NUWE FASE IN DIE STATEBYBEL KANTTEKENINGE IN AFRIKAANS (1637-1652-2023): STIGTING REFORMATORIESE GETUIENIS (RGG)

Die vertaalprojek van die Statebybel se verklarende kanttekeninge betree ń nuwe fase. Die geredigeerde boeke word tans in e-formaat gelaai vir algemene kommentaar. DIe redaksie werk daarvoor dat die Nuwe Testament volgende jaar mag verskyn. Besoek ondertussen gerus die volgende blad en lewer kommentaar:
http://bybelmetkanttekeninge.co.za/
Inhoud:
1 Proses: agtergrond, medewerkers ( redaksie, vertalers, leeskommissie)
“Die Nederlandse Statebybel met verklarende aantekeninge verskyn in die jaar van onse Here, 1637. Alreeds in 1638 plaas die Deputati ad res Indicas van die klassis Amsterdam die Statebybel op die boekelys vir sieketroosters van die VOC. So raak die epogmakende Statebybel met verklarende aantekeninge reeds vir Suidelike Afrika en in die besonder vir die Afrikaanse taalgemeenskap belangrik. … Ruim 300 jaar, vanaf 1652 tot ongeveer 1957, was die Statebybel met verklarende aantekeninge hier in Suidelike Afrika, vir die Nederlands-Afrikaanse Christen ʼn klassiek-gereformeerde Studiebybel.
Dit is waar Afrikaanssprekende Christene vandaan kom. Ingeligte mense kan nou in die Afrikaanse taal skouers skuur met ons voorgeslagte se Christelike nalatenskap. Elke “nuut” van ons dag kan geplaas word naas die vertroude “oud” van ons erfenis, met die vraag: “Wat is getrou aan God se Woord?” Die Afrikaanse weergawe kan boonop vergelyk word met die Nederlandse weergawe, asook die Engelse (Haak) vertaling daarvan. So kan eerlike afweging bepaal waarmee om saam te stem en te verskil.”
2 Verstaan die kanttekeninge: Geskiedenis en inhoud van die Statebybel met kanttekeninge
“Die Stigting Reformatoriese Getuienis (SRG) wil die lees van die kanttekeninge bevorder, omdat dit ’n goeie en betroubare verklaring by die Bybel is. Die lees en oordenking van die Bybel moet allereers persoonlik gebeur, maar daarna ook in die gesin, op skool en in die kerk. “Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê” (Romeine 15:4). Die kanttekening merk daarby op dat die lydsaamheid en vertroosting uit die lees, aanhoor en oordenking van die Skrifte verkry word.”
3 Lees: die volgende boeke is aanlyn reeds beskikbaar om te lees met kanttekeninge: Psalms, Matteus, Markus, Lukas en Johannes
“Hieronder vind u die Bybelboeke waarvan die vertaling van die kanttekeninge afgehandel is. U kan dit gebruik in die huisgodsdiens, Bybelstudie en ondersoek van die Woord van die Here. Ons sal dit baie waardeer indien u ook vir ons terugvoer sal gee oor enige foute wat u opmerk in die kanttekeninge. U kan daarvoor die LEWER BYDRAE-skakel gebruik.”
4. Lewer ‘n bydrae
“Stuur insette oor ‘n bepaalde boek of teksvers se kanttekeninge”
Ons is dankbaar teenoor ons hemelse Vader dat hierdie kosbare bybels-gereformeerde skat ook oorgesit word in ons taal. Mag dit dien tot verheerliking van sy Naam en heil van alle gelowiges wat ook in Afrikaans aanbid en lewe hier aan die suidpunt van Afrika, waar die Here ons geroep het, sodat ons opnuut die inhoud van die gebed by ons volksplanting kan nakom (beklemtonings bygevoeg):
VAN RIEBEECK SE GEBED (1652)
“Barmhartige, genadige God en hemelse Vader, volgens u goddelike wil is ons geroep om die sake van die Verenigde Nederlands Geoktrooieerde Oos- Indiese Kompanjie hier aan die Kaap die Goeie Hoop te bestuur. Met hierdie doel voor oë is ons met ons Raad in u heilige Naam vergader om met die Raad se advies sodanige besluite te neem waarmee ons die Kompanjie se belange die beste kan bevorder. Ons is hier om die wet te handhaaf en om, as dit moontlik is, onder hierdie wilde en onbeskaafde mense u ware gereformeerde Christelike leer voort te plant en bekend te maak tot lof van u heilige Naam en tot voordeel van die wat oor ons regeer. Hiertoe is ons sonder u genadige hulp allermins in staat. Daarom bid ons U, allerhoogste Vader , dat U met u vaderlike wysheid by ons sal bly. Ons bid dat U self leiding in ons vergadering sal gee en ons harte so verlig dat alle verkeerde hartstogte, tweedrag en ander dergelike gebreke van ons geweer sal word sodat ons harte van alle menslike hartstogte skoon sal wees. Laat ons gemoedere so ingestem wees dat ons in ons beraadslaging niks anders beplan of besluit nie as dit wat mag strek tot grootmaking en lof van u allerheiligste Naam en tot diens van die wat oor ons regeer. Laat ons nie in water mate ook al op eie voordeel of winsbejag let nie, maar net op die uitvoering van ons opdragte en dit wat vir ons saligheid nodig is. Ons bid en vra dit in die Naam van u geliefde Seun, ons Heiland en Saligmaker, Jesus Christus … wat ons leer bid het: Ons Vader wat in die hemel is, … Amen”
VAN RIEBEECK SE GELOFTE, 6 April 1654
“Aangesien dit vandag twee jaar gelede is dat ons met God’s hulp en leiding met die skepe Drommedaris, Reiger en Goede Hoop veilig hier geland het, om hierdie fort en kolonie in opdrag van ons here en meesters op te bou, en ons gemerk het dat God die Here al die sake tot vandag toe met baie seëninge, goed en na wens laat verloop het, het ons besluit, en ook vanjaar daarmee begin, om hierdie dag, 6 April, tot God’s eer met danksegging te vier, en dit vir altyd as ’n dank- en biddag in te stel, sodat ons nakomelinge nooit die weldade wat God aan ons bewys het, vergeet nie, maar dit altyd in gedagte mag hou.”
_________________________________________
Sien hier vir nog artikels, inligting en bronne oor die projek asook die Gereformeerde Bijbelstichting.
Leave a comment