Boekbespreking: Opgestaan – deel 5 (Akkreditasie)

Vanoggend in die Beeld (2011-08-09) het daar in die briewekolom ‘n brief verskyn wat relevant is vir die boekbespreking waarmee ek tans besig is, veral dit wat ek begin bespreek het in deel 4.

Die brief onder die opskrif, Predikante en teoloë verskillende dinge, lui soos volg:[1]

“Die debat oor die dosente van die Hervormde Kerk wat ’n dokument onderteken het om hul onderskrywing van die Christelike dogma te bevestig, het betrekking. Daar is mense wat oordeel dat ’n universiteit nie, of nie meer nie, die aangewese tuiste vir die opleiding van predikante is, maar die tuiste vir teologiese studie. En daar is ’n verskil tussen die twee. Daar is toenemend Afrikaanse kerke en teoloë wat reken dat ’n seminarie eerder die geskikte model is vir die opleiding van predikante. 

Daar is ’n groot verskil van hoe die begrip waarheid by die twee entiteite gehanteer word. By ’n universiteit word waarheid nagestreef wat nie deur dogma, leerstellings en sinodale besluite voorgeskryf word nie. By ’n seminarie word geglo die waarheid soos vervat in dogma is reeds gevind. Kortom: ’n Seminarie word deur dogma gerig en ’n teologiese fakulteit deur wetenskap. Daarom is dit nie ongewoon nie dat van die vooraanstaande teologiese denkers in Suid-Afrika in hul wetenskaplik-teologiese denke deur dogma aan bande gelê word. As hulle buite die grense van die voorwetenskaplike dogma begin dink en publiseer, word hulle in die bek geruk en deur verhore en kerklike kommissies “tot orde” geroep. Die onlangse geskiedenis van die teologiese debat by Tukkies is ’n sprekende voorbeeld.

Die werklike bydrae tot die teologiese debat kom tans van buite die geledere van die universiteite waar die kerke inspraak in die leerplanne het.”

Wat die skrywer eintlik wil sê, is: sekere teoloë soek ‘n plek waar ons met groot vrymoedigheid en seën van beide kerk en staat, nie deur die Bybel “aan bande gelê word” nie, waar ons met die Bybel kan maak net wat ons wil, waar ons met ons humanistiese en 18de en 19de eeuse verligtingsgeloof die Bybel uit mekaar kan skeur en herinterpreteer in diens van ons 21ste eeuse postmoderne begeertes, staats-agendas en losbandige lewenswyses.   

In ‘n mindere mate, dalk onkundig oor die implikasies daarvan, gee Ferdie Mulder in sy boek, Opgestaan, ongelukkig hierdie valse dualisme gelyk, soos gesien word in die volgende uitsprake:

“Ek het verder ook spesifiek genoem dat daar gewis ’n klomp wonderlike dinge is wat ons juis nou in die postmoderne era in die teologie leer wat nie vroeër moontlik was nie. Die kommer, soos ek dit probeer oordra het, was en is nie oor die kritiese wetenskap as sodanig nie, maar oor gelegitimeerde predikante wat die wetenskap as voertuig gebruik om byvoorbeeld geloof in Jesus se leë graf te bevraagteken.” [43]

“Wat moet gebeur met ’n NG professor wat byvoorbeeld hom of haar nie meer by die basiese grondwaarhede van die Skrif en belydenis van die NG Kerk hou nie? Soos regter Swart opmerk, kan daar ’n gevaarlike situasie ontwikkel indien ’n NG dosent skuldig bevind word aan dwaalleer. Die gebeure rondom professor Gerd Lüdemann van Göttingen wat gestuit is om teologiese opleiding aan studente te gee, is dalk in veel meer as een opsig ’n model-voorbeeld van hoe so ’n komplekse situasie hanteer kan word. In plaas daarvan dat die universiteit hom laat gaan het, het hulle vir hom ’n nuwe leerstoel geskep buite om die Fakulteit Teologie waar hy kon voortgaan om meesters- en doktorale studente te begelei en ook voortgaan met navorsing en so meer. Dit was net dat hy nie meer vir die Lutherse studente opleiding kon gee as ’n amptelike dosent van die Fakulteit Teologie nie. Indien ’n NG dosent byvoorbeeld skuldig bevind sou word aan dwaalleer, sou Tukkies ’n soortgelyke plan kon ontwerp. Sommige NG dosente by Tukkies het, as ek reg onthou, tot 80% nagraadse studente van reg oor die wêreld. Om klagtes te lê teen NG dosente is daarom hoegenaamd nie gelyk daaraan om hulle nie ook ’n plek in die universiteit te gun nie. Persoonlik sou dit vir my hoegenaamd geen probleem gewees het om by ál die kontroversiële dosente van Tukkies (professore Müller, Le Roux en Human inkluis!) klas te kry in ’n opset soos by Unisa nie. Dáár is totale leervryheid en almal weet dit. Jy wéét dus waarvoor jy jou inlaat. Die probleem kom in as kerke ooreenkomste met universiteite aangaan waarin spesifiek aangetoon word dat die kerk se dosente getrou moet bly aan die belydenisgrondslag van die kerk. Hierdie situasie kan natuurlik wonderlik werk wanneer die dosente inderdaad binne die riglyne bly (en daar is gewis mooi voorbeelde hiervan!), maar wanneer dit nie realiseer nie, skep dit nie net vir jong studente probleme nie, maar tref dit ook die kerk en die getuienis in die wêreld sleg.” [128,129].

“Hierdie opmerkings bring my dan by ’n volgende punt: Moet daar ruimte wees vir die interpretasies en aksente wat professor Müller die afgelope klompie jare verkondig het? In die akademiese gesprek ongetwyfeld! Ek kan my voorstel dat professor Müller in ’n konteks soos Unisa sal kan voortbou op sy navorsing en prestasies behaal by Tukkies sedert hy in 1990 daar dosent geword het. Ek gun professor Müller ’n vrugbare en voorspoedige toekoms in die akademie! Maar as gelegitimeerde NG predikant wat kerklike studente oplei? Daaroor kan ek nie meer iets sê nie; ek het in 2007 uit die NG Kerk bedank. Die vraag is ook in ’n sekere sin irrelevant want professor Müller tree binnekort af na meer as twintig jaar se dosering aan honderde studente.” [195]

Ja, ons stem volkome saam dat alle teoloë hul wetenskap moet beoefen binne die raamwerk van die gereformeerde belydenisgrondslag van hul onderskeie teologiese skole en fakulteite.  Maar, mag ons dit verwelkom, ja, selfs aanmoedig dat die ‘kritiese wetenskap’ wat Christus se opstanding en alles wat daarmee saamgaan met groot vrymoedigheid by nie-kerklike instellings soos Unisa verloën, en daardie dwalende Skrifverwerpende teologie leer vir ons samelewing ?  Wat van 2 Kor.10:4-6 vir die ganse lewe, dat elke gedagte gehoorsaam moet wees aan Christus ?  Wat van Jesus se waarskuwing in Matt.12:36 teen elke ydele woord, wat seker ook geld vir elke ydele ‘teologiese’ of ‘wetenskaplike’ woord wat Hom en Sy Woord verdraai en verloën ?  Of geld waarheid slegs in die kerk en op sekere plekke ?  As dit so was dat daar ‘n plek is waar ons ‘wetenskaplik en akademies neutraal’ kon staan, dan sou Paulus nie gedoen het wat hy in Hand.17 gedoen het nie (v.16,17):

En terwyl Paulus in Athéne vir hulle wag, het sy gees in hom opstandig geword toe hy sien dat die stad vol afgodsbeelde was.  Hy het toe in die sinagoge met die Jode gespreek en met die godsdienstige mense, en elke dag op die mark met die wat hom teëkom.”

Om onder die dekmantel van “akademie en wetenskap” maar te mag dwaal, maar net nie in die kerk of kerke se teologiese fakulteite nie, is soos om te sê dit is verkeerd dat aborsies plaasvind by privaat hospitale wat ons befonds, maar dit is reg of aanvaarbaar dat dit by staatshospitale plaasvind omdat die staat dit befonds ?

Die kritiese wetenskaplikes, hulle wat die gesag van die Woord ondergrawe, wat Christus se Godheid ontken, sy sterwe vir ons, sy opstanding en hemelvaart, het voor God geen reg om sy Woord so te verkrag en te vertrap in diens van sogenaamde ‘akademie’ nie.  Die Skrifkritikus met sy skêr, moet net so min aanmoediging en goedkeuring van ons as gelowiges se kant verwag, as wat ons het vir die aborsie-moordenaar met sy (bloederige) knyptang.  Ons moet bid vir hul bekering, hul nie lof toeswaai vir hul ‘kritiese wetenskaplike’ prestasies nie, waarmee hul die ware geloof, die fondament van ons samelewing ondergrawe en die God van die hemel uitdaag nie ?

Om dit vir u nog duideliker te stel, volgens die Skrifte, wie was die grootste gevaar vir die kerk in Christus se tyd ?   Die politici (Herodes, Pilatus, ens.) of die Skrifkritiese teoloë (Sadduseërs/Fariseërs wat Christus se Godheid, maagdelike geboorte, kruisdood, opstanding en hemelvaart ontken het) wat Christus verloën en vermoor het ?

Wie is ons grootste gevaar: Malema wat ons grond wil vat, ons aardse besittings, of die Nuwe Hervormers en ander teoloë wat besig is om in die naam van ‘akademie’ en ‘kritiese wetenskap by Unisa’ ons geloof en die kerk wat daarop staan probeer vernietig ?

En hierdie valse dualisme (ek mag nie dwalinge aan teologiese studente van my kerk verkondig nie, maar wel aan mense in die wêreld by Unisa), kom deels van ons soeke na die goedkeuring deur die wêreldse instansies, die goedkeuring van die staat en akademie regoor die wêreld om vir ons te sê ‘julle is net so slim soos ons’.  Die kerk, selfs goeie gelowiges wat opreg is, soek die goedkeuring en beskerming van die wêreld, ook sodat die nodige fondse daar sal wees. 

Om op God alleen te vertrou, vir beide pastoraat én hoë Godverheerlikende akademiese standaarde is nie meer vir ons genoeg nie, alleen as die humanistiese staat sy stempel van goedkeuring plaas op ons skole en teologiese skole/fakulteite (via die staat se universiteite), dan meen ons ons voldoen aan die vereistes van ‘teologiese wetenskap en hoë standaarde.’

Hierdie problematiek sien ‘n mens reeds in die begin van Opgestaan, waar Ferdie ‘n paar sleutelgebeure beskryf het vir sy verhaal:

“Die eerste gebeurtenis het by die Fakulteit Teologie in Pretoria plaasgevind. In die jaar 2000 het die Hervormde Kerk (Afdeling A) en die NG Kerk (Afdeling B) se teologiese fakulteite saamgesmelt om ’n “nuwe verenigende fakulteit” by Tukkies te vorm waarvan professor Cas Vos die nuwe en eerste dekaan sou wees (Beeld, 20 Augustus 1999). Alhoewel daar goeie redes vir hierdie eenwording was wat tereg positiewe voordele sou inhou, was daar tog ook ’n aantal gerugte wat die rondte gedoen het oor waarom die eenwording klaarblyklik gedwonge moes plaasvind. Eerstens natuurlik dat daar druk vanaf die regering was; tweedens om monetêre oorwegings en derdens dat, indien die eenwording nie sou voortgaan nie, die Fakulteit Teologie sou moes verklein en deel van ’n departement of skool moes word binne die Fakulteit Geesteswetenskappe.” [8]

Dit is daarom geen wonder dat ons kerke en gelowiges so verward is nie, want, ten minste in die praktyk word ons geleer om twee here te dien, om God én Mammon te dien (Matt.6:24), Christus én die regering, Christus én die kritiese wetenskap, en daarom moet die teologie aangepas word, die belydenis aangepas word, die kerke aangepas word, die teologiese fakulteite aangepas word om die staat, die regering wat die fondse via die universiteit voorsien, te paai en goed te praat.  

Die ‘social gospel’ van die bevrydingsteologie soos vervat in die menseregte bedeling, moet gedien word deur die teologiese fakulteite, al beteken dit dat die kernwaarhede van die Christelike geloof opgeoffer moet word vir die ‘hier en die nou’ messiaanse utopia-idee op aarde, waar die mense deur hul nuwe god, die staat, en die liberale kerk die ‘koninkryk van God’ gaan inbring deur ‘sosiale opheffingswerk’ [hopelik in deel 6 meer hier oor, hoe die kritiese teoloë teologiese studente probeer skuldmanipuleer om meer ‘maatskaplike werk’ te doen in plaas van oor geloofsleerstukke te bekommer.] 

So die huidige geslag hoofstroom teoloë en teologiese fakulteite is niks beter af as die ‘apartheidsbedeling’ wat hul so eie- en self regverdigend geniet om te kritiseer nie, ja, hul staan geensins op hoër morele grond as ons voorvaders nie, hulle ry ook lekker saam op die nuwe SA soustrein, hulle as die nuwe geslag teoloë drink hulself lekker vet aan die nuwe regime se spene (eintlik die belastingbetalers en kerkbydraers se geld) en is daarom gewoonlik doodstil of baie versigtig om enige kritiek (profetiese getuienis) te laat hoor teen die nuwe regime se opstand teen God en sy gebod.  Ja, alles van apartheid is en was sogenaamd uit die bose, maar om Jesus se liggaamlike opstanding te ontken is, wel ja,  … dit is net nog ‘n ‘onskuldige wetenskaplike akademiese opinie’ wat ook ‘n regmatige staanplek en gehoor mag hê in ons demokratiese nuwe SA kerke en samelewing, in ons akademiese raadsale.  Ja, meen die sulkes, God eerbiedig dit (Hy is mos ook onderhewig aan die menseregte grondwet?) en sal ons kerke en land seën vir al die opstand, ongeloof en verdraaiing van sy Woord …. contra Jes.5:20-24; 8:20.

Sien die volgende artikel wat daarop wys dat die doel van teologiese skole is om verantwoordelik te wees aan die gemeentes, en nie onafhanklik moet wees of dienaars van die staat moet wees nie:

Our Church Governed Seminary

Ek sluit hierdie deel af met verwysing na ‘n artikel van dr. RJ Rushdoony oor Standaarde en Akkreditasie, lees asb die artikel deeglik en laat ons opnuut besin oor die volgende vrae, veral in die lig van Luk.9:25 en 2 Tim.2:15:

Wie se goedkeuring soek ek in die lewe ?

Wie se goedkeuring soek ek in my teologiese besinning en studies ?

Wie se goedkeuring soek ons as gelowiges en gemeentes ?

Wie se goedkeuring soek ons teologiese skole en fakulteite ?

En as jy die antwoord daarop gee, sal jy weet wie jou god/God in die lewe is

Rushdoony se artikel is spesifiek gemik op die skoolsituasie, maar geld net so ook vir die soeke na standaarde en akkreditasie wat teologiese opleiding betref.

So paar aanhalings uit Rushdoony se artikel:

“Akkreditasie is ‘n geloofshandeling. Ons wys ons geloof in iemand, as ons hulle nader vir akkreditasie, d.w.s. goedkeuring.”

“Keer op keer het ons gesien dat seminariums gestig is met doel om die kerk te reformeer. Die nuwe seminaar wil die ware woord verkondig, word gesê, maar een van sy eerste stappe is om akkreditasie te soek. Baie vinnig begin die nuwe seminarium te lyk soos die ou een, en in al sy weë soek dit weer die goedkeuring van die humanistiese geleerdheid [scholarship], wat hul voorheen verlaat het. Die gevolg is dat die nuwe hervormings al hoe meer na die ou sonde begin lyk. Dit is ook waar in die geval van Christelike skole.”

“Akkreditasie is die humanistiese vorm van die besnydenis en doop. Dit roep die getroue humaniste op om die tekens van hul geloof te wys en daarvan te getuig. Akkreditasie rade eis eenvoudig van die getroues om op te staan en getel te word in terme van hul geloof in humanisme en hul instellings.”


[1] Alle beklemtonings in die bespreking is bygevoeg.

3 thoughts on “Boekbespreking: Opgestaan – deel 5 (Akkreditasie)

Add yours

  1. Weereens skitterend saamgevat, Slabbert en uiters relevante sake uitgelig. “Willem” se Beeld brief het my dadelik getref en ek het dit vroeg al aan heelpartymense mense uitgestuur vir kommentaar.

    Ek vind op die oomblik veral aanklank by hierdie paragraaf van jou weens gesprekke in ons eie kerk:

    “Die ‘social gospel’ van die bevrydingsteologie soos vervat in die menseregte bedeling, moet gedien word deur die teologiese fakulteite, al beteken dit dat die kernwaarhede van die Christelike geloof opgeoffer moet word vir die ‘hier en die nou’ messiaanse utopia-idee op aarde, waar die mense deur hul nuwe god, die staat, en die liberale kerk die ‘koninkryk van God’ gaan inbring deur ‘sosiale opheffingswerk’ ”

    Lees hier in ons NG Kerk se laaste Kerkbode: http://www.kerkbode.co.za/Gesprekke.asp

  2. Henrietta, ek het so bietjie gaan lees daar by die Kerkbode aanlyn oor ‘diversiteit’, en dit het my aan die dink laat sit: hoe ironies is dit nie, as ‘n mens so oor die algemeen kyk na die ‘polities korrekte’ nuwe SA en nuwe SA kerk-idee waarin laasgenoemde eersgenoemde slaafs moet navolg en goedpraat, dan is dit nog ironies in die volgende skreiende teenstelling:

    – die ‘natuurlike diversiteit’ wat Godgegewe, neutraal en onskadelik is, soos bv. om man en vrou te wees, om Afrikaner of Zoeloe te wees, ens. staan onder druk en word beskou as ‘onbelangrik’ en is nie nodig om gehandhaaf te word in gesins- en kerklike verhoudinge nie, maar
    – ‘diversiteit’ wat sondig en verkeerd is, soos ‘elkeen kan maar anders glo soos hy wil oor bv. Jesus se opstanding, oor God, oor sy wet, waarheid, die huwelik, elke geloof is die waarheid, ens.’ word vriendelik geakkomodeer en aangemoedig.

    Dus, wees verdraagsaam oor sake wat die ‘genade’ aantas, maar wees onverdraagsaam oor sake van die ‘natuur’. Ten einde is dit opstand en verwerping van albei sake wat uit God se hand kom: natuur (skepping en voorsienigheid) én genade (herskepping en heiligmaking).

    Ds. Cloete skryf daar: “Ek is bevoorreg om by ’n kleingroep betrokke te wees wat as Grey Matters bekend staan en wat ’n losse band met ’n NG Kerk-gemeente het. Die naam sinspeel op twee betekenisse, naamlik dat ons grysstof (ons brein en intellek) saakmaak in ons verhouding met God, en verder, dat grys areas ’n bestaansreg het in ons nadenke oor God en alles dus nie te perfek en tydloos geformuleer kan word nie.”

    Ja, ons denke moet ook in diens van God staan, maar om agter Hom aan te dink (2 Kor.10:4-6), nie los of teen sy Woord nie, en ja, daar kan areas wees wat minder duidelik is in hierdie lewe, maar oor die een ware geloof en weg tot redding is dit duidelik die Bybel leer dat dit duidelik is vir alle mense dat daar net een weg, waarheid en lewe is.

    Tweedens, moet ons weet ‘grys areas’ is nie ‘n neutrale area nie maar net nog ‘n area wat bepaal word deur ds. Cloete se eie ‘dogmatiese diversiteitsbeskouing’. Hy vervang een dogma met ‘n ander dogma, ongeag hoe postmodernisties jy dink, jy dink dogmaties.

    Derdens, as volgens hom ‘alles dus nie perfek en tydloos geformuleer kan word nie’, geld dit ook vir sy eie diversitietsdogma en sy sin “alles kan dus nie perfek en tydloos geformuleer word nie’ en is sy pleitdooi vir diversiteit onbereikbaar en betekenisloos. Wil hy verder beweer bv. dat Joh.14:6 nie tydloos en perfek is nie ? Ja, ons mense en die kerk is gebroke, onvolmaak en nie perfek nie, maar die evangelie behels juis dat God in Christus deur sy Gees en Woord die ‘epistemologiese val’ van die sondeval oorbrug het, sodat ons Hom nou waarlik kan ken en die waarheid kan ken vir dit wat Hy geopenbaar het (Joh.1:18; 17:3; 1 Joh.5:20)

    Ons sit met ‘n epistemologiese (hoe om te ken) krisis vandag: nie net of God bestaan nie (die aanslag van die evolusionisme) maar ook of ons God waarlik kan ken (skeptici; agnostici).

    Sien hierdie artikel: http://www.trinityfoundation.org/journal.php?id=1

    So ja, bybelse diversiteit is wonderlik: verskillende geslagsrolle, man en vrou, volwassenes en kinders, verskillende volke, verskillende tale wat almal eensgesind in die Een Waarheid: die Bybel, deur die enigste Verlosser en Koning, Jesus Christus, die Seun van God, deur die Gees Hom ewig loof en prys. Mag daar eendag ‘n ware ‘nuwe’ SA wees wat Hom in al hul natuurlike diversiteit in ‘Gees en Waarheid’ (Joh.4:24) aanbid.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: