Neo Paganisme, patriargie en feminisme in die 21ste eeu

“… hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid.”- Rom. 1:25
(Nota: ek het hierdie resensie reeds in 2002 gedoen, in die destydse ‘Esra Verslag’, ek plaas dit weer, met hier en daar sake wat ek byvoeg, veral die onderste gedeelte waar ek verdere bronne van dr. Peter Jones aanbeveel. Die resensie is ook opnuut relevant, in die lig van die nuutste ‘Nuwe Hervorming Netwerk -herdenking wat plaasgevind het: Twee dekades van herdenking: Die NHN 2004–2024)
Wat is onderliggend aan gebeurtenisse en verskynsels soos die Intergeloofbeweging (die Wêreldparlament van Godsdienste, wat in 1999 in SA gehou is), feminisme, homoseksualisme, aborsie, die Jesus Seminar beweging (o.a. die Nuwe Hervorming wat hierdie jaar, 2002, in SA opspraak verwek het), geboortebeperking, sielkundige positiewe selfbeeldbewegings, green peace beweging, globalisme (Wêreldberaad vir Volhoubare Ontwikkeling), ens.?
Antwoord: Al bogenoemde verskynsels is op een of ander manier die vrugte van, en die herlewing van die ou paganistiese godsdienste wat die laaste 2000 jaar met gemengde welslae onderdruk is deur die voortgaan van die Evangelie en die uitbreiding van die westerse beskawing, maar wat nou onder die dekmantel van die postmodernistiese demokrasie, menseregte en globalisme [met die slagspreuk: ‘verdraagsaamheid’!], besig is om terug te keer.
Dit vind plaas deur westerse en oosterse spiritualiteit met mekaar te versoen, en die Beraad wat hier plaasgevind het (asook die Wêreldparlament vir Godsdienste wat in 1999 hier gehou is), is deel van die beplanning om ‘Moeder Aarde’ [ook genoem die godin Gaia, Sophia, Isis, Lilith, ens.] te red, want ‘Sy’ is die godin van die toekoms. Die mensdom moet bevry word van die patriargale lewensbeskouing, wat gebaseer was op die Bybel, met ‘n patriargale God wat ontroon moet word. Hier ‘manlike God’ het vir 6000 jaar die mens onderdruk (veral die vrou) en moet nou vervang word met ‘n ‘vroulike god’.
Peter Jones, skryf in sy baie belangrike boek, Spirit Wars: Pagan Revival in Christian America (nuutste titel: Pagan in the Pews), dat die Franse Rewolusie gedroom het van ‘n Parys sonder ‘n aristokrasie; die Russiese Rewolusie van die verdwyning van privaat eiendom en die Nazi Rewolusie van ‘n wêreld sonder ‘inferior races’. Die 20ste eeu het egter met die grootste rewolusie gekom, naamlik ‘n wêreld sonder patriargie, ‘n samelewing wat dus sonder die tradisionele gesinstruktuur is, en ten einde op die langtermyn sonder ‘God, die Vader’, Skepper van hemel en aarde moet wees (p.xi).
Hierdie neo paganistiese feministiese rewolusie dring in elke huis in, en is besig om seksualiteit, God, godsdiens en God se Woord te herdefinieer … en dit is baimaal teoloë wat aan die voorpunt van hierdie rewolusie teen God en Sy kerk staan. In hierdie nuwe orde word alles omgedraai: goed word sleg, homoseksualisme word ‘n aanvaarbare seksuele leefstyl, aborsies word geregverdig, evolusie vervang die skepping, God word deur die Godin vervang, en die tradisionele gesin, word ‘n bedreigde minderheidstruktuur.
Hartseer genoeg, word baie christene mislei (soos met die vorige bedeling in hierdie land?) en ingespan om, wetend of onwetend, hierdie paganistiese rewolusie stilweg te bevorder, alles in die naam van die Bybel en die ‘bevryding van die vrou’. Jones vra ook die vraag: “One may wonder if in our day, through the Christian-sounding notions of gender liberation and egalitarian rights for all, neo-Gnostic New Age Liberalism is succeeding doing the same in an equally unsuspecting twentieth century church.”
Hy haal ook die radikale feminis, Naomi Goldberg aan wat sê: “The feminist movement in Western culture is engaged in the slow execution of Christ and Jahweh. Yet very few of the women and men now working for sexual equality within Christianity and Judaism realize the extent of their heresy.” (p.195).
Wanneer die baba (God se skeppingsordinasies en wet vir man en vrou se taak en rolle in die koninkryk van God) saam met die vuil badwater (misbruik en disrespek vir die vrou se essensiële plek in die koninkryk van God) uitgegooi word, dan gaan dit vernietigend wees vir die opkomende geslagte.
Mary Kassian, wys ook in haar werk, The Feminist Gospel, hoe baie wat in die feministiese protesterende kamp begin het, geleidelik in die paganisme ingegly het (p.309). Dit begin gewoonlik wanneer God se duidelike skeppingsordinansies en Sy wet, onder die dekmantel van die ‘sosio-historiese konteks’, moet plek maak vir die postmoderne feministiese tydsgees. ‘n Mens kan bv. sê dat die vorige bedeling het die Bybel deur ‘apartheidsbrille’ gelees, en vandag se geslag teoloë maak dieselfde fout deur die Bybel deur ‘feministiese brille’, d.w.s. vandag se humanistiese tydsgees te lees.
Dit vind dan veral plaas met die Nuwe Hervorming beweging of netwerk, wat kom met hul ‘nuwere kennis’ (gnosis) aangaande Jesus en die Nuwe Testament. Hierdie mense het skielik verskriklik baie ‘nuwe’ kennis oor die ‘historiese Jesus’ ontvang, wat in stryd is met dit wat die Evanglies ons bied. Jones verwys ook na John Richard Neuhaus, wat beweer dat teologiese skole vandag, deurtrek is van gnostiese dwalings, deurdat die ‘plain sense’ van die Skrif nie meer aanvaar word nie, maar dat daar ‘n ‘higher knowledge’ agter die woorde lê. Volgens Jones is een van die meeste duidelike voorbeelde daarvan, die manier waarop Genesis 1-3 gedekonstrueer word (p.130).
Waar Calvyn geleer het dat ons God en onsself moet ken, sodat ons Hom en ons naaste kan dien en liefhê … is die credo van die neo paganistiese godsdiens —wat ook baiemaal in die kerk voorkom (bedek in humanistiese positiewe selfbeeld bewegings, ens.): ‘ken jouself … want jy is eintlik God, die ‘gnosis’ wat jy mis is die wete dat jyself deel is van God en jouself, jou naaste en die aarde kan red!
Die strategie wat gevolg word, vir die terugkeer na die neo-paganisme, word soos volg deur Jones uiteengesit:
- Filosofiese dekonstruksie moet lei tot die sogenaamde linkerbrein ‘manlike’ denke wat vervang word met intuisie en persoonlike smaak
- Radikale Nuwe Testament Studies moet Jesus rekonstrueer (Jesus Seminar) en in die plek daarvan Sophia stel as ‘n model van ‘n verdraagsame, politiek korrekte, multikulturele, multiseksuele, feministies egalitariese samelewing, bevry van die wete van sonde, skuld en die Nuwe Testamentiese teologie van die Kruis.
- Radikale godsdienstige feminisme aanbid die godin Sophia, en verwerp daardeur alle ortodokse Christendom. Geleerdheid (scholarship) en feminisme moet die Gnostiese leringe laat herleef
- In lyn met bogenoemde, is New Age denke besig om te werk aan globale transformasie op grond van die herontdekking van die vroulike, regter brein ‘yin’ intuisie van die Eeu van die Aguarius. Dit verwerp rasionele, mens-geinspireerde ‘yang’ teorieë van die versoening volgens die Eeu van die Pisces.
Bogenoemde aspekte word dan histories veranker in die ou gnostiese tekste wat herontdek is, en vandag opnuut bestudeer word. Dit is die herlewing van die Neo-Gnostiek, wat as die intellektuele been van die neo-paganisme beskou kan word.
“Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ’n naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader.” – Fil.2:9-11
Om meer te weet van hierdie nuwe godsdiens, nl. die neo-paganisme en hoe dit besig is om die westerse wéreld oor te neem, wil ek daarom die boek van Peter Jones, by u baie sterk aanbeveel. Die boek is ‘n bybels, teologiese, historiese en wetenskaplik verantwoordbare tese oor die stryd tussen teisme en paganistiese monisme wat hom in die 21ste eeu gaan uitwoed. Hy wys hoe die gnostiese dwalings van die vroeë kerk (in nuwe baadjies) weer besig is om vandag binne en buite die kerk, weer terug te keer.
Hierdie boek is onmisbaar om die ‘postmoderne tydsgees’ van vandag te verstaan, sodat ons die simptome daarvan kan beveg met ons enigste wapen: die Woord van God deur die krag van die Heilige Gees.
Die skrywer van die boek, dr. Peter Jones, was professor in Nuwe Testament, aan die Westminster Theological Seminary, Escondido, CA, VSA. Gaan besoek gerus sy webblad by: https://truthxchange.com/
Hier is ‘n paar aanbevelings vir die boek:
“Peter Jones has emerged as a skilled knight in the culture wars. He lays his theological axe at the root of the three, cutting to the naked core of neo-paganism.” — RC Sproul
“An example of good, classical, living theology, after the fashion of Irenaeus and Augustine” — RJ Rushdoony
“This is a landmark book, prophetic, stating for our times what Machen did for his. It is essential reading for every pastor, elder and serious Christian.” — Jay Adams
“Dr. Jones sounds a wake-up call: The ancient gods are back. The book bursts with quotations and vignettes of contemporary leaders and research on the Gnostics of the past.” — Edmund Clowney
“In this courageous book, Peter Jones rips the masks off several of the most powerful spiritual influences assaulting our society. … No wild-eyed conspiracy theorist, Jones is a scholar who makes his case in a carefully reasoned fashion. Clearly written and powerfully persuasive, Spirit Wars is essential reading …” — John MacArthur
Byvoeging (1 November 2024): Neo-paganisme, die godsdiens van ons tyd, buite in die wêreld, maar ook in die kerk… veral in die kerk in ‘gnostic of paganism light’.
“Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hulle harte oorgegee aan onreinheid, om hulle liggame onder mekaar te onteer — hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid. Amen.” (Rom. 1:25)
Kyk en luister na die paganistiese belydenis hier van ‘n sogenaamde ‘minister in a Christian church” (eintlik niks anders as ‘n godsdienstige paganistiese priesteres nie), spesifiek 3.30min tot 4.50min, en luister gerus na die gesprek deur die grootste gereformeerde kenner van die herlewing van neo-paganisme, van veral die 1960’s en daarna, dr. Peter Jones (PCA):
(sien ook 18min en verder hoe dr. Jones praat oor die aanslae in die kerke)
Hierdie neo-paganisme via oosterse godsdienste (neo-gnostiek, luister na die kern van neo-gnostiek in 22-25min) is fundamenteel om te verstaan vir ons tye, want hierdie goed lewe nie net buite in die wêreld nie (feminisme, woke agendas, marxisme, liberalisme, ens ens) maar orals in kerke, want die wesentlike dwaling is niks nuuts nie, beginnende by Gen. 3 en saamgevat deur Paulus in Rom. 1:18-32:
Die mens (en sy begeertes en behoeftes en drange en wil) moet gedien word, die mens is self god, die mens moet verheerlik word, daarom die celeb en hero en SELF kultuur… en ‘gnostic light’ word gesien in die kerke met ‘my behoeftes, my inner-self moet gerealiseer word, my volle potensiaal moet bereik word, en almal, ook die kerk is daar om MY god MYself te vertroetel en op te bou, my in harmonie met alles te bring, want ek is god, alles is god wat in ‘harmonie’ gebring moet word’
Daar is baie belangrike teoloë en apologete om te lees in ons tyd, dank die Here daarvoor, maar ek kan nie sterk genoeg aanbeveel dat elke gelowige, elke jongmens, elke prediker, ouderling, ens. soveel as moontlik van hierdie ‘ou omie’, dr. Peter Jones leer en lees nie.
Moet vir geen oomblik dink die ‘groot en slim woorde’ is net vir geleerdes of filosowe nie, dit raak elke moeder, vader, kind, gemeente, gelowige, elke mens wesentlik.
Ons kan nie die ware evangelie en Woord as ANTWOORD werklik antiteties en vertroostend in die (post)moderne 21ste eeu verkondig vir onsself en ‘n verlore geslag en veral in ‘sosiale media’ tye, as ons nie ook die neo-paganisme en die mens van ons tye na behore verstaan nie, veral nie die nuwe ‘one-ism’ paganistiese wereld van ons tye nie, en dr. Jones help ons dit na behore te verstaan.
Dr. Jones was van die dieselfde geslag as die ‘begin’ van die neo-paganistiese herlewing spesifiek in die 20ste eeu, veral die 60’s en daarna, die Beatles-hippie ‘counter culture’ wat gehelp het om die oosterse godsdienste na die ‘christelike weste’ te bring.
Jones het die oorgang van ons westerse wereld beleef, en is saam Francis Schaeffer, van die belangrikste verklaarders van daardie bloedige Rom. 1:24, 25 rewolusie wat plaasgevind het. As jong tiener het hy ook vir John Lennon geken (beide van UK), en deur God se genade, het dr. Jones ‘n ander pad bewandel, waarvan ons nou baie kan leer.
Hier is ‘n paar van sy boeke in SA op uitverkoping:
https://www.christianbooks.co.za/search/peter+jones?post_type=product
Good Neighbours Bookshop:
Tolle et lege! (1 Kronieke 12:32)
Sy lesings is orals beskikbaar op youtube, by Ligonier Ministries, en dan sy webblad. Hier is meer inligting oor dr. Jones se bediening, asook ‘n paar lesings wat ek aanbeveel, om van te leer, sodat ons opnuut 2 Tim. 3:14-4:8 kan uitvoer ook in ons ‘neo-paganistiese’ postmoderne wêreld:
Evangelising the post-secular paganist:
Neopaganism inside the Church:
The Great Opponent of Contemporary Christianity:
Lees ook: Die gay agenda: die omverwerping van ‘n Skeppingsordelike beskawing … want geslag maak nie saak nie
Sien ook hier relevante artikels oor die neo-paganisme, neo-gnostiek, nuwe hervorming.
Leave a comment