DIE WOORD AS OPDRAG: GEDAGTES OOR PREDIKING, dr. Willie D. Jonker

EK besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk: verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal ’n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ’n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels. Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ’n evangelis; vervul jou bediening.” (2 Tim 4:1–5)

INHOUD:
n Woord vooraf

Misnoeë rondom die prediking

Ons verantwoordelikheid

Prediking as uitleg van die Skrif

Prediking as verkondiging

Prediking as vertolking

Prediking van die evangelie

Van die teks na die preek

Prediking as kommunikasie

Dialogiese prediking

Vrye prediking

Die eietydse karakter van die prediking

Aktuele prediking

Kategismusprediking

AFLAAI: 

Hierdie boek van dr. Willie Jonker kan hier afgelaai word: Die Woord as Opdrag of hier: Willie Jonker webblad.

‘n PAAR AANHALINGS uit die voorwoord en verskillende hoofstukke (beklemtonings is bygevoeg):

Voorwoord

“Hierdie boekie is geskryf uit bekommernis oor die gehalte van die prediking soos die skrywer dit ‘n halwe leeftyd lank in die kerk meegemaak het. Self ‘n bedienaar van die Woord, kan hy hom nie losmaak van die klagtes van talle lidmate oor die prediking nie. Wat hier volg, is ‘n poging om aan homself en andere rekenskap te gee van wat hy as die enigste moontlike weg beskou waarop ons verder kan gaan.

Ons sal eenvoudig ons ernstige aandag moet gee aan die verlange van baie van ons lidmate na ‘n eenvoudige, verstaanbare prediking wat terselfdertyd die volheid van inhoud besit, dat dit die siel kan voed en die hart kan versadig. Te veel keer kom mense uit die kerkdiens met die opmerking dat hulle nie kon verstaan wat die predikant wou sê nie. Te veel keer merk hulle ook op dat wat hulle gehoor en verstaan het, nie vir hulle besef die Woord van God was nie.

Dit is nie altyd uit onverskilligheid teenoor die Woord van God of die kerk dat ons lidmate ontevrede is oor die prediking nie. Dit is dikwels gebore uit ‘n intuïtiewe wete dat ‘n meer bevredigende bediening van die Woord moontlik behoort te wees.

As ons nie aan hierdie versugtinge gehoor gee nie, mag ons vind dat die kerk sy ware betekenis vir ‘n groot gros van die lede van ons samelewing gaan verloor. Die tekens is reeds daar dat ‘n proses van kerkvervreemding na die voorbeeld van wat in ander Westerse lande gebeur het, besig is om hom geruisloos onder ons te voltrek. Dit is veral die jeug en die meer intellektueel-ontwikkelde deel van ons bevolking wat op die lang duur gefrustreer word deur ‘n prediking wat benede die maat is.”

Misnoeë rondom die prediking

“Een van die grootste beskuldiginge wat teen die predikant ingebring word, is dat die swakheid van sy prediking die resultaat van sy eie gebrekkige geestelike lewe is. Hierdie beswaar word nie altyd op dieselfde manier verwoord nie. Sommige gemeentelede sal sê dat die predikante nie uitleef wat hulle verkondig nie; dat hulle klaarblyklik nie eksistensieel ervaar wat hulle as die waarheid van Gods Woord op die kansel aan andere voorhou nie; dat hulle op ‘n formalistiese wyse met ‘n aantal Christelike cliché’s werk, waarvan ‘n mens nie die gevoel kry dat dit met realiteite in hulle eie geestelike lewe te make het nie. Vandaar ook dikwels die harde beskuldiging van onwaaragtigheid aan die adres van die predikant, veral van die kant van die jeug. Daar is egter ander gemeentelede – en dit wil voorkom of hulle op die oomblik weer ‘n groeiende aantal lidmate in die kerk verteenwoordig – wat eenvoudig sê dat die predikant se moeilikheid is dat hy nie ‘n “geestelike mens” is nie.

“Vervulling met die Heilige Gees is nie die einde van die predikant se probleme met die prediking nie, maar dit bied aan hom die noodsaaklike vertrekpunt, die moed en die krag, die geloof en die hoop, die ywer en die liefde om van hierdie groot opdrag wat aan hom gegee is, die allerbeste te probeer maak wat met sy besondere gawes en talente daarvan gemaak kan word. Dit laat hom die feit van die onvergenoegdheid rondom die prediking in die regte sin van die woord ernstig opneem en maak hom vry om te ondersoek presies wáár die fout dan lê, dat die prediking nie aan sy doel kan beantwoord nie.”

Ons verantwoordelikheid

“Die kerk het nie reg om aanspraak te maak op die vervulling van Gods beloftes, as hy met iets anders as die Woord van God in die wêreld besig is, of as hy die Woord van God nie werklik “aan die man bring” deur dit in te spreek in die lewensituasie van die mens nie. Die feit dat die Heilige Gees self op die Pinksterdag die apostels laat spreek het in tale wat mense verstaan het as hulle eie taal, toon dat die wyse van verkondiging nie ‘n saak sonder betekenis is nie. Die Heilige Gees val nie mense se hart op ‘n gewelddadige wyse binne nie, maar spreek hulle aan in ‘n taal wat hulle kan verstaan en oortuig hulle van die waarheid en die werklikheid van wat in die verkondiging gesê word. Ons verantwoordelikheid vir die verkondiging hang ten nouste hiermee saam.

… Daarom is dit ook te maklik om die rede vir die mislukking van die prediking op ‘n reglynige wyse te gaan soek by of die gebrek aan die Heilige Gees by die predikant, of die hardheid van hart van die gemeente. Albei hierdie dinge kan ‘n rol daarin speel. Miskien moet ons selfs sê dat daarmee in ‘n sekere sin die laaste en diepste gesê is wat oor die mislukking van die prediking gesê kan word. Ons mag egter nie die oë daarvoor sluit, dat ons daarmee ons toevlug neem tot die verborge werkinge van die Heilige Gees as verklaring vir die gebrek aan resultate op die prediking nie. Maar daarmee stap ons oor die sigbare heen, terwyl ons verantwoordelikheid juis op die gebied van die sigbare lê en nie op die gebied van die onsigbare en verborgene nie.

Dit is vir ons in ons situasie as verkondigers van die Woord ‘n heilige plig om te vra of die swakhede wat ons prediking aankleef, nie eerder toegeskryf moet word aan ons eie tekortkominge en aan ons onwil om hierdie taak met die voile inset van ons kragte en in die laaste verantwoordelikheid voor God so goed as moontlik te verrig nie. Sowel die predikant as die gemeente sal die hand in eie boesem moet steek en die skuld vir die ontoereikendheid van die prediking eerder by onsself moet soek, as in die verborge dinge wat nie ons terrein is nie. Ons kan God gerus vertrou om Sy beloftes waar te maak en sy genade oorvloedig te bewys. Ons kant van die saak is egter dat ons gehoorsaam moet wees om te doen wat van ons verwag word as verkondigers van die Woord van God.”

Prediking as uitleg van die Skrif

Dit is op hierdie punt waar die predikant se belydenis van die gesag van die Heilige Skrif duidelik moet word. Dit is nie genoeg om formeel die absolute gesag en onfeilbaarheid van die Bybel te bely nie. Dit is moontlik dat ‘n mens ondanks ‘n dergelike formele belydenis tog met die Skrif kan omgaan op ‘n wyse wat in werklikheid nie van veel respek vir die Bybel getuig nie. Die erkenning van die gesag van die Skrif is ‘n praktiese saak en moet uitkom in die manier waarop die predikant in sy prediking die Skrifwoord eer deur dit akkuraat en saaklik-korrek uit te lê. Dit getuig nie van veel ontsag vir die Skrif as ‘n predikant nie die moeite wil doen om sy teks wetenskaplik te eksegetiseer voordat hy daaroor preek nie. Dit is waar dat wetenskaplike eksegese nog nie dieselfde is as verkondiging nie. Geen predikant sal met wetenskaplike eksegese van ‘n teks kan volstaan nie. Dit is egter die onmisbare basis van sy verkondiging en wie dit verwaarloos, maak nie genoeg erns met die Skrif nie. …

‘n Predikant mag nooit vergeet dat die manier waarop hy in die prediking met die Skrif omgaan, ‘n groot invloed op die gemeente se omgang met die Skrif uitoefen nie. As hy homself dit veroorloof om op ‘n onsaaklike manier met die Bybel om te gaan, ondermyn hy die gesag van die Skrif in die gemeente. Die indruk word dan immers gewek dat ‘n mens met die Skrif só mag omgaan, só sonder die erns van ‘n eerlike uitleg van wat daar geskrywe staan. Wanneer die prediking daarenteen aan die gemeente ‘n voorbeeld stel van hoe ‘n mens saaklik-korrek met die Skrif moet omgaan ten einde dit in sy ware bedoeling uit te lê, word die gemeente opgebou in die kuns om met die Skrif om te gaan en self ook die Skrif op die regte manier te gebruik.”

Prediking as verkondiging

“Die prediker wat voortdurend met die Skrif omgaan en terselfdertyd die nodige sensitiwiteit het vir die situasie waarin hy moet preek, sal vind dat “die Woord van die Here tot hom kom” by elke situasie waarin hy moet preek. Dit maak nie soveel verskil of hy tydens die lees van die Bybel meteens die relevansie van ‘n teks vir ‘n bepaalde situasie sien deurstraal, én of hy te midde van sy pastorale werk en in die oordenking van die situasie waarin hy moet preek, aan ‘n bepaalde Skrifwoord herinner word wat die situasie tot op sy kern blootlê nie. Eintlik gaan dit in die prediking om ‘n voortdurende heen-en-weer-beweging tussen die Skrif en die situasie. Die beslissende saak waarom dit in hierdie beweging gaan, is of die Skrif daarin die beheersende posisie behou. Slegs as dit die geval is, sal die prediker die situasie kan deurlig van die kant van die teks af, en nie die teks skeeftrek om aan te pas by wat hy graag in die situasie wil sê nie.”

Prediking as vertolking

“Die Nuwe Testament leer ons dat die koms, lyding, dood en opstanding van Christus ‘n nuwe era in die geskiedenis van Gods omgang met sy volk laat aanbreek het, waardeur alles wat in die Ou Testament staan, in ‘n nuwe lig bekyk moet word. Daar is volgens die Nuwe Testament elemente van die Ou Verbond wat verbygegaan het en afgeskaf is (vgl. Hebr. 8), maar dit is tog ook weer onmiskenbaar dat daar ‘n diepe eenheid tussen die ou en die nuwe bedeling is. So leer die Nuwe Testament ons self dat daar tussen die Ou en die Nuwe Testament ‘n verhouding van kontinuïteit én van diskontinuïteit is, omdat daar ‘n voortgang in die geskiedenis van Gods heilsdade is.

Dit alles is van die allergrootste belang vir ons omgang met die Heilige Skrif en ons vertolkende arbeid in die prediking. Te dikwels kom dit nog voor dat predikante oor tekste uit die Ou Testament preek asof daar geen Nuwe Testament bestaan nie en asof dit, gegewe die Nuwe Testament, nog moontlik is om ‘n teks uit die Ou Testament regstreeks op die gemeente van vandag van toepassing te maak, sonder om rekening te hou met die koms van Christus en die verskil wat dit aan elke uitspraak van die Ou Testament gemaak het. Die volkome willekeurige manier waarop bepaalde voorskrifte uit die Ou Testament uit hulle verband gehaal en aan die gemeente as verbindend voorgehou word, sonder dat die straalbreking wat die Ou-Testamentiese gebod in die bloed van Christus ondergaan, in ag geneem word, is soms verstommend.”

Prediking van die evangelie

“Dit is een van die mees ontstellende punte van kritiek teen ons prediking dat dit so dikwels nie verkondiging van die evangelie is nie. Dit stel nie werklik God in sy liefde en oordeel aan die gemeente voor nie, maar ploeter rond in allerlei moraliserende en piëtistiese algemeenhede wat nie werklik bevrydend en verlossend is nie. Die gevolg is dat die prediking in laaste instansie antroposentries bly, omdat dit bly handel oor die mens se doen en late, sy bekering en geloof, sy strewe en mislukking. Dan mis die prediking egter die karakter van ‘n evangelieverkondiging wat ‘n krag van God tot saligheid is (Rom. 1:16).

Dit is omdat die Skrifwoord nie vanuit die perspektief van die evangelie benader word nie, dat so baie predikante nie weet hoe om ‘n verband te lê tussen die historiese Skrifteks en die aktuele situasie van die gemeente nie. Die verbindingskakel tussen die teks en die hoorders van vandag is immers gegee met die feit dat die doel van die Skrifteks nog steeds die doel is wat ook die prediking moet beheers, en dat die evangelie wat in die Skrifteks aan die orde kom, vir die mens van vandag nog dieselfde betekenis het. Die prediking is daar om hierdie feit sigbaar te maak. Om dit te kan doen, moet die prediker so diep in die Skrifteks inkruip, dat hy die besondere skopus van sy teks binne die raamwerk van die skopus van die Skrif as geheel, en die besondere boodskap van sy teks binne die raamwerk van die boodskap van die Skrif as geheel leer verstaan. Eers dán is hy in staat om die omslag na sy eie gemeente van vandag te maak en te verkondig hoe daardie teks die gemeente vandag ráák.”

Van die teks na die preek  

Die uitnemende weg is dat die predikant oor sy teks sal bly mediteer, totdat die boodskap van die teks vir die hede vir hom sigbaar word. Die resultaat behoort ‘n tema te wees wat die historiese Skrifteks en die huidige situasie in mekaar laat skuif. So sou ‘n preek oor Hand. 9 (die bekering van Paulus) waaroor ons tevore reeds gespreek het, bv. as tema kon hê: Niemand is buite bereik van die Heilige Gees nie. Dit is duidelik hoe die prediker aan dié tema kom. Sy teks laat immers sien hoe selfs Paulus wat moord en dreiging teen die dissipels geblaas het en ‘n geharde Fariseër was ens., nie buite bereik was van die Heilige Gees nie. Wat egter in die teks gegee is, is in die meditasie reeds verwerk tot ‘n boodskap wat direk op die situasie van die gemeente van vandag kan slaan. In so ‘n geval kan die “tema” van die preek die eerste sin daarvan wees, vergelykbaar met die banieropskrif van ‘n koerant, wat in enkele woorde reeds die hele boodskap weergee. Die hele res van die preek dien dan net om dit uit te werk en te illustreer. Natuurlik hoef dit nie altyd die eerste sin te wees nie. Dit kan ook gebêre word vir die klimaks van die preek. Hoofsaak is egter dat ‘n preek net één ding moet sê, en dat daardie één ding die tema van die preek moet wees wat by die gemeente sal agterbly as hulle die erediens verlaat.”

Prediking as kommunikasie

“Prediking is die bediening van die Woord van God aan ‘n spesifieke vergaderde gemeente. Die woordbediening moet daarby onderstreep word. Wat die Sondagse preek onderskei van ander vorme van omgang met Gods Woord, is dat dit ‘n lewende “bediening” van die Woord is. Daarom dra die prediking ‘n unieke gebeurtenis-karakter. Dit is iets anders as ‘n lesing oor die Bybel of selfs as ‘n stuk Bybelstudie wat gesamentlik gedoen word. Dit is ‘n eenmalige gebeurtenis waarby ‘n geroepene van Christus, toegerus met die gesag van die apostels en die profete, met ‘n Woord van God na die gemeente toe gaan om dit in Naam van Christus in die midde van die versamelde gemeente te proklameer.”

“Die uitdaging waarvoor ons vandag staan, is om ten voile erns te maak met die kommunikasie-probleme wat die preek aankleef, maar om, vanuit die oortuiging van die onmisbaarheid van die preek as vorm van verkondiging, na ‘n weg te soek waarlangs die preek ook kommunikatief kan beantwoord aan die eise wat aan hom gestel word.”

Dialogiese prediking  

Een van die vernaamste dinge wat die predikant moet leer, is om homself te aanvaar en om dus vry te word in sy verhouding teenoor andere. As hy kan leer om op die regte wyse teenoor die gemeente te staan, val die vrees vir die gemeente van hom af. Wanneer hy homself nie meer teenoor die gemeente hoef te handhaaf nie, homself nie meer beter hoef voor te doen as wat hy is nie, kom hy in die posisie waar hy die gemeente nie meer as ‘n bedreiging ervaar nie, selfs nie eers onbewus nie. Daardeur word dit vir hom moontlik om ook die prediking nie meer te sien as ‘n geleentheid waarby hy “teenoor” die gemeente te staan kom nie, maar as ‘n geleentheid waarby hy tussen broers en susters mag verkeer. Baie predikante het ‘n onuitgesproke vrees vir die prediking, omdat hulle in werklikheid die prediking sien as ‘n geleentheid waarby hulle moet presteer. Hulle vrees die gemeente, omdat hulle die gemeente benader soos ‘n kunstenaar sy vreemde gehoor benader – as ‘n kritiese groep luisteraars wat eers geboei en gevang moet word ten einde gunstig gestem te word.”

Vrye prediking

“Die weg wat ons wil bepleit, is dat die predikant homself deeglik moet voorberei, indien moontlik selfs nog intensiewer as wat die voorstanders van ‘n uitgeskrewe preek wil hê. Hy moet egter daarvan uitgaan dat die resultaat van sy voorbereiding nie ‘n uitgeskrewe stuk sal wees nie, maar ‘n vrye omgang met die gemeente waarby hy aan die gemeente die Woord moet oordra wat die Here tydens die voorbereiding op sy hart gelê het. Tydens sy hele voorbereiding moet sy blikpunt dus nie die vervaardiging van ‘n manuskrip wees nie, maar die ontdekking van die boodskap wat hy aan die gemeente moet oordra en die wyse waarop hy die verskillende fasette daarvan die beste na vore kan bring. Hy moet hom voorberei op ʼn gesprek-situasie, nie op ʼn lesing-situasie nie.”

Die eietydse karakter van die prediking

“Wie in ons tyd wil volstaan met ‘n piëtisties-versmalde boodskap wat altyd net weer die persoonlike siele-heil en die individuele heiliging beklemtoon, sonder om te konkretiseer wat die verlossing deur Christus vir ons hele lewe beteken, loop gevaar om ‘n tydlose boodskap te verkondig. Hoe fundamenteel en onontbeerlik dit ook is om aan hierdie dinge aandag te gee, dit is tog ook ‘n soort vlug uit die werklikheid as die bekering nie gepreek word in sy konkrete gestalte binne die situasie waarin die mens vandag lewe nie. Die bekering geskied wel vanuit die hart, maar dit bly nie tot die hart beperk nie. Dit strek hom oor die hele lewe uit, tot in die verste vertes van die praktyk. Bekering het nie net ‘n vertikale dimensie nie, maar baie beslis ook ‘n horisontale dimensie. Baie predikante preek Sondag aan Sondag, more en aand niks anders nie as dat ons ‘n keuse vir Jesus moet maak, Hom moet ontmoet en aanneem. Natuurlik gaan dit daarin om die hart van die evangelie. Maar wanneer dit net altyd in ‘n streng-individuele sin verkondig word as iets wat net tussen die mens en Christus plaasvind, sonder dat dit duidelik word wat die volle implikasies daarvan vir die hele lewe van die mens is, bly dit vaag en is dit ‘n verkorting van die boodskap van die Skrif.”

“As die prediker daarin kan slaag, sal hy aan die mens van vandag kan toon hoe relevant die Bybel is. Die Bybel is ons altyd vóór. Die Bybel kan nie verouder nie. Die funksie van die prediking is  onder andere om dit duidelik te maak. Slegs ʼn prediking wat hiermee ten volle erns maak, kan ‘n aktuele prediking heet.”

 Aktuele prediking

“Dat baie predikante nooit die boodskap van die Skrif konkreet laat klink oor die vrae van maatskaplike en politieke aard waarmee die gemeente te make het nie, kom uit verskillende motiewe voort. Sommige dink eenvoudig piëtisties en meen dat die evangelie net te make het met die bekering en die persoonlike vroomheid in die binnekamer. Die hele res van die lewe word aan homself oorgelaat om te verloop volgens sy eie wetmatigheid en innerlike kragte. Dat hierdie soort beskouing heeltemal ongereformeerd en spiritualisties is, hoef ons hier nie weer uiteen te sit nie. Wat hier wel gesê moet word, is dat hierdie houding nie so onskuldig is as wat dit lyk nie. Wanneer die kerk hom nie oor ‘n bepaalde saak uitspreek nie, beteken dit dat hy dit stilswygend goedkeur. Dit is ‘n bekende feit dat baie piëtistiese predikante oer-konserwatief is as dit oor maatskaplike en politieke sake gaan. Hulle is in staat om die grofste vooroordele eenvoudig te duld, asof die evangelie niks daaroor te sê het nie.

Kennelik het hulle nog nooit deurdink wat die koningskap van Christus vir die hele lewe beteken nie. Hulle standpunt dat die kerk hom nie oor politieke en maatskaplike sake moet uitspreek nie, hang dus dikwels minder met ‘n teologiese oortuiging saam, as met ‘n eie stuk onbekeerdheid. Dit is nie vreemd nie. Almal van ons verbind in ons ‘n stuk bekeerdheid met ‘n stuk onbekeerdheid. Dit is net so skadelik as dié stuk onbekeerdheid met teologiese argumente bedek word en as die hoogste vroomheid opgedis word.”

“Daarby moet ons opmerk dat dit verkeerd is om te dink dat elke vorm van konkretisering van die evangelie op politieke en maatskaplike terrein ‘n oorskryding van die grense van die kerk se bevoegdheid sou wees. Die kerk is nie net bevoegd nie, maar ook geroepe om hom oor alle sake in die lewe uit te spreek. Die sg. beginsel van soewereiniteit in eie kring beteken geensins dat die kerk oor bepaalde sake nie mag praat nie. Dit beteken dat hy nie die bevoegdhede van die betrokke lewensterrein op hom moet neem nie. Die kerk mag byvoorbeeld nie as kerk politiek gaan handel nie. Die kerk mag nie politieke programme ontwerp en probeer om dit op een of ander wyse ten uitvoer te bring nie. Dit is nie die kerk se taak nie.

Sy taak is egter wel om op ‘n kerklike manier, dit wil sê: op grond van die Woord van God, krities met die hele lewe besig te wees. Al mag die kerk nie politieke programme uitwerk nie, moet hy tog in die Naam van Christus op onreg en lyding wys wat deur politieke programme veroorsaak word. Hy mag tog nie swyg as mense se gesindhede klaarblyklik verkeerd is nie. Hy is eenvoudig geroepe om op elke terrein waar die kwaad hom voordoen, die goddeloosheid te ontmasker.”

“As ons werklik erns maak met die koningskap van Christus en die omvattende betekenis van die Woord van God vir ons hele lewe, behoort ons veel meer aandag te gee aan die middele wat dienstig kan wees daaraan om die gemeente te leer wat volle en volwasse gehoorsaamheid aan die Woord van God op elke gebied van ons lewe beteken.”

Kategismusprediking

“’n Kerk wat prys stel op die handhawing van die suiwer leer, mag eenvoudig nie toelaat dat die hand gelig word met die gereëlde behandeling van leerstellige stof in die prediking nie. Dit is tiperend dat die neiging om met die kategismusprediking weg te doen, altyd in die geskiedenis van kerklike gemeenskappe opgekom het op ‘n tydstip toe daar minder erns gemaak is met die handhawing van die suiwer leer. Alleen al om hierdie rede is dit raadsaam om nie te gou te besluit dat die kategismusprediking in die kerk verminder of selfs nagelaat moet word, omdat dit dan belemmerend op die bywoning van die kerkdienste sou inwerk nie.”

“’n Mens kan met groot klem daarop wys dat dit in die prediking gaan om die uitleg van ‘n konkrete teks van die Heilige Skrif in die situasie van die gemeente. Dit is ook waar dat die teks self in sy letterlikheid aan die woord gelaat moet word en die hele preek moet beheers. Alleen so, het ons gesê, kom daar ruimte vir die verrassende spreke van die Heilige Gees deur die lewende Woord van God. … Immers, óók in die kategismuspreek mag dit om niks anders as die Skrif gaan nie. Dit is wel waar dat die kategismus bepaalde uitdrukkings besig wat die resultaat is van historiese beslissings van die kerk in die aangesig van bepaalde dwalinge, maar ook dááragter sit die Skrif. Juis omdat die protestantse leer niks anders wil wees as ‘n belydenis van die evangelie nie, behoort dit tog moontlik te wees om só oor die leer te praat, dat dit deurgaans die Skrif is wat aan die woord gelaat word.”

In alle prediking gaan dit uiteindelik daarom dat die lewensbrood vir die gemeente gebreek moet word. Die predikant het die Woord van God as opdrag. As hy dié opdrag nie in sy kategismusprediking kan vervul nie, sal dit waarskynlik ook nie in die res van sy prediking kan gebeur nie. Die kategismus lê hom dit immers min of meer in die mond om die evangelie op ‘n aktuele manier in die midde van die gemeente uit te spreek. As hy nie by die kategismus kan leer hoe aktueel die Woord van God is nie, is dit ‘n vraag of hy dit op enige ander plek sal kan leer!”

“Daarom behoort elke predikant wat ‘n afkeer van kategismusprediking het, ‘n keer diep te besin oor sy hele werksaamheid as prediker. Dit kan vir hom die begin wees van die verootmoedigende proses van ontdekking dat sy prediking te dikwels nie daarin slaag om werklik die evangelie na vore te bring nie. Dit kan hom daartoe bring om homself af te vra of hy werklik die egte nood van die mense op die oog het as hy preek. Ons gemeentes het ‘n behoefte aan die evangelie. Die feit dat hulle dikwels Sondag na Sondag teleurgesteld uit die erediens terugkeer, lê nie aan die evangelie of aan die Heilige Gees nie. Dit lê maar net by onsself, by ons wat die Woord van God as opdrag het, maar ons opdrag so onbevredigend vervul. Tog is daar ook vir ons hoop. Die Woord van God is nie gebonde nie.”
 ______________________________________________

Die boek kan hier afgelaai word: Die Woord as Opdrag of hier: Willie Jonker.

Harde kopie van Jonker se boek beskikbaar by Pro Regno Boeke: R50-00

‘n Verdere paar boeke oor prediking:

Versamelde Werke, Deel I-V, 1977-uitgawe, Totius

Die Dwaasheid om te Preek, VE d’Assonville (snr.)

Perspektiewe op die prediking van Paulus, L. Floor

De Dienst der Prediking, K. Dijk

De catechismuspreek in haar verscheidenheid, K. Dijk

Gereformeerde Homiletiek, T. Hoekstra

Good Neighbours Books on Preaching

Top Five Books on Preaching

 Top Ten Books, David Murray

Reformed Preaching Books

Reformation Heritage Books on Preaching

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑