Die Koningskap van Christus
Lees: 1 Tim. 1:12-20 en 6:11-16.
Fokusverse: “Aan die Koning van die eeue, die onverderflike, onsienlike, alleenwyse God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid. Amen. …die verskyning van onse Here Jesus Christus wat op sy eie tyd vertoon sal word deur die salige en enigste Heerser, die Koning van die konings en Here van die here,” (1 Tim. 1:17 en 6:14–15)
Preekopname (GK Carletonville, 12 Mei 2024):
Aflaai: Koningskap preek 1 Timoteus
Preeknotas [die volledige preek is die opname, hier onder is die preek notas]:
Geliefdes in ons Here Jesus Christus,
‘n Vraagstuk wat die kerk die HERE deur die eeue mee geworstel het, is:
Is ons as gelowiges as gemeentes geroep om te ly, om swaar te kry, om
die worstelende pelgrimspad te bewandel, in navolging van Christus?
Of… is ons geroep om te oorwin, om as konings te heers, om sy heerskappy
orals te bevorder reeds nou hier op aarde?
Om dit kort en eenvoudig te stel: is ons geroepe tot ‘n kruis lewe, of ‘n kroon lewe?
NOU, ek hoop u weet reeds wat die antwoord is… naamlik:
ons word geroep tot beide kruis dra, stryd teen die oorblyfsels van die sonde,
die wêreld en die Satan, én, om deur die geloof, deur Gees en Woord te oorwin.
DUS kruis en kroon lewe, al is die nog onvolmaak en gebroke… alles,
op grond van die lyding, kruisdood én opstanding, hemelvaart en dus oorwinning van ons Here (Koning) Jesus Christus.
En dit raak ons ganse lewe reeds nou…
Ons tema is daarom vanuit ons teksgedeeltes in 1 Tim. 1 en 6:
Die hemelvaart van Christus na sy kruisiging en opstanding
bevestig die Koningskap van Christus
waarin ons nou lewe en wandel
totdat sy koninkryk in volmaaktheid sal oorgaan met sy wederkoms
Die verhouding tussen kruis en die kroon, lyding en oorwinning, sien ons pragtig in ons twee teksgedeeltes, sien ook dan die onderlinge verhouding tussen hierdie twee sake:
1 Tim. 1:17 en 6:15 is die enigste plekke in 1 Timoteus waar ons eksplisiet lees van die Here en Christus as ons ‘Koning’ = die koningskap motief deur die Skrif.
Daar is natuurlik baie ander woorde en frases wat daarby aansluit, soos bv. die term ‘regeer’, regdeur die pastorale briewe, en dan natuurlik die titels ‘Here’ of ‘Meester’, wat ook koninklike betekenis het.
In 1 Timoteus, geskryf ongeveer in 62 nC, weet ons dit gaan oor die apostel Paulus wat vir Timoteus, en deur hom aan die kerk van Christus, finale Godsopenbaring gee, oor die sentrale saak,
“Maar as ek vertoef, dan kan jy weet hoe iemand hom moet gedra in die huis van God, wat die gemeente is van die lewende God, ’n pilaar en grondslag van die waarheid.” (1 Tim 3:15)
Ons word in 1 Timoteus (en die ander twee pastorale briewe, 2 Timoteus en Titus) geleer wat God se wil is vir sy kerk vir alle eeue.
MAAR, nou baie belangrik, kyk waar begin Paulus in hoofstuk 1, een van ons teksgedeeltes:
“Dit is ’n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word, dat Christus Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red, van wie ek die vernaamste is. Maar daarom is aan my barmhartigheid bewys, dat Jesus Christus in my as die vernaamste al sy lankmoedigheid sou betoon, om ’n voorbeeld te wees vir die wat in Hom sal glo tot die ewige lewe. Aan die Koning van die eeue, die onverderflike, onsienlike, alleenwyse God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid. Amen.” (1 Ti 1:15–17)
Voordat Paulus nou in detail vir Timoteus gaan leer deur die Gees, hoe die kerk van Christus ingerig moet word, begin hy met sy eie roeping en verlossing uit genade, deur die geloof alleen: hy leer dat, as die Here my kan red, hoeveel te meer vir jou, vir ander, en, Hy verander ons reeds nou, sien verse 13-16 wat leer hoe Paulus radikaal verander het, ten goede.
En as hy besef hoe groot God se genadewerk is vir hom, en steeds is, let wel ‘n lewenslange bekeringslewe, hy vermeld in v. 15, nie dat hy sondaar ‘was’ nie, maar ‘is’, wat is dan die vrug van sy belydenis?
DIT IS: om in ‘n lewe van dankbaarheid, vir die groot verlossing om Christus:
i) v. 16 die evangelie aan alle volke te verkondig, met die hoofdoel van sy redding en alle evangelisering en sending:
ii) om die Here se Koningskap te bely en na te volg, ja, al die eer aan die Koning van alle eeue, dus vir alle tye en volke, dus in die OT en NT tye! v. 17
… en dan, vir hierdie lewe ….deel van daardie verlossingstroos en koningbelydenis is dan wat?
Stryd… sien vers 18-20 (ook 1:3-11), die goeie stryd van die geloof teen alle verdraaiings van God se wet en evangelie, tot die einde toe (2 Tim. 4:1-9)
Ja, die bewaring van die ware leer deur handhawing van die Verlosser-Koningskap van Christus.
TOEPASSINGSVRAAG, sien u die vrug van die verlossingswerk van Christus – dat dit oorgaan tot die dank en belydenis van Koning Jesus – daarom moet ons die goeie stryd voer, worstel, en dit beteken lyding, swaarkry, kruisdra, sien 1 Tim. 4 en 2 Tim. 3 die tye waarin die kerk leef, wat die evangelie en wet van God haat en verag, en dit gee stryd af, die stryd van Gen. 3:15 tot die laaste dag (2 Petrus 2 en 3; Op. 12).
In vers 18 word ons opgeroep tot die goeie stryd as konings, priesters en profete in Christus se diens, sien die woorde ook in 1 Tim. 6:12,
“Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe, waartoe jy ook geroep is en die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het.”
HOEKOM SIEN ONS SO MIN WIL TOT DIE STRYD… JA, OOK ONDER GETROUE GELOWIGES EN KERKE IN ONS TYE?
Ondersoekvraag: dalk omdat ons nie persoonlik intens besef en besin wat 1 Tim. 1:15 vir my werklik beteken nie, dat ek nie waarlik besef hoe groot God se genade is, dat Hy sy lewe vir my gegee het, dat my dankbaarheid vir SY STRYD sy lewe lank maar in die besonder aan die kruis, nog nie in my hart ingeskin het, sodat ek sy Koningskap orals uitleef, bely en bevorder nie?
Omdat Jesus nie Koning is in my hart, my wese nie (Spr. 4;23), daarom is Hy nie Koning in my gesin nie, my gemeente nie, nie in die gemeenskap, in kerk en staat, my volk, ens nie?
Alle Koningskap erkentenis en belydenis van Christus, begin by ons persoonlike saligheid: soek alleers die Koninkryk van God, en sy geregtigheid (wat in Christus alleen is, 1 Kor. 1:30,31), Matt. 6:33.
So, soos Groen van Prinsterer gesê het, van toepassing op ons onderwerp: teen die verwerping van God se Koningskap … handhaaf ons die Evangelie van 1 Tim. 1:15-17, dit moet gepreek word, katkiseer word, in die gemeente en orals… harte wat brand vir Christus (Luk. 24:32) Christus as Koning van my hart, ons harte en dan verder na die ganse lewe.
Waarom is vers v. 18-20 ook so belangrik vir Paulus, gelowiges, die kerk van Christus?
Vir dieselfde rede wat ons by Petrus reeds gesien het in 2 Petrus 2:2, en hier in vers 16,17 geleer het: dankbaarheid teenoor God vir sy groot verlossing… en liefde vir sy naaste, dus die twee tafels van die wet, geskryf op ons harte.
En daarom, baie belangrik, moet ons die valse siening van Christus se “dit gaan net oor verlossing, nie koningskap nie, net kruisdra, nie kroon dra nie, wesentlik afgesny word en weerlê word, in ons denke, dade en wêreld waarin ons lewe.
Die ware antitese of teenstelling, is nie tussen ‘kruis’ en ‘opstanding’ nie, Christus se lyding of oorwinning, en daarom so by ons nie, die teenstelling is tussen genade vs sonde, gehoorsaamheid vs ongehoorsaamheid, dank en ondankbaarheid, tussen reg en verkeerd, tussen evangelie van genade vs valse evangelies, tussen teonomie en autonomie, ens.
Vers 17 moet gepreek en geleer word vir alle gelowiges en kerke, en dan gesoek word in ons ganse lewe, in die amp van gelowige.
Want let nou op ons tweede Skrifgedeelte, 1 Tim. 6:11-16,
“Ek gebied jou voor die aangesig van God wat aan alle dinge die lewe gee, en van Christus Jesus wat voor Pontius Pilatus die goeie belydenis betuig het, dat jy die gebod onbevlek, onberispelik bewaar tot by die verskyning van onse Here Jesus Christus wat op sy eie tyd vertoon sal word deur die salige en enigste Heerser, die Koning van die konings en Here van die here, wat alleen onsterflikheid besit en ’n ontoeganklike lig bewoon, wat geen mens gesien het of kan sien nie, aan wie toekom eer en ewige krag. Amen.”
Sien die onlosmaaklike band … Christus bring weer lewe waar dood is, die evangelie, en daardeur bring sy Koningskap…. Die Here se koninkryk in Christus en die krag van die Gees het gekom, is gevestig, geen mens of kerk of mag bring die koninkryk ‘in’ nie, geen mens of politieke mag of ‘n sekere volk of tyd of mense nie!
Die volkomenheid van die Here se koninkryk sal kom en geopenbaar word met die wederkoms, die ‘reeds maar nog nie’ van die Koninkryk, sien die verklaring van ‘Laat U koninkryk kom’ HK So. 48 se ‘totdat’… maar, daardie koninkryk, die Koningskap van Christus is reeds nou gevestig, in die besonder in sy kerk, maar die vrug daarvan moet ook in die ganse kosmos verkondig word, daarom ‘Koning van alle konings… Here van die here’.
Allesomvattend!
Nie net, Ef. 1:20-23 nie, maar juis as Koning van die kerk, proklameer ons … v. 15 vir die ganse kosmos, aan alle mens en volke en tye, elke knie moet buig voor die Koning wat gekom het.
GROOT VRAAG: Hoe weet ons nou konkreet, of ek in my lewe, gemeente en alle terreine sy Koningskap werklik erken en navolg?
Hier is dit: “… en van Christus Jesus wat voor Pontius Pilatus die goeie belydenis (profetiese amp) betuig het, dat jy die gebod onbevlek (die Verlosser-Koning het ‘n wet, Hy regeer), onberispelik bewaar tot by die verskyning van onse Here Jesus Christus!
DUS, as jy die evangelie van die lydende Chrisut reg verstaan (die kruis waarheid), dan sal dit tot openbaring kom in die dankbaarheidslew van sy Koningskap in my en jou se ganse lewe, sien 1 Kor. 1:30,31, dit word gesien hoe ek met die Koning se goeie wet-woord, sy hele woord, sy wet en evangelie omgaan, wat heilig, regverdig en goed is (Rom. 7:12)!
Belydenis en wandel, woord en daad, leer en lewe!
TOEPASSING:dit is in die onderhouding van sy gebod, sy bevele dat ons sien in wese of Jesus werklik ons Koning is, en nog belangriker: of ons juis die evangelie en die vrug daarvan vir die lewe besef (sien al die gelykenisse oor aard van die koninkryk van God in Matteus 13)?
“En wat noem julle My: Here, Here! (Meester, meester, Koning, Koning…) en doen nie wat Ek sê nie? Elkeen wat na My toe kom en na my woorde luister en dit doen — (Luk 6:46–49)
VOLGENDE VRAAG: Wat is die ‘gebod’ wat hier genoem word, v. 14?
Dit is spesifiek en eerstens die hele inhoud, persoonlik vir Timoteus (persoonlik vir ons as pastore en gelowiges), maar ook vir die hele gemeente, leer en kerkregering, en by implikasie, is dit alles van die pastorale briewe en die hele Skrif openbaar:
Jyself (1 Tim. 4:16) moet leef onder die Koningskap van Christus, sien 1 Tim. 6:12 oproepe.
Ons gesinne, 2 Tim 1:5; 2 Tim. 3:14 om ons as verbondsouers se geloof na te volg.
In die kerkregering moet ons sy Koningskap volg, ook 1 Tim. 2:11-15, hoofstuk 3 se vereistes vir ampsdraers, hoe die Christus as Koning sy kerk wil regeer, en daarom is die ‘vida probleem’ nie net ‘n Skrifgesag krisis nie, maar ‘n Koningskap krisis.
As predikers moet ons die kruis en opstanding, die neerdaal na die hel en opstanding en hemelvaart verkondig, tydig en ontydig (Hand. 20:27; 2 Tim. 4:1-4) midde alle stryd teen alle dwalinge en leuens wat dit ontken of wil verdraai.
DUS, nie net aanslae teen die evangelie self nie, maar sy hele Koningswoord, ook teen hul wat sy gesag ontken of verdraai ook sy bevele vir kerkregering.
1 Tim. 6:3-5 se sterk oproep geld vir alle leringe van die pastorale briewe, bestry wat nie instem met “die gesonde woorde van onse Here Jesus Christus en … die leer … volgens die godsaligheid”. (1 Ti 6:3)
Net soos die Skrif nie ‘n valse teenstelling tussen Jesus se Verlosserskap en Koningskap ken nie, ken dit ook so iets in die pastorale briewe nie, asof net Christus se lyding belangrik is, maar nie sy Koningswoord nie, die ‘betroubare woord’ van verlossing, 1 Tim. 1:15 én sy kerkregering, 1 Tim. 3:1ev is albei belangrik, en die Here vereis dat albei gehandhaaf word.
En, dan laastens, die sogenaamd mees kontroversiële een, nl. wat die politiek van die dag raak.
Hoe kom die Koningskap van Christus tot uiting in die maatskappy, in die samelewing, in ‘kerk en staat’, in die pastorale briewe?
Behalwe die allesomvattende betekenis van die woorde in 1 Tim. 1:17 en 6:15, sien die woorde 1 Tim. 2:1-4 (lees)
Die gebed vir die owerhede en konings, is nie net dat God in sy voorsienigheid hul in toom sal hou sodat ons ‘n rustige en stil lewe sal lei nie, maar
i) dat hul self sal bekeer, dat hulle as owerheidspersone tot geloof sal kom, 1 Tim. 1:15 saak, daarom die gebed en oproep vir die bekering van alle soorte, alle mense van watter rang of stand ookal, ons bid vir almal se bekering, verkondig aan almal: bekeer en glo!
ii) maar dan ook, moet hul Christus se koningskap erken en bely en navolk in hul ampswerk as konings, vorste, owerhede, ens. (sien Calvyn se kommentaar op 1 Tim. 2:1-4 spesifiek hieroor)
Dit beteken ‘n appél moet verkondig word aan alle owerheidspersone, dat hul so sal regeer, wet en orde sal handhaaf, dat die kerk, gelowiges, burgers van ‘n land ‘n stil en rustige lewe kan lei, om ons roeping teenoor God en ons naaste uit te lewe, maar ook dat hulle juis persoonlik en in hul ampswerk self sal buig voor die Koning van die konings, en Here van die here, 1 Tim. 1:17; 6;15.
Die oorsaak en ellende in die kerke, maar ook in die samelewing en maatskappy, van ‘sosiale euwels’, armoede, misdaad, onreg, haat, moord, diefstal, en pandemies bring, is sonde, en die enigste losprys daarvoor, in die woorde van vers 6, is Jesus Christus, Hy wat sê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe, Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie”, Joh. 14:6.
Sonder Jesus kan elke gelowige, elke kerk niks doen nie.
Sonder Christus kan geen president of owerheid goed en voorspoedig regeer nie, sien Ps. 2:10-12.
En daarom bid ons vir alle mense, al die Here se kinders, ons bid dat alle mense, insluitende alle volke in ons land, ook ons president, onsself opnuut sal bekeer en verootmoedig voor die Here: ja, bekeer ons Here, dat ons ons bekeer, Klaagl. 5:20,21
Wat ons belydenis betref, ons moet nie net Jesus as Koning bely soos vervat in NGB artikels 1-35 nie, maar ook NGB art. 36 en 37, tot hoop en bekering en waarskuwing van alle mense en volke en konings en owerhede vir alle tye.
Samevattend
Beide, kerk en samelewing dwaal, as hul Jesus as Verlosser soek … maar nie ook as enigste Koning vir ons ganse lewe en alle terreine van die lewe nie.
Ons moet beide die kruis en kroon bely in navolging van die Skrif, en soek in ons roeping en taak: Christus is gekruisig, en het opgestaan, Hy is die Christus, én die Here.
Daar is ‘n groot verskil tussen: a) as ons worstel met ons dankbaarheidslewe, dit erken, en bekeer en groei en aanhou die goeie stryd stry in Christus… teenoor b) hulle wat reeds in beginsel, met die verdraaiing van die Skrif,
i) 1 Tim 1:15 verkeerdelik en valslik stel teenoor 1 Tim. 1:17,
ii) en, 1 Tim. 1:17 en 6:15 wil beperk net tot sekere dele van die lewe.
Ons hele lewe, persoonlik, gesin, gemeente, gemeenskap, moet in dankbaarheid vir ons redding nagevolg word, alles tot sy eer, 1 Kor. 10:31!
Slot
Ja, ons gaan baiemaal ly en swaarkry, dalk nog meer in ons tye, maar die vraag is waarom gaan ons ly?
Dit is nie of die kruis of die kroon nie, dit is albei, ons ly juis deur die kroon van Christus te volg en te verkondig.
Gaan ons ly, ‘ly’ ons deur te ontvlug, die evangelie te ontken of verdraai, die wet te verwerp, deur soos ongelowiges te lewe en op te tree in swaarkry vervolgingstye, contra 1 Petrus 4:12-19?
Nee, ons moet ly nederig en diensbaar, omdat ons Christus volg, sy Woord, sy wil, sy evangelie, sy Koningskap verkondig (Matt. 5:1-20), soos Paulus leer en die vroeë kerk van getuig:
“En almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word.” (2 Tim 3:12)
“En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.” (Hand. 4:12)
“en Jason het hulle ontvang. En hulle almal handel teen die bevele van die keiser en sê dat daar ’n ander koning is, naamlik Jesus.” (Hand. 17:7)
“God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer, omdat Hy ’n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ’n Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek.” (Hand. 17:30,31)
En onthou, die kruisdra hier en nou, sal eendag oorgaan tot die volmaakt kroon:
“WANT ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie.” (Rom. 8:18)
Amen
________________________
Ander S. Le Cornu preke en lesings hier beskikbaar.
Leave a comment