TOTIUS: PROFESSORE EN STUDENTE MOET DEUR DIE WAARHEID GEGRYP WEES!

TOTIUS: PROFESSORE EN STUDENTE MOET DEUR DIE WAARHEID GEGRYP WEES!

“Pilatus sê toe vir Hom: Is U dan tog ‘n koning? Jesus antwoord: U sê dat Ek ‘n koning is. Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek in die wêreld gekom, om vir die waarheid te getuig. Elkeen wat uit die waarheid is, luister na my stem. Pilatus sê vir Hom: Wat is waarheid?” (Joh. 18: 37, 38a).

“Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is.” – Filp. 3:12

Eindelik: Jesus verklaar: “Elkeen wat uit die waarheid is, luister na my stem.” (Joh. 8:37). Let hierop! Nie elkeen wat die waarheid ontdek en in pag geneem het en nou tentoonstel asof hulle daarvan meester is nie. Nee, maar wat deur die geopenbaarde waarheid in besit geneem is, daardeur oormeester is en beheers word, soos ‘n swakkere deur ‘n sterkere, en wat nie anders kan nie as om daarvan te getuig. Elkeen wat die waarheid het omdat dié hulle het. So bid ons dan ook dat ons professore en studente begaaf mag wees met die waarheid van Bo; om daarvan goed bewus en welversekerd te wees; om daarin toe te neem, daarvan vol te word – om met geheiligde hart en verligte gees nou hier in die Skool en netnou daar in die gemeentes, ja, ook voor die oog van die wêreld die skoonheid daarvan te laat skitter tot verheerliking van God. …. Dit is die waarheid, want ons verneem die stem van die Here en Koning self in die binneste van ons siel! ”- Totius

Inleiding

Ek plaas Totius se kosbare passievolle oproep vir beide professore en teologiese studente (wat ook ‘n oproep is en geld vir alle ampsdraers, asook alle gelowiges in die amp van die gelowige) – om die Waarheid te ken, lief te hê, te leer, te volg, te preek, te onderrig, van te getuig, ens., juis omdat ons deur die Waaragtige (Joh.17:3; 1 Joh.5:20) , die Here self, gegryp is in die Weg, Waarheid en Lewe (Joh. 14:6), in die krag van die “Gees van die Waarheid” (Joh. 14:17; 15:26; 16:13).

Tolle lege!

VIR DIE WAARHEID GETUIG

deur Totius*

Die teologiese skool is verbonde aan die Kerk se roeping

Die bevestiging van die beroepe broeder tot hoogleraar aan die Teologiese Skool geskied volgens opdrag van die Kuratore namens die Kieskollege deur die eerw. Sinode daargestel. Die keuse van die Kieskollege moet beskou word as die keurstem van die eerw. Sinode self, uitbring namens die Gereformeerde Gemeentes in Suid-Afrika.

Die Skool behoort aan die Kerk en is gebonde aan die Kerk se bepalinge aangaande leer, diens en tug en is bestem, hoofsaaklik, vir die opleiding van bedienaars van die Woord in die Kerk.

Gedoseer moet word alleen volgens Gereformeerde beginsels;vandaar die eis wat deur die Sinode gestel is dat die professore ,geroepe en beproefde evangeliedienaars moet wees. Dit verhinder nogtans nie dat die godgeleerdheid as wetenskapIike vak opgevat word nie en dat opening gegee is vir studente selfs buite ons kerklike gemeenskap om hulle daarin te bekwaam, afgesien van hulle beroepskeuse. Om Calvinisties bepaald en Gereformeerd-kerklik belynd te wees doen nie af aan die wetenskaplike gehalte nie.

Die Gereformeerde student hou van ken en uieet, en van die Calvinistiese dosent word verwag om iemand te wees met ‘n eie lewens- en wêreldbeskouing, met grondslag, rigting en doel: “Uit die geloof, volgens die wet van God en tot sy eer” (verwysing na HK v/a 91 – slc).

Die Skool nogtans ter wille van die Kerk, die Teologie ter wille van sy leer en lewe en sy hoogleraars ter wille van sy evangelie-dienaars. Ons verlang wel deeglik bekwaamheid maar ook suiwerheid. Dit is ons te doen om die heldere lig van die waarheid.

Met die oog op wat Paulus aan sy dissipel Timotheüs skryf, nl. dat “die huis van God, wat die gemeente is van die lewende God, ‘n pilaar en grondslag van die waarheid is”, moet “die opsieners weet hoe iemand hom daarin moet gedra”, nl. onberispelik in leer en lewe (1 Tim. 3:1-15).

Sal die kerk van die Here as lewende en werksame organisme kragtens inwoning van die Heilige Gees en die woord van Christus, hom, volgens die beeldspraak, sigbaar vertoon as pilaar en grondslag van die waarheid: dan moet dit te midde van alle aanvegtinge kan rus in die welversekerde wete hoe dit gebou is op die fondament van die apostels en profete en behoort dit hom (2 Kor. 4:2) asof “voor God deur die uiaarbeid aan die lig te bri’ng aan te beveel by elke menslike gewete” net soos ‘n ligtoring op die strand sy skitterende strale uitskiet oor die golwe van die rustelose see – dan is dit nodig dat sy leraars soos getroue versorgers van die huis hulle in die ondersoek van die waarheid verdiep, om dit hoog te kan uithef en die lig daarvan voor die mense te laat skyn.

Wat is die taak van die teologiese professor anders as om wegwyser te wees by die naspeur van die waarheid, om ‘n voorligter te wees vir die toekomstige draers van die lig daarvan?

Die Gereformeerde Kerke is gesteld op suiwerheid in die leer ooreenkomstig die Heilige Skrif, die genoégsame, ja, onuitputlike kenbron van die geopenbaarde waarheid. Hulle kleef vas aan hulle belydenisskrifte as getuienis uit die siel gepers en tog blymoedig gegee onder stryd en lyde.

So skryf Paulus aan Timotheüs (1 Timotheus 6:3, 4): “As iemand iets anders leer en nie instem met die gesonde woorde van onse Here Jesus Christus en met die leer wat volgens die godsaligheid is nie, dié is verwaand en verstaan niks nie, maar het ‘n sieklike sug na twisvrae en woordestryd“; en verder herinner hy Timotheüs aan “die goeie belydenis wat hy voor baie getuies afgelê het“, en hou hom Christus Jesus voor, “wat voor Pontius Pilatus die goeie belydenis betuig het“. (1 Tim. 6:12,13)

Jesus staan voor die regterstoel van Pontius Pilatus om rekenskap aangaande Homself te gee waar Hy vals beskuldig word daarvan dat Hy pretendent op ‘n aardse troon is, hoewel Hy tog self verklaar dat sy koninkryk in oorsprong en aard nie van hierdie wêreld is nie.

“Pilatus sê toe vir Hom”, so lui ons teks: “Is U dan tog ‘n koning?” Jesus antwoord: “U sê dat Ek ‘n koning is. Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek in die wêreld gekom, om vir die waarheid te getuig. Elkeen wat uit die waarheid is, luister na my stem”.

Meen Jesus tog nie – laat Hy koning wees oor wie en van waar ook al – dat Hy die antwoord kan gee op die allerbelangrikste van alle vraagstukke wat die denkers van alle eeue hulle afgevra het en waarop geen mens nog ‘n bevredigende antwoord gegee het nie?

Die Satan deur leuens bring sonde en twyfel

En tog, juis omdat geen mens wat van die aarde is, die waarheid kan daarstel nie, daarom kom die Here uit die hemel, met koninklike mag en gesag beklee, om vir die waarheid getuienis te gee. Hiertoe is Hy gebore, het Hy mens geword; en hiertoe het Hy in die wêreld gekom: Hy is die eniggebore Seun in die skoot van die Vader, wat is voordat die wêreld was. Hy is Koning – wat die wêreld ook van Hom mag sê, Koning van die hemelryk, en Hy het sy onderdane, want “elkeen wat uit die waarheid is, luister na sy stem“.

Pilatus het hiervoor nie ‘n oor nie, want ook hy is onderworpe aan die leuen, wat in die wêreld heerskappy voer. Saam met alle denkers en ondersoekers is hy ‘n twyfelaar. Pilatus se vraag bevestig al weer die treurige bevinding van alle wêreldwyses by die ondersoek van die werklikheid en naspeuring van die wese van dinge om die waarheid te vind dat daar altycl verskil bly en dat dit eerder groter as kleiner word. Hier word weer bewys gelewer dat die wetenskap, vir sover dit uit die mens ontwikkel, altyd weer in twyfel verstom. Persoonlike getuienis vind nie algemene instemming nie.

Vandaar die twyfel, twyfel aan alle rnense, twyfelook aan jouself. Is dit nie ‘n treurige werklikheid nie dat die ganse redelike en sedelike mensheid nie ‘n antwoord het op die aldeur herhalende vraag nie: Wat is waarheid?

Waaraan ontbreek dit dan? Seker nie aan ontwikkeling nie. Hoe hoër die peil is wat bereik is, hoe meer die ou verskilpunte in ouwe vorme uitkom.

Dit is die sonde van die mens wat so aldeur versteurend word.

Die sonde het wysheid tot dwaasheid verlaag en, andersom, dwaasheid tot wysheid verhef.

Deur die sonde is die eenheid en harmonie ook op wetenskaplike gebied verloor. Die subjektiewe karakter van alle’ geestelike wetenskap is onbetroubaar. Die leuen van Satan het die mens in die toestand laat beland dat wetenskap nie meer die’ blote’ werklikheid moet ondersoek nie maar steeds die ware van die valse moet onderskei.

By selfondersoek en wêreldbeskouing loop die grootste wysgere uiteen. Onderlinge verskil ontneem selfvertroue, twyfel word groot. ‘n Onbetwisbare feit is dat die leuen ‘n bose mág in die wêreld is.

Christus alleen bring waarheid en sekerheid

As dit dan waar is van die geskape dinge, hoeveel te meer ontbreek dit dan nie aan suiwere Godsbesef en ware Godskennis nie – sonder die onmisbare band en aanknoping van Godsweë deur sy openbaringswoord en verseêlende Gees?

Hoe aanbiddelik dan die grootheid van onse God en Vader in die gawe – ja, oorgawe – van sy geliefde Seun, nie net uit ‘n koninklike geslag onder die mense gebore nie, ook as mens ‘n gebore Koning, met mag oor glo en weet!

Al het sy koninkryk nie ‘n uiterlike gelaat nie, sy koningskap is nogtans ‘n lewenskrag wat werk in en uit die mens om te heers oor die natuurlike en om alles aan God ten offer te bring. As Hy sê: ‘Ek is die waarheid’ (Joh. 14:6) , dan beteken dit dat Hy alleen die geestelike verweerkrag het om Hom te onttrek aan die mag van die valsheid en die waarheid te laat seëvier.

Daarom stel die Christus dan ook die geloofswetenskap in beginsel teenoor die wetenskap wat uit die ongeloof is. Lewe en wêreld beskou hy by die lig van die Woord van God. Waar onse Here Jesus Christus hom só verantwoord voor die regter Pontius Pilatus, daar lei ons af:

  1. dat die waarheid positief en absoluut is, as ‘n eenheid bestaan en voorwerplik daargestel is;
  2. dat Jesus Christus in eie Persoon die Draer daarvan is;
  3. dat sy getuienis daarvan van wêreldbetekenis is, en
  4. dat hy wat “uit die waarheid is”, ook geheel en al daardeur beheers moet wees.

1) Die waarheid is in sy diepste wese ‘n openbaring van God, daarom ewig onveranderlik. Hy kan Homself nooit teenspreek nie, want sy waarheid vloei voort uit die waaragtigheid van sy eie Wese en Natuur. Al die werke van God is getrou, sy beloftes ja en amen (2 Kor. 1:19,20), sy weë suiwer en reg, sy oordele heeltemal regverdig. Sy gegewe Woord bly dus voorwerplik vasstaande as enigste maar ook genoegsame kenbron van waarheid.

2) Jesus self is die groot Draer van die waarheid in die wêreld. Sy Persoon is die liggaamlike openbaring daarvan, die ligpunt van alle lewe, van die wêreld. Hy, wat mens geword het, is God geopenbaar in die vlees. Hy is die Woord, wat in die begin was, en die Woord was God. In Hom was die lewe, en die lewe was die lig van die mense. Hy het onder ons gewoon, sê Johannes, en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom, vol van genade en waarheid.

As onse Here Jesus dan ook sê: Ondersoek die Skrifte, want dit is dié wat van My getuig (Joh. 5:39), en Hy self in die wêreld gekom het om as Koning wat gebore is, met goddelike gesag onfeilbaar getuienis vir die waarheid te gee, geliefde, – van hierdie standpunt beskou, nl. dat dit om die heilige, geopenbaarde waarheid te doen is, wat geken en gepropageer moet word, – hoe verhewe is dan die ideaal wat die Skrifgeleerde moet beoog! Hoe onmisbaar dan by die ondersoek – vir die kennis van en om te onderrig in die waarheid is die verligting en voorligting van die Heilige Gees, wat in die waarheid lei!

3) Verder: Die Godsgetuienis deur Koning Jesus is in die wêreld uitgeroep en staan geskrywe. Dit is dus van wêreldbetekenis. Niks is daar wat daarbuite omgaan sodat dit daar niks mee te doen sou hê nie. Nie in die sin asof byvoorbeeld die Heilige Skrif ‘n ensiklopediese leerboek oor die heelal sou wees nie maar so dat alle kennis daaraan getoets word of dit die karakter van waarheid besit en die stempel van egtheid kan vertoon:

(i) Dit is tog, in die eerste plek, openbaring van God self en dus kennis van God, waarvan die ewige lewe afhang. Daarom bied die Heilige Skrif ons voor alles Godgeleerdheid en word die wetenskap teologie genoem.

(ii) Neem, in die tweede plek, die Heilige Skrif self as waarheidsbron: dit is as die eie Woord van God in die wêreld ingedra. Wat sê die wêreldwysheid daarvan? Die wêreld kan dit nie verban

nie, die invloed daarvan op die menslike gees nie vernietig nie, hoewel Satan, die vader van alle leuens, dit met lis en geweld bestry, want hy beskou hom as vors van die wêreld.

(iii) Die openbaring stel ons ook die waarheid voor aangaande hemel en aarde en alles wat daarin is, wat geestelik en stoflik bestaan. En wel as die maaksel van God. Hy is Skepper, Onderhouer en Voleinder van alle dinge. Immers: “Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge”? Is die Skrifleer dan ook nie hierom van wêreldbetekenis nie? Aan die Woord van God ontleen die gelowige dus sy wêreldbeskouing, en daarom kan hy nie anders nie as om in verset te kom teen die natuurwetenskappe wat op ongeloofsteorieë gebaseer is.

(iv) Net so kom die Christen met sy lewensbeskouing in gedrang, want hy is in die wêreld, is met alle mense uit een bloed en leef met almal saam. Daar is dus ook die waarheidsleer aangaande die mens, sy skepping, staat van regtheid, sy val in sonde, die toekomstige heerlikheid van die uitverkorenes van God en die rampsaligheid van die ongehoorsames.

(v) En as iemand nou vra of ons nie “die waarheid” waarvoor Jesus getuienis gee, moet opvat dat dit uitsluitlik die evangelie tot saligheid bedoel nie, en as Hy sê: My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie, bedoel Hy daar nie uitdruklik dat Hy niks met die wêreldse sake te make het nie?

Ons sou dit nog kon toestem as dit net sien op Jesus se Heilsrniddelaarskap. Maar Jesus as die ewige, natuurlike Seun van God is ook Skeppingsmiddelaar, wat ook eenmaal, as God alle dinge

aan Hom sal onderwerp het, self met alles onderworpe sal word aan God, sy Vader. Sy Heilsmiddelaarshap volg noodsaaklik uit sy Skeppingsmiddelaarskap, ter wille van die sonde wat in die wêreld gekom het.

Daarom dat die Gereformeerde ook vashou aan Teologie, wat God en sy wêreld, van skepping tot herskepping, tot sy voorwerp het, by die lig van elke woord van God, die ganse Heilige Skrif, en nie genoeg het aan ‘n onderdeel alleen nie, soos ‘n geloofsleer aangaande die saligheid uit die Skrif uitgetrek.

Nee, Jesus, onse Saligmaker, het nie maar eers met die wêreld kennis gemaak toe hy in Bethlehem gebore is nie, maar as Skeppingsmiddelaar het Hy dit van die vroegste begin af geken in sy hele wese, vorm, verhouding, as organisme. Hy was nie ‘n vreemde nie maar goed vertroud daarmee.

As sodanig het Hy, self die Woord, sy wese daarop afgedruk. Hy is tog in die Wysheid, wat in Spr. 8 vir ons so verhewe heerlik beskryf word. In Hom woon die volheid van die Godheid liggaamlik, sodat Hy die volkomenheid van die wysheid van God is.

Deur sy vleeswording sluit Hy by die bestaande wêreld aan en kom Hy in aanraking met Satan en die sondaar in die wêreld, wat onder die algemene Genadeverbond nog gespaar word. Die verbond met Abraham is voorafgegaan deur die met Noag, en die wêreld profiteer net so van die seën van bo ter wille van die kinders van God as wat dit die oordele ondergaan ter wille van die volk van God.

 As die Saligmaker verskyn het, dan kom die wyse uit die Ooste na die krip van Bethlehem, en in naam van die Keiser van Rome laat Pilatus Hom aan die kruis slaan. As hy sy dissipels onderrig

en bevele gee, dan laat Hy verstaan dat hulle die sout van die aarde is en die lig van die wêreld wat hulle voor die mense moet laat skyn.

Daarom dat, as die kerk van die Nuwe Testament te voorskyn tree, daar nie net ‘n geslote kring met hulle inwendige lig bly nie, maar die Christendom word mettertyd al meer ‘n lewenskrag en ‘n wetenskapIike mag, sodat daar ‘n kerstening van die volkere kom en ‘n Christianisering van die maatskappy.

As die Christelike gemeenskap dan ook slegs kerklik moet bestaan, dan moet dit beteken dat hulle, hoewel hulle in die wêreld is, tog daarbuite moet leef en wel in kluisenaarsopgeslotenheid. Of anders – soos dit met baie naam-Christene die gevál is – is daar twee terreine, nl. die kerklike gemeenskap op Sondag, wanneer ‘n mens Christen moet wees, en die wêreldse terrein, waarop ‘n mens in die week maar soos die heiden kan wees.

Nee, die geopenbaarde waarheid kan nie en mag nie verborge gehou word nie. Hy laat hom geld by opvoeding en onderwys, hy neem tale en lettere en wetenskappe in sy diens, sy beginsel werk deur in maatskappy en staat.

Het ons miskien gehoor hoe ‘n hoë ideaal die teoloog beoog, nou blyk vir ons ook hoe ruim die veld van studie is wat hy moet naspeur. Hier is arbeid in die sweet van die aanskyn vir professore en studente. Hoe nodig is ‘n volledige personeel van professore. En ons het maar twee vir die reusetaak!

Die wat die gewig van die saak op die hart dra, broeders Professore, simpatiseer met u, gedagtig ook aan die knellende bande wat u arbeid soos inkettings laat wees. En as Kuratore wil ons u die versekering gee dat ons ons mede-verantwoordelikheid voel en u gesondheid na gees en liggaam op ons gewete het. Mag die heerlike ideaal om medegetuies te wees vir die waarheid waarvoor die Seun van God mens geword het en sy goeie belydenis met sy dierbare bloed verseël het, u bemoedig tot behartiging van die veelvuldige arbeid met al die genade, krag en wysheid wat God op u en ons gebed daartoe sal verleen.

4) Eindelik: Jesus verklaar: “Elkeen wat uit die waarheid is, luister na my stem.” (Joh. 8:37). Let hierop! Nie elkeen wat die waarheid ontdek en in pag geneem het en nou tentoonstel asof hulle daarvan meester is nie. Nee, maar wat deur die geopenbaarde waarheid in besit geneem is, daardeur oormeester is en beheers word, soos ‘n swakkere deur ‘n sterkere, en wat nie anders kan nie as om daarvan te getuig. Elkeen wat die waarheid het omdat dié hulle het.

So bid ons dan ook dat ons professore en studente begaaf mag wees met die waarheid van Bo; om daarvan goed bewus en welversekerd te wees; om daarin toe te neem, daarvan vol te word – om met geheiligde hart en verligte gees nou hier in die Skool en netnou daar in die gemeentes,ja, ook voor die oog van die wêreld die skoonheid daarvan te laat skitter tot verheerliking van God.

Elkeen wat uit die waarheid is, luister na my stem. Die wat die leuen liefhet, luister nie na die stem van die Koning nie. Hulle keer Hom die rug toe met veragting, en, as Hy tog in hulle pad bly, dan ruim hulle Hom uit die weg, hang Hom aan die hout op. Wat anders kan sy getroue navolgers verwag, tensy God bewaak en bewaar?

Maar die wat uit God gebore is en die waarheid omhels, luister na sy stem (sien ook Joh. 10:27 – slc).

Oproep aan alle teologiese professore en teologiese studente

Hoorders, omdat die ore geopen, kenners, omdat die harte verlig, en daders, omdat die geeste gewillig gemaak is – van die Woord sal daar altyd wees, in die Skool en in die Kerk. Daar sal God self voor sorg. Laat dit ‘n aansporing wees vir sowel ons teologiese professore as studente.

En wat ‘n innige sielsgenote moet dit nie wees nie vir die gelowige student voor die kateder, as hy ag gee op die redes van die godgeleerde professore – en hoe sal dit nie ook die gevat wees met die gemeentelid as hy luister na die preke van die kansel af nie – om saam te kan getuig: Dit is die waarheid, want ons verneem die stem van die Here en Koning self in die binneste van ons siel!

 Daarom, eerw. Professore, by voortgang sowel as by aanvang waar die Here, u God en Koning, u toeroep: “Kom, volg My! Leer van My wat u moet onderwys”, gehoorsaam dan en kom na die Hartekenner en Nierebeproewer, om van Hom te ontvang die Godsgetuienis van die waarheid.

En, brs. studente, as u binnekort sal verneem: Gaan uit na die Kerk en in die wêreld en getuig van die waarheid wat aan u meegedeel is – gehoorsaam dan en gaan waarheen Hy u stuur!

Hy wat roep en uitstuur, is getrou.

Amen!

 * Bron: Het Kerkblad, no. 460, 1 Maart 1921. Beklemtonings en opskrifte bygevoeg.

_____________________

Ander artikels van en oor Totius.

One thought on “TOTIUS: PROFESSORE EN STUDENTE MOET DEUR DIE WAARHEID GEGRYP WEES!

Add yours

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑