Dit is baie belangrik dat GKSA lidmate deeglik kennis neem van teologiese ontwikkelinge wat in die NGK plaasvind. Die GKSA het met sy sinode in 2012 ‘n werksdokument op die tafel gehad met die doel dat daar groter ekumeniese eenheid en samewerking kom tussen hierdie twee kerkverbande (die dokument is afgekeur …. maar verwys na Deputate …. so die volgende sinode in 2015 sal die saak heel waarskynlik weer moet hanteer).
Met die onlangse NG Sinode het ‘n dokument gedien “Die Apostoliese Geloofsbelydenis – ‘n Eietydse Uitleg” wat aanwys in watter rigting die NGK leierskap en teologie drasties beweeg, en dit is nie die bybels reformatoriese weg van die Skrif en belydenisskrifte nie.
Vir ‘n beoordeling van hierdie dokument asook die deformasie wat plaasvind in die NGK, sien die verskillende artikels op die volgende twee blogs:
Ek wil net een saak uitlig, wat selfs baie behoudendes wat in die NGK en GKSA probeer wal gooi blykbaar heeltyd mis of ignoreer as dit by sekere sake kom, en dit is:
Onderliggend aan die VIDA, Gay en geen duiwel agenda is in sy wese een Skrifbeskouing, wat ek noem ‘samelewingsteologie’. Nie die Skrif self nie (sola Scriptura), maar die sosio-historiese omstandighede waarin die Bybel geskryf is plus ons eie samelewingsagenda en omstandighede het die finale sê of iets nog gesaghebbend is vir alle tye of nie.
Soos een skrywer dit gestel het: dit is nie meer sola Scriptura nie maar nou sola Cultura ?
Kyk na hierdie drie voorbeelde wat ek hier onder aanhaal, sien die onderliggende woorde wat deurslaggewend is in elke debat – woorde soos “samelewing”, “samelewingsposisie” “sosiaal-kulturele omstandighede” en “ons postmoderne tyd” is en word dan die sleutel waardeur die Skrif verklaar en toegepas word.
Dieselfde geld natuurlik op die terrein van die debat tussen die skeppingsleer teenoor die evolusieleer. Die Genesis geskiedenis van Gen.1-11, veral hoofstukke 1 tot 3, was deel van ‘n ou antieke wêreldbeskouing en samelewing wat nie meer geld vir vandag se tye nie …. ons weet nou beter … so redeneer die samelewingsteoloë met hul nuwe leuse en sleutel tot die Woord – sola Cultura !
Hier is die 3 voorbeelde:
1. Kommentaar op 1 Tim.2:9-15, of vroue in die besondere ampte kan dien:
“Baie van die beperkende opdragte wat Paulus aan die gelowige vroue gee, moet teen hierdie (sosio-historiese – slc) agtergrond verstaan word. Christene verskil vandag oor wat die implikasie van hierdie opdragte van Paulus is in ’n samelewing waar dit heeltemaal aanvaarbaar is dat vroue dieselfde rolle as mans kan vervul. Paulus sou waarskynlik nie hierdie beperkings op vroue gelê het as die samelewingsposisie van vroue nie destyds so van dié van mans verskil het nie.” – Vosloo, W., & van Rensburg, F. J. (1993). Die Bybel in Praktyk (Nuwe Vertaling) (1 Ti 2:9). Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy. (nota: prof. Fika van Rensburg van die teologiese skool van die GKSA het hierdie kommentaar geskryf)
2. Oor homoseksualisme
“… dat die verwysings na homoseksualiteit in die Bybel, duidelik geplaas is binne spesifieke sosiaal-kulturele omstandighede, waarbinne daar nog níks van liefdevolle, monogame gay-verhoudings soos ons dit vandag ken, gesê word nie.” (Abel Pienaar in die Rapport van 20 Oktober 2013, soos aangehaal deur ds. Cassie Aucamp in sy reaksie op sy skrywe, beskikbaar by ds. Aucamp: anberg@absamail.co.za)
2. Oor die duiwel se bestaan as persoonlike wese
Nelus: “Ek het ook ‘n probleem om Paulus te betrek by ‘n gesprek in ons postmoderne tyd. Ons kyk nie meer op dieselfde manier na waarheid as in sy tyd nie. Waarheid word nou deur die konteks bepaal en ons soek nou na eenheid, ongeag leerverskille (Nelus se boek Nuwe Drome, bl 23). Paulus was baie ingestel op leer en waarheid. Tye het so verander dat ons mekaar nie lekker sal verstaan nie.” (soos verwoord deur ds. Jan Louw in sy uiteensetting van die dwalings in die NG Kerk, veral soos dit tot uiting gekom in die NGK se afgelope Sinode)
So, as jy die afvallige teologie en Skrifbeskouings en dwalinge van ‘n Nelus Niemand, ‘n Ben du Toit en ‘n Abel Pienaar wil stuit, dan moet jy dit stuit waar dit sy kop ‘onskuldig’ begin uitsteek in die VIDA debat, waar die samelewingsteologie en ‘sosio historiese’ kritiek en ‘gemeente teologie’ die sleutel word om die Skrif te verstaan, en nie meer die Skrif self nie.
Ek gaan nie weer hier herhaal wat ek reeds geskryf het oor die regmatige plek van kultuur historiese studies nie, , sien die verwysings hier onder waar u kan lees oor die regte gebruik maak van buite bybelse bronne en kultuurhistoriese studies.
In wese kom dit daarop neer, soos prof. Floor dit gestel het – buite bybelse inligting moet die Skrif belig en bedien, nie daaroor heers en die sleutel word vir die verstaan van die Skrif nie.
In al drie boonste agendas word die sosio-historiese feilbare inligting gebruik om die onfeilbare heilige Skrif te weerspreek, te kritiseer, en ten einde daaroor te heers. Die gevolg is dat ons ongetwyfelde Christelike geloof soos verwoord in ons belydenisskrifte hoe langer hoe meer ondermyn gaan word.
Dit is net genade van God dat gelowiges wat pro-VIDA is nog nie die gay agenda begin bevorder of die geen duiwel agenda nie, maar ongelukkig deel hierdie en baie ander agendas (bv. teistiese evolusie) dieselfde onbybelse ongereformeerde Skrifbeskouing.
Mag die Here weer opnuut deeglike deurgaande reformasie stuur vir al ons kerke, deur sy Woord in Gees, in leer en lewe, so ook in ons Skrifbeskouing, want as die fondamente omgegooi word (die onfeilbare Woord soos ons bely in NGB 2-7) kan die regverdige niks doen nie, Ps.11:3.
Vir meer oor die beoordeling van die sosio-historiese benadering tot die Skrif:
https://proregno.com/category/sosio-historiese-benadering/
https://proregno.com/2012/05/31/gesprek-oor-die-gereformeerde-hermeneutiek-in-die-gksa/
https://proregno.com/2012/08/07/skrifongeloof-in-ons-tyd-bybel-en-wetenskap-hk-stoker-se-getuienis/
https://proregno.com/2012/10/15/die-gesag-van-die-heilige-skrif/
Dankie, Slabbert!!!
Hallo Slabbert
Baie goeie artikel.
Ek moet jou net wys dat die “aanhaling” van Nelus deur Jan Louw ‘n fiksionele gesprek tussen Nelus en Paulus is. As mens dit buite konteks aanhaal is dit dalk nie so duidelik nie. Ek wil net seker maak jou lesers besef dit!
Wynand
Reg so Wynand, daarom dat ek juis die woorde gebruik het ‘soos verwoord deur ds. Jan Louw’ en nie ‘soos aangehaal’ deur ds. Jan Louw nie.
Gelukkig is daar ook nog leraars in die NG Kerk wat opstaan vir die waarheid. Lees gerus die brief van ds. Hector Jooste van Otjiwarongo aan die Kerkbode by http://skattegemynuitgodsewoordintsumeb.blogspot.com/2013/10/koersloos-brief-aan-die-kerkbode.html
Hier is ‘n verdere (drastiese) voorbeeld vd gevolg van vrou-in-die amp..: http://www.charismanews.com/opinion/watchman-on-the-wall/41479-when-female-baptist-pastors-get-married-to-female-catholic-bishops
Hierdie uitleg van prof Ernst van Eck oor homoseksualiteit is ‘n goeie voorbeeld van die hedendaagse verekening van sosiaal-kulturele omstandighede:
https://www.facebook.com/notes/nederduitsch-hervormde-kerk-van-afrika-nhka/prof-ernest-van-eck-bespreek-lev-1822-en-2013/671643689527438
Ek sou sê die probleem met hierdie uitleg is die nie-rekening hou met die progressiewe heilsopenbaring in die Skrif en die aard van die Nuwe Verbond. Inderdaad kan ons nie Levitikus letterlik toepas nie, want ons lees die hele tora nou via Jesus en sy norme, wat groter en heerliker is as die tora.