Die goeie vertalingskeuse by Lukas 17:21
“En hulle sal nie sê: Kyk hier! of: Kyk daar! nie; want die koninkryk van God is binne-in julle.” (OAV, 1933/53 vertaling)
“Mense sal nie sê, ‘Kyk, hier is dit!’ of ‘Daar is dit!’ nie, want kyk, die koninkryk van God is in julle midde.(h)” (DV, 2020 vertaling. Voetnota (h): ‘Kan ook vertaal word as ‘binne-in julle‘.)
Waarom is die DV in hierdie geval ‘n beter vertaling of vertalingskeuse?
Prof. L. Floor verduidelik:
“In sy skeppingswerk begin God met die aarde en dan loop die lyn via die lig, uitspansel, grassprietjies, plante, saad en bome, visse en voëls, son, maan en sterre, seediere, kruipende en wilde diere uit op die mens. Die mens is die eindpunt of die hoogtepunt van die skepping. Hy kom laaste maar hy is die eerste.
By die herskepping sien ons die omgekeerde. Daar begin God met die mens. Die eerste mens is Jesus Christus. Wanneer die fariseërs vir Jesus vra: wanneer sal die koninkryk van God kom? antwoord Jesus: die koninkryk van God is binne-in julle (ou vert.) of hier by julle (Blye Boodskap). Die entos humoon uit Luk. 17:21 kan sowel inter vos as intra vos beteken.
Ons moet egter aan die tweede vertaling die voorkeur gee, want die fariseërs is ongelowiges en daarom is dit ondenkbaar dat Jesus sou gesê het dat die koninkryk van God binne-in hulle is. Hier word bedoel dat die ryk van God in die persoon van die Here Jesus Christus op aarde aanwesig is (vgl. Tj. v.d. Walt, 1962 52-56). Vervolgens kan ons ‘n lyn trek van Christus na die gelowige. Iemand wat in Christus is, is ‘n nuwe skepping (2 Kor. 5:17).
Die gelowige wat deur wedergeboorte ingegaan het in die koninkryk van God, behoort reeds tot die nuwe skepping, die nuwe aeon wat met die koms van Christus begin het. Die nuwe lewe word as ‘n nuwe skepping beskryf en ook aangedui as ‘n vernuwing tot kennis na die beeld van Christus (Kol. 3:10). In Titus 3:5 omskrywe Paulus dit as ‘n wedergeboorte en ‘n vernuwing deur die Heilige Gees.” (Die Evangelie van die Koninkryk, Pretoria, Transvaal: NGK Boekhandel, 1981, bl. 17, beklemtonings hier en elders bygevoeg.)
Opmerking: die vertaling van ‘binne-in julle’ is volgens die oorspronklike taal nie verkeerd nie, maar die vertalingskeuse van ‘in julle midde’ of ‘hier by julle’ is beide in lyn met die oorspronklike taal, en, beter en duideliker in die konteks van die teks en die hele Skrif: die Fariseërs (v. 20, “deur die Fariseërs gevra… het Hy hulle geantwoord en gesê..”), wat ongelowig Christus se teenwoordigheid as die ‘Seun van die mens’ (Luk. 17:22, 24, 30) ontken, dat Hy volgens hulle nie die Een is wat die koninkryk vervul en bring nie, Hy wat duidelik geprofeteer is in die OT, Dan. 7:13 (‘soos die Seun van ‘n mens‘).
Prof. Floor skryf op ‘n ander plek:
“Ons het reeds gesien dat die Sinoptiese verkondiging om twee brandpunte sentreer, naamlik die koninkryk van God en die Seun van die mens. In die Seun van die mens het die koninkryk van God gekom. Die koninkryk van God het dus gekom in ‘n Persoon. Dit sal vir ons duidelik word wanneer ons kyk na die begrip “koninkryk”. Direk tref die veelsydige betekenis-skakering van hierdie uitdrukking. Dit is nie so eenvoudig om die veelsydige inhoud van die woord koninkryk onder een noemer te bring nie. Dit kom al aan die lig wanneer ons aandag gee aan die gevarieerde wyse waarop die Sinoptici oor die koninkryk van die hemele of die koninkryk van God spreek. …
Nou is die koninkryk van God iets wat kom (Matt. 6:10; Mark. 9:11; Luk. 11:2). Hierdie ryk kom tot mense (Matt. 12:28; Luk. 11:20). Maar die koninkryk van God is ook iets waartoe mense kom en kan ingaan (Matt. 5:20; Mark. 9:47; Luk. 18:17). Maar tegelyk is die koninkryk ook ‘n plek of ‘n sfeer (Matt. 5:19; Luk. 13:28). Die koninkryk kom naby mense (Matt. 3:2) maar mense kom ook naby die koninkryk (Mark. 12:34). Hierdie ryk word aan mense gegee (Luk. 12:32), maar kan ook van mense weggeneem word (Matt. 21:43).” (ibid., bl. 20)
Konklusie: In Luk. 17:21 gaan dit nie oor Wie of wat ‘binne-in’ mense se ‘harte’ is in terme van die koninkryk is nie. Ons weet dit is alleen die gelowiges, die uitverkorenes, wie se harte deur wedergeboorte verander word om in die koninkryk van God ingaan (Joh. 3:3-5; sien ook DL 3/4.12,13 ‘… Die gevolg is dat almal in wie se harte God op hierdie wonderbaarlike wyse werk…’):
“Wanneer ons dit raaksien, kan ons verstaan dat Christus in sy koninkryksprediking daarop wys dat ‘n mens nie sommer die ryk van God kan binnegaan nie en dat ons nie vanselfsprekend burgers en burgeresse in die koninkryk van God is nie. ‘n Nuwe geboorte, wedergeboorte is noodsaaklik. As iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie (Joh. 3:3). ‘n Nuwe geboorte uit water en Gees is die voorvereiste om die koninkryk van God te kan ingaan (Joh. 3:5).” (ibid., bl. 10)
Dit gaan egter in Luk. 17:21 oor die wese of Persoon van die Koninkryk, naamlik die Verlosserkoning van die Koninkryk, Jesus Christus wat gekom het, die Skrifte is vervul, die Koninkryk het ‘naby’ gekom (Matt. 3:2; 4:17), dit is nou teenwoordig deur die koms van die ‘Seun van die Mens’, en daarom Fariseërs (sien die gelykenisse wat volg, Luk. 18:1-14) en alle mense (Hand. 17:30,31), bekeer julle, en glo in die Evangelie! (Mark. 1:14,15).
Nota: Bestudeer gerus prof. L. Floor se boek oor die wese en aard van die Koninkryk, saam met die boek ‘Die Koninkryk van God‘ (red: S. Du Toit, WJ Snyman, e.a.), goeie bronne om te raadpleeg oor die onderwerp.
___________________________
Meer artikels en bronne oor die Koninkryk van God
Leave a comment