GEPREEK TYDENS DIE VERBONDSDOOP VAN HFP (Frederik) Kruger, verbondskind van Hein en Hannelie Kruger op 18 Januarie 2026, GK Waterberg
Lees: Jesaja 8:1-20 & 1 Tim. 2:8-15
Teks: “18Hier is ek en die kinders wat die Here my gegee het—tot tekens en sinnebeelde is ons in Israel, vanweë die Here van die leërskare wat op die berg Sion woon. 19En as hulle vir julle sê: Raadpleeg die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê, wat piep en mompel—moet ’n volk nie sy God raadpleeg nie; moet vir die lewendes die dooies gevra word? 20Tot die wet en tot die getuienis! As hulle nie spreek volgens hierdie woord nie, is hulle ’n volk wat geen dageraad het nie.” (Jes. 8:18-20)
Sing: Ps. 71:1,4,11; 135:1-3,8; 25:5-7; 105:5; 145:1-3.
Opname (GK Waterberg, 2026-01-18),
Aflaai: Dooppreek Jes. 8:18-20

Preeknotas [die preek is die opname, hier onder is slegs preek notas wat meer inligting bevat]:
Geliefde gemeente in Christus,
(Verwysing na: Brief wat uitgestuur is na kerke aangaande ons sinodebesluite oor VIDA, ‘n aanhaling: “Christus regeer sy kerk deur sy Woord en Gees en Hy roep ons tot gehoorsaamheid, ook wanneer dit vir ons moeilik is of teen die tydsgees indruis”, sien hier meer. Sien ook hier onder ds. Henk Stavast se treffende prediking na my preek, in die tweede diens, wat ek hier onder plaas, waar hy uit die Skrif preek en die wesentlike sake aanraak na afloop van sinode 2026)
SINODEBESLUITE OOR VIDA, 1 TIM. 2:11-14
MAAR WAT VAN 1 TIM 2:8 EN 15?
Is daar nog vir ons ‘n toekoms?
VIR DIE BYBELSE GESIN IN ONS WOKE TYE?
AS JY SIEN DIE VENYNIGE AANVALLE TEEN ONS VIDA BESLUITE?
IS DAAR NOG PLEK VIR GEREFORMEERDE GESINNE EN GEMEENTES
IS DAAR NOG PLEK NIE NET VIR KINDERS NIE, MAAR BAIE KINDERS,
MIDDE DREIGENDE EKONOMIESE, POLITIESE, GODSDIENSTIGE TYE?
Is daar nog hoop, ook in 2026?
Ja, geliefdes!
Daar is altyd hoop … daar is altyd ‘n toekoms. Ons teksvers leer ons dit:
Hier is ek en die kinders wat die HERE my gegee het – tot tekens en sinnebeelde is ons in Israel, vanweë die HERE van die leërskare wat op die berg Sion woon. – Jes. 8:18
En, die verbondteken bedien vanoggend, bevestig dit, en versterk ons om in daardie toekoms en hoop te glo en lewe, ook in 2026!
Jesaja word in die 8ste eeu voor Christus in ‘n tyd van groot krisis geroep.
In hfst.7:2 het ons gelees die vrees en angs oor die toekoms van die Here se kerk daar in OT, Toe hulle aan die huis van Dawid berig stuur met die woorde: Die Arameërs het op Efraim toegesak! – het sy hart en die hart van sy volk gebewe soos die bome van die bos bewe voor die wind.
Ja, die volk en die koning van die volk, Agas, was bang.
In vandag se taal: sy broek het gebewe …
Die opkomende wêreldryk in die tweede helfte van die 8ste eeu VC, was Assirië, met hul koning Tiglat-Pileser.
Koning Tiglat was besig om deur die een veldtog na die ander die destydse wêreld in te neem, en die gebied van Sirië (waar die Arameërs gewoon het), Israel en Juda was volgende in sy visier.
Om hierdie bedreiging teen te staan, het Israel en Aram in bondgenootskap gegaan, onder leiding van hul konings Resin (Aram) en Peka (Israel).
Hierdie konings het dan ook verwag dat Juda, dat koning Agas saam met hul sou staan teen Assirië … DIE PRAKTYK, DIE ‘MOEILIKE TYE’ HET DIT MOS VEREIS….
Agas was egter nie hiervoor te vinde nie.
Nou trek Aram en Israel teen Juda op, om haar te verslaan en te vervang met ‘n nuwe koning, ‘n ene seun van Tabeal, sien vers 6.
Daardeur hoop hulle om Israel, Juda en Aram teen Assirië se aanslag te verenig.
Agas gaan soek hulp by die koning van Assirië … DIE PRAKTYK, SOGENAAMDE ‘MOEILIKE TYE’ VEREIS DIT..
EN NOU, MIDDE DIT ALLES word Jesaja deur die Here gestuur om deur dIe verkondig van sy woord en ‘tekens en sinnebeelde’, sy wil aan koning Agas en die volk te verkondig.
‘n Teken is in die OT gegee om meestal te wys op ‘n ongewone gebeurtenis.
Daardie teken het dan ‘n bepaalde boodskap
Vir die volk vir die hede en toekoms.
In Jes.7 en 8 gaan dit spesifiek oor seuns se name as teken vir die volk:
In hfst.7:3 het ons gelees van Jesaja se eerste seun, Sjear Ja Sjub, wat beteken daar sal ‘n oorblyfsel oorbly.
In 7:14 is die maagd se Seun, Immanuel, wat beteken God met ons
En dan in hfst.8:3 Jesaja se tweede seun, Maher-Shalal Elas Baz, wat beteken netnou is daar buit, netnou is daar roof.
Hierdie name openbaar God se wil vir sy volk.
In Jes.7 verwerp Agas, die Immanuelteken.
Die teken wat vir hom daarop gewys het dat ter wille van die koms van sy Seun, DIE GOD VAN DIE VERBOND, A,I,J Hy Juda sal bewaar.
Agas het egter gedink sy politieke vermoë, SY PRAKTIESE VINDINGRYKHEID sal Juda red van die die aanslag van Assirie.
In hfst.8 openbaar die Here egter vir hom dat Juda ook ‘n slagoffer sal word van Assirië.
En om dit nog duideliker te maak, gee hy nog ‘n teken:
Jesaja se tweede seun, wat se naam beskryf wat met Juda gaan gebeur: roof, buit
Voor hierdie seuntjie Vader of Moeder kan sê, sal Juda ingeval word, want dan sal Assirie Israel en Sirie reeds verslaan het.
Die ‘waters van Siloa’ is simbolies van die Here se hulp en redding, wat Agas en die volk verwerp het, v.6
Daarteenoor, sal die stormwaters van die Eufraat, simbolies van Assirie Juda oorweldig, tot by die nek v.7,8
Ja, sê vers 8, die land van Immanuel, sal deur die Eufraat oorstroom word.
Vers 9 en 10 beskryf ook die oordeel wat Juda tref,
Volke, want Assirië het bestaan uit klomp volke, raas in opgewondheid,
Omdat die verbondsvolk van die Here verslaan word
Ja, geliefdes, dit is die verskriklike toestand waarin die volk verkeer het
Geestelik en fisies verslaan… IS DAAR ‘N TOEKOMS?
TOEPASSING: En is dit nie ook waar van die tye en omstandighede waarin ons verkeer nie?
Party mense probeer nou deur positiewe denke dit alles ontken, asof daar nie baie verval en groot stryd is nie!
Maar dit is die krisistye waarin ons woon.
Geestelik en fisies oor die algemeen is ons mense, ons land verslane, binne en buite die kerk.
En is ons as’t ware ook oorgelewer aan die elemente en vyandigheid van ons tye.
Is daar hoop ?
Is daar ‘n toekoms ?
Dit is midde hierdie tye,
wat die Here vir Jesaja geroep het.
Dit is midde hierdie krisistye
Wat ons in ons teksvers lees: “Hier is ek en die kinders wat die Here vir my gegee het …”
Hier is reeds die antwoord op ons vraag …
Kan ons nog kinders kry in krisistye …
Kan ons nog NIE NET 1 TIM. 2:11-14 IN ONS TYE BEOEFEN NIE, MAAR OOK EN VERAL V. 8 EN 15. M/V GESONDE HUWELIK EN GESINNE AS BASIS VAN KERK EN STAAT… (TOTIUS AANHALING)
Ja, geliefdes ons kan … ons moet …
Hoekom kan ons ?
Want, die hoop en die krag lê nie in onsself nie, maar in Hom wat Jesaja reeds verkondig het.
In die tweede teken, in Hom van wie ons lees in 7:14,
Daarom sal die HERE self aan julle ’n teken gee: Kyk, die maagd sal swanger word en ’n seun baar en hom Immánuel noem. – Jes. 7:14
In vers 8 van ons teks vind ons reeds die genadebediening, dat alhoewel Juda nou geoordeel gaan word en in ballingskap sal gaan, die land steeds Immanuel se land is
Vers 10, word gewys dat alhoewel die volke en magte daarop uit is om die Here se kerk in die OT, te vernietig, “dit nie tot stand sal kom nie” …
Hoekom nie? v.10c “want God is met ons” … Immanuel !
Ja, hulle wat nie werklik kerk is nie, sal afgesny word,
Maar daar sal altyd ‘n oorblyfsel wees, ‘n ware kerk.
Dit is dan ook wat Jesaja se eerste seun se naam beteken het: ‘n oorblyfsel sal terugkeer
Dus, alhoewel die volk in sy geheel Juda geoordeel sal word, sal ‘n oorblyfsel bly voortbestaan.
TOEPASSING: Terwyl die Here se volk vandag getugtig word, sal ‘n oorblyfsel bly bestaan.
Dit verseker die HERE ons deur hierdie tekens.
Hierdie naamtekens het bevestig DAAR IN DIE 8STE EEU VC:
Juda sal terwille van die koms van die Immanuel, bly voortbestaan!
Jesaja en sy kinders, was daarom ‘n teken en sinnebeeld, nie net vir hul eie tyd nie, maar vir alle tye.
OOK VIR ONS TYE, OOK VIR ONS VANDAG!
In Hebr.2:13 lees ons dan ook dat Jesaja ‘n tipe was van Christus, en sy kinders, ‘n tipe van die kerk, van al die gelowiges, dus ons ook vandag:
HOOR MOOI VANDAG AS JUL SY STEM HOOR EN SY VERBONDSTEKEN SIEN:
11 Want Hy wat heilig maak, sowel as hulle wat geheilig word is almal uit Een; om hierdie rede skaam Hy Hom nie om hulle broeders te noem nie, 12 wanneer Hy sê: Ek sal u Naam aan my broeders verkondig, in die midde van die gemeente sal Ek U prys ; 13 en verder: Ek sal my vertroue op Hom stel; en verder: Hier is Ek en die kinders wat God My gegee het. 14 Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het – dit is die duiwel – 15 en almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was.
Sien u dit geliefdes,
In Christus is ons bevry van die sonde, die dood, en alle vrees. Ons hoef niks te vrees nie.
Nee… Jesaja sê WIE ons moet vrees, maar ons moet nie hulle vrees wat net liggaam kan doodmaak nie, maar wat siel en liggaam kan doodmaak (Matt. 10:28), en dit verdryf mensevrees en tydsgeesvrees, ens.
HOOR VANDAG OORBLYFSEL VAN DIE HERE:
Want so het die HERE met my gespreek toe sy hand my oorweldig het en Hy my vermaan het om nie te wandel op die weg van hierdie volk nie, met die woorde: Julle mag nie alles ’n sameswering noem wat hierdie volk ’n sameswering noem nie, en julle mag nie bevrees wees vir wat hulle vrees, of verskrik wees nie. Die HERE van die leërskare – Hom moet julle heilig, en laat Hy julle vrees en Hy julle verskrikking wees! – Je 8:11-13
Ja, geliefdes
Ons moet nie die weg van Agas, die wêreld soek nie, DIE SINODE, DIE BROERS OUDERLINGE HET NIE DIE WEG VAN DIE WERELD GESOEK IN HUL VIDA BESLUITE NIE.
Maar ons moet die weg van die oorblyfsel, van Jesaja en sy kinders bewandel.
KONKREET:
Dit beteken ons moet die Woord, tekens en beloftes van die Here vashou ons hele lewe lank, ongeag dat die wêreld ons geloof uitlag, bespot, bevraagteken…
Ons moet nie die sameswerings van die valse kerk en wêreld volg nie, v.12, maar die Here vertrou om ons ook deur huidige krisisse te dra.
Ons moet verwerp die VIDA bedreiginge in wêreld, howe, ons gaan sogenaamd ‘irrelevant’ raak…
En hoe doen ons dit, hoe bepaal ons of ons vir Agas of Jesaja volg, watter AGENDA ek persoonlik, my gesin, gemeente, MV:
Vers 19 en 20: 19 En as hulle vir julle sê: Raadpleeg die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê, wat piep en mompel (sosiale media … nuutste tydsgees statistieke, ons word minder….bedreiginge?) – moet ’n volk nie sy God raadpleeg nie; moet vir die lewendes die dooies gevra word)?20 Tot die wet en tot die getuienis! As hulle nie spreek volgens hierdie woord nie, is hulle ’n volk wat geen dageraad het nie.
SO, JA, DIE VIDA BESLUIT EN ALLES WAT DAARUIT GEVOLG HET, IS GOED EN MOET GEHANDHAAF EN UITGEVOER WORD, MAAR BO ALLES EIE HARTE, HUWELIK, GESINNE, PLAASLIKE GEMEENTES, KERKRADE, PREDIKERS:
Wat bepaal u lewe?
Die gepiep en mompel van die wêreld, die waarseërs op die TV?
Die valse profete wat sê daar is niks fout nie?
Of is dit die Woord, Psalm 1 en die Messias (Ps. 2)?
Die woorde ‘geen dageraad’ nie, beteken daar is geen opkoms van die son nie, d.w.s. daar is nie nog ‘n dag nie, dus geen toekoms nie!
As u lewe van piep en mompel, onduidelike raad van mense en die wêreld, dan het dit nag geword in die lewe.
Die Woord, Jesus, Immanuel, alleen bring lig! Kom na Hom toe vir ware lig en om die duisternis in u lewe te verdryf, sien Joh. 1:1-12, veral verse 5.
Hoe kan ons vandag versterk word in ons geloof, om aan te ‘IN U LIG’ te wandel, elke dag se taak, worstelinge, gesin, huwelik, stryd in 2026 orals?
Geliefdes, die HERE het sy Woord, sy dageraad vir ons gegee om elke dag te lees, Ps. 1
Maar, hy het ook vir ons sy finale tekens gegee: die nagmaal en die doop
SOOS HY VIR SY VOLK IN DIE OT OOK GEGEE TEKENS GEGEE HET HET MIDDE HUL TOEKOMS DREIGINGE…
Woord en sakramente bedien dieselfde sake as wat daardie verskillende tekens bedien het,
En vandag sien ons dit weer in die doop wat bedien gaan word aan ‘n verbondskind:
Die doop wys ons op ons sondigheid en verlorenheid, dit waarvan ons geleer het in Agas en die volk se afvalligheid, WAT GEEN TOEKOMS HET OF KAN GEE NIE, GEEN MENS NIE.
MAAR, die doop in navolging van die Skrif, wys ook op ons enigste hoop, toekoms om ons te red van sonde, die dood en ongeregtheidheid: die Immanuel, God met ons.
ONS GROOTSTE ELLENDE, IS NIE ONGEHOORSAME VIDA GEMEENTES NIE, JA DIT IS DIT OOK… MAAR BO ALLES IS DIT AS ONS NIE V. 8 EN 15 VAN 1 TIM 2 VAN HARTE WIL NAKOM NIE…
AS ONS GESLAG, ONS BEHOUDENDES, BLY IS OOR VIDA BESLUITE 40 JAAR GEHANDHAAF…. MAAR INTUSSEN IS ONS MANNE NIE GODSVRESEND DIENEND NIE… ONS VROUE OMHELS NIE V. 15 NIE… AS ONS DIE KINDERSEEN VERWERP… HOE KAN ONS EN ONS KINDERS TEKENS WEES IN ONS TYE VAN ANTI GESIN EN KERK, AS ONS SELF WEIER OM DIE KINDERSEEN TE OMHELS, WARE MAN EN VROU WEES, DAN IS AL DIE VIDA BESLUITE TEVERGEEFS… SIEN PS. 127, 128.
En laastens, die doop wys ons op ‘n lewe volgens sy Wet, die dageraad van Jes.8:20, midde die tye waarin ons lewe, hoe gevaarlik ookal, oppad na die nuwe hemel en aarde, goeie stryd tot die laaste dag.
Die Woord van die Here en die sakramente, soos die Woord van die Here deur Jesaja en die tekens wat hy gegee het, is ‘n tweesnydende swaard
Dit is tot vergifnis, redding en heiligmaking van die oorblyfsel, danksy die genade van God in die Immanuel.
En, dit is tot oordeel en straf van hulle wat weier om sy beloftes te aanvaar, Christus verwerp, en nie sy tekens wil aanvaar nie, wat deur die tydsgees en nie God se Gees gelei word nie, sien Rom. 8:1-2ev.
VIDA BESLUITE IS GENEEM, GOED SO, HANDHAAF EN PAS DIT TOE
MAAR BO ALLES, IN EIE LEWE, GESIN, GEMEENTE, SOEK 1 TIM. 1:15-17 EN DAN 1 TIM 2:8 EN 2:15 VIR DIE GANSE LEWE.. SAAM AS GESINNE SAAM AS GEMEENTES.
Mag hierdie Woord (BELOFTE) wat ons vandag gehoor het, en die teken van die doop, die verbond
U opnuut versterk om u opnuut toe te wy
Aan ons Here en sy Immanuel
Om uit die Evangelie (Tit. 2:11-15), sy Woord, wet te lewe, in dankbare gehoorsmaaheid.
Om u vertroue op Hom te rig en van die wêreld af te sien.
LAASTENS DIE BELOFTE,
As ons dit doen broer en suster, Hein en Hannelie, getroudes en ongetroudes, oupas en oumas, alle verbondsgenote en nageslag, verbondsgemeente:
Hoef ons nie bang te wees nie
Hoef ons nie in vrees te lewe nie
DAN HET ONS EN ONS KINDERS ‘N TOEKOMS MIDDE DIE AANSLAE,
EN BO ALLES IN DIE NUWE HEMEL EN AARDE WAT ONS VERWAG
Dan kan ons aanhou doen, wat die Here beveel vir die ballinge, ook vir ons:
saam as gesinne, as gemeentes
Tekens en sinnebeeld van God se genade kan wees, in hierdie verlore wêreld, ook van 2026:
“4So sê die Here van die leërskare, die God van Israel, aan al die ballinge wat Ek uit Jerusalem na Babel in ballingskap weggevoer het: 5Bou huise en woon, en plant tuine aan en eet die vrugte daarvan; 6neem vroue en verwek seuns en dogters, en neem vroue vir julle seuns en gee julle dogters aan mans, dat hulle seuns en dogters baar; en vermenigvuldig daar, en moenie verminder nie; 7en soek die vrede van die stad waarheen Ek julle in ballingskap weggevoer het, en bid daarvoor tot die Here; want in die vrede daarvan sal julle vrede hê.” (Jer. 29:4–7)
Amen.
______________________________________________
18 Januarie 2026, Tweede Erediens, Ds H Stavast 2 Kronieke 26:1-5, 16-21 Buig voor die Here want Hy regeer!
_________________________________
Pro Regno bronne en artikels: Kinderdoop
“God het sy Kerk in die dae van Abraham gevestig en kinders daarin geplaas. Hulle moet daarin bly totdat Hy hulle daar uithaal. Hy het nêrens hulle uitgehaal nie. Hulle is daarom steeds lidmate van sy Kerk en as sulks geregtig op haar ordinansies. Die doop is een van daardie ordinansies.” – Benjamin Warfield.
“Waar die tug in die kerk verwaarloos word, daar word die kiem geplant vir vraagtekens agter die kinderdoop. As ouers wat leef soos heidene, tugteloos in die kerk geduld sou word en as doopouers aanvaar word, dan groei die vraagtekens rondom die doop van hulle kinders. Laat ons dan ook hierin die dwaling van die verwerping van die kinderdoop teenstaan deur in ons kerke erns te maak met die kerklike tug!” (prof. JC Coetzee)
Sien ook die volgende artikel vir ‘n meer detail verduideliking: Why we should baptize babies: the case for covenantal infant baptism
‘N KORT EN KRAGTIGE BYBELSE BEGRONDING VAN DIE KINDERDOOP*

- Die kinders van gelowiges was lede van die Abrahamitiese genadeverbond wat God ingestel het.
(Genesis 17:7, 12: “En Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag ná jou in hulle geslagte as ’n ewige verbond, om vir jou ’n God te wees en vir jou nageslag ná jou. … ‘n Seuntjie van agt dae dan moet onder julle besny word, al wat manlik is in julle geslagte.”);
- Die nuwe verbond is ‘n hernuwing van die Abrahamitiese genadeverbond.
(Galasiërs 3:8, 14: “En die Skrif wat vooruit gesien het dat God die heidene uit die geloof sou regverdig, het vooraf aan Abraham die evangelie verkondig met die woorde: In jou sal al die volke geseën word. … sodat die seën van Abraham na die heidene kan kom in Christus Jesus, en dat ons die belofte van die Gees deur die geloof kan ontvang.”);
- Die teken van die nuwe verbond van die doop het die Abrahamitiese verbondsteken van die besnydenis vervang, omdat Christus dit vervul het my sy koms.
(Kol. 2:11,12: “in wie julle ook besny is met ’n besnydenis wat nie met hande verrig word nie, deur die liggaam van die sondige vlees af te lê in die besnydenis van Christus, omdat julle saam met Hom begrawe is in die doop, waarin julle ook saam opgewek is deur die geloof in die werking van God wat Hom uit die dode opgewek het.”);
- God het die kinders van gelowiges nêrens deur enige verdere openbaring in die NT, buite die verbondsbediening geplaas nie, maar sluit hulle (nog steeds) in met ‘huisgesin’ dope (‘tussen My en jou en jou nageslag na jou‘, Gen. 17:7).
(Hand. 16:31-33, ““Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin. En hulle het aan hom die woord van die Here verkondig en aan almal wat in sy huis was. En in dieselfde uur van die nag het hy hulle geneem en hulle wonde gewas, en hy is onmiddellik gedoop, hy en al sy mense.”);
- Daarom is die gelowiges se kinders (nog steeds) lede van die genadeverbond en moet hulle die verbondsteken van die doop ontvang.
(Hand. 2:39, “Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.”)
*met erkenning aan die volgende bron: The best books on Infant Baptism

Leave a comment