GETUIENIS VAN DIE GEREFORMEERDE EKUMENIESE SINODE VAN 1946

GETUIENIS VAN DIE GEREFORMEERDE EKUMENIESE SINODE VAN 1946*


“Die Gereformeerde Kerke van Noord-Amerika, Suid-Afrika en die Nederlande, nou byeen in ’n voorbereidende ekumeniese sinode, in volle besef van hul verantwoordelikheid, sowel wat betref die veelsydige belange van hul eie kerklike lewe asook teenoor die wéreld om hulle heen, is diep oortuig dat die gereformeerde getuienis vir die waarheid van God besondere betekenis het, veral in die chaotiese worsteling van die geeste van ons tyd.

1 Die eenvoudige kinderlike geloof oorwin die wêreld

Hulle het hierdie oortuiging nie gebaseer op ’n histories-bepaalde of wetenskaplike fondament nie maar as die versekering van die eenvoudige geloof, die geloof wat, volgens die Woord van die Heilige Skrif, die wêreld oorwin (1 Joh. 5:4).

Dit is des te meer ons roeping om te getuig van hierdie eenvoudige en kinderlike geloof in die midde van die wêreld, nou dat die wéreld tot op sy fondamente geskud is en oral tevergeefs rondgetas word vir ’n onbeweeglike fondament, en ’n onaantasbare sekerheid, waarop die gemeenskaplike en individuele lewe kan rus. Dit is juis hierdie rustelose gesoek wat die kerk

in sy oortuiging versterk dat dit met geloofsmoed moet getuig van die volheid van die openbaring van God, wat in die wêreld geopenbaar is in die Heilige Skrif, en deur die Kerk aanvaar is (al is dit in swakheid en onvolkomenheid) as ’n lig op ons pad en ’n lamp vir ons voet (Ps. 119:105).

Dit is met besorgdheid dat die Geref. Kerke opmerk die groeiende afkeer van die enige onwrikbare fondament, en die gevaar van hierdie afkeer word daeliks meer sigbaar in die tragiese gevolge wat dit meebring vir volkere, gesinne en individue.

2 Die ongelowige aanslag op die onfeilbaarheid en sekerheid van die Heilige Skrif
Een van die mees verontrustende tekens in die geskiedenis van die kerk is dat hierdie teëstand selfs in die boesem van die kerk gevind word. Nie alleen word skerp kritiek op die Heilige Skrif by die wéreld en ongeloof gevind nie maar selfs by diegene wat die Naam van Jesus Christus bely, word die gesag van die Skrif sodanig benadeel dat die gesig op Hom, wat die Skrif predik, in menige opsig verduister word.

Van verskillende kante word die Woord van God steeds meer beroof van sy krag deur die beskouing dat dit as geheel of gedeeltelik die vrug is van menslike oorweginge en gedagtes. En, hoewel die kerk die wonderlike leiding van die Heilige Gees erken wat van mense gebruik gemaak het, moet egter ten sterkste gewaarsku word teen enige poging om die werk van die Heilige Gees te verduister deur ook maar in die geringste die beskouing te aanvaar dat ons hier te doen het met ’n menslik-feilbare getuienis omtrent die werk van die Heilige Gees, wat die sekerheid van die kinderlike geloof ondermyn.

Mag die ou belydenis van die gesag van die Heilige Skrif, soos vervat in ons belydenisskrifte, die nodige waarskuwing en vermaning bied teen al dergelike pogings van die verlede of die hede.

Ons Heiland self het in die groot versoeking, toe Hy sy taak openlik aanvaar het, die aanvalle van Satan weerstaan deur driekeer ’n beroep te doen nie op die groot gedagtes van sy eie hart nie maar wel op die geskrewe Woord van sy Vader, wat Hy as Skild gebruik het (Matt. 4:1-11). Die kerk moet nie huiwer om die spore van die Here (al is dit slegs van ver af) op hierdie pad te volg nie, sy taak in die toekoms te volbring en sodoende die groot versoeking weerstaan van volkome wêreldgelykvormigheid.

3 Nederige maar standvastige getuienis dat eenheid van die kerke deur die waarheid bewerk word

Die kerk betreur dit dat hierdie roeping volbring moet word te midde van ’n geskokte en verdeelde wêreld. Nog meer smart dit hom dat hy sy pad moet loop te midde van ’n diepgaande verdeeldheid van die kerke. In hierdie verdeeldheid sal hy op sy hoede moet wees teen selfverheffing wat selfs die kerk bedreig in sy belydenis van die waarheid, maar tegelykertyd mag nie teruggedeins word vir die goddelike roeping om suiwer en positief vir die waarheid te getuig nie en sodoende te bid en te werk vir die eenheid van die hele kerk onder één Herder.

Hierdie eenheid van die kerk, wat deur die waarheid bewerk word, sal steeds meer deur hom gesoek word, gedagtig aan die Woord van die Heiland in sy gebed tot sy Vader: “dat die wêreld kan glo dat U My gestuur het,” (Joh. 17:21) want hoewel dit van die wêreld geskei is as ’n uitverkore geslag, bevat juis hierdie skeiding sy roeping in die wêreld.

4 Die heiligheid van die Woord en Wet van God moet aan alle mense en volkere verkondig word, ook die leiers van lande en volke

Alleen dan sal dit die wêreld effektief kan benader as dit in diepe oortuiging van die waarheid getuienis gee van die heiligheid van die Woord en Wet van God in daaglikse onderworpenheid aan die regering van sy Here. Daarom word die ontwikkeling van die lewe van hierdie tye met kommer gade geslaan. Dit sien die wortel van die krisis wat die hele lewe omarm en veroorsaak dat die leiers van die volkere hul weg bewandel sonder die lig wat nasies kan lei. (Luk. 2:32)

Die kerk sal sy roeping nalaat as dit te midde van die sombere ontwikkeling van die moderne politieke lewe sou nalaat om die woord te spreek, nie alleen vir die enkeling nie maar as reël vir die lewe van volkere en regerings, ja, vir die geheel van die onstuimige lewe in al sy  vertakkinge, aangesien dit op pad is na die groot wederkoms van Jesus Christus.

5 Die kerk se diens in en vir die wêreld is om kerk te wees
As dit gedagtig is aan sy roeping, sal die kerk sy energie nooit in die wêreld verkwis nie maar liewer soek om in die gemeenskap van die heiliges deur die diens van Woord en gebed en die gebruik van die heilige sakramente versterk te word uit die onuitputlike fontein van die Woord van genade en sodoende bewys lewer dat dit ’n seën vir die wêreld is. Hy sal dit egter in beginsel trou moet uitleef en sy taak pligsgetrou moet uitvoer in die onwrikbare geloof dat die getuienis van die kerk hom kan beveilig teen die gevare van die tyd.

Hierdie gevare is nie slegs die gevare van die ongeloof nie maar ook, en selfs meer, die verbleking van ons algemeen ongetwyfelde christelike geloof (HK v/a 22), sodat dit soms selfs moeilik sigbaar is.

6 Die opvoeding en onderwys van die verbondsnageslag

Dit sal ook ten volle bewus moet wees van sy taak in verband met die band van die geloof tussen oud en jonk en die oorlewering van die waarheid van geslag tot geslag. Dit moet getrou wees in die bevordering van die opvoeding van die jeug van die verbond, in die christelike skole opgerig en beheer deur die ouers, gedurende daardie periode van hul lewe wat beslissend is vir die toekomstige jare; meer nog, dit moet ernstig bid tot die Here van die kerk dat geen breuk ontstaan om sy vooruitgang in die wêreld te strem nie en dat dit sy voorreg mag wees om die lof van die Here te verkondig van geslag tot geslag.

7 Alle geskiedenis moet gesien word in die lig van die Skrifopenbaring

In sy geloofsbelydenis bely die kerk die volheid van die Drie-enige God, en dit kan die geskiedenis in geen ander lig sien nie as dié van die Skrif, wat van God kom en ’n skynende lig werp op die skepping, die val en verlossing. Dit neem ’n besliste houding in teenoor almal wat hierdie lig in meerdere of mindere mate verwerp.

8 Die kerk moet die skeppingsleer en historisiteit van die Skrif handhaaf

Teen diegene wat dit doen in verband met die begin van die Skrif, nl. die skepping van hemel en aarde as ’n soewereine daad van God eenmaal volbring vir altyd, en wat hierdie waarheid skade aandoen deur die skeppingsdaad van God te verminder tot ’n historiese ontwikkelingsproses deur die eeue heen of dit heeltemal onseker stel op die grondslag van ’n kritiese beredenering van die Skrif, bely die kerk dat sonder die Bybelse leerstuk van die skepping alle geskiedenis onverstaanbaar word en doelloos, en dat die Bybelse leerstukke van val en verlossing, soos deur die kerk bely, ernstig ondermyn word.

9 Skepping en herskepping (verlossing) is onlosmaaklik verbonde aan mekaar

Die belydenis van sowel die goddelike skeppingsdaad asook van die val van die mens staan in onlosmaaklike verband met die geseënde toekomsverwagting wat aan ons geopenbaar is deur Jesus Christus. En die aansporing van die Heiland self om die Skrifte te ondersoek, sowel van die Ou as Nuwe Testament, met ’n waarlik luisterende oor, kan dien om die kerk te versterk in sy oortuiging dat dit hom nie hoef te skaam vir die leiding van sy Here nie.

10 Die geskiedenis beweeg voort na die voleinding deur die genadeverbond

Die worsteling van die kerk gaan deur die eeue heen voort, maar dit neem ook toe in intensiteit namate die dag van die wederkoms van Christus nader. Die werk van God in die geskiedenis beweeg voort na die voleinding toe. Van die begin van die reddingsdade af, genoodsaak deur die val en ellende van die mens, sien ons Hom voortgaan in die weg van sy Verbond en aanskou ons die geslagte ingelyf in die verbond van Genade.

In die lig van sy openbaring sien ons Hom voortgaan om die lewe van ons en ons kinders te herstel in Jesus Christus, in belofte en eis en in die vervulling van die beloftes deur die Heilige Gees. Ons sien Hom in die onderhouding en uitvoering van sy werk, sonder dat een van sy woorde op die aarde val, en ons aanskou hoedat die geskiedenis van verlossing voorwaarts beweeg, deur die diepte van die val van Israel heen na sy Nuwe-Testamentiese kerk.

Die kerk is bewus van die feit dat dit in die laaste dae lewe en dat die Heilige Gees in hom woon. Hy is bewus daarvan dat hy ondersteuning put uit die rykdomme van die Genadeverbond – dieselfde in die Ou en Nuwe Bedeling—en weet dat die Woord van God nou aan hom toevertrou is in die midde van die wêreld (1 Tim. 3:15).

Die kerk sal sy roeping met vrees en bewing moet volbring, en sy pad deur die wêreld bewandel sonder ’n gevoel van selfgenoegsaamheid. Hy moet bewus wees van die feit dat die verwagting van die komende Meester sy daelikse plig nie ophef nie, maar inteendeel juis die magtige dryfveer van sy optrede is.

Kom Here Jesus!

Mag dit altyd vervul wees met verlange, met ‘n sterk begeerte na die dag van Christus, waarvan ons vaders getuienis gegee het in die slot-artikels van ons Belydenis (NGB artikel 37 – Die laaste oordeel, die opstanding en die ewige lewe), en mag dit hul gebed vir sy spoedige koms nabid, en mag hy in sy verwagting van dié koms steeds staan op die fondament van die Skrif,

“En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ’n lamp wat in ’n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die morester opgaan in julle harte” (2 Petr. 1:19).
___________________________________________

* Opskrif aangepas, en subopskrifte en beklemtonings is bygevoeg. Die Skrifverwysings wat met kursief aangedui word, is ook byvoeg aangesien dit veronderstel word deur die teks, maar nie eksplisiet vermeld is nie. – slc

Bron: Handelinge van die GKSA sinode 1949, bl. 49-53.

Die GES se eerste sinode was in 1946, en die afgevaardiges was as volg: Die Geref. Kerke van die Nederlande was verteenwoordig deur prof. dr. G.Ch. Aalders, prof. dr. G.C. Berkouwer, dr. J. Hoek en oudl. A. Warnaar. Van die Chr. Geref. Kerk (VSA) was teenwoordig: Prof. L. Berkhof, prof. D.H. Kromminga, ds. I. van Dellen, ds. E.F.J. van Halsema, dr. J.T. Hoogstra, dr. H. Kuiper en oudll. dr. E.Y. Monsma, dr. L. Flokstra, br. G. Buist en hr. F. Keegstra. Van die Geref. Kerk in Suid-Afrika was teenwoordig: Prof. dr. S. du Toit, dr. P.J.S. de Klerk en oudl. dr. H.G. Stoker.

Vir meer inligting oor die GES van 1946, die Agenda (sake wat behandel is), sien bovermelde Handelinge van die GKSA sinode 1949, bl. 24-61.

Vir ‘n bespreking en evaluering van die GES deur die beginjare en later soos al meer probleme na vore gekom het, sien prof. B Spoelstra se artikel: Die Gereformeerde Ekumeniese Sinode, In die Skriflig, vol. 15, no. 60 (1981) hier.

PRCA se paar artikels oor GES 1946, o.a. Hoeksema se artikel daaroor: Standard Bearer, vol. 23 10/1/1946

Ds AJ van Staden se artikel oor die GES hier.

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑