Twee kosbare bronne oor die Bybel in Afrikaans

Die adviseurs van die Afrikaanse Bybelvertaling in 1933 in Bloemfontein. Boonste ry: di. J.P.H. Steyn, C.F. Kies, G.D. Malan, W.J.W. Naudé, A.S.E. Yssel, W. de Vos. Middel: Di. C.W.M. du Toit, H.J. Otto, proff. J.A. du Plessis, C.J.H. de Wet, dr. H.D. van Broekhuizen, di. Dirk Postma, P.J.J. Boshoff en H.J. Pienaar. Voor: prof. B.B. Keet, Totius, ds. J.D. Kestell, proff. E.E. van Rooyen en H.C.M. Fourie. Hulle het amptelik bekendgestaan as die Kommissie vir Afrikaanse Bybelvertalers.
1 Die Geskiedenis van die Afrikaanse Bybelvertaling (1934), deur dr. PJ Nienaber

Ek plaas – met groot dank en erkenning aan br. Willem Swanepoel van GK Wilrowpark en CBJF – hierdie 2 bronne op my blog.
Ek plaas ook dele vanuit die ‘woord vooraf’ van ds. JD Kestell en die ‘voorwoord’ van die skrywer hieronder.
“Die jaar 1933 sal altyd onthou word as ‘n belangrike datum in die geskiedenis van ons kerk en ons taal. Die verskyning van die Bybel in Afrikaans in dié jaar is ‘n gebeurtenis van die allergrootste belang. Maar dis besonder moeilik om die ware betekenis hiervan in die regte perspektief te sien, eenvoudig omdat ‘n mens jou nog blind staar op die hede. Eers later sal die waarde van die Afrikaanse Bybelvertaling juister kan geskat word. In hierdie boek het ek probeer om ‘n getroue geskiedkundige oorsig van die vertaling van die Bybel in Afrikaans te gee.” – PJ Nienaber, 1934
Laai hier af.
2) Di eerste boek van Moses, genoem Génesis* (1893), deur dr. SJ Du Toit

Ek plaas die inleiding van dr. DF Du Toit op hierdie vertaling en verklarende aantekeninge van SJ Du Toit op Genesis hieronder, asook SJ Du Toit se verklarende nota by Genesis 2:4 oor die verskillende Godsname wat deur Moses gebruik word in Gen 1 en 2, ‘Elohim’ en ‘Jehova’.
“Ons hoop dat sulke en andere broeders ni sal vergeet om te bidde ver ons, en veral in di werk ni. Laat hulle veral Donderdags aande ver ons same met di werk an di Here opdra. Laat di versugting vêraf wees wat dit in ons kring is, namelik:
‘Dat ons Hemelvader ver ons wil verlig deur diselfde Gees wat di Bybel geskrywe het, so dat ons duidelik di sin en méning van di Gees in elke woord en letter mag verstaan; – dat Hy ons dan, as di Gees van di tale, wil leer hoe ons Syn méning reg en duidelik in ons taal moet uitdruk; – dat Hy ons eie sile almeer wil verkwik en versterk deur di léwende woord, so dat ons kan genade kry om met di werk vort te gaan; – dat Hy oek di harte van ons volk wil voorberei om Syn woord in hulle eie taal te ontvang; – dat Hy veule dorstige en hongerige sile deur di Bybel in ons Volkstaal wil drenk en spysig ver di eeuige lewe; – en dat Hy alle vyandskap teen Syn eie werk wil magteloos maak en beskaam.’ Dis wat ons telkens same bidde en wat ons hoop en wens dat ons broeders deur di héle land same met ons sal bidde. …
Ons gaan intussen an in di naam en krag van onse God, vertrouwende: as di werk uit di mense is, dat dit sal verbreek worde, mar as dit uit God is, dat dan gen mens dit sal kan verbreek of keer ni. Mog Gods Woord voorspoedig wees onder ons volk! Mog ons swakke poging oek daartoe geseen wees! Dis ons enige wens en begeerte.
Namens di Genootskap van Regte Afrikaners, wat di saak begin het, en namens di Broederkring wat dit nou uitvoer,” – DF du Toit
Laai hier af.
_____________________________________________
WOORD VOORAF – JD KESTELL
Toe die Afrikaanse Bybel haas sou verskyn, het die Daaglikse Bestuur van die Kommissie deur die Hollandse Kerke aangestel vir die oorsetting van die Bybel in ons eie taal, aan dr. J.D. du Toit gevra om ‘n gedenkboek op te stel. Dr. Du Toit het hom die versoek laat welgeval, maar, terwyl hy besig was om stof in te samel, verneem hy dat mnr. Nienaber, nadat hy menigvuldige gegewens byeengebring het, ‘n M.A.-tesis oor die onderwerp geskrywe het, met die doel om dit te publiseer.
Dit het dr. Du Toit laat besluit om mnr. Nienaber te meld dat hy geen beswaar het teen die publikasie van sy tesis nie. Tewens het hy vir die Daaglikse Bestuur gevra om hom te onthef van die opdrag wat aan hom verstrek was. Mnr. Nienaber het toe aan dr. Du Toit gevra of hy ‘n woord ter inleiding vir sy boek sou wil skrywe. Dr. Du Toit was hiervoor te vinde, maar hy het later op die gedagte gekom dat dit beter sou wees dat die voorsitter van die Kollege-vertalers hierdie taak sou vervul. So vind dan die leser my naam hieronder.
Ek het geen opdrag van die ander vertalers om hier iets te skrywe nie, maar ek het geen rede om te dink dat hulle beswaar sal hê teen wat ek hier kortliks te sê het nie. Omdat ek egter geen opdrag het nie, is die verantwoordelikheid van die inhoud van hierdie tesis vir rekening van die skrywer; maar dan moet in gedagte gehou word dat die werk deur die vertalers gelees is, en dat mnr. Nienaber baie nut getrek het uit wat hulle opgemerk en wat hulle aan die hand gegee het.
As daar iets is op godsdienstige en kulturele gebied waarby die aandag ernstig bepaal kan word, dan is dit die verskyning van die Bybel in Afrikaans. Maar aan dié groot feit moet ons nie alleen dink nie; ons moet ons gedagtes ook vestig op die tydstip waarop die Vertaling die lig gesien het. Dit was toe die nood waarin ons volk verkeer het sy toppunt bereik het — die swarte jaar 1933. Daar verskyn die Woord van God in ons eie taal, soos ‘n ligstraal in die donker!
Maar ons dink ook aan die jare waarin die vertalers met hul werk besig was. ‘n Aansienlike gedeelte daarvan was in die kommervolle dae toe daar groot beroering was op kerklike en godsdienstige gebied. Hoe dit egter gestorm en gewoed het, dit het op die vertalers nie aangedruis nie. Hulle het voortgearbei dwarsdeur in volle geloofsversekerdheid en vertroue.
Mnr. Nienaber wens ek geluk met die keuse van sy onderwerp. Daar was sekerlik ander waaraan hy gedink het, maar hierdie een was stellig ‘n seer aktuele. Met waardering kan ek van sy tesis spreek. Ek dink veel van die arbeid deur hom gegee aan die opsoek en verwerking van stof vir sy Verhandeling. Die leser vind hier ‘n duidelike beeld van die wordingsgeskiedenis van die Afrikaanse Bybel.
Baie interessant is wat in kort meegedeel word van ander oorsettinge, en uitvoeriger van dié van die Statebybel. Dit gee kleur aan sy geskrif. Wat betref die werk van die vertalers van die Afrikaanse Bybel, het die skrywer alles gedoen wat in sy vermoë was om besonderhede te verkry aangaande hul metode van werk, die moeilikhede waarmee hulle te kampe gehad het, en hoe hulle geraadpleeg het met die taaladviseurs. Hierdie gedeelte van sy tesis laat ons dink aan wat ons in Hinlopen lees in verband met die ses vertalers van die Statebybel.
Alle voorspoed wens ek die skrywer met sy boek toe.
J.D. KESTELL.
Bloemfontein, Augustus 1934.
VOORWOORD – PJ Nienaber
Die jaar 1933 sal altyd onthou word as ‘n belangrike datum in die geskiedenis van ons kerk en ons taal. Die verskyning van die Bybel in Afrikaans in dié jaar is ‘n gebeurtenis van die allergrootste belang. Maar dis besonder moeilik om die ware betekenis hiervan in die regte perspektief te sien, eenvoudig omdat ‘n mens jou nog blind staar op die hede. Eers later sal die waarde van die Afrikaanse Bybelvertaling juister kan geskat word.
In hierdie boek het ek probeer om ‘n getroue geskiedkundige oorsig van die vertaling van die Bybel in Afrikaans te gee. Dat daar nog leemtes is, sal ek nooit wil ontken nie. Miskien het sommige persone of feite nie genoeg op die voorgrond gekom nie. Die hooflyne is in elk geval aangedui, die gang van die geskiedenis geteken. Tot grondslag van hierdie boek het gedien my tesis vir M.A. in Hollands aan die Grey-Universiteitskollege waar ek studeer het onder leiding van prof. dr. D.F. Malherbe, prof. dr. H. v. d. M. Scholtz en dr. E.J. Conradie.
Dat ek die tesis aanmerklik moes verkort en sommige dele moes omwerk is begryplik as onthou word dat die boek vir die breë massas bedoel is. Daarom dat die taalkundige deel byna geheel weggelaat is.
Met dankbaarheid wil ek in die eerste plek die name noem van prof. dr. J.D. Kestell en prof. dr. J.D. du Toit, wat soveel van hulle tyd afgesonder het om my met die werk te help, en soveel inligting verstrek het. Hulle woorde en dade was vir my ‘n inspirasie.
Daar is so baie ander bekende persone wat vir my inligting en hulp verskaf het. Ek dink hier aan prof. dr. T.H. le Roux van prof. dr. B.B. Keet, dr. H.C.M. Fourie, prof. L.J. du Plessis, di J.P.H. Steyn, [iv] J.F. Naudé, J.J. Kühn, W.J.W. Naudé, prof. F. Postma, mnr J.F. Jacobs (Koedoesrand), dr. P. de Klerk, en nog ander.
Aan almal my hartlike dank! My waardering wil ek ook uitspreek teenoor mnr. S.J. Naudé, argivaris van die Ned. Ger. Kerk te Bloemfontein; prof. J.A. du Plessis van Potchefstroom; mnr. L.W. Hiemstra van Die Volksblad — al drie die persone het my bygestaan met die argiewe-werk.
Die leser sal vind dat ek ruim gebruik gemaak het van aanhalinge. Dit het my voorgekom dat dit die beste is om die persone self dikwels aan die woord te bring en om liewers die onopgesmukte feite te gee as om my te veel besig te hou met interpretasies daarvan wat, soos gesê, op hierdie tydstip nog nie goed moontlik is nie.
Graag wil ek persoonlike briewe ontvang van belangstellende lesers, wat my meer inligting kan verskaf, opbouende kritiek kan uitoefen of ‘n ander sienswyse oor sommige punte kan gee, alles met die oog op ‘n eventuele uitgawe.
Heel besonderlik wil ek ‘n woordjie van dank bring aan dr. G.S. Nienaber, wat vir my baie goeie wenke aan die hand gegee het en so vriendelik was om die proewe vir my te lees, en aan prof. dr. J.D. du Toit nogeens daarvoor dat hy tot drie keer toe die werk sorgvuldig gekontroleer het. Mev. G.S. Nienaber het goedgunstiglik vir my die persoonsregister opgestel.
DIE SKRYWER.
Vondelstraat 60, Amsterdam.
______________________________________________
* Die spelling van SJ Du Toit in 1890’s is behou:
Di eerste boek van Moses, genoem Génesis, S.J. du Toit
Génesis beteken wording, begin, of oorsprong, omdat dit di oorsprong beskrywe van di héle skepping (hoofstuk 1 en 2), van di sonde (3), van di eerste pntwikkeling (4 en 5), van di verspreiding van di mensdom en di oorsprong van di tale en nasiis na di Sondvloed (6 tot 11), van di Joodse volk uit di Aartsvaders (12 tot 50).
Let op, dit moet ni uitgespreek worde Genéesis, mar Génesis, di nadruk moet op di eerste, ni op di twede lettergreep kom ni.
Inleiding
Genesis is klaar. Di eerste boek van di Bybel kan ons nou al lees in ons moedertaal. Ons hoor dus al di grote werke Gods in di taal waarin ons gebore is verkondig.
Dis ‘n vrug van veul arbeid en gebed. Di maniir waarop ons nou werk is: alle Donderdag aande (tensy wettige verhindering dit belet) kom ‘n kring van broeders by makaar ver di Bybelvertaling. Dit word geopen en gesluit met gebed, waarby in bisondere mate di teenwoordigheid van Gods Gees gevoel en erken word. Daarna sit ons om ‘n ronde tafel elkeen met syn Bybel.
Eers het ons Génesis vertaal, wat nou verskyn. En nou is ons besig an Mattéus. Eén of 2 het altyd di Bybel in di oorspronkelike taal (Hebreeus of Griiks, en wel ‘n kritise uitgaaf, wat di verskillende oue lesings gé), di andere het elkeen ‘n aparte vertaling, soos di Hollanse Statevertaling, di egte Engelse vertaling, di Luterse vertaling, di nuwe Hollanse en di nuwe Engelse vertaling, verder di vertalings van van der Palm, Lange, ens.
In di begin het ons gen antekenings gehou ni, mar van Génesis 21 vs. 22 af het ons in ‘n boek al aande angeteken wi teenwoordig was en watter afdeling behandel is. Daarvandaan af het dit ons 18 aande geneem om Génesis klaar te maak. Ons getal was van 5 tot 17 per aand, daaronder 2 predikante, 1 Sendeling, 3 onderwysers, 1 Dokter, 1 Jood, ens.
Di maniir van werk ver Genesis was só: Ds. S.J. du Toit vertaal vooruit. As ons samekom dan lees hy voor letterlik hoe dit in Hebreeus staan, woord ver woord, en letter ver letter. Waar belangrike of twyfelagtige woorde is, word dit opgeslaan en al di betekenisse sekuur nagegaan in di beste woordeboeke. Dan gé hy ons hoe hy dit in Afrikaans uitgedruk het. Di vertaling word dan noukeurig vergelyk met di Hebreeus en met di verskillende andere vertalings, en waar dit dan deur almal same, onder di leiding van di Heilige Gees, nodig bevind word, daar word veranderings gemaak, en besluit waar en hoe antekenings moet gemaak worde. Daarna werk Ds. S.J. du Toit dit dan weer o’er.
Nou is ons besig met Mattéus en op enigsins ‘n andere maniir. Om ni teveul invloed op di andere broeders uit te oefen ni, maak Ds. du Toit nou ni meer vooruit ʼn geskrywe vertaling ni. Ons vergelyk eenvoudig di oorspronkelike teks met al di beste vertalings, oek wel met raadpleging van woordeboeke en verklarings waar dit nodig is. Ons perbeer eers goed om di méning van di Heilige Gees te verstaan en dan besluit ons hoe om dit di beste in ons taal uit te druk. Ds. du Toit neem dan daarby antekeninge en in 13 aande tyd.
Ons gé di maniir van bewerking so noukeurig op, dat ons broeders buiteaf kan siin, dat ons ni ligvêrdig te werk gaan ni. Ons is altyd bly as hiir vrinde van onder kom en hulle kan en wil dit bywoon. Verskeie het dit al bygewoon en di was altyd reg verblyd en dankbaar daarvoor, en het onse liwe Vader in di hemele di ére en lof gegé ver wat hulle gesiin en gehoor het.
Ons hoop dat sulke en andere broeders ni sal vergeet om te bidde ver ons, en veral in di werk ni. Laat hulle veral Donderdags aande ver ons same met di werk an di Here opdra. Laat di versugting vêraf wees wat dit in ons kring is, namelik:
‘Dat ons Hemelvader ver ons wil verlig deur diselfde Gees wat di Bybel geskrywe het, so dat ons duidelik di sin en méning van di Gees in elke woord en letter mag verstaan; – dat Hy ons dan, as di Gees van di tale, wil leer hoe ons Syn méning reg en duidelik in ons taal moet uitdruk; – dat Hy ons eie sile almeer wil verkwik en versterk deur di léwende woord, so dat ons kan genade kry om met di werk vort te gaan; – dat Hy oek di harte van ons volk wil voorberei om Syn woord in hulle eie taal te ontvang; – dat Hy veule dorstige en hongerige sile deur di Bybel in ons Volkstaal wil drenk en spysig ver di eeuige lewe; – en dat Hy alle vyandskap teen Syn eie werk wil magteloos maak en beskaam.’
Dis wat ons telkens same bidde en wat ons hoop en wens dat ons broeders deur di héle land same met ons sal bidde.
Dan nog iits, di lesers sal siin dat ons op verskeie plekke antekeninge gemaak het. Deur alle bybelvertalers, veral di wat di eerste di Bybel in ‘n taal vertaal, is di behoefte gevoel an sulke antekeninge, om di leser te laat verstaan waarom di vertalers dit juis só uitgedruk het. Met behoud van hoofstukke en verse, sodat elkeen maklik kan opsoek, het ons tog di inhoud so afgedeel met opskrifte bo an, dat dit makliker is om te lees en iits te kry wat ‘n mens wil hê. Dit sal tog wel ni nodig wees dat ons hiir sê, dat Moses ni in Hollans, mar in Hebreeus geskrywe het, en dat hy oek ni di afdélings in hoofstukke en verse gemaak het ni.
Op een punt wil ons nog wys, wat di vertaling self betref. Dis so letterlik molik gemaak, en waar ons dit ni volkome létterlik kon kry ni, het ons in di kanttékening di letterlike betékenis gesit. Dan perbeer ons oek om soveul molik di oorspronkelike woorde altyd met diselfde woorde in Afrikaans uit te druk, terwyl onse Statevertalers soms diselfde Hebreeuse of Griikse woord met 4 of 5 aparte Hollanse woorde vertaal en omgekeer 6 tot 7 Hebreeuse en Griikse woorde vertaal met een Hollanse woord. Dan het ons v eie name soveul molik gehou soos dit nou eenmaal in Hollans geskrywe is.
Maar eie name soos Jehova en Sheool (Doodenrijk) het ons onvertaal laat bly, terwyl ons Statevertaling di eerste vertaal het met HEERE en di laaste somtyds as graf en somtyds as hel, terwyl dit gen een van di 2 is ni. Ons het op di 2 woorde antekeninge gegé in di teks. Ons vermeld alleen hiir di feit, dat ons an di algeméne régel gehou het: om eie name ni te vertaal ni, mar wel in di kanttékening di betékenis daarvan an te wys.
Ons wag nou ni tot di héle Bybel klaar is ni, mar gé boek ver boek wat klaar is meteen uit. Eers Génesis; binne kort Mattéus; dus di eerste boeke van di Oue en Nuwe Testament. Dis nog ni vas bepaal ni, mar ons hoop daarna, as di Hére wil, uit di Oue Testament di Psalme, en uit di Nuwe een van di Sendbriwe te vertaal; en so an te gaan met di hulp van di Hére boek ver boek uit te gé tot ons di héle Woord van God in ons eie taal het. Dan kan almal same ingebinde worde; of Oue en Nuwe Testament apart; met of sonder antekenings; soos dan sal blyk di beste te wees.
Di maniir van boek ver boek uit te gé, het veral 2 voordéle: 1) dat wat klaar is dan dadelik syn werk kan doen; en 2) dat belangstellende ons hulle opini kan médeel, ons foute kan anwys, waar hulle meen dat iits moet verbéter worde, sodat dit kan reg gemaak worde as di héle Bybel by makaar gedruk worde.
Daartoe stuur ons ‘n kopy an elke Teologise Professor, Predikant en Sendeling in ons land, met vrindelike versoek om ons hulle gedagtes en wenke te stuur, wat ons beloof same te bespreek as in di teenwoordightid van di Hére en onder di leiding van di Gees. Mar andere broeders kan ons oek hulle gedagtes en wenke stuur, dit sal éwegoed behartig worde. Wil hulle dit ni doen ni, dis ver hulle rekening.
Ons gaan intussen an in di naam en krag van onse God, vertrouwende: as di werk uit di mense is, dat dit sal verbreek worde, mar as dit uit God is, dat dan gen mens dit sal kan verbreek of keer ni. Mog Gods Woord voorspoedig wees onder ons volk! Mog ons swakke poging oek daartoe geseen wees! Dis ons enige wens en begeerte.
Namens di Genootskap van Regte Afrikaners, wat di saak begin het, en namens di Broederkring wat dit nou uitvoer,
D.F. DU TOIT & Co.,
Uitgewers, Paarl.
Paarl, 27 Maart 1893
Die Godsname in Gen. 1 en 2
“En Jehova God vorm di mens van stof uit di grond en blaas in syn neusgate lewensasem, en di mens word tot ‘n lewende siil.” – Gen. 2:4
” Vs. 4 begin di twede afdeling van Génesis, waarin Moses di verhaal ni in gereelde tydsorde vortset ni, mar vollens Hebreeuse maniir van verhaal, teruggaan om nou meer uitvoerig te beskrywe hoe di aarde geskik gemaak is ver di mens; hoe di mens geskape en in di Paradys geplaas is; hoe God Syn verbond met di mens opgerig het, ens. Sommige verklaarders het gemeen, dat Moses mar in Génesis verskillende oue antekeninge (fragmente), wat hy hiir en daar gekry het, saamgevoeg het, sodat hiir twé aparte verhale van di skepping sou wees. Tot bewys ver di stelling wys hulle daarop, dat di skrywer van Hoofstuk 1 altyd net di naam God (Elohiim) en di van Hoofstuk 2 en 3 altoos di dubbele naam Jehova-Elohiim gebruik.
Mar dis alweer ‘n verkeerde verklaring. Di Jode het di twé name ni willekeurig gebruik ni. Elohiim is di benaming van God in Syn betrekking tot di natuur en beteken di Hoge of di Sterke, mar Jehova is di Verbondsnaam van Israëls God.
Hoewel God sig eers later by di twéde naam an Israël geopenbaar het (Ex. 3), gebruik Moses di twé name in syn verhaal van di skepping vollens di betrekking waarin God hiir optré, en wel in Hoofstuk 1 as Elohiim, as Skepper van di natuur, en in Hoofstuk 2 en 3 as Jehova-Elohiim, omdat hiir di Skeppingsgod tot Verbondsgod word deur syn verbond met di mens op te rig. Vergelyk Ps. 19, waar vs. 1-7 Gods heerlikheid in di natuur en vs. 8-15 di voortreffelikheid van di wet van Jehova geprys word. Daar Jehova eintlik Gods Eienaam is (Ex. 3:14; Jes. 42:8), en bowedien onvertaalbaar is, laat ons dit onvertaald bly. Di grondgedagte van di naam is di Ewige, di Onveranderlike.”
____________________
Ander bronne oor vertalings en vertaalmetodes op Pro Regno: Vertalings