VAN RIEBEECKDAG
6 APRIL 1652 – 2025

VANUIT DIE GESKIEDENIS 373 JAAR GELEDE: 6 April 1652 – IS DIT NOG ONS ROEPING EN GEBED TOT VEROOTMOEDIGING VIR ONS TYE?
Die Van Riebeeck gebed (1652)
“Barmhartige, genadige God en hemelse Vader, volgens u goddelike wil is ons geroep om die sake van die Verenigde Nederlands Geoktrooieerde Oos- Indiese Kompanjie hier aan die Kaap die Goeie Hoop te bestuur. Met hierdie doel voor oë is ons met ons Raad in u heilige Naam vergader om met die Raad se advies sodanige besluite te neem waarmee ons die Kompanjie se belange die beste kan bevorder. Ons is hier om die wet te handhaaf en om, as dit moontlik is, onder hierdie wilde en onbeskaafde mense u ware gereformeerde Christelike leer voort te plant en bekend te maak tot lof van u heilige Naam en tot voordeel van die wat oor ons regeer.
Hiertoe is ons sonder u genadige hulp allermins in staat. Daarom bid ons U, allerhoogste Vader , dat U met u vaderlike wysheid by ons sal bly. Ons bid dat U self leiding in ons vergadering sal gee en ons harte so verlig dat alle verkeerde hartstogte, tweedrag en ander dergelike gebreke van ons geweer sal word sodat ons harte van alle menslike hartstogte skoon sal wees. Laat ons gemoedere so ingestem wees dat ons in ons beraadslaging niks anders beplan of besluit nie as dit wat mag strek tot grootmaking en lof van u allerheiligste Naam en tot diens van die wat oor ons regeer. Laat ons nie in water mate ook al op eie voordeel of winsbejag let nie, maar net op die uitvoering van ons opdragte en dit wat vir ons saligheid nodig is.
Ons bid en vra dit in die Naam van u geliefde Seun, ons Heiland en Saligmaker, Jesus Christus … wat ons leer bid het: Ons Vader wat in die hemel is, … Amen”
Van Riebeeck gelofte, 6 April 1654
“Aangesien dit vandag twee jaar gelede is dat ons met God’s hulp en leiding met die skepe Drommedaris, Reiger en Goede Hoop veilig hier geland het, om hierdie fort en kolonie in opdrag van ons here en meesters op te bou, en ons gemerk het dat God die Here al die sake tot vandag toe met baie seëninge, goed en na wens laat verloop het, het ons besluit, en ook vanjaar daarmee begin, om hierdie dag, 6 April, tot God’s eer met danksegging te vier, en dit vir altyd as ’n dank- en biddag in te stel, sodat ons nakomelinge nooit die weldade wat God aan ons bewys het, vergeet nie, maar dit altyd in gedagte mag hou.”
HG Stoker skryf in sy artikel, “Die Calvinisme as wortel van ons volksbestaan“, in die 20ste eeu:
“Ek glo nog dat daar ‘n tyd sal kom waarin God ons volk sal wakker skud tot ‘n stryd wat die so nodige antitese sal skep en die toegedekte antitese, die dubbelslagtige en dubbelhartige karakter van die sinkretisme, sal ontbloot en daardeur vernietig – ‘n stryd wat noodwendig op kerklike en godsdienstige terrein sal moet begin omdat die Calvinisme die geestelike wortel van ons volksbestaan is.”
Ons roeping is in 2025 en vorentoe nog dieselfde, soos ek dit gestel in in my Ps. 117 preek:
“Om die evangelie hier onder die volke te bring, ook die Afrikaanse volk wat al meer verheidens of sinkritiseer, om die Christelike beskawing as vrug van die evangelie hier te vestig onder alle volke. Dit was die gebed op 6 April 1652 waaruit ons volk gebore is, met een doel voor oë: Om die Here te loof en te prys onder al die volke.
Die gelofte by Bloedrivier het dit bevestig: 1838, om sy kerk in stand te hou, nie net onder die Afrikanervolk nie, maar onder alle volke. Om God te eer as ‘n volk, sy kerk te bou in Afrika. Deur baie sending en evangelisasie is hierdie boodskap deur die eeue verkondig. Sommige het dit aangeneem, baie verwerp dit, vandag nog.
Maar sien ons dit vandag nog as ons roeping, geliefdes? Of bestaan ek nou maar net vir my aftrede, om dood te gaan, alles is verby? Dink ek nog aan die nageslag? Dat die erwe van ons vaders vir ons kinders erwe bly, met die groot doel: die verheerlik van God se Naam in Christus?
…. Ons het afgedwaal van sy gebooie, ons lewe in afvalligheid. Die belydenis van geloof, huweliksbeloftes, doopbeloftes word vertrap … in die kerke, deur ‘ons mense’! Omdat ons ons roeping vergeet het, die Evangelie vergeet het, daarom het ons ons vryheid verloor.
Die antwoord is eenvoudig: terug na v. Ps. 117:2!”
Lees die volledige preek hier:
Ps. 117 Alle volke, ook die Afrikanervolk word opgeroep om die HERE te loof en te prys!
___________________________________
Sien ook die volgende artikels oor Stigtingsdag, oftewel Jan van Riebeeckdag, en ander verwante artikels:
Leave a comment