander bekendes soos professor Wilhelm Jordaan en dr. Piet Müller (laasgenoemde as redakteur van die boek) hulle interpretasies verduidelik (Beeld, 4 Oktober 2002). [17,18]

… Ons het toe in meer detail begin gesels oor professore Gert Pelser en Andries van Aarde. Die teoloog het aangetoon dat hy hulle persoonlik baie goed ken en dat hy weet dat hulle inderdaad leerdwaling verkondig. Ongelukkig, so het hy voortgegaan om te sê, kom hulle altyd skotvry wanneer hulle reguit gevra word oor krities belangrike geloofswaarhede omdat hulle net eenvoudig dan sê dat hulle nie ’n “probleem” het met die belydenis van die kerk nie. Hy het spesifiek verwys na ’n belydenis wat professor Van Aarde op 15 November 2000 in Die Hervormer, die Hervormde Kerk se koerantjie, gemaak het na aanleiding van die storm oor sy boek Fatherless in Galilee. Hy was hoegenaamd nie oortuig daardeur nie. Ek het later gaan rondblaai in die argiewe van die koerantjie en kon etlike bevestigings kry vir die kuratoriumteoloog se kommer. [58]

… Dieselfde jaar publiseer professor Van Aarde sy opspraakwekkende boek Fatherless in Galilee; mettertyd sou professore Sakkie Spangenberg van Unisa en Jurie le Roux van Tukkies die boek se lof besing. [62]

… Sentraal in professor Van Aarde se boek is die teorie dat Jesus ’n onwettige, onegte of buite-egtelike kind was (15 en verder). Hy bespreek selfs die moontlikheid dat Jesus die kind van ’n prostituut kon gewees het, wat met sonde bevlek was (74). Hy redeneer verder dat hierdie situasie ’n enorme probleem vir die eerste Christene veroorsaak het. Hulle moes hierdie verleentheid probeer beredder. Só het Josef as die aardse vader van Jesus, ’n latere invoegsel geword om die verleentheid van Jesus se buite-egtelikheid te probeer toesmeer (77, 83 en verder).

Professor Van Aarde verwerp dus die tradisionele interpretasies van Jesus se maagdelike verwekking soos wat die Skrif en belydenisskrifte dit aan ons voorhou. In Fatherless word Jesus se liggaamlike opstanding ook klaarblyklik verwerp. Gereeld word verwys na veranderde bewussynstoestande wat die getuies “ervaar” het eerder as letterlike verskynings van Jesus. Professor Van Aarde noem dit ook visioene (kyk veral 185-188).” [222]

… As mens het ek deernis en empatie met professor Van Aarde wat op vervroegde pensioen is om mediese redes. Ek hoor hy is tans beter! Wat sy teologiese insigte betref, erken ek eerstens dat hy ’n grondige kennis oor die Nuwe Testamentiese Wetenskap het, maar ook oor die Hermeneutiek. Wat laasgenoemde betref, was baie van my eerste kennismaking met persone soos Descartes, Kant, Gabler, Stäudlin, Hobbes, Locke, Hume, Schleiermacher, Bauer, Troeltsch, Dilthey, Bart, Bultmann, Heidegger, Von Rancke, Fuchs, Ebeling, Gadamer, Habermas, Ricoeur, Marx, Lyotard, Foucault en Deridda, deur sy toedoen.” [222]

… Ek probeer saamvat: In sy verweer om sy positiewe artikel oor Fatherless te probeer regverdig beweer professor Le Roux dat niemand meer die alleenreg het om te sê wat tot die wese en nie-wese van die Christelike geloof behoort nie. Daarom, per implikasie, is daar ook ruimte binne die Christelike kerk vir die insigte wat professor Van Aarde in Fatherless verkondig. Die feit dat professor Van Aarde nog ’n leraar is wat preek en die feit dat die Hervormde Kerk nie tughandelinge teen hom geneem het nie, bevestig dat hulle sy standpunte “[ge]respekteer” het. Dit beteken gewoon dat ’n dienende predikant en teoloog (wat ook die toekomstige predikante van sy en ook die NG Kerk oplei), bínne die kerk en in ooreenstemming met die hart van die belydenis kan verkondig dat Jesus byvoorbeeld ’n buite-egtelike kind was; dat Hy “gefantaseer” het oor ’n vaderfiguur waarna God sy vader geword het; dat hy nooit letterlik uit die dood opgestaan het nie en so meer. [230,231]

U kan ook die volgende resensies lees ter bevestiging van Ferdie se opsommings van van Aarde se basiese belydenis aangaande Christus:

Review of Biblical Literature

Ek is nie bewus dat van Aarde sy dwalings en spesifiek sy boek teen Christus afgesweer en verbrand het nie (Hand.19:19) en hom bekeer het van sy dwalende uitsprake nie.  As lid van die Jesus Seminar verwerp hy dus die maagdelike geboorte en die liggaamlike opstanding van Jesus Christus, dus ook die Godheid van Christus, en alles wat daarmee gepaardgaan.  Hy verwerp die Christus van die Bybel. Hy verwerp die Christelike geloof soos bely word in die Apostoliese Geloofsbelydenis:

(2) En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;

(3) wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria;

(4) wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en neergedaal het na die hel;

(5) wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dood;

Hy verwerp verder die gereformeerde geloof soos bely word in die Drie Formuliere van Enigheid:

– NGB artikel 8,9: Die Drie-Eenheid

– NGB artikel 10: Die Godheid van Jesus Christus

– NGB artikel 18: Die menswording van Jesus Christus

– NGB artikel 19: Die twee nature van Christus

– HK Sondag 6: Christus is ware mens en ware God

– HK Sondag 11-19: verklaring van art.2-6 van die Apostoliese Geloofsbelydenis

En, onderliggend aan dit alles, verwerp van Aarde en ander Nuwe Hervormers die fondament van die hele Christelike geloof, die ‘onfeilbare reël’ van ons geloof, waarop al die voorgaande belydenis artikels staan, nl. “die heilige en Goddelike Skrif” (artikels 2-7 van die NGB). En, as jy God se Woord verwerp as die ‘onfeilbare reël’ (art.7), as jy jou nie onderwerp aan “die Ou en die Nuwe Testament  …. waarteen niks ingebring kan word nie”(art.4), en as jy nie “alles wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het vir waar aanvaar nie” (HK antw.21), ook nie en veral nie as jy nuwe testament wetenskap beoefen (in diens van jou kerkverband) nie, dan verwerp jy daardeur by implikasie ook NGB artikel 1: die enige God van die Bybel. 

Jy kan nie geloof in die Heilige Skrif en geloof in Christus van mekaar skei of teen mekaar stel nie, soos van Aarde en ander die Jesus van die Bybel en die Jesus van die geskiedenis teenoor mekaar stel nie:

En toe Hy opgestaan het uit die dode, het sy dissipels onthou dat Hy dit vir hulle gesê het; en hulle het die Skrif geglo en die woord wat Jesus gespreek het. (Joh.2:22)

Verwerp die een (die NT getuienis oor Christus), dan verwerp jy die ander, Jesus. 

Van Aarde (saam met al die Nuwe Hervormers) verwerp Petrus en die kerk deur alle eeue se belydenis waarheid van:

“U is die Christus, die Seun van die lewende God.” (Matt.16:16)

Verder, en erger nog, maak hy volgens Christus, die Vader tot leuenaar:

“Toe antwoord Jesus en sê vir hom: Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit (v.16) nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is.” (Matt.16:17)

Van Aarde verwerp die getuienis van God, en neem die valse getuienis van mense (Bultmann en andere miteskeppers) aan, in die plek van God:

As ons die getuienis van die mense aanneem — die getuienis van God is groter, omdat dit die getuienis is van God wat Hy aangaande sy Seun getuig het.  Wie in die Seun van God glo, het die getuienis in homself. Hy wat God nie glo nie, het Hom tot leuenaar gemaak, omdat hy die getuienis nie geglo het wat God aangaande sy Seun getuig het nie. – 1 Joh.5:9,10

Hoeveel te meer geld hierdie woorde vir ons wat leraars is, teoloë van sy kerke (Jak.3:1).

Van Aarde het die ‘onfeilbaarheid’ van die Bybel (NGB artikel 7) verskuif na die ‘onfeilbaarheid’ van skrifkritiese moderne ‘wetenskap’. 

Van Aarde en sy nuwe hervorming kollegas skaar hul by hulle wat die (wonder)werk van God in en deur Christus, die maagdelike geboorte (Luk.1:35, “Die Heilige Gees sal oor jou kom”) ontken, deur dit toe te skryf aan die werk van die Bose, naamlik ‘n buite-egtelike verhouding, in die woorde van Jesus self (Joh.8):

Julle doen die werke van jul vader. Toe sê hulle vir Hom: Ons is nie uit ontug gebore nie; ons het een Vader, naamlik God. En Jesus sê vir hulle: As God julle Vader was, sou julle My liefhê, want Ek het uit God uitgegaan en gekom; want Ek het ook nie uit Myself gekom nie, maar Hy het My gestuur.  Waarom ken julle my spraak nie? Omdat julle na my woord nie kan luister nie.  Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ‘n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar is en die vader daarvan.” (Joh.8:41-44)

Prof. EP Groenewald se verklaring van hierdie vers (kursief bygevoeg):

Sommige verklaarders meen dat die opmerking van die Jode ’n skimp is op die geboorte van Jesus. Moontlik was hulle bewus van iets sonderlings in verband met sy geboorte en wil Hom nou beledig deur te verwys na geboorte uit owerspel. Dit is bekend dat latere Joodse skrywers daarmee volgehou het dat Jesus uit owerspel gebore is, en vandag nog is daar mense wat daarmee volhou om Jesus daardeur in onguns te bring.[1]

Van Aarde se laster teen Christus is geensins nuut nie, nog minder sy ‘nuwe testamentiese wetenskap’, want sy voorgangers, die Sadduseërs, wat die opstanding ontken het, moes reeds hoor van Jesus (in Matt.22:23,29):

Dieselfde dag kom daar na Hom Sadduseërs, hulle wat sê dat daar geen opstanding is nie … Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie.

Ja, dit is seker ‘interessant’ vir ‘n klein groepie mense hier op aarde om kenners te wees in die nuutste dwalings en laster teen Christus en sy Woord, maar soos Langenhoven gesê het: die slim man ken al die paaie, die wyse man ken die regte pad (Joh.14:6).  En, as ons die regte pad ken (Ps.1:2), sal ons dadelik en duidelik kan sien wanneer al die verkeerde paaie gekies word (Ps.1:1), ook deur geleerde professors en teologiese fakulteite.

Van Aarde en handlangers is besig met ‘n ander Gods-, Skrif- en Christusbeskouing, met ‘n ander geloof, nie geloof waarvan ons leer in die Heilige Skrif of in die gereformeerde belydenisskrifte bely nie. En ja, as jy oorgaan tot die nuwe hervormingsgeloof, wees eerlik daaroor soos Spangenberg en ander, en verlaat die ‘algemene Christelike kerk’, verlaat die gereformeerde geloof, maar moenie onder die dekmantel (en geld?) van Hervormde gelowiges en kerke en die gereformeerde belydenis nog probeer voorgee jy ‘onderskryf’ die belydenisskrifte nie.  Terwyl die NT skrywers (valslik) aangekla word van oneerlikheid deur die nuwe hervormers profete se herinterpretasies van die NT (sien hier bo: bv. Jesus se maagdelike geboorte word as dekmantel gebruik om die sonde van ‘owerspel’ te bedek), is dit skreiend dat sommige van hul dieselfde doen met die kerke se belydenis: hul herinterpreteer dit om by hul eie sosiaal-teologiese agendas in te pas en sodoende hul dwalinge te akkomodeer onder die gereformeerd geloof en teologie.

Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter. Wee hulle wat in eie oë wys en na eie oordeel verstandig is.  … omdat hulle die wet van die HERE van die leërskare verwerp het en die woord van die Heilige van Israel verag het. – Jes.5:20,21,24

Een van die resente wat ek hier bo na verwys het, skryf as volg in die konklusie van sy resensie oor van Aarde se boek:

“It is my wish that he had not only explored the human Jesus but had discovered the divine Jesus, for that was the Jesus who called to bless the children, heal the sick, and give bright hope for us all who will realize our mortality one way or another. But that was not his journey. As one who is cross the chasm from van Aarde, Fatherless in Galilee was an interesting, though unconvincing, theological exercise that needs to be applauded nonetheless.”

Die resent is heeltemal korrek: van Aarde mis die Jesus Christus van die Heilige Skrif, hy het Hom nog nie ontdek nie, want Hy is ware mens en ware God, wat niemand kan of mag skei nie.  Sien die 3 ekumeniese belydenisskrifte, wat van Aarde opnuut onderskryf het met sy handtekening, dieselfde ‘hand’ waarmee hy skryf in Fatherless dat Christus in owerspel gebore is, en nie letterlik opgestaan het uit die dood nie – veral Die Geloofsbelydenis van Atanasius, art.30:

“So is die regte geloof dan: Ons glo en bely dat ons Here Jesus Christus, die Seun van God, tegelyk God én mens is.” 

En, as Hy nie behalwe ware mens, ook volkome ware God was nie, wat alle sonde, onreg, hartseer, pyn, die Bose, die wêreld, ens. kom oorwin het nie, dan help al van Aarde en ander se ‘social gospel’ idees net mooi niks nie (let wel: ek gaan in die volgende bespreking meer aandag gee aan hierdie saak, so wag voor u te vinnige afleidings maak oor wat ek dink van ‘sosiale onreg’. Ek glo die ware gelowige moet getuig teen ‘sosiale onreg’, nie met die ‘social gospel’ nie, maar met die ‘Wet en Evangelie’). 

Die wesentlike probleem met van Aarde se Skrifkritiese wetenskapsbeoefening (en met die Jesus Seminar en die Nuwe Hervorming), is dat dit vanuit die aarde en nie vanuit die hemel beoefen word nie, d.w.s. dit probeer in die mens se rede, vanuit die roem in die mens, deur die sogenaamde (ongeloofs) (on)wetenskaplike skrifkritiese metodes, Hom ‘ontdek’ en verstaan (die sogenaamde historiese Jesus soektog), ‘n nuttelose oefening, net soos evolusionistiese ‘wetenskap’ op ‘n nuttelose soeke is na die oorsprong van die mens en kosmos (terwyl dit reeds ge-openbaar is in Genesis en die res van die Skrif).

Maar waar kom Jesus vandaan ?

Kom Hy van (die) Aarde ?

Nee, Hy kom van die hemel af, Goddelik:

En niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die Seun van die mens wat in die hemel is. (Joh.3:13)

In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God … En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon — en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom — vol van genade en waarheid. (Joh.1:1-2,14)

En, hoe(kom) kan ons Hom en die Vader ken ?

En ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het om die Waaragtige te  ken; en ons is in die Waaragtige, in sy Seun, Jesus Christus. Hy is die waaragtige God en die ewige lewe. – 1 Joh 5:20

Deur Godsopenbaring, deur sy Gees en Woord, deur Christus as Middelaar kan ons waarlik ken.

Hoekom het Hy uit die hemel gedaal ?

Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy lewe tot in ewigheid. En die brood wat Ek sal gee, is my vlees wat Ek vir die lewe van die wêreld sal gee. (Joh.6:51)

Geen ewige lewe sonder die ewige Seun van God wat uit die hemel neergedaal het nie, “die ware, ewige God, die Almagtige, wat ons aanroep, aanbid en dien” (NGB art.10).

Dus, Van Aarde wil die kontak, die lewensaar, die brug, die Middelaar, die bemiddeling tussen God en mens, tussen Skepper en verlore sondaar, tussen ‘n verlore wêreld en die enigste Verlosser, afsny, vernietig, verwoes. Hy wil ons fatherless maak, eensaam, vir ewig en altyd. Van Aarde wil die hemel wegvat, sodat ons net met die aardse hel oorbly, verstik in ons sonde, wanhoop en hulpeloosheid. Die Hoop van die mensdom verander hy na bloot net nog ‘n mens wat geen volkome redding en hoop kan bring nie, wat ook soos ons almal deur die sonde en dood oorwin is:

Vertrou nie op prinse nie, op die mensekind, by wie geen heil is nie. Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne gedaan.” (Ps.146:3,4). 

Al wat dan oorbly is die aarde, die graf het die laaste sê, dis al … fatherless, hopeless, clueless, lost.

Dank God, ons aanbid nie Van Aarde se jesus wat vanuit die aarde is nie.  Want met die ware Christus se planne was en is dit nie gedaan nie.  Ja, Hy het gesterwe, aan die kruis het Hy uitgeroep, Dit is volbring (Joh.19:30), en daarom op ‘daardie dag’, die opstanding Sondag, is sy reddingsplan bevestig, en niks en niemand kan dit verander of keer nie, ook nie afvallige ou of nuwe testament ‘wetenskap’ nie:

“Hy is nie hier nie, want Hy het opgestaan soos Hy gesê het” (Matt.28:6)

Dank God, wat ons reeds die oorwinning in die ware Jesus Christus gee (1 Kor.15:56, sien veral waaroor al die voorafgaande verse in hoofstuk 15 gaan, wat ons die enigste ware hoop gee).

Juis omdat Christus van die Vader uit die hemel neergedaal het, omdat Hy God en Mens is, omdat Hy weer ons as mense met die Vader versoen het, kan ons weet dat ons nooit ‘Fatherless’ was en dit nooit sal wees nie, sodat, soos my klein dogterjie (Hilke) nou hier na my kom – terwyl ek hierdie artikel skryf in my studeerkamer – en ek haar as haar liefdevolle vader kan help om haar kousie oor haar koue voetjie te trek, so sal ons ewige Vader – soveel te meer en volmaak (Matt.7:11) – in Jesus Christus altyd vir ons sorg, ten goede:

Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors (Jes.9:6)

Jammer, maar as jy net die een natuur van Christus aanvaar (Jesus was ‘slegs ‘n doodgewone mens’, ala Lina Spies [16]), en dan nog ‘n verdraaide mensbeeld ook daarby), is jy besig met ‘n afgod, ongeag al die mooi welsynspraatjies. 

Die resent is daarom nie reg dat ons die soort werk moet toejuig nie, hoe mooi (krities) ‘wetenskaplik’ dit ookal mag klink in sommige se ore.  ‘n Gelowige, veral nie ‘n gereformeerde gelowige, mag nie hande klap nie, maar eerder treur as ons enigste Troos in lewe en sterwe (dus vir die ewigheid maar ook vir die hier én die nou!), in liggaam en siel, ons Here Jesus Christus, so gehermitologiseer word in die hande van ‘moderne teologiese wetenskap’, dat daar geen ware Troos vir die toekomstige én hierdie lewe oorbly nie.  

Soos Ferdie telkemale verwys in sy boek na Paulus se woorde in 1 Kor.15:32, as Christus nie opgestaan het nie, as die ‘dode nie opgewek word nie, laat ons eet en drink, want more sterf ons!’

En daarom, die onmiddelike waarskuwing direk na vers 32:

“Moenie dwaal nie, slegte gesprekke bederf goeie sedes” (v.33)

Ja, slegte teologie bederf ‘n goeie lewe, moenie dwaal nie (2 Tim.4:3,4).

Veral nie agter hulle aan, die volgende vers (v.34), wat “geen kennis van God” het nie, d.w.s. geen ware Godskennis volgens die Skrif nie.

As Christus nie ware mens én ware God is nie, dan bly daar geen Troos, sin en hoop oor nie, ook nie vir enige van ons ‘sosiale dienswerk’, ons ‘goeie sedes’ (v.33) hier op aarde nie.

Die volk van die Here moet dus treur dat sulke dwaalleraars betaal en beskerm word om mense te mislei, die kerk van Christus moet treur dat lidmate hul bydraes gee om die aantasting van Christus se eer te befonds.  Die kerk moet treur dat hulle wat die verdagte leraars aanspreek afgemaak word as die onrustokers.  Maar, soos in die vorige bespreking reeds vermeld is, dit is die kenmerk van die valse kerk, ironies genoeg, volgens die kerk se belydenis wat die professore van die kerk weer onderskryf het. NGB artikel 29 oor die ware en die valse kerk:

Wat die valse kerk betref: Dit skryf aan homself en sy besluit meer mag en gesag toe as aan die Woord van God; dit wil homself nie aan die juk van Christus onderwerp nie; dit bedien die sakramente nie soos Christus dit in sy Woord beveel het nie, maar neem weg en voeg by na eie goeddunke; dit vertrou meer op mense as op Christus en dit vervolg hulle wat volgens die Woord van God heilig lewe en wat die valse kerk oor sy euwels, gierigheid en afgodery bestraf.  Hierdie twee kerke kan maklik uitgeken en van mekaar onderskei word.

Die laaste sin is belangrik van die belydenis hier in NGB art.29: as iemand wat die Godheid, maagdelike geboorte, liggaamlike opstanding, ens. van Jesus Christus verwerp, se teologie nie ‘verdag’ is nie, dan wonder ek wat ‘verdag’ dan nog beteken ?

Mag die Here sy ware kerke weer die gees van onderskeid gee, die onderskeid tussen die waarheid en die leuen (1 Joh.4:1-5). Mag die Here weer ouderlinge gee wat die kudde waarlik liefhet en bewaar (Hand.20:28-30).

Van Aarde en die ander nuwe hervormers se jesus is vanselfsprekend nie die ware God en mens, Jesus Christus, die Seun van God soos geopenbaar in die Heilige Skrif nie, en soos bely word in die gereformeerde belydenis nie.

Van Aarde se jesus is ‘n afgod, daarom die afgodery wat volgens NGB art.29 bestraf moet word.

Om Christus as God te bely, as die Seun van God, is ‘n saak van geloof, dit is nie ‘n saak wat die ‘nuwe testamentiese wetenskap’ kan ontdek nie, dit moet aan hul geopenbaar word, die sluier moet deur Christus weggeneem word, ook die ongeloofs-sluier wat vanaf die 19de eeu met die kritiese bybelwetenskap oor baie professore se oë getrek is, veral deur die toedoen en werke van o.a. F. Deist en Jurie Le Roux.  

Sien prof. Victor d’Assonville se artikel in hierdie verband:

“Want tot vandag toe …”: preke uit die OT sonder Christus (2 Kor.3:14-18)

Soos Ferdie medemenslik vir prof. van Aarde sterkte toewens met sy mediese ongesteldheid, bid ek dat hy tot die ware geloof mag kom, as die Here wil. Mag teologiese fakulteite weer gelowige teologiese wetenskaplikes aanstel en ware godsvresende ingeligte teologiese wetenskap begin beoefen, wat ‘bekwame manne wat God vrees” (Ex.18:21) oplewer wat in prediking en in die akademie die evangelie van Christus en sy gemeentes in liefde en waarheid mag bedien (Ef.4:15). Maranata.

Jesus sê vir haar: Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe;  en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie. Glo jy dit?   (Joh.11:25,26)

 


[1]Die Evangelie van Johannes. 1998, c1980. Bibliografie.; Uitgegee in Opdrag van die Algemene Kommissie vir Bybelverklaring en Bybelvertaling van die Ned. Geref. Kerk. (electronic ed.). Skrifuitleg vir Bybelstudent en gemeente; Logos Library System (Jn 8:41). Kaapstad: NG Kerk Uitgewers.

3 thoughts on “Boekbespreking: Opgestaan – deel 4 (Verdagte teoloë)

Add yours

  1. Dit is onrusbarend om te lees hoe ver ons teologiese dosente al weggedwaal het van die ware Evangelie. Is diesulkes nog in staat om toekomstige “predikers” van die evangelie van Jesus Christus op te lei,ek glo van nee.
    Wat doen ons om die hart van die belydenis dat Jesus Christus die Here is terug te bring in ons teologiese opleiding. Moet ons aanvaar dat die kerk telkens maar tevrede gaan wees met belydenisse van dosente wat leeg en niksseggend is en wat nie ooreenstem met dit wat hulle leer en in hulle geskrifte verkondig nie?
    God behoed Sy Kerk !

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: