1 PETRUS 2 PREKE: (10) Die Kerk is ‘n uitverkore geslag wat heilig is en moet wees (1 Petrus 2:9,10)

Lees: Deut. 7:6-9 en 1 Petrus 2:1-10
Teks: “9 Maar julle is ’n uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige volk, ’n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig, 10 julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is; aan wie toe geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is.” (1 Petrus 2:9-10)
Sing: Ps. 87:1, 2, 3; Ps. 105:4, 5; Ps. 110:1, 5; Ps. 117:1.
Opname (GK Carletonville, 2023-01-29):
Aflaai: 1 Petrus 2:9-10
[Nota: die teks hier onder en die preek self stem nie in alle inhoud ooreen nie]
Geliefde gemeente in Christus,
Die Here leer ons deur sy dienskneg Petrus, in die krag van die Gees, wat om te glo as die Here se kinders, asook wat ons moet doen, leer en lewe, ware kennis en ‘n godsvresende wandel, op ons pelgrimspad na die nuwe Jerusalem.
Ons lees in hfst. 1:17, wandel dan in vrees gedurende julle tyd van julle vreemdelingskap, want hfst. 2:3, julle het gesmaak dat die Here goedertieren is.
Hy is ons Verlosser én Koning.
En om op hierdie geloofspad te wandel, ook in ons tye, in die jaar 2023, moet ons nie net self getroos word oor ons persoonlik redding en wat dit alles beteken nie, maar ook herinner word aan die troosvolle, vermanende oproepende wete, dat ek genadiglik aan die Here se kerk behoort, saam met ander, waarvan ons laas begin leer het, in verse 4-8.
Jesus is die Hoeksteen, ons is die lewende boustene waaruit sy kerk bestaan, ons wat glo, v. 4 en 5, “Daarom staan dit ook in die Skrif: Kyk, Ek lê in Sion ’n uitverkore en kosbare hoeksteen, en die wat in Hom glo, sal nooit beskaam word nie.” (1 Pe 2:6)
Ons het dan ook geleer hoe wesentlik belangrik dit is om die kerk te sien soos die Skrif dit leer, twee sake wat albei vasgehou moet word:
- die onsigbare aspek soos God dit sien, alle uitverkorenes, deur alle eeue, orals tot die laaste dag toe, en
- die sigbare aspek van die kerk, soos dit in die geskiedenis tot openbaring kom, nog vermeng is, nog nie volmaak nie. En, dat die evangelie-bediening juis daarom ‘n tweesnydende swaard is, waarmee die Here besig is deur sy Gees en Woord, om genadig te red, en regverdig te oordeel, v. 7,8 “Vir julle dan wat glo, is Hy kosbaar; maar vir die ongelowiges geld die woord: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het ’n hoeksteen geword; en: ’n Steen van aanstoot en ’n rots van struikeling — vir dié wat hulle daarteen stamp, omdat hulle aan die woord ongehoorsaam is, waarvoor hulle ook bestem is.” (1 Petrus 2:7–8)
Dit is die troosryke, maar ook geweldige waarheid waarmee die Here deur die geskiedenis besig is, wat ons ook gesing het in Ps. 110:1: Hy is deur sy Gees en Woord besig om ‘n volk te vergader én regverdig hulle te oordeel wat Hom en sy Evangelie en Wet verwerp.
“Die Here het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand, totdat Ek u vyande maak ’n voetbank vir u voete.” (Ps 110:1)
Dit bring ons by ons teksgedeelte van vandag, hoofstuk 2, verse 8, 9.
En daarin hoor ons weer die Troos van ware gelowige, om waarlik deel van sy kerk wees, en word daar in v. 9 en 10, drie wesentlike eienskappe van die kerk geleer, waarin die pelgrim van die Here as troos moet vashou.
Dit is ook tegelykertyd ‘n oproep om al meer te word en te wees, wat jy, wat ons, in Christus, die Hoeksteen is. Daarom die oproep woorde v. 5, wat ons ons lewe lank moet doen:
“en laat julle ook soos lewende stene opbou, tot ’n geestelike huis, ’n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus.” (1 Pe 2:5)
En as ons nou hierdie 3 sake of eienskappe leer van wie jy is en ons saam as sy kerk is, dan sal ons ook juis die pragtige eenheid raaksien wat daar is tussen die Here se kerk in die Ou Testament of bedeling, en nou in die Nuwe Testament of bedeling.
Ja, daar is baie belangrike verskille, maar daar is ook eenheid.
En dit is juis vir die regte bybelse siening van Skrif, OT – NT verhouding, verbond, kerk, doop, ens., belangrik dat ons hierdie saak van kerkwees mooi en reg sal raaksien, want dit raak juis ons pelgrimslewe, ons persoonlike troos, ons kerkwees konkreet.
Die wese van die saak kan so gestel word, in lyn van hoe Calvyn dit ook vanuit die Skrif geformuleer het:
Die wese van wat kerk is, die basiese inhoud, is en bly dieselfde: dit gaan oor God die Vader, wat in Jesus Christus, sy uitverkore kinders red en versorg, deur die kragvolle werk van die Gees.
Die bediening of vorm van die kerk, sekere wette en seremonies, verskil in die twee bedelings: die kerk in die Ou Testament verbonde verskil van die Nuwe Testament bedeling, juis omdat Jesus gekom het, en alles vervul het (sien HK Sondag 19; NGB art. 25).
Maar die wese bly dieselfde, in die Ou Testament was dit die kerk onder een volk Israel, nou in die nuwe bedeling is die kerk onder alle volke, die uitverkorenes onder Israel was die ware volk van God in sy wese, vandag die uitverkorenes onder alle volke, ook Israel, is die ware Israel, ware volk van God (Rom. 9-11; Gal. 3:28-31; 6:16).
Kom ons kyk daarna, v. 9:
1) Die Here leer ons, die kerk, ons is ‘n uitverkore geslag wat sy eiendom is.
Toe die Here Israel uitverkies het, om die woorde van God deur hul te openbaar (Rom. 3:1,2), Christus deur hul aan die wêreld gegee is, toe sê Hy vir hulle:
“Want jy is ’n volk heilig aan die Here jou God; jou het die Here jou God uitverkies om uit al die volke wat op die aarde is, sy eiendomsvolk te wees. Die Here het ’n welgevalle aan julle gehad en julle uitverkies, nie omdat julle meer was as al die ander volke nie, want julle was die geringste van al die volke. Maar omdat die Here julle liefgehad en die eed gehou het wat Hy vir julle vaders gesweer het, het die Here julle met ’n sterke hand uitgelei en jou uit die slawehuis, uit die hand van Farao, die koning van Egipte, verlos.” (Dt 7:6–8)
“Die wilde diere van die veld sal My eer, die jakkalse en die volstruise; want Ek gee waters in die woestyn, riviere in die wildernis om my volk, my uitverkorene, te laat drink. Die volk wat Ek vir My geformeer het, hulle sal my lof verkondig.” (Jes. 43:20–21)
Israel se redding, elkeen onder die volk, wat die ware Israel was, Rom. 9:6-8 is uitverkies en is gered nie omdat hul beter mense, of volk was, of hulself kon red nie, maar omdat God genadig is, omdat Hy sy kinders van ewigheid liefhê en red.
Dit is wat ons ook as die Nuwe Testament kerk, die ware kerk, hulle wat glo (NGB artikel 27) moet raaksien, ons is ‘n uitverkore geslag, nie omdat ek of ons of ons volk waaraan ons behoort beter is of waardiger is as ander nie, as ek werklik uitverkorene is, dan is dit genade op genade … niks anders nie (Dordtse Leerreëls VD 1.9).
DAAROM die woorde ook van v. 10, “julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is; aan wie toe geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is.” (1 Pe 2:10)
Ons nie-Jode, ons heidene, ons voorvaders, die Germane was ook eers barbare, en toe het die Here aan ons voorgeslagte in Europa, later deur die Reformasie, volksplanting in Afrika, ens, die evangelie van genade geskenk, die redding onder ons volke gebring.
Hy is sy uitverkore kinders genadig, let wel, nie elkeen wat uiterlik Israel was, is gered nie (Rom. 9:6-8), maar hulle wat uitverkies is “ooreenkomstig die verkiesing van die genade’ (Rom. 11:5), wat bestem is daarvoor, en dit openbaar in die weg van roeping, bekering, geloof en gehoorsaamheid (1 Petrus 2:6-8).
So was en is dit in Ou en Nuwe bedeling, daar is altyd Jakob’s en Esau’s in die breë verbondsgemeenskap (Rom. 9:1-8), onder die OT volk, maar so ook in die NT volk of kerkgemeenskap, soos ons bely in Nederlandse Geloofsbelydenis artikels 29 en 35.
So, die pelgrimskind van die Here, ons as kerk vandag, leer dat dit genade alleen is wat ons gered het, al die eer daarom aan die Here, v. 9, om sy deug van genade te verkondig.
Geen Israelvisie roem, geen roem op ons bloed of afkoms nie, maar Christus alleen, DL verwerping 1.9 is baie duidelik:
Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: Dit is nie enkel en alleen die welbehae van God wat die oorsaak is waarom Hy die evangelie eerder na die een as na die ander volk stuur nie. Dit gebeur omdat die een volk beter en waardiger is as die ander aan wie die evangelie nie meegedeel word nie.
Geen volk in sy geheel, dus elke individu word gered nie, ook nie in Israel nie, ook nie vandag in die kerkgemeenskap nie (‘sigbare’ deel van die kerk), maar in die uitverkorenes, word die volke gered, dus onder en in elke volk wat God behaag om sy evangelie te stuur, soos die Skrif leer (Luk. 2:29-32; Hand. 10:34-36; Op. 5:9) en ons verwoord in ons gereformeerde belydenis (HK Sondag 54; DL VD 1.9; DL 2.5)
2) Die Here leer ons, die kerk, ons is ‘n koninklike priesterdom Die Here red sy volk uit Egipte, uit die huis van slawerny
En dan voor Hy sy wet gee by die berg Sinai, lees ons in Ex. 19:6, “En júlle sal vir My ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie wees. Dit is die woorde wat jy aan die kinders van Israel moet meedeel.” (Ex 19:6)
Die Here het deur die OT konings, priester en profete gegee, die konings moet regeer, die priesters moet offer, leer en bid, die profete moes leer, lei, terugroep alles volgens sy Woord, sy goeie wet.
Maar hulle het almal gestruikel, van die bestes tot die slegtes.
En hulle almal het heengewys na die volkome Koning, Priester en Profeet, wat al daardie take en ampte volkome vervul het, in ons plek, dit wat ons daar gesing het in Psalm 110, vers 1 (Koning) en vers 5 (Priester).
En Christus het dit alles gedoen, sodat ons nou weer, in dankbaarheid, afsonderlik en saam, onderkonings, onderpriester en onderprofete kan wees in ons onderskeie take en roepinge, soos die Skrif dit leer.
En daarom is die kerk, is ons ‘n koninklike priesterdom, om deur sy Woord en Gees te regeer: persoonlik, gesin, gemeente, maar ook bo alles, in die bloed van Christus en die krag van die Gees, oor ons sondes te regeer, om te aanbid as ‘n volk, elke rusdag, om voorbidding te doen as priesters.
Ons gaan dat juis verder leer in hoofstuk 2:11 en verder, hoe Petrus ons dan die lyn gaan leer:
Omdat Christus ons volkome Koning, Profeet en Priester is, daarom kan en moet ons ons hele lewe aan Hom toewy in dankbaarheid.
Ons hoor dan ook die profetiese taak van die kerk daar in vers 9b,
“Maar julle is ’n uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige volk, ’n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig,” (1 Pe 2:9)
Maar, om dit juis te kan doen, orals, ook op elke terrein van die lewe in die amp van gelowige, midde ons wêreld (Deut. 4:6-8; 6:4-9; Matt. 5:13-20), is ons en moet ons wees, laastens:
3) ‘n heilige volk van Jesus Christus
“En júlle sal vir My ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie wees. Dit is die woorde wat jy aan die kinders van Israel moet meedeel.” (Ex 19:6)
Heilig, beteken, eenkant wees, afgesonder wees. Net Israel, geen ander volk nie, was afgesonder om die woorde, verbond van God te ontvang, totaal uniek (Rom. 3:1,2).
Alleen deur hul nageslag, Rom. 9:1-5, is die Messias gebore, totaal uniek, buitengewoon anders.
Maar anders, ook in terme, van om as kinders van God te lewe, ‘n getuienis in hierdie wêreld te wees, vir onsself maar ook die wêreld om ons:
“Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.” (1 Pe 1:15–16)
“SO, ons moet nie net afsonderlik nie, nie net in ons gesinne nie, maar ook as gemeente, ons hier, en saam as gemeentes in kerkverband en orals as kerke, heilig wees volgens God se Woord, want ons glo en bely dit volgens die Skrif (Joh. 17:14-17), elke Sondag van harte: “… ek glo aan ‘n heilige, algemene Christelike kerk…”.
Ons moet die heilige evangelie verkondig, die heilige sakramente bedien, en, die liefdevolle tug toepas om evangelie en sakramente, om die kerk van Christus heilig te hou (NGB artikel 29). Daarom, ook later die liefdevolle vermaning en waarskuwing van 1 Pe. 4:17.
En ons kan nie persoonlik of saam heilig wees, sonder die Heiland, sonder sy Heilige Woord, sonder die Heilige Gees nie. Daarom is ons individueel maar ook saam ‘n uitverkore geslag, koninklike priesterdom en heilige volk … “julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is; aan wie toe geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is.” (1 Petrus 2:10)”
Oud-prof. WJ (Willie) Snyman vat dit treffend saam in die volgende woorde (Nuwe en Ou Dinge):
“Lidmaat te wees van die Kerk beteken niks minder nie as om ‘n lid te wees van die liggaam van Christus (1 Kor. 12:12 en 27). Die saambinder van die lede onderling en van die lede saam, met Christus, is die Heilige Gees. Die Heilige Gees is die lewensbeginsel van die Kerk (1 Kor. 12:13).
Daarom is die Kerk ‘n heilige gemeenskap en die gemeenskap van heiliges. Dit beteken nie as ek aan die Kerk behoort, dat ek en die gemeenskap waaraan ek behoort, sonder sonde is nie. Dit is die groot wonder, dat, al is ons nog sondaars, is ons tog heilig. So noem Paulus die gemeentes van Korinthe, waar soveel sondes te bes.traf was, nogtans heiliges (1 Kor. 1:2). Hoe kan dit? Deurdat die Heilige Gees as gevolg van Christus se soenverdienste in die Kerk en in ons woon. Daarom is ons in beginsel heilig, al woon ons nog in die sondige vlees. So is die Kerk dan die woning van God in die Gees (Ef. 2:22) en elke gelowige ‘n tempel van die Heilige Gees (1 Kor. 6:19). Die Kerk is “‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig” (1 Petrus 2:9).”
Amen.
__________________________________________________
Ander Petrus preke hier.
Ander S. Le Cornu preke en lesings hier beskikbaar.
Leave a comment