Die Reg van die Kinderdoop (deel I: Die Kinderdoop en die Skrif)

DIE REG VAN DIE KINDERDOOP

(deel I: Die Kinderdoop en die Skrif)

deur ds. Joh. Jansen

Uitgegee deur die Deputate vir Evangelisasie lektuur

[Nota: In my onlangse leeswerk oor verbond en doop het ek op hierdie boekie afgekom oor die kinderdoop en deel dit graag. In die teks het ek hier en daar klein vertaling-aanpassings gemaak, beklemtonings bygevoeg, en plaas my eie opmerkings in hakies met my voorletters, slc, vooraan.]

Inhoudsopgawe

Voorwoord van die Vertalers

INLEIDING

I. DIE KINDERDOOP EN DIE SKRIF

II. DIE KINDERDOOP EN DIE GELOOF VAN DIE KINDERS

III. DIE KINDERDOOP EN DIE BESNYDENIS

IV. DIE KINDERDOOP EN DIE KERK

V. DIE KINDERDOOP EN DIE BESPRENKELING

Voorwoord van die Vertalers

Die getalle van Protestante in ons vaderland wat krities en afwykend staan teenoor die kinderdoop, neem nog steeds toe. Onmoontlik is dit om ‘n opsomming te gee van die baie rigtinge en strominge wat die reg van die kinderdoop betwis. Sektes van allerlei naam en aard vind daarin ‘n gemeenskaplike grond waarop hulle teen die Christelike kerke kan te velde trek. In Karl Barth, wat vanaf 1940 die bestaansreg van die kinder­doop heftig begin bestry het, vind al die Baptistiese rigtinge natuurlik ‘n kampvegter van groot formaat.

Die vernaamste argument wat die teëstanders van die kinderdoop aanvoer is sekerlik die bewering dat die kin­derdoop in die Christelike kerk nie op die Skrif berus nie maar op ‘n eeu-oue tradisie. Daarteenoor beroep hulle hul op die Skrif om die volwassedoop en die volwassedoop alleen te regverdig.

En dit is reeds in hierdie opsig waarin die boekie van ds. Jansen so ‘n groot betekenis het, ook vir ons tyd. Dit is Skrifgebonde en Skrifgetrou. Dit benader elkeen van die hoofargumente van die doperse rigtinge vanuit die gesigspunt van die Woord van God en dit ontsenu die argumente op weergalose wyse.

Calvyn het reeds gesê: “Wanneer ‘n sakrament nie op die vaste fondament van die Woord van God steun nie, dan hang dit aan ‘n draadjie.” (Calvyn: Institutie, IV, XVI, I). Jansen bewys in die boekie dat die kinderdoop wel op die Woord van God steun.

Omdat Christene dit soms moeilik vind om genoegsame en afdoende argumente te vind om sektariese aanslae af te weer, het die Evangeliesasiekommissie van die Gereformeerde Kerke van Potchefstroom en Potchefstroom-Noord dit goed gedink om die boekie van ds. Jansen van Nederland te vertaal en in Afrikaans te laat verskyn.

Mag dit tot ryke seën wees vir almal wat ernstig dink oor hierdie teken en seël van Gods Verbond wat ons die kindertjies van gelowige ouers nie mag onthou nie.

Dr. S. C. W. DUVENAGE (Potchefstroom- Noord)

Ds. L. H. STAVAST (Daspoort-Pretoria)

Mei 1958

IMG-20150527-WA0000
Ds. Lammert (LH) Stavast, een van die vertalers, 57 jaar later op sy siekbed (Mei 2015), in Potchefstroom. Ds. Lammert is 89 jaar jonk (Ps.92:13-16).

[Latere byvoeging: ds. Stavast is oorlede op 23 Junie 2015, sien hierdie artikel.]

INLEIDING

Ons vra in die volgende bladsye vir ‘n oomblik u aandag vir die reg van die kinderdoop. Want al is dit volgens die uitdruklike getuienis van die Kerkvaders alreeds van die dae van die Apostels af in gebruik, tog is dit vroeër deur die Wederdopers en word dit vandag deur verskillende sektes nog met krag bestry.

Hulle leer met groot nadruk,

1: dat die kinderdoop nie berus op die Skrif nie,

2: dat klein kindertjies nog nie kan glo nie en, omdat die doop alleen vir die gelowiges bedoel is, hulle dus nie gedoop mag word nie,

3: dat die doop nie in die plek van die besnydenis gekom het nie,

4: dat die kinderdoop eers later deur die kerk ingestel is, en

5: dat die doop alleen deur onderdompeling en nie deur besprenkeling bedien mag word nie.

Ons stel hierteenoor kort en bondig:

1: dat die kin­derdoop wél op die Skrif berus,

2: dat die kinders van gelowige ouers wél gedoop moet word,

3: dat die doop wél in die plek van die besnydenis gekom het,

4: dat die kinderdoop nie eers later deur die Kerk, maar alreeds deur die Apostels ingestel is, en

5: dat die doop nie alleen deur onderdompeling nie, maar ook deur be­sprenkeling bedien mag word.

Vooraf verklaar ons uitdruklik, dat dit ons nie daarom te doen is om persone seer te maak nie. Ons wil graag glo, dat baie werklik uit oortuiging die kinderdoop bestry. Maar ons stel daarteenoor, met net so sterk, so nie nog sterker nadruk, dat ons uit volle oortuiging die reg van die kinderdoop wil verdedig.

Vir die gemak van die leser sal ons bogenoemde punte agtermekaar bespreek.

I. DIE KINDERDOOP EN DIE SKRIF

Die eerste stelling is: die kinderdoop berus wél op die Skrif.

Die Baptiste (en hierby moet ons maar dink aan al die groepe en rigtings wat die kinderdoop bestry, Vert.) ontken dit ten sterkste. Hulle eis van ons: noem dan maar een voorbeeld uit die Skrif dat daar kinders gedoop is; of een teks waarin God beveel, dat hulle gedoop moet word!

Wie daarop geen antwoord kan gee is verslae en staan dikwels verleë. Maar ons ontsê hulle die reg tot hierdie eis.

Hierdie eis is onregverdig en ook onskriftuurlik!

Onregverdig, omdat die Baptiste, net soos ons, verskillende ander geloofstukke uit die Skrif haal sonder dat hulle letterlik en woordelik in die Skrif staan, bv.:

– die Drie-eenheid,

– die voorsienigheid van God,

– die rusdag op die eerste i.p.v. op die sewende dag!

[slc: Daar kan nog die volgende belangrike sake bygevoeg word:

– die Here beveel die nagmaal vir sy kinders, maar ons lees nêrens ‘uitdruklik’ dat ‘vrouens’ spesifiek nagmaal gebruik het nie, beteken dit hul mag nie en dat dit ‘onskriftuurlik’ is?, en,

– die Here se Woord leer dat elkeen wat in Christus glo, gered sal word, maar nie elkeen van sy kinders se naam staan ‘spesifiek of uitdruklik’ in die Bybel gelys nie, beteken dit alleen dat mense wie se name uitdruklik in die Bybel staan wat geglo het, gered is ?

Nee, hierdie twee sake, asook baie ander sake volg uit goeie noodsaaklike afleiding vanuit die geheel van die Skrif (WCF 1.6), om Skrif met Skrif te vergelyk. Ek dink dit is Totius wat iets in die lyn van die volgende gestel het: ons het nie net hier en daar ‘n teks nie, ons het die hele Bybel.

Dit is daarom die verkeerde verstaan en/of gebruik van die regulerende beginsel van die erediens (wat hoofsaaklik in die verbondsdoop voorstaanders se belydenisskrifte te vinde is, saam met die leer van die kinderdoop), wat lei tot die ongeldige en onbybelse redenasie dat die Bybel nie leer dat kinders van gelowiges behoort gedoop te word nie.]

En so is dit ook met die doop.

Nêrens staan tog letterlik in die Bybel dat die water by die doop teken is van Christus se bloed en Gees nie. Wel staan daar van die brood by die Nagmaal: dit is my liggaam en van die drinkbeker: dit is die Nuwe Testament in my bloed. Maar nêrens lees ons van die doopwater: dit is my bloed en Gees, nie.

Tog neem ons teëstanders dit saam met ons aan, omdat dit duidelik uit die Skrif afgelei kan word, bv. uit Hand. 22:16, waar Ananias by Paulus daarop aandring: “Staan op, laat jou doop (nl. met water) en jou sondes afwas” (nl. in die bloed van Christus) .

Kyk verder ook : Hand. 10:47; 1 Joh. 1:7; 1 Kor. 6:11.

En dit is ook baie belangrik, want as die water by die doop nie ‘n teken is van die bloed en die Gees van Christus nie, dan beteken en verseël die doop nie die afwassing van die sondes, die begrafnis van ons ou en die opstanding van ons nuwe mens nie! Die water op homself kan tog nie ons sondes afwas nie. Al sou ons ook in die see gedoop word, dit sou ons nie baat nie. Die hoeveelheid water bewerk dit nie.

Alleen die bloed en die Gees van Christus reinig ons van ons sondes (1 Joh. 1:7; 1 Kor. 6:11).

As ons teëstanders nou saam met ons erken, dat dit nie letterlik in die Skrif staan nie, maar by gesonde en eerlike verklaring uit die grondelemente van die Skrif afgelei kan word, is dit dan eerlik en regverdig om by die vraag wie gedoop moet word, ‘n woordelike bevel te eis: “die klein kinders moet gedoop word”, en anders is die kinderdoop ongeoorloofd?

Buitendien is dit ook onskriftuurlik!

Die Heilige Skrif is tog geen uitgewerkte stelsel van geloofsleer of ‘n wetboek, waarin die titels van die verskillende geloof­stukke agtermekaar voorkom nie, maar dit is die bron van die Godskennis, die goudmyn van die genade, waar­in alleen die grondelemente vir die verskillende geloof­stukke aanwesig is.

Wel, ook die grondelemente vir die kinderdoop lê duidelik in die Skrif. Hulle is kortliks die volgende:

  1. Die Skrif gaan in die N.T. van die volwassedoop uit

Dit kan ook nie anders nie. Die Christelike Kerk was eerste sendingkerk en moes uit bekeerde Jode en Heidene gestig word.

Dit het al begin met Johannes die Doper, wat die doop van bekering tot vergewing van sondes gepreek het, Luk. 3:2, 3; d.w.s. eers moet die Jode hulle bekeer, in die weg van die bekering verkry hulle die ver­gewing van sondes en daarna ontvang hulle die doop as teken en seël van die sondevergewing. Hy het dus alleen die volwasse Jode gedoop wat met berou oor hulle sondes tot God gekom het.

Dit blyk verder uit Matt. 28:19, Gaan dan en onder­wys alle volke, ens. Die volgorde in hierdie teks is: Eers alle volke onderwys, d.i. tot dissipels maak, deur die prediking van die Evangelie; daarna: hulle doop, d.w.s. hierdie dissipels onder die volke, wat deur die prediking van die Evangelie byeengebring is; en verder moet hierdie gedooptes geleer word om alles te onderhou wat Christus beveel het.

Dit blyk ook uit Mark. 16:15. 16: Gaan die hele wêreld in en verkondig die Evangelie aan die ganse mensdom. Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word maar hy wat nie glo nie sal geoordeel Word.

Hier is die volgorde weer: eers die prediking aan die ganse mensdom. d.w.s. aan Jode en Heidene sonder onderskeid, en dan die eis van die geloof as die volstrekte voorwaarde vir saligheid, en ten slotte die doop as die teken van inlywing in die Christelike Kerk. Ge­loof en doop is dus albei noodsaaklik vir die saligheid. Maar daar is verskil in die soort van noodsaaklikheid. Die geloof is volstrek, beslis noodsaaklik: sonder geloof is die saligheid onmoontlik. Die doop egter is betreklik noodsaaklik, nl. uit die oogpunt van gehoorsaamheid aan die bevel van Christus en dien dan tot versterking van die geloof. Want daar staan mos: maar hy wat nie glo nie, (en dan volg daar nie weer: en hy wat nie gedoop is nie) sal veroordeel Word.

  1. Die belofte van die saligheid kom volgens die Skrif nie net aan die volwasse gelowiges nie, maar ook aan hul kinders toe

Alreeds in die O.T. neem God die kinders van die gelowiges saam met hulle ouers in die genadeverbond op.

– Die grondslag lê alreeds in die moederbelofte, Gen. 3:15, want die Here stel vyandskap nie net tussen die slang en Eva nie, maar ook tussen die saad van die vrou, d.w.s. haar gelowige nageslag, wat op Christus uitloop, en die saad van die slang, d.w.s. haar ongelowige nage­slag, wat die Satan as geestelike vader het.

– By Abraham is dit nog duideliker. Die Here sê vir hom nie net: om vir jou ‘n God te wees, nie, maar Hy voeg daarby: en vir jou nageslag na jou (Gen. 17:7). As die bestryders van die kinderdoop gelyk sou gehad het, sou daar alleen staan: Ek sal vir jou ‘n God wees en ook nog nie: van jou nageslag nie. Tog reken die Here die nageslag van Abraham daarby.-

Maar in die N.T. is dit nog duideliker. Dit blyk onmiddellik al op die Pinksterfees. Diegene wat so diep in hulle hart getref was, vra: “Wat moet ons doen, broeders?” En dan antwoord Petrus: “Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus”, ens. Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here ons God na Hom sal roep” (Hand. 2:39).

Die belofte is die belofte van die uitstorting van die Heilige Gees, Joël 2.28 e.v. en alles wat daarin opgesluit is. Die be­lofte kom julle toe, sê Petrus tot hulle wat getref was, d.w.s. dit is van julle, julle het daar reg op, dit is julle regmatige eiendom.

En julle kinders, d.w.s. die klein kinders van daardie mense wat in hulle hart getref was.

Wel sê die bestryders van die kinderdoop: hierdie kinders is geen klein kinders, maar geestelikes, wedergebore en dus volwasse kinders, want Joël het gespreek van seuns en dogters, diensknegte en diensmaagde, en aan die slot van hierdie vers staan: “die wat die Here onse God na Hom sal roep”.

Maar alreeds Calvyn het opgemerk hoe ongerymd hierdie verklaring is.

Petrus het tot die getroffenes onder die breë Joodse skare gespreek en sê: “Daar lê ou beloftes vir julle en ook vir julle kinders, d.w.s. vir julle nageslag.”‘ Petrus spreek hier nie van volwassenes nie, maar van kinders sonder verdere bepaling, dus van klein en groot kinders in die algemeen.

In die oorspronklike taal staan daar: teknon, d.i. kind, van tiktoo, d.i. om te baar, om voort te bring. Dit sien dus baie meer op klein, onmondige, as op groot en mondige kinders. God het ons en ons kinders in genade aangeneem en daarom ook sy belofte geskenk.

  1. Daarby kom nog, dat gesinne in die geheel deur die doop in die Christelike Kerk ingelyf word, nl. die huisgesin van Cornelius (Hand. 10:2, 47) van Lydia (Hand. 16:14-15), van die Sipier (Hand. 16:30-34); van Crispus (Hand. 18:8); en van Stefanus (1 Kor. 1:16)

Oor hierdie vyf gesinne wil ons ‘n paar opmerkings maak.

(a) Hierdie gesinne is baie betwiste getuienisse. Die teëstanders van die kinderdoop sê: daar staan glad nie dat daar kinders in daardie gesinne was nie; julle veronderstel dit wel, maar dit staan daar nie, en julle mag tog nie op ‘n veronderstelling gaan bou nie, want so ‘n veronderstelling is geen sekerheid!

Ons van ons kant sê weer: Julle veronderstel, dat daar in hierdie vyf huisgesinne geen kinders was nie en dat hierdie huisgesinne, sonder dat die Skrif daarvan melding maak, uitsonderinge was op wat die Bybel gewoonlik onder ‘n huisgesin verstaan.

Ons gaan dus uit van die reël, wat Skrif en natuur albei aangee, dat tot ‘n huisgesin gewoonlik ook kinders behoort.

Ons teëstanders gaan egter uit van die gedagte, dat al vyf huisgesinne kinderloos was; en dit, sonder dat die Skrif daarvoor enige aanwysing gee!

Al staan dit ook nie uitdruklik daarby nie, waarskynlik is dit wel, dat ook hierdie ouers met kinders geseën was. En as daar wel kinders was, is hulle ook saam gedoop, want,

– Cornelius was vroom saam met sy hele huis (Hand. 10:2), en

– Petrus het beveel dat hulle gedoop moet word in die Naam van die Here (Hand. 10:48).

– Lydia is gedoop en haar huis (Hand. 16:15),

– die Sipier van Filippi is onmiddellik gedoop en al sy mense (Hand. 16:33),

– Crispus, die hoof van die sinagoge, het met sy hele huisgesin in die Here geglo en ook hy is met sy mense gedoop (Hand. 18:8); en

– Stefanus is met sy huisgesin deur Paulus gedoop (1 Kor. 1:16).

Inderdaad is hierdie gesinne sterk bewyse e silentio, d.w.s. stilswyende bewyse.

(b) Die krag van bewys lê egter nie in die besonder in die waarskynlikheid dat daar kinders was nie, maar baie meer in die feit, dat nie alleen die hoofde van hierdie gesinne, wat bekeerd is, maar ook die ander gesinslede deur die doop in die Kerk ingelyf is.

Die grondverskil tussen die voorstanders van die sg. “grootdoop” en ons lê in die individualistiese en organiese doopsbeskouing.

– Hulle gaan uit van die gedagte dat God die genade individualisties meedeel, d.w.s. dat Hy hier en daar iemand tot bekering bring sonder verdere verband met mekaar.

– Ons glo, dat God die genade organies mee­deel, d.w.s. dat Hy die afsonderlike uitverkorenes in die lyn van die geslagte verkies.

As hulle gelyk het, dan moes alleen die hoofde van genoemde gesinne toegebring gewees het en uiters nog enkele lede van hulle gesinne afsonderlik, maar nie die hele gesinne gesamentlik nie. Nou dat egter hierdie hele gesinne ingelyf is, blyk duidelik, dat Hy sy genade in die lyn van die ge­slagte voortplant.

(c) Ons laaste opmerking is, dat dit volgens ons bestryders alleen die volwasse huisgenote was wat gedoop is. Onbewuste kinders kan die prediking nog nie bewus hoor en nog nie glo en mag dus ook nie gedoop word nie. As daar in Hand. 16:32 staan, dat Paulus en Silas die Woord van die Here spreek tot almal wat in sy huis was, dan sluit dit volgens ons teëstanders die onbewuste kinders uit.

Maar ons vra: hoekom?

Preek ons ook nie tot die onbewuste kinders nie?

Lees ons die Skrif ook nie vir al die huisgenote, vir die kinders net so goed as vir die volwassenes nie?

Maar die onbewuste kinders kan tog nog nie bewus hoor en glo nie en die tronkbewaarder het hom verheug, dat hy met al sy mense gelowig geword het. Al die huisgenote het gelowig geword en dit kan klein kinders nog nie!

Ons antwoord: Klein kinders hoor meer as wat ons dink!

En al kan hulle nog nie met ‘n heldere besef glo nie, tog kan hulle die beginsel van die geloof besit en daarom as gelowige gesinslede saamgereken word.

Watter vrees het ons teëstanders tog vir die saligheid van die klein kindertjies!

Ons dink, dat Jesus sou sê: “Laat die kindertjies staan en verhinder hulle nie . . . want aan sulkes behoort die koninkryk van die hemele” (Matt. 19:14).

  1. Die kinders uit ‘n gemengde huwelik, waarin een van die huisgenote gelowig geword het, word by die gelowiges gereken (I Kor. 7:14).

In die gemeente van Korinthe was daar gemengde huwelike, omdat een van die twee heidense eggenotes later deur die prediking van die Evangelie tot bekering gekom het. Daardie gelowige manne of vroue het daar nou amper gewetensbeswaar teen gehad om met die ongelowige party te bly saamwoon. Hulle het daarom met hierdie probleem na Paulus gekom.

En hy antwoord, dat ‘n gelowige man, wat ‘n ongelowige vrou het wat egter tevrede is om by hom te bly, haar nie mag verlaat nie, en vir ‘n gelowige vrou geld dieselfde. Sy mag haar ongelowige man nie verlaat nie. Die gelowige party mag van die ongeloof van die ander party geen grond vir egskeiding maak nie. Dit bewys hy dan verder in vers 14, waar hy uitdruklik verklaar, dat so ‘n huwelik ‘n Christelike huwelik is:

“Want die ongelowige man is (deur sy huweliksgemeenskap met die gelowige vrou) geheilig (d.w.s. uitwendig in die christelike huwelik en in die christelike lewensfeer opgeneem, sonder om nog inwendig geheilig, d.i. wedergebore te wees) ; en die ongelowige vrou is geheilig deur die man.”

En hierdie laaste saak, nl. dat die ongelowige party deur die huweliksgemeenskap met die gelowige party geheilig is, d.i. uitwendig in die christelike lewensfeer opgeneem word sodat ons daar met ‘n christelike huwelik te doen het bewys hy met hierdie toevoeging:

“Want anders sou julle kinders onrein wees, maar nou is hulle heilig”.

Laat ons nou maar vir ‘n oomblik, soos sommige en ook ons teëstanders doen, hierdie heiligheid van die kinders in uitwendige sin opvat, dan wil dit tog in alle geval sê, dat dit kinders uit ‘n christelike gesin, en dus verbondskinders is en dan sou hulle selfs op hierdie standpunt nog reg op die doop hê!

Maar daar is ander, soos bv. Calvyn, wat hierdie heiliging anders opvat. Hier­die ongelowige manne is heilig, nie in uitwendige sin nie, maar alleen insake die huweliksgemeenskap met die gelowige vroue en omgekeerd. Die huweliksgemeenskap met die onheilige man het vir die gelowige vrou geen onheilige gevolge gehad nie: “Want anders sou julle kinders onrein wees, maar nou is hulle heilig”.

Paulus ontleen hier ‘n bewysgrond aan die gevolg: julle meen dat julle huwelik voortaan onrein is, maar as dit waar sou wees, sou die kinders, wat daaruit gebore is, ook onrein wees; maar hulle is heilig, dus is u huwelik ook nog heilig en mag u van u kant nie skei nie. Die woord heilig wil hier dan sê, dat die kinders van die vloek, wat van nature op hulle lê, verlos is en in die genadeverbond opgeneem is en dus in beginsel deel het aan die genade-weldade van die verbond en dus ook reg het op die doop.

Nou weet ons wel, dat die wederdoperse sektes nie met hierdie opvatting saamstem nie. Maar nou moet hulle tog nie met soveel stelligheid verklaar: die eerste opvatting is die enigste wat reg is en die ander opvat­ting is totaal verkeerd nie. Dis opmerklik, dat ervare en vroom wetenskaplike godgeleerdes van die hoogste rang baie beskeie is en aan iemand anders se standpunt gewoonlik laat reg geskied; maar dat tweederangse geleerdes dikwels gekenmerk word deur opmerkings soos: So is dit en anders kan dit nie wees nie; die sterkste bewys teen die kinderdoop is 1 Kor. 7:14, ens.!

Ons sien in 1 Kor. 7:14 juis een van die sterkste bewyse vir die kinderdoop, want as die kinders uit so ‘n gemengde huwelik heilig is, in die genadeverbond op­geneem is en dus reg op die doop het, des te meer dan tog die kinders uit ‘n heeltemal gelowige huwelik.

5. En ten slotte stel ons die vraag: het Christus ook nie vir ons kinders gesterf en het hulle ook nie aan Christus deel nie?

Lees maar self wat Jesus hiervan sê in Matt. 21 :16.

Die owerpriesters en skrifgeleerdes het Hom baie kwalik geneem, dat Hy Homself deur kin­ders laat hulde bewys het. Hulle roep Hom in groot woede toe: “Hoor U wat hulle daar sê?” en Jesus ant­woord hulle: “Ja, het julle nooit gelees: uit die mond van klein kinders en suigelinge het U vir U lof berei nie?”

As God nou aan die kinders sy genade nie onthou nie, sal ons aan hulle dan die teken van die genade ont­hou?

Dit mag mos nie!

Volgende keer: II. Die kinderdoop en die geloof van die kinders

Die res van die reeks: Die Reg van die Kinderdoop

Ander artikels oor die doop: Verbondsdoop

PDF uitgawe van die hele reeks: Die Reg van die Kinderdoop

7 thoughts on “Die Reg van die Kinderdoop (deel I: Die Kinderdoop en die Skrif)

Add yours

  1. EEN VAN MY ERVARINGE MET OOM LAMMERT STAVAST

    Het ‘n paar wonderlike gesprekke gehad met oom Lammert in my studiejare daar in Potch, 2002-2006. Een kan ek nog goed onthou, toe hy baie erg verstik het aan ‘n stukkie vleis toe hy eenkeer saam gaan uiteet het met een van sy seuns (dink dit was Arie, maar nie seker nie?), en die dokters met ‘n groot operasie die ‘stuk bees’ uit sy slukderm moes verwyder… toe ek daar aankom vir die besoek, ruk hy sy hemp oop en wys vr my sy ‘battle scars’.. en toe vertel hy vir my, soos net hy ‘n storie kon vertel:

    “Slabbert, ek lê daar en wag in die gang vir my operasie … daar kom so jong doktertjie aangestap wat lus is vir gesels, hy sien toe ek is een van die ouer geslag, en wou deur allerlei praatjies my seker wakker en aan die lewe hou … hy begin my toe allerhande vrae vra oor die Tweede Wêreldoorlog … en dit, terwyl ek vir hom wil uitroep, stop! … kan jy nie sien ek is al besig om te veg in die Derde Wêreldoorlog nie!!!…” 😬

    Ons kon ook diep ernstig saampraat en saambid, oor ons liefde en besorgdheid vir die GKSA se toekoms. Toe ek in die NGK was as jongseun (nog laerskool), was daar een NG predikant wat ‘n baie groot indruk gemaak het op my, toe ek as jongseun nog nie veel sin uitgemaak het van die wêreld om my nie, en dit was dr. Willie Marais. As hy gepreek het, het hy ‘Bybelikaans’ gepraat, aangrypend … dieselfde was dit vir my die paar keer wat ek vir ds. Lammert hoor preek het, hy was vol van die Here se Woord en kon met soveel vrymoedigheid en oortuiging uit die geheue preek uit dekades lange omgaan met die evangelie en die Here se Woord. Was dankbaar dat ek ook sy begrafnis kon bywoon.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: