TOTIUS OOR DIE HOOFSAAK VAN GEMEENSKAPLIKE BEKERS EN TAFELS

TOTIUS OOR DIE HOOFSAAK VAN GEMEENSKAPLIKE BEKERS EN TAFELS

Wat nou die gebruik van kelkies betref – hier is ‘n nuwe ‘kwessie” wat in ons tyd sterk op die voorgrond gebring is. Laat ons eers aanhaal wat enkele skrywers omtrent die brandende kwessie sê.

Kruyf herinner daaraan dat Franse Protestante in die 17de eeu ‘glase’, dit wil hier sê: kelkies, gebruik het. Waarom, weet hy nie. Hy gaan aldus voort:

“In ons tyd waarin die higiëne hom op elke terrein soms taamlik tiranniek laat geld, het hulle teen daardie saam drink uit een beker nogal bedenkinge. By ons het ons, al het die saak ook op die 11de sitting van die (Hervormde) Sinode van 1900 ter tafel gekom, nog orals by ‘n gewoonte gebly wat ‘n simboliese betekenis het wat baie hoog geag word, en hoewel ons hulle wat op hierdie so tere gebied vir hulle allerhande skrikbeelde skep, wel sou wil toeroep: Pas op dat julle nie te versigtig word nie! meen ons nietemin dat ons die liturg moet aanraai om na elke rondgang die beker se borand behoorlik te laat skoonmaak.”

Heyns is skerper in sy oordeel, kom ewenwel saaklik met Kruyf ooreen. Hy skrywe:

“Daar is nog, en dit in naam van die higiëne (gesondheidsleer), beswaar gemaak teen die drink uit ‘n gemeenskaplike beker en om die gevaar van oorplanting van kieme te voorkom, hier en daar die gebruik van afsonderlike bekertjies ingevoer, vir elke kommunikant apart … Omdat egter die drink uit ‘n gemeenskaplike beker betekenis het as uitdrukking van een liggaam wees, moet ons ons teen so ‘n afwyking van die aloue gewoonte versit”.

Alhoewel ons die reinheidsmotief, wat by die voorstanders van kelkies so sterk spreek, moet waardeer, kom die saak vir ons kortliks hierop neer:

(1) Die nagmaal is ingestel met ‘n gemeenskaplike beker waaruit die „paasfamilie” gedrink het.

(2) Die simboliese betekenis hiervan moet soveel moontlik gehandhaaf bly: as een geestelike familie, deur Christus saamgebring, drink ons uit ‘n gemeenskaplike beker.

(3) Of daar twee of vier bekers is, maak geen verskil nie; dit bly ‘n gemeenskaplike beker.

Veral punt (2) is van belang. Alreeds tevore is daarop gewys dat ons die gemeenskaplike tafel wil behou. Daar is genoeg wat die gelowiges naas en wég van mekaar laat lewe. Aan die nagmaal moet hulle ten minste soveel moontlik hulle weer een gevoel. Die splitsingsproses moet nie daar altyd verder voortgaan nie.

Die vrees vir gevaarlike kieme kan ons in alle lewensverhoudinge indra, maar watter ongerustheidsgevoel word dan oor ons ganse lewe vaardig! Met Kruyf sê ons: Moenie alte versigtig wees nie. Die Here sal ook daar ‘n Beskermer van die gelowiges wees. Natuurlik moet die beker na elke rondgang goed gereinig word. Sover ons weet, is dit dan ook algemeen die gebruik.

Die Kerkblad, no. 778, 16 Januarie, 1935.

____________________________________________

…. By die Paasmaaltyd is die nagmaal ingestel. In Mark. 14:18 staan: ‘Terwyl hulle aan tafel was en eet’, en in Luk. 22:14 ‘En toe die uur kom, het Hy aan tafel gegaan, en die twaalf apostels saam met Hom.’ Ewe so lees ons in vers 21: ‘Die hand van hom wat My verraai, is by My aan tafel’.

Dat die Oosterling feitlik aan tafel aangelê het, terwyl ons aansit— dit maak hier geen verskil nie. ‘Die tafel’ is die punt waar dit nou op aankom. In die Ooste was die tafel só, in die Weste weer anders ingerig.

Maar die kwessie is hoe en waar het Jesus die nagmaalstekens uitgedeel? En daarop is daar met die Skrif in die hand net een antwoord moontlik: terwyl Hy met sy dissipels aan die Paastafel aangesit het. Ook Paulus spreek met nadruk van ‘die tafel van die Here” (1 Kor. 10:21).

Eienaardigheid van die nagmaal is dus — en geen redenering kan die saak verander nie— dat die nagmaal aan ‘n tafel gehou is.

… Hoofsaak by die nagmaal is dat afgebeeld moet word hoe ons geestelike lewe deur die hemelse brood Christus gevoed word. Dit word wel ten dele gesien by die Zwingliaanse metode maar nie ten volle nie.

‘n Mens kan hom wel voed deur êrens anders as aan tafel ‘n stukkie brood te eet. Maar dit is noodhulp. In die reël gaan ons aan ‘n tafel sit om daar gevoed te word; en dit is die reël wat hier moet geld en nie die uitsondering nie.

So skoon sê ons Belydenis (NGB artikel 35 – slc): ‘Hierdie maaltyd is ‘n geestelike tafel* waaraan Christus Homself aan ons meedeel met al sy goedere’ (sien die belangrike nota hier onder wat die vertaling van hierdie sin aanspreek – slc).

Ons formulier spreek ook van ‘n tafel: ‘Almal wat so gesind is, wil God gewis …vir waardige deelgenote van die tafel** van sy Seun Jesus Christus hou.’

‘n Weinig verder word die sondaars vermaan ‘om hulle van die tafel van die Here te onthou’.***

Eindelik staan daar: ‘Geliefdes in die Here, aangesien die Here nou aan sy tafel ons siele gespysig het’.****

Treffend sê prof. Aalders dan ook: ‘Dit moet inderdaad tog wel ‘n enigsins sonderlinge indruk maak as hierdie nagmaalsformulier gebruik word by ‘n Zwingliaanse wyse van nagmaalsviering, waarby geen tafel aangerig word nie, en die deelnemers nie kan sê dat hulle aan die tafel van die Here gespysig is nie”.

Hoofsaak van alles wat gesê is, is dat ons deur praktiese besware nie uit die regte koers moet dwaal nie maar dat ons stip die ideaal van ‘n tafel by die  Nagmaalsviering in die oog hou.

Die Kerkblad no. 739, 3 Mei, 1933.

___________________________________________

* Nota: Die huidige vertaling van hierdie sin by NGB art. 35, is as volg: “Hierdie feesmaal is ‘n geestelike maaltyd waar Christus Homself met al sy weldade aan ons meedeel en waar Hy ons Homself en die verdienste van sy lyding en sterwe laat geniet.”

Die ouer weergawe het “geestelike tafel“, en die huidige weergawe het ‘geestelike maaltyd’.

Wat is die oorspronlike woorde in die Frans en Latyn?**

Frans: Ce banquet est une table spirituelle = geestelike tafel

Latyn: Convivium hoc, mensa ende est spiritualis, in qua Christus seipsum nobis cum omnibus bonis suis communicat.

Nederlands: Dese maeltijt is een geestelicke tafel, aen de welcke Christus hemselven ons mededeelt met alle sijne goederen

_________________________________

*J.N. Bakhuizen van den Brink (ed.), De Nederlandse belijdenisgeschriften. Ton Bolland, Amsterdam 1976 (tweede druk), zie voor verantwoording: http://www.dbnl.org/tekst/bakh007nede01_01/colofon.php

** Nuwer vertaling: “Almal wat so gesind is, wil God in genade aanneem en as waardige tafelgenote van sy Seun, Jesus Christus, beskou.”

*** Nuwer vertaling: “Daarom verkondig ons aan alle afgodsdienaars, towenaars en waarsêers en die wat aan hulle glo, godslasteraars en skeurmakers in kerk en staat, meinediges en ongehoorsames, moordenaars en twissoekers, egbrekers, hoereerders, dronkaards, diewe, rowers, dobbelaars en gierigaards om nie na die nagmaal van die Here te kom nie.”

**** Nuwer vertaling: “Geliefdes, omdat die Here ons met die hemelse brood verkwik het, laat ons almal saam in dankbaarheid sy Naam loof en prys met die woorde…”

Die volgende frase is in kursief in die nuwer vertalings: “Hierna volg ‘n toepaslike psalm. Die dienaar gaan na die tafel en sê…”

Vraag: waarom het die nuwer vertalings besluit om die woord ‘tafel’ te vervang en/of weg te laat? Die vraag is nie hoe wyd en syd die ‘vertalings- en/of verstaansmoontlikhede’ is van die onderskeie oorspronklike woorde in die oorspronklike tale van beide die Skrifgegewens en belydenis en formuliertekste nie, maar hoekom daar sekere keuses gemaak word?

Prof. SJ van der Walt oor: Hoe moet die nagmaal bedien word?

“Die gebreekte brood en vergote wyn wys simbolies op die verbreking van die liggaam van Christus en die vergieting van Sy bloed aan die kruis, en daardeur word die dood van Christus verkondig (1 Kor. 11:26). Die feit dat ons die brood eet en die wyn drink, wys op ons persoonlike deelname aan die offer van Christus en toeëiening van God se genade in Christus. Die brood en wyn stel ook voor ons voeding en verkwikking met die Brood van die lewe, d.i. Jesus Christus. Die brood is in die Skrif die staf van die lewe om die mens te versterk, en die wyn dien tot lafenis en verkwikking (Ps. 104:15). Ook lê daar in die brood en wyn wat ons almal gemeenskaplik gebruik, die heerlike eenheidsgedagte, naamlik dat ons almal saam gemeenskap het aan die liggaam en bloed van Christus. Daarom sê Paulus dat die beker van danksegging die gemeenskap is met die bloed van Christus en dat die brood wat ons breek, die gemeenskap is met die liggaam van Christus (1 Kor. 10:16); en “omdat dit een brood is, is ons almal een liggaam, want ons het almal deel aan die een brood” (v. 17). Die Nagmaalsformulier wys ook daarop dat die brood en wyn uit baie korrels gemaal en gepers is, en net so is ons ook almal saam een liggaam, omdat ons deur die waaragtige geloof in Christus ingelyf is.

Die nagmaal moet steeds as ‘n maaltyd gevier word, net soos Christus dit by die Paasmaal ingestel het en net soos die eerste Christelike kerk dit altyd aan die einde van die liefdemaaltye (agapae) gevier het, waar almal in die aand saamgekom en ‘n gemeenskapsmaaltyd gehou het en dit dan met die nagmaal afgesluit het. Daarom word die nagmaal ook aangedui as die “tafel van die Here” en “die beker van die Here” (1 Kor. 10:21; 11:27) of “die beker van danksegging” (1 Kor. 10:16) of “die breking van die brood” (Hand. 2:42). Daarom het by ons die nagmaalstafel die plek ingeneem van die offeraltaar. ‘n Maaltyd veronderstel dat die huisgesin hulle skaar om die huistafel, en daarom is dit ook nodig dat die nagmaal bedien sal word in die midde van die gemeente, in die teenwoordigheid van die ganse volk (gemeente) van God (Ps. 116:13, 14, 18): die sakramente mag nie van die Woordbediening losgemaak word en indiwidualisties aan private persone uitgedeel word waar die gemeente nie saamkom nie (vgl. 1 Kor. 10:17; 11:18; 20:21).

… Christus sê in Matt. 26:28: “Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes” (vgl. ook Luk. 22:20 en 1 Kor. 11:25). In hierdie verbond, wat met die heilige bloed van die Lam beseël is, ontvang ons vergewing van sondes en die heiligmaking deur die Gees (Jer. 31:31-33). As Christus beveel: “Drink almal daaruit!” dan dui Hy daardeur aan dat die almal, die gelowiges, Sy bondsvolk is. Christus is die ongesiene Gasheer of die Vader wat Sy kinders aan Sy tafel spysig. Die gelowiges is ‘n afgesonderde volk van God, en daarom belet Paulus hulle om ook aan te sit aan die tafels van die duiwel (1 Kor. 10:21; Hand. 15:29). Daarom verklaar die Nederlandse Geloofsbelydenis, art. 35: “Ons glo en bely dat ons Saligmaker, Jesus Christus, die sakrament van die heilige nagmaal verorden en [195] ingestel het om te voed en te onderhou diegene wat Hy alreeds wederbaar het en in Sy huisgesin, naamlik Sy kerk, ingelyf het.”

Bron: Gereformeerde Geloofsleer

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑