Woordoordenking (Hebreërs 13:5b): “Wees tevrede!” (JC Ryle)

WEES TEVREDE[1]

“ ‘n Man kan ryk wees in ‘n vervalle huisie en arm in ‘n paleis.”

deur J. C. Ryle, 1885[2]

 Julle gedrag moet vry van geldgierigheid wees. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê: ‘Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie’.” – Hebreërs 13:5

Die woorde wat hierdie artikel inlei, word gou geuiter en kos die spreker dikwels baie min. Niks is goedkoper as goeie raad nie! Almal dink  dat hulle vir hul naaste goeie raad kan gee en presies kan sê wat om te doen. Tog is dit baie moeilik om die les wat hierdie artikel leer self te beoefen.

Om van tevredenheid te praat in die dag van gesondheid en voorspoed is maklik genoeg; maar om tevrede te wees te midde van armoede, siekte, probleme, teleurstellings en verliese – is ‘n gemoedstoestand wat baie min kan bereik!

Kom ons kyk na die Bybel na hoe dit hierdie groot plig van tevredenheid behandel. Kom ons let op hoe die groot Apostel van die Heidene praat, toe hy die Hebreeuse Christene wou oorreed om tevrede te wees.[3] Hy staaf sy opdrag met ‘n pragtige motief.

Hy sê nie bloot: “Wees tevrede” nie; hy voeg woorde by wat in die ore van almal wat sy brief lees, sal weerklink en hulle harte vir ‘n stryd sal aanspoor:

“Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê—Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.”

Leser, ek sien dinge in hierdie goue sin wat ek dink besondere aandag verdien. Gee my jou aandag vir ’n paar minute, en ons sal probeer uitvind wat dit is:

  1. Laat ons eers die opdrag ondersoek: “Wees tevrede met wat julle het.”

Hierdie woorde is baie eenvoudig. ‘n Klein kindjie kan hulle maklik verstaan. Hulle bevat geen hoogdrawende leerstelling nie; hulle behels geen diepere metafisiese vraag nie; en tog, so eenvoudig as wat hulle is – is die plig wat hierdie woorde ons oplê van die hoogste praktiese belang vir alle Christene. Tevredenheid is een van die skaarste genadegawes. Soos alle kosbare dinge, is dit baie ongewoon.

Die ou Puriteinse godgeleerde, wat ‘n boek daaroor geskryf het, het goed gedoen om sy boek “The Rare Juwel of Christian Contentment”[4] te noem. Daar word gesê dat ‘n Atheense filosoof teen die middag met ‘n lantern na die markplein gegaan het om ‘n eerlike man te vind. Ek dink dit sou vir hom net so moeilik gewees het om ʼn man wat volle tevrede is te vind.

Die gevalle engele het die hemel self gehad om in te woon voordat hulle geval het, hulle was in die onmiddellike teenwoordigheid en guns van God – maar steeds was hulle nie tevrede nie. Adam en Eva het die tuin van Eden gehad om in te woon, met ‘n vrye toegang tot alles daarin behalwe een boom — maar hulle was nie tevrede nie. Agab het sy troon en koninkryk gehad —maar solank Nabot se wingerd nie syne was nie — was hy nie tevrede nie. Haman was die grootste gunsteling van die Persiese koning — maar solank Mordegai by die poort gesit het, was hy nie tevrede nie. Dit is oral dieselfde in die hedendaagse tyd. Daar is murmurering en ontevredenheid met wat ons het.

Om saam met Jakob te sê: “Ek het genoeg,” lyk blootweg teenstrydig met die kern van die menslike natuur. Om te sê: “Ek wil meer hê,” is die moedertaal van elke kind van Adam. Ons kinders  is ʼn daaglikse illustrasies van dit wat ek hier sê. Hulle leer om baie gouer vir “meer” te vra as wat hulle leer om tevrede te wees met wat hulle het. Hulle is baie meer gereed om te huil vir wat hulle wil hê, as om “dankie” te sê wanneer hulle dit gekry het. Sal ek waag om te sê daar is min lesers van hierdie artikel, wat nie iets anders wil hê as wat hulle het nie – iets meer of iets minder. Wat jy het – lyk nie so goed soos wat jy nie het nie. As jy net hierdie of daardie ding gegun was – verbeel jy jou dat jy heeltemal gelukkig sou wees.

Hoor met watter krag kom Paulus se leiding tot al ons gewetes: “Wees tevrede,” sê hy, “met die dinge wat jy het,” nie met die dinge wat jy eens gehad het nie – nie met die dinge wat jy hoop om te hê nie – maar met die dinge wat jy nou het. Met sulke dinge, wat dit ook al mag wees, moet ons tevrede wees – met so ‘n woning, so ‘n posisie, sulke gesondheid, sulke inkomste, sulke werk, sulke omstandighede of wat ook al die geval, moet ons tevrede wees. Leser, so ‘n gees is die geheim van ‘n verligte hart en ‘n rustige gemoed. Min, is ek bevrees, het die kleinste idee wat ‘n kortpad na geluk dit is om tevrede te wees. Om tevrede te wees, is om ryk en welgesteld te wees. Hy is ʼn ryk man wat geen behoeftes het nie en nie meer nodig het nie. Ek vra nie wat sy inkomste is nie.

‘n Man kan ryk wees in ‘n vervalle huisie en arm in ‘n paleis. Om tevrede te wees, is om onafhanklik te wees. Hy is die onafhanklike man wat aan geen geskape dinge vasklou vir sy geluk nie, en God as sy deel het.

So ‘n man is die enigste een wat altyd gelukkig is. Niks kan verkeerd  gaan met so ‘n man nie. Lydinge sal hom nie laat wankel  nie, en siekte sal sy vrede nie versteur nie. Hy kan druiwe van dorings pluk en vye van distels, want hy kan goed uit die kwaad kry.

Soos Paulus en Silas, sal hy in die tronk sing, met sy voete vas geboei. Soos Petrus, sal hy rustig slaap in die vooruitsig van die dood, die einste nag voor sy teregstelling.

Soos Job, sal hy die Here loof, selfs wanneer hy van al sy geriewe gestroop word. Ag! leser, as jy werklik gelukkig wil wees (wie wil dan nie wees nie?), soek dit alleen waar dit gevind kan word. Soek dit nie in geld nie, nie in plesier nie, nie in vriende nie, of in leer nie.

Soek dit deur ‘n wil in perfekte harmonie met die wil van God te hê. Soek dit deur te leer om tevrede te wees. Jy mag dalk sê: Dis maklik om te praat – maar hoe kan ons altyd tevrede wees in so ‘n wêreld? My  antwoord sal wees dat jy jou trots moet afskud en jou verdienste moet ken om in enige situasie dankbaar te wees. As mense werklik geweet het dat hulle niks verdien nie en elke dag skuldenaars aan God se genade is, sou hulle gou ophou kla.

Jy mag dalk sê dat jy sulke swaarkry, beproewinge en probleme het dat dit onmoontlik is om tevrede te wees. My antwoord is dat jy goed sal doen om jou onkunde te onthou. Weet jy die beste wat goed is vir jou – of weet God?

Is jy wyser as Hy? Die dinge wat jy wil hê – kan jou siel verwoes. Die dinge wat jy verloor het – kon jou vergiftig het.

Onthou, Ragel moes  kinders hê – en sy het hulle gehad en hulle het gesterf! Lot moes naby Sodom woon – en al sy besittings is verbrand. Laat hierdie dinge in jou hart insink.

  1. Laat ons in die tweede plek kyk na die grond waarop Paulus sy opdrag bou.

Daardie grondslag is een enkele teks van die Skrif. Dit is treffend om te sien hoe klein die fondament is wat die apostel blyk te lê wanneer hy ons beveel om tevrede te wees. Hy hou geen belofte van aardse goeie dinge en tydelike belonings voor nie. Hy haal bloot ‘n vers uit God se Woord aan. Die Meester het gespreek. “Hy het gesê.”

Dit is boonop treffend om te sien dat die teks wat hy aanhaal nie oorspronklik aan die Hebreeuse Christene gerig was nie, maar aan Josua; en tog pas Paulus dit op hulle toe. Dit toon dat Bybel beloftes die gemeenskaplike eiendom van alle gelowiges is! Almal het ‘n reg daarop. Alle gelowiges saam maak een mistieke liggaam; en in honderde gevalle kan dit wat aan een gespreek is, deur almal billik gebruik word.

Maar die hoofpunt wat ek op mense se gedagtes wil afdruk, is dit – dat ons die tekste en beloftes van die Bybel ons toevlug in tyd van benoudheid en die fontein van ons siel se vertroosting moet maak. Toe Paulus ‘n genade wou afdwing en ‘n plig wou aanbeveel – het hy ‘n teks aangehaal. Wanneer jy en ek ‘n rede vir ons hoop wil gee, of wanneer ons voel dat ons krag en vertroosting nodig het, moet ons na ons Bybels gaan en probeer om geskikte tekste te vind. Die prokureur gebruik ou sake en beslissings wanneer hy sy saak bepleit. “So ‘n regter het so iets gesê, en daarom,” redeneer hy, “is dit ‘n vaste punt.” Die soldaat op die slagveld neem sekere posisies in en doen sekere dinge; en as jy hom vra hoekom, sal hy sê: “Ek het sulke en sulke bevele van my generaal, en ek gehoorsaam hulle.”

Die ware Christen moet altyd sy Bybel op dieselfde manier gebruik. Die Bybel moet sy naslaanboek en voorbeeld wees[5]. Die Bybel moet vir hom sy kaptein se bevele wees. As iemand hom vra hoekom hy dink soos hy dink, leef soos hy doen, voel soos hy doen – al wat hy hoef te antwoord is: “God het met so ‘n effek gespreek. Hy het my bevele gegee- en dit is genoeg.”

Leser, ek weet nie of ek die punt duidelik maak nie, maar dit is een wat, hoe eenvoudig dit ook al lyk, van groot praktiese belang is. Ek wil hê jy moet die plek en praktiese belangrikheid van die Bybel sien, en die onuitspreeklike belangrikheid daarvan om dit goed te ken en vertroud te wees met die inhoud daarvan. Ek wil hê jy moet jouself bewapen met tekste en verse van die Bybel, vasgegryp in jou geheue, om te lees sodat jy kan onthou, en om te onthou sodat jy kan gebruik wat jy lees (Ps. 119:9-11, 105). Ek en jy het probleme en hartseer voor ons—dit is nie moeilik om dit raak te sien nie. Siektes, sterftes, afskeid, skeidings, teleurstellings sal sekerlik daar wees. Wat moet ons soek in die dae van duisternis? Die Woord – wat vas in ons harte moet wees. Ek en jy kan heel waarskynlik maande lank op ‘n siekbed lê. Swaar dae en vermoeiende nagte, ‘n seer liggaam en ‘n verswakte gemoed—kan die lewe ‘n las maak. En wat sal ons ondersteun? Niks sal ons meer versterk, opbeur, en onderhou nie — as verse uit die Bybel.

Ek en jy moet die dood in die gesig staar. Vriende om te verlaat , ‘n huis om prys te gee, die graf om besoek te word, ‘n onbekende wêreld om te betree, en die laaste oordeel na alles. En wat sal ons vertroos en versterk wanneer ons laaste oomblikke nader kom? Niks, glo ek vas, is so in staat om ons hart in daardie uur te help nie – soos tekste uit die Bybel. Ek wil hê dat mense hul gedagtes met Skrifgedeeltes moet vul terwyl hulle gesond en sterk is, sodat hulle hulp kan hê in die dag van nood. Ek wil hê dat hulle ywerig moet wees in die bestudering van hul Bybels, en vertroud moet raak met die inhoud daarvan, sodat die ou Boek by hulle kan staan ​​en met hulle kan praat wanneer alle aardse vriende faal.

Uit die diepte van my hart bejammer ek daardie man wat nooit sy Bybel lees nie. Ek wonder waar hy verwag om sy vertroosting te put wanneer die nood kom. Ek smeek hom om sy lewe te verander – en om dit sonder versuim te verander! Een het op sy sterfbed gesê: “As ek my God half so goed gedien het as wat ek my koning gedien het, sou hy my nie in my moeilikheid gelaat het nie.” Ek vrees dat daar eendag van baie gesê sal word: “As hulle hul Bybels net so ywerig gelees het as wat hulle hul koerante lees, sou hulle nie sonder vertroosting gewees het toe hulle dit die nodigste gehad het nie.”

Die Bybel, wat deur die Heilige Gees op die hart toegepas word, is die enigste skatkis van vertroosting. Daarsonder het ons niks om op staat te maak nie; “op die tyd as hulle voet sal wankel” (Deut. 32:35). Daarmee is ons soos diegene wat op ‘n rots staan. Daardie man is gereed vir enigiets – wat ‘n stewige greep op God se beloftes het.

Weereens sê ek dan vir elke leser, bewapen jouself met ‘n deeglike kennis van God se Woord. Lees die Woord en wees in staat om te sê: “Ek het hoop, want so en so is geskrywe! Ek is nie bang nie, want so en so  is geskrywe!”

Gelukkig is daardie siel wat saam met Job kan sê: “die woorde van sy mond het ek bewaar meer as my eie wet” (Job 23:12).

  1. Laastens, laat ons kyk na die spesifieke teks: “Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.”

Dit maak min saak aan watter persoon in die Drie-eenheid ons hierdie woorde toeskryf, of dit nou aan Vader, Seun of Heilige Gees is. Hulle is almal verbind om die mens te red in die genadeverbond. Elk van die drie Persone sê, soos die ander twee: “Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.”

Daar is groot troos in hierdie belofte. Dit verdien noukeurige aandag. God sê vir elke man of vrou wat bereid is om sy of haar siel aan die genade wat in Christus is, toe te wy: “Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.” Ek, die ewige Vader, die almagtige God, die Koning van konings, “sal jou nooit verlaat nie.” Die Afrikaanse taal slaag nie daarin om die volle betekenis van die Grieks te gee nie. Dit impliseer: “nooit—nee nooit—nee, en jou nooit verlaat nie!”

Nou, as ek enigiets van hierdie wêreld weet, is dit ‘n wêreld van “verlaat, versaak, afskeid, skeiding, mislukking en teleurstelling.” Dink hoe geweldig die troos is om iets te vind wat nooit sal verlaat of teleurstel nie. Aardse goeie dinge verlaat ons. Gesondheid, geld, eiendom, vriendskappe, alles kry vlerke en vlug weg. Hulle is vandag hier – en môre weg.

Maar God sê: “Ek sal jou nooit verlaat nie!”

Ons verlaat mekaar. Ons groei op in gesinne vol liefde en nabyheid, en dan word ons almal in verskillende rigtings versprei. Een volg sy roeping of beroep op een manier, en ‘n ander op ʼn  ander manier. Ons gaan noord en suid, en oos en wes, en sien miskien mekaar nie meer nie. Ons ontmoet ons naaste vriende en familie slegs met seldsame byeenkomste, en dan om net weer te skei. Maar God sê: “Ek sal jou nooit verlaat nie.”

Ons word verlaat deur diegene vir wie ons lief is. Hulle sterf, en word elke jaar minder en minder. Hoe mooier – soos blomme – hoe broser, delikater en kortstondiger lyk hulle. Maar God sê: “Ek sal jou nooit verlaat nie.”

Skeiding is die universele wet oral—behalwe tussen Christus en sy mense. Dood en mislukking stempel elke ander ding; maar daar is geen skeiding in die liefde van God vir gelowiges nie. Die nouste verhouding op aarde—die huweliksband—het ‘n einde. Die huwelik is slegs “totdat die dood ons skei.” Maar die verhouding tussen Christus en die sondaar wat op Hom vertrou, eindig nooit. Dit leef wanneer die liggaam sterf. Dit leef wanneer vlees en hart faal. As dit eers begin het, verdor dit nooit nie. Dit word slegs helderder en sterker gemaak deur die graf. “Ek is oortuig,” sê Paulus,

Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge, of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.’’(Romeine 8:38, 39).

Maar dit is nie al nie. Daar is ‘n besondere diepte van wysheid in die woorde: “Ek sal nooit begewe en jou nooit verlaat nie” Let op, God sê nie: ‘My volk sal altyd aangename dinge hê; hulle sal altyd gevoed word in groen weivelde, en geen beproewinge hê nie – of beproewinge wat baie kort en min is nie.’ Hy sê dit nie. Inteendeel, Hy stuur hulle verdrukking en tugtiging. Hy beproef hulle – deur lyding. Hy reinig hulle – deur hartseer. Hy oefen hulle geloof – deur teleurstellings. Maar tog, in al hierdie dinge belowe Hy: “Ek sal jou nooit begewe–en jou nooit verlaat nie.”

Laat elke gelowige hierdie woorde begryp en dit in sy hart bêre. Hou dit gereed en hou dit vars in jou geheue; jy sal dit eendag nodig hê. Die Filistyne sal op jou wees; die hand van siekte sal jou neerwerp; die koning van vrees sal nader kom; die dal van die skaduwee van die dood sal voor jou oë oopgaan. Dan kom die uur wanneer jy niks so vertroostend sal vind as ‘n teks soos hierdie nie – niks so opbeurend as ‘n besef van God se nabyheid nie.

Hou by daardie woord “nooit”. Dit is goud werd. Klou daaraan vas soos ‘n drenkeling aan ‘n tou vasklou. Hou dit stewig vas, soos ‘n soldaat wat van alle kante aangeval word, sy swaard vashou. God het gespreek, en sal daarby staan, “Ek sal jou nooit verlaat nie!”

Nooit!” Al voel jy sonder moed, en jy is siek van jouself, en die druk van jou baie mislukkings en swakhede is te veel; selfs dan sal die belofte nie faal nie.

Nooit!” Al fluister die duiwel, ‘Ek sal jou uiteindelik oorwin! Oor ‘n kort rukkie sal jou geloof faal, en jy sal myne wees!’ Selfs dan sal God sy Woord hou.

Nooit!” Al spoel golwe van verdrukking oor jou kop, en dit lyk of  alle hoop verdwyn het. Selfs dan sal die Woord van God bly staan.

Nooit!” Wanneer die koue van die dood oor jou kruip, en jou vriende niks meer kan doen nie, en jy begin die reis waarvandaan daar geen terugkeer is nie. Selfs dan — sal Christus jou nie verlaat nie.

Nooit!” Wanneer die Oordeelsdag aanbreek, en die boeke oopgemaak word, en die dooies uit hul grafte opstaan, en die ewigheid begin. Selfs dan sal die belofte al jou las dra. Christus sal nie sy greep op jou siel laat vaar nie (Joh. 10:28).

O, gelowige leser, vertrou vir ewig op die Here, want Hy sê: “Ek sal jou nooit verlaat nie!” Leun met al jou gewig  op Hom—moenie bang wees nie. Roem in sy beloftes. Verbly jou in die krag van jou vertroosting. Jy mag met vrymoedigheid sê: “Die Here is my helper—en ek sal nie vrees nie.”

Ek sluit hierdie artikel af met drie praktiese opmerkings. Oorweeg dit goed, leser, en neem dit ter harte—

(1) Laat ek jou vertel waarom daar so min tevredenheid in die wêreld is. Die eenvoudige antwoord is, omdat daar so min genade en ware godsdiens is. Min mense ken hul eie sonde; min voel hul verdienste van straf; en so min is tevrede met die dinge wat hulle het. Nederigheid, selfkennis, en ‘n duidelike blik op ons eie uiterste verderflikheid en verdorwenheid, dit is die ware wortels van tevredenheid.

(2) Laat ek jou, tweedens, vertel wat jy moet doen as jy tevrede wil wees. Jy moet jou eie hart ken, God as jou deel soek, Christus as jou Verlosser aanneem en God se Woord vir jou daaglikse voedsel gebruik.

Tevredenheid moet nie aan die voete van Gamaliël geleer word nie, maar aan die voete van Jesus Christus. Hy wat God as sy vriend en die hemel as sy tuiste het—kan wag vir goeie dinge wat kom, en tevrede wees met min hier op aarde.

(3) Laat ek jou laastens vertel dat daar een ding is waarmee ons nooit behoort tevrede te wees nie. Daardie ding is ‘n bietjie godsdiens, ‘n bietjie geloof, ‘n bietjie hoop en ‘n bietjie genade. Laat ons nooit tevrede gaan sit met ‘n bietjie van hierdie dinge nie. Inteendeel, laat ons dit meer en meer soek.

Toe Alexander die Grote die Griekse filosoof Diogenes besoek het, het hy hom gevra of daar enigiets was wat hy wou hê, en of hy hom iets kon gee. Hy het hierdie kort antwoord gekry: “Ek wil niks hê nie, behalwe dat jy nie tussen my en die son moet staan nie.” Laat daardie gesindheid ons geloof vul. Daar is een ding wat ons nooit moet bevredig en tevrede stel nie, en dit is, “enigiets wat tussen ons siele en Christus staan.”

Nie dat ek dit uit gebrek sê nie, want ek het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek is. Ek weet om verneder te word, ek weet ook om oorvloed te hê; in elke opsig en in alle dinge is ek onderrig: om versadig te word sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.’’ Filp. 4:11-13

_____________________________

[1] https://gracegems.org/23/Ryle_be_content.htm Vertaal deur Mia Le Cornu, en vrylik verwerk (met voetnotas) deur S. Le Cornu. Sien ook meer artikels oor verskillende onderwerpe hier: www.proregno.com

[2] John Charles Ryle (10 Mei 1816 – 10 Junie 1900) was ‘n Anglikaanse prediker en skrywer in die evangeliese en Calvinistiese tradisies. Hy was die eerste Anglikaanse biskop van Liverpool. Veral bekend vir sy klassieke werk: Expository Thoughts on the Gospels. Bron: Wikipedia. Vir meer info, sien: jcryle.info

[3] JC Ryle het geglo Paulus het die Hebreër boek of brief (of preek?) geskryf, sien NGB artikel 4.

[4] Die skrywer: Jeremiah Burroughs.

[5] “Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ’n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.” (1 Kor. 10:11)

__________________________

Die ‘Wees Tevrede’ pamflet kan ook hier in PDF afgelaai word: Wees Tevrede

Verder Ryle artikels hier.

JC Ryle se Expository Thoughts on the Gospels

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑