1 PETRUS 2 PREKE: (11) Die evangelie roep op tot ‘n heilige lewe midde ‘n onheilige wêreld (1 Petrus 2:11,12)

1 PETRUS 2 PREKE: (11) Die evangelie roep op tot ‘n heilige lewe midde ‘n onheilige wêreld (1 Petrus 2:11,12)

Lees: Matt. 5:1-17; 1 Petrus 1:15, 16 en 2:11-17

Teks: 9 Maar julle is ’n uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige volk, ’n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig, 10 julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is; aan wie toe geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is. (1 Petrus 2:11-12)

Sing: Ps. 118:1, 2; Ps. 12:1, 2, 6, 7; Ps. 109:1, 9, 10; Ps. 117:1

Opname (GK Carletonville, 2023-03-12):

Aflaai: 1 Petrus 2:11-12

[Nota: die teks hier onder en die preek self stem nie in alle inhoud ooreen nie]

Geliefde gemeente in Christus,

Ons teks vandag, roep ons as gelowiges afsonderlik, en as kerk saam op om getuies te wees met ons hele lewe in en baiemaal teen ‘n sondige verlore heidense wêreld, alles tot eer van God alleen.

Ons het in die vorige preek gehoor vanuit die Skrif, met die behandeling van Heidelbergse Kategismus Sondag 3, die mens is goed geskape na die beeld van God, in ware geregtigheid en heiligheid, om God te verheerlik, te eer en te dien.

Met die sondeval is dit alles aangetas, ons het verdorwe geword, die beeld van God het groot skade gelei, daarom die haat vir God en die naaste. Daar is slegs oorblyfsels, maar dank God, en dit is wat Petrus ons nou besig is om te leer in sy briewe, deur die koms van Christus, kom die redding en herstel van die mens as  beeld van God, sodat die mens God en sy naaste weer kan liefhê en dien.

Dit is wat ons nou geleer het tot waar ons nou is in die brief:

Hoofstuk 1:1-5, God Drie-enig se reddingswerk wat tot ons wedergeboorte en geloof lei.

Hoofstuk 1:10-12, Die reddings- en herstelwerk in Christus is geprofeteer in OT, en vervul in Christus in die NT.

Hoofstuk 1:17-21, Die reddingswerk en herstelwerk is kragtig en onweerstaanbaar omdat dit in die bloed van Christus is.

Hoofstuk 2:1-10 , Daarom sal daar ‘n kerk wees, uitverkorenes onder alle volke, stamme en tale, gevestig en gebou op Christus met die doel om sy deugde te verkondig aan die ganse wêreld.

En nou, baie belangrik, op grond van hierdie herstel van beeld van God, herstel van liefde tot God en die naaste, daarom kom die oproep, vermaning, bemoediging van verse 11,12, asook wat alles gaan volg in hoofstuk 2:11 tot 3:7, naamlik:

GELIEFDES, ek vermaan julle as bywoners en vreemdelinge om julle te onthou van vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel; en hou julle lewenswandel onder die heidene skoon, sodat as hulle van julle kwaad spreek soos van kwaaddoeners, hulle op grond van die goeie werke wat hulle aanskou, God kan verheerlik in die dag van besoeking. Wees dan onderdanig aan elke menslike verordening ter wille van die Here—of dit die koning is as opperheer, of die goewerneurs as sy gesante, om wel kwaaddoeners te straf, maar die wat goed doen, te prys. Want so is dit die wil van God dat julle deur goed te doen die onkunde van die dwase mense tot swye sal bring, as vrymense en nie asof julle die vryheid het as ’n dekmantel vir die boosheid nie, maar as diensknegte van God. Julle moet almal eer, die broederskap liefhê, God vrees, die koning eer.

In ‘n neutedop, en dit is die tema van ons prediking vandag:

God se reddingsplan en herstelwerk van jou persoonlik, van julle as  kerk, as gelowiges is en moet nou gesien word in persoonlike heiligmaking, v. 11, asook as ‘n getuienis midde die wêreld, midde die heidense wêreld, die onvolkome wêreld waarin ons ons bevind tot die laaste dag, v. 12.

En die doel van dit alles?

Soli Deo Gloria! … om God te verheerlik! )

Dit is wat Jesus in die bergrede geleer het (Matt. 5-7), wat ons gelees het daar in  hoofstuk 5:1-12 die saligsprekinge, wat jy as God se kind is deur sy genadige uitverkiesing, wedergeboorte, geloof, ens … en wat jy al meer moet word, v. 13-16 ook in hierdie wêreld, alles tot eer van God, v. 16b

1) Eerstens, Petrus, spreek ons aan as geliefdes, ons is geliefdes van die Vader in Christus, en dit beteken geliefdes vir mekaar onderling:

Daarom, hoor dit vanoggend opnuut: geliefdes! … julle is geliefd, ja geliefd selfs toe ons nog goddelos was (Rom. 5:6-8), selfs as ons nou nog stry en worstel en ongehoorsaam is. En dan, juis in liefde vir die geliefdes volg die oproep, bemoediging van vers 11: “ek vermaan julle…”, in die volgende paar sake:

1.1)  Petrus herhaal dat hul as pelgrims oppad is na die nuwe hemel en aarde, daarom weer wat hy in begin gesê het (1:1,2): hulle is bywoners en vreemdelinge, hierdie sondige gebroke wêreld is nie die laaste bestemming nie, en, baie belangrik: bepaal ook nie ons lewens en besluite nie, die sondige vleeslike begeertes is nie die standaard van reg en verkeerd wat my lewe bepaal nie, die Here deur sy Woord is.

1.2) ‘Onthou’ julle geliefdes!  = hou ‘n afstand, hou buite bereik, hou terug van die gevaar dat die wêreld se denke, idees, gevoelens jou leer en lewe bepaal, dink aan Ps. 1, dink aan Rom. 12:1-2, word nie aan hierdie wêreld gelykvormig in woord, dade, gedagtes, verhoudings, ens. nie. Dit is wat deur die sondeval en sonde gebeur het, maar in Christus is jy gered daarvan, vernuwe na die beeld van God.

Ja, ‘onthou’ heeltyd waarvan jy gered is en jou moet ‘ont-hou!’

1.3) Die woord ‘vleeslike’ wil daarop wys, jou attent maak daarop dat daar goeie en slegte begeertes kan wees (die 2020 vertaling vertaal ‘liggaamlike begeertes’, wat jammer is, en dus nie ‘n onderskeid handhaaf nie), maar die fokus is daarop dat ons oë, denke, gevoelens, ons baiemaal mislei, en wil ons daarteen waarsku. Sien 1 Joh. 2:16, “Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.” (1 Joh. 2:16)

1.4) Geliefdes, sien die ‘stryd’, ja Christus het volkome reeds oorwin, dit is volbring (Joh. 19:30), sy reddingsplan kan en sal nie gekeer word nie. Maar, die heiligmaking stryd, die gehoorsaamheidstryd duur voort tot die laaste dag van ons lewens.

Dink aan al Paulus se oproepe tot die goeie stryd (1 Tim. 1:18; 6:12; 2 Tim. 4:7), nou dat ek kind van God is, waar ek eers in stryd teen God gelewe en my naaste gelewe het, nou leef ek in vrede met God en my naaste, hoe langer hoe meer. Ek voer die stryd teen die ware doodsvyande: die Satan, die wêreld en myself, naamlik die oorblyfses in my lewe! (sien HK v/a 127).

Hierdie drie doodsvyande wil ons ‘siele’ mislei op verskillende maniere, bv.

– die leuen: daar is nie stryd nie,

– die misleiding: gelowig en kerkwees is disneyland, nie oorlog en stryd nie, of

– die verleiding: jy het in Christus nie alles wat nodig is om die goeie stryd te stry nie, so moenie stryd van v. 11 en 12 probeer stry nie, of:

– die wanhoop: die feit dat jy ‘n stryd stry, beteken jy is nog nie ‘n ‘sterk genoeg’ gelowige nie, of glad nie ‘n gelowige nie.

Maar sien nou geliefdes:

2) Tweedens,  die verband en oorgang na die roeping en taak van van vers 12 vanuit vers 11, soos Jesus ons ook leer in die bergrede:

Jesus leer eers, wie ons is en moet wees, Matt. 5:1-12, sodat ons sout en lig sal wees, Matt. 5:13-15, met die doel in vers 16.

Hier in 1 Petrus 2:12 word die gemeente saam en afsonderlik geroep:

  • hoe om te lewe,
  • wat die doel daarvan is

2.1) Die stryd moet vanuit ‘n rein hart gestry word, v. 11. Die bevel en oproep is ‘hou’ julle lewenswandel (ons geloof, ons getuienis en lewenswyse) skoon, onder die heidene. Die heidene is die nie-gelowige wêreld, hulle wat buite die sigbare kerk is, maar ja, ongelukkig ook baiemaal in die kerk is.

2.2) Ons lewenswandel moet in ‘waarheid’ wees, dit wat die Bybel alles leer, en dit moet ‘skoon’ wees, volgens wat 1 Pe. 1:15,16 leer dus ‘heilig’, wat beteken ‘afgesonder’. Sien Jesus se woorde in Joh. 17:16,17, heilig hul in U waarheid, dus waarheid en heiligheid gaan saam.

2.3) Belangrik, ‘onder’ die heidene beteken juis nie ontvlugting nie, dit beteken sout en lig orals te wees, op elke lewensterrein, of julle eet of drink… sien 1 Kor. 10:31. Natuurlik, partymaal is dit goed, baie keer noodsaaklik om sekere fisiese plekke of persone te vermy, sien Ps. 1 en 1 Kor. 15:33,34 ens. Maar hoor ook Paulus se oproep in 1 Kor. 5:9-,10).

Ons hoor in vers 12, en ons sien dit reg deur die bybelse en kerkgeskiedenis, ook in ons dae al meer, die werklikheid van die wêreld, valse kerke en profete, wat kwaad spreek, gelowiges wil afmaak as kwaaddoeners.

2.4) In die lig van daardie gegewe werklikheid tot die wederkoms, is dit nou belangrik om raak te sien: ons moet ‘onder’ of in hierdie wêreld woon, orals werk en lewe, maar die groot verskil is: nie volgens die wêreld lewe nie (meer duidelik gestel, nie ‘wêrelds’ lewe nie, sien 1 Joh. 2:15-17), maar as pelgrims, as bywoners, as vreemdelinge volgens wat uit die hemel aan ons geopenbaar en gegee is: God self, sy openbaring, Jesus deur sy Gees,luister na Hom (Matt. 17:3):

  • in wat jy glo oor God, mens, wêreld, redding, take, roeping, ens.
  • en hoe jy wandel, praat, luister, dink, ens.

Dit is wat volg in die opkomende verse, wat ons meer na detail gaan kyk:

  • 2:13-17, verhouding met burgerlike owerhede
  • 2:. 18-24, werksituasies
  • 3:1-7, huwelik en gesin

SO, ek moet heeltyd vra, ondersoekend en biddend, hoe bepaal my redding en herstel na die beeld van God in Christus,

  • myself, v. 11, en die goeie stryd van heiligmaking, asook,
  • al die verhoudings waarin ek staan en bestaan in die hele lewe?

En alles bepalend vir my eie lewe en verhoudings, is dan:

3) Derdens, die groot doel van dit alles, van hoekom ek moet groei in persoonlike heiligmaking vanuit die rykdomg, v. 11, asook orals sout en lig te wees op elke lewensterrein en alle verhoudinge:

Ja, dit gaan oor die eer van God in die redding van verlore sondaar mense, ons is herstel om God weer lief te hê en ons naaste.

Daarom die doel soos 12b dit stel: “en hou julle lewenswandel onder die heidene skoon, sodat as hulle van julle kwaad spreek soos van kwaaddoeners, hulle op grond van die goeie werke wat hulle aanskou, God kan verheerlik in die dag van besoeking.” (1 Pe 2:12)

Kyk weer nou na verse 9, 10

  • ons moet as begenadigde sondaars met woorde en dade, ons lewenswandel, die deugde van God besing en verkondig, aan onsself maar ook, v. 10,
  • aan hulle wat nog nie aan sy volk behoort nie, verlore sondaarmense wat ons nou baiemaal haat en verag, ja, soos ons eers was teenoor God toe ons nog verlore was.

Die wêreld moet in ons lewens hoor maar ook sien:

  • daar is ‘n God wat ons liefhet en vrees
  • daar is ‘n reg en verkeerd, daarom ‘goeie werke’
  • daar is verlossing, verandering in Christus is moontlik, daar is hoop vir verlore goddelose sondaars, soos ek … en u!
  • hulle moet hoor en sien dat ons pelgrims is met die hoop van die evangelie, ‘n hoop vir die gebroke sondige wêreld, terwyl hul angsbevange opsoek is na mense om hul te red, die staat moet red, organisasies moet red, … Dus, daar is ‘n nuwe hemel en aarde oppad, daar is hoop maar in die evangelie van Jesus Christus alleen, waaroor hfst. 1-2:10 van die 1 Petrus brief (en res van die Skrif) gaan.

MAAR dit is ‘n evangelie wat oproep, vermaan, ‘leer’ (Tit. 2:11,12), dus nie sonder die goeie stryd nie, dit is nie sonder goeie werke as vrug soos die Skrif leer nie, wat Jesus ons ook leer in Matt. 5:1-17, en daarom moet ons:

  • aanhoudend bid vir die geskenk van wedergeboorte wat lei tot saligsprekinge waarheid, v. 1-12
  • om orals, sout en lig, te wees, v.13-15
  • tot die verheerliking van sy Naam, 5:16

Die ‘verheerliking’ van 2:12b wys dan in die tyd wat die heidene tot geloof kom in die geskiedenis, soos God bepaal, maar ook op die finale oordeel, waar almal onder alle volke wat gered is, wat ook, soos Paulus eers ‘n lasteraar was, God sal verheug, saam hulle waarvan eers kwaadgepraat is!

Is dit nie ‘n wonderlike troos nie, vir ons almal, daar is redding, herstel, vergifnis en hoop vir die grootste en mees bose van sondaar, soos Paulus ditself uitroep in 1 Tim. 1:15.

Mag die Here ons en ons gemeente en sy kerke saam genadig wees, om die roeping te volbring deur sy Gees en Woord wat ons voorgehou word in verse 11 en 12, sodat ons: God kan verheerlik in die dag van besoeking.” (1 Petrus 2:12)

Amen.

__________________________________________________

Ander Petrus preke hier.

Ander S. Le Cornu preke en lesings hier beskikbaar.

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑