1 PETRUS PREKE: (3) Verheug jou midde beproewinge in Hom wat jy liefhet (1 Petrus 1:6-9)

Lees: 1 Petrus 1:1-9
Teks: 6 Daarin verheug julle jul, al word julle nou — as dit nodig is — ʼn kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge, 7 sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus; 8 vir wie julle, al het julle Hom nie gesien nie, tog liefhet; in wie julle, al sien julle Hom nou nie, tog glo en julle verbly met ʼn onuitspreeklike en heerlike blydskap, 9 en die einddoel van julle geloof, die saligheid van julle siele, verkry. (1 Petrus 1:6-9)
Sing: Ps. 122:1, 2; Sing: Ps. 98:1, 2; Ps. 98:3, 4; Ps. 48:4, 5
Opname (GK Carletonville, 2022-09-11):
Aflaai: 1 Petrus 1:6-9
[Nota: die teks hier onder en die preek self stem nie in alle inhoud ooreen nie]
Geliefde gemeente in Christus,
Die afgelope week, waarin het jy jou verheug, waaroor was jy bly, enigiets groot of klein? Dalk iets moois wat jy gesien het, of wat jy gelees of gehoor het. Iemand wat ʼn mooi woord oor jou gespreek het, of ‘n geskenk vir jou gegee het. Dalk goeie nuus van jouself of geliefde se gesondheid, ʼn beter werksaanbod, lekker bord kos, klere, ens ens…
Nou wat gaan u sê, as ek vanoggend vir u sê of vra, of selfs sê u moet u verheug, verbly, dit uitjubel wanneer dit swaar gaan, wanneer daar juis aanslae op u lewe is, geestelik en/of fisies, deur die sonde, Satan en die wêreld. Wat gaan u sê as u predikant van u vra, om in die woorde van die Heidelbergse Kategismus Sondag 10 te gebruik, as kind van God, as pelgrim van God… om jou te verheug nie net in,
– reën nie …. maar ook oor die droogte,
– vrugbare jare alleen nie, maar ook in onvrugbare jare,
– in gesondheid maar ook in krankheid,
– in rykdom maar ook in armoede….?
Wel, dominee, dit is dalk maklik vir jou om te sê … of: hoe kan ʼn liefdevolle God dit van my verwag …?
MAAR, geliefdes, dit is wat die HERE self, deur sy Gees, deur Petrus hier van ons vra!
Die woord ‘verheug’ kan ook as ʼn bevel gesien word, oproep deur bevel, soos Paulus in Filp. 4:4 ook oproep … verbly julle, ek herhaal verbly julle!
Wanneer?
As julle bedroef word, wanneer daar lyding en swaarkry is, wanneer julle beproef word, getoets word in julle geloof in hierdie lewe.
Maar let nou mooi geliefdes, wanneer jy beproef word: daar staan nie verheug jou in die swaarkry dinge wat nie aangenaam is nie, hetsy of dit jou eie sonde en skuld is, en/of die algemene gevolge van die sondeval is (ons onvolkomenheid, gebrokenheid van die lewe), hetsy of ander jou vervolg, hetsy die wêreld wat vervolg word… ja, daardie hartseer en pyn, siekte en dood, is nooit … lekker nie, aangenaam nie, dit is swaar en pynigend, en ons ontken dit nie, ons is nie lief vir pyn en swaarkry nie.
Dit is juis een van die sake wat so wonderlik is van die christelike geloof, dit ontken nie die hartseer realiteit en werklikheid van die sonde en gevolge daarvan vir ons en ons naaste nie, vir die kosmos, alles is getref deur die verskriklike sonde (Rom. 5:12).
Die HERE se opdrag is: verheug nie daaroor nie, maar daarin.
Hoekom?
Vers 6, wys, eerstens, verheug jou in die swaarkry tye, ‘daarin’, en dit wys terug na die inhoud van v. 1-5. Kom ons lees dit weer, veral vers 3-5, baie aandagtig:
“GESEËND is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot ʼn lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode, sodat ons ʼn onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die hemele bewaar is vir ons wat in die krag van God bewaar word deur die geloof tot die saligheid wat gereed is om geopenbaar te word in die laaste tyd.” (1 Pet. 1:3–5)
Verheug jou daarin dat God Drie-enig jou gered het, dat jy ʼn ‘onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis’ het wat God bewaar, wat jy nou reeds het, en in die wederkoms volkome sal ontvang, en dit sal jou dra deur hierdie lewe.
Dit is wat ons as ewige erfenis ontvang het, vas en seker, maar onthou, die erfenis word eers met wederkoms volkome ontvang, en ja, deel van die erfenis, is ook die kruis dra nou, die woestynlewe nou, en daarom, v. 6, ‘as dit nodig is’, dit is, as God dit so bepaal het, volgens sy goeie raadswil en plan, dan word die gelowige, en die kerk beproef onder allerlei beproewinge, maar let wel, reeds op die troosvolle kontras:
– ewige … erfenis teenoor, ʼn …. ‘kort tydjie’ (v. 6)
– in hierdie wêreld, so kort in vergelyking met die ewigheid.
EN, wat is die doel van hierdie beproewinge oor my lewenspad?
Vers 7 antwoord dit:
“sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus.” (1 Pet. 1:7)
Dit kan ook so vertaal en verduidelik word: …dat die egtheid van julle geloof na vore kan kom.
Die doel van die beproewinge, wat dit ook al kan wees wat die Here oor jou lewenspad bepaal, toelaat, sonde of nie … is twee sake geliefdes:
– ondersoekend, toetsend, en/of
– reinigend, skoonmaak, beter maak.
Ja, soos goud gelouter en skoongemaak word om nog beter en helderder te skyn, die waarde wat daar reeds is nog meer na vore te bring, so word deur beproewinge, die egtheid van ons geloof gewys, en/of nog verder in heiligmaking gevorm, en groei dit!
Alles word afgekap en gesny, en ja, dit is ʼn loutering deur vuur, op verskillende maniere, dit brand pynigend baiemaal… dit is seer, dit sny diep, is nie gemaklik nie … maar dit maak skoon en reinig.
In die sigbare kerk brand die vuur van loutering ook baiemaal soos ‘n tweesnydende swaard, ja orals in die lewe … maar ook in die kerk, as die liefdevolle tug toegepas word, die Woord en Gees my tugtig oor sonde en ongehoorsaamheid, dan werk dit pyn maar herstel vir die ware gelowige.
Daarenteen, die ongelowige, wat ʼn valse siening het van God, geloof, Bybel en kerk, ens. draai al meer en en ten einde sy rug op die geloof, dit is hulle wat baiemaal soos in vandag se kerk dink, dat om die Here te volg moet ons net ‘suksesvol wees en goed gaan’ volgens wêreldse aansien en standaarde, terwyl ons lees dat bv Petrus se bediening eindig met baie lyding en swaarkry (Joh. 21:18-19).
So die vuur van beproewing, in hierdie lewe, deur die beitels wat die Here kies, wil afbrand en skoonbrand wat nog verkeerd, onrein, sondig is in ons, en dit is lewenslank geliefdes, en dit lei ons na vers 7, die 2de deel, en:
… bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus
Vorige keer het ons dit reeds gehoor, sodat ons weer ons skeppings- en verlossingsdoel kan nakom en na jaag …. lof en eer van God in Christus!
En wat dryf ons dan, vir jou as gelowige, om te volhard tot die einde toe, om v. 9 ‘die saligheid van ons siele’ te verkry?
Natuurlik die Bron van v. 3-5, die genade wat ons geskenk is, die wedergeboorte, die opstanding van Christus, die Gees se krag …
maar ook en veral, die motief en rede, wat ons lees in vers 8:
“vir wie julle, al het julle Hom nie gesien nie, tog liefhet; in wie julle, al sien julle Hom nou nie, tog glo en julle verbly met ʼn onuitspreeklike en heerlike blydskap,” (1 Pet. 1:8)
Daar geliefdes, is die openbaring van die groot verskil, tussen geloof en ongeloof, tussen hulle wat die Here waarlik dien en hulle wat bloot uiterlik kerk speel, ja, tussen volharding en ek doen net iets as dit vir my ‘voordeel’ bring.
Wat is dit?
Liefde, nie die wêreld se liefde nie, maar ware liefde, omdat ek, omdat ons Jesus lief hê. (1 Joh. 2:15-17).
En hoe het ek Hom lief?
Deur die geloof, want sonder geloof kan ons nie God behaag nie, Hebr. 11.
Dit is nie dat gelowiges nie ook tye van verbittering en verval kan beleef nie, sien Dawid en Petrus se lewens, maar hul sal nie daarin bly lewe en volhartd nie, die beproewinge en tug sal hul teruglei na die Here, partykeer soos ʼn verlore seun, eers gemors moet voel en proe, ander weer op ‘n stiller wyse kom van harte tot bekering,
U sien geliefdes, die beproewinge, die woestynlewe, die sorge, swaarkry, wil jou ook toets – is goud (aardse dinge), is hierdie lewe, is jyself, is mense, vir jou kosbaarder as Jesus?
HOE weet ek die verskil?
Kyk hoe jy reageer as beproewinge oor jou lewenspad kom, as die Here wat Hy gee … dalk wegneem… wanneer ander die wêreld om jou anders doen as wat jy wil hê. As God ‘nee’ sê deur sy Woord …. wat is jou reaksie, wat roep en getuig jou geloof of ongeloof reaksie dan?
HET EK JESUS BO ALLES LIEF?
En daar is nou ons geloof, geliefdes:
– ons glo die volkomenheid van die ewige erfenis van v. 3-5 is oppad, en lewe nou al daarvolgens.
– ek sien nog nie vir Jesus nie, maar ek leef asof ek Hom sien = Hy is so groot werklikheid van my lewe, Hy bepaal deur sy Gees en Woord, my besluite, gedagtes, planne, optredes, verhoudings met God en naaste…
Ons lees:
“Deur die geloof het Moses, toe hy grootgeword het, geweier om die seun van Farao se dogter genoem te word, omdat hy verkies het om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om ʼn tyd lank die genot van die sonde te hê, en die smaad van Christus groter rykdom geag het as die skatte van Egipte, want hy het uitgesien na die beloning. Deur die geloof het hy Egipte verlaat sonder om die toorn van die koning te vrees, want hy het volgehou soos een wat die Onsienlike sien.” (Heb 11:24–27)
Broer en suster, wat is vir jou kosbaar, wat is vir jou die kosbaarste in jou lewe, wat is kosbaarder as goud in jou lewe?
Hoekom is jy hier vanoggend?
Alleen as, deur die genade van God, in antwoord op sy eerste liefde vir my, v. 3-5, ek Hom werklik van harte met my hele lewe liefhet, sal ek as vrug van sy liefde vir my, Hom en my naaste kan liefhê.
Geliefdes, ons is nog nie in die volkomenheid nie, die nuwe hemel en aarde nie, maar die volkome erfenis het ons beginsel reeds deur die geloof in Christus. Ons gaan in v. 10-12 se preek hoor oor die bron van hierdie sekerheid, maar nou is ons reeds opgewonde … verheug ons ons, afsonderlik en saam oor wat vir ons die kosbaarste is, Christus, ja die erfenis wat ons ontvang van God Drie-enig, v. 3-5!
God het ons gegryp, en nou is ons op die pelgrimspad.
In die worstelinge, in die beproewinge, gryp ons deur geloof na Hom, wat ons nie gesien het nie, maar tog in glo, sodat ons eendag in volkomenheid, die wedloop kan voltooi, en ons blydskap, verheuging volkome sal wees om die volkome erfenis te ontvang, v. 8
Maar ja, die pad van die geloof is nou, vandag as jy sy stem hoor, elke dag word ons gekonfronteer, of ons gaan glo en lewe volgens die tydelike, valse beloftes van die wêreld, of die ewige kosbare erfenis in Christus alleen.
Wat is vir jou die kosbaarste, God of goud…..?
Amen.
__________________________________________________
Ander Petrus preke hier.
Ander S. Le Cornu preke en lesings hier beskikbaar.
Leave a comment