PREEK: Ons is hartseer én bly oor ons huis van die HERE! (Ps. 122 & 126)

TYDENS AFSKEID NEEM VAN GEBOUE VAN DIE GK CARLETONVILLE

25 JANUARIE 2026

INHOUD:

DEEL 1: Preek tydens afskeid neem van kerkgeboue en pastorie van die GK Carletonville (let wel: die gemeente bly voortbestaan, ons pastorie- en aanbiddingsplek verander net, ons skuif na ‘n huurhuis in Carletonville)

DEEL 2: Paar foto’s van die kerkgeboue en pastorie, paar geskiedenis oorsig foto’s, asook van die dag se verrigtinge

DEEL 1: Preek – Ons is hartseer én bly oor ons huis van die HERE! (Ps. 122 & 126)

Lees: Ps. 122 & 126

Teksverse: “’N BEDEVAARTSLIED. Van Dawid. Ek was bly toe hulle vir my gesê het: Laat ons na die huis van die Here gaan! Ons voete staan in jou poorte, o Jerusalem! … Die HERE het groot dinge aan ons gedoen: ons was bly!… Die wat met trane saai, sal met gejubel maai.” (Ps. 122:1,2 & 126:3,5)

Sing: Ps. 84:1,2,5; 121:1-4; 122:1,2; 116:8,9,10.

Opname (GK Carletonville, 2026-01-25):

Aflaai: Ps. 122 & 126

Preeknotas [die volledige preek is die opname, hier onder is slegs die preek notas]:

Ek was bly toe hulle vir my gesê het: Laat ons na die huis van die Here gaan!” (Psalm 122:1)

3Die Here het groot dinge aan ons gedoen: ons was bly!” (Psalm 126:3)

Geliefde gemeente in Christus,

Vir 70jr was ons bly toe ons na die huis van die Here kon gaan, hier waar ons vandag saam as gemeente is…

Vir 19jr was ons as pastoriegesin bly dat ons as gesin, toe ons hier aangekom het, 5 siele, en later 11 siele… net 20 treë hoef te gestap het om by die huis van die Here uit te kom …. 😉

Ek onthou nog so goed hoe ons in groot liefde verwelkom is, lekker ete onder die lapa … t. Marie Tervit en die susters wat ons hartlik verwelkom het

Die eerste Sondag, my kinders in die boom om nuwe lidmate te ontmoet,

my eerste preek hier (25 Mrt 2007) uit Hand. 18:9,10…. die Here het ook sy kinders in Carletonville!

En nou is ons ook bietjie hartseer, want na 70 jaar, moes ons ons geliefde kerk en pastorie verkoop, ons is 37 lidmate… .

En ons huil nie net oor plek wat afgestaan word nie….. ons huil oor die kosbare herinneringe, ja ook baie baie pyn, hartseer, swakhede, sondes van almal… myself, kerkraad, lidmate…

Ons gaan dit werklik mis om HIER spesifiek, vir so lank op te trek na huis van die HERE, van ver, ons naby, van die pastorie na die kerk, van die kerk na die pastorie.

Iets van wat ons gelees het in Ps. 126,

5Die wat met trane saai, sal met gejubel maai. 6Hy loop aldeur en ween en dra die saadkoring; hy sal sekerlik kom met gejubel en sy gerwe dra” (Psalm 126:5–6)

SO geliefdes, die vraag is: moet ons vandag bly wees of hartseer wees?

Die antwoord in ons Teks, in beide Ps. 122 en 126, is dat ons beide is en moet wees vir verskillende redes!

1. die oproep en blydskap om na die huis van die Here te gaan

Ps.122 en 126 is bedevaarsliedere, pelgrimsliedere, deel van Ps.120-134.

Dit was  liedere wat gesing is deur OT gelowiges wat opgetrek het na Jerusalem, om daar te gaan aanbid, die Here te loof en te prys.

Die toneel van Ps.122 begin met die goeie nuus afkondiging:

Die gelowiges buite Jerusalem wat die uitroep hoor: “Laat ons na die huis van die HERE gaan!”

Ja, dit is tyd om die Here te ontmoet, dit is tyd om mede-gelowiges weer te sien … ek kan nie wag nie !

En dan, na die reis na Jerusalem, dan is die pelgrimsgelowige in Jerusalem, v.2 se woorde: Ons voete staan in jou poorte, o Jerusalem! 

Die tyd van afwagting is verby, nou is die gelowiges in Jerusalem.

Dink maar aan u reis na ‘n vakansieplek, heeltyd die afwagting en verwagting… DAN die werklikheid !

En hier staan die gelowige nou in Jerusalem, sy blydskap, dankbaarheid en waardering ken geen perke nie, daarom, ‘o Jerusalem’ !

O gemeente, WAS DIT NIE ONS BELEWENIS VIR SOVEEL JARE HIER NIE…

Dat ons mekaar vir soveel dekades, jare opgeroep het na die blydskap om na die huis van die Here te gaan!

As pa of ma, VRIENDE, ons oproep om na die huis van die Here te gaan, van sondag tot sondag?

Is ons nog vandag sa bly, ook ons wat ouer word, om na die huis van die Here te gaan?

Kyk ook die belangrike woorde van v. 1 en 2: Daar is ‘n ‘ek’ en ‘my’, dus ons geloof is intiem persoonlik, tussen my en die Here, maar baie belangrik:

daar is ook ‘n ‘Laat ons …’ en ‘n ‘Ons voete …’

Ons geloof is persoonlik, maar nie individualisties nie.

In ons belydeniskrifte is dit ‘ek glo’ en ‘ons glo’… albei!

Wat met my gebeur raak ons, wat met ons gebeur as gemeente raak my …

NIE VAN … LAAT DIE KLOMPIE WAT OOR IS OP HUL EIE AANGAAN NIE… ONS IS SAAM IN DIE SITUASIE… ‘SAAM’ OP PELGRIMSPAD OPPAD NA DIE NUWE JERUSALEM!

Daarom moet ons kerk toe kom, ek en my gesin, man en vrou en kinders.

Ons moet weer bly wees as my ouers my oproep na die huis van die Here!

vriende, ouderlinge…. kom ons trek op, kom ons wees bly…. WAARLIK BLY!

Ons mag weer bly wees as die ouderlinge, of ‘n medegelowige my oproep, om saam na die huis van die Here op te trek, om in sy poorte te gaan staan.

JA, OOK WAAR ONS NOU GAAN OPTREK NA DIE HUIS VAN DIE HERE… OP DIE PLEK WAT DIE HERE NOU VIR ONS GEE …

WAAROM is om op trek na die huis van die HERE so belangrik, ook daar waar die Here ons nou stuur, om DAAR bly te wees?

Die pelgrimsgelowige, staan nou in verwondering daar in Jerusalem in Ps. 122.

En dan gee hy 5 redes om die lof van Jerusalem te besing, hierdie 5 redes wys ook op die oorsaak van die blydskap om na die huis van die Here te gaan,

2.1 3 Jerusalem wat gebou is soos ‘n stad wat goed saamgevoeg is 

Die Here het Jerusalem in die hand van Dawid gegee, hy het dit verower van die heidene, en dit opgebou as ‘n sterk stad, ‘n stad wat polities, militêr en godsdienstig nou sterk gestaan het. 

Daarin word God se sorgende hand gesien, die Here voorsien.

TOEPASSING: die Here voorsien in ons lewens geliefdes, deur alle tye, voorspoed en teespoed, reen en droogte … daarom trek ons op na die huis van die Here omons dankbaarheid te betoon vir sy troue sorg.

TOEPASSING: al is ons hartseer oor ons huidige geboue, is en bly dat die kerk in sy WESE mense, gelowiges, die uitverkorenes wat tot in ewigheid bestaan (NGB art. 27 en HK So. 54) NOTA: (sien die foto aanbieding hier onder meer oor hierdie belangrike waarheid!)

2.2 TWEEDE REDE OM BLY TE WEES: 4 waarheen die stamme optrek, die stamme van die HERE

Dit is waar die Here se kinders vergader, dit wys op die eenheid en liefde tussen sy kinders, WAAR ONS OOKAL IS….

Dit is waar die gemeenskap van die heiliges plaasvind in die besonder, dit is vreemd dat iemand wat kind van God is, nie saam met gelowiges wil verkeer nie … nie wil saam optrek na die huis van die HERE nie … wat allerlei verskonings soek, agter skuil om nie ‘saam op te trek’ na die huis van die HERE nie.

Ja, ons moet ook – baie of min! – optrek as ‘stamme’ as ‘gesinne’ na die nuwe adresplek van ons aanbidding!

2.3 DERDE REDE VIR BLY WEES – 4) ‘n voorskrif vir Israel!

In die wet van Moses het die Here die volk beveel om die plek wat Hy sou uitwys (Israel) om op te soek, dit is dus ‘n bevel van die HERE wat ons oproep om na die huis van die HERE op te trek, ook vandag.

So ook is dit in die NT:

– ons lees bv in Lukas 4 dat Jesus uit gewoonte na die sinagoge gegaan het, en Paulus na Hom die gewoonte gehad het om op die Sabbat na die sinagoge te gaan.

– In Hebr.10:25 lees ons: “…. en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.”

Hoor die oproep van Ps.122 ook in die NT !  Laat ons … ! Laat ek, laat ons!

Jesus sê ook in Joh.14:15, as jy kerkganger, kind van God, my liefhet … bewaar my gebooie … en een van daardie gebooie is die 4de gebod, die rusdag en feesdag vervul in Christus … om na sy huis op te trek!

Dit kind van God verlustig hom in God se goeie wet … ook die goeie DANKBAARHEIDSwet om na sy huis op te trek, dit is vir ons ‘n vreugde, ‘n opgewondenheid!

TOEPASSING: DIE BEVEL VAN DIE HERE, OM OP TE TREK NA SY HUIS… WAAR DIT OOK AL IS … BLY STAAN ONGEAG PLEK, GETALLE EN TYD… HIER BY ONS OU ADRES VIR 73/70 jaar, ook nou ons nuwe adres.

2.4 VIERDE BLYDSKAP: — om die Naam van die HERE te loof. 

Die gelowiges in OT en NT is geskape, die mens, om God te loof en te prys, te aanbid, sy lof te besing !

Dit is die hoofdoel van die gelowige, van die kerk altyd, die aanbidding van God: deur gebed, deur Psalms, deur te bid, deur saam te wees, deur sy wil te doen, deur sy wet aan te hoor, ens.

Kyk wat sê Christus ook in Joh.2, as hy die rowers en diewe uit die tempel van die Here jaag: “My huis moet ‘n huis van gebed wees” (Matt.21:13), dus van aanBIDding.

Die huis van die HERE, gaan oor die aanbididing van die HERE, wat ons ganse lewe bepaal.

2.5 VYFDE BLYDSKAP:  5 Want daar staan die stoele vir die gereg, die stoele van die huis van Dawid. 

Deur die Dawidshuis is die reg weer herstel, is wet en orde weer herstel, is die wet van Moses herstel en gehandhaaf.

Daarom moet ook in die huis van die Here God se wet gehoor word, moet gelowiges hoor wat is reg en verkeerd, wat hul moet glo en nie glo nie, dit moet die vrug wees van hulle wat glo in die evangelie, sien die ware kerk eienskappe in Op. 12:17, beide ‘wet en evangelie’, elkeen in sy regte plek en verhouding volgens die hele Skrif.

En hoekom is hierdie aspek ook so belangrik geliefdes?

HOEKOM SO BELANGRIK OM OP TE TREK NA DIE HUIS VD HERE

Want hoe meer ons God se wet, sy reg hoor, hoe meer besef ons ons kan dit nie volkome nakom nie, daarom dat ons as gereformeerdes aanhou die wet lees in ons erediens, vir baie goeie noodsaaklike redes:

Nie die OT gelowige in Jerusalem nie, ook nie ons vandag nie, kan die wet volkome nakom nie.

En daarom tug die wet ons om ‘n Verlosser te soek, daarom het die OT gelowiges die seremonies en offers gehad, wat versoening moes doen vir al hul sondes, jaar na jaar.

Daarom het hul ook geleef in hul aanbidding, in hul optrek na die huis van die Here, met ‘n verwagting, ‘n hoop vir volkome verlossing van al hul sondes.

Daarom dat hul opgetrek het om te bid in die huis van die Here, dit sien ons in die derde en laaste plek, v. 6-9

3. die gebed vir die huis van Here wat op ons lippe moet wees

6 Bid om die vrede van Jerusalem; mag hulle wat jou liefhet, rustig lewe!  7 Mag daar vrede wees in jou skanse, rus in jou paleise!  8 Ter wille van my broers en my vriende wil ek spreek: Vrede in jou!  9 Ter wille van die huis van die HERE onse God wil ek die goeie vir jou soek. 

Die pelgrim besef, v.9 dat daardie vrede alleen kan kom as die huis van die Here staande bly, dit wat gedoen word by die huis van die Here, die offers en die onderrig kan voortgaan.

En nou weet ons geliefdes, die tabernakel en tempel later is verwoes.

Die OT gelowiges se gehoorsaamheid was maar onvolmaak, ook die offers, soos die NT kerk s’n ook was, ook ons gehoorsaamheid.

Ons as mense kan nie die ware vrede bring, die ware rus nie.

Daarom was dit nodig om te bid dat die volmaakte Verlosser kom, Jesus Christus, Hy wat die tempel en al die offers vervul.

Die tempel het beteken: God se teenwoordigheid, met Christus en die Gees is God nou altyd by ons, sien die hele Hebreërboek!

En geliefdes, hier is dan die belangrikste rede en BLYDSKAP waarom ons na die huis van die HERE optrek: want ons ken nou die Hoof van die Kerk, Jesus Christus!

Dit is ongelukkig ook die hoofrede waarom mens nie optrek na die huis van die Here nie, of nie met blydskap optrek nie: want hulle het nog nie besef wat Christus vir ons gedoen het nie, Christus nog nie waarlik lief om in dankbaarheid en blydskap Hom en sy mede kinders te ontmoet nie !

Ons lees in die NT in Ef.2, iets van die vervulling van Ps.122:

19 So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God,  20 gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is,  21 in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot ‘n heilige tempel in die Here,  22 in wie julle ook saam opgebou word tot ‘n woning van God in die Gees.

ALLEEN in Christus is die gebed om vrede (met God en dan die naaste) geantwoord en vevul, alleen Christus het die volkom offer gebring, dat ons sonde versoen is wat die onvrede gebring het tussen ons en die Here, en ons en ons naaste, dank en prys sy Naam.

Soos Paulus dit beskryf in Rom. 5:1, OMDAT ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus

SLOT

Ja, ons mag hartseer wees oor die afskeid na 70 jaar hier, vir ons pastoriegesin 19 jaar,

MAAR ons blydskap, ons volkome blydskap terwyl ons pelgrims is… is gefundeer in die ewige BELOFTES van God met ons, vir altyd, hier …. en waar ons nou gaan, en dan wie weet, waar die Here ons elkeen gaan voeg in die jare wat kom.

En dan ten einde, gaan ons in die ewige HUIS wees eendag, volkome, met die wederkoms, waarna ons verlang en aanhou gaan hoor en aanbid tot die dag aanbreek, wat ja, die tabernakel, die tempel, en ten einde elke plek van aanbidding, elke kerkgebou roep na die ewige woning, die nuwe hemel en aarde, waar ons volkome gaan woon, die genadige verbondsbelofte tot in ewigheid (Op. 21:3):

1 WANT ons weet dat as ons aardse tentwoning (ons liggame of tydelike lewe, maar ook al ons gesinshuise en kerkhuise – slc) afgebreek word, ons ’n gebou het van God, ’n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele.” (2 Kor 5:1)

Die HERE het vir 70 jaar, vir die gemeente, vir ons pastoriegesin groot dinge gedoen… ons was en is bly…

Onthou, die werklikheid van die pelgrimspad, tot die laaste dag, dit is trane saai, én met gejubel maai, dit is ween maar ook gejubel, dit is dus kruis dra en kroon dra, alles in en deur Jesus Christus, God met ons! (Ps. 126:5,6)

Glo dit, volhard daarin!

En deur die geloof in Christus, weet ons dat Hy het vir sy kinders grootse dinge gedoen het reeds… en sal nog doen (Filp. 1:6; 1 Kor. 15:57, 58)… en daarom is ons bly… midde die trane van afskeid.

“Daarom staan dit ook in die Skrif: Kyk, Ek lê in Sion ’n uitverkore en kosbare hoeksteen (Jesus!), en die wat in Hom glo, sal nooit beskaam word nie.” 1 Petrus 2:6 

Amen.

_____________________________________________________________

DEEL 2: PAAR FOTOS VAN GK CARLETONVILLE SE KERKGEBOUE EN PASTORIE

& PAAR FOTO’S VAN DIE DAG VAN AFSKEID NEEM

PROGRAM VIR AFSKEID NEEM VAN KERKGEBOUE EN PASTORIEHUIS
Datum: Sondag, 25 Januarie 2026

In die kerkgebou:
1 Erediens
2 Afkondigings met praktiese reëlings vir komende week
3 Foto’s neem in die kerkgebou (lidmate en almal teenwoordig)

4 Saalverrigtinge:
4.1 Ds. Slabbert gee kort geskiedenis oorsig van kerkgebou en pastorie
4.2 Enige lidmate en oud-lidmate kry geleentheid om enige staaltjie of herinneringe van die geboue te deel
4.3 Bedankings (oudl. OWN Visser)
4.4 Tafelgebed (oudl. GA Anholts) en Psalmsing (Ps. 136:19)
4.5 Lekker saam kuier en eet! 😋🫡

Lidmate en oud-lidmate

Huidige lidmate

Klompie wonderlike susters en oud-susters van die gemeente, saam hartseer, maar ook bly!

Oud0lidmate Oom Thinus en Tannie Stienie Dreyer, wat gekatkiseer en getroud is, deur ds. Frans de Bruyn (1964-1974)

Lekker saam kuier en eet na die afskeidsdiens

Die laaste keer…. ons getroue, pragtige, liefdevolle, vrolike, asemrowende KOSTER, die beste in die ganse wêreld, wat vir oulaas op afskeidsondag help skoonmaak het voor die erediens begin (by die parkeerarea reg voor ons kerkgeboue), dankbare liefdevolle Spr. 31 dienswerk vir die Koning, en sy gemeente. 🙏

Die pastorie gesin, hartseer en dankbaar bly, ons Here is altyd goed, Hy sorg!

GK Carletonville se plek van aanbidding die afgelope 70 jaar

Drie dogters van Jerusalem by die hoeksteen van GK Carletonville

GK CARLETONVILLE KERKGEBOU 1955 TOT OP HEDE:.

Kerkgebou: Hoeksteenlegging: 7 Mei 1955

DS CMJ VAN VUUREN (1954-1964)

INGEBRUIKNEMING VAN DIE KERKGEBOU
8 OKTOBER 1955

PASTORIE (1954 TOT OP HEDE)

KERKSAAL, 1977 GEBOU

PREDIKING EN KERK TOE GAAN VAN PASTORIE NA KERK … VAN GESLAG TOT GESLAG VIR DIE LE CORNU’S

DS. SLABBERT EN GESIN (2007 TOT OP HEDE….)

DS SLABBERT EN GESIN, JAN. 2026

VERKONDIG DIE WOORD, TYDIG EN ONTYDIG ….

DS. SLABBERT SE INTREEPREEK TEKS OP 24 MAART 2007:

“9En die Here het deur ‘n gesig in die nag aan Paulus gesê: Wees nie bevrees nie, maar spreek en moenie swyg nie; 10want Ek is met jou, en niemand sal die hand aan jou slaan om jou kwaad aan te doen nie, want Ek het baie mense in hierdie stad.” (Hand. 18:9,10)

VERKONDIGING VAN DIE TROOSVOLLE EVANGELIE EN DIE BEDIENING VAN DIE SAKRAMENTE TOT SY LOF EN DIE OPBOU VAN DIE GEMEENTE

Hom verkondig ons, terwyl ons elke mens vermaan en elke mens in alle wysheid onderrig, om elke mens volmaak in Christus Jesus voor te stel.” (Kol. 1:28)

EN DIT IS NIE BEPERK TOT WAAR ONS NOU WAS AS GEMEENTE NIE, OOK BY ONS NUWE AANBIDDINGSPLEK GAAN DIT OOR HOM, CHRISTUS WAT ONS VERKONDIG!

GELOWIGE PELGRIMS WAT ORALS WANDEL DEUR DIE GELOOF, MET TRANE EN BLYDSKAP:

WANT DIE ‘KERK’ IS VLEES EN BLOED MENSE WAT IN JESUS GLO, SOOS ONS IN NAVOLGING VAN DIE SKRIF BELY IN NGB ARTIKEL 27 OOR WAT DIE KERK IS:

Ons glo en bely ’n enige katolieke of algemene kerk, ’n heilige vergadering van almal wat waarlik in Christus glo, wat almal hulle volle saligheid in Jesus Christus verwag en in sy bloed gewas is, geheilig en verseël deur die Heilige Gees. Hierdie kerk was daar van die begin van die wêreld af en sal tot die einde daar wees, want Christus is ’n ewige Koning, wat nooit sonder onderdane kan wees nie. En hierdie heilige kerk word deur God teen die woede van die hele wêreld bewaar, alhoewel dit soms ’n tyd lank baie klein is en dit in die oë van die mense lyk asof dit tot niet gegaan het – soos die Here vir Hom gedurende die gevaarlike tyd onder Agab sewe duisend mense bewaar het wat nie voor Baäl gekniel het nie. Verder is hierdie heilige kerk nie geleë in, gebonde aan of bepaal tot ’n sekere plek of sekere persone nie, maar is die oor die hele wêreld versprei en verstrooi. Tog is dit met hart en wil en deur die krag van die geloof in een en dieselfde Gees saamgevoeg en verenig.

Ps. 46:6; Jer. 31:36; Ps. 102:14; Matt. 28:20; 2 Sam. 7:16; Luk. 1:32; Ps. 89:37; Ps. 110:4; Gen. 22; Rom. 11; 1 Kon. 19:18; 2 Tim. 2:19; Luk. 17:21; Matt. 11:25; Hand. 4:32; Ef. 4:4; 1 Pet. 3:20; Gen. 22:18; Matt. 16:18; Jes. 1:9; Rom. 9:29; Joël 2:32; Hand. 2:21.

SIEN ALMAL KOMENDE SONDAG, 1 FEBRUARIE BY ONS NUWE AANBIDDINGSPLEK: ‘N WARE ‘HUISKERK’, SOOS DIE VROEë KERK! (Hand. 2:46-47) 🙂

“Toe kom Hy in Násaret waar Hy opgevoed was; en soos Hy gewoond was, gaan Hy op die sabbatdag in die sinagoge en staan op om te lees. … Laat ons die belydenis van die hoop onwankelbaar vashou, want Hy wat dit beloof het, is getrou; en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.”  (Lukas 4:16; Hebr. 10:23-25)

_________________________________________

NOG ‘N PAAR FOTO’S

Predikante van die GK Carletonville sedert 1954 tot op hede:

Janse Van Vuuren, Cornelius Marthinus (Fires), 1954 – 1964

De Bruyn, Frans Roelof Petrus, 1964 – 1974

Mulder, Arnoldus Henderikus, 1974 – 1986

Kruger, Izak Jacobus Vorster, 1986 – 2000

Van der Merwe, dr. Rudolph Marthinus, 2000 – 2006

Le Cornu, Slabbert, 2007 – hede

Konsistorie

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑