1 PETRUS 2 PREKE: (13) Geroep om te ly in Christus (1 Petrus 2:18-25)

1 PETRUS 2 PREKE: (13)

Geroep om te ly in Christus (1 Pe. 2:18-25)

Lees: 1 Petrus 2:11-25

Teks: 18 DIENSKNEGTE, wees julle here onderdanig met alle vrees, nie alleen aan die wat goed en vriendelik is nie, maar ook aan die wat verkeerd is. 19 Want dit is genade as iemand, ter wille van die gewete voor God, leed verdra deur onregverdig te ly. 20 Want watter roem is daar as julle verdra wanneer julle sonde doen en geslaan word? Maar as julle verdra wanneer julle goed doen en ly — dit is genade by God. 21 Want hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle ’n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg; 22 Hy wat geen sonde gedoen het nie, en in wie se mond geen bedrog gevind is nie; 23 wat, toe Hy uitgeskel is, nie terug uitgeskel het nie; toe Hy gely het, nie gedreig het nie, maar dit oorgegee het aan Hom wat regverdig oordeel; 24 wat self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe; deur wie se wonde julle genees is. 25 Want julle was soos dwalende skape, maar nou het julle teruggekeer na die Herder en Opsiener van julle siele. (1 Petrus 2:18-25)

Sing: : Ps. 95:1, 2, 3, 4; Ps. 34:4-6; Ps. 80:1, 10; Ps. 140:10, 11

Opname (GK Carletonville, 2023-04-16):

Aflaai: 1 Petrus 2:18-25

[Nota: die teks hier onder en die preek self stem nie in alle inhoud ooreen nie]

Want hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle ’n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg…” (1 Petrus 2:21)

Geliefde gemeente in Christus,

Baie verkondig die volgende sogenaamde ‘evangelie’ (goeie nuus) aan mense:

“Wil jy hê dit moet altyd goed gaan? Wil jy fisies geseën word met gesondheid en geld? Het jy probleme en krisisse? Wel, glo maar net in Jesus, en al jou sorge gaan verby gaan, dit sal altyd goed gaan… jou beste lewe hier en nou…!”

Dut is egter nié die ware goeie nuus van Jesus Christus nie, wat ja, ons die geestelik rykste mense ooit maak, en ja, eendag na liggaam alles gaan gee wat volmaak en goed is, maar, die ware evangelie leer dat baiemaal, terwyl ons nog pelgrims is, dit kan kruisdra, swaarkry, lyding, ens. kan beteken, ter wille van die evangelie, terwille van Christus, terwille van God en die kerk, my naaste.

Vandag se teks, sny diep, in my en u harte en lewens, dit roep op tot geloof en navolging om … te ly vir Christus, om swaar te kry vir Christus, om vervolg te word in diens van Hom, dat ook dit ons roeping is. Ja, ons soek nie lyding nie, ons soek nie vervolging en swaarkry nie, maar in die weg van goed doen, reg doen, en aanhou goed doen, kan lyding en vervolging ons tref, in hierdie lewe.

En dan noem ons teks dit ook alles genade, ‘n voorreg!

Kyk weer na vers 19 en 21,

Want dit is genade as iemand, ter wille van die gewete voor God, leed verdra deur onregverdig te ly. …. Want hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle ’n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg…”

Dit leer ons vandag, dat dit ‘n troos is om vir Hom te ly, maar dan ook ‘n ondersoek vraag: waarvoor ly ek werklik, is dit vir God en geregtigheid, of as gevolg van my onreg, sonde en verkeerde denke en besluite?

Ons wil let op twee sake:
• die opdrag om onderdanig te wees in lyding
• die twee wesentlike redes waarom ons moet en kan ly

1 Die opdrag en oproep tot lyding, v. 18-21

DIENSKNEGTE, wees julle here onderdanig met alle vrees, nie alleen aan die wat goed en vriendelik is nie, maar ook aan die wat verkeerd is.” (v. 18)

In vers 12 het ons reeds gehoor, dat gelowiges moet in beginsel onderdanige mense wees, ons is 5de gebod mense, waarom?

Want God is ‘n God van orde, en Hy wil dat die die verordeninge (instellings, v. 13) wat Hy daar stel, in beginsel gehoorsaam word. As daar wanorde is, moet ons die orde soek en najaag (sien die vorige preek).

Die opdrag kom nou na gelowiges, in hul werksituasies. Baie was ook slawe gewees, diensknegte in verskillende beroepe, en die beginsel is duidelik: alle gesagsinstansies is van God, v. 13 en weer hier v. 19, ter wille van God is ons onderdanig.

En dieselfde geld vir wat ons leer vandag, dit is in die Here, dat ons die goeie te doen, ook in al ons werksituasies.

EN nou gaan die teks hier verder, selfs aan hulle wat verkeerd is, wat ongeregverdig is, wat ongelowig is. Dus, die beginsel bly, dit beteken nie jy doen ook self onreg, wat verkeerd is nie, of dat jy onwettige middele gebruik om die verkeerde reg te stel nie. Ons mag nie redenee: omdat ons slegte base het, daarom weg met alle gesagverhoudings of base nie.

Jy moet in moeilike situasies aanhou reg doen, dit is wat vers 19 en 20 juis wil leer:

“Want dit is genade as iemand, ter wille van die gewete voor God, leed verdra deur onregverdig te ly. Want watter roem is daar as julle verdra wanneer julle sonde doen en geslaan word? Maar as julle verdra wanneer julle goed doen en ly—dit is genade by God.”

Juis omdat ons anders is as die heidene, wat verbittered raak en moor, en self onreg begin doen, moet ons anders optree.

En daar is toetsteen: ons kan toornig raak oor onreg, oor booshede, slegte base, maar mag nie sondig nie (Ef. 4:26), dus die gebooie van God oortree nie, nie verbitterd en haatlik raak nie.

Daar is die sleutel: ‘wanneer jul goed doen en ly’, dus, as die baas steel, doen ek dit nie, as ander werknemers rebels raak, nie ek nie, ek ly tot eer van God op die regte weg.

Ja, soos Paulus hom beroep het op Romeinse reg, mag ons ons ook op die reg van die dag beroep om wet en orde, en billikheid ens te laat geskied (Hand. 22:26-29). Maar ons mag nie redeneer as die wêreld onreg pleeg, ons maar ook dit kan doen nie. Of as pelgrim, burger van ‘n ander koninkryk is ek nie onderwerpe aan owerhede, gesag, instellings, ens nie. God, ter wille van die gewete, God se Woord, nie die revolusionêre wraakgierige haatlike tydsgees bepaal my baas-dienskneg verhoudings nie, God bepaal dit deur sy Gees en Woord.

“Ja, maar Petrus, jy ken nie my lyding nie, of slegte baas en onreg ens nie…”

Nee, ek ken dit nie, dit is waar, maar die Here, ons Here Jesus ken dit, en dit is die tweede waarheid hier wat ons wil leer, wat gelowiges wat ly, moet raaksien en van leer.

2) Jesus stel ‘n voorbeeld van lyding van ons, en Hy roep ons om daarin te volg

Ons leer in verse 22-25 dat Jesus nie net volkome reg en geregtigheid gaan bring in die ewigheid nie, maar dat Hy juis lyding vir ons moontlik maak, sonder om te sondig.

Ware pelgrims het nie ‘n keuse nie, maar ‘n plig, ‘n roeping tot lyding wanneer dit nodig is, om aan te hou onreg te verduur terwyl ons net aanhou goed doen in die weg van sy goeie wet (Rom. 7:12).

Want hiertoe is julle geroep…”, hoor ons in v. 21 die oproep van die Here deur sy Woord aan al sy kinders deur alle eeue en tye, ook aan ons in ons eie tye. Nie dalk nie, Christus het die lydingsweg gewandel, sodat ons nou daarin kan navolg, in sy krag: “…omdat Christus ook vir julle gely het en julle ’n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg...”

Maar, dit is so moeilik!
Natuurlik is dit, vir ons almal!

Dink ons dat vir Jesus in sy mensheid was dit ‘maklik’?

Luister en lees aandagtig die volgende verse nou in ons teks:

Hy wat geen sonde gedoen het nie, en in wie se mond geen bedrog gevind is nie; wat, toe Hy uitgeskel is, nie terug uitgeskel het nie; toe Hy gely het, nie gedreig het nie, maar dit oorgegee het aan Hom wat regverdig oordeel…” (v. 22-23)

Kyk hoe het Jesus gereageer op die onreg en lyding wat Hom getref het! Hy het nie ‘reg’ in eie hande geneem nie, dus in stryd met die Vader se wil gedoen  gesondig en verkeerd gedoen in sy lydingspad nie. Die ironie, as Hy al sy vervolgers daar en dan gestraf en geoordeel het, sou Hy reg gewees het, want Hy het juis ‘geen sonde’ nie, ons wel!

Dink daaraan geliefdes: baiemaal wil ons reg laat geskied, en al wil ons, ons kan nie, ons het nie menslik die gesag en/of mag om altyd die goeie te doen nie.
Maar Jesus, as volkome God kon enige oomblik die vervolging en lyding gestop het.

Hy sê vir Petrus, die ywerige oorafkapper, wat ons baiemaal is in ons soeke na ‘reg en geregtigheid’ in hierdie lewe: “Of dink jy dat Ek nie nou my Vader kan bid en Hy vir My meer as twaalf legioene van engele beskikbaar sal stel nie?” (Mt 26:53)

EN HOEKOM HET CHRISTUS NIE SY REG EN GEREGTIGHEID TEENOOR AL SY VYANDE DAAR EN DAN BEOEFEN NIE?

Drie baie belangrike sake geliefdes:
i) maar dit oorgegee het aan Hom wat regverdig oordeel;
ii) wat self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het,
iii) sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe; deur wie se wonde julle genees is.

Christus het alles wat Hy gedoen het, gedoen terwille van die Vader se reddingsplan met ons, nie My wil nie, maar U wil geskied. Ja, definitief, die Here sal finaal en volkome oordeel met die wederkoms (lees NGB artikel 37), maar onthou en besef dit geliefde, Christus het vir ons sondes gely, gesterwe, vir ons revolusie en opstand teen God se verordeninge, waar ons God se reg, sy wet verbreek het… SODAT ons nie net in die ewige oordeel sal val van sy volkome reg en oordeel wat bedien gaan word met die wederkoms nie.

Maar, dan ook vir ons hele lewe hier, ons pelgrimspad, SODAT ons ook nou al meer gehoorsaam kan wees, ly, swaar kry en nie moedswillig sal sondig en opstandig wees in ons lewens en al ons verhoudings nie.

EN, dan vat Petrus, die oorafkapper dit alles saam in die laaste sin, beide ‘n vermaning en bemoediging: “Want julle was soos dwalende skape, maar nou het julle teruggekeer na die Herder en Opsiener van julle siele.” (1 Pe 2:21–25)

Julle was revolusionere opstandiges teenoor die Here en sy Gesalfde (Ps. 2), maar nou onderdanig aan My, julle Koning en Here, so nou kan jul tydelik onder mense wees, tot My eer.

Julle was dwalende skape, maar nou het julle ‘n Herder wat jul lewe en optredes bepaal, in die binnekamer, gesinslewe, gemeentelewe, maar ook al julle werksituasies, in die gemeenskap en samelewing.

En, dit is julle Herder en Opsiener van julle siele wat sorg en sal sorg, geestelik en fisies, midde alle tye, ook as daar vervolging is en gaan wees (sien Psalm 23 en Joh. 10).

Die ‘Opsiener van julle siele’ woorde wil ons 2 sake leer:
i) jou siel word vir ewig bewaar, dit sal nooit verlore gaan nie, Joh. 10:28, maar dan ook:
ii) die woord ‘opsiener’ wys na dat die Here in Christus en die krag van die Gees ons Beskermer en Bewaarder is in alles (lees en sing Psalm 121)

AS ek nie geduldig wil ly, aanhou reg doen nie, ens., dan vertrou ek nié dat God sal sorg nie, dat Hy my Herder en Opsiener is nie!

Laat ons daarom geliefdes, in dank vir ons groot verlossing in Christus, opnuut die waarheid van vers 21 omhels, vir hierdie en die ewige lewe

Mag die Here ons help om daarom aan die troos van die Woord vas te hou, om in en midde onreg en lyding wat oor ons mag kom, aanhou reg te doen in ons hele lewe en al ons verhoudings tot lof van sy Naam, met die oog op die troosryke wederkoms, soos ons volgens die Skrif bely en saamvat in die woorde van die HK, vraag en antwoord 52:

Vraag 52: Hoe word jy getroos deur die wederkoms van Christus om te oordeel die lewende en die dode? Antwoord: Dat ek in alle droefenis en vervolging met ‘n opgerigte hoof dieselfde Saligmaker wat Hom tevore om my ontwil voor die strafgerig van God gestel en die vloek geheel en al van my weggeneem het, as ‘n Regter uit die hemel verwag, wat al sy en my vyande in die ewige verdoemenis sal werp, maar my met al die uitverkorenes tot Hom in die hemelse blydskap en heerlikheid sal neem.

Amen.

__________________________________________________

Ander Petrus preke hier.

Ander S. Le Cornu preke en lesings hier beskikbaar.

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑