1 PETRUS PREKE: (1) In Christus het ons alles wat nodig is vir ons pelgrimslewe tot die einde toe (1 Petrus 1:1,2)

Lees: 1 Petrus 1:1-2; 2 Petrus 1:10-21
Teks: 1 PETRUS, ʼn apostel van Jesus Christus, aan die vreemdelinge van die verstrooiing in Pontus, Galásië, Kappadócië, Asië en Bithínië, 2 uitverkore volgens die voorkennis van God die Vader, in die heiligmaking van die Gees, tot gehoorsaamheid en besprenkeling met die bloed van Jesus Christus: Mag genade en vrede vir julle vermenigvuldig word! (1:1,2)
Sing: Ps. 30:1-4; Ps. 121:1, 2; Ps. 121:3, 4; Ps. 30:5-8.
Opname (GK Carletonville, 2022-08-14):
Aflaai: 1 Petrus 1:1,2
[Nota: die teks hier onder en die preek self stem nie in alle inhoud ooreen nie]
Geliefde gemeente in Christus,
Wat doen die kind van die Here, die kerk van die Here as allerlei beproewinge en vervolginge oor ons kom, persoonlik of gesamentlik, ons wat op ʼn pelgrimspad is na die nuwe hemel en aarde?
Ja, wat doen ons wat nog die goeie stryd moet stry teen die Satan, die sondige wêreld, en oorblyfsels van die sondige natuur?
Dit is wat ons gaan leer deur die twee briewe van Petrus, en dit is in ʼn neutedop saamgevat, ook ons tema, oorsigtelik:
As uitverkore kinders van die Vader,
het ons alles in Christus wat ons nodig het,
vir ons pelgrimspad deur hierdie lewe na die ewige lewe,
na gees en liggaam, deur die kragvolle werk van die Heilige Gees.
Ons begin met verse 1 en 2, en ons wil drie sake leer hieruit:
- aangaande Petrus, die menslike skrywer, v. 1a
- aan wie hy die briewe rig, v.1b-2a en
- die seëngroet, v. 2b
1) Eerstens dan, Petrus, ʼn apostel van Jesus Christus.
Hy was die seun van Jona, ʼn visserman van Galilea, sy broer was Andreas, wat later ook dissipel sou word saam met hom.
Petrus was bekend as Simon-Petrus of Simeon Petrus, sien 2 Petrus 1:1.
Simon is die Grieks vir sy Hebreeuse naam Simeon, wat eenvoudig beteken ‘die een wat luister’… wat Petrus nie mee goed was nie… soos ons baiemaal…
Jesus, toe Hy vir Petrus roep en aanstel as apostel, gee Hy hom die naam ‘Petrus’, wat ‘rots’ beteken (sien Matt. 16:18), die naam is Latyns-Grieks vir Cefas, wat die Aramese vorm is van Petrus (Aramees was ʼn Hebreeuse dialek gewees, wat Jesus-hulle heel waarskynlik gepraat het).
So, een persoon met 2 name, verskillende tale.
Hy was een van die Twaalf, en het ʼn vername plek ingeneem, ook veral saam met Johannes en Jakobus, as die driemanskap.
Hy was herder-leier van die gemeente van Jerusalem, waarvan ons lees in die eerste deel van die boek Handelinge, maar het ook sendingreise onderneem.
Hy is vermoedelik onderstebo gekruisig in Rome, in ʼn martelaarsdood, die Rome wat hy ‘Babilon’ noem in hierdie brief, sien 5:13. Sien ook Jesus se profetiese woorde in Johannes 21:18-19, en, later sal ons hoor, juis daarom die sentrale doel en tema van sy briewe.
Nou vermeld Petrus net een saak in sy ‘CV’ of bekendstelling, oor wie hy is en wie hom gestuur het om die brief se inhoud met hul te deel, en dit is: “apostel van Jesus Christus”
Die woord ‘apostel’ beteken in die algemeen ‘boodskapper, gestuurde, afgevaardigde’, en kan breedweg enigiemand wees wat namens iemand gestuur of afgevaardig word, om ʼn boodskap oor te dra aan iemand anders.
Maar, die groot unieke eenmalige verskil hier, is apostel ‘van’ Jesus Christus, genitief van oorsprong of besit — Jesus Christus het Hom gered, geroep, en aangestel, om een van die Twaalf, unieke eenmalige, boodskappers en afgevaardiges van sy kerk te wees, wat saam met die profete van die OT (sien 2 Pe. 3:2), die finale fondament van die kerk vir altyd sou lê, Ef. 2:20, “gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is” (sien ook Hebreërs. 1:1, 2)
Apostels moes direk deur ons Here Jesus, die Koning van die Kerk, geroep en aangestel wees, Luk. 8:13; Hand. 1:21, 22 saam Hom bedien het, en sommige van hul sou goddelike instrumente wees om die finale openbaring, die Woord deur die Gees van God vir alle tye en plekke te gee, waaronder Petrus ook nou hier in die 2 briewe. Judas sou wegval, en Matthias sou sy plek neem, en later sou Jesus ook Paulus roep en aanstel, Hand. 9; 1 Korinthiërs 15:1-3.
Saamgaande, maar nie uniek tot net die apostel amp nie, was die kentekens van Apostels, Hebr. 12:12, “Die kentekens tog van ʼn apostel is onder julle verwerklik met alle volharding deur tekens en wonders en kragtige dade.” (2 Korinthiërs 12:12).
Nou leer ons hieruit solank 2 baie belangrike sake:
- Ons verwerp enige een of godsdienstige groep wat beweer hulle is nog apostels, bloot op grond van wat hierbo genoem word oor apostels, wat buitengewone eenmalige gawes was vir die vestiging van die kerk, en nie voortgaan of herhaal word in die eeue nie.
- Sien dit wat Petrus nou hier gaan skrywe verder, nie as mense wyshede, opinies of voorstelle nie, maar as God se onfeilbare foutlose Woord, soos hy dit stel in 2 Petrus 1:16-21 wat ons gelees het, kom ons luister weer: “Want ons het nie kunstig verdigte fabels nagevolg toe ons julle die krag en koms van onse Here Jesus Christus bekend gemaak het nie, maar ons was aanskouers van sy majesteit; want Hy het van God die Vader eer en heerlikheid ontvang toe hierdie stem uit die luisterryke heerlikheid tot Hom gekom het: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ʼn welbehae het. En hierdie stem het ons uit die hemel hoor kom toe ons saam met Hom op die heilige berg was. En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ʼn lamp wat in ʼn donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte; terwyl julle veral dít moet weet, dat geen profesie van die Skrif ʼn saak van eie uitlegging is nie; want geen profesie is ooit deur die wil van ʼn mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.” (2 Petrus 1:16–21)
Dit wat ons hier in die 2 Petrus briewe vind, is nie die kerkraad, ds. Slabbert of die kerkverband of enige ander mense se menings en idees nie, maar die Woord van God wat aan jul verkondig word, soos Petrus dit ook later in die 1e hoofstuk stel, waarmee ons nou te doen het:
“Want alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos ʼn blom van die gras. Die gras verdor en sy blom val af, maar die woord van die Here bly tot in ewigheid. En dit is die woord wat aan julle verkondig is” (1 Petrus 1:24–25)
2) Dit bring ons by die tweede saak wat ons volgende leer: aan wie die briewe gerig word?
Dit word gerig eerstens, aan, verse 1b: aan die vreemdelinge van die verstrooiing in Pontus, Galásië, Kappadócië, Asië en Bithínië.
Dit was gelowiges gewees, wat destyds in die eerste eeu, die brief is ongeveer in 65 AD geskryf, verstrooi of versprei was in die gebied van Klein-Asië, vandag se Turkye.
Sommige verklaardes vermeld dit bloot as die kerk wat nou orals versprei het, tereg nie meer net onder Israel nie, maar nou orals. Sien die Pinkster gebeure van Hand. 2, ja, die Here se kinders is nie meer in 1e eeu net in Palestina nie, die gelowiges onder die Jode, soos in die OT tye waar die volk bv. in ballingskap vreemdelinge was, is nou in gebiede wat nie hul lande is waar hul gewoonlik bly nie.
Ander meen, dit is meer, en albei is korrek, dat die woord ‘verstrooiing’ en ‘vreemdelinge’ wys nie net op die fisiese aspek nie, maar ook en veral die geestelike aspek daarvan, en die twee hoef nie mekaar te weerspreek nie.
Dus, dat dit gelowiges is wat nou weens vervolging en swaarkry, waaroor die brief tog gaan, nou orals versprei is, ons lees in Hand. 8:1 van groot vervolging wat hul verspreiding veroorsaak het, weens hul geloof, en dan oor die algemeen, beteken dit dan juis, dat gelowiges orals, sal besef ons is vreemdelinge, die woord wys op pelgrims, ook en veral wat ons geloof betref.
‘Hierdie wêreld is nie ons woning nie’, gaan Petrus nou verder baie leer, ons is op pad na die nuwe hemel en aarde, nuwe Jerusalem, maar, hierdie pelgrimspad en identiteit, vreemdelingskap, moet nie verkeerd verstaan word nie.
Dit is nie noodwendig ʼn fisiese vreemdelingskap nie, maar dit kan baiemaal wees, dat ons iewers van iemand of ʼn plek weens ons geloof ons moet vervreem, maar die wese is, waarvan ons later meer gaan leer wat die vreemdelingskap behels, dit hoor ons in 1 Petrus 2:11, “GELIEFDES, ek vermaan julle as bywoners en vreemdelinge om julle te onthou van vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel”.
As die gelowiges, en die kerk sê: ons is ‘in’ die wêreld, nie ‘van’ die wêreld nie (Johannes 17), as ons sê hierdie wêreld is nie ons woning nie (Totius), ons is hemelse burgers en ons soek die stad daarbo (Hebreërs 11), dan sê ons daarmee nie dat die skepping, kosmos, liggaamlike dinge, boos is en ons wil ontvlug nie, dit is gnostiek, valse geesdrywery, sien Kolossense 2 en 1 Timotheus 4 se waarskuwings daarteen.
Ons bedoel met daardie woorde, die oorsprong, die bron van ons geloof en lewe, is vanuit die hemel, en nie uit die aarde nie.
Ons sê dat vervalle, sondige goddelose wêreld het nie die laaste sê nie, ons is vreemdelinge, ja vyande van die sonde, Satan en wêreld, maar nie van die natuur, skepping en dinge wat nie opsigself nie sonde is nie.
Ons is vreemd van, en in in stryd met die Bose, waar dit ook al geestelik en fisies voorkom, maar daaroor gaan ons deur die hele 2 briewe leer… en dit word bevestig deur dit wat Petrus deur die Gees nou in wese openbaar, waaroor die res van die brief gaan, en dit is dat hy wys vir hulle in die stryd as vreemdelinge, as pelgrims teen die doodsvyande, wat hul nuwe en ware identiteit deur die geloof in Christus nou is, en dat dit hul hele pelgrimspad moet bepaal, sien dit in vers 2a, “uitverkore volgens die voorkennis van God die Vader, in die heiligmaking van die Gees, tot gehoorsaamheid en besprenkeling met die bloed van Jesus Christus: Mag genade en vrede vir julle vermenigvuldig word!” (1 Petrus 1:2)
Petrus het wat homself, sy grootste en allesbepalende identiteit gegee in vers 1. Hy is kind en dienskneg van ons Here Jesus Christus, en nou leer hy dit ook vir die gelowiges daar in die 1e eeu, maar ook vir alle gelowiges deur die eeue, ook vir ons! Dit is hierdie een saak: jy is kind van God, uiteengesit in 3 detail aspekte, wat die res van die brief meer inligting oor gaan gee.
En dit is:
a) jy is uitverkore volgens die voorkennis van God die Vader, wat ook al oor jou lewenspad kom en gaan kom, jy is in sy Vaderhand, onfeilbaar. Die voorkennis is nie bloot ʼn ‘weet van’ jou vooraf nie, maar Hy beskik en bepaal ook jou lewe,
b) en daarom is jy in Christus gered deur sy bloed, sy kosbare Seun is vir jou gegee, en die sekerheid van hierdie verlossing word vir jou toegepas deur,
c) die kragvolle werking van die heiligmaking van die Heilige Gees.
Dus: God Drie-enig wat red en bewaar tot die einde toe, ons hele lewe, ons hele pelgrimspad tot in ewigheid!
Dit wat ons opnuut bely het met die Geloofsbelydenis van Nicea.
Baie belangrike toepassing vir ons tye: ons is dus nie net ʼn Vader, of Jesus of Gees kerk nie, ons is alles saam, die werk van skepping, verlossing, dankbaarheid is God Drie-enig, prys sy Naam!
Wat bely ons daar in HK Sondag 8, so belangrik:
Sondag 8
23 Vr. Hoe word hierdie artikels verdeel? Antw. In drie dele: die eerste handel oor God die Vader en ons skepping; die tweede, oor God die Seun en ons verlossing; die derde, oor God die Heilige Gees en ons heiligmaking.
24 Vr. Aangesien daar maar ʼn enige Goddelike wese is, waarom noem jy die Vader, die Seun en die Heilige Gees? Antw. (a) Omdat God Hom so in sy Woord geopenbaar het (b) dat dié drie onderskeie Persone die enige, waaragtige en ewige God is.
En nou is dit belangrik om te sien geliefdes:
– in die uitverkiesing lê die vastheid en troos van ons ewige geluksaligheid,
– in die bloed van Christus lê die troos van geen meer veroordeling nie, die straf is betaal, ons is vrygekoop,
– in die Gees lê die toepassing en krag van God se reddingsplan en toepassing van die heil, en wat staan daar…tot gehoorsaamheid en (deur) die bloed van Christus.
Wat beteken dit?
Nie net my ewige geluksaligheid as pelgrim vir die ewigheid is vas en seker nie, maar wat vir my vandag voorlê, nie net moet ek nie, maar kan ek nou deur Gees en Woord doen wat God behaag:
– liefde tot God en die naaste,
– die goeie stryd stry teen vyande,
– eintlik alles waaroor Petrus nou gaan leer in die komende hoofstukke.
GELIEFDES, hierdie is so wesentlik belangrik, as u dit nie verstaan nie, bid en besin weer daaroor, sommige wil dit nie verstaan nie, dat beide ons regverdiging en heiligmaking in Christus volbring is, sodat ons nie meer in die sonde nie, maar in Hom in alles sal lewe (sien 1 Pe. 4:1-2), daarom mag ons nie en hoef ons nie meer in sondes en bitterheid lewe nie.
MAAR, die lyn van uitverkiesing — Christus wat redding uitvoer — die Gees wat dit onfeilbaar toepas, is onlosmaaklik, die ‘goue ketting van redding’ (sien Rom. 2:28-30), jy kan nie net die een (regverdiging) of ander (heiligmaking) kies nie … dit is ʼn goue ketting van verlossing, en daarom skryf Petrus later in die tweede brief:
“IMMERS, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug,” (2 Petrus 1:3)
3) En dan, derdens en laastens, op grond van daardie basis en bron, v. 2a, kom die gebed, oproep, die groetwoorde van bemoediging maar ook vermaning, “…Mag genade en vrede vir julle vermenigvuldig word!” (1 Petrus 1:2).
Genade, is God se ewige guns en liefde vir jou in Christus bewys, klaar, vas en seker, en die vrug daarvan is wie jy nou is en altyd sal wees, ʼn mens van vrede, shalom. Vrede met God, maar ook vrede met mekaar:
“OMDAT ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus; deur wie ons ook deur die geloof die toegang verkry het tot hierdie genade waarin ons staan; en ons roem in die hoop op die heerlikheid van God” (Rom. 5:1,2)
Vrede met God beteken vyand van die sonde en goddelose wêreld en die Satan, vyand van die eie sonde!
En, as hy dan oproep, ‘vermenigvuldig’, dan beteken dit ons groei in die geloof, hoe langer hoe meer, deur sy Gees en Woord (sien sy laaste oproep in 2 Pe. 3:18… ‘maar julle moet toeneem’…).
Ons moet groei in ons kennis en verstaan van die evangelie en die hele Woord en hoe dit my hele pelgrimslewe raak, alle terreine van my lewe en denke, alle verhoudings van my lewe (sien 1 Pe. 2:11-3:11) ons moet groei in heiligmaking, soos Petrus noem in verse 15, 16, “Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.” (1 Petrus 1:15–16).
Geliefdes, laastens en samevattend: as iemand vra, wie is jy… wat is jou antwoord…?
Nie, wat is jou naam of waar bly jy nie, of waarvan hou jy nie… maar wie IS jy, wat laat jou ‘tiek’, wat beweeg jou, wat laat jou opstaan en lewe?
Mag die antwoord daarop wees, wat Petrus hier in vers 1,2 en dan ook die res van die briewe gaan leer:
My lewe gaan oor Christus en sy Woord, Hy is my lig deur sy Gees, Sy Woord is ʼn lig op my pad, en daarom ook: soek ek die Woord, soek ek die prediking van sy Woord, jaag ek na wat goed is, saam met hulle wat sy Naam bely (2 Tim. 2:22)… vandag en elke dag van my lewe op my pelgrimspad!
Mag deur wat ons deur hierdie twee briewe gaan leer, jou antwoord, ons antwoord wees as gemeente saam met Petrus, en die gelowiges deur die eeue toe baie, ja baie – soos in ons tye – Jesus, sy Woord, en ten einde sy kerk begin verlaat het daar in Joh. 6 (gaan lees die hele hoofstuk), omdat sy goeie weg vir hul sogenaamd te ‘hard’ begin raak het, ja, mag ons soos Petrus ook uit genade, deur die geloof antwoord:
“Toe sê Jesus vir die twaalf: Wil julle nie ook weggaan nie? En Simon Petrus antwoord Hom: Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe. En ons het geglo en erken dat U die Christus is, die Seun van die lewende God.” (Johannes 6:67–69)
Amen.
__________________________________________________
Ander Petrus preke hier.
Ander S. Le Cornu preke en lesings hier beskikbaar.
Leave a comment