1 PETRUS 2 PREKE: (12)
Vryheid in Christus beteken nie verwerping van menslike verordeninge nie (1 Petrus 2:13-17)

Lees: Romeine 12:19-13:1-7 en 1 Petrus 2:11-17
Teks: “13 Wees dan onderdanig aan elke menslike verordening ter wille van die Here — of dit die koning is as opperheer, 14 of die goewerneurs as sy gesante, om wel kwaaddoeners te straf, maar die wat goed doen, te prys. 15 Want so is dit die wil van God dat julle deur goed te doen die onkunde van die dwase mense tot swye sal bring, 16 as vrymense en nie asof julle die vryheid het as ’n dekmantel vir die boosheid nie, maar as diensknegte van God. 17 Julle moet almal eer, die broederskap liefhê, God vrees, die koning eer.” (1 Petrus 2:13-17)
Sing:Ps. 99:1, 2, 3; Ps. 99:4, 5; Ps. 107:1, 10; Ps. 110:1, 5
Opname (GK Carletonville, 2023-04-02):
Aflaai: 1 Petrus 2:13-17
[Nota: die teks hier onder en die preek self stem nie in alle inhoud ooreen nie]
Geliefde gemeente in Christus,
Ons tema in ‘n neutedop:
Pelgrims van die Here is vry, is vrymense, besit ware vryheid, maar nie met die doel om losbandig te wees nie.
As God se diensknegte onderwerp ons ons aan alle verordeninge wat die Here daar op aarde gestel het, sodat God se reddingsplan sal voortgaan, en sy Naam verheerlik word.
Die gelowige, die kerk van Christus, die pelgrims van die Here, waaroor die Petrus briewe gaan, oppad na die nuwe Jerusalem, die nuwe hemel en aarde, is waarlik vry, is vrygekoop met die bloed van Christus, ons behoort aan die Here, aan geen mens of aardse koning of menslike verordening nie, maar nou:
Die kinders van die Here is nie losbandig nie, is nie wetteloos nie, is nie anargisties van aard nie, maar diensknegte van God, gebonde aan die wil van God, sy evangelie, sy wet.
Ons wil uit ons teksgedeelte, 1 Pe. 2:13-17, hierdie drie sake leer:
- die opdrag om ons te onderwerp aan die menslike verordeninge waarin en waaronder ons leef,
- die beperkinge wat daar is vir die burgerlike owerheid/staat,
- die rede en hoof-motief waarom ons ons moet en kan onderwerp aan alle menslike verordeninge.
EERSTENS, die opdrag in vers 13, Wat is die opdrag vir gelowiges: “Wees dan onderdanig aan elke menslike verordening ter wille van die Here—of dit die koning is as opperheer, of die goewerneurs as sy gesante (1 Pe 2:13,14).
Christene word opgeroep om aan alle owerhede onderdanig te wees, ongeag of hul christelik is of nie, dit het ons ook gelees daar in Rom. 13.
Onthou, inPaulus se tyd in die eerste eeu, maar ook hier sit Petrus heel waarskynlik in die gevangenis, word vervolg, maar hy leer deur die Gees nog steeds: nie wat die omstandighede bepaal, wat mense of slegte owerhede is nie, wat die Romeinse reg bepaal nie, maar Godsopenbaring vir alle tye.
Hoe gelowiges moet optree, lewe in hierdie wêreld, terwyl hul oppad is na die nuwe Jerusalem.
Twee sleutelwoorde is belangrik om reg te verstaan hier: ‘menslike’ en ‘verordeninge’.
Hoekom sê Petrus ‘menslike’?
Die antwoord het ons gelees in verse 15,16:
“Want so is dit die wil van God dat julle deur goed te doen die onkunde van die dwase mense tot swye sal bring, as vrymense en nie asof julle die vryheid het as ’n dekmantel vir die boosheid nie, maar as diensknegte van God.” (1 Pe 2:15–16).
So wat gebeur het met sommige in eerste eeu, maar ook regdeur die kerkgeskiedenis, vandag dalk meer, met ons groeiende goddelose owerhede:
In die konteks van 1 Petrus tot hier, is daar geredeneer:
– ek is kind van God, gered deur Christus se bloed, ek is nou onder die koningskap van Christus, Hy is my Meester, ek is sy dienskneg. Alles goed sover, dit is baie waar!
Maar, dan het sommige gemeen, ‘daarom’ is ek aan geen ‘menslike’ verordening onderworpe nie, ek hoef nie onderdanig te wees aan mense, die 5de gebod geld nie meer vir ons wat ‘in Christus’ is nie, ek is mos vry, vry van die wet, vry van enige ‘menslike’ owerhede.
Baie deur die eeue het gevolg: geen meester bo my nie, ek behoort aan die Here, geen ander mens gaan my iets vertel nie, bv:
- in die huwelik … geen man sal oor my ‘regeer’ nie
- gesin … geen ouer sal oor my ‘regeer’ nie
- samelewing … geen heidense regering gaan oor my ‘regeer’ nie.
En nou leer die Woord in sy geheel en ook hier: nee, jou redding, jou hemelse burgerskap, die feit dat die koninkryk van God nie van hierdie wereld is nie, nie sy oorsprong hier het in die ‘menslike’, uit die aarde nie (Joh. 8:36), maak jou nie ‘n ‘christelike terroris, revolusionêre, ‘n gesagsveragter nie, sien ook ons belydenis oor die saak in NGB artikel 36.
Gelowiges, soek juis die vrede van die stad, sien Jeremia 29.
Dink aan Romeine 12:19-21, die onmiddelike konteks van Rom. 13:1-17, asook wat volg in Rom. 13:8-14.
So die ‘menslike’ van v. 11 hef nie vers 13 tot 3:7 verhoudinge op nie.
Inteendeel, die ‘verordeninge’ wat daar is, die woord beteken afhangende van konteks, skeppingstrukture, instellings, wat God daar gestel het, moet eerbiedig word, die wesentlik 5de gebod beginsel:
HK 104 Vraag: Wat eis God in die vyfde gebod?
Antwoord: Ek moet my vader en moeder en almal wat oor my gestel is, alle eer, liefde en trou bewys. Aan hulle goeie leer en tug moet ek my met die verskuldigde gehoorsaamheid onderwerp (a). Ook moet ek met hulle gebreke geduld hê (b), omdat God ons deur hulle wil regeer (c). (a) Ef 6:1, 2, 5; Kol 3:18, 20, 22; Ef 5:22; Spr 1:8; 4:1; 15:20; 20:20; Eks 21:17; Rom 13:1. (b) Spr 23:22; Gen 9:24;1 Pet 2:18. (c) Ef 6:4, 9; Kol 3:20; Rom 13:2, 3; Matt 22:21
Ongeag die vorm wat burgerlike owerhede deur die eeue aanneem, gesinne, stamme, konings, vorste, volksrade, presidente, ens., hulle kan nie daar wees sonder God se wil en beskikking nie.
In 1e eeu was dit die Romeinse regering, met sy regeringsvorm van die koning, as opperheer, dit was die keisers, en sy goeweneurs wat hy orals gestuur en aangestel het, om uiterlik wet en orde te handhaaf.
Dit bring ons by die belangrike tweede punt:
TWEEDENS, wat leer beide Paulus en Petrus hier oor die roeping en taak van die burgerlike owerheid? Ons lees:
“of die goewerneurs as sy gesante, om wel kwaaddoeners te straf, maar die wat goed doen, te prys.” (1 Pe 2:14).
Die Skrif leer ook hier wat burgerlike owerhede ‘behoort’ te wees.
Owerhede moet wet en orde handhaaf, hul goeweneurs en gesante is besig met regspleging, strafreg, vandag se taal: weermag, polisie, howe.
Dit is dus nie staatisme nie, nl. die messiaanse staatsidee wat hier in Rome en veral na die middeleeue, reformasie en die verligtingstyd gegroei het nie. Staatisme leer eenvoudig mense, konings of owerhede sal ons red en versorg, van die wieg tot die graf, hulle sorg vir ekonomie, onderwys, paaie, gesonheid, alles, hulle moet ons red deur wetgewing.
Nee, hul moet eintlik wees soos Rom. 13:3,4 ook leer:
“Want die owerhede is geen voorwerp van vrees by die goeie dade nie, maar by die slegte. Maar wil jy nie die mag vrees nie, doen wat goed is, en jy sal lof van hom ontvang;” (Rom. 13:3)
“want hy is ’n dienaar van God, jou ten goede. Maar as jy kwaad doen, vrees dan; want hy dra die swaard nie verniet nie, want hy is ’n dienaar van God, ’n wreker om die een wat kwaad doen, te straf.” (Rom. 13:4)
Ons as gereformeerde gelowiges verwerp dus beide bandeloosheid én staatisme, of behoort dit te doen!
Ons onderwerp en is onderdanig in soverre enige menslike verordening, of dit huwelik, gesin, gemeente of burgerlike owerheid is, nie van ons vereis om God se gebooie te oortree nie (sien Hand. 4:19; 5:29; sien Calvyn se boek 4, hoofstuk 20 in sy Institusie, oor die verset van die laer magistrate in uitsonderingsgevalle).
Die staat se taak is ook nie godsdiens en aanbidding nie, hul mag bv. nie eredienste verbied nie, maar moet juis die orde handhaaf sodat die kerk sy roeping kan vervul, sien NGB art. 36.
Onthou: die evangelie is hier opnuut gevestig, daarom die fokus op die individu en gemeentes en gesinne, en dra dit vrug in mense, samelewings en volke se lewens, en hopelik is daardie vrug dan: christelike owerhede, ‘menslike’ instellings wat God wil dien elkeen op sy eie terrein volgens God se Woord, 1 Kor. 10:31, geld vir die ganse lewe en alle instellings.
Dit bring ons by die DERDE saak, en belangrikste saak geliefdes.
Leer Petrus hier die ‘regte’ van gelowiges, dat die kerk staan sentraal, of leer hy die goddelike konings/owerhede idee waaraan ons ons onvoorwaardelik moet onderwerp?
Nee, kyk nou wat die wese en sentrale saak is van hierdie paar verse, wat my/ons verhouding tot die wereld, tot owerhede, alles gesag, instellings bepaal. Ek lees weer vir u met die nodige beklemtonings, dan behoort u dadelik te verstaan, waaroor dit alles gaan:
“Wees dan onderdanig aan elke menslike verordening ter wille van die Here—of dit die koning is as opperheer, of die goewerneurs as sy gesante, om wel kwaaddoeners te straf, maar die wat goed doen, te prys. Want so is dit die wil van God dat julle deur goed te doen die onkunde van die dwase mense tot swye sal bring, as vrymense en nie asof julle die vryheid het as ’n dekmantel vir die boosheid nie, maar as diensknegte van God.” (1 Petrus 2:13–16)
DAAR is dit geliefde pelgrims van die Here, geliefde burgers van ‘n land:
TER WILLE van die Here, die wil van God, is ons diensknegte van God.
Nie revolusionêre individue wat wil afbreek en vernietig nie, nie goddelose owerhede wat hul magte misbruik nie, geen vader, moeder, kerkraad of president wat sy mag/gesag misbruik bepaal alles nie.
God alleen bepaal alles, sy wil in alles staan en moet sentraal staan, oor:
- reg en verkeerd: die ‘goed doen’ vs ‘kwaaddoeners’ … wie bepaal dit? God deur sy Woord, sy wet!
- hoekom onderwerp ons onsself aan verordeninge wat nie in wese gelowig is nie? Want God en sy Woord eis dit, sodat vers 15 kan plaasvind, die evangelie gedien kan word in alle tye.
- beteken dit dat ons vrygekoop is deur Jesus se bloed, ons kan maak wat ons wil teenoor ander mense, ook die heidene? Nee, ons is nie wettiste nie, dus redding deur die werke nie, maar ook nie antinomianiste nie, dus teen publieke wet en orde nie, ons is nie teen gesag en orde opsigself nie, ons glo en handhaaf die 5de gebod in ons tye en lewens, soek en jaag daarna in ons dankbaarheidslewe, juis omdat ons vry in Christus is.
En, hoe doen ons dit?
Vers 15 en 16 se waarskuwings en oproepe:
“Want so is dit die wil van God dat julle deur goed te doen die onkunde van die dwase mense tot swye sal bring, as vrymense en nie asof julle die vryheid het as ’n dekmantel vir die boosheid nie, maar as diensknegte van God.” (1 Pe 2:15–16)
En, as daar onreg plaasvind kan ons alle wettige middele volg om die onreg te keer of om te draai, maar selfs as ons onreg moet ly, dan hou ons aan doen wat reg en goed is, tot die Here se eer en die heil van die naaste, Romeine 12:19-21:
“Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here. As jou vyand dan honger het, gee hom iets om te eet; as hy dors het, gee hom iets om te drink, want sodoende sal jy op sy hoof vurige kole ophoop. Laat jou nie deur die kwaad oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.” (Ro 12:19–21)
Rom. 3:31, “Maak ons dan die wet tot niet deur die geloof? Nee, stellig nie! Inteendeel, ons bevestig die wet.” (Rom. 3:31)
Ja, die evangelie en wet soen mekaar, wet/orde en genade/redding soen mekaar, ons moet dit leer en najaag.
En kyk hoe som Petrus se oproep dit pragtig op daar in vers 17: “Julle moet almal eer, die broederskap liefhê, God vrees, die koning eer.” (1 Petrus 2:17)
Die woord ‘eer’ beteken respekteer, ons is nie mensveragters of gesagsveragters nie, al is ons teenstanders baiemaal ongelowiges. Hulle is ook beeld van God, maar opstandig en verloor, ons respekteer mense ook vir hulle ampstake, waarvoor die Here gebruik, omdat die Here alle gesag ingestel het, al misbruik baie mense owerhede hul mag en gesag.
Die ‘almal’ van v. 17 is dus ook alle mense in hul verordeninge, of dit die slaaf is of die konings, of dit man of vrou is, of dit ouers of kinders is, of dit lidmaat of ouderlinge is, daar is ‘n eerbied vir mense.
Maar dan is daar ook die unieke spesiale oproep om die broederskap, verwysende mede-gelowiges te dien, ter wille van hulle juis mense van orde en wet te wees, nie rewolusionêr te wees en hul te lei na onregmatige opstand en veragting van gesag en mag nie.
MAAR dan dit alles, hoe moet ons verhouding na die wêreld, na die kerk in al ons verordeninge bepaal word, daar is dit duidelik geliefdes: die VRESE van God.
Die hoogste en finale absolute Gesag en Mag is by God alleen, die woord vrees staan hier bepaald ook in die konteks dat Hy bo alles absoluut gevrees sal word, nie konings, vorste en mense nie.
As ons kwaaddoeners word, dan moet ons owerhede vrees, die tydelike vrees vir straf, maar ons doen dit as kinders, diensknegte van God, nie van owerhede en mense nie.
As ons doen wat goed is, al word ons vervolg, vrees ons nie mense nie, ons vrees God bo alles.
God is die hoogste finale absolute gesag van almal, beide kerk en staat, eer en vrees Hom bo alles.
Amen.
__________________________________________________
Ander Petrus preke hier.
Ander S. Le Cornu preke en lesings hier beskikbaar.
Leave a comment