Preek: Ps. 117 Alle volke, ook die Afrikanervolk word opgeroep om die HERE te loof en te prys! ( (6 April 1652 – 6 April 2019)

Preek: Ps. 117 Alle volke, ook die Afrikanervolk word opgeroep om die HERE te loof en te prys!

jan-van-riebeeck-painting-900x315

 (6 April 1652 – 6 April 2019)

Lees: Ps. 117 en Matteus 28:16-20

Teksverse: “Loof die HERE, alle nasies! Prys Hom, alle volke! Want sy goedertierenheid is geweldig oor ons, en die trou van die HERE is tot in ewigheid. Halleluja!” – Ps. 117:1,2

Tema: Alle volke, ook die Afrikanervolk, word opgeroep om die HERE te loof en te prys!

Preekopname (GK Carletonville, 2019-04-07. nota: let wel, die opname en die teks hier onder stem nie heeltemal ooreen nie. Klankopname nie te goed nie, verskoning daarvoor):

Aflaai: Psalm 117 (regs kliek en ‘save [link] as’; of kliek op 3 kolletjies om af te laai)

Geliefdes in ons Here Jesus Christus,

Gister was dit 6 April,

’n datum wat deur meeste Afrikaners, ook Christen Afrikaners al vergeet is.

Op hierdie dag, 367 jaar gelede, in 1652,

het Jan van Riebeeck hier aan die suidpunt van Afrika aangekom,

om ’n nederlandse verversingstasie te vestig,

vir die skepe wat tussen ooste en weste gevaar het, om handel te dryf.

Daar het ’n nedersetting begin, later het ander mense ook bygekom,

die Franse, Duitsers, Engelse, ens.

Sodat baie jare later, uit hierdie verskillende volke,

die Afrikanervolk gebore sou word.

Wat die Afrikaner so uniek maak, is dat ons as ’n Christelike

volk as’t ware gebore is.

Maar, laat ons dadelik ’n misverstand uit die weg ruim wat met

Christelike volk bedoel word … en nie bedoel word nie:

‘n ‘Christelike volk’ of ‘Christelike land’ of ‘Christelike staat’ moet verstaan word as dat die Bybel die basiese lewens- en wêreldbeskouing, die basiese ‘instellings’ (gesin, gemeente, gemeenskap, ens.) beïnvloed en bepaal.  Die werklikheid en bestaan van God Drie-enig word erken, Sy Woord, veral die Tien Gebooie as norm vir reg en verkeerd, word erken, en Christus word as enigste Verlosser en Koning bely van die mens.

Ja, taal, kultuur, gewoontes, geskiedenis, alles word deur Bybel bepaal, of poog om daardeur bepaal word, hoe goed dit reggekry word of nie.

Die term beskryf nie  God se werk van uitverkiesing, wedergeboorte, ens. nie,  maar die mens se antwoord op sy Openbaring, ook in volksverband, hoe gebroke en sondig laasgenoemde ook nog altyd was en sal wees tot die laaste dag hier op aarde.

Nog nooit het ek dit verstaan (en ek vermoed ook nie my calvinistiese gereformeerde voorvaders soos o.a. Calvyn, Knox, Kuyper, Bavinck, Totius, ens.) dat terme soos ” ‘n Christelike volk, land, staat” sou beteken dat elke Afrikaner/burger kop-vir-kop ‘n Christen sou wees nie.  Inteendeel.  Die Evangelie, die Woord sny deur alle terreine van lewe en denke, deur gesinne, deur gemeentes, deur volke, wie vir en teen Hom is (Ps.2; Matt.10:34-36; 1 Kor.5:11; Matt.25:32; Op.21:24).

Net so min as wat die term ‘Christelike kerk’ beteken elke lidmaat van die sigbare plaaslike kerk is ‘n gelowige (sien NGB art.27-29, veral die eerste 2 sinne van art. 29), net so min beteken die term ‘Christelike volk’ elke volksgenoot is ‘n gelowige oftewel Christen.   Wanneer ‘n volk (‘geel, bruin, swart, wit, pienk of pers’) oor die algemeen (nie elkeen kop-vir-kop nie) die Christelike geloof aanneem, wanneer so ‘n volk se instellings, hetsy gesinne, kerke, tradisies, kultuur, taal, gewoontes, politiek, maatskappy, ens., hoofsaaklik (nie alleenlik) deur die Bybel beïnvloed word, dan kan dit beskou word as ‘n ‘Christelike volk’.

En so was, ja was dit met die Afrikaner, ten minste tot dalk die 1970/80’s van die vorige eeu, nou het daar baie deformasie en verval ingetree.

Maar, die feit is, in die gebed van Jan van Riebeeck in 1652, vind ons wat ons behoort te wees. Hy het onder andere gebid:

“Ons is hier om die wet te handhaaf en om, as dit moontlik is, onder hierdie wilde en onbeskaafde mense u ware gereformeerde Christelike leer voort te plant en bekend te maak tot lof van u heilige Naam en tot voordeel van die wat oor ons regeer. Hiertoe is ons sonder u genadige hulp allermins in staat.”

En in 1654, 2 jaar later,

“… , 6 April, tot God’s eer met danksegging te vier, en dit vir altyd as ’n dank- en biddag in te stel, sodat ons nakomelinge nooit die weldade wat God aan ons bewys het, vergeet nie, maar dit altyd in gedagte mag hou.”

Hoeveel van ons gelowige Afrikaners onthou nog hierdie gelofte, belofte, waar ons vandaan kom?

Ja, terwyl SA geestelik en baiemaal fisies brand,

vra ons opnuut die groot vraag sekerlik:

Wat is ons roeping hier aan die suidpunt van Afrika?

As iemand nou vir u vra wat is die sin van die lewe,

waaroor gaan alles?

wat moet ons as mense doen?

Wel, ons antwoord sal seker wees, of ek hoop dit sal wees:

Die doel van die mens is om God in alles te eer en te verheerlik.

Ek moet hom eer in my persoonlike lewe

In my gesinslewe

In my gemeentelewe

En, ja orals waar ek leef en beweeg

Maar, is dit al geliefdes ?

Glo ons nog dat ons Hom moet verheerlik in ons volkslewe ook?

Dat ons hele land met al sy volke en mense God moet verheerlik in al hul doen en late?

Nou, dit is presies die boodskap wat ons lees in Ps.117:1!

Waartoe die Here ons vandag, en elke dag, vir altyd toeroep:

Psalm 117:1  Loof die HERE, alle nasies! Prys Hom, alle volke!

Ja, nie net die mens as individu, gesin en gemeente nie,

maar alle nasies en alle volke word opgeroep om God te loof en te prys.

Dit is allesomvattend, alles word deur die Here gevra, nie net sekere dele van my lewe nie.

En wat beteken dit om God te loof en te prys?

Dit beteken o.a.

  1. Te erken Hy is die enigste ware God
  2. Dat Hy ons Skepper is
  3. Dat sy Woord en wet die waarheid is

En ek kan Hom nie eer as ek leef soos ek wil nie,

Ek moet volgens sy gebooie lewe vir so groot verlossing in Christus,,

in dankbaarheid,

Dit is die geloof waarmee ons voorvaders hier aangekom het,

waarmee die Voortrekkers die binneland in is.

Die mens is geskape om God in alles te verheerlik

In al sy denke, al sy dade, op elke lewensterrein moet ek vra na die wil en eer van God.

Die twee grootste vrae wat die gelowige vra, heeltyd moet aanhou vra,

en waarmee ons moet worstel, saam ons gesinne, gemeentes,

volksgenote, is:

  1. Hoe word ek gered, hoe staan ek regverdig voor God?, en dan:
  2. Hoe word God ge-eer?

Daardie 2 vrae bevat ons roeping en taak hier op aarde.

Dit was die wese van die Reformasie van die 1500 en 1600’s,

waaruit ons volk ook gebore is.

Ook vir ons volksbestaan wat vandag so verbrokkel het, verval het,

moet ons weer hierdie vrae herontdek.

Ps.117 wys daarop dat alle volke en alle nasies is geskape en daar gestel om God te eer.

Dit is die eis of oproep, of hul dit wil erken of nie, of almal gaan luister of nie.

En let daarop nasies = goyim, d.w.s. nie net Israel nie, maar elke volk op aarde word geroep om God te dien.

Nie net wittes nie, nie net swartes, of geles nie, almal!

Toe sing hulle ‘n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers. – Op. 5:9,10

Nou weet ons dat die mens afgedwaal het van hierdie roeping

Gen 3 met die sondeval, en al die gevolge daarna …

In Gen.10 lees ons van die mens se pogings om ‘n ryk te bou los van God, mense pogings om homself te verlos, sy eie wet daar te stel.

Ps.2 vertel vir ons die geskiedenis: Waarom woel die nasies en bedink die volke nietige dinge?  2 Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die HERE en teen sy Gesalfde en sê:  3 Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp!

Dit is die mense se poging regdeur die geskiedenis.

Vandag nog – deur ‘n nuwe wêreldorde los van God te probeer skep,

ook in die nuwe goddelose SA.

Die valse kerk en die valse staat probeer God op aarde wees, mens wat hulself probeer red, sy eie geregtigheid daarstel, in die plek van God se geregtigheid in Christus.

En die slegte vrugte daarvan word ook in ons land gesien:

  1. oor die miljoen aborsie-moorde vanaf 1996
  2. 20 000 moorde per jaar
  3. Verkragtings, diefstal
  4. Onreg, magmisbruik, wanbesteding

En, onthou, dit is nie net swartmense nie, maar ook witmense wat deel in hierdie statistiek.

Ook ons eie mense wat heidene word in die nuwe SA, self-geregverdig.

Ook mense met wit vanne maak die koerante vir verkeerde redes,

mense met afrikaanse vanne, afstammelinge van die volksplanting

Kyk maar na tv programme, tydskrifte, media, ens…

Die volke oor die algemeen,

maar ook ons volk dien nie meer die Here volgens sy Woord nie.

Ook ons volk het afgedwaal, toe dit te goed begin gaan het in die 2de helfte van die 20ste eeu.

Ook mense van ons volk aanbid gode, ontheilig die sabbat, moor en steel en lieg,

Dit lyk of daar geen hoop is nie …

Maar DANK God, dat Hy ook redding en uitkoms gee, v.2

Dit sien ons in die tweede plek:

Die volke moet die Here juis loof,

“Want sy goedertierenheid is geweldig oor ons, en die trou van die HERE is tot in ewigheid. Halleluja!”

Die Here is ook genadig en goed, en sy trou bly in ewigheid.

Hy het sy kinders onder elke volk wat Hy wil en sal red.

Dit was dan ook van die begin af God se reddingsplan met die wêreld

In Gen.12:3 lees ons van die belofte aan Abraham:

In jou sal al die nasies/geslagte/volke (ethnos) gered word.

Dit was ook die doel van Jesus se koms:

Luke 2:29-32   29 Nou laat U, Here, u dienskneg gaan in vrede volgens u woord,  30 omdat my oë u heil gesien het,  31 wat U berei het voor die oë van al die volke —  32 ‘n lig tot verligting van die nasies en tot heerlikheid van u volk Israel.

En daarom, as Christus opgestaan het en opvaar, die groot Opdrag:

Matthew 28:18-20  18 En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.  19 Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.  20 En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.

En dit was onderliggend aan die gebed van Jan van Riebeeck in 1652, waarmee hy hier aan die suidpunt van Afrika aangekom het.

Om die evangelie hier onder die volke te bring,

om die Christelike beskawing hier te vestig onder alle volke.

Dit was sy gebed op 6 April 1652 waaruit ons volk gebore is:

Om die Here te loof en te prys onder al die volke

Die gelofte by Bloedrivier het dit bevestig: 1838,

om sy kerk in stand te hou, onder alle volke.

Om God te eer as ‘n volk, sy kerk te bou in Afrika.

Deur baie sending en evangelisasie is hierdie boodskap deur die eeue verkondig.

Sommige het dit aangeneem, baie verwerp dit, vandag nog.

Maar sien ons dit vandag nog as ons roeping, geliefdes ?

Of bestaan ek nou maar net vir my aftrede, om dood te gaan, alles is verby?

Dink ek nog aan die nageslag ?

Dat die erwe van ons vaders vir ons kinders erwe bly,

met die groot doel: die verheerlik van God se Naam in Christus?

Ja, ons land is van ons weggeneem …. maar agter dit sit die tugtende hand van God.

Ons het afgedwaal van sy gebooie

Ons lewe in afvalligheid.

Die belydenis van geloof,

huweliksbeloftes,

doopbeloftes word vertrap … in die kerke, deur ‘ons mense’!

Omdat Afrikaner sy roeping vergeet het,

die Evangelie vergeet het, daarom het ons ons vryheid verloor.

Die antwoord is eenvoudig: terug na v.2!

Verootmoediging voor God, dat Christus ons sal red en bevry,

bo alles van die sonde, wereld en die Satan se aanslae

Opnuut moet ek vra wat my doel en roeping is in die lewe.

My lewe toewy aan God in Christus … persoonlike bekering

My gesin toewy aan die Here … gesinsreformasie (vader, moeder, kinders)

“Die geskiedenis bewys dat as die huisgesin gesond is, beide kerk en staat bloei. Die huisgesin is die bron van die menslike samelewing. Gee ons dus Gereformeerde huisgesinne, en die Gereformeerde Kerk sal bloei. Anders gaan ons gewis ‘n donker toekoms tegemoet.” – Totius

My gemeente, bydraes, kerkbewoning, omgee vir mekaar!

Maar dan ook, ons kinders moet nie net die geskiedenis vd Bybel geleer word nie,

Maar ook van ons land se geskiedenis en veral ons volk se geskiedenis,

die goeie en slegte dinge, sodat ons opnuut nie ons heil by mense en volke sal soek nie, maar by die Here van Ps. 117.

Terug na ons roeping volgens Ps.117:1,2

Dit is die enigste weg

Om nie net as individue nie, maar ook as ‘n volk weer ons roeping te volbring.

Mag die Here ons help om sy Koninkryk, sy eer, sy Seun in alles in ons lewens te soek, wat ookal die toekoms inhou vir ons gesinne, gemeentes, volkere en land.

Mag die woorde van prof. HG Stoker, ook waar word in ons tye (beklemtonings bygevoeg):

Nieteenstaande hierdie agteruitgang glo ek nog dat daar ‘n kern van ons volk is wat aan sy verlede ten volle trou bly en in die regte rigting voortbou.  Ek glo nog dat daar ‘n tyd sal kom waarin God ons volk sal wakker skud tot ‘n stryd wat die so nodige antitese sal skep en die toegedekte antitese, die dubbelslagtige en dubbelhartige karakter van die sinkretisme, sal ontbloot en daardeur vernietig – ‘n stryd wat noodwendig op kerklike en godsdienstige terrein sal moet begin omdat die Calvinisme die geestelike wortel van ons volksbestaan is.  Ek glo dit omdat die taak wat God aan ons volk hier in Suid-Afrika en ten bate van die hele Afrika gestel het, nog lank nie afgehandel is nie, ‘n taak waarin die stryd tussen Oos en Wes ‘n sentrale rol gaan speel. Dat God ons volk roep, blyk duidelik uit die roeping van ons volk in die huidige wêreldverwarring.”

Amen.

___________________________________

Sien ook die volgende artikels oor Stigtingsdag, oftewel Jan van Riebeeckdag:

Stigtingsdag

Jan van Riebeeck kom aan in die Kaap

Gereformeerde volksplanting

2 thoughts on “Preek: Ps. 117 Alle volke, ook die Afrikanervolk word opgeroep om die HERE te loof en te prys! ( (6 April 1652 – 6 April 2019)

Add yours

  1. Psalm 117 is ‘n uitstekende nasionale volkslied vir ‘n Christelike volk. Mag dit ook so wees vir ons volk.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: