Preek: Romeine 1:16-32

Die afgelope rusdag het ek oor hierdie gedeelte gepreek, met ‘n besondere fokus op v.26,27 en die huidige debat oor homoseksualisme.  Ek het in die toepassings ook verwys na die onderliggende hermeneutiese vertrekpunt van beide homoseksuele apologete en VIDA apologete, nl. “geslag maak nie saak nie, of is nie bepalend vir ons onderskeie roeping en take nie”. In die geval van homoseksuele apologete: “geslag maak nie saak in seksuele verhoudings nie”, en by VIDA apologete: “geslag maak nie saak wie in die besondere dienste van diaken, ouderling en predikant dien nie”.

Maar vir Jesus Christus en Paulus maak dit saak, wesentlik saak in ons gehoorsaamheid en aanbidding van Hom, sien Matt.19:4-6 en 1 Tim.2:11-15.

Hier is die preek beskikbaar om afgelaai te word:

Pslc-Rom.1.26-32 (regs klik en dan ‘save target as’)

[Nota: in die preek verwys ek een keer na die GKSA se sinode in Januarie 2011, dit moet natuurlik Januarie 2012 wees.]

Uiteraard kan daar in een preek nie alles gesê word nie, daarom wil ek graag by spesifiek die verklaring van v.26,27 net die volgende byvoeg of verder verduidelik, maar eers die verse:

  26 Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte, want hulle vroue het die natuurlike verkeer verander in dié wat teen die natuur is;  27 en net so het ook die manne die natuurlike verkeer met die vrou laat vaar en in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand: manne het met manne skandelikheid bedrywe en in hulleself die noodwendige vergelding van hulle dwaling ontvang.

Die Griekse woorde wat Paulus hier gebruik  vir ‘vrou’ en ‘man’ is onderskeidelik thēlus en arsēn, en nie die meer gebruiklike gunē en anēr nie. Moo (1996) en Malick (1993) wys daarop dat die gebruik van eersgenoemde antonieme woorde in kombinasie (thēlus en arsēn):

1. die seksuele onderskeid tussen die geslagte beklemtoon (en daarom moet vers 26 en 27 verstaan word as ‘want die vroulike geslag … die manlike geslag’),

2. dit terug verwys na God se skeppingsordening in Gen.1:26,27 (“man en vrou het Hy hulle geskape”),

3. die Hebreeuse woorde vir man (zākār) en vrou (neqebah) in Gen.1:27 deur die Griekse OT, die Septuaginta, ook vertaal word as thēlus (vrou) en arsēn (man), en, dat

4. Jesus Christus in Matt.19:4 – waar Hy wys op die onverbreekbaarheid van die huwelik, teenoor die Fariseërs se losbandige siening van die huwelik en gevolglike egskeiding (bloot net ‘vaste verhoudings’ vir ‘n sekere tyd?) – Gen.1:27 aanhaal (“En Hy antwoord hulle en sê: Het julle nie gelees dat Hy wat hulle gemaak het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie“), en dus wys op God se skeppingsordelike plek vir die seksuele gemeenskap tussen ‘n man en ‘n vrou, wat lei tot die konklusie dat

5. homoseksuele verhoudings buite God se skeppingsordelike wil vir die huwelik tussen een man en vrou val.

By hierdie stellings voeg ek nog ‘n paar opmerkings:

Die swakste argument wat ek nog gehoor het van die homoseksuele apologete is die volgende:

“Die Bybel het nie ‘n vaste seksuele verhouding tussen twee persone van dieselfde geslag geken nie, en daarom word dit nie veroordeel deur bv. Gen.19, Lev.18:22; 20:13; Rom.1:26,27; 1 Tim.1:10,11 ens. nie.”

Die probleem met hierdie argument is, is dat jy later enige seksuele verhouding kan regverdig wat ‘n mens in sy sondige boosheid kan uitdink “wat nie in die Bybel genoem word nie” … selfs ‘n ‘vaste verhouding’ tussen ‘n mens en ‘n dier !

Moenie dink ek ruk dinge nou uit verband nie (die homoseksuele apologete doen dit in elk geval reeds met hul omgang met die Skrif), want sodra jy die skeppingsordening van God verlaat, sodra jy die oorsprong en doel van alle dinge verlaat (hetsy ‘n openlike ateïstiese verwerping van God en Gen.1-3, of ‘n verdraaiing daarvan om die skeppingsgeskiedenis bloot ‘n sage of mite te maak),  dan kan later enige soort verhouding (en ‘doel’ van die mens na sy eie behoeftes) regverdig word.

[Nota: die ‘mens-dier vaste verhouding’ skep ‘n etiese dilemma vir homoseksuele apologete, aangesien hul hulle nou nie kan beroep op Lev.18:23 nie … want Lev.18:22 geld mos nie meer vandag nie … ?  Vir die gelowige geld beide verse wel, ook gelees in die konteks van die res van die Skrif]

Wat is dan die verskil tussen bogenoemde redenasie van die homo apologeet en die volgende redenasie:

“Nêrens verbied die Bybel ‘spesifiek’ ‘n wedersydse liefdevolle seksuele ‘vaste’ verhouding tussen ‘n man en ‘n seun nie, daarom is dit wel toelaatbaar vandag …”

Moenie dwaal nie (1 Kor.6:10a), hoe meer ons Gen.1-3, die skeppingsordening van God verlaat,

– in die woorde van Paulus in Rom.1:18-32, ons die ‘… waarheid in ongeregtigheid onderdruk … God nie meer verheerlik of dank nie … die waarheid van God verruil vir die leuen en die skepsel vereer en dien”,

– hoe meer ons “man en vrou het Hy hul geskape’ (Gen.1:27) loslaat,

– hoe meer ons “Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees.” (Gen.2:24) verlaat,

dus, hoe meer ons God se skeppingsordening van die huwelik tussen man en vrou lewenslank (Matt.19:4-6) verlaat deur wesentlike dwalings soos “geslagtelikheid maak nie saak in God se koninkryk nie“,

hoe meer sal die Here ons oorgee aan ons eiewillige dwalinge en die sondige begeerlikhede van ons harte, om ons ‘liggame onder mekaar te onteer’, hoe meer sal Hy die mens oorgee aan hul ‘skandelike hartstogte’ (Rom.1:24-31) … om soos diere te word van die veld, die ewolusionistiese kring sal voltooi word: sonder God en sy gebod (Ps.2), met die hel as eindbestemming.

As ons dus die vraag vra na watter verhoudings verbied die Here, moet ons begin met die belangriker vraag:

Wat gebied die Here in sy Woord deur sy Gees, binne watter verhoudings mag daar seksuele gemeenskap plaasvind, en daarmee is al die ander vindingryke ‘seksuele verhoudings’ wat die mens uitding uitgesluit.

Met die skeppingsordening (Gen.1 en 2) word die antwoord gegee:

1. dit moet tussen ‘n man en vrou wees (1:26,27; 2:22-24)

2. nie tussen kinders nie (want die man moet sy ouers kan verlaat om kinders te kry en vir sy vrou te sorg, Gen.2:22-24; 1 Tim.5:8)

3.  ‘n lewenslange verhouding (en nie net ‘n ‘vaste verhouding’ vir ‘n sekere tyd nie), soos Jesus dit ook bevestig in Matt.19, “4 En Hy antwoord hulle en sê: Het julle nie gelees dat Hy wat hulle gemaak het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie,  5 en gesê het: Om hierdie rede sal die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees wees;  6 sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees? Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie.”

4. en die huwelik in diens van sy skeppingsopdragte (Gen.1:28-30; 2:15), tot eer van Sy Naam.

In God se wet (Ex.20:14 in die algemeen, maar dan ook meer in detail in Lev.18) word die huwelik beskerm, ook deur die strafreg (Lev.20).

In die NT word die heiligheid van die huwelik bevestig (Matt.5:27-32; Ef.5:21-32; 1 Thess.4:1-8; Hebr.13:4), en, baie belangrik, wys Jesus daarop dat ons die huwelik en ons seksuele verhoudings moet sien en nastrewe soos dit oorspronklik bedoel was volgens God se skeppingsordening, Matt.19:4-6, en nié volgens ons eie sondige gebroke verdraaiings van die huwelik deur die eeue of wat ons dink ‘prakties moontlik’ is nie.  DUS, ons model en norm is nie die verlede of huidige onbybelse ‘verhoudingsmodelle’ via die wêreld of sosio-historiese en sielkundige handboeke nie, maar God se skeppingsordening van Gen.1 en 2, soos later gehandhaaf en bevestig deur die res van die Skrif.

Dit is veral by laasgenoemde (die willekeurige verbreking van die huweliksverbond, contra Mal.2:14-16), soos ek in my vorige skrywes reeds genoem het, waar ons ‘heteroseksueles’ reeds begin afwyk het van God se skeppingsorde en die wil vir die huwelik (en die homoseksuele geslag die verdere gevolg is), naamlik die groeiende verdraagsaamheid en selfs goedkeuring (sien Rom.1:32) van seksuele sondes soos:

– egbreek (en die gevolglike egskeiding)

– hoerery

– onreinheid

– ontrou

– wellus

– slegte begeertes

– tweedrag en partyskappe in ons huwelike

– liefdeloosheid binne die huwelik

– ens (sien Rom.1:28-31; 1 Kor.6:10; Gal.5:19,20; Kol.3:5)

alles dinge wat, soos homoseksualisme, volgens Kol.3:5-7, ‘afgodediens is, waardeur die toorn van God oor die kinders van ongehoorsaamheid kom, waarin julle ook vroeër gewandel het toe julle daarin geleef het’, wat Paulus reeds ook beskryf het in Rom.1:18-32.

So, enige seksuele beoefening buite die plek wat God daarvoor bepaal het, nl. die huwelik tussen een man en vrou, is afgodediens in God se oë waaroor sy toorn uitgestort word.

(Lees ook HK Sondag 41 aangaande die sewende gebod)

Wat is die antwoord ?

Dit het ek reeds al beskryf in vorige skrywes in hierdie verband, met veral die klem op Rom.1:16 (luister na die preek se slotgedeelte) en 1 Kor.6:11 wat volg op 6:9,10, nl. die Evangelie van ons Here Jesus Christus wat ons red en bevry van ons sondes, sodat ons daarteen kan stry ons lewe lank tot sy eer.

Ook Kol.3 gaan verder, nadat dit in verse 5-7 duidelik die verskillende sondes veroordeel het, en sê, wat ons biddend moet lees en oordink vir ons eie lewens (sien die oorgang van persoonlike bekering en reformasie, na gesinsreformasie na samelewingsreformasie):

  8 Maar nou moet julle ook dit alles aflê, naamlik toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal uit julle mond.

9 Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het

10 en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper,

11 waar daar nie Griek en Jood, besnedene en onbesnedene, barbaar, Skith, slaaf, vryman is nie, maar Christus is alles en in almal.

12 Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid.

13 Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ‘n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen.

14 En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is.

15 En laat die vrede van God, waartoe julle ook in een liggaam geroep is, in julle harte heers, en wees dankbaar.

16 Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here.

17 En wat julle ook al doen in woord of in daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.

18 Vroue, wees julle mans onderdanig soos dit betaamlik is in die Here.

19 Manne, julle moet jul vroue liefhê en nie teen hulle verbitter word nie.

20 Kinders, julle moet jul ouers in alles gehoorsaam wees, want dit is die Here welbehaaglik.  21 Vaders, moenie julle kinders terg nie, sodat hulle nie moedeloos word nie.

  22 Diensknegte, julle moet jul here na die vlees in alles gehoorsaam wees, nie met oëdiens soos mensebehaers nie, maar in eenvoudigheid van hart, omdat julle God vrees.

23 En wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie,

24 omdat julle weet dat julle van die Here die erfenis as vergelding sal ontvang, want julle dien die Here Christus.

25 Maar wie onreg doen, sal die onreg wat hy gedoen het, terug ontvang; en daar is geen aanneming van die persoon nie.

Betoon reg en billikheid, here, aan julle diensknegte, omdat julle weet dat julle ook ‘n Here in die hemele het.

Bronne

David E. Malick, The Condemnation of Homosexuality in Romans 1:26-27, Bibliotheca Sacra 150: 599 (1993): 327-340.

Douglas J. Moo, The Epistle to the Romans, NICNT (Cambridge, UK: Eerdmans, 1996).

Leave a Reply to ROMEINE 1: VAN DIE VIDA PLAN NA DIE HIDA PLAN | Pro Regno Cancel reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: