1 PETRUS 2 PREKE: (9) As die Hoeksteen vir my kosbaar is, dan is die lewende stene van die kerk ook vir my kosbaar (1 Petrus 2:4-8)

Lees: 1 Petrus 1:22-2:10
Teks: “4Kom na Hom toe, die lewende steen wat deur die mense wel verwerp is, maar by God uitverkore en kosbaar is; 5en laat julle ook soos lewende stene opbou, tot ’n geestelike huis, ’n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus. 6Daarom staan dit ook in die Skrif: Kyk, Ek lê in Sion ’n uitverkore en kosbare hoeksteen, en die wat in Hom glo, sal nooit beskaam word nie. 7Vir julle dan wat glo, is Hy kosbaar; maar vir die ongelowiges geld die woord: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het ’n hoeksteen geword; en: ’n Steen van aanstoot en ’n rots van struikeling — 8vir dié wat hulle daarteen stamp, omdat hulle aan die woord ongehoorsaam is, waarvoor hulle ook bestem is.” (1 Petrus 2:4–8)
Sing: Ps. 118:1,2; Ps. 118:9,10; Ps. 118:11,12; Ps. 118:13,14.
Opname (GK Carletonville, 2023-01-15):
Aflaai: 1 Petrus 2:4-8
[Nota: die teks hier onder en die preek self stem nie in alle inhoud ooreen nie]
Geliefde gemeente in Christus,
Ons leer uit Petrus se brief van die gelowiges, die kerk van Christus, se pelgrimspad, oppad na die nuwe hemel en aarde, ook vir ons vandag.
En op daardie pad, wil die Here ons in sy groot liefde, troos, bemoedig versterk, maar ook, vermaan en oproep om te volhard tot die einde toe.
Daar is ‘n groot aanslag lewenslank, op elke individuele gelowige, maar ook en veral op ‘saam’ kerkwees vir en van Jesus Christus in ons tye, soos ons laasweek ook gelees het in 1 Petrus 5:8, “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu en soek wie hy kan verslind.”
Daardie aanslag is deur al die eeue, ook in ons tye, om maar net ‘n paar sake te noem:
- ‘n NG kerk predikant meen hy is ‘geestelik verkrag’ deur sy kerk
- ‘n GKSA predikant vermeld in ‘n koernat artikel dat Hy glo nie dit is deel van God se wil dat die covid-plaag ons in 2020 tot 22 getref het nie, God het dit dus nie beskik nie.
- baie verlaat die (sigbare) kerk van die Here, 300 lidmate per week in die NG kerk, in GKSA maak gemiddeld 1-3 gemeentes toe per jaar
- ons kry al meer mense, wat nie die geloof self verloën nie, maar wel al meer kerklos raak, die sogenaamde “kerklose Christenskap.”
SO, is die tyd van die kerk uitgedien?
Beteken om ‘maar net te glo’ genoeg is, ek het nie meer die kerk nodig in die 21ste eeu nie?
Geliefdes, ons wil hierdie en ander vrae beantwoord, onder die tema:
As die HOEKSTEEN van die kerk vir my kosbaar is,
sal die lewende stene wat Hy opbou as kerk, vir my kosbaar wees.
Ons wil dus leer, dat my verhouding, al dan nie, met Christus, alles bepalend sal wees van hoe ek die kerk gaan sien, my ‘kerkbeskouing’.
En Petrus, saam die res van die Skrif, wil ons hier leer, dat nie net my persoonlike saligheid nie, maar ook wat ek saam ander glo, is wesentlik belangrik vir my pelgrimspad in hierdie lewe tot die einde toe.
Hoofstuk 1 tot hier wil jou verseker, troos vir jou ewige saligheid, jou enigste troos, verlossing in Jesus Christus alleen.
Hier nou in hoofstuk 2, wil die Gees jou leer, jou troos, is ons troos: jy word saam ander getroos.
Ons wil leer dat wie en wat die kerk is, is vir jou troos en ‘n oproep, vir jou en ons almal saam, ook in die 21ste eeu en tot die laaste dag.
Want geliefdes, toewyding en liefde vir die HOEKSTEEN vir die kerk, Christus, lei tot liefde vir die kerk, en bekering en reformasie van die kerk.
So, wat moet ons leer van die kerk, om ons te help dat die kerk ook vir ons ‘n troosplek sal wees, en help op ons pelgrimspad vandag en die res van ons lewens?
Net een wesentlike saak geliefdes, dit is twee aspekte, maar een groot saak, nl.:
Ons moet die kerk sien soos God dit sien, soos Hy dit openbaar aan ons, d.w.s. wat die Skrif leer hoe God die kerk bepaal en sien, asook, hoe die kerk haarself openbaar in die geskiedenis, hoe die kerk konkreet lyk en funksioneer.
Gereformeerdes het deur die eeue gepraat, van die sigbare en onsigbare aspek van kerkwees.
Die triomferende volmaakte kerk in God se oë, en die kerk soos ons dit as mense kan raaksien, wat onvolmaak, gebroke is, maar wel waarlik kerk is!
Die volmaakte én die strydende kerk.
Die kerk soos reeds volmaak in beginsel gebou en bepaal deur God, én, dan die kerk soos wat sy heeltyd deur die geskiedenis opgebou word, wat aanhou moet bekeer, reformeer, groei deur Gees en Woord.
In ons belydenistaal: ons moet Nederlandse geloofsbelydenis artikels 27 én 28 en dan 29-35 soek en handhaaf, nie net een aspek of die ander nie.
En albei hierdie sake moet vasgehou word, hoekom?
Omdat die Skrif dit openbaar en leer, en ook sodat ons as pelgrims die goeie stryd van geloof kan stry, en volhard tot die einde toe, afsonderlik én saam met ander gelowiges, saam almal wat kerk is.
Kyk nou hoe ons teks albei sake openbaar:
1) Eerstens, die kerk is volkome, volmaak, klaar gebou in beginsel, deur die Vader, in Christus, deur die krag van die Gees:
“Daarom staan dit ook in die Skrif: Kyk, Ek lê in Sion ’n uitverkore en kosbare hoeksteen.” (v. 6)
Die kerk is die onweerstaanbare onfeilbare liefdevolle werk van God in Christus, “Ek lê …” “Kyk, Ek lê…” (sien Jes. 28:16)
Christus is die uitverkore aangestelde Hoof, Middelaar en Bron, fondament, steen van almal wat glo, Hy het volkome verlossing vir elke uitverkorene bewerkstellig, en niks en niemand sal dit keer nie, daarom die onsigbare volkome volmaakte kerk, is deur sy bloed gekoop, en deur die Gees verseël, en geen mense mag, dwaling, valse kerk, dwalende sinode, verkeerde besluite, valse prediking, kan dit ooit maar ooit keer nie. Prys die HERE!
In NGB art. 27 bely ons wie hierdie volmaakte kerk is en sal wees,
Ons glo en bely ‘n enige katolieke of algemene kerk, ‘n heilige vergadering van almal wat waarlik in Christus glo, wat almal hulle volle saligheid in Jesus Christus verwag en in sy bloed gewas is, geheilig en verseël deur die Heilige Gees.
Petrus gebruik die Ou Testament beeld van ‘n gebou, huis, wat dui op die tempel, wat volkome gebou is deur God Drie-enig.
Heidelbergse Kategismus, v/a 54 gee ons die bron, wyse en wanneer hierdie volmaakte kerk vergader word:
Vraag: Wat glo jy van die heilige, algemene, Christelike Kerk?
Antwoord: Dat die Seun van God uit die ganse menslike geslag, vir Hom ‘n gemeente wat tot die ewige lewe uitverkies is, deur sy Gees en Woord, in die eenheid van die ware geloof, van die begin van die wêreld af tot aan die einde toe vergader, beskerm en onderhou; en dat ek daarvan ‘n lewende lid is en ewig sal bly.
Hierdie kerk is gegrond in God se onveranderlike raadsplan en besluit: daarom dat ons heeltyd die woorde hoor: ‘uitverkore’ wat verwys na Christus as die een Fondament en Bron, maar ook die vrug, die uitverkorenes, v. 9, ‘uitverkore geslag’, sien ook 1 Petrus 1:2.
Die troos is geloofsekerheid midde ons pelgrimspad, die troos is dat sy kinders nooit verlore gaan nie, sien dit in die besonder in v. 6 se woorde:
:… en die wat in Hom glo, sal nooit beskaam word nie.”
Baie sterk woorde in die oorspronklike taal, dit beklemtoon die vastheid, die sekerheid van die kerk deur alle eeu en plekke en tye.
En dus ook vir die 21ste eeu, vir ons kerke, ons eie gemeente. gemeente.
Want dit beteken, en dit sien ons in die tweede punt nou, ons hoef nie self in “omkeerstrategie kerkgroei paniek” angs aanvalle te verval nie. Ons hoef nie iets anders as ware kerk te probeer wees nie, want die Here ken wie Syne is (2 Tim. 2:19), elkeen van sy kinders sal gered word! Die kerk van Christus kan nie anders as om te groei nie, partykeer meer, partykeer minder!
EN, sien die tweesnydende doel van die evangelie en kerk se taak:
“Daarom staan dit ook in die Skrif: Kyk, Ek lê in Sion ’n uitverkore en kosbare hoeksteen, en die wat in Hom glo, sal nooit beskaam word nie. Vir julle dan wat glo, is Hy kosbaar; maar vir die ongelowiges geld die woord: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het ’n hoeksteen geword; en: ’n Steen van aanstoot en ’n rots van struikeling — vir dié wat hulle daarteen stamp, omdat hulle aan die woord ongehoorsaam is, waarvoor hulle ook bestem is.” (1 Pe 2:6–8)
2) Maar dan, ook die tweede belangrike saak, wat vanuit die troos ons vermaan en oproep, die waarskuwing van God se regverdige oordeel deur verwerping, die oproep om in leer en lewe, in antwoord op sy genade dat Hy alleen die kosbare steen is van sy kerk: om dan lewende stene te wees, wat geplant is, en nou groei lewenslank, aanhou voortbou, individueel, v. 1-3, maar ook saam as gemeente.
Daarom die oproep:
“Kom na Hom toe, die lewende steen wat deur die mense wel verwerp is, maar by God uitverkore en kosbaar is; en laat julle ook soos lewende stene opbou, tot ’n geestelike huis, ’n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus.” (1 Pe 2:4–5)
Ons moet die troos en die waarskuwing, die genade en die oordeel tydig en ontydig bedien en verkondig, dit is juis ware liefde vir alle mense, omdat ons nie bepaal of weet wie al die uitverkorenes is nie (sien DL ¾.15).
Ons bedien aan almal wat Hy beveel, die Here se wil sal daardeur geskied, want, die hoofdoel van my lewe, en die kerk se lewe, en Jesus se reddingswerk is wat?
Goeie staatsburgers? Politieke doelwitte, lekker lui lewe, my geluk en behoeftes?
Nee, ons het dit duidelik gehoor:
Om God te verheerlik, v. 6, om sy deugde te verkondig, v. 9:
9 Maar julle is ’n uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige volk, ’n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig, 10 julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is; aan wie toe geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is.
En daarvan gaan ons volgende keer verder leer, wat die doel van ons kerkwees juis is, volgens 1 Petrus 2:9,10.
Vir vandag is dit belangrik om te sien en te leer, ons omhels beide hierdie waarhede van die Skrif: dat God sy uitverkorenes sal red, dus die kerk soos die Here dit sien en bepaal, is wesentlik belangrik vir ons geloof, maar tegelykertyd is daar ‘n oproep om plaaslik, in hierdie lewe konkreet deel te wees van die gemeenskap van die gelowiges, plaaslik iewers in tyd en plek deel van die kerk te wees.
“Kom na Hom toe” (v. 3), na Jesus, die Hoeksteen, is tegelykertyd, as vrug daarvan, ‘n kom of gaan na sy lewende stene, waar hul bymekaarkom, vergader in sy Naam, ‘saam’ te wees, nou en tot in ewigheid! (Ps. 122; sien die noue band tussen Hebr. 10:25 en 12:22-29).
Hou daarom vas aan beide die troos van die kerk soos God dit sien en bepaal in Christus alleen deur die Heilige Gees, en tegelykertyd die roeping en taak om heilige kerk te wees ons hele lewe lank, persoonlik, maar ook ‘saam’ ander gelowiges, saam met ander ‘lewende stene’, alles tot sy eer:
“Ewenwel, die fondament van God staan vas met hierdie seël: Die Here ken die wat syne is; en: Laat elkeen wat die Naam van Christus noem, afstand doen van die ongeregtigheid.” (2 Tim. 2:19)
Amen.
__________________________________________________
Ander Petrus preke hier.
Ander S. Le Cornu preke en lesings hier beskikbaar.
Leave a comment