‘n Laaste Oproep aan die GKSA se Algemene Sinode 2026

In die lig van die vorige artikel ( Sinode 2026 en ons een-wees in die Gees én Waarheid van Christus: ‘n Antwoord op die skrywe “Sinode 2026 en ons een-wees in Christus”, Die Kerkblad, Des./Jan. 2025), plaas ek ook hierdie artikel, niks nuuts nie, maar hopelik ‘n samevattende pleitdooi vir alle afgevaardiges, en die gemeentes wat hul verteenwoordig, om te besef wat op die spel is met die besluite wat geneem word oor VIDA:
Inleiding: my hoop en gebed
Aan my broeders wat nog twyfel oor die saak, wat nog voorstaanders is vir VIDA of dit wil akkommodeer met die beste van bedoelinge, maar ongelukkig onkundig en ongehoorsaam bedoel – met hierdie skrywe is dit ook ‘n nederige oproep vir u bekering en verootmoediging om te sien wat hier wesentlik grondliggend op die spel is vir die Here se kerke wat saam in GKSA verband vergader.
Die saak gaan ons kerke nog verder verskeur en verdeel in ons gebrokenheid onder soveel ander aanslae teen die Here se kerke in ons tye in ons land, en daarom is my hoop en bede dat u sal berus by die sinode se besluite volgens die Skrif, belydenis en KO, soos dit reeds biddend onder leiding van die Gees geneem is in 2009 oor die ouderlinge amp, en ja, as ons verder reformeer, sal terug reformeer na die Skrif ook wat die diaken amp betref.
Hier is my begronding, so eenvoudig moontlik gestel (daar is reeds so baie daaroor geskryf en gesê, sien hier, so ek probeer saamvat in sy wese, en nie weer alles herhaal nie), nl. dat VIDA is nie bloot net nog ‘saak waaroor gelowiges en kerke’ kan verskil en dit akkommodeer nie, of soos sommige aanhou verkeerdelik beweer dat dit nie ‘wesentlik’ (belydenis belangrik) is nie: dit raak wesentlik waarop ons kerke gebou is (sien ons kerkwapen), naamlik ons Verlosser-Koning, Jesus Christus, wat deur sy Gees en Woord alleen ons red, maar dan sy Kerk ook inrig en regeer en in standhou deur dieselfde Gees en Woord.
Dus, wat op die spel is, en waaroor Sinode 2026 moet besluit, gaan oor ons (hopelik!) gesamentlik saam sal voortbou op daardie enigste Fondament, in wat ons daaroor besluit.
Hier is my finale pleitdooi voor sinode 2026, wat DV, volgende week begin:
Die vraag word heeltyd aanhoudend gestel of gevra: maak ‘geslag’ (man- en vrouwees) werklik saak wanneer dit kom by roeping en verkiesing van ampsdraers, dus wie in die besondere dienste kan dien, die kerkregering? Ons sinode se besluite sedert 2009 en veral 2015/2016 het reeds besluit VIDA kerkregering is ‘n wesentlike saak, nie op grond van menslike menings nie, maar op grond van die Skrif, ons hoogste en finale gesag, so kom ons luister opnuut daarna:
Die Heilige Skrif leer:
Paulus deur die Gees, as apostel van die Here (1 Tim. 1:1,2) sê duidelik wie moet amptelik leer, regeer en preek in die gemeentes, geroepe gelowige bekwame manne:
12 Ek laat die vrou egter nie toe om onderrig te gee of oor die man te heers nie, maar sy moet haar stil hou (God se bevelswil). 13 Want Adam is eerste gemaak, daarna Eva. (God se skeppingsorde) – 1Tim. 2
1 Dit is ‘n betroubare woord: as iemand na ‘n opsienersamp verlang, begeer hy ‘n voortreflike werk. 2 ‘n Opsiener dan moet onberispelik wees, die man van een vrou, nugter, ingetoë, fatsoenlik, gasvry, bekwaam om te onderrig” – 1Tim. 3
Geslag, man en vrou wees, volgens God se Woord, maak saak in die rolle en take wat God gee en wie Hy roep, nie net in die huwelik en gesin nie, maar ook in sy gemeentes, terwyl gesin en gemeente onderskeie maar ook nou verbonde is aan mekaar (sien 1 Tim. 3:4,5; Tit. 1:6).
Ja, man en vrou is gelyk in waarde en wese geskape (Gen. 1 en 2), word gelyk in Christus gered (Gal. 3:28), maar dit vernietig nie man en vrou wees en die verskillende onderskeidende rolle en take wat Hy gegee het nie. Die evangelie red en heilig ons onderskeie take en rolle in Christus, alles tot lof van sy Naam en opbou van sy gemeentes (Ef. 4:11-16 se band met Ef. 5:21-6:4).
Die tragiese volhardende opstand, rebellie en ongehoorsaamheid
Vroue as predikante en ouderlinge sê egter: ‘nee, geslag, God se skeppingsorde maak nie saak nie.’
En in ons tye, gaan die gay (woke) agenda verder: ‘geslag’ maak nie net glad nie saak in die gemeente nie, maar ook nie in die huwelik en gesin nie, en die gay saak en debat is al dekades by kerke op die tafel wat ook ons gereformeerde belydenis deel (bv. NGK, CRCNA, CGK, heelwat kerkverbande in Nederland, ens.).
Albei sienings, beide die gay én vida agenda is verkeerd volgens die Skrif, en dit is die belangrike wat alle gelowiges en kerke en kerverbande en kerklike vergaderings moet besef: onderliggend aan beide die gay én vida sienings is dieselfde Skrifsiening, verklaringsmetodes en redenasies, dit is net ‘n graad en tydverskil (soos bogenoemde en ander kerkverbande se verval oor hierdie saak histories van getuig, van vida na gay agendas, ens.) Hoeveel kerkverbande wat eers VIDA ingebring het, het nie ook al oorgeskuif na die ‘n gay hermeneutiek en kerkregering nie, of ten minste akkommodering daarvan, soos uit die volgende blyk, want:
As ‘vrou’ en ‘man’ in bogenoemde verse (Pastorale Briewe) nie bepalend, deurslaggewend en wesentlik belangrik en onderskeidend is vir wie mag leer en regeer in die gemeentes nie, dan maak die volgende geslagswoorde, ‘man en vrou’ in beide OT en NT mos ook nie saak, of is deurslaggewend as ‘eenheidswaarheid’ op ander plekke van die Skrif, waar dit gaan oor die huwelik en gesin nie, of hoe? Bid en peins asb opnuut hieroor voordat u VIDA wil aanhou goedpraat of akkommodeer weens ‘n valse pleitdooi vir ‘eenheid en liefde’:
Ou Testament:
“En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.” – Gen. 1:27
“Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees.” – Gen. 2:24
‘Eer jou vader en jou moeder’ (Ex. 20:12)
Dan maak hierdie Tekste ‘man en vrou’, ‘vader en moeder’ mos nie saak – is nie gesaghebbend en deurslaggewend en deel van ons wesentlike ‘eenheidswaarheid’ – in die huwelik en gesin vir ons ‘nuwe veranderende tye’ nie (soos VIDA voorstaanders ook in hul saak redeneer vir in die kerk?), gay huwelike kan dan ook volgens hierdie ‘nuwe hermeneutiek’ ‘reg’ wees vir ons ‘nuwe tye’: man trou met man, en, vrou trou met vrou, kan dus in die huwelik met mekaar tree … want ‘geslag’ maak mos nie meer saak nie?
Of in die Nuwe Testament,
Het julle nie gelees dat Hy wat hulle gemaak het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie’ en gesê het: Om hierdie rede sal die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees wees.” (Matt. 19:5)
22 Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here … 25 Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, (Ef. 5:22,25)
“Maar soos die gemeente aan Christus onderdanig is, so moet die vroue dit ook in alles aan hul eie mans wees.” – Ef. 5:24
“Maar vanweë die hoererye moet elke man sy eie vrou hê, en elke vrou moet haar eie man hê.” (1 Kor. 7:2)
Dan, volgens vida hermeneutiek?, maak hierdie Tekste ‘vroue en mans’ mos nie ook in ons ‘nuwe moderne tye’ meer saak nie – is nie gesaghebbend en deurslaggewend en deel van ons ‘eenheidswaarheid’ nie – (soos VIDA voorstaanders ook in hul saak redeneer vir in die kerk?), dan kan dit wees: – man en man, en, vrou en vrou, kan met mekaar in die huwelik tree … want ‘geslag’ maak mos nie meer saak in ons ‘moderne tye’ wat ons ‘geslagtekste’ nou ‘anders’ laat lees?
So, almal wat die Here en sy Woord, en sy gemeentes liefhet, as jul werklik glo ‘geslag maak nie saak’ in 1 Tim. 2 en 3 nie, dan moet jul wys:
– waarom ‘geslag wel (skielik?) saak maak’ in Gen. 1; Gen. 2; Matt. 19; Ef. 5; 1 Kor. 7, ens., as ons as kerke die huwelik tussen ‘n man en ‘n vrou handhaaf teen immorele verhoudings en huwelike tussen dieselfde geslag, wat vir God ‘n gruwel is (Rom. 1:25-28; 1 Kor. 6:9-11; 1 Tim. 1:9-11; Judas 7)?
Dus: waarom maak geslag as Godgegewe skeppingsordelike openbaring én bevel vir u ‘nog?’ saak in die huwelik, gesin, samelewing, ens… maar tans nié in die gemeente en die kerkregering in u plaaslike gemeente en ons kerkverband nie?
Aanslag deur die eeue op Christus se kerke
Daar is deur die eeue en ook in veral ons tye, ‘n groot aanslag op God se skeppingsorde en sy onfeilbare Woord se deurslaggewende gesag vandag, en ons moet vra: hoekom sal ons en ons kerkverband die uitsondering wees om wel VIDA te kan handhaaf sonder die woke gay agenda en gevolge?
Wie staan, moet oppas dat hul nie val nie (1 Kor. 10:12-13), veral as ons ook begin om God se skeppingsorde aan te tas en volgens die tydsgees verkeerde Skrifbeskouings begin inbring (sien Paulus se waarskuwing, veral in 2 Tim. 3 en dan 2 Tim. 4:1-5)?
Ek weet dit klink vir u dalk hard, maar dit is in liefde vir die waarheid en vir u almal en ons hele kerkverband (Joh. 14;15; 17:17; Ef. 4:115-16), wat ons moet oproep en mekaar vashou, en in kerkverband en sê, ja, bely:
Die “geslag maak nie saak nie” Skrifbeskouing en kerkregering, is niks anders as ‘n dekmantel vir: God se Woord maak nie meer saak as die finale deurslaggewende gesag in ons kerkregering nie, Christus se Koningskap en kerkregering is dan op die spel (Luk. 6:46, van toepassing op die kerkregering van die Pastorale Briewe!), ons sal eiewiliig Hom dien soos ons wil (volgens die postmoderne behoeftes en tydsgees?). En ons weet God haat eiewillige godsdiens, wat liefdeloos is, en ten einde afgodery is (1 Sam. 15:22,23; Matt. 15:9).
Verder, is ook die 3rde kenmerk van ware kerke (saam in kerkverband) al meer op die spel, as die pad van die liefdevolle kerklike tug nie toegepas gaan word op die gemeentes wat eiewillig in stryd met die Skrif oor kerkregering optree nie, sien NGB art. 29, as hierdie dwalings in Skrifverklaring en kerkregering bloot geakkommodeer gaan word, wat ons bid en hoop nie die geval by sinode 2026, DV, gaan wees nie.
Konklusie en oproep
Ja, en nogmaals ja, daar is ook wel baie ander sake van groot belang wat by die sinode gaan dien, baie sake ook wat nie eers op die Agenda is nie, en daarom moet ons almal altyd verootmoedigend ondersoek doen, bekeer en aanhou reformeer, nie net in die komende week van die sinode nie.
Maar, ons moet wel die goeie stryd stry oor die saak wat nou op die tafel is van ons kerkverband:
Onderliggend aan die VIDA dwaling is ‘n verkeerde ongereformeerde Skrifbeskouing en Skrifverklaring, wat die tydsgees inlees teenoor die Gees se bedoeling, wat lei daartoe dat die gesag van God se Woord aangetas word, sodat wat vir eeue geglo en bely is, nou skielik nie meer die waarheid is nie, o.a. dat slegs geroepe gelowige betroubare mans as ouderlinge mag dien (1 Tim. 2,3; waarna NGB artikel 30 verwys as Skrifgronde).
Mag die Here ons kerke aanhou bewaar, om nie net in sinodebesluite nie, maar elke kerkraad en elke meerdere vergadering wat afdwaal van God se Woord, ons belydenis en KO (sinodebesluite), hul in liefde te vermaan en aan te spreek om,
a) terug te keer, en
b) te bly by wat ons geleer is (2 Tim. 3:14-4:5), met die waarskuwing juis van 1 Tim. 6:3-5, dat o.a. 1 Tim. 2:11-15 wesentlik deel is van die ‘gesonde woorde’ wat ons moet bewaar, dit is deel van wat Paulus heeltyd deur die Pastorale Briewe noem, ”n betroubare woord’ wat ten volle aangeneem moet word (1 Tim. 1:15; 3:1,2; 4:9; 2 Tim. 2:11; Tit. 1:9; 3:8).
__________________________________
BOEKBEKENDSTELLING:
Dopper Kerke – Quo Vadis in 2026?

“EN toe Jesus in die streke van Cesaréa-Filippi kom, vra Hy sy dissipels en sê: Wie sê die mense dat Ek, die Seun van die mens, is? En hulle antwoord: Sommige Johannes die Doper, en sommige Elía, en ander Jeremia of een van die profete. Hy sê vir hulle: Maar julle, wie sê julle is Ek? En Simon Petrus antwoord en sê: U is die Christus, die Seun van die lewende God. Toe antwoord Jesus en sê vir hom: Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is. En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.” (Matt. 16:13–18)
Inhoud:
1. Die Huidige Krisis in die GKSA
2. Die historiese agtergrond
a. 1652 – 1800: een enkel Gereformeerde Kerk
b. 1800 – 1859: Die ontstaan van die drie ‘susterskerke’
c. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk (1843)
d. Die Nederduits Hervormde Kerk (1853)
e. Die Doppers
f. Die Gereformeerde Kerk (1859)
3. Was dit geregverdig?
4. Hoekom het die Doppers die gesange verwerp?
5. Die deformasie in die GKSA: Sinodes van 1939, 1985, 2003
6. Vandag
7. Die Toekoms
8. Sal ‘n daadwerklike skeuring gekeer kan word?
9. Waarin lê ons Hoop?
BYLAAG: ‘n Opebrief aan die redakteur van Die Kerkblad en prof. Amie van Wyk
R50-00 per boekie
BESTEL BY PRO REGNO BOEKE: 082 7702669 of proregno@gmail.com
INLEIDING
Die artikels wat in hierdie publikasie saamgevoeg is, het oorspronklik in die Standard Bearer verskyn (kerklike tydskrif van die Protestant Reformed Churches of America, vol. 80, nrs. 13, 14, 16 (April-Mei 2004).
Dit is in Afrikaans vertaal deur Hannes van Heerden (Diamantvallei Gereformeerde Gemeente). Die skrywer het die terugvoer wat hy ontvang het in hierdie Afrikaanse uitgawe verwerk, waar dit nodig geag is. Heelwat jare het verloop, ek het hier en daar inligting verwerk, aangepas en verder bygewerk (sien veral ook die voetnotas vir nuwe inligting en verloop van sake), maar die wese van die oorspronklike artikels is nog dieselfde. Ek behou ook ouer inligting en sake nogsteeds in die teks vir historiese doeleindes, al het daar al verdere veranderinge en ontwikkelinge plaasgevind tot en met die einde van die jaar 2025 van ons Here Jesus Christus.
Mag hierdie klein bydrae tot ons kerke se geskiedenis van die verlede en hede, vandag se dopper gelowiges help om die volgende woorde in nederigheid van harte na te jaag ook in ons eie tye, tot eer van ons Here en die heil van sy kerke wat saam vergader in die GKSA kerkverband en ander kerkverbande:
“Gedenk julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het; aanskou die uiteinde van hulle lewenswandel en volg hulle geloof na. Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid. Moenie rondgeslinger word deur allerhande en vreemde leringe nie; want dit is goed dat die hart versterk word deur genade, nie deur voedsel nie, waarvan die wat daarin gewandel het, geen voordeel gehad het nie.” (Hebr. 13:7–9)
Slabbert Le Cornu
Carletonville – November 2025
‘n Paar aanhalings uit die publikasie:
“Dit was dan juis presies hierdie twee sake wat Calvyn beklemtoon het, die leer van verlossing én die suiwer erediens, wat bewustelik of onbewustelik op die spel was vir die Dopper gereformeerdes in 1859. In die afvallige kerke van die Kaap, en later in die Vrystaat en die Transvaal, was die leer van die soewereine beskikking van God, sy soewereine genade en uitverkiesing, sy suiwer Evangelie; én, God se soewereine reg om aanbid te word soos wat Hy beveel (en nie volgens die vrysinnigheid van die liberalisme of emosionalisme van die metodisme nie), in gedrang. Beide leringe, redding én die erediens, was die meeste aangeval deur die ingebruikneming van die sogenaamde evangeliese Gesange. En, in elke kerklike stryd, in alle leer, erediens en kerkregeringsake, moet opnuut hierdie twee sake erken en besef word vir bekering en verdere reformasie ook vir ons eie tye, in die goeie stryd wat ons ook vandag moet stry en aanhou stryd tot die einde toe (1 Tim. 6:12; 2 Tim. 4:7).” – S. Le Cornu
“Dit beteken dat ons tans by die grootste meningverskil van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) in sy 144-jarige bestaan uitgekom het. Die meningsverskil is onweerlegbaar, maar ons bede is dat die Here ons van ʼn skeuring sal bewaar.” – Emeritus professor Amie (JH) van Wyk, redakteur van Die Kerkblad, die amptelike kerkblad van die GKSA, in die Desember 2003 uitgawe
In die heel eerste uitgawe van Die Kerkblad na die Sinode (29 Januarie, 2003), het die vorige (uitgaande) redakteur, Prof. GJC Jordaan (professor in NT, by die GKSA teologiese skool, TSP) gewaarsku teen die moontlike nuwe rigting van die GKSA. Hy het tereg genoem dat ons van die Skrif moet gaan na die praktyk en nie van die Praktyk na die Skrif nie. Hy het hierdeur in soveel woorde geïmpliseer dat die huidige krisis in die GKSA teruggebring kan word na verskillende Skrifbeskouings. Histories het die GKSA nog altyd sterk gestaan by wat genoem word openbaringshistoriese of heilshistoriese prediking, en dit blyk nou dat dit besig is om deur ʼn nuwe hermeneutiek vervang te word, of dat dit ten minste ʼn staanplek naas dit verkry, ʼn benadering wat genoem word ʼn sosio-historiese soort van prediking en verstaan van die Skrif. Prof. Jordaan het verder gewaarsku teen die moontlike ekumeniese implikasies van die besluite van die Sinode van 2003. Hierdie besluite kan die kerk teruglei na die NG Kerk in Suid Afrika, die Christelik Gereformeerde Kerk in Noord Amerika en selfs heeltemal terug na die Gereformeerde Kerken in Nederland (waarmee die GKSA reeds bande gebreek het in die 1970’s, vanweë hulle ‘nuwere Skrifbeskouing’ wat gelei het tot liberalisme na VIDA, en daarna homoseksualisme). …
En nou, terwyl ek hierdie byvoeging skryf in November 2025, is (prof. Amie van Wyk) se waarskuwende woorde nog meer relevant, maar dan veral vir gemeentes wat weier om te bekeer en hul te onderwerp aan die Here se wil aangaande die kerkregering, en daarom as’t ware ‘n ‘amptelike’ skeuring op die GKSA wil afdwing by sinode 2026. Die GKSA het ‘n amptelike groot skeuring oor die vertaling-, nagmaal-, NGK samewerking-, rusdag-, Cloeteberyming, ens. kwessies alles oorleef, ongeag dat sommige (insluitende myself!) meen dat in baie van hierdie sake reeds goeie bybelse en konfessionele gronde was en is om af te skei, verder te bekeer en reformeer tot eer van God en die heil van ons kerke! Gaan die GKSA oor die VIDA kwessie, ‘n verdere of amptelike skeuring kan vermy, en sommige sal vra: om juis tot eer van God en die heil van ons kerke, mag ons dit probeer vermy?” – ds. S. Le Cornu, Gereformeerde Kerk Carletonville
R50-00 per boekie
BESTEL BY PRO REGNO BOEKE: 082 7702669 of proregno@gmail.com
_____________________
ANDER BOEKE BESKIKBAAR BY:
https://proregno.com/category/pro-regno-boeke-te-koop/

Leave a comment