In die besonder opgedra aan my broers in die geloof, Neels Malan en Gert Kruger:
In die Heidelbergse Kategismus bely ons volgens die Skrif as volg (beklemtonings bygevoeg):
94. Vr. Wat gebied God in die eerste gebod?
Antw. Ek moet, ter wille van my sieleheil,
– alle afgodery, towery, waarsêery, bygeloof, aanroeping van die heiliges of van ander skepsele vermy en daarvan wegvlug, en
– die enige ware God reg leer ken, Hom alleen vertrou,
– in alle ootmoedigheid en lydsaamheid my aan Hom alleen onderwerp,
– van Hom alleen alles wat goed is verwag,
– Hom van ganser harte moet liefhê, vrees en eer,
sodat ek eerder van alle skepsels sal afsien en dié laat vaar as dat ek in die allerminste teen sy wil sal handel.
Ons is almal besorg oor die situasie in ons land, en tog is hierdie belydenis vir ons ‘n belangrike vermaning maar ook troos (sien HK Sondag 1 waar ons werklike Troos lê in liggaam en siel, lewe en sterwe).
Ons onderwerp ons in ‘ootmoedigheid en lydsaamheid’ aan ‘Hom alleen’, Hy wat ook alle owerhede en tye in sy Hand dra, soos ons bely volgens die Skrif in HK Sondag 9 en 10:
Sondag 9
26. Vr. Wat glo jy met hierdie woorde: Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde?
Antw. Dat die ewige Vader van ons Here Jesus Christus wat hemel en aarde, met alles wat daarin is, uit niks geskape het, wat ook deur sy ewige raad en voorsienigheid dit nog onderhou en regeer ter wille van sy Seun Christus my God en my Vader is; op wie ek so vertrou dat ek nie twyfel nieof Hy sal my met alles wat nodig is vir liggaam en siel versorg en ook al die kwaad wat Hy oor my in hierdie jammerdal beskik, my ten beste bestuur, omdat Hy dit kan doen as ‘n almagtige God en ook wil doen as ‘n getroue Vader.
Sondag 10
27. Vr. Wat verstaan jy onder die voorsienigheid van God?
Antw. Die almagtige en alomteenwoordige krag van God, waardeur Hy hemel en aarde en al die skepsele as met sy hand nog onderhou en so regeer dat lower en gras, reën en droogte, vrugbare en onvrugbare jare, spys en drank, gesondheid en krankheid, rykdom en armoede en alle dinge nie by toeval nie, maar uit sy vaderlike hand ons toekom.
Ons moet nie vergeet nie, dat in watter bedeling ons ookal leef, dat ons ‘van Hom alleen alles wat is moet verwag’, ook wat ons toekoms betref. Ons lewe deur die geloof, deur en volgens sy Woord en Gees en nie wat pragmaties ´haalbaar of nie haalbaar is nie.´ En, dit is geen ‘droomwêreld’ idee nie, geen ‘blinde geloof wat nie met die sogenaamde ‘politieke werklikheid tred hou nie’, dit is die ware geloof wat konkreet elke dag beleef moet word, sien die getuienis van Hebr.11, ons wandel waarlik ‘deur die geloof’ en nie aanskouing nie.
Die groot werklikheid wat ons lewe bepaal en moet bepaal – is nie die ANC of DA of watter party ookal se korrupsie, wanorde en chaos nie – die groot werklikheid is dat ons ‘Hom van ganser harte moet liefhê, vrees en eer’, en dit in ons dade wys, ook ons politieke dade dat ons Hom werklik vertrou vir alles in ons lewe:
“…. sodat ek eerder van alle skepsels sal afsien en dié laat vaar as dat ek in die allerminste teen sy wil sal handel”
So orals waar ek teen sy gebod ingaan ter wille van die ´praktyk´, waar ek sy Woord opsy skuif, is ek besig om teen sy wil te handel, en vertrou Hom nie.
Nou moet elkeen homself deeglik ondersoek en afvra, as ek partye/aksies/bewegings ondersteun of voor stem wat uitdruklik teen God se Woord, in die besonder teen sy wet ingaan, die goeie bande van sy goeie wet stukkend ruk in hul beleidsdokumente (so die saak is duidelik, nie onduidelik nie, of ‘n dilemma nie), is ek dan nie besig om moedswillig ‘teen sy wil (te) handel’ nie ?
Wandel ek dan nog waarlik deur die geloof en nie deur aanskouing nie ?
Bepaal sola Scriptura (die Skrif alleen) of sola Practica (die Praktyk alleen) my lewe en keuses ?
Wys my optrede, ‘my praktiese stem’ vir die party wat die ‘ANC die seerste kan maak’ (maar wat die liefde tot God en ons naaste nie eerbiedig nie, bv. toelaat dat die Here se Naam gelaster word, aborsie-moord goedkeur, doodstraf verwerp, gay huwelike goedpraat, ens.), dalk nie dat ek verval het in politieke afgodery nie …. ongeag my mooi belydenis ?
Ja, dat ek wel met die mond bely dat ek my aan ‘Hom alleen onderwerp’, van Hom ‘alleen alles wat goed is moet verwag’, ek afsien van alle skepsels ….. maar met my dade, ‘my stem’ wys ek dat ek:
– tog maar op prinse vertrou (Ps.146:3),
– tog maar vertrou op die ‘’krag van die perd … (en) die bene van ‘n man” (die sogenaamde ‘sterktste party?’ teen die ‘bose ANC’, Ps.147:10), en
– daarom eintlik moedswillig en eiewillig ‘teen sy wil’ soos geopenbaar in sy Woord optree ?
Is die sogenaamde groot ‘praktiese politieke werklikheid’ groter as die Almagtige God en hemelse Vader waarvan ons lees in Psalm 2, dat Hy lag en spot met elkeen – ook die ‘magtige’ politieke leiers en politieke partye – wat sy Seun verwerp en sy goeie gebooie verag ?
Die Spreukeboek wil ons wysmaak:
“Die wat die wet verlaat prys die goddelose, maar die wat die wet onderhou, word vererg oor hulle.” – Spr.28:4
“Wie sy oor wegdraai om nie na die wet te luister nie, selfs sy gebed is ‘n gruwel.” – Spr.28:9
Dit is ons almal se gevaar, dat ons bang en bevrees raak vir die tye waarin ons lewe, die magte wat saampak teen die Here en sy Gesalfde, en dan ons ons vertroue op mensemagte begin stel, op politieke verlossers, en nie op Christus alleen nie.
Laat ons eerder bid om, met die oog gevestig op Christus, die regte pad te bewandel, en te stem volgens die Here se Woord, as iemand dan besluit om wel te gaan stem, soos ons ook bely in HK v/a 91:
Wat is goeie werke?
Antw. Net die wat uit ‘n ware geloof (a), volgens die Wet van God (b), alleen tot sy eer gedoen word (c) en nie die wat op ons goeddunke of op insettinge van mense gegrond is nie (d).
Dus, ‘n ‘goeie stem’ is nie net uit ‘n ware geloof en tot sy eer nie, maar om God te behaag moet dit ‘volgens die Wet van God’ wees, en nie ons eie pragmatiese politieke goeddunke of planne nie.
So leer die Skrif ons ook:
Psalm 1:1-2 Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie; 2 maar sy behae is in die wet van die HERE, en hy oordink sy wet dag en nag.
Psalm 2:10-12 10 Wees dan nou verstandig, o konings; laat julle waarsku, o regters van die aarde! 11 Dien die HERE met vrees, en juig met bewing. 12 Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam. Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil!
En as ons dit begin doen, dan het ons die troos van Matt.6:33, dat as ons Christus en sy wet (geregtigheid) soek, ‘al die dinge’ wat ons nodig het, vir die ewige maar ook tydelike lewe, vir ons genadiglik bygevoeg sal word, deur Hom op wie ons alleen vertrou, terwyl ons van “alle skepsels sal afsien en dié laat vaar as dat ek in die allerminste teen sy wil sal handel.”
“Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.”
Sien die volgende dokumente om u daarmee te help:
The 2014 Voters’ Guide is downloadable from www.SAvotersguide.org in English, Afrikaans, Xhosa and Zulu. Contact us for quantities to distribute to your congregation, friends, family, or colleagues.
Biblical Principles for the Elections Biblical Principles Which God Would Bless In Any Country
Listen to the Biblical Principles for the Elections presentation by Dr. Peter Hammond on sermonaudio.com here.
Beste Slabbert,
Ek het jou skrywe beantwoord op die GKSA Forum, waar jy die stuk onder ons aandag gebring het (https://groups.yahoo.com/neo/groups/gksaforum/conversations/messages/7146). Ter wille van die wat nie die Forum volge nie, herhaal ek die anwoord hier:
“Ek stem saam dat ’n teokrasie waar almal Calviniste en die Bybel as riglyn (met die 3 formuliere van Eenheid), sou die beste/ideale stelsel wees. Dit is waarskynlik (menslik geproke) nooit weer haalbaar in ’n multikulturele land nie.
Daarom stem ek saam met Neels (vanuit die Bybelse beginsel dat jy aan jou naaste moet gun wat jy aan jou self gun) dat ’n liberale demokrasie waar die Godsdiensvryheid in die grondwet gewaarborg is, die beste oplossing is vir multi-godsdientige, multi-kulturele lande, soos SA.
So ’n stelsel laat toe dat die kerk (Christene) steeds hulle verantwoordelikheid kan nakom om mense te probeer oortuig wat die regte lewenswaardes is. Dit kan ook gedoen word vir enige ander saak wat belangrik sou wees. Dit laat ons ook toe om heelhartig Slabbert se skrywe aan my en Neels oor die verkiesing (https://groups.yahoo.com/neo/groups/gksaforum/conversations/messages/7126) met ‘n skoon gemoed uit te leef.
So ’n stelsel gee nie bevel dat aborsie toegepas moet word nie, maar gee vryheid vir wie se gewetens nie deur reels van ander (gelowe) gebind wil word nie, om dit wel te doen.
Dit gee ook vryheid aan die Christene om te getuig teen aborsie en alle ander verkeerde praktyke.
Dit laat ook tuisskool toe, wat selfs onder ’n Christelike Afrikaner regering nie moontlik was nie.
Dit is egter nie ’n stelsel wat inherent ten doel stel om God te eer nie, en is daarom nie ’n ideale stelsel nie. Dit is egter in homself niks anders as ‘n dooie raamwerk waarbinne mense vryheid het om te opereer/te leef ens.
Daarom het die stelsel ‘n beter kans om hervorm te word as die rassistiese stelsel wat Jan aan ons probeer verkoop as “Calvinisties” en “Christelik”. Jan se stelsel moet reformeer tov twee kernaspekte: (a) Almal moet Calviniste word en hulle totaal aan God se Woord onderwerp, volgens die Gereformeerde geloof en (b) Hulle moet ook die sonde van rassisme bely en laat vaar.
Let asb daarop dat daar NOOIT by (a) uitgekom kan word VOORDAT (b) nie ten volle reggestel is nie. Dit is ‘n leuen en bedrog dat Calvinisme ‘n stelsel van rassediskriminasie kan ondersteun. Dit is myns insiens onwaar dat jy jouself ‘n Calvinis kan noem as jy self rassediskriminasie probeer goedpraat.
Die demokratiese sisteem in SA het daarom ‘n beter kans op reformasie omdat ons nie eers ten volle Jan se (a) hoef na te kom nie. Ons hoef net te werk daartoe dat almal die Bybel as hulle enigste bron van gesag aanvaar.
Lukas het ’n tyd gelede ’n saak uitgemaak dat ’n mens soms gedwing word om tussen “the lesser of two evils moet kies” (sien – https://groups.yahoo.com/neo/groups/gksaforum/conversations/messages/5124). Volgens Christelike etiek is dit die beste wat jy in ’n onafwendbare situatie kan doen. Dit is presies wat ons situasie oor die nuwe politieke bedeling is.
Ek verwys ook na my vorige motivering (https://groups.yahoo.com/neo/groups/gksaforum/conversations/messages/6365) waarom ek die nuwe bedeling in SA kan aanvaar. ” Ek het voorheen op die Forum my begronding gegee waarom ek glo dat dit wel toelaatbaar is (sien http://groups.yahoo.com/neo/groups/gksaforum/conversations/messages/4825 ) Ek glo dat dieselfde beginsel in 1 Konings 5:12 ook op hierdie situasie van pas is.
Ons lees in 1 Koning 5:12 dat God aan Salomo wysheid gegee het om ‘n verbond met die Heidense koning Hiram aan te gaan, sodat daar vrede kan wees.
Deur die verbond het Salomo nie (op daardie stadium) die heidense gebruike ens van Hiram aangeneem nie, hy het God steeds op die regte manier gedien.
Ek glo dat God my die verantwoordelikheid en wysheid gegee het om met ‘n skoon gewete ‘n verbond aan te gaan met die DA en die ANC (sonder dat ek aborsie en ander onBybelse sienings aanvaar), sodat ons vrede mag he. Daarom mag ek met ‘n skoon gemoed deelneem aan die politieke stelsel van die dag.”
Die aard van die gesprekke van die teenstanders van die nuwe bedeling skep ongelukkig die indruk dat dit vir hulle meer gaan as anti-swart oorheersing as om die Woord van God/calvinisme (wat insluit dat ons ons naaste moet lief he soos ons self – aan hom moet gun wat ons aan ons self gun) omdat hulle nie dit nie regkry om van ganser harte die sonde van rassisme te veroordeel nie.”
U broeder in Christus
Gert Kruger
Beste Gert,
Ek plaas ook my antwoord op jou skrywe by die gksaforum hier, tussen jou skrywes gemerk met my voorletters, slc. Groete
“Daarom stem ek saam met Neels (vanuit die Bybelse beginsel dat jy aan jou naaste moet gun wat jy aan jou self gun) dat ’n liberale demokrasie waar die Godsdiensvryheid in die grondwet gewaarborg is, die beste oplossing is vir multi-godsdientige, multi-kulturele lande, soos SA.”
slc: Die Bybelse beginsel van aan jou naaste gun is gefundeer in ‘die wet en die profete’, nie in die liberaal demokratiese humanisme nie, gaan lees weer Matt.7:12, so ook Matt.22:37-40, veral vers 40. Die beste oplossing vir die nuwe SA is Christus en sy goeie wet (Ps.1 en 2) nie liberale demokrasie en humanisme nie. Kus die Seun, nie kus die ANC of DA nie.
“So ’n stelsel laat toe dat die kerk (Christene) steeds hulle verantwoordelikheid kan nakom om mense te probeer oortuig wat die regte lewenswaardes is. Dit kan ook gedoen word vir enige ander saak wat belangrik sou wees. Dit laat ons ook toe om heelhartig Slabbert se skrywe aan my en Neels oor die verkiesing (https://groups.yahoo.com/neo/groups/gksaforum/conversations/messages/7126) met ‘n skoon gemoed uit te leef. So ’n stelsel gee nie bevel dat aborsie toegepas moet word nie, maar gee vryheid vir wie se gewetens nie deur reels van ander (gelowe) gebind wil word nie, om dit wel te doen.”
slc: Soos Pilatus se stelsel wat nie beveel het nie maar die vryheid gegee het, toegelaat het dat ‘n onskuldige Mens vermoor word omdat ‘n gedeelte van die bevolking ‘dit wel wou doen’?
Pilatus het as owerheidspersoon toegelaat dat die Jode volgens hul vryheid van gewete moord kan pleeg, want hul geloof was anders as Pilatus se geloof en Jesus se geloof?
Nee, ongeag dat hy sy hande in onskuld gewas het, was hy as owerheidspersoon wat die swaard dra (Rom.13) verantwoordelik ook vir die gruwelike moord op Christus. Hy is mede-verantwoordelik vir die bloed wat op die Jode gekom het weens sy toelating vir daardie bose ‘vryheid van gewete’ daad (Matt.27:25).
So is iemand wat ‘n party voor stem wat aborsie-moord goedkeur omdat ‘n ander deel van die bevolking dit wel wil doen, ook medepligtig aan daardie ongeregtigheid. Die owerheid moet moord beveg, lewens beskerm, nie moord as ‘demokratiese keuse’ beskerm nie. Die liberale demokrasie word dan Satansregering, nie sogenaamde ‘onpartydige neutrale’ regering nie. Dit is om te kies vir haat, bitterheid, dood teenoor die weg, waarheid en lewe in Christus, sien weer Ps.1 en 2.
Indien mense se gewetens reg en verkeerd bepaal in die land, hoekom laat die owerheid dit dan nie ook toe dat mense wat in hul gewetens glo diefstal is reg, om dit ook te kan doen nie ? Die wat dit nie wil doen nie, hoef dit dan ook nie te doen nie ?
So ook pedofilie, soos amper in Holland gebeur het ?
“Ek verwys ook na my vorige motivering (https://groups.yahoo.com/neo/groups/gksaforum/conversations/messages/6365) waarom ek die nuwe bedeling in SA kan aanvaar. ” Ek het voorheen op die Forum my begronding gegee waarom ek glo dat dit wel toelaatbaar is (sien http://groups.yahoo.com/neo/groups/gksaforum/conversations/messages/4825 ) Ek glo dat dieselfde beginsel in 1 Konings 5:12 ook op hierdie situasie van pas is.
Ons lees in 1 Koning 5:12 dat God aan Salomo wysheid gegee het om ‘n verbond met die Heidense koning Hiram aan te gaan, sodat daar vrede kan wees.
Deur die verbond het Salomo nie (op daardie stadium) die heidense gebruike ens van Hiram aangeneem nie, hy het God steeds op die regte manier gedien.
Ek glo dat God my die verantwoordelikheid en wysheid gegee het om met ‘n skoon gewete ‘n verbond aan te gaan met die DA en die ANC (sonder dat ek aborsie en ander onBybelse sienings aanvaar), sodat ons vrede mag he. Daarom mag ek met ‘n skoon gemoed deelneem aan die politieke stelsel van die dag.”
Die aard van die gesprekke van die teenstanders van die nuwe bedeling skep ongelukkig die indruk dat dit vir hulle meer gaan as anti-swart oorheersing as om die Woord van God/calvinisme (wat insluit dat ons ons naaste moet lief he soos ons self – aan hom moet gun wat ons aan ons self gun) omdat hulle nie dit nie regkry om van ganser harte die sonde van rassisme te veroordeel nie.”
slc: “So, om saam te vat: die sonde van rassisme is duidelik en moet onvoorwaardelik afgesweer en beveg word …..maar om vir ‘n party/beweging te stem wat openlik gruwelik ‘diskrimineer’ teen menselewe (aborsie-moord) en gay huwelike bevorder (wat die gesin as fondament van ‘n stabiele samelewing vernietig) is bloot ‘n ‘dilemma’ en die sogenaamde ‘lesser of two evils’ waarvoor mens kan stem (sommiges meen ‘moet’ stem) ?
Hoekom rassisme onvoorwaardelik beveg en uitroei …. maar partye wat moord en homo praktye goedpraat (wat God ‘n gruwel noem?) verdra en akkomodeer ?
Splinter en balk in ons oë probleme dalk ?
As iemand waarlik sy naaste liefhet, van harte, veral daardie 1.2 miljoen wat al uitgemoor is deur die nuwe SA, en die miljoene wat dalk nog geslag gaan word in die naam van ‘liberale demokrasie’, asook daardie arme kinders se lewens wat vernietig gaan word deur die gay propaganda en agenda, asook daardie duisende wat nog in plaasmoorde en misdade orals (teen alle volksgroepe) gaan omgaan …. dan sal jy nié vir enige party stem wat moord goedpraat, gay agendas beskerm en menseslagtings beskerm deur wetgewing (DA en ANC verwerp mos doodstraf?) nie. Dit is baie duidelik en eenvoudig.
Anders is al die praatjies van ‘liefde’ maar net ‘n klinkende simbaal. Dan geld die volgende woord, aangepas:
‘Die aard van die gesprekke van die teenstanders van ‘n Christelike staat skep ongelukkig die indruk dat dit vir hulle meer gaan oor om anti-God se goeie Wet te wees as om die Woord van God/calvinisme (wat insluit dat ons ons naaste moet lief he soos ons self – aan hom moet gun wat ons aan ons self gun) omdat hulle nie dit nie regkry om van ganser harte die sonde van aborsie te veroordeel deur nie vir mense en partye te stem wat die sonde van moord goedkeur en deur wetgewing handhaaf nie.’
Soos voorheen genoem, dit is maklik om heilige ywer te betoon teen die die dooie koeie van die verlede (apartheid); die ware uitdaging kom of ek vandag, nou in heilige ywer getuig en profeteer teen die heilige koeie van vandag: die liberalistiese ongeloof en doodsagenda van die nuwe SA soos bv verteenwoordig in die DA se beleid.
Die getuienis teen rassisme sou geloofwaardig gewees het as dit nie net teen rassisme was nie maar ook teen die liberale demokrasie met sy moordenaars en medepligtes in die nuwe bedeling wat die moderne Molog offerdiens heringestel het deur wetgewing.
Psalm 94:16 Wie sal vir my optree teen die kwaaddoeners? Wie sal my bystaan teen die werkers van ongeregtigheid?
Om in verbond te gaan met die werkers van die ongeregtigheid deur vir hulle te stem is nie om teen hul te getuig nie, inteendeel, dit is om hul te sterk in hul kwaad.
“Moet mens die goddelose help, en het u lief die wat die HERE haat ?” – 2 Kron.19:2
Beste Slabbert,
Die verskil tussen jou siening en myne lyk my si die volgende:
Ek aanvaar dat aborsie verkeerd is en bely dit ook. Ek getuig ook daarteen. Ek aanvaar dat ander sake met die nuwe bedeling verkeerd is en getuig daarteen. DWS, ek het by die sonde en ellende van sisteem uitgekom en ek getuig daarteen.
Ek sien ongelukkig nie dat daar by die teenstanders van die nuwe bedeling by die sonde en ellende van die ou bedeling uitgekom word nie. In teendeel, dit lyk na ‘n gemaklike manier om die nuwe sondes voor te hou, sodat die ou bedeling se sonde maar ignoreer kan word.
Hiermee sluit ek die gesprek af, tensy jy nuwe argumente (wat ook nog nie op die GKSA Forum gebruik is nie) op die tafel plaas.
Vriendelike groete
Gert Kruger
Beste Gert, ek het nie ‘n probleem daarmee dat jy die vorige of huidige bedeling se sondes as verkeerd aanwys en teen dit getuig nie.
Die sonde waarmee jy besig is, is om ‘n mense/partye te ondersteun in hul kwaad oor aborsie, gay-regte, anti-doodstraf ens. deur vir hulle te stem. Om te beweer jy is teen die sonde van aborsie, maar ondersteun die persone/partye wat dit waarlik glo en bevorder deur wetgewing, laat vrae opkom of jy eintlik dan werklik teen die aborsie gruwel is, as jou dade dit nie wys nie ?
So jy staan ongelukkig net so skuldig in jou weiering om jou te bekeer van die sondes van die hedendaagse liberale demokrasie, as die wat nie die sondes van die verlede met die sisteem van apartheid wil bely nie.
Ek sien nie dat jy enigsins op ‘n hoër morele grond staan nie.