Algemene sinode van GKSA 2026 se verdere besluite oor VIDA

In aansluiting wat reeds by sinode 2009 besluit is op grond van die Skrif (geen vroue as ouderlinge nie, 1 Tim. 2; 1 Kor. 14, ens.), asook dat dit ‘n wesentlike saak is wat alle kerke in waarheid en eenheid in die kerkverband saam moet handhaaf (sinodes 2015 en 2016), asook alle sinodes daarna wat beswaarskrifte afgewys het (2016, 2018) teen sinode 2009 en sinodes 2015/6 se besluite oor die saak, het sinode 2026:
1. die Meerderheidsrapport (ook genoem Rapport 1, Agenda 20.5) met oorweldigende meerderheid verwerp, wat gepleit het vir die akkommodering van VIDA in die kerkverband, en
2. die Minderheidsrapport (ook genoem Rapport 2, Agenda 20.6) met oorweldigende meerderheid aanvaar, wat VIDA opnuut verwerp.
Algemene sinode 2023 het die Deputate opdrag gegee om te kom met advies oor “HANTERING VAN KERKLIK BINDING EN NIE-TOEPASSING VAN SINODEBESLUITE”, hoe om nou te handel met daardie klompie gemeentes wat in stryd met die Skrif aanhou susters bevestig en handhaaf in die diens van ouderling.
Rapport 2 is in sy geheel aanvaar, met een amendement (die tydperk van 6 maande verleng na 12 maande), en dit lei as volg (lees dit asb in die geheel van die hele Rapport 2):
-
- Aanbeveling en advies aan Sinode 2026
Die volgende word aanbeveel en as advies aan Sinode 2026 deurgegee. Dit dien tegelyk as antwoord op die twee Beskrywingspunte wat by Sinode 2023 gedien het:
8.1 Die nie-onderhouding van sinodebesluite insake VIDA kom neer op ongehoorsaamheid aan Christus. Die Sinode roep kerke, wat hulle nie aan die Sinodebesluite insake VIDA hou nie, tot bekering en gehoorsaamheid aan Christus op.
8.2 Die nie-onderhouding van Sinodebesluite insake VIDA kom neer op self-losmaking van die kerkverband. Die Sinode roep kerke, wat hulle nie aan die Sinodebesluite insake VIDA hou nie, op om die eenheid in die kerkverband te soek en beleef. Aan die betrokke kerke word TWAALF MAANDE tyd gegee om hulle besluit om vroue in die ouderlingamp te bevestig terug te trek en met die daad reg te stel deur vroue wat wel in die amp bevestig is, losmaking te gee.
8.3 Indien ‘n kerk voortgaan om nie by die Sinodebesluite te hou nie, word met droefheid gekonstateer dat daardie kerk ongehoorsaam aan Christus is en haarself van die GKSA as een kerklike gemeenskap losmaak.
8.4 Die Klassis, in wie se ressort die betrokke kerk is, moet hierdie feit met leedwese konstateer. Indien ‘n Klassis in gebreke bly om dit te doen, sal die betrokke Streeksinode die feit konstateer. Indien die betrokke Streeksinode in gebreke bly om dit te doen, sal ‘n volgende Algemene Sinode dit doen.
8.5 Hierdie konstatering word aan die ander kerke in die kerkverband bekend gemaak.
8.6 Die Sinode wys Deputate aan om Kerke, Klassisse en Streeksinodes van advies te bedien en te help met die uitvoering van bogenoemde. Dit sluit die hantering van praktiese gevolge vir die betrokke kerk in wat haar bande met die GKSA breek (onder meer verpligtinge aan die kerkverband in terme van uitstaande ramings, verdere versorging van emerituspredikante). Die Deputate kan, waar dit benodig en gevra word, met behulp van kundiges regsadvies gee met betrekking tot eiendomme en finansies. Die Deputate moet ampsdraers wees wat hulle aan die besluite van die sinode insake VIDA hou. Die Deputate rapporteer aan die volgende Sinode (KO, Art 49)
Nota: Bogenoemde is ‘n samevatting uit die Agenda van die GKSA 2026 sinode en die besluit wat gevolg het (6 en 7 Januarie 2026), die amptelike bewoording sal in die finale Acta van die sinode later die jaar beskikbaar wees.
Ons dank aan ons hemelse Vader wat ons gereformeerde kerkverband, hoe gebroke ookal, nogsteeds bewaar van verdere afval en deformasie, en lei om aan te hou die goeie stryd van ons kosbare gereformeerde geloof en kerke hier in Afrika te stry tot die einde toe (2 Tim. 3:14 tot 4:8).
Mag die Here ons help om daarom aanhou persoonlik, in elke gesin en gemeente en orals aan te hou bekeer en reformeer deur sy Gees en Woord, want ja, nog baie semper reformanda sake van die verlede en hede wat opnuut aangespreek moet word, maar hierdie besluit van die kerke saam wys in die regte rigting, terug na sy Woord in die krag van die Gees, terug na ‘In U Lig’, terug na ons Here Jesus Christus as ons Verlosser én Koning van sy Kerk.
Aan Hom al die lof en die eer tot in ewigheid! Rom. 11:36.
_____________________________________________________________________________
BOEKBEKENDSTELLING:
Dopper Kerke – Quo Vadis in 2026?

“EN toe Jesus in die streke van Cesaréa-Filippi kom, vra Hy sy dissipels en sê: Wie sê die mense dat Ek, die Seun van die mens, is? En hulle antwoord: Sommige Johannes die Doper, en sommige Elía, en ander Jeremia of een van die profete. Hy sê vir hulle: Maar julle, wie sê julle is Ek? En Simon Petrus antwoord en sê: U is die Christus, die Seun van die lewende God. Toe antwoord Jesus en sê vir hom: Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is. En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.” (Matt. 16:13–18)
Inhoud:
1. Die Huidige Krisis in die GKSA
2. Die historiese agtergrond
a. 1652 – 1800: een enkel Gereformeerde Kerk
b. 1800 – 1859: Die ontstaan van die drie ‘susterskerke’
c. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk (1843)
d. Die Nederduits Hervormde Kerk (1853)
e. Die Doppers
f. Die Gereformeerde Kerk (1859)
3. Was dit geregverdig?
4. Hoekom het die Doppers die gesange verwerp?
5. Die deformasie in die GKSA: Sinodes van 1939, 1985, 2003
6. Vandag
7. Die Toekoms
8. Sal ‘n daadwerklike skeuring gekeer kan word?
9. Waarin lê ons Hoop?
BYLAAG: ‘n Opebrief aan die redakteur van Die Kerkblad en prof. Amie van Wyk
R50-00 per boekie
BESTEL BY PRO REGNO BOEKE: 082 7702669 of proregno@gmail.com
INLEIDING
Die artikels wat in hierdie publikasie saamgevoeg is, het oorspronklik in die Standard Bearer verskyn (kerklike tydskrif van die Protestant Reformed Churches of America, vol. 80, nrs. 13, 14, 16 (April-Mei 2004).
Dit is in Afrikaans vertaal deur Hannes van Heerden (Diamantvallei Gereformeerde Gemeente). Die skrywer het die terugvoer wat hy ontvang het in hierdie Afrikaanse uitgawe verwerk, waar dit nodig geag is. Heelwat jare het verloop, ek het hier en daar inligting verwerk, aangepas en verder bygewerk (sien veral ook die voetnotas vir nuwe inligting en verloop van sake), maar die wese van die oorspronklike artikels is nog dieselfde. Ek behou ook ouer inligting en sake nogsteeds in die teks vir historiese doeleindes, al het daar al verdere veranderinge en ontwikkelinge plaasgevind tot en met die einde van die jaar 2025 van ons Here Jesus Christus.
Mag hierdie klein bydrae tot ons kerke se geskiedenis van die verlede en hede, vandag se dopper gelowiges help om die volgende woorde in nederigheid van harte na te jaag ook in ons eie tye, tot eer van ons Here en die heil van sy kerke wat saam vergader in die GKSA kerkverband en ander kerkverbande:
“Gedenk julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het; aanskou die uiteinde van hulle lewenswandel en volg hulle geloof na. Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid. Moenie rondgeslinger word deur allerhande en vreemde leringe nie; want dit is goed dat die hart versterk word deur genade, nie deur voedsel nie, waarvan die wat daarin gewandel het, geen voordeel gehad het nie.” (Hebr. 13:7–9)
Slabbert Le Cornu
Carletonville – November 2025
‘n Paar aanhalings uit die publikasie:
“Dit was dan juis presies hierdie twee sake wat Calvyn beklemtoon het, die leer van verlossing én die suiwer erediens, wat bewustelik of onbewustelik op die spel was vir die Dopper gereformeerdes in 1859. In die afvallige kerke van die Kaap, en later in die Vrystaat en die Transvaal, was die leer van die soewereine beskikking van God, sy soewereine genade en uitverkiesing, sy suiwer Evangelie; én, God se soewereine reg om aanbid te word soos wat Hy beveel (en nie volgens die vrysinnigheid van die liberalisme of emosionalisme van die metodisme nie), in gedrang. Beide leringe, redding én die erediens, was die meeste aangeval deur die ingebruikneming van die sogenaamde evangeliese Gesange. En, in elke kerklike stryd, in alle leer, erediens en kerkregeringsake, moet opnuut hierdie twee sake erken en besef word vir bekering en verdere reformasie ook vir ons eie tye, in die goeie stryd wat ons ook vandag moet stry en aanhou stryd tot die einde toe (1 Tim. 6:12; 2 Tim. 4:7).” – S. Le Cornu
“Dit beteken dat ons tans by die grootste meningverskil van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) in sy 144-jarige bestaan uitgekom het. Die meningsverskil is onweerlegbaar, maar ons bede is dat die Here ons van ʼn skeuring sal bewaar.” – Emeritus professor Amie (JH) van Wyk, redakteur van Die Kerkblad, die amptelike kerkblad van die GKSA, in die Desember 2003 uitgawe
In die heel eerste uitgawe van Die Kerkblad na die Sinode (29 Januarie, 2003), het die vorige (uitgaande) redakteur, Prof. GJC Jordaan (professor in NT, by die GKSA teologiese skool, TSP) gewaarsku teen die moontlike nuwe rigting van die GKSA. Hy het tereg genoem dat ons van die Skrif moet gaan na die praktyk en nie van die Praktyk na die Skrif nie. Hy het hierdeur in soveel woorde geïmpliseer dat die huidige krisis in die GKSA teruggebring kan word na verskillende Skrifbeskouings. Histories het die GKSA nog altyd sterk gestaan by wat genoem word openbaringshistoriese of heilshistoriese prediking, en dit blyk nou dat dit besig is om deur ʼn nuwe hermeneutiek vervang te word, of dat dit ten minste ʼn staanplek naas dit verkry, ʼn benadering wat genoem word ʼn sosio-historiese soort van prediking en verstaan van die Skrif. Prof. Jordaan het verder gewaarsku teen die moontlike ekumeniese implikasies van die besluite van die Sinode van 2003. Hierdie besluite kan die kerk teruglei na die NG Kerk in Suid Afrika, die Christelik Gereformeerde Kerk in Noord Amerika en selfs heeltemal terug na die Gereformeerde Kerken in Nederland (waarmee die GKSA reeds bande gebreek het in die 1970’s, vanweë hulle ‘nuwere Skrifbeskouing’ wat gelei het tot liberalisme na VIDA, en daarna homoseksualisme). …
En nou, terwyl ek hierdie byvoeging skryf in November 2025, is (prof. Amie van Wyk) se waarskuwende woorde nog meer relevant, maar dan veral vir gemeentes wat weier om te bekeer en hul te onderwerp aan die Here se wil aangaande die kerkregering, en daarom as’t ware ‘n ‘amptelike’ skeuring op die GKSA wil afdwing by sinode 2026. Die GKSA het ‘n amptelike groot skeuring oor die vertaling-, nagmaal-, NGK samewerking-, rusdag-, Cloeteberyming, ens. kwessies alles oorleef, ongeag dat sommige (insluitende myself!) meen dat in baie van hierdie sake reeds goeie bybelse en konfessionele gronde was en is om af te skei, verder te bekeer en reformeer tot eer van God en die heil van ons kerke! Gaan die GKSA oor die VIDA kwessie, ‘n verdere of amptelike skeuring kan vermy, en sommige sal vra: om juis tot eer van God en die heil van ons kerke, mag ons dit probeer vermy?” – ds. S. Le Cornu, Gereformeerde Kerk Carletonville
R50-00 per boekie
BESTEL BY PRO REGNO BOEKE: 082 7702669 of proregno@gmail.com
_____________________
ANDER BOEKE BESKIKBAAR BY:
https://proregno.com/category/pro-regno-boeke-te-koop/

Baie dankie, Slabbert!
Ek is die HERE innig dankbaar oor die besluit van die Algemene Sinode i.s. die vrou in die ouderling-diens. Neels