DS PGW SNYMAN PREEK
Orde maatreëls in die kerk van HERE (Esg. 46:1-10)

Inleiding
Dit is seker niks nuuts onder die son nie, ons leef al meer in 2 Tim. 4:3,4 tye, maar nie net dit nie, saam met dit, ons leef in tye van wanorde, chaos… en vir baie, nie net in die samelewing nie, maar ook in die kerk maak orde net nie meer saak nie.
Sommige meen nog die ‘waarheid’ is belangrik, maar nie die orde nie, moenie so ‘wetties’ wees – meen hulle – met julle oproepe vir orde in ‘kerk en staat’ nie… dit gaan net oor die ‘liefde’, ons soek nie die orde nie, ook (en veral) nie die ‘kerkorde’ nie.
Afgelope Sondag het ek gepreek vanuit Daniël 7, oor die ewige “Koninkryk van God, van die ‘Seun van die Mens’, die Messias, die Christus se Koninkryk, die ‘Koninkryk van(uit) die hemel’” wat staan radikaal teenoor die tydelike ‘koninkryke van(uit) die aarde, die mense koninkryke wat ‘aards’ en messiasse probeer wees. Mens kan dit ook sien as die ‘Koninkryk van Orde’ teenoor die ‘koninkryke van Wanorde en Chaos’, want dit is wat die sondeval en die sonde ook gebring het: chaos in beide leer en lewe, nie net ‘wat’ ons doen nie of nie doen nie, maar ‘hoe’ ons dit alles doen! Die Koninkryk van waarheid en orde teenoor die koninkryke van die leuen en chaotiese wanorde.
Mens kan dit ook sien as die ‘Koninkryk van Orde’ teenoor die ‘koninkryke van Wanorde’, want dit is wat die sondeval en die sonde ook gebring het: chaos in beide leer en lewe, nie net ‘wat’ ons doen nie, maar ‘hoe’ ons dit alles doen!
Die Koninkryk van waarheid en orde teenoor die koninkryke van die leuen en chaotiese wanorde.
En soos iemand treffend dit gestel het: as dit reën in die wêreld, dan is dit omdat dit reeds gedruppel/gelek het in die kerk….
Dit is tragies om te sien hoe ons as gelowiges, as kerke (tereg) baiemaal krities is wat ‘in die wêreld’ om ons aangaan in terme van wanorde en chaos, maar hoe gaan dit met ons self, in ons gemeentes, in ons kerkverbande, handhaaf en soek ons die orde, juis omdat ons Jesus liefhet, sy Woord liefhet, omdat ons mekaar liefhet…. juis om, in die woorde van ds. Snyman:
“Altyd in die koers van die Gees, en die Gees … altyd reguit, koersvas (wil wees)!… te midde van die vreeslike en verwarrende ballingskaps-oorlog oor Israel,” (ja, ook die verwarrende tye waarin die kerk van Christus haar tans bevind? – slc) Mensekinders, doen julle soos Nieu-Testamentiese kerkgangers dieselfde as die gerubs: gaan reguit vorentoe! Soos in die hemel, net so ook op die aarde tog! So het onse Here sy dissipels leer bid: “Gee dat ons en alle mense ons eie wil versaak en U wil wat alleen goed is, sonder enige teëspraak gehoorsaam mag wees, sodat elkeen sy amp en beroep so gewillig en getrou mag uitoefen en bedien as die engele in die hemel”. Elkeen in sy hele lewensamp en lewensberoep — net reguit vorentoe gaan, koersvas in die rigting van Gods Woord en Gees. Koers hou in die krisis. Reguit vorentoe aanhou!”
Glo ons van harte ja, dat nie net die waarheid, nie net die eenheid nie, maar ook die orde wat die Skrif leer en eis (bv. 1 Kor. 14:33-40), dat dit ook waarheid is, en juis die evangelie moet dien, alles tot lof van God en diens van ons naaste?
Ons wat glo aan die skeppingsordes, glo ons ook van harte die orde wat daar in sy kerke moet wees en dat ons dit in waarheid, in Gees, moet najaag (Ef. 4:15,16)
Hoe kan ons roep vir ‘wet en orde’ in ons samelewing, teenoor die politici, teenoor die leiers van hierdie wêreld, teenoor die valse verlossers van die aardse koninkryke… as ons eie huis(gesinne) en kerk(huise) nie ook in waarheid, in eenheid, in liefde… die orde ook soek en handhaaf nie?
Ja, ons kan en moet saam as gelowiges, as kerke om God se Woord, biddend afhanklik van die Heilige Gees besig wees om te bepaal:
– watter ‘ordereëlings‘ vir ons tye aangepas kan word (sien KO artikel 86),
– ons kan nederig soekend saam leer om te onderskei wat ‘belangrike en nog meer belangrike sake’ is,
– of ‘beginsel en middelmatige sake’,
– wat aan die ‘vryheid van die kerke oorgelaat kan word en wat nie aan die vryheid van die kerke oorgelaat mag word nie’,
maar, ons mag nooit die ‘orde’ self van die ‘ordereëlings‘ minag nie, dit is ‘n saak van God, vir sy eer, vir die heil van sy skape:
“… want God is nie ’n God van wanorde nie, maar van vrede, soos in al die gemeentes van die heiliges. 34Julle vroue moet in die gemeentes swyg; want dit is hulle nie toegelaat om te spreek nie, maar om onderdanig te wees, soos die wet ook sê. 35Maar as hulle iets wil leer, laat hulle tuis hul eie mans vra, want dit is lelik vir vroue om in die gemeente te spreek. 36Of het die woord van God van julle uitgegaan, of het dit tot julle alleen gekom? 37As iemand meen dat hy ’n profeet of ’n geestelike mens is, moet hy erken dat wat ek aan julle skrywe, bevele van die Here is. 38Maar as iemand onkundig is, laat hom onkundig bly. 39Daarom, broeders, beywer julle om te profeteer en moenie verhinder dat daar in tale gespreek word nie. 40Laat alles welvoeglik en ordelik toegaan.” (1 Kor. 14:33–40)
Lees gerus hierdie preek van ds. PWG Snyman, en hoe hy vanuit die Skrif wys op die orde wat ook daar is, juis om die evangelie te dien (beklemtonings bygevoeg):
Ordemaatreëls in die kerk van die Here
Lees: Eségiël. 46
Teks: Eség. 46:1—3, 8—10.
Op die Sabbatfeeste moes ‘n groot toeloop van mense in die tempel verwag word. Daar was dus ook allerlei prosessies wat daar beweeg het. Wanorde en botsings mog op hierdie heilige plek nie voorkom nie, dog alleenlik orde en harmonie moet heers. Om gedrang en ophoping van die verkeer uit te skakel, was ordereëls daarom ook vir die tempelverkeer noodsaaklik. Hierdie reëls was hoogs eenvoudig: die mense wat deur die Noorderpoort die tempel binnegekom het, moes deur die Suiderpoort weer na buite gaan, en die stroom uit die Suide moes by die Noorderpoort uitgaan.
Intussen moet ons in gedagte hou dat die Oosterpoort volgens hoofstuk 44 steeds gesluit moes bly, en in die Weste was die tempelmuur blind, sonder enige poort. Die ordemaatreëls vir die nuwe tempelverkeer het dus slegs die Noorder- en Suiderpoort getref, en daarvoor het ‘n soort eenrigtingsverkeer gegeld.
Maar by hierdie ordemaatreëls staan verder nog die veelbetekenende, die magtig predikende woorde: Elkeen moet reguit vorentoe uitgaan. Uit dit alles is dit duidelik dat Eségiël hier rekening gehou het met dié omstandighede dat daar ook binne die vernieude volk in die Godsryk op aarde balhorige, eiewyse en styfkoppige Jode was wat al téén die stroom in die tempel sou wou verlaat. Sulke feesgangers was daar altyd en sal daar in hierdie bedeling ook steeds wees.
Daarom moet ons nou luister na die prediking van
- die ordemaatreëls in die kerk van die Here, en
- die openbaring van die heerlikheid van die Here deur die kerkgangers wat reguit vorentoe uitgaan.
I. Die ordemaatreëls in die kerk van die Here
In sy visioen van die nuwe tempel met sy feesdienste verkondig Eségiël vir die kerk van die Here in die komende Godsryk, dit is in die Nieu-Testamentiese bedeling, vaste orde-reëls: eenrigtingverkeer uit noord na suid en andersom. Nie heen en weer omkeer in die tempel of kerk nie. Dit het heelwat vir ons te preek! Want verkeersreëls is tog nodig waar groot mensemenigtes bymekaar verby moet beweeg. En só moet die Nieu-Testamentiese kerk wees waar die gelowiges vergader!
Die Nieu-Testamentiese kerk moet op die Sabatte en feesdae druk besoek word!
Dit is die vergaderplek van die gelowiges by uitnemendheid op die Sabbatdae! Ja, só naarstig en ywerig moet ons met die gemeente van die Here vergader om sy Woord te hoor, sy sakramente te gebruik, om te kom aanbid en ons liefdegawes te bring, dat verkeersreëls beslis nodig moet wees. Na Pinkster, op die Sabbat, moet die gelowiges nie meer by tientalle nie, selfs nie eens by honderdtalle nie maar by duisendtalle vergader, sodat noodsaaklikerwys die verkeer gereël moet word. Dit, gemeente, is die beeld van die Nieu-Testamentiese kerk na Pinkster, op die Sabbat, na die eis van die profetiese Woord van God.
En hoe vergelyk die Nieu-Testamente kerk by hierdie profetiese beeld?
Waar is vandag die plekke by uitstek waar verkeersreëls noodsaaklik is? Daar by die stadion, by die voetbalwedstryde, by die stoeigevegte in die nag, by die sportwedstryde, by die kunswedstryde, by die honde- en perdewedrenne, by die rekordbrekers en motorjaers, by die moderne rolprentvertonings. En op die Sabbat by die kerk? Niemand droom tog om verkeersreëls daar op te stel nie? Dit is die klaagtone vandag oral: die kerkgangers is so angswekkend weinig teenoor die mense op die moderne genot- en vergaderplekke, dat dit veelal gek lyk om die verkeer te reël! Dit lyk asof dit maar die krummelgetalle uit ons Afrikaanse volk is wat gereeld Sondae die kerk besoek.
Weet u, daar is beslis nie kerkgeboue om elke Sondag die Afrikaner Christene te bevat nie? Daar is nie plek nie en die verkeer sal gereël moet word as almal die kerk moet besoek! En waar is hulle Sondae? O, die beskamende beeld, die benouende beeld van die Nieu-Testamentiese kerk in die twintigste eeu teenoor die eis van die profesie met sy drukke verkeersreëls! Daar is menige vir wie dit waarlik geen saak sou gemaak het as kerke met blinde mure sonder deur gebou sou gewees het nie! O, daar moet verandering kom onder ons volk; daar moet ‘n grondige reformasie kom.
Let op: verkeersreëls in die kerk! Daarvoor is Eségiël nie te geestelik, soos sommige klein groep- of kring-godsdienstiges vandag oordeel nie. Nee, hy is die profeet van God, die man vir die “massa”-godsdiens op die Sabbat.
Nee, verkeersreëls is nie ‘n te ongeestelike saak vir die kerk nie.
Dis die eis! Laat ons nie in ‘n soort oorgeestelikheid met veragting neersien op die stiptheid, die orde en reëlmaat in die diens van God, in sy Nieu-Testamentiese kerk nie.
Daar is vandag dié soort mens wat die kerklike ordereëls as sieldodende vorms, as wettiese letterknegtery bestempel.
Dis hierdie soort mens wat die wanorde en reëlloosheid liefhet en uitroep en hom oorgee aan geestelike uitspattinge in woeste gespring en gedans soos die sektes, en dit nogal wanneer die Gees in hulle sou werk!
En al sou die ordelose mens in sy hoog geestelike godsdiens nou ook die geestelike woestheid van die losbandige sektes verag, as hy hom nie onder die ordereëls en tug van die profetiese woord en die leer van die Heilige apostels vir die Nieu-Testamentiese kerk stel nie, dan is hy in beginsel ook net so ‘n geestelik verwilderde!
En van hierdie soort mense het ons ook in die Gereformeerde Kerk.
Hulle sal selfs veragtend spreek van die geestelike losbandigheid van die sektes wanneer hulle die Gees ontvang. Maar watter ordereëls het hulle vir die Sabbat? Onder watter tug staan hulle vir die Sabbats verkeer? Hulle leef by wat hulle die Sondagmore voor lus voel. Voel hulle lus om te gaan kuier, dan gaan kuier hulle. Voel hulle lus om die dag leeg deur te bring aan huis, dan doen hulle dit. Voel hulle lus om kerk toe te gaan, dan gaan hulle.
Dis hulle van wie die apostel sê: “En ons versoek julle, broeders, vermaan die onordelike mense” (2 Thess. 3:6) . As daar ‘n plek is waar van begin tot end orde moet wees, dan is dit juis die kerk van die Here. Want God is ‘n God van orde!
Daar moet reël en orde wees met ons kerklike bydrae; dit mag nie aan elkeen se willekeur oorgelaat word nie.
Daar moet orde wees by die bediening van die sakramente. As die kerkraad besluit het dat die kindertjies uit die kinderkamer vir die doop aangebied word, dan moet dit so geskied. As die kerkraad gereël het dat die susters met kindertjies op die punt van die banke moet sit om so min moontlik te steur by die in- en uitgaan, dan mag ander susters nie vir hulle die sitplekke langs die paadjies opeis nie. Daar moet dus orde en reël wees vir die sitplekke, vir die toetreding tot die Nagmaal, ja, ook vir die manier waarop karre van die plein wegstroom. Dis mos geen mark waarop almal deurmekaar krul en beweeg nie. Hier kom ons voor Gods aangesig en God is ‘n God van orde, wat voorskrifte daarvoor in sy Woord gegee het.
Seker, daar is beginselsake van die suiwere leer, van die godvrugtige lewenswandel in ‘n Skriftuurlike kerkinrigting waaroor die ampsdraers, nl. die ouderlinge in die eerste plek, moet toesien, maar die Heilige Skrif leer ons dat hulle nie minder moet toesien op die ordesake nie, nl. op die tyd waarop die kerk begin, op die seremonies van bevestiging van ampsdraers, huwelike, ens.
Naas die belydenis moet daar ook plek wees vir die kerkorde.
Kerkorde vir die kerke in kerkverband, en kerkorde vir die kerke plaaslik. Dis die werk van die kerkraad (ouderlinge) om die orde te reël en te handhaaf en dis die roeping van die gemeente om dit te bewaar en die kerkraad te kontroleer. Ouderlinge moet stip en ordelik wees en moet nousienend op hierdie dinge let. Ouderlinge moet nie slap wees om die goeie orde in die kerk van Christus te bewaar nie. En die gemeente moet leer om die goeie orde te bewaar! As ‘n lidmaat vertrek, moet hy tog volgens die ordereëling sy attestaat aanvra. En tog is daar so baie lidmate wat nalatig en slordig is in hierdie dinge, en dit mag net nie.
Die goeie en gewillige onderwerping aan die kerkorde is dan ook die eerste toetsteen vir die suiwerheid van iemand se belydenis en van die nougesetheid van sy godsdiens. Daarom, die kerkordeboekie moet in elke huisgesin lê en hulle moet dit van kleins af aan huis aanleer om kerklike dissipline aan te kweek.
Hierdie nuwe mode om lidmaat van die kerk te wees en nie eers te weet van die kerkorde nie is ‘n sondige laksheid en losbandigheid. Selfs ouderlinge en diakens is daar wat die kerkorde nog nooit eers gelees het nie. O, dit maak alles in die kerk so slap en laks. Dis ‘n ontsiering van die geïnstitueerde kerk van Christus.
Nee, u moet dit weet en u moet dit doen: by die noorderpoort in en by die suiderpoort uit of by die suiderpoort in en by die noorderpoort uit. Orde, reël, tug, dissipline!
II. Die openbaring van die heerlikheid van die Here deur die kerkgangers wat reguit vorentoe uitgaan
Eségiël bepaal dan die orde nog nader deur daaraan toe te voeg: “die volk moet reguit vorentoe uitgaan”.
Onthou tog, geliefdes, in die Skrif staan niks oorbodigs nie!
Hierdie woorde is dus ook nie sommer ingevoeg nie. Ons gedagtes word daardeur teruggevoer na hoofstuk 1 waar telkemale van die vier lewende wesens, die gerubs met die troonwa waarop die HERE in heerlikheid getroon het, gesê word: “Hulle het nie weggedraai as hulle gaan nie; hulle het elkeen maar reguit vorentoe gegaan” (1:9, 12, 17).
By die troonwa het die groots moontlike orde en reëlmaat geheers — wel wonderlik dog nie wanordelik nie — volstrekte harmonie sowel by die vier lewende wesens onderling asook tussen die diere en die wielwerk. Hulle het nie weggedraai as hulle gaan nie, selfs as hulle bliksemsnel opgehef word, maar hulle het elkeen reguit vorentoe gegaan waar die Gees ook heen wou gaan. Altyd in die koers van die Gees, en die Gees is altyd reguit, koersvas! En die Gees is in die wesens, en die gees van die wesens is in die wiele. Onsekerheid, wispelturigheid, onvastheid is geensins te bespeur in die gang van die troonwa nie.
Dit is ‘n openbaring van Gods heerlikheid, van die skoonheid van Gods volmaaktheid, te midde van die vreeslike en verwarrende ballingskaps-oorlog oor Israel. Geen vaste koers meer by Sedekia nie — dit was ‘n gehink op twee gedagtes. Ook die volk verskil onderling met mekaar en bots gedurig. Die een skreeu hiernatoe en die ander roep soontoe! Nasies lê oorhoop met mekaar, wêreldryke bots, krone val en nuwe trone word opgerig — ook op die groot wêreldtoneel geen koers en rigting nie.
En dan hierdie heerlike visioen: bo die aardse warboel verskyn God in sy heerlikheid, op sy troonwa met die gerubs vol van die Gees van die Here. En sy troonwa gaan met sy gerubs reguit vorentoe, op die doel van die Gees af. Deur die woeste, klotsende see wil Hy vir sy volk ‘n weg baan, soos die digter daarvan sing (Ps. 66:3):
Die Heer het deur die woeste seë,
en wilde strome ‘n pad gebaan
soos wand’laars op gebaande weë
het Hy sy volk daar deur laat gaan”.
O, dit was besonder vertroostend vir Eségiël om te sien dat daar bo die verwarring onder die mense onder die nasies en wêreldryke, ja selfs ook in die kerk, Een is wat reg op sy doel afgaan, dat daar in Gods regering niks bots nie, niks onsekers is nie.
En wat Eségiël so van Gods heerlikheid op die troonwa en van die gerubs gesien het, kom hy nou vir die mense, die vernieude volk, die Nieu-Testamentiese kerk preek waar hulle in die erediens vergader.
Die ligtende voorbeeld van die heerlikheid van die HERE en van sy gerubsengele hou hy vir hulle voor. Die herbore Israel moet voorbeeld neem van die engelewêreld vol van harmonie, orde en vaste koers.
Mensekinders, doen julle soos Nieu-Testamentiese kerkgangers dieselfde as die gerubs: gaan reguit vorentoe! Soos in die hemel, net so ook op die aarde tog! So het onse Here sy dissipels leer bid: “Gee dat ons en alle mense ons eie wil versaak en U wil wat alleen goed is, sonder enige teëspraak gehoorsaam mag wees, sodat elkeen sy amp en beroep so gewillig en getrou mag uitoefen en bedien as die engele in die hemel”.
Elkeen in sy hele lewensamp en lewensberoep — net reguit vorentoe gaan, koersvas in die rigting van Gods Woord en Gees. Koers hou in die krisis. Reguit vorentoe aanhou!
O, dis tog so treurig dat lidmate van die Nieu-Testamentiese kerk so sonder vaste koers is; dat hulle so wiggel en waggel, dronk van die chaosgeeste van die wêreld. Dat hulle so onseker is oor die koers oor die pad wat ons moet bewandel.
Dis nie ‘n openbaring van die heerlikheidsgees van die Here in die lewe nie, maar van die bose misleidingsgees van die wêreld. Die moment wat u onseker is en huigel — dan raak u al gevang deur die bose gees!
Dis ons vloek dat daar te veel lidmate is wat huigel, wat só sê en anders doen! Te veel lidmate van die kerk wat in die volkslewe krom draaie loop, heen en weer slinger juis in die krisistyd! Dis laag en gemeen. Dis duiwels en nie hemels nie.
Lidmate van die Nieu-Testamentiese kerk loop te midde van al die botsinge en wirwar koersvas volgens Gods Woord en Gees die Christus in sy koms tegemoet. Gelowiges gaan reguit vorentoe soos die heilige engele en openbaar so die heerlikheidsgees van God in hierdie ou verwarde wêreld.
Dis wat God, die Here HERE, sê: Dis Goddelike gesag, Goddelike seggenskap.
Dit moet die kerk preek in die volle besef van die amptelike roeping daartoe. As vandag Nuwe Ordes van politieke platforms uitgekraam word in ons verwarde tyd, dan moet die kerk die gesag, die majesteit en die heerlikheid van God openbaar deur God se oudsynde en tog immers nuut-blywende reguit orde te verkondig vir die wêreld. Hierdie gesag van die kerk is sy van God gegewe prerogatief! Ons hoor vandag by die Nuwe Orde-mens nie die Skriftaal van kerklike gesag nie, maar van groot mate van kerklike gesag. Nee! net sy van God gegewe gesag om God se Woord te verkondig. Niks minder, niks meer nie.
Wie is die bron van die kerk se gesag: die Nuwe Orde, of koning Christus aan Gods regterhand? Het Hy nie toe Satan vir Hom in die woestyn gesê het: “Al die koninkryke (gesag) gee ek u, aanbid my net” — Satan met Gods Woord afgewys nie: “Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien!”
Moet die kerk gaan buig voor die Nuwe Orde-mens?
Nog meer: Die Nuwe Orde met sy kronkelinge, staan teenoor Gods reguit orde. God het eenmaal die Noorde en die Suide vasgestel en gesê: reguit van Noord na Suid of reguit van Suid na Noord. Dis nie die wisselende winde wat die windstreke bepaal nie, maar die windstreke bepaal die rigtings van die winde. Sal u dan so dom wees om die Noorde en Suide te laat wysig deur die wind wat more gaan waai? Sal daar dan nog orde wees in hierdie ou wêreld!
O, wat ons vandag nodig het, is manne en vroue van wie ons weet waar hulle staan, van wie ons weet dat hulle te midde van die grootste nasionale, internasionale en imperiale verwarring en vertroebelinge reguit vorentoe gaan! Manne en vroue wat deur dik en dun, deur dieptes en donkertes van die nag koers hou! Na tien, na twintig, na sestig of tagtig jaar nog koers hou, sonder om te slinger.
Altyd die hemelse beeld vertrou en Gods koninklike heerlikheid openbaar: reguit vorentoe gaan. Uit die kerk, deur die poorte, deur die wêreldlewe: reguit vorentoe gaan. Dan sal u nie bots met u broer of suster nie. Dan leef en werk ons soos die gerubs saam. Dan bewaak en openbaar ons Gods heerlikheid.
Reguit vorentoe: Soos in die hemel, so ook op die aarde!
Amen.
__________________________________
Ds. PWG Snyman preekbundels:
Die Hemele Geopen: Esegiël 1-24 (deel 1)
Die Here is Daar: Esegiël 25-48 (deel 2)
Leave a comment