NA U VERMOË: ‘n Woord oor Bybelse Opvoeding van Ons Kinders

deur
ds. L.H. (oom Lammert) Stavast
INHOUD
VERANTWOORDING
I DIE BYBEL OOR ONS KINDERS
II ONS DOOPBELOFTE
III HUISGODSDIENS
IV HOE, WAT, WANNEER?
V DIE HUISKATKISASIE
VI HELPENDE HANDE
VII SAAM KERK TOE
VIII OOK DIE SKOOL
IX LEWE UIT DIE BYBEL
X ONTHOU U NOG?
VERANTWOORDING
Ons kinders is ons beste belegging; ʼn belegging vir die ewigheid.
Maar baie ouers wat verskriklik besig is in hulle daaglikse arbeid, bestee aan hierdie talente wat God aan hulle toevertrou het, die minste sorg en arbeid.
O ja, aan die tydelike welsyn van ons kinders offer ons nog wel heelwat op: al ons geswoeg en gesweet as ouers gaan immers vir die toekoms van ons kinders, nie waar nie? Maar aan dit wat nog soveel belangriker is: aan die ewige toekoms van ons nageslag, word soveel minder tyd en aandag bestee.
Die skrywer self moes dit met skaamte agterkom.
Om homself en ander ouers op te wek om ernstiger in hulle verbondstaak te arbei, is hierdie werkie geskryf.
Dit is — en dit kan dit in so ʼn kort bestek ook nie wees nie — geen volledige handleiding vir die godsdienstige opvoeding van ons jeug nie.
Dit is alleen maar ʼn hartlike oproep aan ouers om hulle kinders na Jesus Christus, dié inhoud van die Bybel, te bring, om hulle doopbelofte weer doodernstig te neem: om hulle “na u vermoë” te onderrig.
Mag dit as sodanig ryke seën versprei.
L.H. Stavast.
Pastorie, Derdepoort
Herfs 1963.
Laai die volledige boekie hier af: Na u vermoë
‘n Paar aanhalings uit die boekie:
Die Bybel oor ons Kinders
“Daarom roep Paulus ook sy jeugdige metgesel Timothéüs op: “Bewaar jou goeie pand deur die Heilige Gees wat in ons woon!” (2 Tim. 1:14). By Timothéüs kan ons ook die verbondslyn so pragtig volg: “… die ongeveinsde geloof wat in jou is, wat eers gewoon het in jou grootmoeder Loïs en in jou moeder Eunice …” (2 Tim. 1:5).
Ons kinders het dus ʼn unieke plek in die wêreld waarin hulle opgroei. Daardie besondere plek van genade én roeping is aan hulle beteken en verseël in die doop, wat ʼn teken en seël van die verbond is. Ons kinders is gedoopte kinders. En as ons as ouers daardie doop nie “uit gewoonte of bygelowigheid” laat toedien het nie, sal ons daarmee by die opvoeding van ons kinders elke dag rekening hou. “Na u vermoë!”
Ons Doopbelofte
“Die hele onderrig van die kinders in die Skrif bly dus, volgens die afgelegde belofte, die besondere verantwoordelikheid van die ouers! Kerk en skool tree slegs aanvullend en uitbreidend op. Maar ook ten opsigte van die kerklike en skoolonderrig van die kind het die ouer self die eerste en die hoogste verantwoordelikheid. Die ouer moet toesien dat die kind onderrig ontvang én dat daardie onderrig, nie alleen tuis nie maar ook in die kerk en in die skool, die leer is wat “… in die Christelike Kerk alhier geleer word”.
Die Gereformeerde ouer moet dus sorg dat die kind in die Gereformeerde leer, wat die waaragtige en volkome leer van die saligheid is, onderrig word, én deur homself én deur die kategeet én deur die onderwyser.”
Huisgodsdiens
“Die eerste plek waar die doopbelofte uitgevoer moet word, is die huislike kring. Die gebod om die Woord van die HERE by die kinders in te skerp begin dan ook met die bevel om daaroor te praat … as jy in jou huis sit …” Tuis is die domein waar vader en moeder in die eerste plek hulle profetiese, priesterlike en koninklike Christenroeping teenoor mekaar en saam teenoor die kinders moet uitoefen. En een van die middele waardeur hulle hulle roeping as verbondsouers kan uitlewe, is wat ons noem: “Huisgodsdiens”.
“Dit is die vier elemente waaruit dié huisgodsdiens opgebou kan word wat waarlik sy naam werd is: Diens van God in ons huis! Gods Woord, die gebed, die lofsang, die barmhartigheid. Maar, sal u sê: waar haal ons die tyd vandaan om dit gereeld te doen? Hieroor in die volgende hoofstuk.”
Huiskatkisasie
“‘n Belangrike maar ook dikwels verwaarloosde aspek van ons godsdienstige opvoeding is die huis-katkisasie. Hierdie huiskatkisasie moet ten nouste aansluit by die kerklike kategese, ja, moet daarvan die voedingsbron wees. Die predikant, wat volgens sy beroepsbrief verantwoordelik is vir die kategetiese onderrig van die dooplidmate, kan feitlik niks verrig as die huiskatkisasie nie gedurigdeur op peil gehou word nie.”
“Ook op die wyse kan die huiskatkisasie ʼn integrerende deel van die huisgodsdiens vorm sonder tydverspilling. En só word die band tussen kerk en gesin op die natuurlikste wyse verstewig en gaan die kinders die weeklikse katkisasies tegemoet met volle vertroue in hulle kennis van wat geleer moet word. Vir die leraar is dit altyd ʼn genot om kinders uit sulke huisgesinne te mag katkiseer. Hulle sit tenminste nie soos verskrikte diertjies en wag totdat die “kwaai dominee” op hulle sal toesak nie!
Goed gewapende lidmate groei uit huisgesinne waar aan die huiskatkisasie gedurende elke dag van die week voldoende tyd en aandag bestee is. Sulke ouers hoef werklik nie “beskaamd te staan as hulle met die vyande spreek in die poort nie” (Ps. 127:5).”
Helpende Hande
“Maar as u dit nou alles gelees het, sal sommige van u miskien vertwyfeld uitroep, wie is tot dit alles in staat? Ons beskik nie oor die kennis en die bekwaamheid van ʼn opgeleide opvoedkundige om alles só perfek te reël en uit te voer nie! In die eerste plek sou ons wou sê: Probeer dit net, en u sal met verbasing sien wat die eenvoudigste en ongeleerdste ouer kan doen onder die seën van die HERE. God gee nie alleen die opdrag aan verbondsouers om hulle kinders in die weg en wet van die HERE te onderrig nie, Hy gee ook sy bekwaam-makende genade. Dit kom nie op geleerdheid aan nie maar op ʼn liefdevolle hart en ʼn vaste wil in die uitvoering van ons goddelike opdrag. Luister saam met u kinders maar kinderlik na die Woord van die HERE en die vrugte groei vanself aan hierdie boom.”
“Daarom: die beste hulpmiddel by ons godsdienstige opvoeding is dat elke skoolgaande kind sy eie Bybel en Psalmboek moet hê. Dit bring hy na die tafel as daar geëet word, en dit gaan na sy slaapkamer as die aand gedaal het. En vader en moeder sien toe dat daardie Boek ook deur die kind in sy binnekamer gelees word!”
Saam kerk toe
“En een van die eerste plekke buitekant die huis waarheen ouers hulle verbondskinders sal neem, is die kerk. En met die kerk bedoel ons dan in die besonder die weeklikse samekomste van die gemeente van Jesus Christus waaraan ons behoort. ‘Daar ontmoet die Verbondshoof sy verbondsgemeente. Daar is die teken en seël van die verbond aan ons kinders bedien, daar spreek die HERE die Verbondswoord tot sy gemeente, daar staan die tafel van die verbond aangerig en daar beoefen ons in die eerste plek die gemeenskap van die heiliges met die ander bondelinge van die HERE. En tot daardie bondelinge behoort ook ons kinders.
Tot daardie kinders kom dus ook die Woord van die HERE in die samekoms van die gemeente. Daarom hoort ons kinders ook van kleins af gereeld onder die bediening van die Woord te verkeer. Hulle moet in die kerk opgroei, omdat die kerk ook húlle kerk is.”
“Die gesin gaan as gesin kerk toe, en as gesin sit hulle saam. Wat is mooier as ʼn kerkbank vól kinders, aan weerskante van vader en moeder, hulle gesiggies aandagtig opgehef na die kansel? Ek, as dominee, weet nie van iets mooiers in die kerk nie. Jammer dat soveel kerkbanke gedurig leeg is. Daar moes gesinne gesit het. Miskien ú gesin, of hoe? Want dis die Gód van ons huisgesin wat daar wil spreek! “Maar ék en my huis, óns sal die HERE dien”. Ook op Sondag!”
Ook die skool
“‘n Baie belangrike deel van die lewe van ons kinders word deur die skool in beslag geneem. Van hulle sesde lewensjaar af totdat die volwassenheid aan die deur van liggaam en siel klop, is ons binders deel van die skoolgemeenskap. Nie net die oggendure nie maar ook hulle vrye tyd staan onder die invloed van die skool. En deesdae word feitlik die hele lewenstempo van ʼn gesin met skoolgaande kinders deur die skool en sy binne- of buitemuurse aktiwiteite beheers. Die stelling dat die skool die huisgesin beheers, is sekerlik nie te vergesog nie. Hoe dit ook al sy, dit is vir ons tog duidelik dat die skool ʼn geweldige invloed op die godsdienstige lewe van ons kinders het. Mens sou oor hierdie invloed alleen al ʼn boekdeel vol kon skrywe!”
“Direk en indirek het elke vak op skool én elke na-uurse aktiwiteit met die Bybel te doen. Ons gedagtes oor aardrykskunde, biologie, geskiedenis en ons houding teenoor sport, spel en kultuursake het alles te doen met die waarde wat ons aan die Bybel en sy inhoud heg. Die Woord van God is nie maar net ʼn wegwyser na die ewigheid nie, maar dit is ook God se Verbondswet vir sy verbondskinders oor hulle lewe van elke dag. Ook die skool staan onder die gesag van dieselfde Woord as waaronder die huisgesin moet buig.”
“Daar is al duisende kinders met pragtige matrieksyfers die wêreld ingestuur wat juis as gevolg van verkeerde beïnvloeding deur die skool ver-wronge gedagtes oor God en sy werke koester. En só is hulle geen wins vir ons volkslewe nie maar staan hulle oop vir allerlei gevaarlike “winde van verandering” wat ons volksbestaan ondergrawe. Meer as een seun of dogter uit ʼn diep godsdienstige gesin het al deur afgewaterde onderwys geestelik verongeluk. Baie vaders en moeders van ons volk treur vandag oor kinders wat wél ʼn goeie posisie in die maatskaplike lewe beklee maar wat deur hulle “geleerdheid” vir die kerk van die Here verlore is.”
“Die skool moet die verlengde van die huisgesin vorm, maar in baie gevalle leer die kind daar presies die teenoorgestelde van wat hy van kleins af in die huis gehoor het.”
“Ons moet meer aggressief Gereformeerd word! Die vernaamste kenmerk van die Calvinisme was juis altyd dat dit nie ʼn enkele lewensterrein onaangeroer gelaat het nie. Orals moes die woord klink: “So spreek die HERE!” Die Gereformeerde het nog nooit die stryd vermy nie maar dit inteendeel juis gesoek.”
Maar hoe lyk dit dan vir my of ons in die laaste tyd so saf en so — verskoon maar die woord — pap Gereformeerd geword het: bang om teen die algemene opinie in te druis, veral as “geleerder” mense as ons anders dink as wat ons geleer het?
“Ons is — ook as ouers — meer en meer geneig om ʼn sintese, ʼn versoening te soek tussen geloof en wetenskap, in plaas van alles, ook die wetenskap, voor die onverbiddelike eis van totale gehoorsaamheid aan die Woord van die HERE te stel. Ons kinders word daarvan die ewige slagoffers! Dit moet anders word: Gereformeerde ouers moet weer op die slagveld kom; die volle wapenrusting van die geloof moet ook in ons huisgesinne weer aangetrek word! Dit sal vanselfsprekend offers kos om die Skrif ook in die skoolopvoeding van ons kinders weer die plek te laat inneem wat dit toekom. Is ons daartoe bereid? Wat moet dan gedoen word?”
“Iemand het eenmaal vir my gesê: “Julle Gereformeerdes het in die samelewing alleen maar “nuisance-value”. Laat dit so wees: ons kan nie op groot getalle roem nie, maar die waarde van die Gereformeerde beginsel moet ook deur ons as ouers telkens weer op alle terreine van die lewe en nie die minste daar waar dit om ons kinders gaan nie, baie beslis onder die aandag van andersdenkendes gebring word, al beteken dit vir sulkes dan ook alleen maar ʼn “nuisance”.”
“Die meeste van ons is tevrede as daar op ons skole tog maar net uit die Bybel vertel word: dan is dit tog nie onchristelik nie! Bybelgeskiedenis maak geen Christelike skool nie! Geslagte lank stry ons nou al om terug te wen wat ons onder die staatskoolstelsel verloor het, maar ons kan eenvoudig nie vorder nie. Omdat ons as ouers ons verantwoordelikheid afskuif op ander “instansies”. Ons moet weer wakker word: netnou is dit te laat!”
Lewe uit die Bybel
“Dit is waar dit eintlik om gaan in die gelowige opvoeding van ons kinders: om saam met hulle uit die Bybel te lewe! Al ons georganiseer om sake in gesin en samelewing te verbeter sal ons niks baat as ons nie bereid is om ook as ouers in volstrekte gehoorsaamheid aan die Woord van God te leef nie. In ons tye van verdriet mag ons saam met ons gesin troos vind in die Woord van Hom wat gesê het: “Kom na My toe almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee”. Daarin moet ons ons kinders voorgaan.”
“Die Bybel wil nie net voorgelees word nie maar ook voorgelééf! Kinders is opperste pragmatiste; hulle vra: “Wat beteken dit vir my, wat kan ek daarmee doen, wat baat ek daarby?” Ons mag hulle laat sien dat mens baat vind by ʼn Bybelse lewenswandel — tydelike en ewige baat. Dit is ontstellend moeilik. Want ook vader en moeder sit nog so vol van sonde en gebreke. Ook hulle moet telkens uitroep: “Ek ellendige mens: wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?” Watter ouer ken nie daardie stryd dat hy telkens moet erken dat hy nie in praktyk bring wat hy verkondig nie? En ons kinders sien dit so goed raak, ook al sal hulle miskien buig onder die gesag van die “grootmense”. Daar gaan so baie om in ʼn kinderhart waar ons nie van weet nie. Vader en moeder moet dan ook maar telkens weer eerlik wees met hulle kinders en hulle vertel van die swaar stryd wat elke mens met sy sondige natuur het, met die “liggaam van hierdie dood”.”
“Maar nou is dit ook die heerlike in die lewe en werk van ʼn gelowige ouer dat hy nie hoef te bly staan by daardie ellendeklanke van Paulus nie maar dat hy saam met die apostel ook mag juig: “Ek dank God deur Christus Jesus, onse Here!” En dit mag ons aan ons kinders ook vertel: “Dit is ʼn betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word: dat Christus Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red, van wie ek die vernaamste is”. Daar het dit om gegaan by die doop van ons kinders: Jesus Christus … “verseël aan ons dat Hy ons was in sy bloed van al ons sondes … sodat ons van al ons sonde vrygemaak en regverdig voor God gereken word…” En daar gaan dit om in die hele Bybel: Christus is daarvan die “Alfa en die Omega, die begin en die einde”.
“Wie uit daardie eerlike en nederige geloof lewe, ʼn geloof wat geen eiesinnige en selfgenoegsame mense duld nie, die sal ook saam met sy kinders weer kind kan word. Dit is die groot geheim van ʼn Christelike opvoeding: om saam met jou seuns en dogters iets te leer van sonde en genade, van stryd en oorwinning, van die ewige Vaderliefde van God wat daar is in Christus Jesus onse Here. Aan Hom kom toe die lof en die eer en die danksegging. Elke dag: ook in ons gesin. Rondom sy Woord!”
ONTHOU U NOG?
“By die doop van u kinders het u “JA!” gesê op die volgende vrae:
Ten eerste, hoewel ons kinders in sonde ontvang en gebore is, en daarom aan allerhande ellende, ja, aan die verdoemenis self onderworpe is, erken u ewenwel dat hulle in Christus geheilig is en daarom as lidmate van die gemeente behoort gedoop te wees?
Ten tweede, erken u dat die leer wat in die Ou- en Nuwe Testament en in die Artikels van die Christelike geloof vervat is, en in die Christelike Kerk alhier geleer word, die waaragtige en volkome leer van die saligheid is?
Ten derde, beloof u en is dit u voorneme om hierdie kind as dit tot sy verstand gekom het, van wie u die vader en die moeder is, in die leer na u vermoë te onderrig of te laat onderrig?
Hierop het u geantwoord:
Ja!
Onthou u nog?”
_____________________________
Laai die volledige boekie hier af: Na u vermoë
_____________________________
Sien ook hierdie boekie vertaal deur ds. Stavast (saam met dr. Schalk Duvenhage):
Die Reg van die Kinderdoop, ds. Joh. Jansen
Inhoudsopgawe
Voorwoord van die Vertalers
INLEIDING
I. DIE KINDERDOOP EN DIE SKRIF
II. DIE KINDERDOOP EN DIE GELOOF VAN DIE KINDERS
III. DIE KINDERDOOP EN DIE BESNYDENIS
IV. DIE KINDERDOOP EN DIE KERK
V. DIE KINDERDOOP EN DIE BESPRENKELING
“God het sy Kerk in die dae van Abraham gevestig en kinders daarin geplaas. Hulle moet daarin bly totdat Hy hulle daar uithaal. Hy het nêrens hulle uitgehaal nie. Hulle is daarom steeds lidmate van sy Kerk en as sulks geregtig op haar ordinansies. Die doop is een van daardie ordinansies.” – Benjamin Warfield.
“Waar die tug in die kerk verwaarloos word, daar word die kiem geplant vir vraagtekens agter die kinderdoop. As ouers wat leef soos heidene, tugteloos in die kerk geduld sou word en as doopouers aanvaar word, dan groei die vraagtekens rondom die doop van hulle kinders. Laat ons dan ook hierin die dwaling van die verwerping van die kinderdoop teenstaan deur in ons kerke erns te maak met die kerklike tug!” (prof. JC Coetzee, aangehaal deur prof. L. Floor, in sy boek, Die Heilige Doop in die NT, bl. 90)
Leave a comment