PREEK: Die Doop van ons en ons kinders wys ons op die enigste Vertroosting van al die volke (Luk. 2:25-32)

PREEK: Die Doop van ons en ons kinders wys ons op die enigste Vertroosting van al die volke (Luk. 2:25-32)

Lees: Lukas 1:5,6,37-38; 2:21-40

Teks: “25EN daar was ’n man in Jerusalem met die naam van Símeon; en hierdie man was regverdig en vroom en het die vertroosting van Israel verwag, en die Heilige Gees was op hom. 26En aan hom was dit deur die Heilige Gees geopenbaar dat hy die dood nie sou sien voordat hy die Christus van die Here gesien het nie. 27En hy het deur die Gees in die tempel gekom; en toe die ouers die Kindjie Jesus inbring om met Hom te handel volgens die gebruik van die wet, 28het hy Hom in sy arms geneem en God geloof en gesê: 29Nou laat U, Here, u dienskneg gaan in vrede volgens u woord, 30omdat my oë u heil gesien het, 31wat U berei het voor die oë van al die volke — 32’n lig tot verligting van die nasies en tot heerlikheid van u volk Israel.” (Lukas 2:25–32)

Sing: Ps. 8:1,27; 71:1-4; 71:9-12; 105:5; 150:3.

Opname:

Aflaai: Dooppreek Luk. 2:25-32

[Nota: ek dra hierdie preek op aan all verbondsouers, en grootouers, aan elke gelowige wat ons VerbondsHere liefhet (2 Tim. 4:6-8), en – deur sy genade alleen – getrou sy verbondsbevele uitvoer en wil uitvoer, hoe gebroke ookal baiemaal, ook wat die verbondsoop (aan ons en ons kinders…) betref. Ja, wat ook midde ons tye en omstandighede aanhou optrek na die huise van Here om Hom met vaste en gebede te dien ‘nag en dag’ (Luk. 2:37), waar daar soveel aanslae is in ons tye, nie net in ons vervalle land nie, maar ook en veral in ons vervalle kerklike tye, ook onkundige (en/of kwaadwillige) aanslae teen die groot rykdom, ewige troos van die genadeverbond van ons Here… ja, vir ons én ons kinders, vir klein en groot, oud en jonk, vir elkeen wat die Here na Hom sal roep, tot die laaste dag (Gen. 17:7; Hand. 2:39; Hebr. 6:13).  Mag ons geslag en hulle wat volg sy roepstem deur die evangelie hoor, in die krag van die Gees, Hebr. 4, waarop die Here se geskrewe beloftes én sakramente ons wys.]

Preeknotas [die volledige preek is die opname, hier onder is die preek notas]:

Geliefde gemeente in Christus,

Die Gees van God werk op grond van Jesus se volkome offer, deur sy Woord die redding in elkeen van sy uitverkore kinders se harte, klein en groot, wie Hy wil en wanneer Hy wil. Dit is die genadegeskenk van die wedergeboorte.

En dan gee Hy ook vir sy kinders, om daardie troosvolle waarheid en sekerheid vir ons te bevestig en ons te versterk, tekens wat bedien moet word in sy kerk… vanoggend in die besonder die doop aan die kleinkind van verbondsgrootouers, Dana en Marietjie.

En nou wil ons vanoggend almal, ja nie net Dana en Marietjie nie, nie net familie, vriende nie, maar die hele gemeente, jonk en oud leer vanuit Lukas 2 waaroor vandag se gebeure, waaroor die doop gaan, WAARIN OF BETER, IN WIE ONS TROOS EN HOOP IS, WAARNA DIE DOOP WYS EN VAN GETUIG, WAT LEER HIERDIE TEKS ONS VANDAG OOR DAT ONS ONS KINDERS MOET DOOP, EN WAT MOET ONS DAN ONS KINDERS EN MEKAAR HEELTYD LEER:

1) Eerstens, sien ons hier in Lukas 1 en 2 verskillende ouers, oues en jonges, en sekerlik grootouers wat God se opdragte getrou uitvoer, sy goeie wet uitvoer soos die Here beveel het:

– Luk. 1 het ons gelees Sagaria en Elisabet, ouers van Johannes die Doper, wat 6En hulle was altwee regverdig voor God en het in al die gebooie en regte van die Here onberispelik gewandel.” (Luk 1:6)

Ongeag oomblike van sonde en swakheid van Sagaria, vervul hul hul taak om Johannes, Johannes te noem soos die Here beveel het.

– Luk 2:21-24 sien ons vir Josef en Maria wat die Here se bevele getrou uitvoer, volgens die wet van Moses:

a) Hulle besny Jesus as verbondskind soos Gen. 17 beveel het,

b) hulle noem hul kind ‘Jesus’ soos die Here deur die engel beveel het, 1:31

c) hulle doen wat die Here deur Moses beveel het deur die reiningswette na te kom vir Maria, volgens Lev. 12

d) hulle offer volgens Lev. 12 hul eersgeborene aan die Here.

Van Josef word gesê dat hy ‘n regverdige man was, Matt. 1:19, en ons sien in die jonge Maria, kind van God wees as sy haar onderwerp aan God se wil, in 1:38, 38En Maria sê: Hier is die diensmaagd van die Here. Laat dit met my gaan volgens u woord.” (Luk 1:38)

Josef en Maria het gewandel in die weë, die bevele van die Here nagekom: “…. die ouers die Kindjie Jesus inbring om met Hom te handel volgens die gebruik van die wet.” (Luk 2:27)

En dan vind ons as’t ware ‘grootouers’, of oudstes, Simeon en veral … die profetes Anna, heel waarskynlik in of naby 100 jaar, wat in liefde vir die Here, doen wat die goeie wet van God sê, veral die vierde gebod… hoor haar getuienis OP SOGENAAMDE ‘MOEDERSDAG’ VANDAG…. [waar so baie ‘moeders’ op hierdie Sondag wat eintlik ‘hemelse VADERS’ dag is elke rusdag (ook op die menslike ‘vadersdag’ oor ‘n maand of so…) , nie vandag in die huis van die Here is nie, maar iewers by die huis… of in ‘n mall met HUL EIE VERHEERLIKING BESIG…]

Waar is of behoort die ware moeders van ons land en volk vandag te wees:

37en sy was ’n weduwee van omtrent vier-en-tagtig jaar. Sy het nie weggebly van die tempel nie, en met vaste en gebede God gedien, nag en dag.” (Luk 2:37)

En nou geliefdes, dit is die EERSTE saak wat u moet leer, naamlik, om aan te hou doen wat God beveel, MIDDE ‘n wêreld wat tragies teen God se goeie wette is, selfs en veral in die moderne afvallige kerke…

Om as ouers, oumense, soos tannie Marie… oom Flippie… vandag (Colin wat nou so siek is en nie hier kan wees nie)… WAT HIER IS VANDAG, NIE WEGGEBLY HET NIE… OM TOT DIE LAASTE DAG TE KOM DIEN… SAAM KNIEE TE BUIG TOT DIE LAASTE DAG… ook in ons gemeente, sien 2 Tim. 4:6-8!

En liewe kinders, julle wat nog baie jonk is, jongmense…. die paartjies wat oor is, die wat nog oppad is… kyk wat het Jesus, onthou nie net volkome God nie, maar volkome mens (kind) ook gewees gedoen, toe hy maar twaalf jaar oud is, Luk. 2:46-49,

46En ná drie dae het hulle Hom in die tempel gevind, terwyl Hy in die midde van die leraars sit en na hulle luister en hulle uitvra.” (Luke 2:46)

49En Hy sê vir hulle: Waarom het u My gesoek? Het u nie geweet dat Ek in die dinge van my Vader moet wees nie?” (Luke 2:49)

Ja, vir ons en ons kinders, om regverdig te wees, om gelowig te wees word gesien, openbaar in wat ons doen… en aanhou  te doen wat die Here se woord leer, beveel, vra, dit is goed, sien Miga 6:8!

2) MAAR, nou tweedens geliefdes, die feit dat ons as ouers, gelowiges moet doen wat die Woord beveel, beteken nie die hoop en troos lê in onsself of ons dankbaarheidshandelinge nie.

Die feit dat ons ons kinders en kleinkinders moet bring na die Here se huis om gedoop te word, want die Here beveel dit in Gen. 17:7 en Hand. 2:39, beteken nie dit is ons handelinge, ons as mense waaroor die doop gaan en waardeur ons getroos word nie… inteendeel, ons sien dat Sagaria getwyfel het, ons sien dat Maria soms saam haar kinders Jesus wou terughou van sy goddelike roeping (Matt. 12:46-50), ons sien die beste van gelowiges… en ouers… grootouers struikel….

Waaroor gaan die besnydenis, waaroor gaan al die seremonies wat Jesus se ouers uitgevoer het, waaroor het Simeon na die tempel gekom, waaroor het Anna nag en dag met vaste en gebede God gedien, en tempel toe gegaan haar ganse lewe… ja, waaroor kom ons ‘kerk toe en doen al die kerk dinge…’?

Ons hoor dit in die profetiese lofwoorde van Simeon:

25EN daar was ’n man in Jerusalem met die naam van Símeon; en hierdie man was regverdig en vroom en het die vertroosting van Israel verwag, en die Heilige Gees was op hom. 26En aan hom was dit deur die Heilige Gees geopenbaar dat hy die dood nie sou sien voordat hy die Christus van die Here gesien het nie. 27En hy het deur die Gees in die tempel gekom; en toe die ouers die Kindjie Jesus inbring om met Hom te handel volgens die gebruik van die wet, 28het hy Hom in sy arms geneem en God geloof en gesê: 29Nou laat U, Here, u dienskneg gaan in vrede volgens u woord, 30omdat my oë u heil gesien het, 31wat U berei het voor die oë van al die volke — 32n lig tot verligting van die nasies en tot heerlikheid van u volk Israel.” (Luke 2:25–32)

ALLES wys en gaan oor die enigste Hoop en Troos vir ons en ons kinders… die vertroosting van Israel!

Hy wat in Luk. 2:21 ‘Jesus’ genoem word, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes SAL verlos, Matt. 1:21

Hy wat Christus en Here is, Christus die Gesalfde een van God waarvan die hele OT geprofeteer en heengewys het (sien HK v/a 19 en Skrifgedeeltes), wat ook die Here, Meester en Koning is… vers 26.

Hy het met sy ganse lewe, en die besonder aan die kruis en deur die opstanding ons en ons kinders, elkeen wat Hy roep en red, kom verlos.

Hy is die een, soos Johannes die Doper later sou sê… EN DIT IS IN WESE WAT DIE DOOP BETEKEN GELIEFDES en vir my en u wil leer, waarin ons hoop is, en wat ons vir mekaar en vir CADEN en vir almal wat gedoop is en word leer:

Ek doop julle wel met water, maar Hy kom wat sterker is as ek, wie se skoenriem ek nie waardig is om los te maak nie—Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur.” (Luk.3:16)

Jesus, die Christus, ons Here, is die heil, is die verlossing, vir die ganse mensdom in sy uitverkorenes, daarom die woorde in vers 30-32 (LEES weer), menende die Vader wil dus in persoonlike verlossing maar ook die ganse aarde verheerlik word, nie net as individue nie, net as gesin en gemeente nie, maar as volke… SOOS ONS DIE WEEK AFRIKAANS 100 AS AMPTELIKE TAAL GEVIER HET… ELKE TAAL, ELKE KULTUUR MOET VERLOS WORD GEREINIG WORD, OM HOM TE VERHEERLIK, SY NAAM TE BELY!

En dan moet ons besef as ouers in ons opvoeding, predikers, bediening van die evangelie, dat netso is die doop ‘n tweesnydende swaard, en ons moet dit bedien, soos ons netnou gaan hoor ook in DOOPSFORMULIER… (sien ook NGB artikel 33-35; HK Sondag 31,32)

Luk. 2:25 wys op die Troos wat Jesus bring… vergifnis van sonde, ewige lewe, verlossing, vers 38… glo in Hom, en jy en jou kinders sal gered word… bekeer jou moet aan ons verkondig word en ons kinders ons lewe lank…  sien Luk. 3:8 DIE OPROEP AAN ONS EN ONS KINDERS… dra vrugte van bekering, die waarskuwing van daardie vers moet ons lewenslank hoor, teen alle ‘verbondsoutomatisme’, die gevaar van die Fariseërs maar ook vir ons almal:

8Dra dan vrugte wat by die bekering pas, en moenie by julleself begin sê: Ons het Abraham as vader nie; want ek sê vir julle dat God mag het om uit hierdie klippe kinders vir Abraham te verwek.” (Luk. 3:8)

Oud-prof JC Coetzee het dit treffend gestel oor ons as ouers en grootouers vandag se taak:

“Waar die tug in die kerk verwaarloos word, daar word die kiem geplant vir vraagtekens agter die kinderdoop. As ouers wat leef soos heidene, tugteloos in die kerk geduld sou word en as doopouers aanvaar word, dan groei die vraagtekens rondom die doop van hulle kinders. Laat ons dan ook hierin die dwaling van die verwerping van die kinderdoop teenstaan deur in ons kerke erns te maak met die kerklike tug!” – prof. JC Coetzee (in: L. Floor, Die Heilige Doop in die Nuwe Testament, bl. 90)

SO, ouers het nie net die taak, om reg te doen nie… kinders tot doop te bring, kerk toe te bring nie, maar ook ONDERRIG EN LAAT ONDERRIG bo alles… in die vrese van die Here.

Caden moet leer, alle kinders moet leer, ouers, almal … dit gaan OOR JESUS, dit gaan oor GOD SE EER, dit gaan oor DAAR is die Lam van God wat ons sondes wegneem, (Joh. 1:29), wat ons verlos, red en herstel om sy kinders te wees!

En daarom, DERDENS, en laastens:

Dana en Marietjie, maar ook alle huidige en toekomstige ouers en grootouers,

Bo-alles moet julself met Jesus besig wees en Hom volg en dien ‘nag en dag’ (sien hoe Deut. 6:5 die verbondsopvoedingstaak van v. 6-9 voorafgaan!), en dan dit vir die kinders leer om na te volg…

Ons kinders moet sien dat ONS erns maak met Christus, sodat hul ook daarin kan volg.

EN JA, in liefde beteken dit geduld, lankmoedigheid, maar ook vermaning, oproep tot bekering,

WANT JESUS IS VIR ELKEEN VAN ONS OF ‘N VAL OF ‘N OPSTANDING…

Hier is my broers en susters, leer Jesus in Matt. 12:46-50, waar geloof is en sy wil gevolg word, en prys die Here Hy red ook gesinne wat saam die Here dien… maar daar is PRIORITEIT… wie vader of moeder bo My liefhet… is My nie waardig nie…

Geliefdes, mag dit waar wees van ons as ouers en grootouers, maar ook ons almal, as nog ‘n verbondskind gedoop word, dat vandag se doop ons opnuut sal laat opkyk na Christus, deur sy Gees en Woord.

As Simeon dan Jesus daar in sy hande neem, dan prys Hy die Here… hoekom?

Want sê hy, my oë het die Here SE HEIL VERLOSSING TROOS letterlik gesien! v. 30,31

ONS mag vandag deur die geloof sien (Joh. 20:29; Hebr. 11:1-6; 12:1-3) … as ons die doopwater sien, dan PRYS ons die Here, dat sy Beloftes bly waar en seker is, ook vir ons en ons kinders,

EN DAT ONS OOK SOOS SIMEON EN ANNA, SAAM ALLE GELOWIGES,

SOOS ONS VANOGGEND BELY HET IN DIE APOSTOLIESE GELOOFSBELYDENIS

‘N TOEKOMSTIGE VERWAGTING HET, ONS VERWAG ONS TROOS, ONS HERE JESUS

WAT SAL TERUGKOM MET DIE VOLEIDING OM ALLES NUUT TE MAAK,

WAARVAN ONS HOOR EN VANDAG SIEN IN DIE DOOP!

En waarom sal dit alles so wees, nee, nie oor onsself of ons kinders so getrou is nie, maar hier is die rede dat Hy wat alles kom nuutmaak het (2 Kor. 5:17-21) dit ook finaal en volkome sal nuutmaak (Filp. 1:6; Op. 21:1-8):…. ook vir ons en ons kinders, in die woorde van Ps. 105:5, wat ons na die doopbediening gaan sing, deur die geloof:

Psalm 105:5 (beryming)

Die HEER wat van geen wankel weet nie,

sal nimmer sy verbond vergeet nie;

al sy beloftes bly van krag

tot in die duisendste geslag.

Verbond met Abraham, sy vrind,

bevestig Hy van kind tot kind.

Amen.

______________________________________________

Pro Regno bronne en artikels: Kinderdoop

“God het sy Kerk in die dae van Abraham gevestig en kinders daarin geplaas. Hulle moet daarin bly totdat Hy hulle daar uithaal. Hy het nêrens hulle uitgehaal nie. Hulle is daarom steeds lidmate van sy Kerk en as sulks geregtig op haar ordinansies. Die doop is een van daardie ordinansies.” – Benjamin Warfield.

“Waar die tug in die kerk verwaarloos word, daar word die kiem geplant vir vraagtekens agter die kinderdoop. As ouers wat leef soos heidene, tugteloos in die kerk geduld sou word en as doopouers aanvaar word, dan groei die vraagtekens rondom die doop van hulle kinders. Laat ons dan ook hierin die dwaling van die verwerping van die kinderdoop teenstaan deur in ons kerke erns te maak met die kerklike tug!” (prof. JC Coetzee)

Sien ook die volgende artikel vir ‘n meer detail verduideliking: Why we should baptize babies: the case for covenantal infant baptism

‘N KORT EN KRAGTIGE BYBELSE BEGRONDING VAN DIE KINDERDOOP*

  1. Die kinders van gelowiges was lede van die Abrahamitiese genadeverbond wat God ingestel het.

(Genesis 17:7, 12: “En Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag ná jou in hulle geslagte as ’n ewige verbond, om vir jou ’n God te wees en vir jou nageslag ná jou. … ‘n Seuntjie van agt dae dan moet onder julle besny word, al wat manlik is in julle geslagte.”);

  1. Die nuwe verbond is ‘n hernuwing van die Abrahamitiese genadeverbond.

(Galasiërs 3:8, 14: “En die Skrif wat vooruit gesien het dat God die heidene uit die geloof sou regverdig, het vooraf aan Abraham die evangelie verkondig met die woorde: In jou sal al die volke geseën word. … sodat die seën van Abraham na die heidene kan kom in Christus Jesus, en dat ons die belofte van die Gees deur die geloof kan ontvang.”);

  1. Die teken van die nuwe verbond van die doop het die Abrahamitiese verbondsteken van die besnydenis vervang, omdat Christus dit vervul het my sy koms.

(Kol. 2:11,12: in wie julle ook besny is met ’n besnydenis wat nie met hande verrig word nie, deur die liggaam van die sondige vlees af te lê in die besnydenis van Christus, omdat julle saam met Hom begrawe is in die doop, waarin julle ook saam opgewek is deur die geloof in die werking van God wat Hom uit die dode opgewek het.”);

  1. God het die kinders van gelowiges nêrens deur enige verdere openbaring in die NT, buite die verbondsbediening geplaas nie, maar sluit hulle (nog steeds) in met ‘huisgesin’ dope (‘tussen My en jou en jou nageslag na jou‘, Gen. 17:7).

(Hand. 16:31-33, ““Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin. En hulle het aan hom die woord van die Here verkondig en aan almal wat in sy huis was. En in dieselfde uur van die nag het hy hulle geneem en hulle wonde gewas, en hy is onmiddellik gedoop, hy en al sy mense.”);

  1. Daarom is die gelowiges se kinders (nog steeds) lede van die genadeverbond en moet hulle die verbondsteken van die doop ontvang.

(Hand. 2:39, “Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.”)

*met erkenning aan die volgende bron: The best books on Infant Baptism

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑