BOEKBEKENDSTELLING: Die Koninkryk van God

BOEKBEKENDSTELLING

Die Koninkryk van God

HK Sondag 48 123 Vraag: Wat is die tweede bede?
Antwoord: Laat u koninkryk kom. Dit is: Regeer ons so deur u Woord en Gees dat ons ons hoe langer hoe meer aan U onderwerp (a). Bewaar u kerk en laat dit groei (b). Vernietig die werke van die duiwel, elke mag wat teen U opstaan, en alle kwaadwillige planne wat teen u heilige Woord bedink word (c), totdat die volkomenheid van u ryk kom (d), waarin U alles in almal sal wees (e).  (a) Ps 143:10; 119:5; Matt 6:33. (b) Ps 51:20; 112:6. (c) 1 Joh 3:8; Rom 16:20. (d) Op 22:20; Rom 8:22, 23. (e) 1 Kor 15:28.

Ons siening vanuit die Skrif oor die wese, aard en doel van die Koninkryk van God gaan ons totale lewensuitkyk bepaal (Matt. 6:33).  Waar ons ons enigste Troos in lewe en sterwe, na liggaam en siel sal soek, asook wat ons roeping en taak is hier op aarde, tot eer van God en die heil van ons naaste (1 Kor. 10:31).

Wat is die wese en aard van die Koninkryk van God die Vader, in sy Seun, deur die krag van die Gees, want daaruit vloei ons roeping en taak hier op aarde, op elke lewensterrein?

En as ons dan ‘n roeping en taak het in sy Koninkryk, volgens watter standaard/norm gaan ons op elke terrein van die lewe sy koninkryk bevorder tot sy eer, en heil van ons naaste?

Daarom, met groot dank aan Willem Swanepoel, is die volgende boek aangaande die koninkryk van God nou ook aanlyn beskikbaar, laai hier af (dubbel kliek op die titel, of kliek regs op u muis en laai af):

Die Koninkryk van God

Hopelik sal daar ook ‘n hardekopie herdruk plaasvind.  Mag ons as gelowiges afsonderlik en saam hierdie boek opnuut bestudeer, soos altyd in die lig van die gesindheid van Hand. 17:11, sodat ons ook Matt. 6:33 en 1 Kor. 10:31 in ons ganse lewe kan najaag tot sy eer.  Die boek is ingedeel in hierdie drie groot dele:

– Die Koninkryk in die Skrif

– Die Koninkryk en die Kerk

– Die Koninkryk en die wêreld

Daar is verskeie standaardwerke oor die tema van die ‘Koninkryk van God’, waarvan Herman Ridderbos se werk, De komst van het Koninkrijk, seker die bekendste is (Engels: The Coming of the Kingdom).  In Afrikaans is hierdie seker een van die belangrikste bydraes tot die onderwerp, geskryf deur GKSA teoloë en ander denkers.

Hier is meer inligting oor die boek, geneem vanuit die boek:

Titel: Die Koninkryk van God

Redaksie: prof. S. Du Toit, dr. T. van der Walt, prof. WJ Snyman, prof. dr.. SCW Duvenhage (eindredaksie: prof. HJJ Bingle, prof. H. Du Plessis)

Uitgegee in opdrag van die sinodale deputaatskap belas met die Eeufeesviering van die Teologiese Skool, 1969

Voorwoord vooraf:

“Die Bybel is ‘die boek van die Ryk van God’, nie ʼn boek vir hierdie of daardie eeu of slegs vir die enkeling nie, maar vir alle volke, vir die hele mens­heid, nie vir een tyd nie maar vir alle tye. Dit is ʼn Ryksboek. En soos die Ryk van God nie naas en bo nie maar in en deur die wêreldgeskiedenis homself ontwikkel, so moet ook die Skrif nie afgetrokke, op sigself beskou en van alles geïsoleer word nie, maar dit moet juis met ons hele lewe, met die lewe van die mensheid in verbinding gebring en tot verklaring daarvan gebesig word. Kort­om, die Skrif is ʼn boek uit die verlede, maar ook vir die hede en toekoms… Dit kom tot gesin en maatskappy, tot kerk en skool. Dit is in een woord: die sprake van God tot die mensheid.”

So het Herman Bavinck gespreek in Kennis en leven en in die voorwoord vir die Skrifverklaring van Matthew Henry.

Beter kan die motief vir die samestelling van hierdie werk in die eeufeesjaar van die Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika en die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys, nie weergegee word nie.

Met ootmoed, lof en dank vir wat hierdie inrigtinge deur die genade van die HERE oor ʼn eeu vir die saak van die koninkryk mog beteken, word hier ʼn swakke poging aangewend om in die lig van die “Ryksboek” verlede, hede en toekoms in perspektief te sien.

Vanselfsprekend moes in die eerste plek die oor te luister gelê word by wat die Heilige Skrif verkondig met betrekking tot die koninkryk — vanaf die skepping tot die voleinding, terwyl ook rekening gehou word met die “teë-koning” en sy trawante, die magte van die duisternis wat hierdie koninkryk met verbete woede bestry het, nog bestry en sal bestry, totdat die finale oorwinning behaal is.

Hierop moes noodwendig volg die verhouding van die koninkryk tot die kerk en sy geskiedenis, sy belydenis en kerkregering, sy amptelike werk, nie alleen ten opsigte van die plaaslike kerk nie maar ook met die ekumene in die blikveld, wat dan vanself die sendingsgedagte na vore bring.

Waar die koninkryk nie soos ʼn oliedruppel op die wêreldlewe dryf nie, omdat aan sy Koning en Middelaar alle mag in die hemel en op die aarde gegee is, moes ook aandag gegee word aan die deurwerking van die koninkryksgedagte op die terreine van op­voeding en onderwys, volkslewe en kultuur, politiek en beroepslewe.

Aangesien na ons beste wete ʼn werk met hierdie opset nog nie tevore verskyn het nie, moes in menige opsig pionierswerk gedoen word. Die werk word dan ook in beskeidenheid en sonder enige pretensies aangebied. Ons is oortuig dat die laaste woord by verre na nog nie gespreek is nie. Trouens, soos die loop van die dinge voortstu na die voleinding, sal sekere dele van die Skrif steeds beter verstaan en toegepas kan word.

Ons bede is dat wat hier aangebied word mag strek tot uit­breiding van die hemelse koninkryk en dat Teologiese Skool en Universiteit deur die genade van Hom wat is en wat was en wat kom, in die “swaar tye” waarvan 2 Tim. 3:1 spreek, die vaandel sal opsteek in die Naam van die HERE.

“LAAT U KONINKRYK KOM!”

Die redaksie.

INHOUD

___________________

TE KOOP: Pro Regno het nog ‘n enkele kopie uitgawes van die boek beskikbaar, R100-00 (doen direk by my navrae: 082 770 2669 of proregno@gmail.com)

Vir verdere studie:

Prof. B. Spoelstra se bespreking van een van die bydraes in die bundel, Koninkryk en Kerk

Pro Regno artikels oor die Koninkryk van God

Pactum Institute 2023 lesings oor die Koninkryk van God

Prof. L. Floor, Die Evangelie van die Koninkryk

Prof. WJ Snyman, sien sy artikels oor die Koninkryk, deel II in Nuwe en Ou Dinge.

My Koninkryk lesings oor:

Koninkryk en Belydenis

Wet en Evangelie in die Koninkryk

One thought on “BOEKBEKENDSTELLING: Die Koninkryk van God

Add yours

  1. ’n Oriëntering in breë trekke: Begrips- en plekbepaling van die koninkryk van God t.o.v. en in verhouding tot die uitverkiesing, die kerk, die verbond en die maatskappy, deur dr. K. S. van Wyk de Vries

    “Abstract
    Die bedoeling van hierdie oriëntering in breë trekke (op besonderhede gaan ander referente in) is veral ’n poging tot die bepaling van groothede wat die Bybel ons gee (in die koninkryk van God, verbond, kerk en maatskappy het ons met groepe of groeperinge mense te doen) en hulle plek, vorm en bedoeling vir sover dit die mens, en met name die gelowige, in sy verhouding tot God aangaan. Dat hierin van die uitverkiesing in Christus uitgegaan en daarop telkens teruggekeer word, spreek vir die gereformeerde teoloog vanself.”

    Aanhaling:

    Die hoofdoel bly dus die regnum gloria Dei; die sentrum is Christus, die Koning, die Middel(aar) tot die doel, en die liggaam van Christus kom by as nog ’n middel tot die bereiking van die doel (vgl. Ef. 1 : 3—23). Van die uitverkiesing is Christus die Hoof, die Eerste; dit is nooit anders nie as alleen deur Hom; eers en van ewigheid vind die verordinering tot Middelaar plaas. En onder Hom, na sy amptelike aanstelling, word die uitverkorenes versamel of versamel Hy hulle. Hy werf nie die uitverkorenes nie, maar hulle word Hom gegee deur die Vader en Hy vergader hulle. Maar hulle is sy liggaam, in organiese sin eintlik uit Hom voortgekom — dit sny enige meganiese gedagte i.s. die vergadering of versameling af (vgl. Ps. 2: Hy is eerste van ewigheid, eers as Koning gesalf, dan volg dat God Hom die volke as erfdeel gee; ook Joh. 17 : 2, 6, 24 en Joh. 6:37, 39, 44, 45.”

    Volledige artikel hier: https://indieskriflig.org.za/index.php/skriflig/article/view/922

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑