“Hieruit blyk hoe sorgvuldig hy die geloof van die sakrament onderskei”: Calvyn se bybels-onderskeidende verklaring van Romeine 4:11-13 aangaande die verbond

“Hieruit blyk hoe sorgvuldig hy die geloof van die sakrament onderskei”: Calvyn se bybels-onderskeidende verklaring van Romeine 4:11-13 aangaande die verbond

“11En hy het die teken van die besnydenis ontvang as ‘n seël van die geregtigheid van die geloof toe hy nog nie besny was nie; dat hy die vader sou wees van almal wat glo terwyl hulle onbesnede is, sodat ook aan hulle die geregtigheid toegereken sou word; 12en ook ‘n vader van die besnydenis vir die wat nie alleen uit die besnydenis is nie, maar ook wandel in die voetstappe van die geloof van ons vader Abraham toe hy onbesnede was. 13Want die belofte dat hy erfgenaam van die wêreld sou wees, het Abraham of sy nageslag nie deur die wet verkry nie, maar deur die geregtigheid van die geloof.” – Romeine 4

 “Verder, hoewel die sakramente én die sake waarvan hulle tekens is, bymekaar hoort, word nie beide deur alle mense ontvang nie. Die goddelose mens ontvang wel die sakrament tot sy verdoemenis, maar hy ontvang nie die waarheid van die sakrament nie. So het Judas en Simon die towenaar albei wel die sakrament ontvang maar nie Christus, wat daardeur voorgestel word nie; Hy word slegs aan die gelowiges gegee.” – NGB artikel 35

Calvyn se verklaring:

En hy het die teken van die besnydenis ontvang … In afwagting van ’n beswaar toon hy aan dat die besnydenis tog nie ydel en oorbodig was nie, al het dit nie regverdig gemaak nie; maar dit het beslis ’n ander merkwaardige nut gehad, naamlik om die geregtigheid van die geloof te verseël en as ’t ware te bekragtig.

 En intussen gee hy uit die doel self te kenne dat dit nie die oorsaak van die geregtigheid is nie. Dit streef naamlik na die bevestiging van die geregtigheid van die geloof, en wel die geregtigheid van die geloof wat reeds in die onbesnedenheid verleen is. Daarom ontneem of onttrek hy niks daaraan nie.

Verder het ons hier ’n merkwaardige passasie oor die algemene gebruik van die sakramente; want dit is seëls (volgens die getuienis van Paulus) waardeur sowel die beloftes van God, op een of ander manier, in ons harte ingeprent word en die sekerheid van die genade gewaarborg word.

En hoewel dit (die sakramente) uit sigself niks help nie, het God, wat dit gewil het as middele van sy genade, tog deur die verborge genade van sy Gees bewerk dat die uitwerking daarvan in die uitverkorenes nie sal ontbreek nie.

En hoewel dit vir die verworpenes slegs dooie en nuttelose simbole is, behou dit altyd hul krag en eie aard, want hoewel ons ongelowigheid ons beroof van die vrug daarvan, verswak of blus dit die waarheid van God tog nie uit nie. Dit bly dus vasstaan dat hierdie heilige simbole getuienisse is, waardeur God sy genade aan ons harte verseël.

Oor die teken van die besnydenis moet besonderlik opgemerk word dat ’n tweevoudige genade daarin verteenwoordig was. God het aan Abraham die geseënde saad beloof, waaruit die saligheid deur die hele wêreld verwag was.

Hiervan was daardie belofte afhanklik: Ek sal vir jou ’n God wees (Gen. 17:7). Daarom was die onverdiende versoening met God in daardie teken ingesluit. En die ooreenkomende saak het hierby gepas, dat die gelowiges sal uitsien na die beloofde saad.

Aan die ander kant, vereis God ’n regskape en heilige lewe; Hy het deur die teken aangetoon op watter manier daartoe gekom word, naamlik dan wanneer in die mens besny word wat ook al in die vlees gebore word, aangesien sy hele natuur verdorwe is. Deur die uitwendige teken het Hy Abraham vermaan sodat hy die verdorwenheid van sy vlees geestelik sal besny, waarop ook Moses sinspeel in Deuteronómium 10:16.

Om aan te dui dat dit nie die werk van ’n mens is nie, maar van God, wou Hy dat die tere suigelinge besny word, wat weens hul ouderdom nie die opdrag kon uitvoer nie. Want dat die geestelike besnydenis ’n werk van die goddelike krag is, het Moses nie verswyg nie, soos jy dit vind in Deuteronómium 30:6: En die Here jou God sal jou hart besny … Die profete het dieselfde later duideliker verklaar.

Ten slotte, soos daar hedendaags in die doop twee dele is, was daar destyds in die besnydenis ook twee dele; daar word naamlik getuig oor die vernuwing van die lewe sowel as die vergewing van sondes. Dat in die persoon van Abraham die besnydenis na die geregtigheid gekom het, vind nie altyd plaas in die sakramente nie, soos blyk in die geval van Isak en sy nageslag. Maar God wou eens van die begin af sodanige teken gee, sodat niemand die saligheid aan uitwendige sake sal verbind nie.

dat hy die vader sou wees … Let op hoe die besnydenis van Abraham ons geloof oor die onverdiende geregtigheid bevestig; want dit is ’n verseëling van die geregtigheid van die geloof, sodat die geregtigheid ook aan ons wat glo, toegereken word. En met so ’n uitsonderlike behendigheid het Paulus teen die teenstanders dit omgedraai, wat hulle kon teenwerp.

Indien immers die waarheid en krag self van die besnydenis in die onbesnedenheid geleë is, is daar geen rede waarom die Jode hulleself soseer bo die heidene sou verhef nie. Maar aangesien daar onsekerheid kan ontstaan of ons nie ook volgens die voorbeeld van Abraham dieselfde geregtigheid behoort te bevestig deur die seël van die besnydenis nie, waarom het die apostel dit verbygegaan? Naamlik omdat hy gedink het dat die vraagstuk genoegsaam uit sy woorde afgelei kan word. Waar daar immers aan hierdie stelling toegegee was, naamlik dat die besnydenis alleen dien tot verseëling van die genade van God, volg daaruit dat dit vir ons, wat ’n teken het wat deur God in die plek daarvan gestel is, vandag oorbodig is. Omdat daar dus, waar die doop is, vir die besnydenis geen nut oorbly nie, wou hy nie tevergeefs debatteer oor iets wat hoegenaamd nie twyfelagtig was nie, naamlik waarom die geregtigheid van die geloof nie in die heidene verseël word as hulle gelyk staan met Abraham nie.

Glo terwyl hulle onbesnede is beteken dat die heidene, tevrede met hul lot, nie die teken van die besnydenis instel nie. …

en ook ’n vader van die besnydenis vir die wat nie alleen uit die besnydenis is nieIs word hier gebruik in die plek van gereken word as. Want hy handel hier oor die vleeslike kinders van Abraham, wat buite die uitwendige besnydenis niks het om met vertroue op te roem nie. Daardie ander saak, wat die vernaamste is, verwaarloos hulle, naamlik om die geloof van Abraham na te volg, waardeur alleen hy die saligheid verkry het. Hieruit blyk hoe sorgvuldig hy die geloof van die sakrament onderskei; nie alleen sodat niemand met die sakrament sonder die geloof tevrede sal wees nie, asof dit vir regverdigmaking genoegsaam is, maar ook sodat dit (die geloof) alleen alle dele sal vervul.

Want terwyl hy te kenne gee dat die Jode, wat besny is, geregverdig word, beperk hy dit uitdruklik tot hulle wat in die blote geloof die voorbeeld van Abraham navolg. Want wat bedoel hy met geloof in die onbesnedenheid anders as om daarmee aan te toon dat die geloof alleen genoegsaam is sonder hulp van elders?

Pas derhalwe op dat niemand deur verdeling die twee oorsake van regverdigmaking sal vermeng nie. Die leerstuk van die skolastiek oor die onderskeid tussen die sakramente van die Ou en Nuwe Testament word deur dieselfde redenering weerlê; want hulle ontneem die krag van regverdigmaking aan die een (die Ou Testament) en skryf dit toe aan die ander (die Nuwe Testament). En as Paulus met reg redeneer dat Abraham deur die geloof geregverdig is, bewys hy dat die besnydenis uit sy eie nie kan regverdig nie. By ons geld ook dieselfde redenering, sodat ons sal ontken dat mense deur die doop geregverdig word, omdat hulle deur dieselfde geloof geregverdig word as Abraham.

Want die belofte … Die teenstelling van die wet en die geloof, wat hy vroeër aangeraak het, herhaal hy nou duideliker en daar moet noukeurig daarop gelet word; want as die geloof niks om te regverdig ontleen aan die wet nie, weet ons daaruit dat dit op niks anders terugsien as die barmhartigheid van God nie.

Verder kan die versinsel van hulle wat wil beweer dat dit van die seremonies gesê word, sonder moeite weerlê word. Want as die werke iets bydra tot die regverdigmaking, sou dit eerder gesê moes wees dat dit nie deur die geskrewe wet nie maar deur die wet van die natuur so is. Maar Paulus stel nie die geestelike heiligheid van die lewe teenoor die seremonies nie, maar die geloof en die geregtigheid daarvan.

Die hoofsom is dus dat ’n erfenis aan Abraham beloof is, nie omdat hy dit deur die onderhouding van die wet verdien het nie, maar omdat hy deur die geloof geregtigheid verkry het.

En sekerlik is dit (soos Paulus aanstons sal opmerk) dat die gewetens eers dan vaste vrede geniet wanneer dit aanvoel dat dit wat regtens nie verskuldig is nie, onverdiend gegee is. Hieruit volg ook dat dit ’n algemene voorreg is wat vir die heidene nie minder as vir die Jode geld nie, omdat die rede daarvan vir albei dieselfde is. Want as die saligheid van mense alleen op die goedheid van God gegrond is, verhinder en belemmer hulle wat die heidene daarvan uitsluit, die gang daarvan so ver dit in hul vermoë is.

dat hy erfgenaam van die wêreld sou wees … Aangesien daar nou gehandel word oor die ewige saligheid, lyk dit asof Paulus enigsins onvanpas die leser na die wêreld lei, maar hy verstaan oor die algemeen onder hierdie woord (wêreld) die heroprigting wat van Christus te wagte was. Die herstel van die lewe was inderdaad die vernaamste saak. Tog moet die vervalle staat van die hele wêreld herstel word.

Daarom noem die apostel in Hebreërs 1:2 Christus die erfgenaam van al God se goedere, omdat die aanneming wat ons deur sy genade verkry het, vir ons die besit van die erfenis herstel wat ons in Adam verloor het.

Aangesien onder die voorbeeld van die land Kanaän nie alleen die hoop op die hemelse lewe aan Abraham voorgehou was nie, maar ook die volle en ware seëning van God, leer die apostel met reg dat aan hom die heerskappy van die wêreld beloof was.

Hiervan proe die gelowiges iets in die teenwoordige tyd, want hoeveel hulle ook al deur moeilikhede van armoede dikwels onder druk geplaas word, tog het hulle met ’n geruste gewete deel aan dit wat God vir hulle gebruik geskep het en geniet hulle deur sy genade en goeie wil die aardse voorregte nie anders as pandgawes en begingelde van die ewige lewe nie, en verhoed hul armoede hulle geensins om die hemel, die aarde en die see te erken as dit wat regtens aan hulle behoort nie.

Hoewel die goddelose hulle ooreet aan die skatte van die wêreld, kan hulle niks hul eie noem nie; dit is eerder so dat hulle dit deur diefstal aangryp, aangesien hulle dit onder die vervloeking van God misbruik.

Vir die gelowiges is dit in hul armoede ’n vertroosting dat in ’n karige bestaan, hulle tog niks van ’n ander steel nie, maar dat hulle uit die hand van die hemelse Vader ’n wettige toelaag ontvang, totdat hulle die volledige besit van hul erfenis ontvang, terwyl alle skepsels hulle eer sal dien.

Want tot hierdie doel sal die aarde en die hemel vernuwe word, sodat elkeen op sy eie manier ’n deel mag bydra tot die uitbeelding van die koninkryk van God.”

__________________________

Bron: Kommentaar – Romeine (vertaal deur prof. S. Postma), Potchefstroom, CBJF: 2008, bl. 115-118.

Sien ook hierdie artikel oor Calvyn se deegliklike bybelse onderskeiding in die verbond: CALVIN AND THE DUAL ASPECT OF COVENANT MEMBERSHIP: Galatians 3:15−22 —the Meaning of “ ‘the Seed’ is Christ”— and Other Key Texts*, prof. by J. Mark Beach

Calvyn artikels.

Artikels oor die Verbond.

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑