SONDER DIE ERE-DIENS IS DIE KERK ONSIGBAAR EN WORD ‘N MENSE-DIENS(i)
prof. dr. GJC (Jorrie) Jordaan

Dit vir die kerk gedurigdeur noodsaaklik om te besin oor die erediens. Ook omdat die erediens in ons tyd, soos gewoonlik in tye van stroomversnellings, erg onder druk verkeer.
Besinning
Reeds in die voorwoord van sy Institusie het Calvyn ‘n aanduiding gegee van die belangrike plek wat die erediens in die bestaan van die kerk inneem. Teenoor die Roomse Kerk wat beweer het dat die gestalte van die kerk altyd dieselfde is en dat dit altyd sigbaar is, het Calvyn geskryf:
“Daarteenoor voer ons aan dat die kerk sonder enige sigbare gestalte kan bestaan en dat die gestalte nie op uitwendige glans, wat hulle soos dwase bewonder nie, maar op heeltemal ander kenmerke berus, naamlik die suiwere prediking van die Woord van God en die regmatige bediening van die sakramente.” (ii)
Daarmee is sommer ‘n hele paar belangrike dinge gesê. Een daarvan is watter gestalte die kerk aanneem. In hedendaagse taal gestel: die kerk is nie ‘n gebou nie. Die kerk bestaan ook nie in ‘n struktuur van rade en kommissies en sinodes en deputate nie. Die kerk is ‘n vergadering van hulle wat aan die Here behoort — die gelowiges (Kategismus Sondag 21). Die kerk is dus oral waar die gelowiges is.(iii)
Op die oog af lyk gelowiges soos ander mense, beweeg hulle tussen ander mense, werk saam met hulle, praat dieselfde taal, adem dieselfde lug. Vir die blote oog is die kerk dus onsigbaar, soos suurdeeg wat nie met die blote oog van die res van die deeg uitgeken kan word nie en bloot maar aan sy werking geken kan word.
Maar tog is daar een geleentheid waarby die kerk sigbaar gestalte aanneem.
Dit is, om Calvyn se woorde te gebruik, daar waar “die suiwere prediking van die Woord en die regmatige bediening van die sakramente” plaasvind. Kortom: die erediens.
Die erediens is die een geleentheid waarby die kerk as liggaam van Christus gesien kan word. As iemand dan sou vra: “Waar kan ek die kerk sien?”, dan behoort ons te antwoord: “Gaan kyk Sondag daar waar die kerk in die erediens saam is.”
– In die erediens is die kerk sigbaar saam as ‘n vergadering van hulle wat aan die Here behoort.
– In die erediens word die gelowiges saam voor die aangesig van die Here gestel om hulle saam te onderwerp aan sy Woord in die prediking en sakramente.
– In die erediens buig die gelowiges saam in eerbiedige onderworpenheid voor die Here,
– bely hulle saam hulle afhanklikheid van Hom,
– sing hulle saam die lof van sy Naam.
Die erediens onder druk
Satan, die teëstander van God en sy kerk, wil uiteraard met alle mag verhoed dat die kerk van die Here sigbaar gestalte aanneem. Daarom is hy daarop uit dat die erediens nie sal plaasvind nie.
Die eerste gevaarligte het met die ontstaan van die Christelike kerk reeds geflikker, toe die owerstes van die Jode die apostels probeer verbied het om glad nie meer in die Naam van Jesus te preek of te leer nie (Hand 4:18). Sedertdien was daar in die kerkgeskiedenis droewige tye van vervolging waardeur die sigbare gestalte van die kerk ondergronds gedruk is. Eredienste moes in die geheim plaasvind. Calvyn skryf:
“Hoe dikwels is die kerk sedert die koms van Christus deur oorloë, opskudding en kettery sodanig onderdruk dat dit nêrens geskitter het nie?”
Genadiglik lewe ons in ‘n tyd waarin daar geen fisiese vervolging van die kerk bestaan nie en waarin ons openlik in eredienste kan saamkom.(iv) Maar daarmee is Satan se aanslag nie afgeweer nie. As hy nie kan keer dat eredienste plaasvind nie, neem hy sy toevlug tot meer subtiele metodes. Hy probeer die erediens vervals. Sulke vervalsing word selde van buite af op die kerk afgedruk. Dit kom, helaas, gewoonlik van binne. Vervalsing van die erediens kan baie gestaltes aanneem.
Die erediens kan ontaard in ‘n blote seremonie – nie omdat die erediens in homself ‘n blote seremonie is nie, maar omdat lidmate dit so beleef. Waarom beleef hulle dit so? Omdat hulle nie meer weet waarmee hulle besig is nie. Die gevolg is dat ons eredienste “bywoon” net omdat ons moet of omdat dit van ons verwag word. Spoedig begin ons kla dat “die preke te lank is”, dat “die nagmaal te veel tyd in beslag neem” of “niksseggend geraak het”, dat “ons self ‘n groter deel aan die erediens wil hê.”
Die gevolg van so ‘n toestand is ‘n verdere vervalsing van die erediens. Want in plaas daarvan dat ons harte teruggebring word na dit waarmee ons in die erediens besig is, probeer ons die erediens aanpas om by ons eie harte te pas. Ons probeer die prediking vervang met ‘n gesprek tussen lidmate, onbewus daarvan dat die hele erediens inderwaarheid ‘n gesprek is tussen God en sy gemeente, en dat dit Hy is wat in die prediking aan die woord is. Ons probeer op allerlei kunsmatige maniere ‘n aangename atmosfeer skep, onbewus van die lieflike geur wat daar uitgaan van die ontmoeting van God met sy verbondsvolk.
Ons probeer die mens al meer op die voorgrond en God na die agtergrond verskuif. Veral in hierdie moderne eeu waarin die mens die middelpunt van alles geword het, is die versoeking groot om die erediens in diens van die mens te stel.
‘n Waarskuwing van die apostel Petrus is hier vanpas:
“Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu en soek wie hy kan verslind”(v), mag bydra tot ‘n groter nugterheid en waaksaamheid ten opsigte van die erediens.
Byvoeging deur S. Le Cornu:
Laat ons daarom elke rusdag met blydskap en vreugde en opgewondenheid optrek na die huis van die Here, om Hom te loof en te prys en te aanbid, saam mede-gelowiges:

PSALM 122:1 (berymd)
Ek was verheug toe die geluid
weerklink het bo die ruimtes uit:
Kom, laat ons optrek hiervandaan,
om na die HEER se huis te gaan!
O heil’ge stad, gelukkige=oord,
ons voete staan nou in jou poort!
Jerusalem, waar al die stamme
op Gods bevel hul feesdag hou,
Jerusalem is goed gebou
en glinster in die son se vlamme.
_______________________________
(i) Bron: Die Kerkblad, 1995. Oorspronklike titel: Sonder die erediens is die Kerk onsigbaar, bekklemtonings is bygevoeg. Aanlyn hier beskikbaar: https://www.christelikemedia.org/article/sonder-erediens-die-kerk-onsigbaar
(ii) Sien NGB artikels 27-35 oor die bybels-gereformeerde belydenis volgens die Skrif, wie en wat die kerk is, veral artikel 29 oor die drie kenmerke van ware kerk wees.
(iii) “Ons glo en bely ’n enige katolieke of algemene kerk, ’n heilige vergadering van almal wat waarlik in Christus glo, wat almal hulle volle saligheid in Jesus Christus verwag en in sy bloed gewas is, geheilig en verseël deur die Heilige Gees… Verder is hierdie heilige kerk nie geleë in, gebonde aan of bepaal tot ’n sekere plek of sekere persone nie, maar is die oor die hele wêreld versprei en verstrooi. Tog is dit met hart en wil en deur die krag van die geloof in een en dieselfde Gees saamgevoeg en verenig.”
(iv) Onthou dat hierdie artikel reeds in 1995 geskryf is, en netso en dalk nog meer aktueel is, weens die gevare wat in ‘covid-tye’ plaasgevind het, waar die burgerlike owerheid en (ongelukkig) baie kerke saamgestaan het om sigbare ‘saam’ eredienste te verhoed. Ons is dankbaar vir al die gemeentes, kerkrade, gemeentelede en predikers wat in daardie tyd meer gehoorsaam was aan God as aan mense (Hand. 4:;19; 5;29), sien hier meer artikels daaroor: Eredienste in covid-tye.
(v) 1 Petrus 5:8.
Leave a comment