Posted by: proregno | December 5, 2017

Die Oerteks van die lotsbepalende 1838-Gelofte

DIE GROOTSTE TREK: TERUG NA U GOD

DIE OERTEKS VAN DIE LOTSBEPALENDE 1838-GELOFTE

deur JL du Toit & dr. L du Toit

Die Gelofte van 1838 (Du Toit weergawe)

Hier staan ons, as broers en landgenote, voor U onse Vader, die heilige God van hemel en aarde, om ‘n Gelofte aan U te doen,

 dat, as U ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee,

ons ‘n Huis tot U eer sal stig waar dit U behaag; en

dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte.

Want die eer van U Naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van oorwinning aan U te gee.

Ons smeek hiermee ook U hulp en bystand af om hierdie Gelofte verseker te kan volbring, in die Naam van U Seun en ons Verlosser, Jesus Christus.

Amen

________________________

Ek plaas met die nodige toestemming van die samestellers, hul boek met bogenoemde titel. Hulle is bereikbaar by josefdutoit@gmail.com  Dit gaan oor wat die verskillende uitgawes van die Gelofte wat deur die jare gebruik is by herdenkingsfeeste. Hier is die voorwoord: 

Voorwoord

Gustav Preller (1938b) verduidelik dat die Gelofte by die Slag van Bloedrivier na ons afgekom het in die vorm van drie oorkondes. Hierdie drie oorkondes is in die twintigste eeu saamgevoeg tot die gangbare weergawe algemeen in gebruik by herdenkingsfeeste:

  • Eerstens (Oerteks 1), Andries Pretorius se Kommandantsverslag (waarvan die eerste deel amper ‘n week na die slag neergepen is). Die volledige Kommandantsverslag is in die tweetalige Kaapse koerant, De Zuid-Afrikaan, ‘n paar maande na die oorwinning gepubliseer.
  • Tweedens (Oerteks 2), die inskrywing ‘n week voor die slag in die Kommandojoernaal (deur Jan Bantjes, Pretorius se Sekretaris), soos in De Zuid-Afrikaan afgedruk in die volgende jaar. (Terwyl die Gelofte-inskrywing in die Kommandojoernaal bykans twee weke voor die eerste gedeelte van die Kommandantsverslag geskryf is, was laasgenoemde eerste gepubliseer.)
  • Ongeveer dertig jaar na die Slag van Bloedrivier, vind die geestelike leier van die Strafveldtog, Sarel Cilliers, hom op sy sterfbed, waaruit hy sy herinnerings dikteer oor onder andere die Bloedrivier-Slag. Hierdie derde oorkonde (Oerteks 3b) van die Gelofte is deur H J Hofstede (1876) in Geschiedenis van den Oranje-Vrijstaat ‘n paar jaar na Cilliers se dood opgeneem. ‘n Verdere Gelofte-bron hieraan verwant is Sarel Cilliers se brief aan ds H van Broekhuizen (Oerteks 3a), vyf jaar voor sy sterfbeddiktasie neergepen. Die laaste deel van die brief het nie behoue gebly nie.

In hierdie bundel sal u ‘n noukeurige transkripsie vind van beide die volledige Kommandantsverslag en die volledige Kommandojoernaal, sowel as van al die redaksionele kommentaar wat daaromheen verskyn het in De Zuid-Afrikaan (Nederlands, sowel as Engels). Redigeringsveranderings word in blokhakies aangedui naas die oorspronklike, met kursiewe druk (maar steeds in blokhakies) waar die redigering as vervanging eerder as invoeging bedoel is.

By die Engelse vertalings uit De Zuid-Afrikaan sluit ons redigeringsnotas (ook in blokhakies) voorstelle tot verbetering in by enkele gevalle waar daar ‘n duidelike betekenisverskil tussen die Engelse vertaling en die Nederlandse oorspronklike bestaan. Ons sluit ook ‘n transkripsie van Oerteks 3a in. In die geval van laasgenoemde Cilliers-bron sou deurgaanse redigering te groot ‘n kloof oopmaak tussen die transkripsie en die oorspronklike en het ons gevolglik redigering tot die minimum beperk. Oerteks 3b word ingesluit as ‘n volledige skandering (eerder as ‘n transkripsie) aangesien die oorspronklike in hierdie geval maklik leesbaar is.

Na elke transkripsie (Oertekste 1, 2 en 3a) word ‘n skandering uit die vroegste-behoue uitgawes van die oorkondes gegee, naamlik van daardie paragrawe wat die Gelofte-bewoording (in Nederlands) bevat.

Die Oerteks-bundel sluit af met aantekeninge waarin die Gelofte-bronne met mekaar en met die gangbare weergawe vergelyk word.

J L du Toit

Dr L du Toit

Inhoudsopgawe

  • Voorwoord
  • Oerteks 1: Kommandantsverslag
  • Oerteks 2: Kommandojoernaal
  • Oerteks 3: Afleggerherinnerings
  • Aantekeninge
  • Nabetragting
  • Bronnelys

Nadat die samestellers die verskillende oertekste deurgegee het, volg hul dit op met belangrike aantekeninge (bl. 99 en verder), wat veral die saak raak of die latere “sabbatsklousule” deel is en/of moet wees van die Gelofteteks wat ons vandag moet gebruik, en gee dan ‘n “gekorrigeerde teks” van die Gelofte deur om te gebruik (sien bo).  Nog ‘n belangrike saak is hoe om die frase “… ons ‘n Huis tot U eer sal stig…” te verstaan, nie net as ‘n eenmalige (afgehandelde) gebeurtenis nie, maar ‘n lewenslange taak en roeping. Ek haal ‘n gedeelte vir u aan uit die skrywers se aantekeninge: 

Inleiding

In ‘n tydvak waar vrae rondom kulturele bestaansreg toenemend na vore kom, is dit die mening van die huidige skrywers dat ‘n terugkeer na ‘n diepere begrip van die 1838-Gelofte noodsaaklik is. Daarby moet ons meld dat hier geen poging aangewend word om skeptici tot ander insigte te bring nie. Ons wil ook nie oortuigde Gelofte-genote met twyfel belas nie. Eerder wil ons diegene vir wie die Gelofte nog altyd ‘n saak van groot erns is, in hul meelewing versterk.

Ignorering van die bewyse teen die Sabbatsklousule en van die bevindings rakende ‘n diepere betekenis, bring dikwels mee dat onBybelse en volksvreemde eksponente belangrike feite monopoliseer en die Gelofte buite die Reformatoriese geskiedenis isoleer. In hierdie aantekeninge sal u ‘n suiwer Bybelse basis vind vir die waardering van die 1838-Gelofte, binne die konteks van ons Gereformeerde erfenis.

Ons mag ook nie nalaat om daarop te wys dat ons gevolgtrekking rakende die historiese outentiekheid van die Sabbatsklousule in die gangbare weergawe van die Gelofte geen “nuwe navorsing” of vermetele aanslag op die volks-eiendomlike is nie. Bekende behoudende skrywers, waarvan sommige ook in ons bronnelys tot hierdie aantekeninge genoem word, het meermale tot dieselfde gevolgtrekking gekom.

Die algemeen gebruikte Gelofte-weergawe was ‘n twintigste eeuse samestelling uit die drie belangrikste behoue beskrywings. Die gangbare weergawe word hier krities vergelyk met die drie oorspronklike oorkondes:

  • Die amptelike notulering van die Gelofte (Jacobsz & Potgieter (ongedateerd)) in die Kommandojoernaal van J G Bantjes (kommandant Pretorius se Sekretaris en Klerk van die Boere Volksraad), opgeteken tydens die Bloedrivier-veldtog en later in ‘n Kaapse koerant (De Zuid-Afrikaan) gepubliseer onder opdrag van Pretorius;
  • Die eerste deel van die Kommandantsverslag van A W J Pretorius, opgeteken ses dae na die Slag van Bloedrivier (feitlik twee weke na die eerste dag waarop die Gelofte afgelê is) en kort daarna gepubliseer in De Zuid-Afrikaan;
  • Die herinnerings van Sarel Cilliers (oftewel Charl Celliers) rakende die Gelofte, soos gedikteer vanuit sy sterfbed meer as dertig jaar na die Slag van Bloedrivier (sowel as ‘n brief van Cilliers aan ds H van Broekhuizen vyf jaar voor die sterfbeddiktasie). (Eersgenoemde het vir ons behoue gebly weens die opname daarvan in Hofstede (1876).)

Met die oog op die gerief van die leser, word die onderskeie beskrywings (sowel as die algemeen gebruikte feesweergawe) aangehaal, met bypassende kommentaar wat die spilpunt van die aantekeninge vorm. Ons sluit met ‘n aantal gevolgtrekkings rakende die kern-inhoud van die Gelofte, en gee enkele aanbevelings vir moontlike verbetering op die gangbare weergawe daarvan.

Die samestellers eindig hul boek met ‘n nabetragting, met hierdie belangrike woorde:

Nabetragting

“Dit is opmerklik dat gelofte-aanmanings in meer onlangse tye hoofsaaklik of selfs uitsluitlik fokus op die blote bywoning van plegtighede op 16 Desember elke jaar. In die lig van hierdie aantekeninge is sulke origens oppervlakkige aanmanings ver van die ware gees van die 1838-Gelofte. In die Gelofte staan volkswyding voorop, waardeur die volk gedurig deur selfondersoek hulself moet meet aan die voorskrifte van Godswoord ─ ‘n gedagte eie aan daardie bevindelike Godsdiens van die Nederlandse Nadere Reformasie wat so invloedryk was by die denke van die Emigrante Boere.”


Lees gerus die hele boek hier verder: Die Oerteks van die lotsbepalende 1838-Gelofte


Aanbevelings vir die werk

Ds MC Adendorff, Emeritus-Predikant, voormalig van die Afrikaanse Protestantse Kerk, Germiston: “Die werk raak belangrike sake aan en dit in ‘n tyd waarin herbesinning oor die Gelofte dringend nodig is. Die kwessie van vakansiedae in Suid-Afrika geniet weer aandag van staatsweë met aandrang dat ander godsdienste ook van hulle groot godsdienstige dae tot openbare vakansiedae verklaar moet kry. Die poging tot transformasie deur van 16 Desember ‘n versoeningsdag te maak, het ook bygedra tot verdere vervlakking van die betekenis van Geloftedag. Teen dié agtergrond beveel ek graag die publikasie aan. Die bundel daag uit tot herbesinning oor die dieper betekenis van die Gelofte. Mag dit ons volk prikkel om weer te dink oor ons verantwoordelikheid ten opsigte van die Gelofte.”

Dr PW Möller, voormalige onderleier van die Herstigte Nasionale Party, geskiedkundige, voorheen verbonde aan die Buro vir Onderwysnavorsing, destydse Transvaalse Onderwysdepartement, Pretoria: “Slegs iemand wat al historiese navorsing gedoen het, sal weet hoe ‘n groot taak die outeurs aangepak het en met welke tyd en energie dit gepaard gegaan het. Ofskoon die bundel die Gelofte van 1838 raak, sny dit veel dieper. Ek wens die samestellers geluk dat hulle so ‘n belangrike saak op so ‘n bekwame wyse aangepak het.”

Me A Bailey, geskiedkundige, Adjunk Uitvoerende Hoof van AfriForum, Direksie-lid van die Voortrekkermonument, Pretoria: “Dit is inderdaad ‘n baie nuttige samevatting van die brondokumente. Ek hou ook baie van die idee dat die oorspronklike bronne ingeskandeer is. Ek weet nie van ‘n ander publikasie wat dit doen nie – dis ‘n unieke bydrae. Die Gelofte bly aktueel en mense lees graag daaroor. Daar is ook heelwat vergissings oor die Gelofte en die geredelike bekikbaarstelling van die oorspronklike tekste is daarom ‘n goeie idee.”

Dr J Botha, geskiedkundige, medeskrywer Gelofteland-netwerf: “Dit is ‘n groot en omvattende taak wat voltooi is; as historikus lees ek dit met groot waardering. As Christen dring dit my weer tot die erns van ons volk se huidige ellende onder ‘n ateïstiese en kommunistiese regime met direkte oorsaak die verbreking van ons volksgeloftes. Daarom is hierdie werk van onskatbare waarde en behoort dit wyd bestudeer te word.”

Me M Schulze, bibliotekaresse van die Erfenisstigting: “Hierdie boek is beslis ‘n waardevolle byvoeging tot die ander bronne wat ons oor die Gelofte en ander fasette van die Voortrekkers en die Groot Trek het.”

 


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

Categories

%d bloggers like this: