Calvyn en die Politiek – Mag of moet predikante ‘politiek’ preek?

Ons verhouding tot die wêreld: eenheid én onderskeid
… Die mens word dus geroep om sy God in die wéreld te dien en om daar in die Naam van God die stryd teen die sonde aan te bind.
Enersyds kan die Calvinis dus verklaar dat daar niks mensliks is wat hy vir hom vreemd hoef te ag nie. Die ganse, ryke wéreld is sy werkterrein. Hy hoef hom nie skroomvallig af te sonder nie. Hy gaan in tot die lewe in sy bonte menigvuldigheid.
Andersyds leef daar by hom die puriteinse erns waardeur hy gedurig rekening hou met die mag van die sonde. So opgevat is Puritanisme en Calvinisme geen teëstellinge nie, soos die geskiedenis dit dan ook uitwys. ‘Puriteinse ingetoënheid het hand in hand gegaan met die strewe om beslag te lê op die hele lewe.’
Dit bring mee, om weer die praktyk van die lewe te laat spreek, dat daar duidelik onderskeid gemaak word tussen die terrein van die kerk — wat in sy wese is ’n ‘vergadering van die gelowiges’ — en die ander gebiede waarop die menselewe tot ontplooiing kom. Dat die wéreld onder die beademing moet kom van die geloofserns van die gelowiges, word nie in die minste ontken nie, maar die terreine van werksaamheid moet onderskeie bly, anders kom daar botsing.
Dit is dieselfde gelowiges wat nou optree in die kring van die vergadering van gelowiges en dan weer in die lewe daarbuite.
Dit is dieselfde Woord van God wat telkens as rigsnoer geld. Maar by dié eenheid is daar ook onderskeidenheid van kwaliteit en lewensgebied wat gehandhaaf moet word.
Hoeseer ons egter ook pleit vir ’n duidelike grensreëling tussen wat die kerk moet doen, én wat daarbuite moet plaasvind, ons weier volstrek, en juis op grond van wat gemotiveer is, om as gelowiges binne die streng kerklike kring teruggedring te word.
Tientalle van jare gelede het ek die volgende uitspraak in ’n bekende nuusblad gelees: ‘Daar is politieke hervormers onder die predikante, maar die kansel is vir die Koninkryk van die hemele, nie vir die Transvaalse kolonie nie.’
As dit moet dien om die kring van die kerk te omskrywe, dan is die bewoording baie ongelukkig gekies. Ek vrees egter dat die bedoeling was om met dié woorde die godsdiens en politiek so van mekaar te skei dat die een die ander nie meer raak nie.
Calvyn
Hoe verbaas sou Calvyn opgekyk het as hy so iets moes hoor!
Hy wat self as predikant die Bybel van stuk tot stuk deurgepreek en die lig van Gods Woord oor alles laat skyn het; hy wat die politieke raadsman was van sy verdrukte geloofsgenote in verskillende wêreldlande.
Mag die Calvinisme nooit sy ‘politieke vader’ verloën nie!
Maar mag ons ook almal goed verstaan wat dit wil sé dat die Calvinisme ook ’n staatkundige beginsel is! ….”
Mag predikante hul met ‘politiek’ bemoei?
“… Menigeen sal verbaas wees as hy hierdie samevoeging sien.
Het Calvyn hom dan met die politiek bemoei?
En mag ‘n predikant hom daarmee inlaat?
Selfs dié onder ons wat nog goed gereformeerd is, het ons so dikwels hoor sê: Godsdiens en politiek is twee heeltemal afsonderlike dinge; laat die predikant maar na hartelus preek, maar met die staatkunde moet hy hom nie bemoei nie.
Hierdie redenering is in die grond van die saak gebou op die valse stelling dat in die kerk die Woord van God, maar in die politiek die verstand van die mens die leiding moet gee. Dit was egter nie Calvyn se beginsel nie. Dit blyk al daaruit dat hy in sy ‘geestelike geloofsleer’, die Institusie, ‘n hoofstuk geskryf het oor die politieke of burgerlike regering.
Ja, hoe skeef sal hulle in ons land opkyk as ‘n predikant dit sou waag om volgens die Heilige Skrif die beginsels van die politieke regering neer te lê en te beskryf. Dit het Calvyn ewenwel gedoen.
Dit het dr. Kuyper ook gedoen wat predikant en professor in die Godgeleerdheid was maar terselfdertyd Calvyn se grootste seun in die 19de eeu. Nie dat Calvyn godsdiens en politiek vermeng het nie. Inteendeel, hy onderskei hulle duidelik, maar,
‘…. hierdie onderskeid dien nie daartoe dat ons die hele aangeleentheid van die burgerlike regering sou beskou as ‘n onrein saak wat die Christene nie aangaan nie’ (Inst. IV. 20.4).
U herinner u seker nog die groot beginsel van ons hervormer, nl. dat God van almal en orals sy eer moet ontvang. Nie alleen in die kerk nie maar ook in die skool, in die maatskappy en in die staat. Al hierdie kringe is wel onderling onderskeie, maar hiérin moet almal saamstem: die verheerliking van God.
Hierdie verheerliking is alleen moontlik as hulle almal volgens sy Woord ingerig word. Ook die staatsman moet dus sy beginsels aan Gods Woord en nie aan sy eie verstand ontleen nie. In alle eiewillige diens vergoddelik die mens homself en onteer sy God. Daarom sê Calvyn:
‘Wat is dit anders as dat hulle (die regeerders) van God hulle mandaat ontvang het, sodat hulle in hulle amp Hom dien?” (Inst. IV. 20.4).
Calvyn was dan ook, sonder om juis aan openbare vergaderinge en stemminge deel te neem, ‘vir die gereformeerdes in Genève en ook daarbuite, ook op politieke gebied die leier by uitnemendheid’, soos prof. Rutgers sê.
0, hoe sal ons die dag seën as uiteindelik in Suid-Afrika wette gemaak sal word nie volgens die slimmigheid van meneer die of meneer daardie nie, maar volgens die wysheid van die ewig blywende Woord van God.
Gedurig hoor u dit van ons politieke verhoë af sê dat u politiek en godsdiens uitmekaar moet hou; maar dit het die manne van die Franse Revolusie van 1789 ook gedoen.
Laat ons afsluit met ‘n aanhaling uit dr. A. Kuyper se jongste geskrif, getitel: Wij Calvinisten. Waaroor, vra hy, gaan die stryd daar in Nederland?
‘Oor Calvyn se groot lewensvraag of die Koning van die konings ook in die staatsbeleid sy eer sal ontvang. Op hierdie vraag skei almal wat uit 1789 (die Revolusie) leef, die hele staatswese en alle staatkunde van die lewende God af; hulle wil van geen vermenging van godsdiens en politiek weet nie… die staat moet sonder God wees. En dit is nou juis dit waar Calvyn met sy hart en sy hele siel so lynreg teenoorgestaan het. Skerper en krasser as enige staatsman het juis Calvyn hierdie ontrukking van die staat aan God se almagtige bestel veroordeel en verafsku.”
Maar genoeg.
Mag Afrika eendag weer ‘n Calvinistiese land word!”
My eie opmerking – slc:
En as ek mag byvoeg – in navolging van hierdie laaste sin van Totius in 1909 – in ‘n gebed van verootmoediging, vandag ‘n paar dae voor Geloftedag 2025, oppad na 2026, midde die ‘nuwe SA’ vervalle tragiese tye:
UYesu Krestu usikelela iAfrika 🙏
Ja, all die volke, tale, stamme en nasies in Afrika, deur sy genade alleen (Op. 5:9,10).
______________________
*Bron: Versamelde Werke, 1977-uitgawe, deel 6: 15-17; 32-33. Subopskrifte en beklemtonings bygevoeg.
Verdere artikes van en oor Totius hier.

Leave a comment