‘N OPE BRIEF AAN ALMAL, BINNE EN BUITE DIE GKSA, WAT ONS KERKVERBAND NOU AANVAL, NA SINODE 2026

‘N OPE BRIEF AAN ALMAL, BINNE EN BUITE DIE GKSA,

WAT ONS KERKVERBAND NOU AANVAL, NA SINODE 2026

“Daar staan geskrywe… vs ek voel, ervaar, beleef”

GKSA sinode 2026 bring baie gevoelens en ervarings na vore 

Die afgelope paar maande na die GKSA se 2026 sinode, en veral die VIDA besluite, is ons gebombardeer van binne en buite, deur die media en kerke, ja, beide ‘kerk en wêreld’, asook regslui, wat orals ontevrede is met die GKSA se herbevestiging van hul 2009 besluit, nl. dat ons susters nie volgens die Skrif as predikante en ouderlinge mag dien nie. Wat nou bygekom het, is dat na baie jare se geduldige luister na mekaar, baie studies, gebede, lankmoedigheid en geduld, vida kerke nou opgegroep word tot bekering en gehoorsaamheid aan die Skrif se lering daaroor, en wat ons saam afgespreek het hoe om alle sake ordelik te hanteer, veral as dit oor leersake gaan wat ons kerke besluit het is wesentlik.  Dit wat reeds duidelik was, het net nog duideliker geword, soos die Here ons deur sy Gees en Woord daarin gelei het om versigtige maar duidelike besluite te neem.

Die goue draad wat nou heeltyd in die media heeltyd gehoor en gelees word teen die GKSA, is verskillende mense se ‘gevoelens, ervarings, belewenisse, hartsere, en verontregtings’, oor die saak. Die Here weet daarvan, wat is en wat is nie, wat waar of vals is, dit is alle gelowiges se troos, Hy sal regverdig vergeld in enige onreg wat werklik geskied het, die Here weet wie Syne is.

Maar nou, die probleem, nou word hierdie ervarings en gevoelens van mense, sommige kerke hou selfs meninspeilings daaroor hoe elkeen ‘voel’, ander begin te wonder of hulle hul nie dalk tot die hof moet wend nie, en dit alles moet dan finaal beslis en deurslag gee in die vida saak. Ja, as’t ware die kerk op sy knieë dwing om dan susters wel in die besondere ampte te laat dien, want hulle en ander ‘voel’ nou sterk daaroor.  Die drukgroepe vorming benadering word al meer oorweeg klink dit vir my, noudat die kerklike weg werklik uitgeput is en ‘ons pro-vida’ wil nie geskied het nie.  Nou is daar allerlei hewige emosionele reaksies wat die gemoedere orals opjaag.

Jesus en die kerk se allesbepalende deurslaggewende gesag

Dit is goed om te kyk of ons dieselfde metodiek en retoriek by Jesus en die vroeë kerk vind, hoe het Jesus en sy dissipels, die eerste eeuse kerk sake gestel en besluite geneem, waaraan het hulle al hul gevoelens, en ervarings en belewenisse getoets, en wat was hulle finale en hoogste gesag in enige saak of gebeure van hul lewens?

Het Rome of die Grieke se tydsgees, die praktyk van die dag hul ”leer en lewe’ bepaal of saam help bepaal, het die Grieks Romeinse wêreld ‘n ‘ander verstaan van die Skrif’ help inbring…. soos vandag se vida voorgangers meens ons moet doen met die Bybel, en veral man en vrou wees, en gesin en kerkwees. Die Teks moet nou ‘anders’ gelees word, in die lig van die ‘tye het verander’, ons moderne tyd moet nou mede-bepaal wat ons manne en vroue se rolle en take is, nie meer sola Scriptura (die Skrif alleen) nie?

Wat was dus die allesbepalende finale gesag wat Christus en sy kerk lewens en optrede, hul leer en lewe en besluite finaal bepaal het, en waarby berus moes word, wat dus deurslaggewend was en is?

Sodat dit ook vir ons vandag en tot die laaste dag die finale bepalende deurslaggewende gesag sal wees.

Kom ons kyk daarna:

Jesus, as die Satan Hom versoek, antwoord “Daar is geskrywe…”, elke keer as die Satan die Woord verdraai om ‘aan te pas’ by sy begeertes en wil (Matt. 4:1-11);

Les: tot wanneer moet ons teen alle dwalinge antwoord ‘daar staan geskrywe’? Die antwoord is in Paulus se woorde in 2 Tim. 4:2, gaan lees dit.

As die Sadduseërs kom met spot en misleiding om die liggaamlike opstanding te ontken, dan antwoord Jesus sonder om te blik of te bloos, of Hom te skaam vir die wonder van die Woord:

“Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie.” (Matt. 22:29)

As die vroeë kerk ‘sinode’ hou, dan hoor ons “soos geskrywe is…” en word heeltyd na die Skrif verwys (Hand. 15:15), en word bindende besluite aan alle kerke oorgedra om onderhou te word (Hand. 16:4).

As Paulus preek vir gelowiges in Berea, word hy ‘getoets’ aan “… “hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was.” (Hand. 17:11)

Wanneer Paulus deur die Gees skryf oor die wesentlike ware leer van redding deur geloof alleen (sola fide), dan is die volgende gesagberoep vir hom finaal, deurslaggewend en allesbepalend teen die Judaiste wat die valse redding van deur ‘geloof en werke/wet’ geleer het, en moet dus ook vir alle kerke en ware gelowiges die finale deurslaggewende gesag wees:

Want wat sê die Skrif? Abraham het in God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken.” (Rom. 4:3)

Want die Skrif sê: Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie.” (Rom. 10:11)

As Petrus teen dwaalleraars van sy tyd(sgees) skryf (2 Petrus 2) en dan die kerk oproep om die waarheid as pelgrims midde vyandige ongelowige wêreld vas te hou, teenoor die mens se ‘eie begeertes’ (wat hul voel, ervaar, wil hê, ens, hulle ‘tydsgees’ verleidings), dan wys hy deur die Gees wat moet al ons ervarings, belewenisse, gevoelens bekeer, heilig, toets en stuur:

“Dit is reeds die tweede brief, geliefdes, wat ek aan julle skrywe. In albei wil ek deur herinnering julle suiwere gesindheid opwek, sodat julle die woorde kan onthou wat deur die heilige profete tevore gespreek is, en die gebod van ons, apostels van die Here en Verlosser. Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel.” (2 Petr. 3:1-3; sien ook hoe Petrus sy ‘ervarings’ bevestig in 2 Pe. 1:16-18… hy was daar en het intens beleef en ervaar wat 1 Joh. 1:1-4 beskryf… maar, dan wys hy weg van sy ervarings na: “En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ’n lamp wat in ’n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte; terwyl julle veral dít moet weet, dat geen profesie van die Skrif ’n saak van eie uitlegging is nie; 21want geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.” (2 Petr. 1:20–21)

Liewe broer en suster wat dalk nog onkundig is, wat dalk mislei word, maar ook as waarskuwing vir hulle wat in valse liefde aanhou mislei:

Nie ons as mense se slegte of goeie begeertes en ervarings en gevoelens en nog minder ons tydsgees bepaal God se ewige waarheid of ware evangelie of hoe sy kerk regeer moet word nie, maar wat die Heilige Gees deur Jesus, deur sy geopenbaarde Woord bepaal vir sy kerke (sien 1 Tim. 3:15) vir hul ‘leer en lewe’, hul leer, diens, kerkregering en tug, in beide redding en heiligmaking, Jesus as Verlosser  én Jesus as Regeerder/Hoof van sy kerk is belangrik, die opdragte van 1 Tim. 2 en 3 is deel van sy betroubare woorde, sy gesonde woorde/leer wat gehandhaaf moet word (1 Tim. 1:15; 1 Tim. 2:11-3:2; 6:3-5).

En ja. dit geld vir alle kerke en kerkverbande vir alle tye onder alle volke in 2026 en tot die laaste dag. 

Onthou, dit gaan nie oor minderheids of meerderheidstem of verslae nie, maar God wat onfeilbaar spreek (sien ons belydenis by NGB art. 7, 32, dit is Jesus en sy Woord wat sentraal staan en moet staan in elke huwelik en elke kerk en elke kerkverband, ja, in ons kerkregering en orde)

Daarom as Paulus in 1 Kor. 14:33-40 en 1 Tim. 2:11-14 God se skeppingsorde en bevelsorde gee dat susters nie as predikante en ouderlinge kan dien nie, is sy skeppings- en bevelsorde die allesbepalende en deurslaggewende gesag waarvoor alle ware gelowiges en kerke moet buig, of ons nou so ‘voel of nie voel nie’, of ons ‘tydsgees daarmee saamstem of nie’, of die meerderheid of minderheid kerke dit navolg of nie.  Dit is God se gesag, nie mense of sinodes se gesag nie wat finaal bepalend is, sinodes en kerkrade kan die waarheid alleen bedien en bely, nie skep of bepaal nie (2 Kor. 13:8).

Die gesag van Christus en sy Woord op die spel in vida en woke agendas

Die “Daar staan geskrywe” bevel en vermaning van Jesus is dus allesbepalend, dit is wat in alle VIDA EN WOKE debatte op die spel is, en dit gaan wesentlik oor sy eer en die heil van al sy kerke.

Dit is nie ons feilbare sondige ervarings en begeertes of sinodes of vergaderings wat finaal bepaal of deurslaggewend is nie, dit is nie ons manne of vroue se behoefte, gevoelens en ervarings nie, maar God se Gees deur sy Woord wat finaal en bepalend is vir ons gesinne en gemeentes. 

Ten einde, was onderliggend aan die sondeval was, was nie net die bloot sondige handeling van die eet van die verbode vrug nie (teen God se duidelike verbod), maar wat wesentlik onderliggend daaraan was, naamlik:

“Want wederstrewigheid is ’n sonde van waarsêery, en eiesinnigheid is afgodery en beeldediens. Omdat jy die woord van die Here verwerp het, het Hy jou as koning verwerp.” (1 Sam. 15:23; sien hier oor die woorde wat Paulus ook gebruik in 1 Kor. 14:33-40,  o.a.’wanorde’ wat hierby aansluit.).

Onderliggend aan die verwerping van die bybelse skeppingsordelike bevelsorde kerkregering wat Paulus deur die Gees leer, is ten einde die wederstrewigheid en eiesinnigheid as verwerping van die huwelik gesagsorde wat God daar gestel het en handhaaf in Christus.  Het God werklik gesê bevraagtekening… lei tot omdat jy die woord [wil, bevel, orde] van die Here verwerp het. 

Soos met die sondeval waar Adam en Eva mekaar of die slang die skuld wou gee, was onderliggend daaraan dat hul ontevrede was met God self én oor sy bevelswil of gebod gemurmureer het en in opstand gekom het, so is dit ongelukkig met hulle wat nou aanhou ontvrede is met God se wil vir die kerkregering, wat die GKSA bloot herbevestig het volgens die Skrif, en nou ook verder beskerm met die toepassing van die liefdevolle tug vir kerke om hul te bekeer van hul opstand en ongehoorsaamheid teenoor Jesus se kerkregering en wil. Ware liefde tug, sien Jesus in Op. 2 en 3 wat in liefde sy kerke tug (Hebr. 12:5-7).

Maar ja, ongelukkig is die hartseer werklikheid dat Paulus deur die Gees ook skryf dat in die laaste dae mense liefhebbers van hulleself (en hul tydsgees!) sal wees en die gesonde leer nie meer nie sal verdra nie (en deel van daardie gesonde leer is die kerkregering van 1 Tim. 2 en 3), maar leraars versamel ‘volgens hul eie begeerlikhede’ (2 Tim. 3:1,2; 4:3,4), want ten einde het hulle vir hulself deur hul gevoele en ervarings die deurslaggewende gesag geword (‘in hul gehoor gestreel wil word’ = dat hul verwerping van God se skeppings- en gesagsorde vir gesin en kerk, reg is in ons tye).

Ja, die Bybel word nog gelees en aangehaal, maar is nie finaal en deurslaggewend vir ‘leer en lewe’ nie, dit is nie meer ‘n geval van: die Here deur sy Gees en Woord alleen het die finale sê nie, maar sola Scriptura word ingeruil vir sola Practica, wat die tyd vandag vra en eis… en daarom word Paulus ‘herverstaan en herinterpreteer’ in o.a. 1 Kor. 14 en 1 Tim. 2, 3, nie deur die Gees van God nie, maar deur die tydsgees aangepas om by vandag in te pas. Daar word beweeg van die praktyk na God, en nie van God na die praktyk nie (prof. Jorrie Jordaan, Die Kerkblad in 2003), of anders gestel: Die Praktyk bepaal die Bybel, in plaas van die Bybel bepaal die Praktyk. God se Woord moet opgedateer word om by ons begeerlikhede aan te pas, om ‘in te wees’ by ons moderne humanistiese tydsgees, en nie ons begeerlikhede moet aanpas, gekruisig en bekeer word om by God se wil en heilige begeertes en gebooie aan te pas nie (1 Pe. 2:11-12).

Pleitdooi en Oproep

En tog, dit is die liefdevolle pleitdooi opnuut aan almal wat ongelukkig mislei is om die besondere ampte/dienste te begeer wat hul volgens die Skrif nie toekom nie wat God nie beveel het nie (1 Kon. 12:31c; 2 Kron. 26:16-18; Matt. 15:8,9), dat juis as ons as gelowiges, mans en vrouens, alle kerke, berus by God se goeie wil, sy geopenbaarde skeppings wil geheilig en handhaaf in ons Koning Jesus, wat vas en seker en duidelik is, ook in hierdie saak,

dan is dit juis ware liefde,

ware broer en suster wees, ervaar, beleef volgens die Skrif,

ware kerkwees waarin beide man en vrou een in Christus in sy diens is,

soos Jesus self leer wie sy ware broers en ware susters is.

Nee, dit is nie een of ander mistiese manne of vroue ervaring, gevoel, idee, belewenis, moderne tydsgees nie, maar in Jesus se eie woorde wat alles vir ons ganse lewe bepaal, maar ook vir ons kerkregering en orde in dankbaarheid dat Hy ons enigste Verlossser én Koning is, ook dankbaar nederig getrou in ons geliefde kerkverband:

“Wie is my moeder? En wie is my broers? En Hy steek sy hand oor sy dissipels uit en sê: Dáár is my moeder en my broers. Want elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is, dié is my broer en suster en moeder” (Matt. 12:48-50), ja ook die wil van die Vader in 1 Kor. 14, 1 Tim. 2, 1 Tim. 3, ens.

My liewe vida broer en suster, alle kerke, ek hoop van harte dat die Gees julle elkeen sal teruglei na die waarheid oor hierdie saak, want vir ons almal geld ook hierdie liefdevolle waarskuwende woorde: 

“En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie? Elkeen wat na My toe kom en na my woorde luister en dit doen—Ek sal julle wys soos wie hy is. Hy is soos ’n man wat ’n huis bou, wat gegrawe en diep ingegaan en die fondament op die rots gelê het; en toe die vloedwater kom en die stroom teen daardie huis losbreek, kon hy dit nie beweeg nie, omdat sy fondament op die rots was.” (Luk. 6:46–48)

_____________________________________

Verdere artikels oor die onderwerp: VIDA

BOEKE BESKIKBAAR BY: 

https://proregno.com/category/pro-regno-boeke-te-koop/

4 thoughts on “‘N OPE BRIEF AAN ALMAL, BINNE EN BUITE DIE GKSA, WAT ONS KERKVERBAND NOU AANVAL, NA SINODE 2026

Add yours

  1. Met verwysing na ’n artikel in Rapport op 15 Februarie 2026 oor vroue -ouderlinge, moet volgens Dr Gerard Meijer, “kerksake op kerklike wyse behandel word” volgens ’n ordereeling van die die GKSA.

    Dit beteken dat kerksake, (soos byvoorbeeld die 2026 GKSA Sinode se besluite oor VIDA) slegs in kerkvergaderings bespreek mag word, wat insluit kerkraads-, klassis-, streeksinode- en sinode vergaderings.(Kerkorde artikel 30 verwys.)

    Volgens Dr Meijer se verduideliking in Rapport mag geen persoon, organisasie en Rapport oor die 2026 GKSA Sinode besluite oor vroue-ouderlinge praat, skryf of berig nie. Hy bevestig dat volgens die GKSA se ordereelings, mag hierdie sake slegs in kerkvergaderings gehanteer word.

    Volgens Dr Meijer se standpunt val dan die “Ope brief van Pro regno ’’ artikel op Facebook, ope briewe van vrouens teen en ten gunste van VIDA, alle artikels in koerante en op Facebook oor die 2026 GKSA Sinode, buite die “orde reelings” van die Kerkorde en is dus “ongeldig”.

    Die GKSA beskou oortredings of nie-nakoming van die Kerkorde of Sinode besluite as ’n tugwaardige sonde.

    Dit is duidelik dat alle Gereformeerde lidmate en predikante wat artikels en kommentare (Insluitend Pro regno) op Facebook en op openbare media geplaas het, nie die “orde reelings” van die GKSA nagekom het nie, en het hulle dus die Kerkorde oortree. Al hierdie lidmate kan dus deur hulle onderskeie kerkrade onder “tug” geplaas word. Ek wonder of dit wel gaan gebeur?

    1. “Volgens Dr Meijer se verduideliking in Rapport mag geen persoon, organisasie en Rapport oor die 2026 GKSA Sinode besluite oor vroue-ouderlinge praat, skryf of berig nie. Hy bevestig dat volgens die GKSA se ordereelings, mag hierdie sake slegs in kerkvergaderings gehanteer word.”

      So volgens u verstaan van wat dr Meijer geskryf/gepraat het, het hy sy eie ordereëling oortree, want hy het in die openbaar in die Rapport koerant die VIDA saak in die openbaar hanteer/aangespreek?

      Ek vermoed u verstaan hom verkeerd, en dat wat hy bedoel is dat daardie predikante, lidmate, kerkrade wat nie wil berus by die GKSA sinode se besluite van 2009 tot 2026 oor VIDA nie, moet soos altyd die kerklike weg volg, en nie soos sommige vida gemeentes en andere lidmate gedoen het die afgelope 2 maande in die openbaar teen die besluit standpunt inneem nie. So ook hulle wat na die koerante en You Tube en FB hardloop om die saak daar te wil hanteer en nie deur hul kerkrade nie. Dit is hulle wat in stryd met ons besluite optree wat moet vermaan word om die kerklike weg te wandel, om dus nie bedoeld of onbedoeld drukgroepe in die openbaar te vorm nie, veral nie daardie broers en susters wat na die koerante gegaan het of genader is nie.

      Ek glo nie dr Meijer het bedoel dat ons kerke en gelowiges wat by die besluit hou moet nou stilbly oor die VIDA besluit self en die inhoud wat die besluit daaroor nou behels nie, dit moet juis nou oorgedra word as amptelike OPENBARE standpunt van die GKSA oor a) die leersaak [vida mag nie in ons kerke nie] en b) die openbare vermaning en tug aan gemeentes wat volhard in vida, want dit is ‘n openbare saak wat alle gemeentes en die hele wêreld nou moet weet (daarom ook die Openlike Verklaring en besluit wat orals uitgestuur is deur die sinode na die besluit geneem is in Januarie).

      Hoop die misverstand is by u opgelos?

      Ek hoop en wonder ook, en ek dink dit sal goed wees, of u dan wel u skrywe hierbo aan die Vida gemeentes elkeen gestuur het wat al in die openbaar ons vida besluite volhardend verwerp het, sodat hul kerkrade hul ook onder ‘tug’ sal plaas, soos die kerkverband deur sy besluit reeds besig om die vida gemeentes te tug oor hul volhardende vida, dit sal goed wees as u dit doen.

      Kyk as deel van die Vida verklaring van Sinode 2026 is nr. 2 wat besluit is, en kan dit by u skrywe aan hulle byvoeg: “Kerke word opgeroep om hulle te bekeer en in gehoorsaamheid aan Christus sinodebesluite te handhaaf.”

      Dit is elke gelowige, gemeente, kerkraad, predikante se liefdevolle taak en roeping nou om na te kom met die hoop dat daardie paar gemeentes wat in die vida dwaling volhard, hul hopelik sal bekeer, en te bly by die kerklike weg wat ons ooreengekom het. En dit is wat ek ook met my skrywe nou gedoen het, daardie vida lidmate, predikante en kerkrade op te roep tot bekering en berusting by wat ons besluit het volgens die Skrif. Dit is juis wat ons sinode besluit het.

  2. Net een opmerking om by te voeg wat dr. Mulder reeds gesê het:

    WIE NEEM AL DIE GRIEKS ERNSTIG OP?

    36:00 se onderwerp van die “Grieks sê” of “daar staan eintlik geskrywe”.

    Nogal ironies dat dr. Smit (en al die vida leraars) die Grieks (tereg) so ernstig opvat by die ‘erediens’ vs ‘elke plek’ onderwerp, waar die NAV parafraseer en nie ‘letterlik vertaal’ by 1 Tim. 2:8 nie (Grieks: panti topoi = elke plek, wat in elkgeval ‘eredienste/kerk hou’ soos ons dit vandag verstaan insluit, en nie uitsluit nie, sien die hele konteks van 1 Tim. 2:11-3:16, waar vers 15 bepalend is, dit gaan oor die ‘huis van God, wat die gemeente [Grieks: ekkklesia = kerk] is van die lewende God’ = dus in die kerk, erediens-sake, preek, onderrig, toesig, ens.),

    maar:

    as dr Smit so bietjie verder lees, dan raak die Grieks skielik weg of nie meer bepalend of revelant vir die vida saak nie?

    Hy ignoreer en laat bloot weg die wesentlike belangrike waarheid, die “daar staan dit tog duidelik in Grieks” woorde, wat die Here self deur sy Gees openbaar, met sy skeppingsorde en goeie bevel daar geplaas het in 1 Tim. 2:11-15, nl.

    “Die Grieks sê”: ‘man’ (aner) en “die Grieks sê”: vrou (gyne):

    “Ek laat die vrou (gyne) egter nie toe om onderrig te gee of oor die man (aner) te heers nie, maar sy moet haar stil hou.” (1 Tim. 2:12)

    En ook as hy en sy mede leraars in die lig van die Woord (in die lig van die Grieks, dus ‘wat daar staan’, wat die Here beveel as die Koning van die Kerk) moet besluit wie nie en wel verkies word as ouderlinge in hul gemeente, dan lyk dit my, ignoreer hul weereens “die Grieks sê” duidelik:

    “’n Opsiener (ouderling/leraar/herder -slc) dan moet onberispelik wees, die man (aner) van een vrou (gyne), nugter, ingetoë, fatsoenlik, gasvry, bekwaam om te onderrig” (1 Tim. 3:2)

    En die vida leraars luister ook nie “wat die Grieks sê” in die verder Godsopenbaring deur Gees en Woord nie:

    “Want daar staan geskrywe in die boek van die Psalms: Laat sy woonplek woes word, en laat daar geen inwoner in wees nie! En: Laat ’n ander een sy opsienersamp (episkope) neem. Van die manne (aner) dan wat saam met ons rondgegaan het al die tyd waarin die Here Jesus by ons in- en uitgegaan het,” (Hand. 1:20,21)

    “25het ons eenparig besluit om manne (aner) te kies en na julle te stuur saam met ons geliefde Bárnabas en Paulus” ((Hand. 15:25)

    “OM hierdie rede het ek jou in Kreta agtergelaat, dat jy nog verder sou regmaak wat oorgebly het, en van stad tot stad ouderlinge (presbyteros) sou aanstel soos ek jou beveel het — as iemand onberispelik is, die man (aner) van een vrou (gyne), gelowige kinders het wat nie beskuldig word van losbandigheid of tugteloos is nie.” (Tit. 1:5–6)

    Daar is dit duidelik, ‘in die Grieks’, ouderlinge moet aangestel word, en hulle moet manne wees, dus nie vroue nie, die Grieks is baie duidelik, klinklaar, helder vir almal om te verstaan. Hierdie duidelike herhalende waarheid, vanaf Genesis tot Openbaring openbaringslyn, is nie deel van die 2 Petrus 3:16 ‘swaar is om te verstaan’ wat dr. Smit dit probeer afmaak nie (53:00), want bogenoemde Skrifgedeeltes is nie net van Paulus nie, so ook nie 1 Pe. 3:1-7 nie. Paulus wys ook in 1 Tim. 1:15 en 3:2, verlossingsake en kerkregeringsake is ‘betroubare woorde’, duidelik en wesentlik belangrik.

    Die probleem met die vida debat is nie onduidelikheid en vaagheid van die Skrif oor die kerkregering nie, maar ongelukkig en hartseer: ongehoorsaamheid en ten einde verwerping van die gesag van Jesus Christus, die Koning van die Kerk, en daarom die liefdevolle geduldige terugroep en tug deur medegelowiges en kerke op daardie kerke (soos die GKSA se algemene sinode 2026 dan ook in navolging van die Skrif besluit het).

    Ja alle gelowiges stem saam en behoort saam te stem met dr. Smit: ons moet almal met groot verantwoordelikheid met die Woord omgaan, ook die Grieks en die Hebreeus… veral ons as leraars (1 Tim. 4:16; 2 Tim. 2:15; 4:1,2), maar daarom moet ons ook aandagtig luister wat die “Grieks so duidelik sê” op soveel plekke oor hierdie saak.

    Kom ons bekeer ons van die feministiese en woke invloede en verstaan van bogenoemde en ander Skrifgedeeltes, en bly by wat ons geleer is (2 Tim. 3:14-17), wat ons Here Jesus Christus ons beveel het (as deel van die groot opdrag van Matt. 28:16-20, ‘leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het…”), dus ook sy goeie skeppingsordelike bevelswil, vervul en gehandhaaf in Jesus Christus (Matt. 19; Ef. 5; Kol. 3, ens), want hierdie liefdevolle waarskuwing geld vir ons almal, alle gelowiges, kerke, kerkrade en leraars:

    38Want elkeen wat hom vir My en my woorde skaam in hierdie owerspelige en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom in die heerlikheid van sy Vader met die heilige engele” (Mark 8:38)

    Nota: sien hierdie artikel van my waar ek op veel meer detail ingaan oor die “erediens” vs “elke plek” (1 Tim. 2:8) onderwerp aangaande VIDA (sien Opmerking 3):

    https://proregno.com/2024/05/14/vyf-opmerkings-op-dr-wim-vergeer-se-artikel-kanttekeninge-oor-1-tim-29-31-in-die-kerkblad/

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑