SWYG ONS NOG VOOR ‘DIE GROOT DAG VAN DIE HERE’?

DIE DAG VAN DIE HERE

deur Totius

Naby is die groot dag van die HERE, naby en baie haastig. Hoor! die dag van die HERE! Bitterlik skreeu die held daar (Sef. 1:14).

Nadat die profeet die afgodsdienaans en wêrelddienaars gedreig het met die wegraping van alle dinge, openbaar hy ons die naam van die dag waarop dit alles sal gebeur: Die dag van die Here (sê hy) is naby (vs. 7 en 14).

Maar voordat Sefanja iets van dié dag meld, roep hy eers uit: “Swyg voor die aangesig van die HERE” (vs. 7).

Treffend is hier die ooreenkoms met die Openbaring. Daar lees ons dat, toe die sewe gerigsengele klaar gestaan het om op hulle basuine te blaas, in die hemel ‘n stilswye was van omtrent ‘n halfuur. Dus, voordat die hemelse bodes uitgaan om hulle weë op die aarde uit te giet, is daar in die heilige hemel, onder die engele en gesaligdes, ‘n eerbied en siddering vir die oordele van God wat maak dat hulle ophou om te sing-hulle swyg in afwagting van die vreeslike dinge wat gaan gebeur.

Later, wanneer die sewe donderslae hulle stemme laat hoor het, is Johannes gereed om dit op te skrywe, maar dit word hom verbied (10:4). So vreeslik is die besonderhede van die Godsgerig dat selfs die Openbaring ons dit nie in al sy ontsetting bekend maak nie.

Ook in Sefanja se profesie is daar, by die aannadering van die groot dag, van God, sprake van stilswye. “Swyg !” roep die Godsman uit, “want die dag van die Here is naby.”

Sal daar wel gehoor aan gegee word? Gods Woord sê ons:  Nee.

Die wêreld bol voort in sy verdwasing en ken geen stilstand of stilswye nie, Wel lees ons in die koerante dat een maal per jaar vir ‘n paar minute halt gehou word om aan eie grootheid te dink, maar dit is heelwat anders as wat Gods Woord bedoel.

Ag, as die ganse wêreld maar net ‘n paar minute lank wou stil wees met die oog op die dag van die Here wat aanstaande is! Ons sweef, met alle dinge mee, op die stroom van die tyd, daardie dag tegemoet; maar die wêreldse mense het geen sekonde tyd om daaroor na te dink nie.

En, met hoeveel Christene is dit ook die geval?

“Die groot dag van die Here” – wat word daaronder verstaan?

Blykens die profesie van Amos was die uitdrukking goed bekend by die volk Israel. Maar hulle het ‘n verkeerde toepassing daaruit gemaak. Israel het gereken dat hulle kan leef soos hulle wil, en dat die Here in ieder geval sal kom om sy volk van hul vyande te verlos. Daarteen gaan die profeet in: “Wee dié wat na die dag van die Here verlang! Wat sal tag die dag van die Here vir julle wees? Dit sal duisternis wees en geen lig nie” (5: 18).

Met ander woorde die profeet laat verstaan dat die dag van die Here ‘n dag van vergelding is, en dat hy gaan oor alle sondaars, onverskillig of. hulle Israeliete dan wel heidene is. Soms spreek al die profete (vgI. Ob. vs. 15; Joël 1:15; 3:14; Amos 5:18-20; Jes. 13:6; Eseg. 30:3).

Sefanja verloor selfs in sy eerste hoofstuk die groot wêreld uit die oog en beskryf alleenlik hoe die straf neerdaal op Jerusalem, die heilige stad waar die tempel staan. Met ‘n valse vertroue het hulle gesteun op die heilige plek waar God woon. Nou word die vertroue vernietig deurdat die oordeel juis begin by die huis van God.

Laat ons dus dit vashou: “Die dag van die Here” het in die Skrif ‘n sedelike betekenis. Wie sondaar is, gaan daarin ten onder, sonder aansien van persoon of geslag of nasie of kerk. Dis die dag van die regverdige Regter wat harte en niere toets. Alleen die kennis van ons Here Jesus Christus is saligmakend; alleen die opregte vertroue op sy geregtigheid kan ons in dié dag behou. Persoonlik moet elkeen sorg dra dat hy reg staan teenoor God.

Aangaande die dag van die Here word ons verder gesê dat hy naby is. Dis die woord wat ons gedurig by die profete vind (Ob. vs 15; Joël 1:15; 3:14; Jes. 13:6; Eseg. 30:3). Die dag is naby – dis ook die taal van die ganse Nuwe Testament (vgl. Matth. 24; Rom. 13:11; 1 Petr. 1:6, 20; 4:17; 5:20; 1 Joh. 2:18; Openb. 1:3; 3:11,20; 22:7,10,12,20). Dis dus nodig dat ons daarop let, want die Heilige Gees herhaal nie verniet nie. Die belangrikheid van die saak nie, en ons hardhorendheid is die oorsaak daarvan.

Watter kloof gaap daar tussen Gods Woord en die woord van die wêreld. Die een sê: Die dag is naby, die ander: Hy is ver of, liewer, hy kom nooit nie (vgl. 2 Petr. 3:9). En watter van die twee woorde vind die maklikste ingang in ons hart? …

Naby was die dag in Sefanja se dae. Onverhoeds het hy op die mense geval. En dis die tipe of voorbeeld van wat toe oral gebeur het (vgl. Sef. 2) en van wat eenmaal oor die ganse aarde gesien sal word. Vergelyk hier Matth. 24, waar ook die verwoesting van Jerusalem en die voleinding van die wêreld deur Christus in een profesie saamgebind word.

Verder meld Sefanja vir ons dat die dag van die Here haastig is. Dit kan op twee maniere verstaan word:

1) dat die dag naby is en haastig kom, of

2) dat as die dag eers gekom het, hy haastig sal verbygaan.

Ons neig daartoe om die laaste betekenis aan te neem, veral omdat dit ooreenkom:
1) met wat Sefanja ons aangaande dié dag meld in hoofstuk 2:2, waar hy sê dat “die dag soos kaf verbygaan”, en

2) met wat die Openbaring meld aangaande die laaste wêreldperiode wat, as hy eenmaal daar is, soos ‘n storm oor die aarde sal heenvaar. Ons hoop om later by die punt uitvoeriger stil te staan.

Die vermaning wat hierin lê, is terstond duidelik.

Soos hierbo opgemerk, is alleen die kennis van ons Here Jesus Christus saligmakend. Maar die kennis moet verkry word terwyl die teenswoordige tyd nog voortduur en die dinge nog met rustige gang voorwaarts gaan. As eenmaal alles inmekaar tuimel en die mense in hul benoudheid oormekaar val, dan is daar geen tyd meer om te bepeins die verborgenheid van Christus soos in die Heilige Skrif aan ons geopenbaar nie.

Eindelik sê die profeet ons dat die dag vreeslik sal wees. Om ons dit diep te laat voel gebruik hy ‘n treffende uitdrukking, nl.: “Bitterlik skreeu die held daar”. Die mens met heldemoed, wat dikwels so skitterend uitblink in tye van spanning en gevaar en deur ons so hoog vereer word, sal dan nie meer gevind word nie. Lees hierby wat in vers 15 en 16 staan: “Dié dag, is ‘n dag van grimmigheid, ‘n dag van benoudheid en angs, ‘n dag van woestheid en verwoesting, ‘n dag van duisternis en donkerheid, ‘n dag van wolke en wolkenag, ‘n dag van basuingeklank en krygsgeskreeu teen die versterkte stede en teen die hoë hoekvestings“.

Wat ‘n onweerslug sien ons bo ons by die lees van die woorde: swart wolke wat deurmekaar warrel en teen mekaar instorm; wat ‘n chaotiese verwarring sien ons dan om ons heen: mense en dinge wat met woestheid en verwoesting geslaan word; wat ‘n geluid tref dan ons ore: basuingeklank en onweersgeluid.

Geen wonder nie dat die vrome digter van die middeleeue, Celanok, aan vers 15 die eerste woorde van sy beroemde kerklied waarin die oordeelsdag besing word, ontleen het. Hy het die lied genoem: “Dies irae, dies illa” – dis die Latynse vertaling van die woorde: “Die dag is ‘n dag van grimmigheid”.

Dis die dag waarop die Here, volgens vers 7, sy “slagoffer” berei, die slagoffer is die sondaars wat hulle tot die uiterste toe verset en waarvoor Hy sy “gaste geheilig” het, d.i. die instrumente afgesonder het waarmee Hy sy wraak uitvoer.

En hiermee keer ons na ons uitgangspunt terug. Sommige Skrifverklaarders maak in verband met vers 7 melding van die heidense gebruik om na die slag van die offerdier en die aanroeping van die godheid swyend rondom die altaar te staan. Dis dan die oomblik waarop die heidene gemeen het dat die godheid die altaar nader om van die offer ‘n deel te neem.

Of Sefanja daarop gesinspeel het, kan ons nie uitmaak nie. Maar seker is dat die oomblik sal kom waarop die aarde sal moet swyg voor die aangesig van die Here. Nou is daar ‘n oneindige rumoer, want die goddelose is soos ‘n onstuimige see: dit kan nie rus nie (Jes. 57:20).

Maar eenmaal sal dit stil word, as naamlik die offerdier (die goddelose wêreld) geslag is; as die mond gestop is wat groot dinge spreek; as die lewe gaan staan wat groot dinge gedoen het teen God. Maar dit sal dan die swye wees van ‘n lewe wat hom doodgeworstel het teen God; die swye na die opstandstorm; die swye van uiteindelike magteloosheid.

Mag die Here ons genade gee om nou te swyg en nou al sy dag te verwag.

Bron: Het Kerkblad, no. 476, 15 November 1921

___________________________

Verder bronne van Totius op Pro Regno hier beskikbaar.

2 thoughts on “SWYG ONS NOG VOOR ‘DIE GROOT DAG VAN DIE HERE’?

Add yours

  1. Slabbert Ek glo nog altyd dat “Die dag van die HERE” betrekking het op die verskriklike oordeel wat God aan Sy Seun voltrek het weens ons sondes. Daarom was daar ook drie ure duisternis. Daardie DAG het redding gebring vir die gelowiges onder die bondsvolk, en ook ‘n eindoordeel oor die afvallige Jerusalem. Die Dag van die HERE word in ons geskiedenis voltrek deur die behoud en oorwinning van die gelowiges teen die Satan, maar ook in sewe laaste plae wat oor die ongelowige aardbewoners uitgegiet word. Nadat die Satan 1000 jaar gebind was, word hy losgelaat en gaan dan vir die finale aanslag teen Christus se koninkryk uit, maar word ver- pletterens verslaan by Christus se wederkoms Ek hoop nie dat dit ‘n ketterse eskatologie is nie ☺ Groete en seënwense van Marinus

    1. Jy is heeltemal reg Marinus, maar dit is nie die enigste betekenis van die frase ‘dag van die HERE’ nie, dit het ‘n wye verskeidenheid betekenisse, o.a. die sewende dag, die eerste dag, die tyd van oordeel en redding (die betekenis waarop jy wys), die dag van die wederkoms ens. Die bepaalde konteks sal aandui watter betekenis dit is, en natuurlik kan dit een of meer raakpunte hê.

      So is die dag van die Here = oordeel en redding in Christus daar in die eerste eeu met sy kruis en opstanding, maar tegelykertyd wys dit ‘ook’ na die dag van die Here as Hy weer kom in sy finale oordeel met die wederkoms, ens.

      Sien: https://www.thegospelcoalition.org/essay/the-day-of-the-lord/

      Jou eskatologie klink goed, regsinnig en nie ‘ketters’ nie. 🙂

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑