PREDIKERS EN OUERS MOET VAN DIE NUWE EN OU DINGE VAN DIE KONINKRYK VAN GOD VERTEL

NUWE EN OU DINGE: CHRISTUS, DIE HUISHEER EN SY SKATTE

deur dr. Willie J. Snyman*

“Verder kry ons hier ‘n baie treffende teëstelling. “Daarom is elke skrifgeleerde wat ‘n leerling geword het…” Die ware geleerdheid is om ‘n leerling te wees, om ‘n dissipel te wees van onse Here Jesus Christus. Dit is om aan die voete van die Here Jesus te sit, om gedurig te leer en om altyd ‘n leerling te bly. Dit is om altyd ‘n dissipel te bly.

Lees: Mattheus 13:44-52

Matt. 13:44-52 — “Toe sê Hy vir hulle: Daarom is elke skrifgeleerde wat ‘n leerling geword het in die koninkryk van die hemele, soos ‘n huisheer wat uit sy skat nuwe en ou dinge te voorskyn bring”.

Inleiding

Die woorde van ons oordenking is in die voorgelese gedeelte, in Matthéüs 13:52.

Na die vraag wat Jesus aan Sy dissipels vra, antwoord hulle Hom dat hulle al hierdie dinge verstaan. Dan voeg die Here daaraan toe dat elke skrifgeleerde wat ‘n leerling geword het in die Koninkryk van die hemele, soos ‘n huisheer is wat uit sy skat nuwe en ou dinge te voorskyn bring. Dit is dan die gedagte waarby ons met u wil stilstaan: Christus, die Huisheer en Sy skatte.

Ware en valse Skrifgeleerdes in die Kerk

Dit is baie opvallend dat onse Here Jesus Christus hier spreek van die huisheer as ‘n skrifgeleerde. Ons ken tog die uitsprake en veroordeling van die Here Jesus teenoor die skrifgeleerdes en Fariseërs en hoe skerp Hy teen hulle opgetree het. Die gedagte kom by ons op dat die Here Jesus skrifgeleerdheid eintlik verwerp. Dit is vir ons van besondere betekenis om te weet dat die Here dit juis nie teen skrifgeleerdheid het nie. Ons kom seker almal een of ander tyd met sektes in aanraking. Hierdie mense is veral gerig teen die Kerk en sy ampte en kerkmense word dikwels vereenselwig met (of genoem) Fariseërs. Dit is mense wat nie aan die Kerk wil be­hoort nie, omdat hulle hul nie skuldig wil maak aan Fariseïsme, dit is skynheiligheid, nie. Hierdie mense stel dit so asof ander mense, wat wel aan die Kerk behoort, eintlik val onder die groep wat die Here Jesus veroordeel het, nl. onder die Fariseërs en skrifgeleerdes.

Dit is vir ons ook van belang om hierdie dinge te weet met die oog op die gebruik van die Nagmaal. Ons het al gehoor dat mense nie vrymoedigheid het vir, of liewer, wegbly van die Nagmaal omdat hulle nie skynheilig wil wees nie. Dit word dan nou aangegryp teen die Kerk, teen die ampte en selfs teen die Nagmaal en ‘n beroep word gedoen op die Here Jesus self, nl. dat Hy so skerp opgetree het teen die skrifgeleerdes en Fariseërs. Daarom is dit vir ons van besondere betekenis dat die Here Sy eie volgelinge skrifgeleerdes noem. Wat vir ons duidelik moet wees, is dat die Here Jesus nie skrifgeleerdheid as sodanig veroordeel nie, maar dat Hy onderskeid maak tussen ‘n ware en ‘n valse skrifgeleerde. Hier het ons dan die ware skrifgeleerde: dit is die werk van ‘n huisheer wat uit sy skat nuwe en ou dinge te voorskyn haal.

Die skat: Die Heilige Skrif

Die Heilige Skrif is die skatkamers waaruit ons die skatte moet opdiep en uitgrawe. Daarom het ons skole nodig. Daarom het ons onderrig nodig en kan ons sonder geleerdheid nie klaarkom nie. Dit help om die Skrifte en hulle waarhede, die goud wat in hierdie myne opgeslote sit, uit te haal en om dit te bedien soos ‘n goeie huisheer die skatte uitdeel aan sy mense.

Ons het almal die skat, ons het almal die Woord van God en ons moet almal daarin delf om die skatte daaruit te haal. Dit is tog maar al wat gedoen word deur ons voorgangers, die ampsdraers, waaronder ook die bedienaars van die Evangelie. Al wat gedoen word, is maar net om ons te help, om ons dieper in te lei in die Skrif en om die skatte wat daar in die Skrifte verborge is, uit te grawe.

Ware geleerdheid is om altyd leerling en dissipel te bly

Verder kry ons hier ‘n baie treffende teëstelling. “Daarom is elke skrifgeleerde wat ‘n leerling geword het…” Die ware geleerdheid is om ‘n leerling te wees, om ‘n dissipel te wees van onse Here Jesus Christus. Dit is om aan die voete van die Here Jesus te sit, om gedurig te leer en om altyd ‘n leerling te bly. Dit is om altyd ‘n dissipel te bly.

Dit is onder baie treffende woorde dat die Here Jesus sy eerste ampsdraers gekies het, nl. die dissipels. Ons lees dat Hy hulle uitgekies het “om saam met Hom te wees”, om maar net altyd by Hom te bly. Dit is om te sien wat Hy doen en om gedurig aan Sy lippe te hang. Daardie eerste ampsdraers moes niks anders doen as om te verkondig die dinge wat hulle gesien en gehoor het nie. So rus die apostelskap in die dissipelskap. Daarom, die ware skrifgeleerdheid waarvan die Here Jesus hier spreek, nl. om ‘n geleerde te wees, is niks anders as om ‘n leerling te bly nie. Dit moet ‘n mens jou hele lewe lank doen, die Woord verkondig en uitdra. Daartoe is ons almal geroep: om verder te vertel. Daarom is dit nodig om altyd dissipels te bly, dit is leerlinge van onse Here Jesus Christus, dit is leerlinge van die Woord. Huisheer, skrifgeleerde, dissipel.

Ampsdraers en alle gelowiges in die amp van gelowige moet vertel

Maar ek dink nou nie alleen aan die ampsdraers nie. As ons van die huisheer lees, dink ons ook aan u, vaders en moeders, onderwysers en onderwyseresse. Wat ‘n heerlike taak is dit nie vir elkeen van ons om te staan in Sy diens nie, ek wil maar sê: in die voortsetting van die apostelskap. Dit beteken om as huisvader en -moeder uitdelers te wees van hierdie skatte en om van ons kinders, wat aan ons toevertrou is, dissipels te maak. Dieselfde verhouding wat tussen die Here Jesus Christus en Sy dissipels was, moet ook in ons huise en in ons skole wees. Dit moet daarom gaan om ons kindertjies ook dissipels te maak van onse Here Jesus Christus. Dan is ons ook almal soos die huisheer waarvan die Here hier spreek, dit is huisvaders en huismoeders. U moet uit hierdie skat van die Woord van die Here uitdeel aan u kindertjies. Nie net vir hulle tydelike lewe, soos ons moeders maar gedurig doen nie, maar ook uit hierdie geestelike skat, om ons kinders daarin te laat deel. Huisheer, skrifgeleerde, leerling, dissipel in die Koninkryk van die hemel.

Die wesentlike skat: Die Koninkryk van die hemele, nie kerkisme nie

Dit was die samevatting van die hele prediking van onse Here Jesus Christus. Sy hele prediking het neergekom op een enkele onderwerp. Ons weet dit nou. Dit het gegaan oor die Koninkryk van die hemele. Wanneer ons dan opgeneem word in die diens van die Koninkryk, laat daardie gedagte ons tog altyd bybly, watter diens dit ook al mag wees, nl. dat dit nog altyd die voortsetting is van die werk waarvoor die Here Jesus na die aarde toe gekom het. Alles wat die Here gepreek het, ook die aanduiding van ons taak in hierdie wêreld, gaan oor die Koninkryk.

Die Koninkryk van die hemele is ook die samebinding van die kerke. Daar is so baie verskillende kerke. Daar is so ‘n verbrokkeldheid van die Kerk. Dit moet aan een enkele ding toegeskryf word en dit is dat daar nie genoeg erns gemaak word met die prediking van die Koninkryk van die hemele nie. Daar is maar net een manier om kerke saam te bring en dit is om leerlinge te wees in die Koninkryk van die hemele, om die Koninkryk van die hemele reg te verstaan. Dit is waar al die verwarring op kerklike gebied vandaan kom. Ons het te min insig omtrent die Koninkryk van die hemele.

Dit gaan, verder, by ons meer om die Kerk self as om die Koninkryk. Daar is dikwels meer bekommernis oor die voortbestaan van die Kerk as wat dit daarom gaan om net ‘n middel te wees in diens van die Koninkryk. Die Koninkryk moet ons saambind. As die Koninkryk ons nie saambind nie, verval ‘n mens tog so maklik in wat ons noem kerkisme. Dit is dat die een kerk die ander wil verdruk in plaas daarvan dat ons saamstaan (gesamentlik staan) en saamgebind word deur daardie hoër diens waartoe ons geroep is — die diens van die Koninkryk. Die rede hiervoor is dit: die Koninkryk van die hemele is die samebinding van die Skrifte, van die hele Bybel. Die Woord van God is ryk. ‘n Mens kan ook so maklik verward raak as vir hom gevra word: Waaroor gaan dit presies in die Woord van die Here? Al die dinge in die Bybel, van Génesis tot Openbaring, gaan net oor hierdie een ding, die Koninkryk van die hemele. Deur dissipels te wees, deur leer­linge te wees in die Koninkryk van die hemele, kry ons die regte insig in die Bybel.

Die Koninkryk van die hemele is die sleutel om wêreldgebeure te verstaan waarin ons lewe

Verder, omdat ons leerlinge is in die Koninkryk, in die Bybel, en waar dit in die Bybel gaan om die Koninkryk, kry ons ook insig in alles wat gebeur in die lewe en word ons ook saamgebind met die hele wêreldgeskiedenis. Ons weet dat die geskiedenis tog so verwarrend is. Nie net ‘n mens se eie lewe kan vir hom verwarrend wees nie, maar ook al die dinge wat gebeur in hierdie wêreld. Maar as ons leerlinge is in die Koninkryk van die hemele, het ons insig in die ganse geskiede­nis van die wêreld. Want, waarom gaan dit presies in die wêreld? Gaan dit in die wêreld nie juis om die koninkryke nie? Die een koninkryk word opgerig teen die ander koninkryk. So is ons wêreldgeskiedenis van vandag niks anders nie as dat een koninkryk die ander hier op aarde verdring. Dit was die geskiedenis van die begin af, van Babel af: die oprigting van die een koninkryk teenoor die ander koninkryk en die een wat die ander onder die voete wil kry.

Nie nuwe of ou dinge nie, maar beide dinge soos die Skrif leer

Hierteenoor staan die Koninkryk van God. Dit is dan waarom dit gaan, nl. om die koms van die Koninkryk en sy uiteindelike voleinding. Dit is die Koninkryk as ‘n skat, waaruit ons nuwe en ou dinge te voorskyn moet haal. Hier sien ons die verskil tussen die valse en ware skrifgeleerdheid. Die skrifgeleerdheid, wat die Here Jesus hier veroordeel, wil uit daardie skat alleen die ou dinge te voorskyn haal. Hulle wil net vashou aan die ou dinge. Ons ken ook die stryd in onsself, die stryd teen die ou dinge. Daar is dan diegene wat net wil vashou aan die ou dinge, net soos daar ander is wat weer al die ou dinge wil verwerp (omverwerp) en net wil streef na nuwe dinge. Ons het seker wel kennis geneem van die stryd wat ook in ons eie volkslewe aan die gang is tussen die ou en nuwe dinge.

Die Here Jesus veroordeel die skrifgeleerdheid wat net wil vashou aan die ou dinge. Dit was tog die kenmerk van die skrifgeleerdheid in die tyd van die Here Jesus, en ook die kenmerk van die Fariseërs. Hulle het met alle mag vasgehou aan die Ou Testament en aan die Wet, om deur middel van die vervulling van die Wet die nuwe dinge tot stand te laat kom.

Vir ons tyd kan ons maar net die Wet waaraan die skrifgeleerdes en Fariseërs vasgehou het, vervang met die natuurwet. Ons mense glo vandag in die natuurwet, dit is om deur vervulling en kennis van die natuurwet deur ons wetenskap die toekoms van hierdie wêreld te verseker. As die Skrif- en Wetsgeleerdheid van die ou tyd veroordeel moet word, omdat hulle net wou vashou aan die ou dinge, dan moet ook die geleerdheid en wetenskap van vandag veroordeel word vir soverre hulle net wil vashou aan die natuurwet en aan hierdie wêreld en sy dinge.

Hier het ons ewe-eens ‘n valse behoudendheid. As daar iets is wat bekrompe is, dan is dit die ongelowige wetenskap. Daar kom nuwe dinge waarvan ons elke dag hoor, nuwe uitvindinge, nuwe gebeurtenisse — ons leef werklik in ‘n tyd van nuwe dinge! Dink maar aan die verowering van die ruimtes en hoedat die gebeurtenisse in verband hiermee mekaar opvolg. En tog, met al hierdie dinge bly die wêreld maar dieselfde ou wêreld. Hierdie moderne wêreld met al sy uitvindings, met al sy nuwe dinge, bly maar die wêreld van die sonde en die dood. Daar is werklik niks nuuts onder die son nie en die wêreld bly oud en aan verandering onderhewig.

Daarteenoor is dit nou die wonderlike van die Koninkryk van God, dat dit daarin gaan om die nuwe dinge, dinge wat die oog nie gesien, die oor nie gehoor, en wat in die hart van die mens nie opgekom het nie. Die wonderlike nuwe dinge van die Koninkryk lê daarin dat dit vir ons vertel van vervulling. Daarom is dit Evangelie, die Evangelie van die Koninkryk. Soos iemand gesê het: “Dit is die heerlike van die Koninkryk dat die toekoms van die profesie oorgegaan het in die hede van die verlede”.

Sien ons roeping en ganse lewe in die lig van die voleinding van die koninkryk

Daardie groot klip van Daniël se droom het losgegaan en is besig om die aardse koninkryke te vermaal. Dink ons genoeg aan die heerlike werklikheid? Dat hier op aarde, te midde van al die koninkryke wat ons sien, ook ‘n ander koninkryk, die Koninkryk van God, bestaan? Dit is die Koninkryk wat bestem is om die aardryk te vervul. Die Koninkryk is opgerig! Dit is die heerlike, die nuwe, wat gekom het. Dit is die blye boodskap van die Evangelie.

Maar nou is die treffende van die Koninkryk van God dit: dit is nuut, maar dit bevat ook ou dinge. Dit is vir ons belangrik om ook daarop te let dat die nuwe dinge voorop staan met betrekking tot die oue. Daar is eers sprake van nuwe dinge en daarna van ou dinge. Dit is nou die heerlike van die koms van die Koninkryk dat die nuwe dinge vir ons aangebreek het in hierdie ou dinge. In hierdie ou wêreld, in hier­die verskriklike kringloop waarin ons vasgevang is, het God die nuwe dinge ingeplant en het Hy sy Koninkryk opgerig.

Aardse koninkryke kom en gaan, maar die Koninkryk van God bly tot in ewigheid

Laat ons dit so stel: die ewige jaartelling het ‘n aanvang geneem met die koms van onse Here Jesus Christus. Ons jaar­telling is ‘n deel van die nuwe bedeling wat gekom het. Dit is die jaartelling van die Koninkryk van God wat gekom het om te bly tot in alle ewigheid. Die Here Jesus het met Sy koms die onsterflikheid kom inplant in die verganklikheid. Hy het die nuwe lewe kom inplant in hierdie ou wêreld. In die duisternis van die dood en van die sonde, het die Koninkryk van God gekom en terwyl dit nag is om ons heen, het God vir ons laat opgaan die Son van Geregtigheid en van die ewige lewe. So is die profesie van Sagaria vervul: “Teen die aand dan, sal dit lig wees” (Sag. 14:7). Die wêreld is besig om onder te gaan. Ons lewe in ‘n wegsinkende wêreld. Maar God het sy Koninkryk ingeplant in hierdie wêreld om te bly tot in alle ewigheid en dan so dat met die nuwe wat gekom het, die oue nie opsy gesit is nie. In die nuwe dinge is die ou dinge opgeneem.

Die nuwe hemel en nuwe aarde

Die Bybel eindig met ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde. Dit is nie ‘n ander aarde nie, nie ‘n ander soort lewe nie, maar dieselfde lewe en dieselfde verhoudinge waarmee ons nou aanmekaar gebind is. Dit is dieselfde ou aarde wat vernuut word. Dit is hierdie lewe wat nou op die oomblik verdonker is deur die sonde en die dood. Dit is dieselfde lewe wat op die nuwe aarde voortgesit sal word sonder dood, dieselfde lewe wat ons eintlik nie anders ken nie as ‘n lewe van droefheid en teleurstellings. Hierdie selfde lewe sal voortgesit word sonder droef­heid — ‘n lewe sonder trane — soos dit beskryf word aan die einde van die boek Openbaring. Dan eers sal ons sien die heerlikheid van die verloste lewe — lewe sonder sonde en dood. Dit is die ou dinge. Dit is hierdie lewe wat in die Koninkryk van God opgeneem sal word en wat vernuut word en wat sal bly tot in alle ewigheid.

So sal diegene wat leerlinge geword het in die Koninkryk van die hemele, die heerlike waarheid in hulle harte dra en daarmee verder gaan in die versekerdheid van die verlossing en van die ewige lewe.

Mag die Here ons daarin sterk om waarlik te wees leerlinge in die Koninkryk van die hemele en dat ons ook die skatte van die Koninkryk mag besit met sy nuwe en ou dinge.

Amen.

_____________________________

“Die kerngedagte van Mattheüs: Elkeen wat in die net van die Evangelie saamgesleep word, moet weet dat blote kennis van die Woord van God nie voldoende is nie. Die skrifgeleerdes het ook die Woord van God, die Ou Testament baie goed geken en indringend bestudeer. Sal die heerlike Evangelie tot seën wees dan moet ons as ‘n skrifgeleerde ook ‘n dissipel in die koninkryk van die hemele word (Matt. 13:52). ‘n Dissipel maak soos die koopman uit Matt. 13:45-46. Hy laat alles agter wat hom verhinder om Jesus te kan volg en hy volg Jesus (Matt. 4:20, 22). Dan gaan die Bybel vir ons oop. Die Woord van God is dan vir ons soos ‘n voorraadkamer waaruit allerlei skatte te voorskyn kom (Matt. 13:52). Ou en nuwe dinge. Die nuwe wat in Christus gekom het en die ou dinge uit die bedeling van die belofte wat nog van krag bly.” – Prof. L. Floor se verklaring by Matt. 13:52

________________________________

GEDAGTES VIR VRUGBARE SKRIFSTUDIE

prof. Willie J. Snyman

Lees die Skrif gereeld

Die vrugbaarste vir alle Skrifstudie is om die Skrif gereeld te lees — elke dag, minstens een uur as dit kan, en liefs as dit stil is in die môre voor die drukte van die lewe begin. En, om dit dan te lees soos dit moet gelees word, as die Woord van God vir ons. Wat ‘n voorreg om die Bybel te hê en om ons dan so enige oomblikke te kan afsonder met die Woord van die Here vir ons. ‘n Mens hoor van Christelike bewegings, soos die Morele Herbewapening, wat met die dagtaak nie aangaan voordat hulle ‘n tydjie afgesonder het met die Here nie. Dit beteken dan om ‘n tydjie stil te sit en te verneem wat die Here vir hulle sê. Daar sit iets goeds in en dit is navolgenswaardig as ons dan maar net luister na wat die Here vir ons sê uit sy Woord wat Hy vir ons gegee het.

Huisgodsdiens

Dit is goed om boeke te lees oor die Bybel. Maar niks kom by die Boek van die boeke nie. Dan kry die boeke oor die Bybel ook eers vir ons betekenis en kan ons die boeke oor die Bybel ook reg lees en dit om dit te lees met ‘n oordeel van onderskeiding. Dit is onnodig om te sê dat ons die Bybel ook gereeld as huisgesin saam moet lees, soos ons dit gewoonlik doen aan tafel. Ons moet ons daaglikse godsdiens nie nalaat nie. Maar ons moet nie vergeet nie: ons godsdiens is ook ‘n persoonlike saak. Elke lid van die huisgesin moet elke dag sy uurtjie hê met sy Bybel. Wat sê die Here vir my? En dan nie net maar oor my nie, maar ook oor alles waarvoor die lewe my stel.

Lees deur die hele Bybel

En dan is dit die beste om die Bybel deurlopend te lees, telkens weer van vooraf. Altyd sal daar weer nuwe skatte te voorskyn kom. Hoe aangetrokke ons ook mag voel tot sekere gedeeltes van die Bybel, bv. die Psalms of die Bergpredikasie, ons moet altyd onthou dit is onderdele van die Bybel. Soos ons in ‘n eentonige landskap soms onverwags op ‘n aangrypende toneel afkom, so word ons soms op die aangrypendste wyse toegespreek in gedeeltes waar ons dit miskien nie verwag nie.

Dink maar aan die gelykenis van die kosbare pêrel en van die skat in die akker: Ons kan na die Bybel gaan om die kosbare pêrels daarin te soek, en ons sal dit seker vind. Maar ons moet ook gaan soos die man wat sy plig doen en spit en grawe en onverwags op die skat afkom, wat hy vir niks wil verkoop nie.

Lees die Bybel Christosentries

Ons keer weer terug tot die toneel in die landskap: Dit is eers in die geheelbeeld van die landskap wat daardie enkele toneel sy betekenis kry. Om die Bybel dan waarlik met vrug te lees, is wanneer ons dit so lees dat ons nooit by die besonderhede die geheel uit die oog verloor nie. Dit is die woorde van die Bybel. God spreek daarin “baie keer” en op “baie maniere” en dit val uiteen oor ‘n tydperk van baie eeue, soos ons lees in Hebr. 1:1, en tog trek alles saam in één Woord en die Woord is Christus (Joh. 1:1). Eintlik moet ons sê: dit gaan in die Bybel om die koms van Christus. Nader: Die koms van Christus in vooruitsig (Gen. 3:17); die koms van Christus vervul (die Evangelies), en sy uiteindelike koms (Openbaring).

Sien die Koninkryk van God lyn deur die hele Skrif

As ons sê: Die koms van Christus, dan sê ons meteen: Die koms van die Koninkryk van God, want die koms van Christus is die koms van die Koninkryk van God. In die Bybel gaan dit dus om die koms van die Koninkryk van God, eers in vooruit¬sig en dan in sy aanvanklike en in sy uiteindelike koms. Hiermee het elke leser sy rigsnoer, waarmee hy of sy die weg sal vind deur die Skrifte. Só moet ons die Bybel lees. Dit is soos die Here Jesus self vir ons leer om die Skrifte te ondersoek. Lees Joh. 5:39. Dit is die kosbare pêrel, die Skat in die akker (Matt. 13:44-46).

Ruimte ontbreek om verder hierop breedvoerig in te gaan. Ons gaan nog net op een bergtop in die Bybel staan om dit te oorsien, dit is Luk. 24:25-27. Daar spreek die Here Jesus ná sy opstanding met sy dissipels, wat die Skrifte gelees het en nie verstaan het nie. Die Here Jesus het vir hulle die Skrifte so uitgelê van Moses en al die profete af, dat dit alles (die hele Ou Testament) op Hom sien, op sy dood en opstanding. Toe het hulle oë oopgegaan (v. 32). Die geskiedenis van Israel is (saamgevat): Ballingskap en terugkeer. Dit is die geskiedenis van die mensheid (van die Paradys af): Dit is ballingskap en terugkeer in Christus, wat vir ons gesterf en opgestaan het, tot vergewing van ons sondes, in Wie ons geestelik opstaan in die bekering (terugkeer uit die ballingskap van sonde) en liggaamlik opstaan (terugkeer uit die ballingskap van die dood) by sy wederkoms.

In die Ou Testament is dit alles afgebeeld in die offerdiens en in die geskiedenis van Israel. Die Evangelies verhaal die koms van die Koninkryk in Christus. So moet ons die geboortegeskiedenis lees. Die Koninkryk van God het van die hemele gekom. Die beloofde Koning is gebore, die Seun van God. Vandaar die lofsange. Met die versoeking in die woestyn sien ons die heerskappy van Satan wankel op sy fondamente.

In die prediking van Jesus hoor ons van die Koninkryk en sy geregtigheid, die volmaakte gehoorsaamheid waartoe dit bring (Bergpredikasie) en van sy aanvanklike en uiteindelike koms (gelykenisse). In die wonderwerke sien ons die Koninkryk. Dit is nie maar ‘n geestelike verlossing nie, maar verlossing van die hele mens, na siel en liggaam, en ook van die hele skepping. Met Pinkster sien ons die Koninkryk kom om te bly op aarde as vrug van die dood en opstanding van die Here Jesus en ons sien dit uitbrei oor die aarde, van Jerusalem af en verder. Dit is die boek Handelinge. In die Sendbriewe sien ons die ontvouing van die Koninkryk en al sy geestelike weldade in wedergeboorte, geloof, regverdigmaking, heiligmaking en heerlikmaking. Daarin dat dit alles in gewone herderlike briewe geskied, sien ons hoe die Koninkryk aansluit by die alledaagse lewe met sy vraagstukke en die hele lewe omvat. In Openbaring sien ons die uiteindelike koms van die Koninkryk met die wederkoms van Christus en die neerdaling van die nuwe Jerusalem op die nuwe aarde.

Sien die Here se openbaring in beide sy genade en gerig

In dit alles sien ons die openbaring van God in sy trou, sy almag, sy genade en goedertierenheid, maar ook in sy gestrenge oordeel oor die wat nie geglo en Hom die eer gegee het nie.

__________________

* Hoof- en subopskrifte, asook beklemtonings is bygevoeg. Prof. Willie Snyman (professor in NT, Teologiese Skool Potchefstroom, 1946-70, oorlede: 1981-06-06). Bron: Nuwe en Ou Dinge: Uit die skat van die Koninkryk: prof. W.J. Snyman (Potchefstroom: Pro Rege, 1977), bl. 437-442, 514-517. Aanlyn hier beskikbaar: https://proregno.com/2011/08/29/nuwe-en-ou-dinge-prof-wj-snyman/

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑