1 PETRUS PREKE: (7) Wedergebore om God en mekaar lief te hê (1 Petrus 1:22-25)

1 PETRUS PREKE: (7) Wedergebore om God en mekaar lief te hê (1 Petrus 1:22-25)

Lees:   1 Petrus 1:13-25

Teks:”22 As julle in gehoorsaamheid aan die waarheid julle siele deur die Gees tot ongeveinsde broederliefde gereinig het, moet julle mekaar vurig liefhê uit ʼn rein hart; 23 want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly. 24 Want alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos ʼn blom van die gras. Die gras verdor en sy blom val af, 25 maar die woord van die Here bly tot in ewigheid. En dit is die woord wat aan julle verkondig is.” (1 Peter 1:21-25)

Sing:Ps. 37:1-4; Ps. 38:15-17; Ps. 12:1,6,7; Ps. 37:23-25.

Opname (GK Carletonville, 2022-12-04):

Aflaai: 1 Petrus 1:21-25

[Nota: die teks hier onder en die preek self stem nie in alle inhoud ooreen nie]

Geliefde gemeente in Christus,

Waarheid is kosbaar, baie kosbaar vir die ware gelowige, vir die kerk van die Here, deur die eeue, ook vir ons, want waarheid was en is kosbaar vir die Koning van die Kerk, ons Here Jesus Christus. Hyself sê in Joh. 14 en 17, “Ek is die weg, die waarheid en die lewe, niemand kom na die Vader, behalwe deur My nie” (14:6), en, “Heilig hul in die waarheid, u woord is die waarheid” (17:17).

In Petrus se pelgrimsbrief, is hy besig om deur die Gees, die Here se kinders van sy tyd, deur alle eeue, en ja, ook ons vandag te leer wat om te glo en wat om te doen op ons pelgrimspad.

Vanoggend leer ons dat die waarheid ons leer en lei na ware liefde tot God én ons naaste, dat ons ons mede-gelowiges vurig sal liefhê en dien.

In v. 22, waar ons nou is, hoor ons die woorde,

As julle in gehoorsaamheid aan die waarheid julle siele deur die Gees tot ongeveinsde broederliefde gereinig het, moet julle mekaar vurig liefhê uit ʼn rein hart”.

Die ‘as’ van v. 22, kan eintlik nog duideliker vertaal word, as ‘aangesien’, want dit is wat Petrus wil oorbring, dit is nie ʼn ‘moontlikheid’ nie, maar ʼn sekerheid: julle is nou wedergebore, verander in en deur Christus, daarom kan en moet julle nou dit doen: ongeveinsde broederliefde, gemeenskap van die heiliges, omgee vir mekaar, vurig liefhê uit ʼn rein hart!

Sien u hoe treffend leer Petrus ons ook hierdie beide tafels van die wet, liefde tot God, die eerste tafel, het ons reedgehoor en geleer daar in v. 17:

En as julle Hom as Vader aanroep wat sonder aanneming van die persoon oordeel volgens elkeen se werk, wandel dan in vrees gedurende die tyd van julle vreemdelingskap;” (1 Pet. 1:17)

As God jou Vader is, jy Hom liefhet, sal jy in ‘vrees’ wandel, dus deur sy Gees volgens sy Woord, die eerste tafel najaag.

En nou, hier in v. 22, die tweede tafel, “as … aangesien” julle nou gehoorsaam geword het aan God, aan die waarheid, aan die Woord, aan die wet, in die krag van die Gees, kan en moet julle mekaar liefhê… vurig!

Weereens, die ware geloof, die pelgrimsgeloof is nie ‘Lone Ranger’ geloof nie, dit is ook nie ‘familisme’ nie …. dit is ook nie ‘volkisme’ nie, menende, dat daardie sake ons ‘broederliefde’ en kerkwees vervang, sien Matt. 12:46-50.

Baie belangrik om nou raak te sien geliefdes, hoekom baie bloot kerk-kerk speel, meen dat hul wel God se eer soek, maar nie die heil van die medegelowige, of die kerk, die gemeenskap van die heiliges ‘vurig’ opsoek nie.

Die rede daarvoor is in vers 22… “As julle in gehoorsaamheid aan die waarheid julle siele deur die Gees tot ongeveinsde broederliefde gereinig het, moet julle mekaar vurig liefhê uit ʼn rein hart;” (1 Pet. 1:22).

Baie is nog nie waarlik van harte gehoorsaam in woord en daad nie, dink nie aan die nagmaalsformulier wat ook die tweede tafel eis nie, maar wesentlik is die rede eintlik, dat daar nog nie ware liefde vir God is nie, en daarom ontbreek die ware liefde vir mede-gebroke sondaars.

Baie is nog nie ‘deur die Gees’ werklik wedergebore nie, want kyk waarom kan en moet ons nou mekaar dien en liefhê:

Vers 23:  want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly.

Dit is nie uit die mens wat net homself liefhet, sy eie afgode wil dien, niks met die naaste te doen wil hê nie, maar deur die onverganklike, deur die Gees, wat ons haat in liefde vir God en ons naaste verander het, ons is dan werklik wederbaar, nuut gebore.

Die Heidelbergse Kategismus, Sondag 2 en 3 sê dit wat ons hier hoor so treffend, wat ek as volg stel uit v/a 4 en 5:

Vraag: Kan ons van nature God en ons naaste liefhê?

Antw: Nee, ons is geneig om God en ons naaste te haat.

En,

Vraag 8:  Maar is ons so verdorwe dat ons heeltemal onbekwaam is tot enige goed en geneig tot alle kwaad?  Antw.  Ja (a), tensy ons deur die Gees van God wedergebore word (b). 

Daar is dit geliefdes, deur die wedergeboorte, deur die bloed van Christus, v. 18-21, deur die krag van die Gees kan, moet en wil ek nou God en my naaste liefhê van harte, en dit vurig najaag.

Hoor mooi geliefdes, moenie aan liefde volgens die wêreld, humanisme, valse profete en valse kerke dink nie, dink aan ware ongeveinsde liefde volgens die God wat heilig is, v. 15,16 wat volgens sy waarheid, sy evangelie en sy goeie wet is, v. 24, 25.

Maar, as ek nie my broer of suster wat saam my op die pelgrimspad is, dalk al 30-50 jaar in die gemeente is ken of omgee nie, moet ek besorg wees, baie besorg wees en my hart ondersoek (sien Ps. 19:6,7 – beryming).

Ja, Petrus gaan later daarby ook uitkom in sy brief, en die hele Skrif is vol daarvan dat deel van my liefde is ook vir my broer en suster. Dink aan Jakobus 2 se liefde tot die naaste, diens van barmhartigheid, om om te gee, om te sorg, maar bo alles, kan elke gelowige, vir mekaar en kinders en gemeente, gee of bedien wat ons hier lees en hoor, verse 24, 25

Want alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos ʼn blom van die gras. Die gras verdor en sy blom val af, maar die woord van die Here bly tot in ewigheid. En dit is die woord wat aan julle verkondig is” (1 Pe 1:22–25)

Ja, om die basiese evangelie met mekaar te deel, om met mekaar die waarheid te deel, die essensie van die evangelie, v. 17-21, maar dan ook die geheel van die Woord wat verkondig word en geleer word:

v 1-9, God drie-enig se reddingsplan.

10-12, Die Ou Testament wat heenwys, die wet en profete.

13-16, God se eienskappe, sentraal is sy heiligheid.

18-21, die basiese evangelie.

Maar dan ook, die liefde van God wat oorgaan tot die liefde vir my mede-gelowige, dat die kerk kosbaar is, my lidmaatskap iewers in plek en tyd kosbaar is (NGB artikels 27-35).

Kyk die klem wat Petrus plaas met die woorde, ‘ongeveinsde’ liefde, dat dit opreg en nie met bybedoelings is nie. Ons moet mekaar liefhê sodat Joh. 17:3 in elkeen van ons lewens waar sal wees, ek wil help waar ek kan hierdie lewe, maar bo alles vir die ewigheid, daarom die Woord wat tot ewigheid is.

O geliefdes, die kerk is nie ‘n vereniging of klub nie, die gemeenskap van die heiliges, die broederliefde is baie kosbaar.

‘Vurig liefhê’, beteken dit moet aanhou brand, dit moet voortgaan, al beteken dit ‘tough love’ baiemaal, tug en vermaning. Ons is lief daarom vermaan ons, ons diens mekaar met die waarheid in liefde (Ef. 4:15-16).

En daarom, so belangrikheid, dit is altyd, ‘n liefde tot God en die naaste, in waarheid (Joh. 17:17)!

As Petrus, met verwysing na Jes. 40:6-8, die mens beskryf dat ons gras is wat verdor en doodgaan,  dan wil hy juis wys dat die mens kan nie homself red of waarheid skep nie.

Ons produseer deur die sonde die dood, vir ‘n tyd lank lyk ons mooi en het allerlei planne vir die lewe, maar sonder God sal ons dood gaan in ons sonde en sterwe, verdor.

So is dit met die mens wat nie wedergebore word nie, maar net gebore is.

So is dit met die mens wat nie God en sy kerk, sy kinders liefhet nie.

Maar, Petrus stel dit duidelik: om weer lief te hê in waarheid,  is gawe en opgawe.

Die woord ‘evangelie’, wat my lewend maak om God te ken, lief te hê en te vrees, is dieselfde woord wat my verander en lewend maak om ʼn lewende lidmaat te wees wat lewe in liefde vir my naaste, ander.

Die evangelie red nie net vir die ewigheid nie, maar verander my en laat my nou al lewe vir God en my naaste, sien Titus. 2:11-14.

En dan sê Petrus laastens, hierdie waarheid, hierdie woord van God wat lewend maak, is aan julle verkondig?

Wie?

Hulle wat Petrus gehoor het, so ook elkeen deur die eeue wat die Woord hoor, maar ook ek en u vandag!

So hoor en sien ons ook sy Woord, laasweek aan sy tafel, elke Bybellees, huisgodsdiens, bybelstudie maar ook in die besondere  eredienste wat die Here in die besonder beveel het (HK v/a 98).

Ons het elke keer ‘n afspraak met Hom, om sy waarheid te hoor, daarvan te leer, en dit dankbaar te gehoorsaam.

Ons mag nie God se almag, wat red wie Hy wil, waar Hy wil, wanneer Hy wil, misbruik om die spesifieke bediening van die genademiddele, die sleutels van die koninkryk (HK So. 31), kerkwees en dan in die besonder, die weeklikse prediking en eredienste te vervang of as middelmatige sake of onbelangrik af te maak nie (sien die ernstige waarskuwinge in Hebr. 10:19-27, veral vers 25)!

Vers 25 wys daarop, “maar die woord van die Here bly tot in ewigheid. En dit is die woord wat aan julle verkondig is” (1 Pe 1:25)

Dit is die woord en eredienste en prediking wat jy lewenslank hoor, gered deur die evangelie om God en naaste lief te hê, deur die krag van die Gees volgens sy waarheid.

Daarom, maak groot erns, om ja, orals die waarheid te verkondig, maar dan ook in die gemeente, om in die eredienste hierdie waarheid te ontvang (sien NGB art. 28 se oproepe volgens die Skrif).

TROOS, troos my volk, sê julle God.

2   Spreek na die hart van Jerusalem, en roep haar toe dat haar stryd verby is, dat haar skuld betaal is, dat sy uit die hand van die Here dubbel ontvang het vir al haar sondes.

3   ’n Stem van een wat roep: Berei in die woestyn die weg van die Here; maak gelyk in die wildernis ʼn grootpad vir onse God!

4   Elke dal moet opgevul en elke berg en heuwel klein gemaak word; en die bult moet ʼn gelykte en die rotsagtige plekke ʼn laagte word.

5   En die heerlikheid van die Here sal geopenbaar word, en alle vlees tesame sal dit sien: want die mond van die Here het dit gespreek.

6   ’n Stem sê: Roep! En hy vra: Wat moet ek roep? Alle vlees is gras, en al sy aanvalligheid soos ʼn blom van die veld.

7   Die gras verdor, die blom verwelk as die asem van die Here daarin blaas. Voorwaar, die volk is gras!

8   Die gras verdor, die blom verwelk; maar die woord van onse God hou stand in ewigheid. (Jes. 40:2-8)

Amen. 

__________________________________________________

Ander Petrus preke hier.

Ander S. Le Cornu preke en lesings hier beskikbaar.

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑