1 PETRUS PREKE: (2) Die lewende hoop is vas en seker in Jesus Christus (1 Petrus 1:3-5)

Lees: 1 Petrus 1:3-5
Teks: 3 GESEËND is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot ʼn lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode, 4 sodat ons ʼn onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die hemele bewaar is vir ons 5 wat in die krag van God bewaar word deur die geloof tot die saligheid wat gereed is om geopenbaar te word in die laaste tyd.
Sing: Ps. 33:5, 6; Ps. 86:1, 3, 6; Ps. 37:21-23; Ps. 88:1, 13, 14.
Opname (GK Carletonville, 2022-08-21):
Aflaai: 1 Petrus 1:3-5
[Nota: die teks hier onder en die preek self stem nie in alle inhoud ooreen nie]
Geliefde gemeente in Christus,
Die laaste ding wat ons dalk wil hoor in beproewing, swaarkry, vervolging, is… dat ons die Here moet loof en prys midde daardie beproewing of swaarkry… maar, dit is presies wat Petrus die gelowiges, die vreemdelinge in die verstrooiing, daar in die eerste eeu, alle eeue, en ook ons vandag toe oproep, in ons teksgedeelte van verse 3-5.
Geseënd (ja, lofwaardig – die 2020 vertaling) is die God en Vader van ons Here Jesus Christus!
WANT die geskenk wat Hy ons in Christus gegee het, gee ons ʼn lewende hoop, vir die ewigheid, maar ook vir die lewe hier en nou op ons pelgrimspad.
DIT wil ons leer vanoggend uit ons Teks.
Ons het in vers 1-2 geleer oor wie ons red, dit is God Drie-enig, Vader, Seun en Heilige Gees.
In verse 3-5 leer ons nou sommer dadelik, hier in die begin, om die Here te loof vir die inhoud van daardie redding, wat ons hoop gee in ʼn wêreld van wanhoop.
Wat ons hoop gee vir die ewigheid, maar ook hoop vir die lewe hier en nou, midde die goeie stryd wat gestry moet word.
Ons gaan op drie sake let vanoggend:
1) Die oorsprong en bron van ons lewende hoop, v. 3
2) die aard en sekerheid van ons lewende hoop, v. 4
3) die troosvolle toekoms en vastheid van ons lewende hoop, v. 5
1) Die oorsprong en bron van ons lewende hoop, v. 3
Ons prys die Here wat volgens ‘sy grote barmhartigheid’ ons die ‘wedergeboorte geskenk het’.
Ja, niks in ons nie, want ons word in sonde ontvang en gebore (Doop Formulier), ons werke uit onsself, wys ons is dood en het geen hoop nie, maar kragtens sy barmhartigheid, sy ontferming, sy liefde, ‘skenk hy ons wedergeboorte’ = ʼn nuwe lewe, laat Hy ons nie in die sonde bly nie, maar herskep ons deur sy Gees, Hy plant ʼn nuwe lewe in ons.
Alle mense word gebore, nie almal ontvang die geskenk van wedergeboorte nie.
Weder – beteken ‘weer’ of ‘van Bo’, uit die hemele, ʼn wonderdaad van God, wat Hy sonder ons, in ons werk, deur sy Gees en Woord, sien DL 3/4:10-12 in ons belydenis.
En as die Here Hom ontferm oor ons geliefdes, dus Hy gee om, beteken dit wat?
Want so lief het God (in sy barmhartigheid, ontferming) ons liefgehad het, dat Hy sy eniggebore Seun, gegee het, dus sy omgee lei tot gee.
Wat het die Vader gedoen om sy barmhartigheid te wys?
Ons lees dit in die tweede gedeelte van v. 3, “… tot ʼn lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode,” (1 Pet. 1:3)
HY gee ons wat wanhopig was, verlore in ons sonde, ʼn wêreld wat Hom verag het, op pad was na die dood, hel, dus geen hoop het nie…. gee Hy weer hoop, ʼn toekoms, lewe, in en deur Jesus Christus se lewe, sterwe, opstanding uit die dood. Ja, die Here gee weer Hoop vir hulle wat dood en verlore was in hul sonde en ellende.
Daarop die woorde ‘lewende hoop’ is Jesus, Hy is die weg, waarheid en die … lewe! Joh. 14:6.
Vir hulle wat in hierdie lewe, gedood word, wat ly, swaarkry, is daar ʼn lewendige hoop.
Wat sê Jesus vir die valse profete van sy dag, vir hulle wat dink die dood, sonde, verderf het die laaste sê, wat meen daar is geen toekomstige hoop en lewe nie?
“En wat die opstanding van die dode betref — het julle nie die woord gelees wat tot julle deur God gespreek is nie: Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob? God is nie ʼn God van dooies nie, maar van lewendes.” (Mat. 22:31–32)
Wat sê die engele vir die vroue by die graf: “Waarom soek julle die Lewende by die dooies?” (Luk. 24:5)
En hierdie lewende Hoop geliefdes,
Christus het opgestaan, beteken ons sal ook opstaan, die hoop van die ewige lewe en die volle geluksaligheid, dit bepaal ons lewe vir die ewigheid, maar ook hier en nou, sien 1 Kor. 15. Maar ja, die volkomenheid van hierdie lewende hoop kom eers in die ewigheid, maar is reeds nou vas en seker, dit sien ons in die tweede plek:
2) die aard en sekerheid van ons lewende hoop, v. 4
Petrus kan nie genoeg woorde gebruik om ons ‘lewende hoop’ te beskryf nie, “sodat ons ʼn onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die hemele bewaar is vir ons” (1 Pet. 1:4)
Ons is deur die geloof in Christus, erfgename van hierdie lewendige hoop.
En om dit te beklemtoon gebruik Petrus 3 woorde om dit te beskryf, hoe vas en seker ons saligheid is, en dat die volkomenheid daarvan nog sal kom.
Die eerste woord is ‘onverganklik’, dus nie tydelik nie, dit sal vir altyd bestaan.
Ons aardse besittings vergaan, kan kom en gaan, maar die verlossing in Christus is vir altyd.
Geen uiterlike gevare, vervolginge, mense, dinge kan ons van die Here skei nie.
Die tweede woord is ‘onbesmetlik’, dus dit is volkome rein, die sonde kan dit nie vernietig nie, teenoor die goddelose se pogings, sal dit staande bly, selfs teen ons eie sonde oorblyfsels, sal dit staande bly.
Die derde woord, dit is ‘onverwelklik’, sien vers 24 verder in hoofstuk 1, ja, blomme kan verwelk, menende dit is baie mooi vir ʼn tyd, dan gaan dit verby… maar die verlossing van die Here bly ewig mooi, bly sy heerlikheid hou vir altyd.
Petrus wil ons in verwondering laat oor die lewende hoop, die kosbare geskenk van wedergeboorte, die hemelse erfenis in Christus wat ons ontvang het, en nooit sal verloor nie.
Ja, in die woorde van Paulus, mede-apostel en dienskneg van die Lewende Hoop:
“Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het. Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.” (Rom. 8:37–39)
1 Joh. 2:17, “En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.” (1 Joh. 2:17)
En hierdie hoop geliefdes, hierdie bybelse hoop is nie ʼn ‘moontlikheid’ nie, nie ‘dalk’ of ‘as’ nie, die bybelse hoop is absoluut vas en seker, hoekom?
Omdat dit ‘in die hemele bewaar is vir ons’, en deur die krag van God bewaar word, in Christus wat aan die Vader se regterhand is, dit sien ons in die derde plek:
3) die troosvolle toekoms en vastheid van ons lewende hoop, v.5
Om te sê ons lewende hoop, ons erfenis word bewaar in die hemele, dan is dit om te sê, dit is vas en seker in God se Hand, en niemand kan dit verander nie, Christus het opgestaan en opgevaar, vas en seker, alles volbring vir elkeen van sy kinders, elkeen van sy pelgrims wat nog ʼn moeilike pad moet bewandel, tot die einde toe.
Dit is wat vers 5 dan ook leer, die bewaar in die hemele, is militêre term wat gebruik word om te wys, dat midde al die aanslae wat daar is, hetsy van die eie sonde oorblyfsels, die wêreld, die Satan…. die Here se krag, wat die krag is van die Gees wat alles geskape het, wonders doen, alles onderhou, ook die krag is wat jou redding sal bewaar en volkome sal vervul tot op die laaste dag.
Daarom hoor ons die sekerheidswoorde deur die Skrif op verskillende plekke, Jesus self aan sy pelgrimsgelowiges:
“En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.” (Joh. 10:28)
Paulus:
“omdat ek juis hierop vertrou, dat Hy wat ʼn goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus;” (Fil. 1:6)
Johannes:
“Dit het ek geskrywe aan julle wat glo in die Naam van die Seun van God, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het en kan glo in die Naam van die Seun van God.” (1 Joh. 5:13).
Maar nou, belangrik geliefdes: Hoe leef ons tot die laaste dag aanbreek, ons wat nog hoop, nog nie die dinge sien of beleef in volkomenheid nie, wat nog midde die pelgrimspad is?
Die antwoord het ons ook gehoor, daar in v. 5,
“wat in die krag van God bewaar word deur die geloof tot die saligheid wat gereed is om geopenbaar te word in die laaste tyd.” (1 Pet. 1:5)
Deur die geloof, en nie aanskouing nie!
Die volkomenheid van ons lewende hoop, ons heerlike erfenis, gaan eers in die laaste tyd = wederkoms volkome geopenbaar word.
En daarom moet ons deur die geloof in Christus, deur die geloof in sy beloftes van die volkome lewende hoop, daagliks wandel en lewe, want sonder geloof, skryf die Hebreërskrywer (11:6), is dit onmoontlik om God te behaag.
Ja, geloof is self ʼn geskenk van God, wat ons moet afbid vir ons en ons kinders, én ook, dat die Here baiemaal my swak geloof, klein geloof te hulp sal kom.
Om te volhard op die goeie pelgrimspad van die lewende hoop en volkome erfenis in Christus.
Hoekom val soveel weg van hierdie pad van die geloof, soveel in die sigbare deel van die kerk wat eers met ons was, en later weggegaan het?
Petrus gaan ons meer daarvan deur sy briewe leer, veral die laaste brief, maar hier wil ek na Paulus in Rom. 8:16, 17 verwys:
“Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is; en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede-erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.” (Rom. 8:16–17)
Die geloof is ʼn saak van verheerliking (die kroon), maar dan ook lyding (kruis dra), en baie wil net die kroon dra, nie die kruis van sondes, wêreld aflê, bekeer, pelgrim wees nie, en verloor dan alles….
Die oomblik wanneer jy die sin van die lewe, in iets op aarde soek, die lewende hoop in die mens of skepping soek, dan gaan jy sukkel op die pelgrimspad, baie sukkel, want dit is alles nie God nie, dit kan nie red of troos nie, net God Drie-enig self kan vers 4 gee in sy genade, vir altyd!
Jesus waarsku in liefde vir my en vir u vandag:
“MOENIE vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie; want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.” (Mat. 6:19–21)
En dan, as God in sy ontferming gee… die lewende hoop… dan wat doen ek, as ek ʼn verlore wêreld om my sien …. ek gee die evangelie ook vir ander, sien solank 1 Pet. 3:15.
Moet ook nie hierdie lewende hoop en erfenis verruil vir die sonde en wêreld, met sy tydelike plesiere nie, maar volhard in die geloof, deur aanbidding, want dit begin alles by God self, daarom die wesentlike saak wat Petrus hier openbaar: Geseënd is God, dus lofwaardig is God vir sy genade en ontferming!
Want die doel van alles, ons redding, ons swaarkry, ons pelgrimspad is HYself, HY is ons erfenis, HY is ons lewende Hoop:
“…. en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers. Toe sien ek, en ek hoor ʼn stem van baie engele rondom die troon en van die lewende wesens en die ouderlinge; en hulle getal was tienduisende van tienduisende en duisende van duisende; en met ʼn groot stem het hulle gesê: Die Lam wat geslag is, is waardig om te ontvang die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof.” (Op. 5:10–12)
Amen.
__________________________________________________
Ander Petrus preke hier.
Ander S. Le Cornu preke en lesings hier beskikbaar.
Leave a comment