1 PETRUS PREKE: (8) Die lewenslange bekeringslewe as vrug van die wedergeboorte (1 Petrus 2:1-5)

1 PETRUS PREKE: (8) Die lewenslange bekeringslewe as vrug van die wedergeboorte (1 Petrus 2:1-5)

Lees:   1 Petrus 1:22-2:1-5

Teks: 1 LÊ dan af alle boosheid en alle bedrog en geveinsdheid en afguns en alle kwaadpratery; 2 en verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die woord, dat julle daardeur kan opgroei, 3 as julle ten minste gesmaak het dat die Here goedertieren is. 4 Kom na Hom toe, die lewende steen wat deur die mense wel verwerp is, maar by God uitverkore en kosbaar is; 5 en laat julle ook soos lewende stene opbou, tot ’n geestelike huis, ’n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus.” (1 Petrus 2:1-5)

Sing: Ps. 84:1-3; Ps. 119:6,7; Ps. 33:1,10,11; Ps. 84:4,5,6

Opname (GK Carletonville, 2022-12-18):

Aflaai: 1 Petrus 2:1-5

[Nota: die teks hier onder en die preek self stem nie in alle inhoud ooreen nie]

Geliefde gemeente in Christus,

In 1 Petrus 1 het ons geleer, veral in verse 22-25, van die wondergeskenk, die wonder van die wedergeboorte, wat ons ontvang van God Drie-enig wat die reddings-raadsplan is van God die Vader (v.1-9), wat geprofeteer is in die Ou Testament (v. 10-12), volkome vervul en bewerkstellig deur Jesus Christus se koms, v. 18-20 en kragtig onweerstaanbaar toegepas vir elke uitverkore van God onder alle volke en tye, deur die kragvolle werking van Heilige Gees, v. 21-25.

Vers 23, “want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly.” (1 Pe 1:23)

En nou, daardie wedergeboorte bly en werk tot in ewigheid, en dit vind plaas reeds hier en nou, waar elke kind van God gered word, watter tyd vir elkeen bepaal is deur God se plan.

Die onweerstaanbare gevolg van die wedergeboorte van elke kind van God, dat jy herstel is na die beeld van God, in ware geregtigheid en heiligheid, is nou wat ons noem bekering, lewenslange groei na die beeld van God in Christus, en dit hoor ons daar in verse 1-5.

LÊ dan af …. alle boosheid en alle bedrog en geveinsdheid en afguns en alle kwaadpratery; en verlang sterk …. soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die woord, dat julle daardeur kan opgroei,” (1 Pe 2:1–2)

Gereformeerde verklaarders verwys na die wedergeboorte geskenk as die ‘eerste bekering’, eenmalig, dit is identiteit verandering, nuwe mens wees, alles volbring daarvoor deur Christus se bloed en die krag van die Gees.

Maar, v. 2 roep nou op, dat jy wat pasgebore is, nuutgebore is, wedergebore is, moet soos ‘n baba wat gebore is, en alles ontvang het wat mens is: groei !

Vers 2: ‘opgroei’ …. vers 5 … ‘opbou’ …

Dit kan nie anders, dit mag nie anders nie!

Dit is ‘n gegewene, maar ook tegelykertyd ‘n oproep.

Petrus is heeltyd besig om jou te wys op jou nuwe mens wees, nuwe identiteit in Christus deur die geloof, én, watter praktiese konkrete gevolge dit het vir die ewigheid, maar ook hier en nou.

Onthou vers 17 van hfst. 1: as jul Hom as Vader het, dan wandel in vrees = dankbaarheidslewe midde hierdie wêreld.

Onthou vers 22, as julle die waarheid het, die Gees het, dan het julle mekaar lief, dus liefde tot God en naaste.

En nou, vers 3: “as julle ten minste gesmaak het dat die Here goedertieren is.” (1 Pe 2:3)

Dit is ‘n aanhaling en verwysing na Ps. 34:9 “Smaak en sien dat die Here goed is; welgeluksalig is die man wat by Hom skuil!” (Ps 34:9)

As/aangesien jul nou besef hoe groot God se genade en vergifnis is oor jou bose sonde, as/aangesien jy besef en gesmaak het dat jy die hel eintlik verdien het, maar redding ontvang het, as/aangesien  jy besef Hy het sy Seun vir jou ge-offer en alles wat jy as geskenk ontvang = al die weldade van Christus…

WAT DAN?

Dan, nie net moet jy nie, maar kan jy nie anders nie, maar dan wil jy ‘n lewenslange dankbare bekeringslewe lei, om Hom te behaag, om nou as sy kind in liefde tot God en die naaste te lewe!

Dan wil jy al meer die ou mens se oorblyfsels afsterwe, en die nuwe mens opneem, soos dit verwoord is hier in verse 1-5.

Ons belydenis in navolging van die Heilige Skrif vat die bekering soos volg saam, HK Sondag 32:

  1. Vr. Uit hoeveel dele bestaan die ware bekering van die mens?

Antw.  Uit twee dele: die afsterwing van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens.

89 Vr.  Wat is die afsterwing van die ou mens?

Antw.  Dit is ‘n hartlike berou daaroor dat ons God deur ons sondes vertoorn het, sodat ons dit nou hoe langer hoe meer haat en ontvlug.

90 Vr.  Wat is die opstanding van die nuwe mens?

Antw.  Dit is ‘n hartlike vreugde in God deur Christus en lus en liefde om na die wil van God in alle goeie werke te lewe. 

Sien u wat ware bekering is, dit is beide afsterwe en ‘n opstanding. Nie net Christus het vir die sonde gesterwe nie, maar Hy het ook opgestaan, en daarom kan en moet ons beide deur sy Gees en Woord doen waartoe ons hier opgeroep word: Wat moet ons aflê, wat moet ons afsterwe?

Dit wat in stryd is met 1 Petrus 1:22, wat juis werk om broederliefde, liefde vir mekaar af te breek, die tweede tafel, hoe ons praat met mekaar.

So terloops, die woorde ‘lê dan af’ (v. 1) wil wys eenmalig én voortdurend en aanhoudend, hoe langer hoe meer.

Ek is bevry, ek hoef nie meer te sondig nie, so elke keer as ek hierdie sondes doen, is dit nie omdat ek ‘moet’ nie, maar omdat ek ongelukkig nog wil weens die oorblyfsels van die sonde en ongehoorsaamheid, sien 1:22.

Paulus noem 5 sake wat ons moet aflê, sommige meen dit is een saak, wat dan in 4 sake uiteengesit word, nl. boosheid = alle bedrog, geveinsdheid, afguns en kwaadpratery.

– boosheid = haatlike gevoel (weens sondeval: God en ons naaste te haat, dit het nou verander deur die wedergeboorte)

– bedrog = misleiding, skelm wees, mense wil bedrieg

– geveinsdheid = voorgee, nie werklik Here en naaste liefhê nie, net vir uiterlike voordele gelowige, kerk wees, akteur wees

– afguns: jaloesie, 10de gebod, kwaad as ander het en ek het nie, kwaad vir Here of naaste

– kwaadpratery: 9de gebod oortredings, om kwaad met die tong te stook, is dit so dat God gesê het bevraagtekening van die Woord, leuentaal, verdraaiing van sy of ander se woord, kyk na Heidelbergse Kategismus by die negende gebod verklaring:

Sondag 43 Vr. 112, Wat wil die negende gebod hê? Antw. Dat ek teen niemand valse getuienis mag aflê nie, niemand se woorde mag verdraai nie, geen kwaadspreker of lasteraar mag wees nie, niemand ligvaardig en onverhoord mag oordeel of help veroordeel nie; maar alle lieg en bedrieg as die eie werke van die duiwel  moet vermy, tensy dat ek die sware toorn van God op my wil laai;  so ook, dat ek in die gereg en alle ander handelinge die waarheid moet liefhê, opreg spreek en bely; ook my naaste se eer en goeie naam na my vermoë moet verdedig en bevorder. 

Een van die duidelikste tekens van wedergeboorte en bekering is die gebruik van die tong, die mond, my woord en taalgebruik (Langenhoven: “Om te luister na ‘n gesprek wat vol vloekwoorde is, is net soos om te kou aan ‘n mondvol koring wat vol klippe is.”)

Efesiërs 4, wys hoe wedergeboorte en bekering my verander en aanhou verander:

Maar julle het Christus nie so leer ken nie, as julle ten minste van Hom gehoor het en in Hom onderrig is soos die waarheid is in Jesus: dat julle, wat die vorige lewenswandel betref, die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan, en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid. Daarom, lê die leuen af en spreek die waarheid, elkeen met sy naaste, want ons is mekaar se lede. Word toornig en moenie sondig nie; laat die son nie ondergaan oor julle toorn nie;” (Ef. 4:20–26)

En nou, tegelykertyd en heeltyd, juis om v. 1 se ‘negatiewe’ opdrag uit te voer, moet ons ook opneem, opstaan besig wees met die woord en die Woord, die ‘positiewe opdrag’: “en verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die woord, dat julle daardeur kan opgroei,” (1 Pe 2:2)

Verlang nie net nie, maar verlang sterk!

Dit is die goeie begeer, die reg begeer, sien die tiende gebod.

Dit moet jou hele lewe bepaal, of jy kind of ouer is, predikant of lidmaat So ek doen alles in my vermoë om die onvervalste melk van die Woord, te bekom:

HK, Sondag 44  113 Vr.  Wat eis die tiende gebod van ons? Antw.  Dat ook die geringste lus of gedagte teen enige gebod van God nooit in ons hart mag opkom nie, maar dat ons van alle sondes altyd van ganser harte vyande moet wees en in alle geregtigheid behae moet hê.

Let wel, ook onvervals, nie die valse prediking nie, nie dwalinge nie, nie soetsappige stories, poppespel en valse gospel liedjies nie, nie mense idees nie,  maar God se suiwere kosbare Woord, sy hele Woord (Matt. 4:4; 2 Tim. 3:15-17), die ware evangelie wat alleen red, en jou laat opgroei.

‘… dat jul daardeur kan opgroei’ (v. 2b), dit is die middel wat die Here deur sy Gees gebruik, om die wedergeboorte te bewerkstellig, die verkondiging van die evangelie, 1 Pe. 1:23-25 …

Maar ook waardeur en waarvolgens die heiligmaking, die troos, die opbou, die vermaning van die wedergeborenes moet plaasvind.

SO geliefdes, sien opnuut wat die Here ons deur Petrus hier leer!

Vandag, is daar baie wat meen dit gaan net oor die ‘evangelie’ en niks anders nie, niks van die hele Woord nie….

Diit klink so vroom, maar hul bedoel daarmee: die res van God se Woord is nie belangrik nie, ook nie vir die opgroei … opbou … kerkregering … ons belydenis is onbelangrike sake.

Nee, alles wat God openbaar, elkeen in sy plek natuurlik, soos die Woord self leer, is belangrik, in sy geheel en dele.

Kyk weer na die bekende woorde van 2 Tim. 3:15-17, waaroor Paulus, elke leraar, elke ouderling, elke kerkraad, elke ouer en groot ouer rekenskap gaan gee voor die Here:

“… en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus. Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus. EK besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk: verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering;” (2 Tim. 3:15–4:2)

Hoor u dit geliefdes, evangelie (redding), maar ook wet (waarvolgens ons in dankbaarheid nou moet lewe) is elkeen belangrik in sy plek en verhouding tot die ander.

Dat ons en ons kinders gered word, wederbaar word is wesentlik belangrik en sentraal, maar dan as vrug daarvan, ook dat ek sal groei, opgebou word tot sy eer, om ‘n dankbaarheidslewe te lei, om ons skeppingdsdoel, om God te eer, weer na te streef in ons hele lewe, is netso belangrik, vers 5:

en laat julle ook soos lewende stene opbou, tot ’n geestelike huis, ’n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus.” (1 Pe 2:5)

Let wel: lewend … dit is wat die wedergeboorte bewerkstellig het, so as ek nie wil bekeer en groei nie, dan is ek nog nie wedergeboorte nie of, ek is hardkoppig en ongehoorsaam en die Here gaan nog  met my werk totdat: maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ‘n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe. (Joh. 4:14)

Nie mense stene, nie mensegeboue nie, maar God self, Christus self, deur sy Gees en Woord is die lewende verhouding, redding en saligheid vir al sy kinders, vir hulle wat glo, en dan dra dit vrug.

Kinders van die Here se probleem is nie hul omstandighede, ander mense, die politiek of tye nie, maar die oorblyfsels van ongehoorsaamheid, 1 Petrus 1: 22.

Ons moet dus opnuut bid vir die krag van die Gees, daarsonder kan ek nie, wat het ons vanoggend bely met die Geloofsbelydenis van Nicea: “Ons glo in die Heilige Gees, wat Here is en lewend maak

Ja, onweerstaanbaar vir elke kind van God, ons is ‘n heilige priesterdom, gered ‘om’ heilig te wees, Ef. 1:4.

En daarin moet ek groei en opgebou word my hele lank, met met een heilige doel, 1 Pe. 2:5b… om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus.

Praktiese ondersoek vrae

  • wat moet jy in jou lewe aflê, geestelik en/of liggaamlik om die goeie wedloop te wandel, om sonde af te lê (sien Hebr. 12:1,2)?
  • wat moet ek getrou doen: stiltetyd, gebed, huisgodsdiens, eredienste meer bywoon, goeie christelike boeke lees?
  • wat is vir jou wesentlik kosbaar, Wie is vir jou kosbaar en wat bepaal jou ‘smaak’ in die lewe (1 Pe. 2:3), sal bepaal wat jy aflê en na verlang, afsterwe en opstaan voor elke dag van jou lewe?

Geliefdes, daar is in ons lewens as gelowiges, heeltyd hierdie wisselwerking, Psalm 1 vertel ook daarvan: aflê van wat verkeerd is, opneem van die goeie lewenslank, aanhoudend, vandag elke dag elke jaar, van rusdag tot rusdag.

Partykeer moet ek eers skoonmaak om plek te maak vir die goeie.

Ander kere moet ek opnuut besef die goeie wat ek het, om die slegte te verwyder.

Partykeer begin met v. 1 opdrag, ander kere met v. 2 se opdrag.

Ps. 97:6 wat ons sing vat die wese van ons boodskap saam: o Liefhebbers van die HERE, haat wat sleg is om die dubbele opdrag van ons geloofslewe van bekering raak te sien (sien ook Ef. 5:18; Rom. 13:13,14 ‘dubbele opdrag’)

Maar bo alles, as ek dan waarlik besef, dat die Here goedertieren is, dat Hy my liefhet en sy Seun gegee het, dan volg die dankbaarheidslewe, die bekeringslewe, die goeie stryd van die geloof, sodat ons elkeen hopelik, nou en elke dag en eendag saam Paulus kan uitroep:

Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou. Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het.” (2 Tim. 4:7,8)

Amen.

__________________________________________________

Ander Petrus preke hier.

Ander S. Le Cornu preke en lesings hier beskikbaar.

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑