Posted by: proregno | June 7, 2017

Die Heilsorde: van begin tot einde – Genade, alles Genade ! (deel 3: Heiligmaking, Volharding van die heiliges en Heerlikmaking)

Die Heilsorde

– deel 3: Heiligmaking, Volharding van die heiliges en Heerlikmaking –

deur dr. B. Duvenhage

[Bron: Geloofsleer]

(Sien deel 1 hier: Heilsorde, en deel 2 hier: Heilsorde)

DIE HEILIGMAKING

LEES: Heidelbergse Kategismus, Sondag 32.

BEANTWOORD DIE VOLGENDE VRAE:

  1. Het ons goeie werke saligmakende betekenis? (Luk. 17:10).
  2. Waarom kan ons goeie werke nie die grond van ons saligheid wees nie? (Nederlandse Geloofsbelydenis, art. 24).
  3. Waarom moet die heiligmaking nagejaag word? (Hebr. 12:14).
  4. Wat is die heiligmaking? Die geloof waardeur ons geregverdig word, openbaar hom in goeie werke of in ‘n nuwe lewe.

Die heiligmaking is enersyds ‘n daad van die Heilige Gees, wat ons na die beeld van God vernuwe. (Rom. 8:29: “Want die wat Hy vantevore geken het, die het Hy ook vantevore geordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun . . . “).

Die heiligmaking is ook ‘n daad van die gelowige (Hebr. 12:14) wat voortdurend moet geskied en is dieselfde as die daaglikse bekering. Die gelowige is geroepe om heilig te lewe (1 Petr. 1:15: “Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word”).

Regverdigmaking en heiliging

  • Die regverdigmaking is ‘n verklaring van God ten opsigte van ons en het betrekking op ons staat.
  • Die heiligmaking is ‘n werk van God in ons en het betrekking op ons toestand.
  • Die regverdigmaking is ‘n regterlike daad van God wat die erfskuld wegneem.
  • Die heiligmaking is ‘n reinigende daad van God wat die erfsmet wegneem.
  • Die regverdigmaking geskied eenmaal en is volkome.
  • Die heiligmaking geskied deur die hele lewe en bly hier ten dele.
  • Die heiligmaking volg uit die regverdigmaking en is die vrug daarvan.

Gevare wat ons bedreig, is: 

  • Die heiligmaking kan ten koste van die regverdigmaking beklemtoon word. Dis die fout onder andere van die Morele Herbewapening en ook van Remonstrantse rigtings. Die geloof en die belydenis kom op die agtergrond, terwyl die mening gehuldig word dat jy jou deur jou goeie werke by die Here verdienstelik kan maak.
  • Die regverdigmaking kan ten koste van die heiligmaking beklemtoon word. Dan kom dit aan op die suiwerheid van die leer, en die suiwerheid van die lewe word agterweë gelaat.

Ons moet albei hierdie beskouings ontvlug en soek na die juiste verhouding van die regverdigmaking en die heiligmaking.

Romeine 8:1: “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie (Regverdigmaking), vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees” (Heiligmaking).

I Korinthiërs 6:20: “Want julle is duur gekoop (Regverdigmaking). Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort” (Heiligmaking).

DIE VOLHARDING VAN DIE HEILIGES

LEES:  Johannes 10:28;  Matthéüs 24:13.

BEANTWOORD DIE VOLGENDE VRAE:

  1. Wat kan ons aflei uit hierdie twee tekste?
  2. Waar kry ‘n mens die sekerheid van die saligheid volgens die Dordtse Leerreëls, V, par. 9, 10?
  3. Waarom kan hierdie versekerdheid die gelowiges nie sorgeloos maak nie? (Dordtse Leerreëls, V, par. 12).

Wat is die volharding van die heiliges?

  • Wanneer hier van “heiliges” sprake is, bedoel dit nie sondelose mense nie maar gelowiges wat in Christus geheilig is.
  • Met die volharding word bedoel dat die ware geloof onverliesbaar is en dat die ware gelowige nooit uit die genade van God kan verval nie.
  • Die volharding is ‘n gawe van God.
  • Die Heilige Skrif leer ons dat God sy werk aan en in die gelowige nie laat vaar nie maar die gelowiges tot die einde toe bewaar.

Romeine 11:29: “Want die genadegawes en die roeping van God is onberoulik”.

I Petrus 5:10: “En mag die God van alle genade [105] self, wat ons geroep het tot sy ewige heerlikheid in Christus Jesus . . . julle volmaak, bevestig, versterk en grondves!”

Die grond van hierdie bewaring lê in die Drie-enige God, “omdat sy raad nie verander nie, sy belofte nie gebreek, die roeping na sy voorneme nie herroep, die verdienste, voorbidding en bewaring van Christus nie kragteloos gemaak en ook die verseëling van die Heilige Gees nie verydel of vernietig kan word nie” (Dordtse Leerreëls, V, par. 8).

“Hierdie bewaring beteken nie dat die gelowiges nie ook in sonde kan val nie. Daarvan getuig die droewige val van Dawid, Petrus en van onsself, wat daagliks struikel. Daardeur word God ten seerste vertoorn en die Heilige Gees bedroef, maar God skenk weer berou en verander nie die besluit van sy uitverkiesing nie en bewaar die gelowiges dat hulle nie so ver verval dat hulle uit die staat van die regverdigmaking uitval nie” (Dordtse Leerreëls, V, par. 4, 5, 6).

Die volharding is die roeping van die gelowige

Hierdie bewaring van God neem nie die verantwoordelikheid van die gelowige weg nie. Die stryd van die geloof moet gestry word (I Tim. 6:12). Daarom sê Paulus: “Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is” (Filipp. 3:12). Hier verbind Paulus die werk van God (gegryp is) met sy werk (jaag). God voltrek die genade van sy bewaring dus deur ons.

Die sekerheid van die volharding 

  • Ons verkry die sekerheid nie deur ‘n besondere openbaring aan ons nie maar uit die geloof aan God se beloftes.
  • Die sekerheid rus in die onveranderlikheid van Gods Raad. Psalm 33:11a: “Die raad van die Here bestaan vir ewig”.
  • Die sekerheid rus verder op die getuienis van die Heilige Gees. Romeine 8:16: “Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is”.
  • Verder word die sekerheid verkry “uit die ernstige en heilige strewe na ‘n goeie gewete en goeie werke”. (Dordtse Leerreëls, V, par. 10).
  • Namate ons geloof dus werksaam is en vrug dra, na die mate word ons verseker van ons saligheid. Daarom mag die gelowige nooit in die sonde bly lê en hom daarin verhard nie. So is die oordenking van hierdie weldaad die prikkel tot ernstige en gedurige beoefening van goeie werke (Dordtse Leerreëls, V, par. 12).

DIE HEERLIKMAKING

LEES: Heidelbergse Kategismus, Sondag 22.

BEANTWOORD DIE VOLGENDE VRAE:

  1. Waarheen gaan die siel van die gelowige na die sterwe? (Filipp. 1:21-23).
  2. Waarna moet die gelowige verlang? (Rom. 8:22, 23).
  3. Hoe sal ons wees by die wederkoms van Christus? (I Joh. 3:2; Filipp. 3:21).

Wat is die heerlikmaking?

Die heerlikmaking is die voltooiing van die genadewerk van God vir die uitverkorenes. Hier op aarde het ons alleen die beginsel van die ewige vreugde. Maar die werk wat God begin het, sal Hy voleindig.

Momente in die heerlikmaking

  • By die sterwe. By die sterwe gaan die siel van die gelowige na Christus in die hemel (Filipp. 1:23).
  • By die voleinding. Met die wederkoms van Christus sal almal uit die dode opstaan. Die liggaam van die gelowige word dan gelykvormig aan die verheerlikte liggaam van Christus en verenig met die siel om op die nuwe herstelde aarde te woon (Filipp. 3:21) (Vgl. die hoofstukke oor die Laaste Dinge).

_________________________

Sien die volledige reeks hier: Die Heilsorde


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

Categories

%d bloggers like this: