OM ONS EIE TYE EN ROEPING TE HELP VERSTAAN, TOLLE LEGE: AUGUSTINUS SE ‘STAD VAN GOD’

“… om die dinge waarop dit aankom, te onderskei…” – Filp. 1:10

DRIE AANHALINGS:

Waarom praat Augustinus van twee state onder die mensdom? Antwoord: Hy gebruik die Bybel as uitgangspunt – met name Psalm 87:3: ‘Heerlike dinge word van jou gesê, o stad van God!’ Hierdie stad, die Civitas Dei, noem hy ook die hemelse stad.

Volgens die twee stede wat teenoor mekaar staan, die stad van God en die stad van die aarde, verdeel hy die mensdom in twee groepe, naamlik hulle wat leef volgens die wil van God (volgens die Woord) en hulle wat leef volgens die wil van die mens (die mens se woord). Die eerste groep, wat leef volgens die Woord, is voorbestem (verkies) om saam met God in sy stad te heers; die tweede groep, wat leef volgens die wil van die mens, sal saam met Satan en met hulle stad die ewige straf ontvang. Die hemelse Jerusalem staan teenoor die aardse Babilon. Dit word alles alreeds op aarde gemanifesteer.

Twee ryke, twee state, twee soorte burgerskap, twee soorte geloof, twee soorte hoop, twee soorte liefdes … In die wêreldgeskiedenis is hulle nog met mekaar vermeng, maar met die oordeelsdag word hulle finaal van mekaar geskei. Dan is dit skape, die ware kerk en bokke, die valse kerk (vergelyk Matthéüs 25:31 e.v.).”

“Wie is die ENIGSTE regeerder van die kerk en die staat?

Vir Augustinus is daar geen twyfel nie, dit is Jesus Christus! Hy is die Middelaar tussen God en die mense, die Skepper en Herskepper, die Formeerder en die Reformator (let op hierdie term, reeds in die vyfde eeu!), die Maker en die Hersteller.

Juis op hierdie voortdurende heerskappy van Christus, val alle nadruk. Wat ’n oortuigde uitspraak van Augustinus: Jesus Christus is ten volle en te alle tye en onder alle omstandighede op alle terreine die ewige Koning. Sy koningskap is wel dikwels in die geskiedenis verborge, maar is daarom nooit minder reëel nie.”

“Toe Augustinus die geskiedenis van twaalf eeue van die Romeinse staat blootgelê het, het hy dit die geskiedenis van ’n rowersbende genoem. Dit is vanweë hulle voortdurende heerssug en geweld oor kleiner volke en lande – die bou van ’n aardse imperium van mag. Sy letterlike woorde is: ‘Wanneer ’n staat die geregtigheid opsy skuif, is hy niks anders as ’n rowersbende nie’. 

In ons eie, huidige situasie sal die christen-burger die toets moet aanlê. Wat doen die regeerders met die ekonomie? Bevoordeel hulle hulself? Word selfs omkoop en korrupsie ingespan om meer geld te kry as wat hulle toekom – die mentaliteit van ’n rowersbende?  Word die onderwys vir eie gewin, eie ideologie ingespan met leerplanne waar die christelike godsdiens uitgeban word en heidense godsdienste oorneem? Word die tradisionele, feitlike geskiedenis vervang met die marxistiese bevrydingsgeskiedenis? Word taalregte van minderheidsgroepe met opset verwyder? Is dit dan nie die werk van ’n rowersbende nie?”

PROF. VICTOR d’ASSONVILLE SE ARTIKEL OOR AUGUSTINUS
Hierdie is slegs drie belangrike aanhalings uit prof. V.E. d’Assonville se baie goeie oorsigtelike opsomming en resensie van Augustinus se belangrikste werk, De Civitate Dei (Die Stad van God). Lees gerus die volledige artikel hier, waarin die groot belangrikheid van hierdie boek en teoloog ook uitgewys word:

Augustinus se De Civitate Dei

Nog ‘n aanhaling uit prof. d’Assonville se artikel, wat saamvat waarom Augustinus hierdie boek geskryf het, en waarom dit so belangrik was vir sy tyd maar ook vir alle tye, ons tye, om deur die bril van God se Woord, deur die geloof, na alle gebeure en ons lewens en stryd te kyk:

“Op ’n Sondag ná 24 Augustus 410, na die skokkende berig oor die val van Rome, het die 56-jarige biskop van die stad Hippo Regius, Aurelius Augustinus, sy preekstoel bestyg en ’n preek uit Psalm 87, oor die stad van God, gelewer. Daarin het hy vir sy gemeente die ondergang van die stad Rome behandel. Hierin vlek hy die mentaliteit van die heidene oop:

‘Toe ons nog ons offers aan ons gode gebring het’, so verwyt die heidene die christene, ‘het Rome nog in sy volle krag gestaan en gebloei, maar nou dat die offers aan julle God die oorhand het, kyk wat is nou die ellende van Rome!’

Om hierdie heidense verwyt aan die kerk te beantwoord, het Augustinus ’n boek van 22 hoofstukke geskryf waaraan hy 13 jaar lank gewerk het – van 413 tot 425. Dit is sy magistrale De Civitate Dei (Die stad van God). Hier vind ons vir die eerste keer vanuit die kerk van destyds ’n antwoord op die aktuele vraag oor die verhouding tussen kerk en staat in die wêreld. Dit is ’n Bybelse visie wat ook aan ons vandag groot hulp vir die regte geloofsinsig in hierdie saak kan gee. In ’n ander geskrif van Augustinus, naamlik sy Retractationes, gee hy die redes vir die grootse De Civitate Dei:

‘Intussen is Rome oorweldig deur die inval van die Gote onder aanvoering van hulle koning Alarik, gepaardgaande met groot rampe. Die aanbidders van baie afgode, mense wat ons gewoonlik heidene noem, het toe probeer om hierdie inval aan die Christelike godsdiens toe te skryf, en toe het hulle nog meer as gewoonlik die ware God begin laster. Brandende van ywer vir God se huis, het ek besluit om hierdie lastering en dwaling in hierdie boeke van die stad van God te beskryf …’”

WERKE OOR AUGUSTINUS IN AFRIKAANS

Daar is so baie wat van Augustinus, sy boeke, sy tye, ens., geleer kan word, sonder om met alles saam te stem (ons moet altyd alles lees en toets in die lig van Hand. 17:11-semper reformanda beginsel), en natuurlik in ag te neem dit is 1600 jaar gelede geskryf.

Dit is ook baie belangrik om Augustinus self te lees, sy belangrikste werke is, naas De Civitate Dei (The City of God, Stad van God), is Confessiones (The Confessions, Die Belydenisse) en De doctrina Christiana (On Christian Doctrine)

Volgens my kennis, is net ‘Confessiones‘ in Afrikaans vertaal, maar is reeds weer uitdruk, terwyl die ander werke van Augustinus wel in Engels en ander tale beskikbaar is, kyk ook gerus by monergism.com en ccel.org vir sy (en ‘n ander magdom) boeke.

Afrikaanse omsetting: Piet Venter, Johann Symington & Amie van Wyk 2007 – Augustinus: Belydenisse: Getuienis oor ‘n lewe in God. Uitgewer: Lux Verbi. 475 bladsye.

Die nuutste Afrikaanse publikasie oor Augustinus waarvan ek weet, is prof JHW (Amie) van Wyk, wat sy lewe lank Augustinus gelees en bestudeer het, se boek:

Augustinusn Studie oor die Etiek van ‘n Kerkvader uit Afrika

Die eerste twee hoofstukke daarvan, veral die ‘Inleiding’ wat wys op die belangrikheid van Augustinus as ‘n Afrika teoloog, dalk as die grootste teoloog ooit, kan hier gelees word. Sien ook hierdie resensie.

Hier is ‘n paar aanhalings vanuit prof. Amie se boek (beklemtonings bygevoeg):

“Eerstens: Hy is sonder twyfel een van die grootste teoloë wat ooit geleef het. Daaroor bestaan daar by teoloë min twyfel. Van hom het die groot Nederlandse teoloog Herman Bavinck die volgende opgemerk: “Hy behoort nie aan één kerk nie, maar aan alle kerke tesaam. Hy is “Doctor Universalis” … “Hy is die mees Christelike en die mees moderne van alle kerkvaders, hy staan van almal die naaste aan ons” … ”Ons beste, diepste en rykste gedagtes in die dogmatiek dank ons aan hom.” “Augustinus is dié dogmatikus van die Christelike kerk gewees.”

” ’n Derde rede waarom Augustinus ons aandag verdien is vanweë sy sentraalstelling van die koninkryk van God as teologiese tema. Elkeen wat met die prediking van Jesus Christus vertroud is, sal weet dat juis dít vir Hom die sentrale tema van die evangelie was, naamlik die koms van die koninkryk van God, God se nuwe ryk van heil, vrede, vryheid, versoening en geregtigheid. En dat hierdie nuwe ryk in die lewe en werk, dood en opstanding van Jesus self aangebreek het, en deur die werk van die Heilige Gees bevestig is.

In sy groot werk (magnum opus), Oor die stad van God, behandel die kerkvader hierdie tema op diepgaande wyse. In hierdie boek lewer hy ’n teologie van hoop, want hy wys daarop dat terwyl aardse koninkryke kom en gaan, slegs die koninkryk van God onverganklik en ewig is. Want dis ’n koninkryk van geloof, hoop en liefde.

Die sogenaamde onverganklike Romeinse Ryk het in 410 n.C. geval, maar die koninkryk van God gaan onuitwisbaar voort. Hierdie boodskap van Augustinus uit Noord-Afrika is van groot betekenis vir Afrikaner-Christene wat vandag in Suid-Afrika leef. Baie van hulle is ontnugter en ontredder na die (weliswaar redelik vreedsame)* val van die Afrikanerryk in 1990/1994, maar Augustinus herinner hulle daaraan dat aardse ryke tydelik, verganklik en broos is en dat slegs die koninkryk van God ewige waarde het. Augustinus se boodskap is natuurlik ook van groot betekenis vir oordrewe swart nasionalisme en Afrikanisme wat al hoe meer in Suid-Afrika sigbaar word – want ook dít besit nie ewigheidswaarde nie. Geen politieke party sal regeer tot Jesus weer kom nie.”

“’n Vierde rede waarom dit die moeite werd is om by Augustinus te leer, is omdat hy ’n Bybelse teoloog was. Christene beskou die Bybel as normatiewe teks vir leer en lewe, kerk en teologie, en daarom is dit belangrik om te gaan kyk hoe die kerkvader die Bybel hanteer en in sy tyd van toepassing gemaak het.”

“Laastens, in die vyfde plek, is dit natuurlik interessant om as Suid-Afrikaanse teoloog na die standpunte van ’n Noord-Afrikaanse teoloog te kyk. Ons deel immers dieselfde kontinent, dieselfde vrae en gevare, dieselfde probleme en uitdagings, dieselfde hoop en verwagtings.”

Nog ‘n laaste aanhaling van prof. Victor om Augustinus se boek en werke aan te beveel, ook om ons te help om in die lig van die Bybel, Ps. 36:10, in U lig, na ons tye en uitdagings te kyk:

“Die vraag kan gevra word: Wat is die eintlike betekenis van die De Civitate Dei? Om dit deeglik te laat inslaan, gaan ons die antwoord drie keer herhaal: Augustinus se uitgangspunt … sy uitgangspunt … sy uitgangspunt! Dit is die plek waar hy gaan staan het om die kerk en die staat te bekyk; dit is die toring vanwaar hy die kerkgeskiedenis in die wêreldgeskiedenis betrag het; vanuit die huis op die rots het hy die gebeurtenisse van die dag bestudeer. En wat is dit? Die BYBEL, die Woord van God!

Daar is teoloë wat Augustinus vanuit die dogmatiek met kritiek bestorm (soms korrek) … Daar is manne van die staatsfilosofie wat sekere van sy stellinge bevraagteken (ook miskien korrek, byvoorbeeld klein tekens van die Neo-Platonisme) … Maar die uitkyktoring waaruit hy kerk en wêreld beskou, naamlik die Woord van God, kan hulle nie omverwerp nie.

Vanuit die Bybel as sy wagpos oorsien Augustinus die hele veld van die wêreldgeskiedenis – destyds, in die vyfde eeu, was dit die geskiedenis van die staat Rome, die twaalf eeue van die civitas terrena, die stad van die wêreld. Hy sien dit ook profeties die toekoms in – die twaalf eeue tot by die Reformasie van die 16de eeu.   …

Nie die Humanisme met sy bravade dat hy die eintlike mens se betekenis herontdek het nie… Nie die Renaissance met sy roem dat hy die ou Hellas (Griekse kultuur) en Latium (Romeinse kultuur) weer herontdek het en daarmee na die heidense Roma aeterna, die ewige Rome hier op aarde, teruggegryp het nie…  Maar die Reformasie wat weer die ewige Woord herontdek het … vind deur die newels van die Middeleeuse kerklike verval weer by Augustinus ’n baken om die koers aan te dui….”

Daarom, laaste woord van my kant af: TOLLE LEGE!

__________________________
* Ek verskil so bietjie hier met prof. Amie oor die beoordeling van die oorgang na die nuwe SA, sien die verskillende artikels waarna verwys word hier.

Hier is ‘n paar ekstra bronne van en oor Augustinus:

https://www.ligonier.org/learn/series/heroes-of-the-christian-faith/augustine

https://www.monergism.com/8-things-we-can-learn-augustine

https://www.logos.com/product/10293/augustine-through-the-ages-an-encyclopedia

The Theology of Augustine; An Introduction to His Most Important Works

The Six Best Books on or by Saint Augustine

Augustinus oor die verval van beskawings

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑