TOTIUS: EIEWILLIGE GODSDIENS (Amos 4:4-13) … EN DIE HERE SE REGVERDIGE OORDELE, VANDAG NOG*
Nota: Totius skryf nie net oor die eiewillige godsdiens en die gepaardgaande ‘godsdienstige onbekeerdheid’ en volharding in sonde wat plaasgevind het onder sy volk in Amos se tyd nie, maar ook oor die werklikheid dat die Here ook sy eie volk regverdig sal straf en tug… vandag nog ook sy volk wat onder al die volke en nasies is, en daarop aanspraak maak dat hul ‘Christennasies’ is.
Lees: Amos 4:4-13
“Kom na Bet-el en sondig! Na Gilgal, sondig nog meer! En bring julle slagoffers in die more en julle tiendes alom die derde dag. En laat van wat gesuurd is, ‘n lofoffer rook, en roep vrywillige offers uit, laat dit hoor! Want so is dit na julle sin, kinders van Israel, spreek die Here HERE (Amos 4:4, 5).
Amos het eers geprofeteer teen gruwels wat in vredestyd in Juda en Israel aangetref is (2 :4-16), gruwels wat hy op een lyn gestel het met die oorlogsbarbaarshede van die heidennasies (1: 1-2: 3) .
Daarna het hy sy stem verhef teen die beskawing waaruit sulke gruwels voortgekom het (hfst. 3-4:3), om dan nou op te trek teen die eiewillige godsdiens van Israel, wat in Bet-el en Gilgal beoefen is (4:4-13). Dit is die gedeelte wat ons nou sal bespreek.
Vooraf moet opgemerk word dat hier nie afgodery nie maar diens van die HERE bedoel word. Die ryk van die Tien Stamme het gemeen – hierin gelei deur Jerobeam – dat die HERE, die God van Israel, vereer kon word onder die gedaante van ‘n kalf.
Die Here het dit egter in die tweede gebod uitdruklik verbied. Hy mog onder geen gedaante en nie anders as wat in sy Woord voorgeskryf word, vereer word nie. (sien HK Sondag 35 – slc)
Fyn spottend begin die profeet. Hy het natuurlik teenoor sy oordeelsdreiging (2: 13-16; 3: 11-15; 4: 2-3) die teëwerping verwag: “Ons is godsdienstig, ons is vroom; waarom moet ons dan vergaan?”
“Nou ja”, sê die profeet, “wees tien en honderd en duisend maal vromer as wat julle nou is of behoort te wees – dit sal julle niks baat nie: julle sal nog vergaan!”
Vandaar sy geroep: “Bring uit oorgodsdienstigheid elke more julle offers in plaas van elke jaar (soos die Here eis, 1 Sam. 1:3); bring uit oorgodsdienstigheid julle tiendes alom die derde dag in plaas van alom die drie jaar (soos die wet verlang in Deut. 14:28; 26:12); laat uit oorgodsdienstigheid ook julle gesuurde brood rook, wat die Here vir julle offermaaltyd bestem het en wat nie op die altaar moet kom nie (Lev. 2:11; 7:11, 13); openbaar julle oorgodsdienstigheid deur trompette te blaas oor die offers wat julle uit eie beweging, heeltemal vrywillig aan die Here bring (Matth. 6:2) – só wil julle dit graag hê, kinders van Israel!
“En nou dink julle dat die Here dit ook graag so wil hê; julle meen dat die Here baie tevrede kan wees – net 50 tevrede as wat julle met julleself is; julle verwag ‘n besondere aanprysing vanuit die hemel! Julle het die Here oorlaai met weldade; nou sal Hy natuurlik dieselfde aan julle doen!”
Maar kyk nou watter bytende teenstelling, watter krasse teenwerping, watter snydende teenspraak.
“Ek”, sê die HERE aan sy oorvrome Israeliete, “Ek was vir julle nie goed nie. Inteendeel, Ek tog het vir julle gestuur: 1) gebrek aan brood, 2) gebrek aan water, 3) brandkoring, heuningdou (roes) en sprinkane, 4) pes en oorlog, 5) aardbewings (vs. 6-11). Daaruit kon julle geweet het dat Ek so ‘n vroomdoenery nie begeer het nie. Dit is in my oog ‘n ‘oortreding’ ” (vs. 4).
By die eerste drie plae hoef ons nie lank stil te staan nie. Ons ken hulle. Só besoek die Here ons nog.
Maar wat ons moet opmerk, is dat daar al in daardie dae gesê is: “Ag, hierdie plae kom nie van God af nie maar van moeder Natuur; hulle het met ons sonde niks te doen nie”. Dis dus geen wonder nie dat die Israeliete die Here in hierdie oordeel nie gevind het nie. Tot vyf maal toe klaag die Here dit uit: “Nogtans het julle julle tot My nie bekeer nie!” Geen wonder dat hulle sy ongenoeë oor hulle eiewillige godsdiens nie opgemerk het nie.
Hierdie dofheid van oog en matheid van hart! As ons onsself nie geken het nie, sou ons uitgeroep het: “Hoe is dit moontlik?”
Moses het tog so duidelik gesê dat die Here besondere bemoeienis met die natuur van Palestina sou maak. Daardie land sou nie soos Egipte wees nie, maar dit sou water drink van die reën van die hemel (Deut. 11: 10,11). As die Here maar ‘n wenk gegee het, dan sou daar gebrek en plaag gewees het (Deut. 11: 13-17). En tog het die oorvrome Israeliete sy God nie gevind nie – nie in die woorde van sy knegte nie, nie in die geweldige spraak van die natuur nie.
Vandaar dat die oordeel in krag klim. Pes en oorlog volg. Die meer ongewone kom om te kyk of die volk nog wil opmerk en hoor. En as dit nie help nie – dan nog ten laaste ‘n voorspel van die eindoordeel: ‘n aardbewing, wat so geweldig was dat dit gelyk het na die omkering van Sodom en Gomorra.
Die Woord van God voorsien ook by ons ‘n teëwerping.
As die skale van sy toorn oor ons moderne beskawing uitgegiet word, dan klink dit: “Ons is vroom; ons kerkgeboue oordek die aarde, en ons dienste op Sondag, met offers en huisgodsdiens inkluis, ontbreek nêrens”.
Maar die profeet ondervang ons bedenking so kras moontlik op hierdie wyse: “Ek gee julle die volle kans: Hou elke dag diens. in die kerk in plaas van net Sondae; hou elke Sondag biddag in plaas van een maal per jaar; vermeerder julle offers en godsdienstige verpligtinge soveel as wat julle wil – ewenwel veroordeel ek julle. JuIJe het godsdiens gehou sender God. Julle hande is vol, maar julle siel is leeg. Julle het die lewende God nie in sy Woord, nie in sy diens en ook nie in sy oordeel gevind nie”.
Ja, ons land is vol bedehuise, en Bybels is daar by die tienduisende. Die dienste word gehou, en goed bygewoonde nagmaalsvieringe bly nie uit nie. Maar ken en vrees ons volk sy God?
U sê miskien : “Ja, ons is nie heidene nie”. Dit mag so wees. Maar waar kom hierdie strawwe dan vandaan? En in dieselfde orde , as by Israel? Met pes onder die vee en oorlog om af te sluit? Is dit nie ‘n bewys dat ons godsdiens verkeerd is nie? Sê Amos nie ook vir ons nie: “Kom na Bet-el, en sondig! Na Gilgal (julle bidplekke), en sondig nog meer; maak die oortredings daar baie: bring julle offer in die môre, julle tiendes alom die derde dag”?
Of het ons God miskien in Sy oordele gevind? Maar dan het ons ons tog tot Hom bekeer! Dan was dit vir Hom nie nodig om met ons van kwaad tot erger te gaan nie.
Gaan die stem nie ook onder ons rond nie wat sê: “Hierdie oordele – hulle is maar grille van moeder Natuur, en daar kan iets, daar kan alles teen gedoen word: honger – dit is maar plaaslik en die handel bring die brood orals: droogte – daarmee het die damme, windpompe en besproeiingswerke raad; sprinkane – hulle roei ‘n mens uit; pes onder mense en diere – daarvoor sorg die mediese wetenskap; oorlog – daarteen sluit ons ‘n ewige vredesverbond – so reken ons met die verskynsels af wat een of ander tyd as oordele van God beskou is”.
Is hierdie voorstelling oordrewe? Maar waarom bekeer die mense hulle dan nie tot God nie? Waarom vind hulle Hom nie in sy oordeel nie?
Let op hoe God daardie praktiese ongeloof hier bestraf: “EK,” sê God; “nie moeder Natuur nie, het broodsgebrek gestuur. EK, nie moeder Natuur nie, het droogte en sprinkaan gestuur. EK, nie moeder Natuur nie, spreek in al hierdie plae. En nog hoor julle nie my stem nie! Deur julle ongelowige lewe ontken julle my bestaan, my woord, my oordeel!”
Luister nou hoe God vir Israel die oordeel aankondig. Hy sê: “Ek het julle selfs ‘n voorproef van die oordeel gestuur in die aardbewing, wat ‘n regstreeese ingryping van My was soos in die dae van die omkering van Sodom. Party van julle was soos ‘n stuk brandhout wat uit die vuur geruk is. En ook daarna het julle julle nie tot My bekeer nie. “Daarom sal Ek só aan julle doen, o Israel (só dui die volksoordeel as die groot onbekende aan). Omdat Ek julle dan dit (die nog onbekende maar vreeslike) sal aandoen, maak jou dus klaar, o Israel, om jou God te ontmoet. Julle wil julle verset; julle wil met My twis; nou ja, maak julle klaar: by die verkeerdes is Ek ‘n Worstelaar!”
Hierdie woord word dus verkeerdelik op die dood toegepas. Ook op bekering van die volk is daar nie meer hoop nie. Maak julle klaar, want die Here kom om te oordeel. En wat ‘n Here!
Hy wat berge formeer, winde skep, die heimlike van die mens se hart ken, die more in nag verander en uit die hoogte met alles oortreffende mag die wêreld regeer – Hy is dit wat in die worstelperk tree, Here God van die leërskare, is sy Naam. Hierdie woorde geld elke volk maar geld ook die hele wêreld.
“Ek het, o mens, eeu in eeu uit my woord gestuur; daarna my plae; eindelik my aarbewings en oorloë, al groter en groter; bekering was daar nie maar verharding; daarom, maak julle nou klaar om die Regter van hemel en aarde te ontmoet”.
Waarom so streng?
Omdat God sy skepsel nie kán laat staan nie. Hy moet Hom dien, of hy verdien die ewige dood. God kan teenoor ons sonde nie neutraal of onverskillig wees nie. Al wat leef, moet Hom eer, of hulle moet sterf. Daar is nie ‘n middeweg nie.
Leser, die Here se stem is op die aarde. Die oor van die geloof hoor Hom duidelik. Die oog van die geloof sien Hom helderder as ooit. Maar het u Hom gevind? Is Hy vir u ‘n versoende God en vader in Christus?
So nie, maak u dan klaar om u Regter te ontmoet – u met u volk, met die hele verharde wêreld. Maak u klaar om die vonnis van sy geskonde Majesteit te verneem.
Vroeër was dit Israel (d.i. die volk van God) wat teen God die stryd volgehou het tot op die laaste. Vandag is dit die Christennasies, met godsdiens en al, wat teen die Christus die worsteling aanbind. Hulle hou vol. Dit gaan van ongeloof tot ongeloof.
Nou ja, o Christenheid, maak julle klaar om julle Christus te ontmoet!
_______________________________________
Bron: Het Kerkblad, no. 379, 15 Augustus 1917. (Versamelde Werke, 1977, deel 4, bl. 278-282). Hoofopskrif aangepas en beklemtonings bygevoeg.
Sien ook Calvyn se preke oor Deut. 27 en 28 oor die onderwerp:
The Covenant Unveiled: Exposition of Deuteronomy 27-28
Verder bronne van Totius op Pro Regno hier beskikbaar.

Leave a comment