CALVYN OOR DIE GRENSE VAN DIE KERK

CALVYN OOR DIE GRENSE VAN DIE KERK

– Gereformeerde, Roomse en Anabaptistiese beskouings –

CALVYN EN DIE GRENSE VAN DIE KERK

deur Prof. Bouke Spoelstra 

Inleidend skryf prof. Bouke:

Calvyn formuleer teenoor Rome, Anabaptiste: Die Reformasie wentel om die leer van die kerk. Kerkhervorming wil immers die kerk terugbring binne sy eintlike grense. Rome het die grense van die universale kerk en koninkryk van God laat saamval met die sigbare kerk. Die bekende ubi papa ibi ecclesia (‘waar die pous is, daar is die kerk’ -slc) toon hoe die grense van die kerk met die institusionele priesterdom geïdentifiseer is.

Luther maak radikaal onderskeid tussen die aardse en hemelse ryke. Die eintlike ware kerk, die liggaam van Christus behoort tot die hemelse en word begrens deur die saligmakende geloof. Dit is dus onsigbaar en onkenbaar op aarde. Die sigbare institusionele organisasie behoort tot die aardse bedeling, kan territoriaal afgegrens word, is preekinstituut om die geloof te werk wat die liggaam van Christus bou.

Die Anabaptiste (in verskillende vorme en aksente) vereenselwig soos Rome die sigbare en onsigbare gedaantes van die kerk, maar so dat hulle volmaakte kerk en liggaam van Christus in hulle aardse kerkgemeenskap vind. Die doop op geloofsbelydenis trek die grens sodat die sigbare geloofsgemeenskap derhalwe ook die volstrek heilige kerk onder regering van Christus is. Daarom staan hulle radikaal vreemd aan en teenoor hierdie wêreld, veral teenoor alle gesag wat op staat of kerk rus.

Calvyn proklam eer sy visie op die kerk en hoe die kerk begrens word binne en in dialoog met hierdie verw arrende leef- en dinkwêreld en teenoor Rome en Wederdopers. Calvyn het met bewonderingswaardige insig reeds in die eerste uitgawe van sy Institutie 1536 sy grondgedagte aangedui. In volgende uitgawes van die Institusie het hy nooit nodig gehad om daarop terug te kom nie, maar het hy dit in die lig van sy ervaring met Rome, Libertyne en A nabaptiste uitgebou. Met sy tweede koms na Geneve het hy in sy Ordonnances Ecclesiastiques 1543 aan sekere gedagtes ordelike vorm gegee. Daarna het hy in sy Kommentare en verder in enkele traktate hom duidelik uitgespreek.”

Prof. Spoelstra spreek die volgende onderwerpe aan (ek plaas ‘n paar aanhalings by uit die volledige teks):

Calvyn formuleer antiteties maar vanuit allesbeheersende ekumenisiteit

”Hieruit sou ’n mens kon aflei dat Calvyn rigoristies en antiteties die ware kerk teenoor Roomse institusionalisme, Anabaptistiese seperatisme en spiritualisme en politieke erastianisme sou begrens. Calvyn benader die kerklike begrensing egter vanuit ’n allesbeheersende ekumenisiteit. Die ware kerk is die eenheid onder ware gelowiges. Hy ken net een kerk van Christus. Hy is pastoraal bewoë en byna irenies wanneer hy handel oor gebreke onder gelowiges wat die kerk is.

Die institusionele variasies geniet hoogstens in die verbygaan sy aandag. Hy waarsku steeds dat gegewe verskille in seremonies, liturgie, kerkregering en selfs punte van die leer nie die kerk bepaal of mag bepaal nie. ’n Soeke na institusionele en organisatoriese eenheid, enersheid en eenvormigheid met die sulkes, soos ons kontemporêre gedagtegang oor kerkeenheid en ekumene meermale gaan, kom nie by Calvyn voor nie.”

Vertrekpunt in die ordinatio Dei

“Calvyn gaan vir sy unieke ekklesiologie en politologie uit van die ordinatio Dei (God se orde). God orden onderskeie geestelike en politieke instellings. God het ’n natuurlike orde met eie wette en owerhede (magistrate) vir burgerlike samelewing (regim en politicum) daargestel. Ons moet diegene eer wat oor ons gestel is. Dit stel hy teenoor Dopers en rewolusioniste. Vanweë die sonde wat tot almal deurgedring het, het God deur die regverdigmaking en vergewing van sondes egter ook ’n regimen spirituale met sy Woord en Wet daargestel (ordinatio Dei).

Die Heilige Gees onderrig die mens in sy gewete deur hierdie verordening sodat hy God weer op die regte wyse kan vrees en dien. Die ,I’honneur et gloire de Dieu’ (die eer en heerlikheid van God) word gevolglik deur die sanctitas et puritas vitae (heiligheid en reinheid van die lewe) bereik. Die Woord bevat die imperium, decorum en mandatum Dei (die gebod van God se orde). Daarom sal hierdie Woord as sinoniem vir die ordening van God en as objektiewe kenteken die grense van die kerk bepaal.”

Vertrekpunt in die pneuma (Gees)

“Die Heilige Gees het ook ’n tweërlei taak: Hy beteuel diegene wat goddeloos lewe en Hy regeer in besonder in die hart van die gelowiges. Saam met die objektiewe ordinatio Dei in Wet en Woord speel die Heilige Gees deurgaans dialekties ’n bepalende rol…. Calvyn dink as teoloog vanuit God oor die kerk en nie vanuit die mens nie. Die grense van die kerk is dus deur God vasgestel en word bepaal deur sy Woord en Gees. So is die kerk wesenlik anders as enige gewone menslike samelewingsverband, instituut of struktuur.”

Die grens tussen kerk en staat

“Op sterkte van die ordinatio Dei noem Calvyn die Wederdopers se verwerping van die burgerlike orde en jurisdiksie van owerhede iudaica vanitas omdat hulle die ryk van Christus deur die elemente van die natuurlike orde laat bepaal. Calvyn sê burgerlike regering sou nie nodig gewees het nie, indien almal volmaak was. Vanweë die sonde is die burgerlike owerhede nodig sodat humaniteit onder die mense en religie onder die christene kan groei. Die owerheid het derhalwe ’n besondere roeping om die regte religie te handhaaf. Die geestelike regering het ’n prioriteit bo die natuurlike.

Owerhede (magistrate, persone) is ook sondaars wat die Koning van die konings moet gehoorsaam. Derhalwe gaan die prediking van die Woord ook tot die owerhede uit. … Die Anabaptiste het gesê die grens van die kerk loop saam met dié van hulle ‘heilige’ gemeente wat geloof bely het en op grond daarvan gedoop is. Die Corpus Christianum het die grense van die kerk met die volk of burgerlike gemeenskap laat saamval. Calvyn het met die Woord in so ver dit geglo en nageleef word die kerk binne in die volk, staat en gemeenskap begrens.”

Die gesag van die Woord gaan oor owerhede

“Wanneer Calvyn die owerhede onder die tug van die prediking (en nie prediker nie) stel en onverskilliges selfs toegang tot die nagmaal deur die herders laat ontsê, lyk dit asof hy „kerk” oor „staat” laat regeer, (veral wanneer ons, volgens moderne smaak, „herders” met „kerk as instituut” vereenselwig). In praktyk kan maklik gebeur dat ’n prediker se opinie met gesag van die Woord geïdentifiseer word. Dit is egter nie wat Calvyn bedoel het nie. Calvyn wou almal — van watter rang of stand ook al — onder die heerskappy van die Woord bring. Hy onderskei tussen die Woord as skat en die prediker as erdekruik en dink slegs aan afhouding en ekskommunikasie w anneer die Woord en Wet van God waarneem baar en hardnekkig opsy geskuif word.”

Net een begrensde kerk

“Calvyn dink vir geen oomblik aan die moontlikheid dat daar twee of m eer kerke kan wees nie. Daar is net een kerk wat die katolieke gemeenskap, die liggaam van Christus is. Christus is die Hoof van die liggaam. Herder van die een volk van God. Die kerk is die gemeenskap waarin al die uitverkorenes vergader is. Om dus in terme van twee of drie kerke te dink, sou Christus ‘verskeur’.”

 Net een kerk deur die verbond begrens

“Wanneer Calvyn self in die vierde boek van die Institusie, eerste hoofstuk, oor die kerk begin handel en dus die kerk moet defineer, begin hy met geloof wat die prediking gewek het. Agter die sigbare kerk is daar die onsigbare kerk wat begrens of bepaal word deur uitverkiesing en die inwendige roeping van God. Die goddelike verbond skei ’n besondere volk, ’n kerk, onder die nasies af. … God stel die kerk dan daar soos Hy dit afgrens wanneer Hy mense in die wêreld uitwendig deur die verkondiging van die Woord en inwendig deur die verligting van die Heilige Gees roep. God gee die geloof deur die Heilige Gees, sodat God die mense wat glo, d.w.s. die presiese afmeting van sy kerk ken. Dit is in hulle geloof wat ons die verkiesing van God leer ken.”

 Net een kerk deur geloof begrens

“Hoe nader ons dus na die sigbare verwerkliking van die verkiesing beweeg, hoe sterker begrens geloof die kerk. Dit is vanweë hierdie belangrike funksie van die geloof dat Calvyn in sy Institusie sy hoofstuk oor die kerk met geloof begin. Teenoor die Anabaptiste beklemtoon hy dan egter dat niemand op aarde ’n volkome geloof het nie, maar dat die geloof, waarsonder niemand salig word nie, gewerk en versterk moet word deur die prediking van die evangelie. Die sakramente is juis ingestel vir swakke gelowiges om hulle te versterk. Daarmee verwerp hy die opvatting van die Anabaptiste wat die grense van die ware kerk in hulle sigbare gemeenskap as ’n ‘volmaakte’ gemeenskap van gelowiges wou trek.”

Woordverkondiging gaan aan die kerk vooraf

“Dit is belangrik om op Calvyn se denke te let. Vir hom roep God (en nie die sigbare kerk nie) die herders en leraars deur sy Gees (inwendig) met die oog op die onsigbare kerk en daarom gaan die diens aan die sigbare kerkgestalte vooraf. Dit konstitiueer immers die sfeer waarin die onsigbare kerk sigbaar word.”

God alleen ken die wat syne is

“Daar is mense wat kerk is — mense wat die gedaante van kerk vertoon — maar nie kerk is nie. In die gebroke wêreld is daar soms wolwe in die sigbare kerk en kinders buite. Dit verplig ons om met die oordeel van die liefde almal vir die lede van die Kerk van Christus te hou ‘wat deur hulle geloofsbelydenis, hulle christelike lewe en hulle deelname aan die sakramente God en Christus saam met ons bely.’ Hier neem Calvyn dus die leer (konfessie), die gehoorsame lewe volgens die Woord, die gelowige gebruik van die sakram ente en die eenheid in diens as die grense van die sigbare kerk. In hierdie fasette word die een kerk ‘voor ons oë openbaar en sienlik’.”

Woord en sakrament begrens die kerk

“Die kerk is nie wesenlik instituut of struktuur nie, want ’n mens kan nie ’n  struktuur of instituut ken en beoordeel aan wat hy preek, hoor of hoe hy nagmaal gebruik nie. Dit is mense wat preek, hoor, sakramente bedien en gebruik. Die Bybel ken volgens Calvyn met die woord ‘kerk’ een van twee: of die ware kinders van God of die menigte mense oor die aarde wat bely dat hulle God en Christus ken, al is daar talle hipokrite onder hulle.”

Christus-regering begrens die kerk

“Die kerk is immers ’n vorm van die gerealiseerde koninkryk van Christus. Die gelowiges wat kerk is gehoorsaam Hom al op hierdie wêreld en daarom is die kerk vorm van gerealiseerde koninkryk. Hy sê dat ons inderdaad moet verwag om die kerk te vind waar Christus regeer.”

Die kerk is nie objektiewe struktuur nie

“Calvyn grens die kerk dus nie objektief af as ’n struktuur of groep waarby jy kan gaan aansluit nie — maar die kerk word in die dinamiese lewe, in die relasie waarin elke lid en die gemeenskap tot die lewende Woord staan, geken. In hierdie opsig het ons in die na-Calvynse tyd ’n kerkbegrip ontwikkel wat aan Calvyn vreemd is — nl. dié van die instituut as struktuur.”

Die kenmerk van die kerk

“Die Woord van God bepaal dus finaliter die grens van die kerk in sy sigbare gedaante. Die profetiese en apostoliese diens in die kerk moet dan ook sorg dat die doctrina (leer), die Woord van God, suiwer bewaar word. Wanneer die kerk (gemeente) nog die tekens van Woord en sakrament het, al is dit vol gebreke, mag niemand van die gemeente afskei nie.”

Die kerk is herstelde orde

Geloof en gehoorsaamheid (goeie werke) is onmiskenbare vrugte van die prediking. Prediking is die ‘moeder’ van geloof en omdat die kerk die sfeer is waar die Woord gepreek word, is die kerk moeder van die gelowiges. Die Heilige Gees moet egter werk in prediker en veral die hoorder. Dan kom daar ’n nuwe wyse van saamlewe, ’n goeie orde onder die mense na vore, wat die kerk is. Die kerk is dus geskiedenis van die herstel van orde in die wêreld, die sfeer waarin die herskeppende aktiwiteit van die Gees werk. God trek dus die grens om dat Hy afskei en herskep, afskei om met Homself te verenig wanneer sy beeld in die mens herskep word.”

Kerk is nie instituut nie maar verus ordo (ware orde)

“Die Rooms-Katolieke beskuldig Calvyn dat hy die kerk verlaat om dat hulle histories en institusioneel die kerk is en Calvyn van die kerk weggebreek het. Calvyn is oortuig dat hy van die pousgesindes geskei het, omdat hulle die kerk verlaat het. Die breuk was nodig sodat die suiwer prediking en waardigheid van die herders herstel kan word.”

Die kerk is nie objektiewe (waar of valse) instituut nie

”Calvyn het nooit in ’n dualisme van plaaslike kerk en algemene kerk (kerkverband) gedink nie en nooit die katolieke of universele kerk in sinodale kerke of kerkverbande gaan soek nie. Die universele het vir hom sienlik en konkreet geword in die mense waar en soos hulle deur die Woord en Gees met prediking en sakramente saamgebring is. Dit maak wesenlik verskil of die kerk in mense of in strukture bestaan.”

Institusionele is slegs faset van die dinamiese organisme

”Calvyn ignoreer of ontken nie die feit dat die sigbare kerk ’n institusionele faset vertoon nie. Hy praat van die em piriese ‘kerk van Korinthe’; die ‘pousdom’ en ‘hulle Kerk’ wat vir hom nie dié kerk is nie sodat skeiding met die pousdom nie skeiding van die ware kerk is nie; hy ken die ‘Roomse Kerk’ wie se ‘wette’ die reformatore nie eerbiedig nie, ens. Tog laat hy die grens van die een kerk van Christus dwarsdeur die Roomse Kerk loop. Hy onderskei binne die Roomse tussen pousdom en kerk, hierargie of instituut van priesters, wat die Woord van God nie gehoorsaam nie en Roomse gelowiges wat dit wel doen en dus kerk is. Die kerk is ’n gebou, pilaar en grondslag van die waarheid, wat aaneen gehou word deur die eenheid van geloof (doctrina = leer) en broederlike liefde.”

Die kerk word sigbaar in liturgie

Om die prediking te hoor is samekomste nodig. Die samekomste is geen hoog-kerklike of perfeksioneerde groepe nie, maar ’n eenheid in Gees en Waarheid, ’n gemeenskap aan Woord en sakrament onder die werk van die Heilige Gees. Derhalwe word die kerk ook sigbaar in die liturgie. God het ook gebed en lof verorden. Maar ook weer hier moet die liturgie bepaal word deur en uit die Woord van God gebou wees. Die sakramente is slegs die sigbare Woord (verbum visible) en nodig om die geloof wat die Woord werk te versterk.”

Die moeilik begrensbare kerk (ecclesia permixtum)

“Calvyn moes die grense van die kerk na twee kante verdedig, naamlik teenoor Rome en die Anabaptiste. Die Anabaptiste wou die Roomse en reformatoriese kerkinrigting nie erken nie en het gewys op die sondaars in die kerk, die gebreke en geldsug by die kerkdienaars en die alliansie tussen kerk en staat. Daarteenoor het hulle hulle kerkgemeenskap, gebou op die atomistiese geloofsbelydenis en doop van hulle aanhangers, geproklameer as die ware kerk van Christus, die vergadering van empiriese ‘heiliges’ en ‘volmaaktes”.  Van die kant van die pousdom weer is die reformatore verwyt dat hulle die ware kerk, die struktuur met sy historiese tradisie en inrigting, die mater fidelium waarbuite geen saligheid is nie, verlaat het en ongehoorsaam was aan die gesag van die ‘kerk’.”

Die offisiële instituut kan teenoor die kerk te staan kom

“By Rome onderskei Calvyn eintlik tussen pousdom en kerk. As sodanig kan hy toets of binne die Roomse struktuur na die Woord geluister word. So kan Calvyn onderskei tussen die valse kerk in die offisiële pousdom en reste van die ware kerk onder gelowiges wat onder verdrukking van die pousdom verkeer. Wanneer die kerk die ryk is waar Christus regeer, kan Hy nie verwag dat mense in die kerk moet bly waar sonde, dwaling en ongehoorsaamheid aan die Woord aan die orde van die dag is nie. Hoe kan die pousdom eis dat hulle gehoorsaam moet word as hulle self nie aan Christus gehoorsaam is nie? Hulle is buite die kerk al noem hulle hulle kerk.”

“Calvyn verwerp ook die Roomse aanspraak dat konsilies die beeld van die kerk vertoon en dat die kerk in die vergadering van herders bestaan. Die konsilie en herder het alleen gesag indien hulle besluite en bevele ooreenkom met die Woord van God, anders beswaar hierdie kerklike instellings slegs die gewetes van die gelowiges, die ware kerk. Die eenheid van die algemene kerk, die liggaam van Christus, verplig dat daar nooit ligtelik van hierdie kerk afgeskei mag word nie.”

“Calvyn kan die besware van die Anabaptiste teen die gruwels van kerklike voorgangers en mense in die kerk billik. Gebreke onder die mense van die kerk of verwaarlosing van die tug gee egter geen reg tot breuk nie, omdat die kerk per definisie ’n vergadering van sondaars en swak mense is, soos blyk uit die gelykenisse van die Here Jesus oor die saamwees van goeie en slegtes tot die dag van die oes, die kerk van Korinthe e.a. voorbeelde. Selfs in en onder die verrotte Roomse struktuur het God vanweë sy verbond sy kerk wonderlik bewaar. 0ns moet verlang na die suiwerheid in die kerk, maar nooit kan ons in ’n kerk van mense ’n suiwer kerk vind nie.”

Die tug as middel om die grense van die kerk te handhaaf

“Calvyn tree die Anabaptiste tegemoet deur die beginsel van heiligheid binne die gegewe onvolmaakte kerk te erken. Die tug is vir Calvyn nie so seer kenmerk van die ware kerk nie as noodsaaklike middel om die kerk te bou en te bewaar. Die tug is basies opvoeding met die Woord van God en begin as ’t ware met kategese. Hy wil pastoraal, met groot matigheid en liefde te werk gaan waar hy die Woord van God medies bedien. Die tug is immers vir hom die spiere van die kerk. Sonder tug is die kerk pap en slap en moeilik as kerk kenbaar…. Die tug is vir Calvyn ’n geestelike regering wat die oordeel van die vergaderinge van herders vereis. Dit verskil wesenlik van die burgerlike regering. Die tug soos Paulus eis, begin met die selfbeproewing wat elke mens ten opsigte van homself en nie ten opsigte van ’n ander nie met die oog op die nagmaal moet beoefen.”

Samevatting

“Calvyn se gedagtegang oor die kerk vorm ’n logiese gekonsentreerde eenheid. Hy verstaan die kerk konsekwent dialekties: enersyds as die een ware algemene kerk wat God in sy verkiesende genade en verbond deur die Woord en Gees vergader, beskerm en onderhou en andersyds as ’n organisme, ’n samekoms, ’n vergadering van mense waarin God onvolmaakte mense gebruik en roep tot die volmaaktheid. Die grens van die kerk word bepaal deur die wil en verordening van God en derhalwe uitgewerk deur die prediking van die Woord van God.”

“Die verband tussen kerk en staat lê in die feit dat beide ontstaan uit die ordening van God. Die grense tussen kerk en staat word eweso bepaal deur die eie taak, middele en verantwoordelikheid wat God vir die natuurlike en geestelike orde verordineer het. Die kerk en Woord is nie identies nie. Daarom het die Woord gesag oor dienaars van God in kerk en staat en trek die Woord wat gepreek en aangeneem word die grens tussen kerk en volk, plaaslike gemeenskap en staat.”

“Die feit dat Calvyn van ordinatio Dei, verkiesing, verbond, roeping, liggaam van Christus tot by die sigbare kerk kom, laat hom die kerk definieer as gemeenskap van lewende swakke mense, wat uit die Woord leef. Hulle moet groei deur die verkondiging van die Woord en die gebruik van die sakramente. Die opvatting van die kerk as organisme, liggaam, volk van God, laat Calvyn nooit van die kerk as ’n hipostatiese instelling, ’n idee, ’n legalistiese korporatiewe entiteit, ’n omlynde statiese struktuur, praat nie. Die begrip ‘kerk as instituut’ is vir Calvyn vreemd en daarom omlyn hy ook nie die kerk met wette, konstitusies of ordes nie — maar gee hy die orde vir die mense wat die bestaande kerk is.”

“Die ware kerk is daar waar die koningskap en priesterskap van Christus (regnum et sacerdotium Christi) gevind word. Vir die wese en regering van die kerk moet ons uit hierdie eenheid vertrek. By hom is geen platoniese dualisme tussen ’n kerkidee en kerkwerklikheid nie. Jy durf nie met die sigbare breek met ’n beroep  op die onsigbare nie. Luther se twee ryke en daarom skerp onderskeiding tussen onsigbare en sigbare kerk, is hom vreemd.

Aan die ander kant breek Calvyn ook met die Roomse en Anabaptiste wat die sigbare en onsigbare gedaantes van die kerk met mekaar vereenselwig. Dit is juis Calvyn se pneumatokratiese visie wat hom die kerk met sy unieke mistieke gedaante en aan die ander kant konkrete en empiriese gedaante tot ’n eenheid laat voer. Hy is verhewe bo die corpus christianum en kerkstaat problematiek van die Middeleeue. Tog kan juis hy deur sy pneumatokratiese opvatting die teokrasie as uitgangspunt neem en tegelyk die katolisiteit van kerk vashou in die veelheid van gebroke beelde om en in die een ware kerk, die liggaam van Christus.”

“Calvyn se politieke aktiwiteite het dus voortgevloei uit sy verstaan van die kerk. Die kerk is daardie beweging wat die beeld van God in die mens herstel sodat daardie mens in die wêreld sal werk in die rigting van die nuwe bestemming. Calvyn het die uniekheid van die kerk eerbiedig, maar was tegelyk oop na die wêreld en die toekoms. Hy kon ’n empiries historiese visie met ’n etiese beskouing tot eenheid bring omdat hy die wese van die kerk in mense en die kerk binne die mensdom gesien het. Die kerk egter self is daar waar die Woord van God in prediking en sakramente verkondig en gehoorsaam word — of anders gesê, waar die liggaam van Christus in die plaaslike kerkgemeenskap al is dit selfs onder gebreke, sigbaar word.”

Bron: Calvyn en die grense van die Kerk

_________________________________
Prof. Bouke Spoelstra: ‘n blyk van waardering

Soek verdere artikels van prof. Spoelstra hier: In die Skriflig

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑